Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 7

1 DEMOGRAFIESE PROSESSE

Оглавление

Demografiese prosesse is prosesse wat die grootte, samestelling en verspreiding van bevolkings verander.

Die geskiedenis van Iers illustreer twee demografiese prosesse. Die eerste is die styging in die geboortesyfer en/of ’n daling in die sterftesyfer wat die getal sprekers van die taal natuurlik mettertyd meer laat word, of anders ’n daling van die geboortesyfer en/of ’n styging van die sterftesyfer wat die aantal sprekers minder kan laat word. Die bevolkingsaanwas kan dus groei of krimp. Daar kan ’n bevolkingsontploffing kom of die bevolking kan om die een of ander rede kwyn.

Die tweede demografiese proses is ’n bevolkingsverskuiwing of migrasie. Die Iere het weggetrek omdat daar ’n sogenaamde stoot- en trek-faktor was. Die stoot-faktor was die haglike ekonomiese toestand: “All we want, is to get out of Ireland … we must be better off anywhere else than here,” het die woordvoerder van ’n groep emigrante gesê.[7] Die trek-faktor was die aantreklike vooruitsigte in die “nuwe wêreld”. Hierdie nuwe wêreld was ook die aantrekkingskrag vir miljoene ander immigrante uit alle dele van Europa.

Volksverhuisings het ’n rol gespeel in die geskiedenis van seker alle tale.

Die Indianetale het deur migrasie in Amerika gekom; die sprekers van feitlik al die huidige Europese tale is die nageslag van mense wat van êrens uit die Ooste die gebied binnegetrek het; álle Suid-Afrikaanse tale is eintlik migrantetale omdat die voorouers van die sprekers daarvan oorspronklik uit ander dele van Afrika of Europa gekom het.[8]

Daar is verskillende soorte migrasies. Die volksverhuising van die Magjare uit Midde-Rusland na die huidige Hongarye beskou die demograaf Ralph Thomlinson as ’n voorbeeld van ’n inval.[9] Die hele bevolking het uit hul eie land weggetrek na ’n ander. Ander bekende invalle is dié van die Gote en Vandale in die Romeinse Ryk.

Die onderwerping van die Indiese beskawings deur die Ariërs uit Oos-Europa tussen 2000 en 1500 v.C. is bekend as verowering. Die veroweraars vestig hulle in die verowerde land, trou met die verowerdes en laat ’n nuwe bevolking ontstaan. Soms verdring die migrante die oorspronklike bevolking. So het die blankes die Indiane in Noord-Amerika weswaarts laat trek.

Slawerny het ’n ander soort “migrasie” tot gevolg. Tussen 1550 en 1850 het verskeie Europese moondhede tussen 10 en 20 miljoen swartes as slawe na die Westelike Halfrond weggevoer.

Ten slotte is daar kolonisering. ’n Groep mense gaan woon onder toesig van die moederland in ’n nuwe land. Die moederland bestuur die kolonie asof dit deel van sy eie land is, of baie dikwels as ’n wingewes wat hy ter wille van sy eie ekonomiese belange kan uitbuit. Die inheemse bevolking mag nie sy eie sake bestuur nie.

Migrasie skep altyd die moontlikheid vir taalgroei of taalagteruitgang, maar daar is ander faktore wat bepaal of daardie moontlikheid werklikheid word. Die taal van die migrante kan die taal word van die land wat hulle binnegeval, verower of gekoloniseer het. Engels het die taal van ’n deel van Noord-Amerika en Ierland geword. Die migrantetaal kan ook verdwyn terwyl die inheemse of oorspronklike taal bly bestaan: die Germaanse invallers in die Romeinse Ryk (soos die Gote en Vandale) het hul tale prysgegee en die tale van die verowerdes aangeneem.[10]

Tuiste in eie taal

Подняться наверх