Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 21
2.2.1 AGTERSTELLING IN DIE STAATSDIENS
ОглавлениеEen manier om ’n taal te onderdruk, is om hom sy amptelike status te ontneem (of, as hy die status nog nie gehad het nie, dit konsekwent te weier) in die gebied waar die mense dit gebruik.
Die Bretons het teen die jare twintig ’n versoek aan die sentrale regering in Parys gerig dat Bretons ’n amptelike taal word van Bretagne. Die regering het die versoek van die hand gewys. “Ter wille van die eenheid van Frankryk moet Bretons verdwyn,” was die antwoord. Die taal van die kerk, openbare lewe en onderwys in Bretagne was Frans. In poskantore het bordjies gehang met die kennisgewing: “Moenie spuug of Bretons praat nie.” Die bordjies is naderhand verwyder, maar die staatsdienstaal het Frans gebly.
Skots-Gaelies het gekwyn vandat hy sy amptelike status in die elfde eeu in Skotland verloor het. Tot in dié tyd was dit die taal van die koninklike hof en het dit ’n oorheersende status in die land gehad. Mettertyd het daar ’n Engelse element in die hofhouding gekom en is Gaelies al meer verdring tot die Hebride en die Skotse Hoogland.
Nadat Jakobus IV in 1603 Skotland met Engeland verenig het, het dit die amptelike beleid geword om Gaelies te verdruk. Die Statuut van Iona (1609) en die beslissing van die Geheime Raad (1616) was duidelik in hierdie opsig: “… that the vulgar Englishe toung be universallie plantit, and the Irische language which is one of the chief and principall causis of the continewance of barbaritie and incivilitie amongis the inhabitants of the Iles and Heylandis, may be abolisheit and removit.”[16]
Taalimperialistiese maatreëls in die staatsdiens het twee nadelige gevolge vir die minderheidstaal. Die eerste is dat sy sprekers in ’n vreemde taal met die owerheid moet praat of skryf (of mense huur wat dit vir hulle kan doen) of kontrakte, testamente, telegramme en ander amptelike dokumente opstel.
’n Verbod op ’n taal in die staatsdiens beteken ook ’n versperring in die sosiale mobiliteit van die lede van die benadeelde taalgemeenskap. Hulle moet die bevoorregte taal eers ken voordat hulle in aanmerking kom vir aanstelling of bevordering. As hulle die bevoorregte taal aangeleer het, praat hulle dit gewoonlik nooit so goed as die moedertaalsprekers van die bevoorregte taal nie. Om hierdie versperring te oorkom, neem sommige lede van die minderheidstaal naderhand die bevoorregte taal aan “sodat ons kinders nie eendag soos ons moet sukkel nie”.