Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 6

HOOFSTUK1

Оглавление

Hoe groei en kwyn tale?

“When a Russian pilot seeks to land at an airfield in Athens, Cairo or New Delhi, he talks to the control tower in English.”Hierdie stelling van ’n Keniase joernalis haal ’n professor van Oeganda aan in ’n opstel waarin hy nogal geesdriftig skrywe oor die opkoms van die “Afro-Saxons”, swart Afrikane waarvan die moedertaal Engels is. Die professor, Ali Mazrui, meen dat daar teen die einde van die eeu waarskynlik meer Afro-Saxons as Britte sal wees.[1] Die opkoms van die Afro-Saxons is maar een verskynsel wat toon hoe ’n belangrike wêreldtaal Engels geword het, ’n skrale vier eeue nadat geleerdes van Engeland geskryf het oor die taal wat nie eens oral op “this island” gepraat word nie en in onbruik sal raak as al die mense van die eiland eendag opgevoed is![2]

Maar terwyl die een taal so dramaties gegroei het, moet ’n bekommerde digter van ’n ander taal skryf:

Ik ben van hen

die luisteren als ze spreken,

want ik spreek een taal,

die mijn buur niet meer verstaat.

Ik spreek haar voor mezelf.

Tussen God en mij

stel ik de vraag:

Of’t nog de moeite loont

het woord getrouw te zijn

zoals ik doe.

Hierdie digter is Ronan Hunon, wat skrywe oor sy taal Bretons, ’n taal wat volgens Jan Deloof, vertaler van die gedig “een taal in doodsnood (is), … een taal die sterft, … een taal die vermoord wordt”.[3] Bretons en sy drie naaste familielede – Iers, Wallies en Skots-Gaelies – is die laaste oorblyfsels van ’n taalfamilie, die Keltiese tale, wat eeue gelede oor ’n groot deel van Europa gepraat is. Met talle ander tale het dit nog slegter gegaan, byvoorbeeld die uitgestorwe tale soos Sumeries, Etruskies, Egipties, Goties, Tasmanies, verskeie inheemse Australiese tale en Indianetale van Amerika.

Waarom het Engels gegroei, Egipties gesterf en is Bretons “in doodsnood”?

Hierdie vraag kan ons eintlik moeilik skei van ’n ander vraag: Hoe verloop die sterf-en groeiprosesse van tale?

Die lotgevalle van Iers gee ons ’n aanduiding van hierdie prosesse.[4]

Sowat agt eeue gelede is Iers nog oor omtrent die hele Ierland gepraat. Nadat die eiland in die twaalfde eeu onder Engelse gesag gekom het, het die taal langsamerhand agteruitgegaan, veral sedert die sewentiende eeu toe baie Engelse in Ierland kom woon het. Nogtans was Iers aan die begin van die negentiende eeu nog die vernaamste taal, veral buite die stede.

Tussen 1816 en 1848 misluk die aartappeloes egter ’n paar keer heeltemal of gedeeltelik. Die misoes van 1846 is gevolg deur ’n strawwe winter en ’n epidemie van “famine fever” – ’n kombinasie van tifus en terugkerende koors (“relapsing fever”) – en gou daarna ook disenterie en skeurbuik. Talle mense is dood van honger en siekte. In 1847 het dit effens beter gegaan, maar in 1848 baie erger. Geweldige sterftes was die gevolg. Die bevolking van Ierland het van 8,2 miljoen in 1841 tot 6,5 miljoen in 1851 en 4,5 miljoen in 1901 gedaal.

Dit was nie net honger en siekte wat tot die groot verlies gelei het nie. Talle Iere het na Kanada en die VSA geëmigreer. Dit was die instinktiewe reaksie van ’n paniekbevange bevolking. Die aanvanklike histerie was teen 1846 tot die kleinboere beperk, maar gou het dorpenaars ook aangesteek.

Mettertyd het ’n ander tendens duidelik geword, naamlik dat al hoe meer Iere eers op ’n hoë leeftyd getrou het. Buitendien het minder mense ook getrou. Dié neiging het tot in ons tyd voortbestaan. Teen 1951 was 97 persent van die jong mans van tussen 20 en 24 jaar nog ongetroud en 81 persent van die jong vroue; onderskeidelik 84 persent en 54 persent van die mans en vroue tussen 25 en 29 was ongetroud en 68 en 36 persent van die mans en vroue tussen 30 en 34. Net ná die Tweede Wêreldoorlog het boere gemiddeld ná hul 39ste jaar getrou en een uit vier boere tussen 65 en 74 was ’n vrygesel.

Hoewel daar darem nog altyd redelik baie kinders gebore is en die geboorte-aanwas die verlies deur sterfte kon oorskry, is die toename telkens deur emigrasie uitgewis.

Vanweë die hoë sterftesyfer en emigrasie het Iers nie net “swakker” geword nie, maar “al hoe swakker”. Hierdie “al hoe swakker”-word is nie vanselfsprekend nie. Dit blyk duidelik as ons onthou dat die “Swart Dood” (die pes) van 1348 na bewering die lewens van 25 miljoen mense, ’n kwart van die bevolking van Europa, geëis het.[5] Hoewel daar onsekerheid oor die presiese syfers is, het Italië blykbaar die helfte van sy bevolking en Engeland en Frankryk ongeveer ’n derde van hul bevolkings verloor.[6]

Italiaans, Frans en Engels het voortbestaan, ondanks die baie sterfgevalle, maar Iers het agteruitgegaan toe ’n vergelykbare ramp die Iere getref het. Waarom? In die geval van Iers het nog iets bygekom.

In Amerika was die Ierse immigrante ’n minderheid. Dié wat nog nie Engels geken het nie, en veral hul kinders en kleinkinders, het Engels aangeneem. In Ierland self was ’n deel van die bevolking eeue lank in aanraking met Engelse immigrante en hulle het die immigrantetaal, Engels, aangeneem, veral ná die groot ramp.

Behalwe die suiwer fisieke prosesse (doodgaan of wegtrek) was daar dus ’n ander proses wat Iers laat agteruitgaan het, een wat aan die gang gesit is deur kontak met sprekers van ’n ander taal. Hierdie twee soorte prosesse speel ’n rol in alle gevalle van taalgroei en agteruitgang en hulle word in die res van die hoofstuk toegelig onder die hoofde Demografiese prosesse en Assimilasie.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх