Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 25
3 RYKDOM/ARMOEDE
ОглавлениеDie ekonomiese krag van ’n taalgemeenskap het ’n groot invloed op die krag van die taal. ’n Werkgewer vereis gewoonlik dat werknemers sy taal gebruik. Hoe ryker ’n taalgemeenskap is, hoe meer sal andertaliges om den brode die taal aanleer. Antoine Meillet meen dat die handel ’n swak middel is om ’n taal te verbrei. Fenicies het nie sy taalgebied uitgebrei soos Grieks nie, want Grieks was die draer van ’n oorspronklike kultuur en Fenicies was net ’n handelstaal. Dis juis, maar daar is tog tale wat vooruitgegaan het omdat hulle deur middel van die handel omgangstale geword het. Sulke tale is Swahili, Kituba en Hausa in Afrika en Maleis in Asië.
Swahili wat langs die kus van Oos-Afrika ontwikkel het voor die koms van die blankes, het saam met die handel na die binneland uitgebrei. Omdat dit reeds ’n omgangstaal (as gevolg van die handel) tussen verskillende stamme was, het die sendelinge en later die Duitse administrasie dit as algemene taal gebruik. Tans is dit een van die lewenskragtigste tale.
Die verskil tussen rykdom en armoede is een van die vernaamste oorsake van ’n proses wat ’n taal kan laat groei of kwyn – migrasie. ’n Voorspoedige gebied trek mense aan en ’n arm gebied stoot mense af. Dit het byna altyd tot gevolg dat die intrekkers wat verleë is om werk, die taal aanleer van die gevestigde bevolking van ’n welvarende gebied.
“Byna altyd.” Katalonië en Baskeland, die tuistes van die twee agtergestelde tale Katalaans en Baskies, is welvarender as die res van Spanje. (Die gemiddelde inkomste van ’n Spanjaard was in 1969 54 700 pesetas, teenoor 65 000 in Katalonië en 81 000 in Baskeland.)[28] Heelwat mense het uit die ander dele van Spanje daarheen getrek, veral na Katalonië en sy hoofstad Barcelona. Die intrekkers het dan Katalaans aangeleer. In die laaste paar jaar het die welvarende Katalonië soveel mense gelok dat die dorpe rondom Barcelona vol is met honderdduisende mense wat nie Katalaans ken nie. Die Katalane het in hul eie gebied ’n minderheid geraak. Dis egter te gou om te sê of dit blywende nadelige gevolge vir die taal kan hê.
Migrasie na ryker streke het ’n hele paar kleiner tale verswak. Een van hulle is Wallies.
In 1858 het 85 persent van die kinders in ’n aantal skole in Noord-Wallis Wallies gepraat – 39 persent was eentalig, 46 persent tweetalig. In Suid-Wallis was 28 persent van die kinders eentalig-Wallies en 44 persent tweetalig. In 1891 het net meer as 54 persent Wallies gebruik. Die skielike afname in die kennis van Wallies het gevolg op snelle industrialisering.
Mense uit die plattelandse noorde het na die geïndustrialiseerde suide gestroom. Die nyweraars en ander toonaangewende mense was Engels. Vir vooruitgang was kennis van Engels noodsaaklik. Taalimperialiste het die Walliesers se gebrekkige kennis van Engels die oorsaak van die ellende van die arbeiders genoem. ’n Bloudruk oor die onderwys het in 1848 beweer: “The Welsh language is a vast drawback to Wales and a manifold barrier to the moral progress and commercial prosperity of the people. It is not easy to underestimate its evil effects.”
Migrasie en verstedeliking het gelei tot talle gemengde huwelike tussen Walliessprekendes en Engelssprekendes wat óf eentalig was, óf min Wallies geken het. Die verskuiwing van Wallies na Engels as ’n eerste taal is drie keer groter in gemengde huwelike as dié waarin albei ouers Wallies is.
Een van die grootste binnelandse migrasies is dié van die Sowjet-Unie. Dit raak uiteraard ook die bevolkingsamestelling van die verskillende republieke en outonome streke, en daarmee ook die posisie van die tale. Die volksverhuisings het groot tale soos Wit-Russies en Armeens nie baie nadelig geraak nie. Die sprekers wat in hul tuisgebiede agtergebly het, was getalgewys sterk genoeg om nie deur nuwe aankomelinge oorweldig te word nie. Ander klein taalgemeenskappe het in hul tuisgebiede verswelg geraak.
Die stede bevorder die gebruik van Russies as lingua franca. Sprekers van talle tale word daar saamgetrek, en die amptelike taal wat in skole oor die hele land onderrig word, is min of meer aan almal bekend. Onder die klein taalgroepe is daar soms in die stede tot sestien maal meer sprekers wat Russies aangeneem het as in landelike streke. In die Basjkier-republiek het vier keer meer migrant-Tartare in stedelike as in landelike gebiede gerussifiseer geraak.[29]