Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 12
2.2.2 TAALVERPLASING BY VOLWASSENES
ОглавлениеTaalverplasing by ’n nuwe geslag kan makliker of moeiliker gemaak word deur die houding en gedrag van die ouers en ander ouer mense.
Dis dus belangrik om te weet onder watter omstandighede ouer lede van die taalgemeenskap self ’n taalverplasing (sy dit miskien ’n onvolledige verplasing) ondergaan en wat dit is wat hulle geneë maak dat hul kinders en ander se kinders die ander taal aanneem.
Uiteraard is die een voorwaarde vir taalverplasing by ouers die mate van kennis van die tweede taal. Dié kennis word medebepaal deur hoe dikwels ’n volwassene die tweede taal moet gebruik, en hóé: práát hy dit net, en miskien in baie beperkte soort situasies? Moet hy dit ook skryf en leer hy dit so intensief dat hy daarin leer dink en selfs droom? Die taalgebruiker kan baie met die betrokke taal in aanraking kom omdat hy dit vir sy werk nodig het of moet ken vir kerkdienste, inkope doen, of kuier by mense in dieselfde buurt.
Basies kom dit daarop neer dat ’n verbreking van die taalisolasie van die betrokke taalgebruiker tot taalverskuiwing kan lei.
Twee soorte taalisolasie maak taalverskuiwing moeilik: sosiale en geografiese afsondering.
Op die dorp Kupwar in Suid-Indië praat die bevolking van 3 000 mense vier tale – Urdu, Marathi, Kannada en Telugu. Daar bestaan historiese getuienis dat sprekers van Kannada en Marathi die laaste seshonderd jaar met mekaar in aanraking kom en sprekers van Urdu en die ander die laaste vier eeue. Tog is die situasie taamlik stabiel. Waarom? Die gemeenskap is verdeel in sosiale groepe, die gevolg van ’n onbuigsame kastestelsel. Die gesinne praat net hul eie taal met mekaar, hoewel ten minste al die mans meer as een taal ken en gewoonlik Marathi in gemengde groepe gebruik. Daar is wel ’n baie sterk onderlinge beïnvloeding tussen die tale, maar die sosiale stelsel het taalverplasing voorkom.[31]
Geografiese isolasie help om klein tale te laat voortbestaan. Die talle klein tale van Afrika, Asië en Oseanië kon tot dusver behoue en selfs lewenskragtig bly deur hul afsondering en in baie gevalle ook deur die toekenning van spesifieke funksies aan elk van die aangeleerde tale, indien die gebied meertalig was. (Voor die kolonisering van Afrika was daar baie mense wat meer as een taal moes leer. In Mali was die politieke elite se taal Maninka; Arabies is egter gebruik vir politieke en handelsbetrekkinge met ander lande van Noord-Afrika. Die res van die bevolking het hul eie tale gebruik en Maninka vir kommunikasie met lede van ander taalgroepe of die regeerders.)[32]
Twee soorte beweging kan isolasie deurbreek. Mense kan van een plek na ’n ander trek en/of van een posisie in die samelewing na ’n ander styg of daal. Vir laasgenoemde soort beweging bestaan die term sosiale mobiliteit, d.w.s. die verandering van sosiale posisie en inkomstepeile van mense en groepe deur onderwys, beroepswisseling en vordering.
Albei soorte beweging kan ’n groot invloed op die taalsituasie van ’n land hê. Migrasie kan die wegtrekkende en/of agterblywende lede van ’n taalgemeenskap getalsgewys verswak. Hoe kleiner ’n taalgemeenskap, hoe groter is die nadelige gevolge van die wegtrek van taalgenote en/of die intrek van andertaliges.
Die klein Gaeliessprekende gemeenskap van Skotland verloor sowel deur immigrasie as emigrasie. Jong Gaeliessprekendes trek weg na die Engelse suide om beter werk te kry – en verengels daar. In hul plek kom afgetrede staatsamptenare, leëroffisiere en ander uit Engelstalige gebiede in die Gaeliese gebied woon en versterk die Engelse oorwig bo die Gaeliessprekende. Dieselfde proses verswak die Walliessprekendes in Brittanje en die Bretons in Frankryk.
Op sy ergste is die gevolge van die verbreking van isolasie waar immigrasie veroorsaak dat die sprekers van die taal as ’t ware verstrooi word in ’n ander taalgemeenskap. (Ons kan om dié rede onderskei tussen “verstrooide” en “gekonsentreerde” taalminderhede.)
Immigrante wat trek na ’n gebied waar twee taalgroepe met mekaar wedywer, is geneig om hulle aan te sluit by die oënskynlik sterkste groep. Dis heel natuurlik. “Sterkste” impliseer gewoonlik ook “ekonomies magtigste” – en waarom sal immigrante juis ’n lojaliteit hê teenoor die armste groep? ’n Mens immigreer na ’n land om jou posisie te verbeter, nie te verswak nie. Baie immigrante wat hulle in Québec in Kanada gaan vestig, is ’n bedreiging vir die Frans-Kanadese omdat hulle liewer Engels as Frans aanleer. Engels is ekonomies voordeliger.
Sosiale mobiliteit of beweeglikheid kan op verskillende maniere ’n uitwerking op die taalsituasie hê. Voorlopig net twee hipotetiese voorbeelde – in latere hoofstukke sal konkrete voorbeelde dikwels ter sprake kom.
Gestel iemand uit ’n verarmde taalgroep A kry deur onderwys en inspanning ’n goeie betrekking by ’n werk of in ’n staatsdepartement waar die mense taal B praat. Vir sy werk is kennis van B noodsaaklik; sy kollegas is meestal B-sprekendes; miskien ontmoet hy onder hulle of hul kennisse ’n B-sprekende meisie met wie hy gaan trou; sy praat net B en hulle gaan woon in ’n gegoede B-sprekende buurt. Hul huistaal sal heel waarskynlik B wees en die kinders sal waarskynlik daarin grootword, veral as dit ook die skooltaal van die buurt is. So kan sosiale beweeglikheid veroorsaak dat die lid van een taalgemeenskap as ’t ware sosiaal “immigreer” en in ’n andertalige gemeenskap verswelg word.
Iets anders wat kan gebeur, is dat soveel mense uit taalgroep A naderhand sosiaal kan vorder en na die posisies van taalgroep B “immigreer” dat hulle die aanvanklik oorheersende (en deur oorheersing geïsoleerde) taalgroep B begin oorweldig sodat hulle naderhand taal A moet aanleer.
In ’n meertalige situasie sal die volgende kragte dus altyd ’n rol speel in die groei of agteruitgang van tale: getalsterkte, sosiale en geografiese beweeglikheid, woon- en werkplek en die gemengde huwelik (wat in hierdie boek altyd, tensy anders vermeld, die taalgemengde huwelik beteken en nie die ras- of godsdiensgemengde huwelik nie).
In die Sowjet-Unie bevoordeel die groot binnelandse migrasie veral Russies.[33] Baie gemengde huwelike word gesluit en waar die vrou ’n nie-Slawiessprekende is (d.w.s. nie Russies of Oekrains nie), word die vader se taal die taal van die gesin, hoewel die kinders darem iets van die moeder se taal sal leer. Waar die vrou Russies of Oekrains is, sal sy wel die eggenoot se taal leer, maar met die kinders haar eie taal praat. In die stedelike gemengde huwelike is daar min verskil tussen Russiese en Kaukasiese gemengde huwelike. In albei gevalle word Russies die huistaal. Die vader het die taal op skool geleer, en die moeder kan dalk ’n onderwyseres wees of albei kon dikwels met Russies in aanraking gekom het. In sulke gesinne is daar dikwels ’n soort tweetaligheid: die kleiner tale word vir sommige funksies gebruik en Russies vir ander, maar dis baiekeer nie te lank nie of Russies is die enigste taal.
Waar die verspreiding van lede van ’n taalgemeenskap dit vir hulle maklik maak om die ou taal te laat staan, kan ’n mens verwag dat die bestaan van kompakte of gekonsentreerde taalgemeenskappe die behoud van tale sal bevorder.
In die VSA is daar (of wás daar tot baie onlangs) klein godsdienstige gemeenskappies wat “in hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld nie” wou wees. Hulle het selfonderhoudende samelewings opgebou wat hulle heeltemal van die omgewing afgesonder het. Party was gekant teen motors, telefone en elektriese toerusting soos radio’s. Deur hulle doelbewus van die buitewêreld af te sonder, kon hulle hul taal behou. Die doel van die isolasie was nie die behoud van die tale nie, maar die godsdiens. Die waarde van die ou taal was dat dit die “verderflike invloed van die wêreld” makliker kon weghou.
Belangriker is die sogenaamde taaleilande (Sprachinseln), d.w.s. gebiede waar minstens 80 persent van die bevolking die hooftaal daagliks gebruik. Hoe groter die taaleiland, hoe groter is die vermoë om in die VSA assimilasie met Engels teen te staan. In die VSA is daar minstens vier redelik groot taaleilande: die Spaanssprekendes van Noord-Nieu-Mexiko en Suid-Carolina, die Franssprekendes van Suid-Louisiana, en die Duitssprekendes van Oos- en Midde-Pennsilvanië en die suide van Noord-Dakota en die noordweste van Suid-Dakota.[34] In Amerika het party taaleilande reeds half weggesink. Waar 9 miljoen Amerikaners in 1910 nog Duits gepraat het, was daar teen 1966 maar sowat 50 000 sprekers onder agttien.
Groter blootstelling aan ’n tweede taal as gevolg van taalkontak en veral verstrooiing van ’n taalgroep skep die moontlikheid vir taalverplasing. Of dit wel gaan plaasvind, hang van twee dinge af: winste en verliese in die funksies waarin die ou en nuwe taal gebruik word, en die houding van die taalgebruikers teenoor die ou en nuwe taal.