Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 37
4.2 DIE VERLOOP VAN ’N TAALSTRYD
ОглавлениеDie verloop van ’n taalstryd is duideliker as ’n mens let op die oogmerke wat lede van taalbewegings en taalhandhawingsveldtogte het:
(i) Die leiers probeer om ander lede van die taalgemeenskap, veral dié in toonaangewende posisies, bewus te maak van die agterstand van die taal, en probeer taalgetrouheid en taaltrots bevorder. “Ordinarily, it is true, when a mother-tongue community exposed to contact splits on the point of loyalty to its language, the more loyal sector will resort to self-pity and exhortation of the less loyal. But occasionally leaders with more than usual insight will attempt to enhance the language loyalty of their fellow speakers by methodic, organized means,” skryf Uriel Weinreich.[27]
(ii) Die leiers wil die sprekers van die agtergestelde in alle opsigte ophef, ekonomies, sosiaal en kultureel. Die opheffing kan geskied op twee maniere:
(a) In die eerste plek moet die taal in die sogenaamde “hoë funksies” tot sy reg kom, d.w.s. gebruik word as praat- en skryftaal in staatsinstellings soos die skool, staatsdiens, leër en geregshowe, maar ook in die kerke en in winkels, kafees en ander private ondernemings. Dis m.a.w. ’n strewe na “gelykgeregtigheid” van die bevoorregte en afgeskeepte taal, of om ’n ander algemene woord in Afrikaanse en Nederlandse publikasies te gebruik, “gelykberegtiging”.
(b) In die tweede plek wil die leiers ook sorg dat die taal sy “lae funksies” behou, m.a.w. dat gesinne aanhou om die taal as spreektaal te gebruik.
Na aanleiding van hierdie oogmerke kan ’n mens die volgende fases in taalstryde onderskei:
(i) ’n Fase waarin die intellektuele die res van die bevolking bewus maak van die taal se agterstand en aanspoor tot taalgetrouheid en taaltrots;
(ii) die “eintlike” taalstryd wat ’n stryd om funksies is;
(iii) ’n fase van óf konsolidering óf imperialisme óf agteruitgang wat op die eerste belangrike winste volg.
Die maatreëls om reg te laat geskied aan klein tale verskil hemelsbreed van dié van taalimperialiste, al sal laasgenoemde ook hul bes doen om dié maatreëls as verdrukking te bestempel, of as pogings om die miskende taal in ander se keelgate af te druk. Die verskil is soos dié tussen ’n uitbreidingsoorlog van ’n groot moondheid en die verdediging van die klein aangevalde staatjie: die optrede van taalimperialiste geskied altyd ten koste van die klein tale, terwyl laasgenoemde se stappe prakties maar noodweer is, partymaal ’n alte powere noodweer.