Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 26
4 KULTURELE PEIL
ОглавлениеMilitêre en politieke mag alleen is nie altyd genoeg om ’n onderworpe volk van taal te laat verander nie. Die nageslag van die Germaanse “barbare” wat die Romeinse Ryk binnegeval het, het hul Germaanse tale laat vaar en die Romaanse tale (afstammelinge van Latyn in die verskillende provinsies van Rome) van hul omgewing aangeneem. Een rede was die geringe getalsterkte van die Germane. ’n Ander was die feit dat die Germane ’n laer beskawingspeil gehad het. Hulle het hul eie heidense godsdiens laat vaar en hulle aan die kerk onderwerp. Dié se voertaal was Latyn. Hulle het ook die bestaande politieke instellings oorgeneem omdat hul eie nie meer in ’n moderner staat gepas het nie. Die taal van die hoër beskawing het, ondanks ’n militêre neerlaag, geseëvier oor die taal van die laer beskawing.
Selfs in die tyd van die hoogbloei van die Romeinse Ryk kon Latyn weer nie Grieks verdring in dié dele waar dit ingeburger was nie. Die Grieke en die Romeine het die Griekse beskawing as superieur beskou. ’n Romein wat as “beskaaf’ wou deurgaan, het Grieks geleer, gepraat en geskryf. Justinianus het Latyn wel “die moedertaal” van die Ryk genoem, maar sy wette in Grieks laat skryf. Quintillianus het gesê klein kinders moet op skool liewer Grieks begin leer as Latyn “soos in die meeste skole trouens al gebeur, want Latyn word hulle in ieder geval magtig, selfs al wil die ouers dit nie so hê nie”.
’n Mens hoef seker nie te bewys dat beskawings van mekaar verskil nie – die Egiptiese, die Grieks-Romeinse, die Christelike beskawing, “‘ons’ Westerse beskawing”. Hoe verskil hulle van mekaar? Die Egiptenaars, Grieke, Romeine, Westerlinge, voor en ná die Middeleeue en in die moderne tyd, het geglo aan verskillende gode of God, of nie een van die twee nie (of miskien “die mens” as god); hulle het die samelewing op verskillende maniere georganiseer; hulle het soms verskillend gedink (byvoorbeeld oor wat reg of verkeerd is – en hoe ’n verkeerde daad gestraf moet word); hulle het die wêreld verskillend gesien (’n ou koei is ’n slagding of iets heiligs; ’n hoogte kan die woonplek van die gode wees; ’n taal moet ongeskonde bewaar bly omdat geestelike liedere daarin geskrywe is) en elke beskawing lewer voorwerpe en maaksels met ’n eie aard wat die beskawing kan kenmerk: piramides, vase met ’n bepaalde soort beskildering, verhale in spykerskrif op kleitablette, ploegskare, waterleidinge met ’n sekere vorm …
Mense was ook nog altyd geneig om ’n oordeel te vel oor die waarde van hul eie en ander beskawings, of om stilswyend of feitlik onbewus te aanvaar dat ’n beskawing waarmee hulle in aanraking kom, beter of swakker as hul eie is. Daarom kan dit gebeur dat ’n taal wat ’n noue verband met ’n sekere beskawingstipe gehad het, uitbrei of kwyn as gevolg van die lotgevalle van daardie beskawing.
Latyn was die draer van ’n beskawing wat die Galliërs, Iberiërs en ander volkere as meerderwaardig gewaardeer en daarom aangeneem het. Gallië was seker nie onbeskaaf nie – die Galliërs het met ysterploegskare geploeg en met karre en waens gery waarvan die wiele op ’n taamlik ingewikkelde manier vervaardig is, maar hulle het oor die algemeen nie geskryf nie (hul poësie of regsgebruike is eers sedert ongeveer die sesde eeu op skrif gestel) en in hul soort samelewing was die skrif nie onontbeerlik nie. Die leiers het mondeling geregeer. Die Romeine het ’n nuwe ingewikkelde staatsorganisasie gebring wat skrif noodsaaklik gemaak het. Verder het die Romeine ’n hoogs ontwikkelde regstelsel gehad. Die Galliërs het besef dat die Romeinse beskawing beter (en sterker) was as hul eie. Die ontwikkeldes en naderhand die hele bevolking het die taal aanvaar wat draer was van ’n nuwe beskawing.
Egipties is die taal waarvan ons die oudste oorgelewerde skriftelike kultuur het. Meer as 4 000 jaar was dit die draer van ’n bloeiende kultuur. Daarna het die ou beskawing tot niet gegaan en langsamerhand het Egipties plek gemaak vir Grieks en Arabies. Die koms van Arabies, die medium van ’n nuwe lewenskragtige godsdiens en beskawing wat daarmee saamhang, was die nekslag vir Egipties. Dit kon net voortleef onder die mense vir wie dit die taal van die Christelike godsdiens was, naamlik die Kopte.
Die ondergang van ’n beskawing hoef egter nie te lei tot die dood van die tale wat daarin gebruik is nie. Die Inka-, Maya- en Asteke-ryke het tot niet gegaan, maar die tale het oorleef.
Die moderne Europese tale het uitgebrei nadat hulle deur militêre mag en kolonisering die tale geword het van ryke in Afrika, Asië en Amerika. Die beskawings wat die Westerlinge gebring het, was in verskillende opsigte superieur, of het vir almal superieur gelyk: die Westerlinge het beter wapens gehad, hulle het die vernuf gehad om paaie en spoorweë te bou, om medisynes teen gevaarlike siektes uit te vind. Die doeltreffende administrasie het die aansien verhoog van die taal waarin dit gevoer is. Sendelinge het nie net die Evangelie verkondig nie, maar skole opgerig en boekgeleerdheid gebring na gemeenskappe wat nie eens kon skrywe nie, wat staan nog beskik het oor die drukpers.
’n Hoë beskawingstipe met ’n waardevolle kultuur kan ’n taal help: onder gunstige omstandighede (“gunstig” vir die imperiale taal) kan die kultuur help om kennis van die taal te verbrei. Onder ongunstige omstandighede kan die kultuur help om ’n taal te bewaar.
Ons kan kortliks let op die belang van drie van die belangrikste kultuurvorme in die behoud van ’n taal.
Wat Grieks sy hoë aansien gegee en hom so lank laat uithou het teen ander tale, is sy letterkunde, wysbegeerte en alles wat daar in Grieks geskryf was.
Net so belangrik was die letterkunde vir Armeens.
Die Armeniërs het die Bybel voor die sewende eeu in hul taal oorgesit en baie digterlike en geleerde werke geskryf. In die negentiende eeu was daar ’n skitterende literêre oplewing. Werke van wêreldgehalte het in Armeens verskyn.
Soos vroeër in die hoofstuk uiteengesit, is talle sprekers dood vanweë massamoorde en deportasies. Tog het Armeens lewenskragtig gebly. Meillet noem Armeens ’n “welsprekende voorbeeld” vir sy stelling: “Zelfs onder de moeilijkste omstandigheden houdt een eenmaal gevestigde kultuurtaal, die een eigen letterkunde en alle noodige uitdrukkingsmiddelen bezit, zich hardnekkig staande … Zoodra eenige Armeniërs samen zijn in een stad, waar zij zich gevestigd hebben, richten zij een drukkerij op en stichten een koerant, die in hun taal gedrukt wordt. Zóó groot is de levenskracht van een kultuurtaal.”[30]
Volgens latere gegewens as dié van Meillet is die vooruitsigte vir Armeens in die Armeense Sosialistiese Republiek (deel van Sowjet-Unie) goed, maar nie vir die Wes-Armeens van Turkye nie. Die nageslag van die oorlewendes van die bloedbaddens is merendeels tweetalig en woon versprei oor die land. Die kans is groot dat hulle geassimileer gaan raak met andertalige groepe in Turkye, Iran, Indië, Sirië en Libanon.
Nog ’n taal wat deur die letterkunde van ondergang gered is, is Persies, wat eers deur Arabies en daarna Turks bedreig is.
Die godsdiens kan ook baie help om ’n taal te verbrei en behou as daar ’n noue band tussen die twee is.
Die Arabiere het geglo dat hulle geroepe is om die Islam deur die hele wêreld te versprei en dat geweld daarvoor geoorloof is. Die verowerde volkere is tot die Islam bekeer en saam met die godsdiens het hulle die taal aangeneem. So kon Arabies tale soos Egipties, Berbers en Aramees (laasgenoemde twee nie heeltemal nie) verdring. Nêrens het die Arabiere hul taal prysgegee nie, ook nie toe hulle onderdane was van magtige ryke soos die Britse, Franse of Ottomaanse Ryk nie.
Omdat Hebreeus die voertaal van die Judaïsme was, het dit nie werklik gesterf toe dit as spreektaal in onbruik geraak het nie. Die Jode het dit vir hul godsdiens bly gebruik. Dit kon dus betreklik maklik herleef in die negentiende eeu.
Die Griekse kerk word beskou as een van die vernaamste instellings wat die Grieke in die tyd van Turkse verdrukking behoed het van verbrokkeling en selfs uitwissing. Wanneer ’n Griek sy kerk verlaat het, het sy geloofsgenote hom nie meer as ’n egte Griek beskou nie.
Die godsdiens was verantwoordelik vir die ontstaan van ’n hele paar nasionale letterkundes soos dié van Armeens, Goties en party Slawiese tale. Die oudste tekste in hierdie tale is vertalings van die Bybel en Christelike propagandageskrifte. Die Suid-Amerikaanse Indianetaal Quechua was die amptelike taal van die Inka-ryk en gevolglik algemeen bekend ten tyde van die koms van die Spanjaarde. Die Spaanse Katolieke het Quechua vir sendingwerk gebruik en só sy oorlewing moontlik gemaak.
Die Protestantisme het verskeie tale bevoordeel, Duits byvoorbeeld deur Luther se Bybelvertaling. Die Hervormers het tale soos Litaus, Sloweens, Lets, Estnies en Fins vir die eerste keer as skryftaal gebruik in Bybelvertalings, preke, gesangbundels en die kategismus. Wallies het voordeel getrek uit die Metodistiese herlewing van die agttiende en negentiende eeu. Die Metodiste het oral skole gestig om die bevolking te leer om die Bybel in Wallies te lees en het die Bybel en godsdienstige geskrifte versprei.
Al die genoemde tale het gebaat by die noue band tussen die godsdiens en die taal. Maar dis te begrype dat die geestelikheid in ’n godsdienstige gemeenskap ook ’n baie negatiewe rol kan speel wanneer die geestelikes gedenasionaliseer is, oorloop na ’n ander taal en dié dan deur middel van die godsdiensbeoefening bevorder. Dit het in Ierland gebeur waar die Katolieke kerk in die agttiende en negentiende eeu verengelsing makliker gemaak het.
Die betekenis van die kerk vir taalhandhawing is duidelik te sien in die geskiedenis van verskillende immigrantetale van die VSA. Die Franssprekende Rooms-Katolieke het ontuis gevoel in die Engelse kerke, maar was baie godsdienstig en het van 1850 af Franstalige parogieë tot stand gebring. Die kerke het die sentrum van die Franse sosiale en kultuurlewe en onderwys geword. Maar daar was nie genoeg Franssprekendes om biskoppe te word nie en die Amerikaanse biskoppe, meestal Ierse immigrante, was teen die aanstelling van Frans-Kanadese. Deurdat die Iere baie gou sterk Amerikaanse patriotte geword het, het hulle hulle vir die assimilasie van die Frans-Amerikaners beywer. Dit sou ook die beeld van die Rooms-Katolieke as “’n godsdiens van buitelanders” tot niet maak.
Op ’n paar uitsonderinge na (soos biskop O’Reilly van Springfield, Massachusetts, wat gesê het die beste manier vir die Frans-Amerikaners om hul godsdiens te bewaar, is deur hul taal te handhaaf) het die hoër geestelikheid sterk teen die behoud van Frans gepraat: “Waarom wil julle Franse priesters hê? Binne tien jaar sal almal in jul parogieë Engels praat,” het biskop Thomas Hendricken van Providence gesê toe een parogie ’n Franse priester gevra het. “Die Ierse geestelikheid in die VSA is die grootste vyand van die Franse, Duitse, Poolse en Italiaanse Katolieke,” het ’n historikus (Edmond de Nevers) gesê.[31] In die stryd tussen die Franse leke en die Ierse biskoppe het Rome die kant van die hoër geestelikheid gekies. So het die houding van die kerk bygedra tot die assimilasie (hoewel nog nie volledig nie) van een van die mees taalbewuste groepe met die Amerikaanse volk.
Die Duitse Lutherane, Hongaarse Calviniste en die Ortodokse kerke het meer gedoen vir die behoud van die immigrantetale. Maar toe hulle eers veramerikaniseer geraak het, het die kerke net so veel soos ander instellings gehelp om die bevolking te laat veramerikaans.
Behalwe die letterkunde en die godsdiens is die onderwys die vernaamste kultuurinstelling wat die groei of oorlewing van ’n taal bepaal. Dis veral die onderwys wat Frans en Engels so ’n sterk plek in Afrika gegee het. Die Franssprekende Afrikalande gebruik die eerste paar jaar op skool om die leerlinge Frans te leer en die ander vakke word dan deur medium daarvan onderrig.
In die Engelssprekende lande is daar verskillende reëlings.
Kenia, Gambië, Ghana, Malawi en die noordoostelike state van Nigerië gebruik Engels reeds van die eerste skooljaar as onderrigmedium; Wes-Nigerië, Swaziland en Sierra Leone voer Engels in die eerste jaar in as vak en ná die eerste jaar as onderrigmedium; Botswana en die suidwestelike state van Nigerië gee Engels van die begin af as vak, maar dis ná drie jaar die onderwysmedium; Oeganda, Zambië en die oostelike state van Nigerië gebruik Engels van die eerste jaar af as vak, maar ná vier jaar is dit die onderrigmedium. Tanzanië, Lesotho en Ethiopië voer Engels in die derde skooljaar as vak in en gebruik dit in die hoërskool as onderwysmedium.
As gevolg van die verwaarlosing van die inheemse tale is die toonaangewende klasse in Afrika Frans- of Engels-georiënteerd. Die grootste deel van die elite gebruik nog die inheemse tale, maar die oud-koloniale tale word al meer ook eerste tale van swart kinders.
’n Bloeiende kultuurlewe is vir elke taal ’n groot aantrekkingskrag. Is ’n ryk kultuur op sigself genoeg om ’n taal te laat uitbrei of oorleef? Die antwoord is baie duidelik nee. Duits is ’n sterk kultuurtaal, maar dit het feitlik tot Europa beperk gebly omdat dit nie ’n groot koloniale ryk gehad het wat hom as onderwystaal kon laat vestig nie. Waar hy wortel geskiet het, soos in SWA/Namibië, bly hy wel hardnekkig aan die lewe. In die VSA het miljoene Duitsers in ’n paar dekades geassimileer geraak. Militêre en ekonomiese mag moet aan ’n taal die basis verskaf vir uitbreiding; kultuurinstellings kan dit dan help vestig.
’n Taal met ’n waardevolle oorspronklike kultuur sterwe veel langsamer as ’n kultuurarm taal. Die letterkunde kan ’n diep, laaste loopgraaf wees. Maar teen fisieke geweld kan geen onderwys, letterkunde of godsdiens standhou nie. Die kultuurlewe is noodsaaklik vir ’n taal om te groei of onder ongunstige omstandighede te bly bestaan, maar ’n voldoende voorwaarde vir oorlewing is dit nie.