Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 17

1 NATUURLIKE FAKTORE

Оглавление

Hongersnood en siekte – wat albei so noodlottig was vir Iers – het ’n hoë tol in baie lande geëis. Wes-Europa het tussen 1000 en 1855 sowat 450 hongersnode gehad; dié van 1315 tot 1317 was so erg dat mense honde, katte, boomwortels, duiwemis en selfs hul eie kinders geëet het. Uitgehongerde gevangenes het nuwelinge aangeval en half lewend verslind. In China was daar 1 828 hongersnode van 108 v.C. tot 1911.

’n Ewe groot bedreiging is siektes. Meer as een geleerde meen dat chroniese en epidemiese siektes ’n groter invloed op die geskiedenis gehad het as die optrede van die mens. Tifus, pes, disenterie, skeurbuik, cholera, pokke en masels het tot baie onlangs gemaai onder die mensdom. Soos reeds gesê, het die Swart Dood in 1348 ’n kwart van die bevolking van Europa laat sterf.[1]

Ook op die lotgevalle van ander tale as Iers het siekte en hongersnood ’n invloed gehad.

’n Pesepidemie wat ná 542 n.C. die lewens van moontlik miljoene mense geëis het, het die Bisantynse keiser Justinianus gedwing om sy leërs kleiner te maak. Die Bisantynse verdediging was so verswak dat die magte van die Islam Egipte en Sirië kon verower en Arabies na hierdie gebiede kon laat deurdring.

In die derde millennium voor Christus het die sprekers van Sumeries in Mesopotamië begin plek maak vir die sprekers van Akkadies. Laasgenoemde het vermoedelik in groot getalle na die Sumeriese stede gestroom sodat hulle naderhand meer was as die Sumeriërs. Sumeries het nog ’n lang tyd die taal van die priesters en ander geleerdes gebly, maar Akkadies het die omgangstaal geword. William McNeill meen dat hierdie vervanging van Sumeries deur Akkadies die gevolg was van ’n ongewoon hoë sterftesyfer weens siekte, hongersnood of oorlog, of miskien al drie saam.[2] McNeill beskryf in sy boek ook ander gevalle waar siektes ’n diepgaande uitwerking op die ondergang van tale en beskawings gehad het.

Op die Amerikaanse vasteland is talle Indiane dood en het verskeie Indiane-tale uitgesterf as gevolg van Westerse kolonisasie. Naas geweld was siekte die belangrikste oorsaak van die geweldige lewensverlies.

Die Indiane was eeue afgesonder van Europa, Asië en Afrika, waar die bevolkings mettertyd – nadat epidemies ook onder hulle gemaai het – taamlik immuun teen epidemiese siektes was. Die Indiane het die nuwe siektes egter maklik gekry en nog makliker daaraan gesterf. Dis onseker hoeveel Indiane daar voor die koms van die blankes was. Sommige skattings plaas hulle op tussen 8 en 14 miljoen, maar party latere ramings is veel hoër – tot 130 miljoen, waarvan 25 tot 30 miljoen in Mexiko. Teen 1568, minder as vyftig jaar nadat die Spanjaarde onder Cortez in aanraking met die Asteke gekom het, het die bevolking van Mexiko tot 3 miljoen gedaal en ná nog vyftig jaar was dit 1,6 miljoen.

Die herstel het maar stadig plaasgevind. McNeill haal ’n taamlik onlangse voorbeeld aan om te wys hoe kwesbaar afgesonderde mense vir kontak met die buitewêreld is. In 1903 het ’n Suid-Amerikaanse stam, die Capayo, toegelaat dat ’n sendeling hulle bearbei. Toe hy daar kom, was die stam tussen 6 000 en 8 000 sterk. Teen 1918 was daar maar 500 oor, teen 1927 slegs 27 en in 1950 nog net twee of drie. Die mense is almal aan siektes dood wat hulle andersins nie sou gekry het nie.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх