Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 22

2.2.2 KULTURELE VERDRUKKING

Оглавление

’n Onsimpatieke regering kan ook die kultuurlewe van die taalgemeenskap verdruk met die mees uiteenlopende maatreëls. In Turkye is dit vir die Koerde verbode om Koerdies in drukskrif te gebruik of om Koerdiese leesstof, plate en bandopnames uit die buiteland in te voer.[17] Die Spaanse regering het in 1938 die Katalane verplig tot die “verspaansing” van hul voorname en vanne.[18] Die Tsaristiese Rusland het Litaue van 1864 tot 1915 verbied om boeke, tydskrifte en koerante in Pools of Wit-Russies uit te gee. Teen Oekrains is een maatreël ná die ander getref: die druk van sowel volks- as geleerde boeke is verbied, daarna toneelopvoerings, lesings, musiek en die sing van liedere. In 1887 het een van die Russiese sensors die publikasie van ’n Oekrainse grammatika teengestaan omdat dit nie raadsaam sou wees om ’n grammatika te publiseer oor ’n taal wat tog gedoem is om uit te sterf nie. Vanweë dié verdrukking het daar tussen 1845 en 1856 net 25 boeke in Oekrains verskyn.

In Spanje het die Fasciste publikasies in Katalaans verbied omdat hulle dit beskou het as die taal van die Noordoos-Spaanse verset. Toe ’n Geallieerde oorwinning teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in sig kom, het Madrid weer publikasies in die kleiner tale toegestaan, maar aanvanklik net oor onskuldige onderwerpe soos godsdiens en poësie. Algaande is die beperkinge verslap en teen 1962 was alle soorte boeke toegelaat, hoewel die sensuur vir Katalaans strenger was as vir Spaans. Tans gee die Katalaanse uitgewerye sowat 1 000 boektitels per jaar uit (ongeveer 100 in Galicies en 130 in Baskies – twee ander minderheidstale).[19]

Duitse koerante in die Elsas word wetlik verplig om tweetalig te wees: ’n kwart van die leesstof moet in Frans wees – onder meer alle artikels oor jeugsake en sport. Die koerante self moet Franse name hê. Die Duitse opskrifte by berigte moet nie groter wees as ’n bepaalde lettertipe nie; vir groter letters is Frans verplig. As ’n plek ’n tweetalige naam het, is net die Franse vorm toelaatbaar. Oorklankings van rolprente uit Frans is verbode en by Duitse prente is Franse onderskrifte verpligtend.[20]

Met sulke maatreëls verminder die imperialistiese groep die intellektuele aantrekkingskrag van die benadeelde taal.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх