Читать книгу Tuiste in eie taal - J.C. Steyn - Страница 32
1 DIE VLAAMSE BEWEGING[1]
ОглавлениеOp 25 Augustus 1830 raak die publiek in die Brusselse Muntskouburg besonder opgewonde oor die revolusionêre taal in ’n aria van “La Muette de Portici”. Ná die opvoering gaan steek jong betogers die ampswoning van Cornelis Felix van Maanen, Minister van Justisie, aan die brand. Van Maanen was van 1815 af minister in die nuwe Vereenigde Koninkryk wat die kongres van Wenen in dié jaar in die lewe geroep het. Die Vereenigde Koninkryk was die noordelike en suidelike Nederlande (lg. heet van 1815 af België) wat sedert 1648 (toe die Tagtigjarige Oorlog teen Spanje geëindig het) geskei was van mekaar. In dié nuwe koninkryk was Van Maanen en die koning, Willem I, die vernaamste uitvoerders van ’n taalbeleid wat die bedoeling gehad het om Nederlands in Vlaandere tot sy reg te laat kom. Maar Van Maanen en die koning was om verskeie redes (onder meer die taalbeleid, maar ook oor geskille met die Rooms-Katolieke geestelikheid en drukpersvervolginge) ongewild.
Die relletjie van 25 Augustus 1830 het plaasgevind in ’n tyd toe die sosiale klimaat sleg was. Die brood- en vleispryse het pas gestyg. Bowendien het die 1830-revolusie kort tevore in Parys plaasgevind, en Brussel was nog altyd die eggo van die Franse hoofstad. Ná ’n tyd van wanorde, verwarring, besluiteloosheid van die regering en botsings erken Den Haag die bestaan van ’n onafhanklike Belgiese nasie. Artikel 23 van die grondwet bepaal dat die gebruik van die tale vry is, maar dit was ’n vryheid vir “de heren”, die owerheidspersone soos amptenare, regters, professore, rykes en magtiges – en hierdie here was feitlik almal verfrans. Die here was dit daaroor eens dat Frans nie net in Wallonië nie, maar ook in Vlaandere die amptelike staatstaal sal wees.
“De heren,” skryf Max Lamberty, “heersten niet alleen in het bestuur, in het gerecht, in het onderwijs, in de kazerne. Zij heersten ook in de bischoppelijke paleisen, in de kastelen, in de fabrieken, in die handelshuizen, in de banken. Zij heersten op den openbaren weg. Het uitzicht van de Vlaamse steden was bijna even Frans als dat van de Waalse steden. Alle openbare levensuitingen waren Frans, zowel wanneer zij van particulieren als wanneer zij van den Staat uitgingen. Om wille van de heren lieten de winkeliers Franse uithangsborden schilderen. Alwie beschaafd wil zijn, trachtte uit te pakken, zo goed als het ging, met Frans. Al wie bij de élite wilde gerekend worden en met de élite in aanraking wilde komen, wist dat hij hiertoe Frans nodig had en maakte gebruik van het Frans dat hij kende.”[2]
Wat het veroorsaak dat Nederlands so ’n agterstand gehad het in Vlaandere en dat Frans die vernaamste taal was? Daarvoor was daar verskeie redes.
Ten eerste was Frans al lank die taal van die hof en die amptenare – ten tyde van die regering deur die Franse dinastie in die vyftiende eeu, daarna onder die Spanjaarde en die Oostenrykers (wat in 1715 die suidelike Nederlande by Spanje oorgeneem het). In plaaslike organisasies is Nederlands wel gebruik, maar die amptenare het al meer die gevoel gekry dat dit belangrik is om Frans goed genoeg te ken om dit aan die koninklike hof of met die sentrale regering te gebruik. In 1794 het die suidelike Nederlande ’n integrerende deel van die nuwe Frankryk geword. In die twintig jaar ná 1794 is die hele openbare lewe in Vlaandere verfrans. Franse amptenare, onderwysers, regters, advokate het die land oorstroom en orals net Frans gepraat. Oor die hele land is Nederlands verbied.
Van 1815 tot 1830 het Willem I en Van Maanen die posisie probeer regstel, maar die tydjie was te kort en daar was te veel teenstand om iets tot stand te bring. En ná 1830 was dit, soos reeds gesê, eens so erg. Lamberty skryf dat ’n Waal minister van België kon word sonder om maar een woord Vlaams te ken, maar dat ’n Vlaming in sy eie land nie tolbeampte kon word sonder om Frans te ken nie.[3]
Dit was die Vlaminge wat tweetalig moes word – en kennis van Frans was nie eens ’n veilige waarborg teen die skande om Frans met ’n Vlaamse aksent te praat nie. Met die Vlaamse aksent kry jy wel toegang tot die hoëre wêreld, maar terselfdertyd daarmee die minagtende glimlagge van die here. Die Vlaminge wat geen Frans geken het nie, was, soos iemand geskryf het, ’n balling in eie land, verneder tot barbaar.
In 1831 was daar van 380 amptenare in die sentrale bestuur slegs 22 uit Vlaandere; uit 2 700 offisiere van die Belgiese leër was minder as 150 Belge en van die generale staf was daar vier Belge teenoor 24 Franse. En dit terwyl meer as 2,4 miljoen van die Belgiese bevolking Vlaminge was teenoor sowat 1,8 miljoen Wale.[4]
Kon die Vlaminge dan nie die saak wetlik regstel nie? Nee, selfs as hulle wou, kon hulle nie. Dit was nog nie die tyd van algemene kiesreg nie. Die parlement is verkies deur sowat 46 000 kiesers en in die parlement was die invloed van die hoëlui uit die Waalse provinsies besonder groot. Die grootste deel van die bevolking was Vlaminge, maar die politieke swaartepunt het by die Wale gelê.
Dit was dus die tweede rede vir die agterstand van Vlaams: daar was nog nie ’n demokratiese stelsel nie, en die Vlaminge het nie die mag gehad om sake reg te stel nie.
Maar onmiddellik moet hierby iets anders gesê word. Die Vlaminge het destyds, teen 1830, ook nie die wil gehad om die onreg teenoor hul taal reg te stel nie. Hulle het min belang gestel in die politiek en weinig daarvan verstaan. Die mense was gewoond daaraan om alles aan “de heren” oor te laat en dié was vyandiggesind teenoor die taalhervorminge van Willem I.
Die here het die taal van die veroweraar gretig aanvaar as die taal van die openbare lewe en die geestelike verkeer. ’n Skeiding het ontstaan tussen die leidende stande en die volk, en die volk is oorgelaat aan onwetendheid en agterlikheid. Pieter Geyl skryf daaroor: “Wanneer een leidend stand zich door een zogenaamd hogere taal van het volk laat scheiden, dan duwt hij niet alleen het volk dieper in onkunde en onbeschaafdheid terug, maar veroordeelt zichzelf tot onvruchtbaarheid.”[5] Daar was nog geen nasionale bewustheid nie – nie in die agttiende en ook nie aan die begin van die negentiende eeu nie.
Die skeiding tussen die leidende stande en die volk en die gebrek aan ’n nasionale bewussyn by albei was ’n derde faktor wat tot die verslegtering van die posisie van Vlaams gelei het.
’n Mens kan jou afvra: Waarom was die leidende stand dan verfrans? Hoekom het dié groep mense so min omgegee vir die taal wat eenmaal hul moedertaal was?
Die rede daarvoor was (en dit is ’n vierde faktor wat tot die verswakte posisie van Nederlands in België bygedra het): Frans was die taal van ’n skitterende beskawing, terwyl Nederlands die taal was van ’n kultuur wat in dié tyd ’n periode van geestelike onvrugbaarheid deurgemaak het. Max Lamberty skryf dat die Franse kultuur ’n “intellektuele aantrekkingskrag” gehad het. Die heersende waardes van die agttiende eeu was universele waardes wat op volmaakte wyse deur die Franse intellektuele geformuleer is. Frans was ’n taal wat alle ontwikkelde mense destyds kon lees en nie-Franssprekendes het dit nie nodig geag om die denkbeelde in ander tale te verwerk nie. Oor die hele Europa het Frans in die agttiende eeu ’n hoë aansien geniet: Berlyn, Amsterdam, Moskou, Wenen, Brussel. Frederik die Grote van Pruise het onder leiding van Voltaire Franse verse geskryf en sy minagting uitgespreek oor Goethe se Götz von Berlichingen. J.B.C. Verlooy het in 1788 in ’n brosjure geskryf: “Wat hebben wy te stellen tegen de ontalbaere meniehte van groote namen in alle wetenschappen? Tegen Voltaire, Boileau, Montesquieu, Corneille, Nolet, Rolin, Molière, Raynal, Linguet, Beaumarchais en duyzent andere?”[6]
’n Vyfde rede waarom Vlaams agtergestel was, was dat die Vlaamse gemeenskap feitlik geen ekonomiese mag gehad het nie. Nes in Ierland was daar mislukkings van die aartappeloes, tifus en cholera. Mense is tot die bedelstaf gedwing. Die industrialisering van Wallonië het in die agttienveertigerjare reeds begin, maar die Vlaamse tekstielbedryf het van die laagste lone in die land betaal. Tienduisende Vlaminge het aan hul stoflike armoede probeer ontkom deur in die jare ná 1840 na Wallonië en Frankryk te trek. Hulle moes noodwendig Frans aanleer.
’n Sesde rede was dat die lede van die mededingende taalgroep, d.w.s. die Wale, teen die bevordering van Vlaams was. Dit het duidelik geblyk toe Willem I in die Hollandse tyd ’n dekreet uitgevaardig het (in 1819) dat Nederlands van 1 Januarie 1823 die enigste amptelike taal word in Vlaandere. Wallonië self is nie geraak nie, maar die Waalse amptenare en juriste het teen die beleid in opstand gekom. Hulle het teen dié tyd al die loopbane in die administrasie en regslewe van Vlaandere as húl reg beskou waar Frans hulle ’n voorsprong gegee het. Die vernaamste teenstand het gekom van Franse gesinne wat ontevrede was omdat hul seuns Nederlands moes ken om in ’n Nederlandssprekende gebied poste te kry!
Die Wale het dan ook alle pogings tot gelykberegtiging van Nederlands en Frans in Vlaandere in die Hollandse tyd bestempel as ’n poging om die taal van Holland in die kele van die Vlaminge af te druk. Dis vermaaklik, skryf Geyl, dat die teenstand teen die gelykstelling van Nederlands en Frans “onder het hoofd Vrijheid gebracht werd … Wat de tegenstanders hem (Willem I) hier verweten, was taaldwang. Maar welbeschouwd was de vrijheid die zij verlangden, vrijheid voor ambtenaren en rechters hun eigen taal aan het publiek op te dwingen”.[7]
Van Waalse kant het ook die volgende “verklarings” gekom vir die ekonomiese ellende in Vlaandere: dis die skuld van hul taal Vlaams, want dit sluit hulle af van die moontlikhede wat vir hulle oop sou staan as hulle ’n ander nie-uitsluitende taal, naamlik Frans, gebruik het.[8]
Daar is ten slotte nog ’n rede waarom Vlaams nie sterker was nie. Die taalpropaganda wat in die tyd van Willem I van alle kante teen Nederlands gemaak is, was nie net te wyte aan die gebrekkige nasionale bewussyn nie, maar ook aan die feit dat die Nederlandse taalgemeenskap ten tyde van Willem I en daarna verdeel was. Meer as twee eeue het die twee Nederlande geskeie van mekaar voortbestaan, en ekonomiese, politieke en godsdienstige faktore het veroorsaak dat hulle nie veel simpatie met mekaar gehad het nie. Die taal op sigself was nie ’n sterk genoeg faktor om hulle te verenig nie. Die Vlaminge het minder aangename herinneringe aan die Hollanders gehad. Die ekonomiese verval van Vlaandere ná die Tagtigjarige Oorlog was ten dele te wyte aan die optrede van die noordelike Nederlande. Nadat Spanje Antwerpen in 1585 herower het van die noordelike Nederlande, het laasgenoemde die Schelde gesluit. Die groot handelstad Antwerpen, wat die brandpunt van die ekonomiese lewe van die Nederlande was, het gevolglik ’n ekonomies dooie stad geword. Ná die oorlog het die Nederlanders die Schelde nog lank gesluit gehou. Wat die Vlaminge en die Hollanders verder geskei het, is die feit dat Vlaandere Rooms-Katoliek was, terwyl die noordelike Nederlande aanvanklik oorwegend Protestant was en in ieder geval ’n Protestantse karakter gehad het. Die Vlaminge het die Hollanders as Protestante gewantrou. Die priesters kon die Vlaamse volk wysmaak dat Hollands ’n ketterse taal is – gevaarlik vir hul sieleheil.
Al hierdie faktore, dan, het veroorsaak dat Vlaams in 1830 en vir ’n lang tyd daarna in ’n baie swak posisie in Vlaandere was.
Die Vlaamse Taalbeweging het reeds in die dertigerjare begin. Die Vlaminge sal beslis nie tevrede wees met alles wat bereik is nie, want selfs vandag is Nederlands plek-plek in ’n swakker posisie in België as Frans, en Brussel, wat noord van die taalgrens in Vlaandere geleë is, is aan die verfrans. Tog was die Vlaamse Beweging in hoë mate geslaag. Die hele stryd wat meer as ’n eeu geduur het en eintlik nog aan die gang is, kan ’n mens nie in ’n betreklik beperkte ruimte volledig beskrywe nie, maar daar is darem ’n paar insiggewende elemente in die taalstryd teenwoordig.
Ten eerste het die oorgrote meerderheid van die Vlaamse bevolking teen die jare dertig, veertig en daarna nog nie Frans aangeneem nie. Die verfransing was beperk tot die hoër stande en die mense wat na Wallonië en Frankryk verhuis het. Die Vlaminge het in die een deel van die land gewoon, en die meeste Franssprekendes in die ander deel, hoewel ook in die stede van Vlaandere. Die bevolking het sedert die Hollandse tyd ook oorwegend hul laerskoolonderrig in Nederlands ontvang. Willem I het talle skole opgerig en hulle het ná 1830 gebly. Selfs die Wale het nie daaraan gedink om die laerskole te verfrans nie en so kon die bevolking in sy eie taal leer lees en skryf.
In die tweede plek het daar ’n nuwe tydgees begin heers – die Romantiek. Dit was ook in die tyd dat ander taalbewegings ontstaan het, maar die Vlaamse het van die Tsjeggiese, Kroatiese en Hongaarse verskil. Laasgenoemde het selfstandige state vir hul taalgemeenskappe geëis, en die Vlaamse beweging was aanvanklik nie anti-Belgies nie. Die Wale het natuurlik altyd beweer dat die Vlaamse beweging die Belgiese staat in gevaar stel. Frans is tog die taal waarin alle Belge hulle verenig gevind het, en al die gepraat oor Vlaamse griewe en Vlaamse eise bedreig net die eenheid van die land, is gesê. Dis eers diep in die twintigste eeu dat die Vlaminge daarop die juiste antwoord gevind het: as die Vlaminge dan altyd moet buk uit eerbied vir die eenheid van België, of as die nasionale eenheid net in stand gehou kan word deur die verdrukking van die Vlaminge en die heerskappy van Frans, dan moet die Belgiese eenheid inderdaad maar verdwyn.
Ten derde het daar in die tyd van algemene Europese belangstelling in die volkstaal, die heldedade en die geskiedenis van die eie volkere, ook ’n ontwaking van Vlaamse intellektuele gekom. Ook in Vlaandere het sogenaamde “taalminnaars” begin skrywe oor die skoonheid van die taal, die grootse verlede van Vlaandere, sy stede, dorpe, landskap, die mense en die helde van vroeër. Die skrywer Hendrik Conscience sluit sy Leeuw van Vlaenderen af met die volgende sin: “Gy, Vlaming, die dit boek gelezen heb, overweeg by de roemryke daden, welke het bevat, wat Vlaenderen eertyds was, wat het nu is, en nog meer wat het worden zal, indien gy de heilige voorbeelden uwer vaderen vergeet!”
Prudens van Duyse het in ’n gedig die volgende woorde gebruik:
Is niet de zaak der taal, de zaak van gansch het volk?
Hij die de tael veracht zal licht den landaard schennen …
Zweer trouw aan vaderland en volk in elken nood,
Trouw aan der vaadren geest, als hun geschiedenis groot,
Trouw aan de toekomst van het Vlaamsche zieleleven,
En steun uw land nog na uw dood.[9]
Dit toon reeds dat die “taalminnaars” en “taalbroeders”, soos die Vlaams-gesindes hulleself genoem het, die taalstryd breër as bloot ’n stryd om die taal gesien het. Daar is baie nasionale trots en vaderlandsliefde in hierdie geskrifte te vinde. Tog het hulle nie goed raad geweet met die ekonomiese en kulturele agterstand van die massa nie. Bewus van die ekonomiese ellende van hul taalgenote was hulle wel, en hulle het soms oor die misdeeldes en nederiges geskrywe, maar op die verband tussen ekonomiese armoede, kulturele agterlikheid en die miskenning van die taal het hulle nie gewys nie. Dis eers teen die laaste kwart van die negentiende eeu en die begin van die twintigste eeu dat die taalbeweging kragtiger geword het. Twee elemente het bygekom.
In die eerste plek het dit ’n beweging geword om die mense wat Vlaams praat, sosiaal en ekonomies op te hef. “Taalbelang is stoffelijk belang”, was die slagspreuk van Lodewijk de Raet, ’n Vlaamse ekonoom.
De Raet skryf (aan die begin van die twintigste eeu) dat die ekonomie alle magsverhoudinge beheers. Die tegniek het aan sekere volkere rykdom en mag gebring – eers op ekonomiese en dan op staatkundige terrein. “Thans voelt elke natie heel duidelijk dat hare politieke macht door hare economische ontwikkeling bepaald wordt …”
Ekonomiese mag kom deur die tegniek, en hoe verwerf ’n mens die tegniek? Die ekonomiese welstand van ’n volk word die beste verseker as daardie volk intellektueel meer ontwikkeld is, goed geskoold en op die hoogte van die moderne nywerheidstegniek. Vir De Raet is dit die hoër onderwys wat die verbinding lê tussen taalbelang en stoflike belang. Die hoër onderwys in Vlaandere moet Vlaams wees – nie soseer uit liefde vir die taal nie, maar wel omdat Nederlands die natuurlike werktuig vir die Vlaamse volk is. Die Vlaamse volk kan Nederlands die beste gebruik as hy kennis wil verwerf om menswaardig te leef.
Die hoër onderwys sal die kloof oorbrug tussen die hoër stande wat Frans en die laer stande wat Nederlands praat, het De Raet geskryf. Die hoër stande het ook ’n sosiale rol teenoor die laeres. Dié rol sal hulle slegs kan vervul as hulle die taal praat wat die massa begryp.
Die hoër stande moet ook ’n tegniese skoling verskaf aan die werkers. Daarsonder is hulle daartoe gedoem om ’n klomp “koelies” te bly wat oral die weersinwekkendste en slegste betaalde werk moet verrig.
“’n Vlaamse universiteit – nooit!”, het ’n kardinaal-aartsbiskop in 1908 uitgeroep. Nederlands is nie geskik as voertaal vir universitêre onderwys nie, het hy gesê. Hierdie houding van die kerklike owerheid het groot verontwaardiging by die Vlaamse intellektuele veroorsaak en dié sou tot in ons tyd bly bestaan.
’n Groot deel van die bevolking het egter De Raet se opvattinge aanvaar. Vlaamsgesindes het met ’n veldtog begin wat alles oortref het wat hulle tot dié tyd onderneem het. In elke Vlaamse stad het hulle ’n kerngroep opgerig wat in die stad self en op omliggende dorpe vergaderings georganiseer het. Mense uit alle lae van die bevolking het gepraat: professore, studente, vergrysde taalstryders, sosialiste, liberale, katolieke. Duisende mense, sommige nog analfabete, het ingesien dat dit om die toekoms van hul kinders gaan en die veldtog gesteun.
België het destyds twee staatsuniversiteite gehad: dié van Luik in Wallonië en dié van Gent in Vlaandere. Albei het net Frans gebruik. Die Franssprekendes en gedenasionaliseerde Vlaminge wat Nederlands as sosiaal en intellektueel minderwaardig beskou het, het hulle egter met hand en tand verset teen die blote gedagte dat Nederlands die voertaal sou moes wees in Gent.
Maar hoewel niks voorlopig bereik is nie, het die agitasie getoon dat die Vlaamse beweging ’n volksbeweging geword het. Sommige sosialiste het hulle vroeër afsydig gehou en selfs soos Anseele, organiseerder van Gent, gesê: Vir die Vlaamse arbeider is ’n biefstuk belangriker as ’n Vlaamse universiteit. Maar ten tyde van die universiteitsveldtog het hy gesê: Ons sal nou ten volle ons plek in die beweging inneem.
’n Tweede element wat krag aan die Vlaamse beweging verleen het, is die feit dat dit ook ’n politieke dimensie bygekry het.
In die beginjare van die staat België kon die regering maklik die Vlaamse griewe ignoreer, want die kiesgeregtigdes was oorwegend Franssprekend en die Vlaamse massa het geen politieke regte gehad nie.
In 1856 het die Antwerpsch Kunstverbond ten tyde van die 25-jarige bestaan van die staat ’n manifes uitgegee met ’n toon wat die bewindhebbers in Brussel nogal laat skrik het:
Sinds vijfentwintig jaar, ziit gij, Vlamingen, miskend, verdrukt en vernederd.
Sinds vijfentwintig jaar wordt gij in een vreemde taal aangesproken, gehoord, gevonnist en gerecht.
Sinds vijfentwintig jaar hebt gij Frans geld, een Frans hof, een Franse wetgewing, een Frans bestuur, een Frans leger, een Frans gerecht, alles wat tot de uitroeiing van uw geslacht helpen kan …
Sinds vijfentwintig jaar zijt gij vreemdelingen op uw eigen grond …
Die regering het daarop ’n Vlaamse “Grievencommissie” aangestel. Dié het in 1859 Nederlands as voertaal in die hoërskoolonderwys, die regswese en die leër geëis. Vir die leër het die kommissie Vlaamse en Waalse regimente aanbeveel.
Maar die owerheid het geen aandag aan die eise geskenk nie en die reeds aangehaalde argument aangevoer dat taalagitasie die eenheid van België in gevaar stel. Verder het hulle gekom met die ou storie wat taalimperialiste graag gebruik: Vlaams is ’n taaltjie wat nie geskik is vir administratiewe of wetenskaplike sake nie; dis maar ’n klompie dialekte wat onderling onverstaanbaar is. Dis die soort argument wat die Spanjaarde teen Baskies en Katalaans gebruik het, die Duitse grondbesitters in Boheme teen Tsjeggies, en die Engelse grondbesitters in Ierland teen Iers.
Ná 1860 sou daar verandering kom. Vlaamsgesindes het in 1861 die Vlaemsch Verbond gestig. Dit was ’n organisasie wat Vlaamsgesinde kandidate in die bestaande politieke partye gesteun het. Verder kon die Vlaminge ook gebruik maak van ’n paar skandale wat die haglike posisie van die Vlaamssprekende burgers aangetoon het.
Veral een hofgeding in 1860 het beroering veroorsaak. Twee Vlaamse werkers, Coucke en Goethals, is ter dood veroordeel en onthoof op aanklag van roofmoord. Hulle het niks van die hofverrigtinge begryp nie, want hulle het nie Frans geken nie. Die tolk het nóg Frans nóg Nederlands behoorlik gepraat. Die advokaat kon nie regstreeks met die beskuldigdes praat nie. Die twee is as medepligtiges gevonnis, en toe die hoofskuldiges ’n jaar daarna gepak word, het sommige Vlaamsgesindes veronderstel dat die straf vir die twee ’n geregtelike dwaling was.
Die agitasie wat hierop gevolg het, het help lei tot die eerste taalwet van 1873. Dit het bepaal dat Nederlands in hofsake gebruik moes word as die beskuldigde geen Frans ken nie. Die tweede taalwet (in 1878) het bepaal dat Nederlands in die landsbestuur gebruik word en die derde (in 1883) het staatshoërskole verplig om ’n paar vakke in Nederlands pleks van Frans te doseer. Dié hervormings het nie vir die magtige Katolieke skole gegeld nie. Omdat die hele regering, leërleiding, nywerheid en leidende stande Franstalig was, het die wette min uitwerking gehad – hulle is “niet ten onrechte als miserabel lapwerk” bestempel, skryf Geyl.[10]
Maar, hoe miserabel ook al, met die politieke aksies is darem iets bereik. Die regering kon egter alle politieke aksies ignoreer as hy wou. Die meeste Vlaminge het nog nie kiesreg gehad nie en hulle kon dus nie die regering op ’n demokratiese manier dwing om sy beleid te verander nie.
In 1893 is die Vlaamse beweging as politieke beweging versterk toe België algemene kiesreg gekry het.
Aanvanklik het dit nie veel verskil gemaak nie, want die nuwe kiesers was lede van die bestaande politieke partye en dié was deur tradisie Frans. Bowendien het die Eerste Wêreldoorlog die Vlaamse Beweging geknou. Duitsland het byna die hele België van 1914 tot 1918 beset. Die Belgiese regering was in Le Havre in Frankryk en die Belgiese leër was aan die IJzer, in die uiterste suidweshoek van België.
Belangrike Vlaamse leiers het hul solidariteit met die Belgiese regering verklaar en gesê dat die taalstryd moes wag totdat die oorlog verby is. Ná die oorlog sou die Belge wel edelmoedig teenoor die Vlaminge optree. Teenoor hierdie passiwiteit het verskeie Vlaminge hulle egter verset. Die Belgiese leidende stand was Fransgesind, en terwyl Vlaamsgesindes nog oor Belgiese edelmoedigheid gepraat het, het die Waals-franskiljonse kringe hul haat en minagting vir Nederlands hartgrondiger uitgespreek as ooit tevore. Meermale is gesê: “Ná die oorlog sal daar geen Vlaams meer gepraat word nie.” Wanneer ’n Vlaming van taalhandhawing gepraat het, is hy dadelik beskou as ’n slegte Belg, ’n verraaier en ’n vriend van die Duitsers. Die Franse pers het ’n lasterkampanje teen die Vlaminge gevoer en die regering in Le Havre het dit nooit teengegaan nie.
Dit alles het gebeur terwyl die leër aan die IJzer vir tussen 80 en 90 persent uit Vlaminge bestaan het. Die Vlaamse soldate was in die loopgrawe, maar in die hoofkwartier het die offisiere gesit – almal Franssprekend. Selfs die kompanjie-offisiere wat gereeld met die manskappe in aanraking gekom het, was óf Wale óf Vlaminge wat ontrou was aan hul taal. Die manier waarop die offisiere Nederlands verwaarloos het, het toenemende verbittering veroorsaak en gerugte daarvan het tot verwante en vriende in die besette België deurgedring.
Dit alles – die lasterveldtog teen die Vlaminge, Franse vyandigheid en taalafskeping in die enigste stukkie België wat nog Belgies was – het daartoe gelei dat ’n aantal Vlaminge besluit het om van die Duitse besetters se mag te gebruik om hul politieke oogmerke te bereik. Hierdie “aktiviste”, wanhopig en verbitterd, het Duitse steun gekry en die Duitsers het in 1916 die Universiteit van Gent Nederlands gemaak. Die meeste sittende professore het medewerking geweier en ’n aantal Vlaminge en Hollanders is aangestel. Daar was in die eerste jaar net veertig, en in die daaropvolgende jaar ongeveer vierhonderd studente. Verder het die aktiviste in 1917 die Raad van Vlaanderen opgerig wat ’n afsonderlike Nederlandse administrasie aan Vlaandere moes besorg. Die Raad het gou verdeeld geraak omdat die oorgrote meerderheid van die raadslede die Duitsers gewantrou het en begryp het dat hulle die Vlaamsgesindes net tot eie voordeel wil gebruik.
Nietemin, al het die meerderheid van die Vlaminge nie meegewerk aan die maatreëls nie, het die Belgiese regering wraak geneem toe die oorlog eindig. Die Franse pers het sy haatveldtog voortgesit. Die Universiteit van Gent is weer verfrans. Talle aktiviste het na Duitsland en Holland gevlug, en ander is gevang en verhoor. Talle doodstrawwe en strawwe van lewenslange gevangeskap is opgelê. Niemand is tereggestel nie, maar talle aktiviste is vir jare die gevangenis ingestuur.
Tog het iets van die stemming van die aktiviste bly voortleef in die na-oorlogse België. In 1919 het ’n aantal oud-soldate die Vlaamsche Front (Frontpartij) gestig. Dat oud-soldate die party gestig het, was nie verbasend nie. Soos reeds gesê, was baie soldate aan die IJzerfront bitter oor die taalverwaarlosing. Bowendien was daar ook, soos in Duitsland en Rusland, heelwat sosialisties geïnspireerde verset teen die bevelvoerders. Die leërleiding het in 1917 studiekringe en die sogenaamde “Frontblaadjies”, onskuldige klein koerantjies met oorlogsnuus, verbied. As reaksie op die verbiedinge en alle agterstellings (soos eentalige Franse offisiële kennisgewings) het daar in 1917 ’n frontbeweging ontstaan. Dié het onder meer protesbriewe aan vooraanstaande Belge gestuur, ook aan die koning: “Wij zijn nog bereid ons bloed te storten, maar wij willen de uitdrukkelijke, geschreven, plechtige belofte dat ons volle gelijkheid, volle recht wordt gegeven onmiddellijk na de oorlog … wij zijn vrije Vlamingen die een vrij Vlaanderen willen in een vrij België.” Ander lede het Vlaamse eise op plakkate geskilder en in die geheim in die nag opgehang. Soldate wat gesneuwel het, het heldegrafstene gekry met ’n Keltiese kruis en die woorde: “Alles voor Vlaanderen – Vlaanderen voor Kristus.” Op ’n ruïne het iemand met bloed geskryf: “Hier is ons bloed. Wanneer ons recht?” Een van die vlugskrifte het die kern van die frontbeweging se program gegee: “De Vlaamsche strijders der voorlinie willen voor Vlaanderen hetzelfde recht als President Wilson aan elk volk erkent: ‘Vrije beschikking over zichzelf’. Dus: Vlaamsch bestuur. Vlaamsch leger. Vervlaamsching der Hoogeschool te Gent.”
Die leërleiding het sommiges na strafkampe gestuur en in die laaste gevegte het baie gesneuwel. Maar die gedagtes van die frontbeweging sou na die oorlog voortleef. Toe prof. Frans Daels, wat vier jaar lank in die veldhospitale diens gedoen het, kort ná die wapenstilstand op sy perd die feesvierende Gent binnery en deur sy gesin verwelkom word by ’n huis wat met die Belgiese vlag getooi is, was sy eerste woorde: “Doe die vlag weg! Ik zal het u later allemaal wel uitleggen, maar weg met dat ding! En de eerste die in ons huis nog Frans durft te spreken, gooi ik eruit!”
Die Vlaamsche Front het by die eerste verkiesing na die oorlog (in 1919) vier setels gekry. Almal was verbaas, en in Brussel was daar selfs ’n bietjie skrik. Die vier lede het natuurlik nie veel uitgerig gekry nie, maar hulle het die volksverbeelding aangegryp.
Daarby was die martelaarskap van die aktiviste van groot hulp, veral dié van dr. August Borms, wat lid van die Raad van Vlaanderen was. Hy is ter dood veroordeel, maar sy straf is versag tot lewenslange gevangenisstraf. Ná vyf jaar het die owerheid hom vryheid aangebied, mits hy beloof om hom nie met die politiek besig te hou nie. Hy het geweier en het van 1923 af dus vrywillig in die tronk gesit. Borms het die sentrum geword van ’n beweging van amnestie vir gevonniste aktiviste. In 1928 het in Antwerpen tussentydse verkiesings plaasgevind en die Vlaamse nasionaliste het dr. Borms, toe nog in die tronk, as kandidaat gestel. Borms is met ’n oorweldigende meerderheid gekies. Vir die Franssprekendes was die uitslag ’n donderslag. “Antwerpen lê nie in België nie, maar in Duitsland,” het een koerant geskryf.
Nog erger was die woede en skrik toe die Vlaamse nasionaliste in 1929 twaalf setels in die algemene verkiesing verower.
’n Nuwe fase het begin. Die leidende Belgiese politici het ingesien dat ingrypende hervorminge nodig is. In die jare dertig is ’n groot aantal taalwette aangeneem. In 1930 is die Universiteit van Gent uiteindelik vervlaams. In 1932 het die laer- en hoërskoolonderwys vir Vlaminge in Vlaandere eentalig Nederlands geword en in 1935 is ’n taalwet aangeneem wat bepaal het dat die howe die Vlaminge in hul eie taal moet verhoor en vonnis, anders kan die vonnis nietig verklaar word. Anders as vorige wette, soos dié van 1873, was die 1935-wet effektief.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het daar ’n meer militante toon in die Vlaamse beweging gekom en baie meen dat die Belgiese staat op federale grondslag verdeel moet word. Verder het die Vlaminge geëis dat die taalgrens nie telkens verskuif mag word nie, dat die tweetaligheid van die verfranste Brussel wetlik vasgelê word en dat Vlaandere absoluut eentalig moet wees sonder toegewings aan die Wale wat daar is. (Die absolute eentaligheid bestaan wel in Wallonië.) In November 1962 is die taalgrens wetlik vasgelê sodat dit nie meer ’n vae lyn is wat maklik na die noorde verskuif kan word ten gunste van Frans nie. In 1963 is besluit dat die streektaal die onderwystaal moes wees en dat Franssprekendes hul taalfasiliteite in laer- en hoërskole in Vlaandere verloor. In Brussel is moedertaalonderrig verpligtend gemaak.
Die sukses van die Vlaamse Beweging is ten slotte ook nog aan ’n ander faktor toe te skrywe – die groter intellektuele aantrekkingskrag van die Nederlandse kultuur.
Die tyd van die Vlaamse afsydigheid en gebrekkige taalgetrouheid in die agttiende en begin negentiende eeu was ook die tyd toe Frans ’n geweldige geestelike aantrekkingskrag gehad het. Max Lamberty skrywe oor die onvergelyklike Franse kultuur van die agttiende eeu, die Revolusie en Napoleon se militêre en organisatoriese genie wat “aan de gansche wêreld leert wat het is groot te zijn, groot te doen en als held te leven en te sterven.
“Wat kon het lot, het geestesleven zijn van onsche menzen, tegenover zulke geweldige uitbarsting van Fransche grootheid?
“Anders niet dan het besef van de overbodigheid en de onmogelijkheid van eigen prestatie.
“De Franschen voelen dat zij Europese leermeesters zijn: oorzaak van nog wildere scheppingskracht.
“De overige volken – vooral het onze – voelen dat zij leerlingen zijn: oorzaak van nog ergere werkeloosheid.”[11]
In die negentiende eeu het daar egter ’n Vlaamse intellektuele aantrekkingskrag ontstaan, al kon die werk van ’n paar Vlaamse skrywers nooit opweeg teen die skitterende Franse kultuur nie. Maar Vlaamsgesindes het van 1849 af op kongresse al meer in aanraking gekom met Noord-Nederlandse geleerdes wat niks vir die Franse sou onderdoen nie.
Die groei van die Vlaamse beweging van 1890 tot 1910 val ook saam met ’n Vlaamse literêre oplewing. In dié tyd skryf Guido Gezelle sy beste verse. Die oplewing, skryf Lamberty, “is een bron van nieuwe belangstelling, van nieuwe fierheid. Zij wijst merkwaardige figuren aan: Gezelle, Van de Woestijne, Van Langendonck, Cyriel Buysse, Streuvels, Vermeylen, Teirlinck, Maurits Sabbe, Toussaint van Boelaere en anderen nog die een glansrijke plaats veroveren in de geschiedenis der Vlaamse letteren. Zij blijft duren en verrijkt onophoudelijk den bestaanden schat, tijdens en na de oorlog, met vertellers als Timmermans en Claes en een heele schaar veelbelovende jongeren. De muziek en de beeldende kunsten blijven niet achterwege.
“Nieuwe waarden op het gebied van het Ware. Nieuwe waarden op het gebied van het Schoone.”[12]
Van die literêre oplewing is twee aspekte van belang: die gehalte natuurlik, maar ook die aard daarvan. Die werke was óf nasionaal óf ten minste nie-denasionaliserend. Dit blyk reeds uit die paar aanhalings uit Van Duyse en Conscience vroeër in die hoofstuk.
Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die sogenaamde Fronttoneel aan die oorlogsfront ontstaan. Die opvoerings, skryf W.F. Jonckheere “was sowel satiries van aard as volks-nasionalisties, met die bedoeling om ’n inspuiting in die Vlaamse bewussyn van die gewone mense te gee.”[13]