Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 15
2.3 STABIELE TWEETALIGHEID
ОглавлениеSoos reeds aangedui, sê Rhoodie en Swart dat twee kulture naas mekaar kan bestaan. Dis moeilik om ’n presiese taalekwivalent vir hierdie kulturele “pluralisme” te vind. Stabiele tweetaligheid bestaan hoofsaaklik vanweë geografiese en/of sosiale skeiding tussen sprekers van die twee tale.
Daar is egter een taamlik beroemde tweetalige situasie, naamlik dié in Paraguay (wat ek in hoofstuk 3 vollediger behandel). In dié land het Spaans en Guarani (’n inheemse Indianetaal) die afgelope drie eeue saam bestaan. Sowat 52 persent van die bevolking is tweetalig en 92 persent kan Guarani praat. Nie een van die twee tale word geassosieer met sterk prestige-gevoelens nie, en mense praat die twee tale afwisselend op alle vlakke van die samelewing.[48]
Om die posisie of “stand” van ’n taal te bepaal, sal ’n ondersoeker demografiese prosesse, kontakmoontlikhede as gevolg van die verspreiding van die bevolking, winste en verliese van hoë funksies en die houding teenoor die eie en die ander taal in aanmerking moet neem. Hy sal vrae moet beantwoord oor ’n moontlike styging of daling in die geboortesyfer, die immigrasie van andertaliges en die emigrasie van moedertaalsprekers. Verder oor die verspreiding van die sprekers onder lede van ’n ander taalgemeenskap: Is daar ’n eweredige verspreiding van die bevolking en is die taalgemeenskap in die minderheid of meerderheid? Is daar gekonsentreerde of verspreide minderhede? In hoe ’n mate dra werk, woonbuurte en die sosiale lewe by tot al hoe meer of minder kontak? Word gemengde huwelike algemener en watter taal is die wenner?
Ekonomiese funksies is van groot belang. Is die taal ’n werkgewertaal in (a) die private sektor, en (b) die staatsdiens en ander openbare instellings soos munisipaliteite? Die laaste deel van die vraag kan ’n mens herformuleer tot: Geniet die taal institusionele steun? Het dit amptelike status?
Wat ekonomiese funksies is van die kant van die werknemer is praktiese funksies van die kant van die publiek. Kan mense hul eie taal gebruik in winkels en ander sakeondernemings of as hulle met een van die openbare instellings in aanraking moet kom?
Vrae oor kulturele funksies sal die volgende insluit: Is dit ’n koeranttaal? Word dit oor die radio en televisie gebruik? In rolprente? Is daar ’n lewenskragtige letterkunde? Is die taal ’n skool- en universiteitstaal?
Hierdie vrae kan ’n mens regstreeks beantwoord deur opnames te maak van wát mense wáár praat. Vrae oor die houding van mense teenoor hul eie en die ander taal word op ’n meer onregstreekse wyse benader.
In Montreal in Québec, Kanada, het navorsers die houdings van taalgebruikers oor Frans en Engels ondersoek. Volledig tweetalige taalgebruikers het ’n teks in Engels en ’n weergawe van dieselfde teks in Frans voorgelees. Bandopnames is daarvan gemaak en die bandjies dan voorgespeel aan ’n aantal proefpersone. Nadat hulle geluister het, moes hulle sê wat hulle van die mense dink wat die tekste voorgelees het. Omdat dieselfde mense die teks in albei tale gelees het, kon die stem, die manier van praat en die intonasie nie die luisteraars beïnvloed nie. Die luisteraars het nie geweet dis dieselfde persone wat die Frans en Engels voorgelees het nie.
Die Engelstalige Kanadese het elke keer gesê dat die persone wat die Engels voorgelees het, intelligenter, vriendeliker en ambisieuser was as dié persone wat die Frans gelees het. Die tweede groep proefpersone was Franse Kanadese, en ook hulle het positiewer oor die Engelstalige as die Franstalige voorleser geoordeel. Net oor vriendelikheid en godsdienstigheid het hulle die lesers van hul eie groep hoër gewaardeer.
Die Franse taalgemeenskap hoort tot ’n laer sosiale laag en wanneer ’n taal gepraat word deur ’n groep met ’n lae sosiale posisie, word die taal en sy sprekers self ook negatief gewaardeer.
Ons het nou gesien watter prosesse werksaam is waar die posisie van ’n taal verander.[49] Die oorsake van die genoemde demografiese prosesse, taalassimilasie, taalverplasing en die groei van ’n taal tot tweede taal vir anderstaliges is die onderwerp van hoofstuk 2.