Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 9

2.1 TAALVERMENGING

Оглавление

In ’n taalkontaksituasie gebruik dieselfde mense verskillende tale – hulle is tweetalig (of meertalig) en praat die ander taal in sommige opsigte soos hul eie taal. So kan ’n Duitssprekende Engels “soos Duits” praat as hy sê: “He comes tomorrow home” omdat ’n mens dié woordvolgorde in Duits gebruik: “Er kommt Morgen nach Hause.”[13] So ’n taalgebruiker pas die norme van sy moedertaal op die ander taal toe, of anders gesê, die norme van sy moedertaalsisteem versteur die norme van sy tweede taal. Sulke taalversteurings kan alle aspekte van die taal raak: ’n mens kan woorde uit die moedertaal in die tweede taal gebruik, sekere klanke uitspreek soos klanke in jou moedertaal of die sintaktiese patrone van jou moedertaal in die tweede taal gebruik.[14]

Ook die omgekeerde van die versteuring van die tweede taal kan plaasvind: taalgebruikers kan die norme van die tweede taal in hul moedertaal toepas. In die omgang sê baie Afrikaanstaliges dat iemand sy tale “mix” as hy baie uit Engels oorneem. Noorse immigrante in die VSA gebruik dieselfde uitdrukking: han mixer (“hy mix/meng”).[15]

In ’n taalkontaksituasie is daar altyd versteurings in sowel die moedertaal as die tweede taal.

Taalversteurings kan in so ’n groot mate en by soveel sprekers voorkom dat die karakter van een of albei tale kan verander. Die tale smelt saam of konvergeer. So ’n taal, wat die produk van menging is, is Tsonga. Dit het ontstaan uit ’n vermenging van Zoeloe met die inheemse Tsonga- en Tembe-tale van Mosambiek.

E.B. van Wyk beskryf die geskiedenis as volg: “Gedurende die bewind van Shaka het ’n Zoeloe-generaal, Soshangana, na Mosambiek uitgewyk, waar hy die plaaslike Bantoes onderwerp en by sy gevolg geïnkorporeer het. Die oorspronklike Mosambiekse tale was waarskynlik verwant aan die Shona-tale van Rhodesië, maar as gevolg van die invloed van Zoeloe het ’n nuwe taalgroep ontstaan wat nóg Nguni nóg Shona is, hoewel dit ’n duidelike brug tussen dié twee taalgroepe vorm. Soshangana se mense is in Suid-Afrika ook bekend as die Sjangaans, ’n naam waarvan die herkoms duidelik is. ’n Deel van die stam het later as gevolg van interne struwelinge weggebreek en weswaarts uitgewyk, waar hulle hulle in Noord-Transvaal en die Oos-Transvaalse Laeveld gaan vestig het.”[16]

Uriel Weinreich noem vier kriteria wat ’n mens kan help bepaal of daar ’n nuwe taal uit die kontak tussen twee tale ontstaan het of nie. Die eerste kriterium is die mate van verskil. Die twee tale wat in aanraking met mekaar kom, moet taamlik baie van mekaar en ook van die nuwe taal verskil voor ons kan sê dis regtig ’n nuwe taal. Verder moet die nuwe taal taamlik stabiele vorme hê, die sprekers moet dit vir ’n hele paar funksies kan gebruik en hulle moet dit self ook as ’n taal beskou.[17]

’n Taal kan derhalwe op twee maniere “sterf”: mense kan ophou om dit te praat, of dit kan so verander vanweë versteurings deur ’n ander taal dat dit in een of ander stadium ophou om “dieselfde” taal te wees as voorheen.

Tuiste in eie taal

Подняться наверх