Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 28
6 TAALPROPAGANDA
ОглавлениеDie sprekers van ’n imperiale taal is dikwels nie tevrede met die uitbreiding van hul taal deur magsmiddele nie. Daarom maak hulle van taalpropaganda gebruik: die een taal is waardevol, getuig van beskaafdheid; die ander is ’n teken van onbeskaafdheid en agterlikheid. Die mededingende taal word doelbewus gestigmatiseer en die imperiale taal bevorder.
Reeds die Romeine het dié bedenklike kuns beoefen ondanks hul verligte taalbeleid om mense nie te dwing om Latyn aan te leer nie.[36]
As die hele wêreld net een ryk is, een groot Romeinse ryk, dan sal daar nie meer oorloë hoef te wees nie, het propagandiste gesê. Daar moet een ryk wees wat vir altyd bestaan: Roma aeterna, die ewige Rome. Die Romeinse kultuur, sy menslikheid en sy menswaardigheid moet orals versprei word. Buite die grense is die toestande onmenswaardig, inhumaan. Die wêreld moet gehumaniseer word. Die Romeinse skrywer Plinius vertel van die Friese wat hulle kos moet kook op “gedroogde modder” (eintlik turf) en reënwater moet drink, en: “Sulke mense durf nog van ‘slawerny’ praat as hulle deur die Romeine oorwin word!”
Plinius skryf voorts: “Danksy die majesteit van die Romeinse idee het die mensheid vooruitgegaan! Orals geniet ’n mens die voordele van ’n vrye handelsverkeer. Selfs die produkte wat vroeër in uithoeke van die aarde verborge was, staan nou ten dienste van almal (vuursteen uit Swede, barnsteen uit Noord-Germanië, sy uit China, ivoor uit Egipte).”
“Italië” is die “voedster” en die “moeder” van alle lande, “uitverkies deur die gode om die klein rykies van voorheen tot een geheel te verenig, die sedes te versag en die onwelluidende barbaarse tongvalle van soveel tallose volkere geskik te maak vir die uitwisseling van verstandige ideë deur hulle Latyn te leer praat om sodoende die mensheid ’n menswaardige bestaan te verseker.”
Die geskiedskrywer Tacitus vertel van sy skoonvader Agricola wat in 78 n.C. in Brittanje die Latynse taal en die Romeinse beskawing gepropageer het:
“Die winter het hy gebruik vir die mees heilsame maatreëls. Om die bevolking, wat nog nie in sentra gewoon het nie, daardeur op ’n lae ontwikkelingspeil gestaan het en maklik tot oorlog geneig was, af te lei, het Agricola begin om hulle aan te moedig om tempels, markpleine, ens. te bou en ander groot projekte uit te voer. Die seuns van die stamhoofde het hy in die geleentheid gestel om te gaan studeer, waarby hy die aangebore talente van die Brittanni ver gestel het bo die moeisame leerdery van die Galliërs. Dit het so ’n sukses gehad dat dieselfde mense, wat kort tevore nog geweier het om die taal van die Romeine te leer praat, tans niks anders liewer wil doen nie as om Romeinse redenaar (juris, propagandis, amptenaar, tolk, ens.) te word.”
Romeinse skole, soos dié waarvan Agricola praat, is op baie plekke gestig. Orals in die ryk is grafskrifte te vinde van tienduisende oratores (onderwysers in welsprekendheid) en grammatici (onderwysers in Grieks en Latyn). Tolke is goed besoldig, want hulle is baie gebruik in die veeltalige ryk.
Op die mense self het die taalpropaganda die regte (“reg” vanuit Latynse gesigspunt) uitwerking gehad. Die mense het die nut van Latyn ingesien. Die kerkvader Hieronymus, wat uit Oostenryk gekom het, was van mening dat ’n mens kinders sommer gou Latyn moes leer sodat hulle nie later las het van ’n “barbaarse” aksent nie.
Terselfdertyd is ander tale op subtiele wyse gestigmatiseer. Wanneer jongmense van Galicië in Spanje hul eie taal sing, is dit “barbaars”. Iemand wat nie Latyn (of Grieks) ken nie, is onbeskaaf. Keiser Hadrianus, wat uit Spanje afkomstig was, is uitgelag oor sy Spaanse aksent – wat hy naderhand afgeleer het. Isidorus, self ook afkomstig uit Spanje, skryf van die “afskuwelike barbaarsheid” waarin die Germane geleef het, en wat “tot uitdrukking kom in die klank van hul woorde wat aan ons koue rillings besorg”.
Dié doelbewuste stigmatisering van die een taal en propaganda vir ’n ander het voortgeduur tot in ons tyd. Nog steeds stel taalimperialiste en oorlopers die een taal en sy sprekers as minderwaardig voor, en die ander as belangrik.
Die Britse uitspraak is reeds aangehaal dat Iers ’n oorsaak is van die “continewance of barbaritie and incivilitie” in Skotland. Die “Iers” was reeds as ’n skeldwoord bedoel. Vyande van Gaelies en van die Rooms-Katolisisme het Gaelies “Iers” genoem (wat histories nie heeltemal verkeerd is nie) en gesê dis die taal van “barbarity and popery”.
Die Spaanse eerste minister, Adolfo Suarez, het ’n paar jaar gelede die volgende kleinerende opmerkings teenoor Paris Match gemaak: “Streektale? Laat ons ernstig wees. Kan u u voorstel dat ’n mens atoomfisika in Baskies of Katalaans doseer?” En tog word daar al ’n geruime tyd ’n tegniese kwartaalblad in Baskies uitgegee en word dit gebruik vir dissertasies oor natuurwetenskaplike sake. In Katalaans verskyn boeke oor alle soorte onderwerpe.
Stigmatiseerders sê gewoonlik die betrokke taal is ondoeltreffend, ongeskik vir hoër geestesuitinge, bloot ’n dialek. Die mense wat dit praat, is agterlik en arm.
Taal- en volkstigmatisering is natuurlik nie alles van amptelike oorsprong nie. Die gewone burger doen meestal mee aan die verkeerde voorstelling van andertaliges en -volkiges. A.J. Chapman e.a. wys op Britse grappe oor die “onnoselheid” van die Iere. “Irishmen feature as fools in a vast number of so-called ‘Irish’ jokes; these jokes would be more appositely labelled ‘anti-Irish’.”[37]