Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 20

2.2 POLITIEKE DWANGMAATREËLS

Оглавление

Fisieke geweld is een middel waarmee ’n magtige land teen ’n swakker volk kan optree. Gewoonlik gebruik hy meer “vreedsame” metodes.

Vanuit ’n taaloogpunt was een van die vreedsaamste imperialismes dié van die Romeine. Hulle het die lojaliteit van die oorwonne volkere probeer wen deur hulle goed te behandel, korrupsie en uitbuiting teen te gaan, paaie, besproeiingskanale en ander bouwerke op te rig en die gebiede ekonomies te ontwikkel. Die verowerdes kon egter hul taal en godsdiens behou as hulle wou. Die Romeine was die ander tale van die ryk nie vyandiggesind nie, al het hulle dit nie bevorder nie. In Egipte was alle amptelike kennisgewings net in Grieks en Latyn en selde of nooit in Egipties. In Judea is die keiserlike besluite in Grieks en Latyn op koperplate gegrif. Af en toe het die owerheid van dié beleid afgewyk. Een geval behandel die evangeliste Lukas en Johannes in die Nuwe Testament: toe Jesus Christus gekruisig is, was die opskrif boaan die kruis in drie tale: Grieks, Latyn en Hebreeus.

’n Paar gevalle van taaldwang is wel bekend. In Egipte is amptenare afgedank wat nie Latyn geken het nie. ’n Paar vermaarde Grieke kon nie burgerregte verwerf nie omdat hul Latyn te swak was.

Die druk wat van die Romeine uitgegaan het, was meer subtiel. Hulle het ’n nuwe samelewing met nuwe instellinge gebring. Die oorwonne volkere, soos die Galliërs van die huidige Frankryk, het in aanraking gekom met ’n beskawing wat hulle én die Romeine as beter en as hoër beskou het. Om bepaalde betrekkings te kon kry en as “beskaaf’ te kon deurgaan, moes ’n mens Latyn ken. Galliese aristokrate wat hul voorregte wou behou, het hul kinders dus Latyn geleer en selfs Rome toe gestuur om dit goed te kan praat en skryf.

So verdraagsaam soos die Romeine was baie min heersers daarna. Byna oral het regerings een taal bevoordeel en die ander benadeel. Soms was daar praktiese redes vir bevoorregting, maar soms was dit ’n gevolg van taalimperialisme.

Albei tipes bevoorregting kan ’n mens illustreer aan Frans, die opvolger van die Galliese Volkslatyn wat die Galliërs leer praat het.

Terwyl die bevolking die Franse dialekte gebruik het, het Latyn ook na die Romeinse tyd die taal van die kerk, die landsbestuur en die regspleging gebly. Die dialek wat uiteindelik moes wen (sonder dat daar natuurlik ’n bewuste wedloop was), moes eers Latyn en daarna die ander dialekte en tale kon uitskakel.

Hierdie dialek was francien, later francaise, d.w.s. Frans, die taal van die Île-de-France, die taal van die hart van Frankryk.

Eers het francien en die ander dialekte die stryd teen Latyn gewen. Die verskille tussen die amptelike taal en die volkstaal, d.w.s. die verskillende dialekte, het so groot geword dat die Konsilie van Tours in 813 die priesters beveel het om voortaan in die volkstaal te preek sodat die volk kon verstaan.

Francien het die wen-dialek geword omdat dit die taal van die koning en sy hof in Parys was. Vir koninklike ordonnansies en ander regeringstukke is die Paryse dialek gebruik. Alle handveste vir nuwe stede is daarin opgestel, met die gevolg dat dit die prestige van ’n amptelike taal gekry het. Die mag van die konings het die sukses van Francien verseker. Elcock skryf: “Only by the worldly success of the people who spoke it could the popular tongue be elevated to the dignity of a national literary language. For the authorities of the Church it has never been more than a convenient medium of approach to the illiterate; throughout the Middle Ages their language was Latin. Once the court had begun to flourish, with all the intercourse of an everyday non-ecclesiastical life, it rapidly became the arbiter both of the manners which it created and of the speech which it used.”[14]

In 1539 het Frans I ’n beroemde ordonnansie in Villers-Cotteret uitgevaardig. Dit het die regspraak vir die hele ryk gereël en o.m. bepaal dat alle howe voortaan hul vonnisse in Frans moes oplê.

Nogtans was Frans nie oral die algemene taal nie. Dit was in hoofsaak beperk tot die intellektuele bolaag. Op die platteland het die dialekte stand gehou. Teen die einde van die agttiende eeu het net sowat die helfte van die mense van Suid-Frankryk Frans verstaan.

Dat die een dialek bevoorreg is, was onvermydelik. Dis onprakties om ’n hele paar dialekte tot standaardtaal te verhef en hulle almal dan vir die staat se sake te gebruik. Tot en met die Franse Revolusie het die Franse konings darem ook ’n mate van verdraagsaamheid teenoor die plaaslike tradisies en gewoontes, asook tale en dialekte, aan die dag gelê.

Die Revolusie het egter ’n bewind aan die mag gebring wat, soos P. Geyl skryf, “met schrikwekkende grondigheid” teen ander tale en dialekte opgetree het. “Een republiek, een taal” het die beleid geword. Die Franse taalwet van 1794 het bepaal dat Frans die enigste taal vir amptelike sake sou wees – in alle dele van die ryk, ook waar die mense dit nog nie so goed geken het nie. Ná ’n oorgangstydperk het die sentrale regering die beleid streng toegepas. Die suidelike dialekte en ander tale van Frankryk is stelselmatig verdruk.[15]

Natuurlik kon die Franse owerheid onmoontlik al hierdie tale amptelik maak. Dan sou die staatsamptenare ook Oksitaans, Elsassies, Nederlands (vir die gebied Frans-Vlaandere), Bretons, Baskies en Katalaans moes leer. Maar die regering kon hierdie tale amptelike status gegee het in die streke waarin die mense hulle gepraat het. Vir taalverdrukking in die tuisgebiede is daar geen regverdiging nie.

Die Franse was nie die enigste taalimperialiste nie. Die Engelse het Wallies, Iers en Skots-Gaelies onderdruk en die Spanjaarde weer Baskies en Katalaans.

Ons kan nou kortliks let op maniere waarmee ’n onsimpatieke regering ’n minderheidstaal kan benadeel.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх