Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 18

2 MAGTELOOSHEID/MAGMISBRUIK

Оглавление

Die honger en siekte wat Ierland in die negentiende eeu getref het, het ’n proses aan die gang gesit, of ’n proses versnel, waardeur die Iere hul taal laat vaar het, is in die eerste hoofstuk aangevoer.

Waarom kon dit gebeur?

Die Engelse was toe reeds lank in Ierland en die Ierse parlement was sedert 1494 aan die Engelse parlement onderhorig. Die Iere kon geen wetsontwerp voor die parlement lê voordat die Engelse koning en sy ministers dit nie eers goedgekeur het nie. Alle Engelse wette sou in Ierland van krag wees. In 1800 het Engeland die Iere gedwing om ’n unie tussen die twee lande te sluit. Die Ierse parlement het verdwyn en die Iere het sitting in die Britse parlement gekry. Dáár was hulle altyd ’n minderheid. Die Engelse parlement kon op baie demokratiese wyse wette aanneem waarmee die Iere nie gediend was nie.

Die Engelse kon die Iere ook onregstreeks benadeel. Laasgenoemde was hoofsaaklik Rooms-Katoliek, maar tot 1829 kon die Katolieke nie staatsbetrekkings beklee, parlementslede word of aan sommige universiteite (soos Oxford en Cambridge) gaan studeer nie. Die oorsaak van baie Iere se armoede was dat aristokratiese Engelse ’n groot deel van die grond besit het. Hulle het die grond nie self bewerk nie, maar verpag, en kon die pag te enige tyd opsê. Wanneer daar misoeste was, kon die grondbesitters die pagters maklik in die pad steek.

Kon die Iere dan niks daaraan doen nie? Die antwoord is dat Engeland te sterk was. Ten tyde van die Engelse burgeroorlog in die jare veertig van die sewentiende eeu het die Iere teen die Engelse oorheersers gerebelleer. Oliver Cromwell en sy sogenaamde “Ironsides” (sy dapper en gedissiplineerde soldate) het die opstand meedoënloos onderdruk. Die Engelse het baie opstandelinge na hul Wes-Indiese kolonies gestuur, beslag gelê op ’n groot deel van die grond en dit onder Cromwell se veterane verdeel. Die vroeëre Ierse grondbesitters moes na moerasse en berggebiede padgee en daar ’n ellendige bestaan voer. Die bevolking het van 1,5 miljoen tot 600 000 gekrimp.

Engeland het die militêre mag gehad om te doen wat hy wou. Ierland was magteloos. Só kon die Engelse aan die Iere ’n politieke stelsel opdwing wat hulle belet het om hul eie sake bevredigend te reël.

Die verhaal van die lotgevalle van ’n taal is dikwels die geskiedenis van die magsuitbreiding of magsverlies van sy sprekers. Tale groei meestal omdat die sprekers hulle aan magsmisbruik skuldig maak. Ander tale kwyn omdat hul sprekers magteloos is en deur sterker volkere oorrompel en geregeer word. ’n Taal kan oorleef as sy mense die seggenskap oor hul eie sake behou.

As ’n mens die groei van die wêreld se grootste tale wil beskryf, moet jy dus al die faktore in aanmerking neem wat nasies laat vooruitgaan: beskawingstipe, grootte van die bevolking, ligging van die land, klimaat, minerale en ander hulpbronne en die swakheid van teenstanders in kritieke tye. Rome kon byvoorbeeld sy mag uitbrei omdat hy geen sterk teenstanders in sy beginjare gehad het nie: die Etruskers en Grieke was al aan die agteruitgaan en die Karthagers het nie vasbeslote genoeg weerstand gebied nie. Die Islam, en daarmee saam Arabies, kon in die sesde en sewende eeu vinnig veld wen omdat die Persiese en Bisantynse Ryk nie sterk genoeg was om dit te keer nie.[3]

’n Groep wat mag verwerf het, kan op allerlei maniere sy eie taal bevorder en die tale van ander groepe benadeel. Dit gaan in die eerste plek wel nie om die tale self nie, want een volk onderwerp ’n ander om ekonomiese, strategiese of ander redes. Maar die taal van die sterkste groep kan veld wen omdat sy sprekers die onderworpe groep daarin kan regeer.

Gewoonlik gebruik ons die term “imperialisme” vir die drang of strewe van bepaalde volkere om politieke, ekonomiese en soms ook kulturele beheer uit te oefen oor ander volkere wat daardie beheer nie wil hê nie. Taalimperialisme kom voor wanneer een volk sy taal op ’n ander afdwing. Die sterkste groep kan ’n volk wees wat ’n ander volk in ’n ander staat onderwerp of in sy eie staat die toonaangewende posisie verkry het. Soos later in die hoofstuk sal blyk, is militêre mag alleen nie genoeg om ’n taal te laat uitbrei nie, maar alle tale wat sterk gegroei het, het dit reggekry met behulp van die mag en gewelddadigheid van hul sprekers.

Latyn kon uitbrei omdat Rome sy mag in ’n groot gebied gevestig het. Ook die Koiné-Grieks van Attika en Athene het ná die verowerings van Alexander die Grote die amptelike taal van ’n wyd uitgestrekte administrasie geword. Die taal kon taamlik diep wortel skiet (onder meer omdat Grieks ’n hoë kulturele aansien gehad het) in Suid-Italië, Sicilië, Klein-Asië, Egipte en ander dele van Afrika. Maar die militêre sukses van Grieks se teenstanders het dit teruggedring. In Egipte kon Grieks lank standhou, maar in 639 het die Arabiere Egipte binnegeval. Grieks, die taal van die intellektuele bolaag in Alexandrië en ander sentrums, asook Kopties (soos Egipties in sy laaste fase bekend staan) moes albei wyk vir die taal wat die draer was van ’n nuwe godsdiens, die Islam. Vandat die Turke Klein-Asië sedert die elfde eeu binnegestroom en onder meer Konstantinopel verower het (in 1453), het Turks Grieks ook daar vervang, hoewel baie stadig.

Ná en ten tyde van die magsvestiging kan die sterkste gemeenskap sy mag op twee verskillende maniere gebruik.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх