Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 19

2.1 FISIEKE GEWELD

Оглавление

Suid-Afrikaanse toespraakmakers beweer soms dat geen volk as gevolg van aanvalle van buite kan sterf nie, blykbaar in navolging van ’n opvatting van Arnold Toynbee dat geweld van buite geen beskawing kan laat ondergaan nie. Dis ’n opvatting waarvan ’n ander historikus, Pieter Geyl, skryf: “On looking closely we soon discover that the author does some violence to the facts to make them fit this thesis. We have only to look at his list of sixteen defunct civilizations to think at once that it will be difficult in several cases to escape the verdict: death by external violence.”[4]

Wat geweld kan doen, toon die makabere Russiese spreekwoord: “Hulle het verdwyn soos Aware.”

Die Aware was ’n nomadevolk van Turks-Mongoolse oorsprong wat uit die Midde-Asiatiese steppe na Europa getrek het. Saam met die Longobarde het hulle (in die sesde eeu n.C.) eers die Geupide uitgeroei en daarna die Lombarde na Italië verdryf. Ná ’n reeks van lotgevalle vestig hulle hulle in die agtste eeu in die Donau-vallei. Daarvandaan het hulle strooptogte in die Bisantynse Ryk en Beiere onderneem. Karel die Grote het teen die einde van die agtste eeu verskeie strafekspedisies teen hulle uitgestuur, maar dié het in ware uitroeiingsveldtogte ontaard. Henri Pirenne skryf dat die Aware so uitgemoor is dat hulle as volk vrywel van die aardbodem verdwyn het. Die Russiese spreekwoord gee iets weer van die indruk wat die lot van dié “wilde en wrede plunderaars” op die Oos-Europeërs gemaak het.[5]

Voor en na dié tyd was daar baie gevalle van massamoord op volkere en sosiale lae, hoewel nooit met die oogmerk om tale uit te roei nie.

Die ergste massamoorde het in die twintigste eeu voorgekom. In die Sowjet-Unie het die Kommunistiese bewindhebbers ’n onbekende aantal teenstanders “fisiek gelikwideer” – moontlik tot 51 miljoen.[6] Party waarnemers meen dis by die 90 miljoen. Lede van minderheidsgroepe soos die Oekrainers, Litauers en Este is gedeporteer en gelikwideer. Hulle het dikwels te lande gekom in gemeenskappe waarin hulle ver in die minderheid was en hulle en hul kinders het noodgedwonge hul eie tale laat vaar en ander aangeneem. Een van die groepe wat die swaarste gely het, is die Krim-Tartare. Van 1920 tot 1941 is tussen 160 000 en 170 000 van hulle gedood. In Junie 1944 is 200 000 gedeporteer en 80 000 het om die lewe gekom.

Oor die omvang van die likwidasies in China is daar ook meningsverskil. Party skrywers skat die aantal slagoffers op naastenby 90 miljoen.

Bekender en berugter is die dood van miljoene Jode in Duitsland onder die Nazi-bewind. Vir Jiddisj was dit die nekslag. Nog ’n groep wat groot verliese gely het in die Tweede Wêreldoorlog, is die Serwiërs in Kroasië (tans ’n republiek van Joego-Slawië). Van die sowat 1 tot 2 miljoen Serwiërs in Kroasië is volgens party skrywers tussen 750 000 en 1 miljoen uitgeroei.

Nog ’n volk wat baie swaar gekry het, is die Armeniërs, wat aan die einde van die negentiende en begin van die twintigste eeu onderdane was van die Turkse Ryk. (’n Ander groep Armeniërs was in die naburige Russiese Ryk.)

Die korrupte Abdoel Hamid het die Armeniërs gestraf oor die nasionale agitasie van ’n paar gemeenskappe in ’n afgeleë streek. Die sultan het die Koerde, hoofsaaklik Moslems, as hulptroepe gebruik teen die Armeniërs wat Christene was en met wie hulle eeue lank in onmin geleef het. In 1894 het ’n groep Koerde sowat 2 000 Armeense mans, vroue en kinders in die Christelike katedraal van Urfa opgesluit en lewend verbrand. Armeense terroriste het in 1896 die Ottomaanse Bank in Konstantinopel oorval en as vergeldingsmaatreël het Abdoel Hamid beveel dat alle Armeniërs in Konstantinopel, Smirna en ander groot stede uitgewis word. Die bevel was geheim, maar die uitvoering daarvan grondig, skryf Edmund Taylor. Groepe Moslems, gewoonlik georganiseer en aangevoer deur polisiemanne, het deur die strate geloop en as hulle ’n Armeniër sien, of iemand wat in sy uiterlike of kleredrag soos ’n Armeniër lyk, is hy net daar doodgeslaan. Hierdie moorde het vier dae geduur totdat die Sultan dit met ’n tweede geheime bevel beëindig het. Dis onseker hoeveel Armeniërs tussen 1891 en 1900 uitgewis is, maar sommige mense skat dit op meer as 300 000. “Als men in aanmerking neemt, dat de handlangers van de Sultan noch over gaskamers, noch over nucleaire wapens beschikten, bedreven ze zonder twijfel een van de grondigste pogingen tussen de dagen van Genghis Khan en Hitler, tot genocide.”[7]

Teen die jaar 1914 was daar nog 1,8 miljoen Armeniërs in die Turkse Ryk. In die Tweede Wêreldoorlog het die Turkse en Russiese Ryke aan verskillende kante geveg, en baie van die Turkse Armeniërs het hulle met die Russe vereenselwig. Dit het veral gebeur nadat die hoof van die Armeense Ortodokse Kerk plegtig verklaar het dat die Tsaar die beskermheer van alle Armeniërs was. Die Armeniërs het daarna teen die Turkse owerheid gerebelleer en in April 1915 ’n Armeense regering in die lewe geroep. Die Turke het gevolglik die Armeniërs as ’n gevaar beskou en besluit om hulle na Sirië en Mesopotamië te deporteer. Sowat ’n derde van die Armeniërs is hervestig, ’n derde is dood in die deportasiekampe en ’n derde het deportasie vrygespring. Die dood van soveel sprekers van Armeens in Turkye het ’n groot slag beteken vir hul taal, Wes-Armeens.

Ook Suider-Afrika het ’n skrikbewind van dieselfde tipe geken. Dingiswayo en Shaka was die twee vernaamste leiers van die groot ryk wat aan die einde van die agttiende en die begin van die negentiende eeu in Suidoos-Suid-Afrika ontstaan het. Albei het ander stamme aangeval en mense by hul ryk ingelyf, maar dis veral Shaka wat talle stamme uitgewis het. Net kinders se lewens is gespaar. Uit die oorblyfsels van talle stamme het hy ’n ryk opgebou wat die naam gekry het van die Zoeloestammetjie waaraan hy behoort het. Shaka se optrede het mettertyd die bevolkingspatroon in Suider-Afrika heeltemal verander. Dit alles het ook ’n taalkundige nasleep gehad. N.J. van Warmelo skryf dat dit voor 1815 moontlik sou gewees het om die swartmense van Natal in drie taalgroepe te verdeel. Onder die bewind van Shaka het ’n standaardtaal gegroei wat taamlik eenvormig oor die hele gebied is.[8]

Omstreeks dieselfde tyd het nog ’n taal uitgewis geraak: Tasmanies, die taal van die oorspronklike bevolking van Tasmanië wat deur die Engelse koloniste uitgeroei is. In nog drie lande het die inheemse tale verdwyn of is hulle besig om uit te sterf as gevolg van onder meer die geweld teen die sprekers daarvan. Dié lande is Australië, Nieu-Seeland en die VSA.

Die antropoloog Robert Havighurst sê dat die vestiging van die koloniste in dié drie lande op basies dieselfde manier verloop het. Eers is baie versigtig kontak gemaak om handel te dryf. Van kolonisering was daar aanvanklik nie sprake nie. Daarna het die koloniste gaan woon op grond wat hulle van die inboorlinge afgeneem het. Teen dié grondroof het laasgenoemde hulle gewoonlik verset, maar altyd die neerlaag gely en so ver moontlik weggetrek.

Daarna het die Engelse gemeenskappe ’n assimilasiebeleid teenoor die kwynende bevolkings gevolg. ’n Minderheid van die inboorlinge het die beleid aanvaar, maar protesbewegings het ontstaan wat tot ’n beleid van kulturele pluralisme gelei het. [9]

Havighurst verkondig geen toevallig afwykende mening nie. Die historikus J. Presser skryf oor die Engelse en ander Amerikaanse koloniste se optrede dat dit selfs “met het woord onzer eeuw: ‘genocide’, minder onjuist wordt aangeduid dan ons lief zou zijn”.[10]

Dit het alles ook met groot skynheiligheid gepaard gegaan. Presser haal skrywers aan wat vertel hoe die eerste koloniste van Connecticut ná lang gebed en raadpleging van die Skrif die Indiane se grond afgeneem het: “1. De aarde is des Heren. 2. De Heer kan de aarde geven aan zijn heiligen. 3. Wij zijn zijn heiligen.”

Iemand het dit in die volgende wrange versie verwoord:

First they fell on their knees

And then on the Aborigines.[11]

By hierdie uiteensetting moet ’n mens twee aantekeninge maak. Die eerste is dat oorloë net een van die middele was waarmee die Amerikaners die Indiane uitgeroei het. Die ander middel was alkohol.

Die naam Manhattan vertel ’n hele storie. Dit beteken oorspronklik: “Die plek waar ons almal dronk geword het.” “Ons almal” was die Indiane wat drank gekry het by die eerste Engelsman wat in die sewentiende eeu daar aangekom het. Voor die koms van die koloniste het die Indiane geen drank geken nie, maar toe hulle dit eers geproe het, kon hulle nie genoeg daarvan kry nie.

Gewoonlik het die Amerikaners die Indiane dronk gemaak en hul velle, pelse en grond vir ’n appel en ’n ei gekoop. Dié soort handel het natuurlik die Indiane se haat aangewakker. Benjamin Franklin, wat geen liefhebber van die Indiane was nie, het erken dat byna al die oorloë teen hulle die gevolg van die onregverdigheid van die koloniste was. “Dis pynlik om te hoor dat ons grensbewoners nog groter barbare is as die Indiane en dat hulle die Indiane onbeskaamd in vredestyd vermoor.”[12]

’n Tweede aantekening: Soos reeds gesê is, het die vestiging van die blankes in die Amerikas groot sterftes onder die Indiane tot gevolg gehad deurdat hulle siektes opgedoen het waarteen hulle nie immuun was nie.

Daar was waarskynlik sowat 2 000 Indianetale: 300 in Noord-Amerika, tussen 250 en 300 in Midde-Amerika en sowat 1 400 in Suid-Amerika. Op die Wes-Indiese eilande het feitlik al die Indianetale uitgesterf en in Amerika noord van Mexiko sowat die helfte. In Midde- en Suid-Amerika het meer tale oorgebly en sommige van die oorblywendes het betreklik baie sprekers. Die tale van drie groot Indianeryke bestaan nog. Hulle is Nahuatl, die taal van die Asteke wat ’n driekwart miljoen sprekers het, die vernaamste Maya-tale (onder meer Quiché Cakchiquel en Quekchi) met byna ’n miljoen sprekers en Quechua, die taal van die Inka-ryk. Veral in Ecuador, Peru, Bolivië en Paraguay neem die aantal sprekers van die vernaamste Indianetale toe. Dié drie tale is Guarani met sowat 1,8 miljoen sprekers in Paraguay (waaroor meer gesê word in hoofstuk 3), Aymará, die taal van ’n miljoen Indiane in Bolivië en ’n halfmiljoen in Peru, en die reeds genoemde Quechua met 5,5 miljoen sprekers in Peru, 1,5 miljoen in Bolivië en meer as ’n miljoen in Ecuador. Laasgenoemde twee tale het baie eentalige sprekers.[13]

Party van die Indianetale, veral in Noord-Amerika, het weinig sprekers oor. In die VSA praat byna al die Indiane Engels. Van die herkenbare aparte Amerikaanse Indianetale en -dialekte het sowat 40 persent meer as 100 sprekers. Baie van die tale sal verdwyn omdat die laaste sprekers binne ’n kort tyd dood sal wees.

Al hierdie voorbeelde toon dat dit ’n misvatting is om te meen dat geweld van buite nie ’n volk, en daarmee saam sy taal, kan uitwis nie. Die verwoestende wapens van ons tyd maak volksmoord ’n nog groter moontlikheid as in die verlede.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх