Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 14
2.2.4 TAALHOUDING, STATUS EN TAALGETROUHEID
ОглавлениеAndertaliges staan dikwels positief teenoor ’n taal met ’n hoë status en leer dit daarom gretig aan. As hulle nie baie getrou aan hul eie taal is nie, kan hulle dit later prysgee.
Hiermee is drie sake genoem wat in elke taalverplasingsproses ’n rol speel: die status van ’n taal, houding, taalgetrouheid.
Getalsterkte, ekonomiese waarde en kulturele gehalte is van die dinge wat die status van ’n taal bepaal. ’n Taal het prestige op grond van sy egte of vermeende hoedanighede. Daar kleef ’n stigma aan ’n taal as sy eie sprekers dink (of meen dat andertaliges of selfs sy eie sprekers dink) dat mense hul taal vereenselwig met agterlikheid, ongeletterdheid, armoede en, in ’n stedelike gemeenskap, met bekveldagtigheid.
’n Taal kry sonder twyfel prestige deur faktore wat baie mense sou beskou as van twyfelagtige of bedenklike waarde soos militêre sukses en “die onregverdige Mammon”. Napoleon se militêre genie het help bydra tot die prestige van Frans; rykdom, die krag van die Britse vloot en die koloniale ryk het bygedra tot dié van Engels in die negentiende eeu; ekonomiese en militêre mag (onder meer die Geallieerde oorwinning van 1945) het Engels sy huidige prestige help besorg. Albei tale is daarby hoogstaande kultuurtale. (Op al hierdie sake word in die volgende hoofstuk verder ingegaan.)
Die status van ’n taal word ten dele ook bepaal deur die “beeld” wat sy eie sprekers en andertaliges van die taal en sy sprekers het – ’n ingewikkelde kwessie, want die wete dat andertaliges min van hulle dink, kan by ’n klein groep bydra tot ’n negatiewe beeld van hulleself. (Die bepaling “klein” of “swak” is noodsaaklik: die lae dunk wat die Engelssprekendes van die Iere gehad het, was medeverantwoordelik vir die Iere se ongunstige beeld van “die tipiese Ier” – maar die minagting en selfs haat van sommige Iere vir die Engelse het nie laasgenoemde se aansien in eie oë aangetas nie. Dit geld vir meer groepe as die Iere en Engelse.)
In ’n artikel tot ’n nommer van die International Journal for the Sociology of Language oor “Language death” maak Wolfgang Dressler en Ruth Wodak-Levdolter ’n terloopse opmerking: “… negative stereotypes and prejudices affecting minorities may lead to inferiority complexes which modify the self-image”.[39]
Ongelukkig skryf hulle nie verder daaroor nie, maar ’n negatiewe selfbeeld speel ’n rol in die agteruitgang van klein tale. ’n Paar anekdotes illustreer dit duidelik.
George Borrow, skrywer van Wild Wales, het in 1854 deur Wallis gestap. Toe hy op ’n dag by ’n Walliese werker verbyloop, het die man sy kop weggedraai. Hy het nie Engels geken nie en was bang dat die vreemdeling hom in dié taal sou aanspreek.
In Cornwallis, waar die taal Kornies in die negentiende eeu uitgesterf het, het die moeder van Nicholas Boson van Newlyn (gebore 1624) probeer verhinder dat hy die taal leer. Sy het die knegte en bure verbied om Kornies met hom te praat. Maar hy het dit tog aangeleer en jammer gevoel dat dit sou kon uitsterf. Hy het uiteindelik daarvoor gesorg dat die enigste oorgelewerde Korniese volksverhaal opgeteken is.[40]
Met die kolonisering van die Amerikas en die siektes en rampe wat die Indiane getref het, het dit dikwels gebeur dat van die Indiane om geen besondere rede nie selfmoord gepleeg of hul pasgebore en jong kinders gewoonweg nie versorg het nie, met die gevolg dat hulle dood is. Hulle het, soos een skrywer dit stel, hul “lewenswil” verloor. Die Indiane het, soos die Spanjaarde, geglo dat siekte ’n straf van God is. Die Spanjaarde wat reeds immuun was, het nie siek geword nie, maar die Indiane wel. Vir albei groepe was dit eienaardig dat God of die gode net die een groep straf en die ander oorsien. God en die gode is aan die kant van die wittes, en teen die rooies, het hulle gemeen.[41]
Die geskiedenis van die taalgemeenskap (en die oordeel oor daardie geskiedenis) is medebepalend vir sy status. Die geskiedenis kan ’n nuwe geslag ontmoedig of inspireer. Sukses in vroeëre taalstryde of selfs tydperke van verdrukking deur ’n ander groep kan dien as mobiliserende krag. Aanhoudende mislukking kan ’n groep by voorbaat demoraliseer. Wat die Walliesers baie lank in hul taalstryd gestrem het, is die feit dat hulle so min welslae in die verlede gehad het. ’n Mens kan verwag dat daar ’n verband gaan wees tussen status en houding. As ’n taal ’n lae status het, kan moedertaalsprekers en andertaliges negatief daarteenoor staan.
Tale wat in onbruik raak, kry maklik komiese assosiasies. Dialekkolomme in Frans-Switserse koerante en Pennsilvanies-Duitse afdelings in party tydskrifte van Pennsilvanië word aan humoristiese stof gewy. Onder kinders van Amerikaanse immigrante lok ’n woord in die ouers se taal soms ’n onbedaarlike lagbui uit.[42] Onverskilligheid, spot, taaldéfaitisme en selfhaat is almal negatiewe houdings wat met taalagteruitgang gepaard kan gaan.
Hierdie negatiewe gevoelens hóéf egter nie noodwendig te lei tot ’n verlies van getrouheid teenoor die betrokke taal nie. Tale sonder veel aansien kon soms lank uithou teen taalverskuiwings. Die term taalgetrouheid of taallojaliteit (’n term van Uriel Weinreich[43]) spreek vir homself: dis ’n strewe om die gebruik van die taal, en gewoonlik ook die “korrekte gebruik” daarvan, te bevorder. Sprekers wat getrou is aan hul taal, sal probeer om bedreigings soos getalsverlies deur emigrasie, ’n laer bevolkingsaanwas, taalverplasing en taalvermenging die hoof te bied.
In elke taal- en kultuurkontaksituasie is daar altyd oorgangs- of grenspersoonlikhede: mense wat moet kies tussen die twee tale en kulture. Een so ’n grensfiguur is ’n persoon uit ’n benadeelde taalgemeenskap wat getroud is met iemand uit ’n taalgroep met hoë status. As so ’n vader of moeder moet besluit oor die kinders se huis- en onderwystaal, moet hy of sy dikwels bewus of onbewus twee oorweginge teen mekaar opweeg: “die beswil van my kinders” en “die beswil van my taal”.
Dis “vir die beswil van my kinders” dat mense soms hul kinders na ’n andertalige skool stuur of dat die ouers in ’n taalgemengde huwelik die kinders grootmaak in die taal wat die belangrikste funksies in die gemeenskap beklee. Maar daardie “beswil” kan van gemeenskap tot gemeenskap en van tyd tot tyd verskillend wees.
Dit kan wees dat die ouer van die verloortaal sterk nasionaalgesind is en voel: “Ek is ’n verraaier as ek die taal laat vaar en toelaat dat my kind dit doen; dis nié in belang van my kind om afgesny te word van sy eie familie en my mense nie.”
Godsdienstige mense wil graag hê dat hul kinders ook op die regte pad bly. Die taal van die kerk en van die godsdiens oor die algemeen kan ’n belangrike rol in die taalkeuse vir hul kinders speel. In Amerika het die Lutherse kerke aanvanklik die immigrantetale soos Duits, Deens, Noors en Sweeds in die kerk bly gebruik. Solank die kerke en kerkskole die ou taal behou het, was dit vir die immigrante ’n aansporing om hul taal te handhaaf. Einar Haugen skryf: “In the case of the Norwegians, as apparently among most immigrants, the church is the primary institution which provides the immigrants with a justification for the use of language.”[44] Toe die Lutherse kerke eers verengels het, het hulle die pogings om tale soos Duits en Noors te handhaaf, moeiliker gemaak as wat hulle reeds was.
Die besluit van individue oor die oorname van ’n ander taal hang baie af van die persoonlikhede en waardesisteem van die betrokkenes. Hoeveel waarde heg hulle aan die godsdiens of ’n taalgebonde kerk? Is hulle sterk nasionaalbewus? Is daar ’n sterk gevoel teen “taalverraad” in die gemeenskap en gee die ouer om oor wat die mense van sy/haar taalverraad gaan sê? Is die ouer dalk baie geheg aan familie wat hy of sy nie wil vervreem deur ’n ander taal aan te neem nie? (Nasionalisme en taalgetrouheid kry meer aandag in hoofstuk 3.)
Individuele lede van minderheidsgroepe is soms besonder getrou aan hul taal. Die agteruitgang van Wallies het baie nie-Walliesers van Wallis aangespoor om hul taal weer aan te leer as teenwig teen die verliese wat die taal as gevolg van gemengde huwelike gely het.
Die gesindheid van die wedywerende taalgemeenskappe teenoor mekaar is ook belangrik. As daar ’n groot mate van antagonisme bestaan, is taalverplasing moeiliker omdat mense uit die twee gemeenskappe minder met mekaar sal omgaan en ondertrou.
Soos dit uit die voorgaande paragraaf blyk, beteken “meer/minder gebruik” dat mense ’n taal in meer/minder funksies gebruik. Dit hou nou verband met ’n ander betekenis van “meer/minder gebruik”, naamlik gebruik deur meer of minder mense.
Dit blyk uit die taalverskuiwingsproses in Amerika. Negentiende- en twintigste-eeuse immigrante uit Suid- en Oos-Europa het Engels aanvanklik net gebruik by hul werk en op straat as hulle nie anders kon nie. Dié wat nog nie Engels geken het nie, het dit deur middel van hul moedertaal geleer. Die ou taal het nog taamlik baie funksies gehad.
Met verloop van tyd het die immigrante meer in aanraking gekom met Engelssprekende Amerikaners en Engels in meer funksies leer gebruik: later ook om met mekaar te praat. In sommige lae funksies het Engels dus die ou moedertaal begin verdring.
Uiteindelik het Engels die moedertaal in byna alle funksies vervang. Jonger nakomelinge van immigrante moet die ou immigrante se moedertaal deur Engels aanleer as hulle dit wil ken.[45]
Op baie kleiner skaal is ’n soortgelyke proses in sommige Afrika-lande aan die gang. Op die oomblik praat die grootste deel van die elite in hierdie lande nog hul inheemse tale, maar die gewese koloniale tale word al meer ook die moedertale van kinders.
Ali Mazrui van Oeganda skryf dat Engels die eerste taal in funksionele sin vir baie Afrikane is. ’n Groot deel van hul openbare lewe word in Engels gevoer. Daarby word Engels vir baie swart kinders ook chronologies die eerste taal, m.a.w. die taal waarmee hulle tuis grootword. Mazrui het self nie in Engels grootgeword nie, maar die moedertaal van sy kinders is Engels.
Een van sy bure in Kampala se kinders word tweetalig (Engels en Luganda) groot, en dié kinders neig om eerder Engels-georiënteerd te wees. “This is partly because at school they get only English, while at home they get both English and Luganda. The children are indeed growing up bilingual, but functionally the English language seems to be gaining the upper hand. The functional primacy of English among the parents leads on to the chronological primacy of English among the children.”[46]
Tussen ’n verlies van funksies en ’n verlies van sprekers is daar, soos reeds gesê, ’n noue verband. As ’n taal nie in “hoër” funksies gebruik word nie, is daar geen aansporing vir andertaliges om dit aan te leer nie, en mettertyd ook nie vir die nageslag van mense wat vroeër die taal gepraat het nie.
’n Mens kan derhalwe ’n goeie aanduiding van die groei en agteruitgang van ’n taal kry as jy gereeld opnames kan maak van (a) hoeveel mense met ander moedertale die betrokke taal ken, en (b) hoeveel moedertaalsprekers die taal het – en veral hoeveel moedertaalsprekers eentalig is. Eentalige mense sal uiteraard nie van taal verander nie, maar vir tweetalige mense is dit besonder maklik (afhangende van hoe goed hulle die taal ken).
Taalverskuiwings word altyd voorafgegaan deur ’n fase van taamlik algemene tweetaligheid onder sprekers van die verloortaal. Die sprekers van die wentaal bly eentalig.
Die volgende syfers gee byvoorbeeld ’n aanduiding van die agteruitgang van Skots-Gaelies. In 1891 was daar in Skotland 254 415 mense bo drie jaar wat Gaelies gepraat het; in 1931 was dit 136 135, in 1951 was dit 95 447 en in 1960 80 978. Persentasiegewys (van die bevolking van Skotland) was dit ’n daling van 6,8 tot 3 tot 2 tot 1,7.
So is dit ook ’n teken van agteruitgang dat nog net 656 000 of 26 persent van die bevolking van Wallis (2 600 000) in 1961 Wallies gepraat het en dat die persentasie van Wallies-eentaliges van 30,4 persent in 1891 tot 1 persent in 1961 gedaal het. In stedelike gebiede was maar 0,4 persent van die Walliessprekendes bo drie jaar eentalig en op die platteland 2,4 persent.[47] Vir ’n klein taal is ’n groot mate van tweetaligheid onder sy sprekers dikwels die dood in die pot.
Tweetaligheid skep vir ’n taal ’n groeimoontlikheid wanneer baie andertaliges die taal aanleer, maar ’n moontlikheid tot agteruitgang wanneer sy eie sprekers ’n ander taal aanleer sonder dat die andertaliges op hulle beurt die eersgenoemde taal aanleer. ’n Taal groei dus wanneer baie mense dit aanleer (al neem hulle dit nie as eerste taal aan nie); terselfdertyd kan die sprekers van die groeiende taal sonder skade eentalig bly.