Читать книгу Jeremy vannie Elsies - Jeremy Vearey - Страница 4

Die grootloop begin

Оглавление

Dis die ding met groot lesse in die lewensloop, jy leer dit altyd op ongeleë tye, onverwags, met ’n ontnugtering wat jou kinderlike onskuld verpletter. Daardie bergwindbedompige middag in 1968 was een so ’n mylpaalgebeurtenis, toe die double-decker Tramways-bus met ’n geruk stop by Parow-terminus, ’n opgewonde, sesjarige kaalvoet klonkie en sy ma daarin.

Die gevoel van opwinding, die wonderwerk – asof die wêreld onder sy voete vir hom wag om dit te verken – toe hy heel voor op die boonste vlak van die bus sit laat sy voete jeuk terwyl hy oor die trein stasie staar na die winkels en stalletjies wat oorkant in Stasieweg wemel van die mense. Dit voel asof hy as ’n klein koning verhef bo alles magies troon en die massa net vir hom wag: die kaalvoet heerser van die double-decker-bus.

Terwyl sy ma tevergeefs maan dat hy moet wag, spring hy op, storm verby al die sloerende passasiers die bus se staaltrappe af en ster-spring agter uit. Tara! Die kaalvoet koning het geland! Hy hoor nie die geskreeu van die grootmense soos hy na die stasie se duikweg toe hardloop nie. Hy hardloop deur die stank van ou visolie uit die Portuguese Station Fisheries na die duikweg toe terwyl almal waarskuwings skreeu.

Die klonkie vaar die duikweg met blinde onskuld in, skrik eers in die donker tonnel wakker en besef dat hy alleen is. Maar alles gebeur te vinnig. Hy voel ’n skop in sy maag en sak hygend inmekaar. Êrens tussen die klanklose trane voel hy hoe ’n groot hand hom by die oor gryp en sleep-trek na die uitgang.

Hy hoor vaagweg tussen die pyn die gedaante skree: “Hotnot, jy hoort nie hier nie! Fokof na jou kant toe!”

Maar deur sy trane gewaar hy die silhoeëtte van Ma en ’n paar vroue wat wydsbeen, vuiste op hul heupe, in die helder lig van die ingang paradeer.

“As jy hom nie nou los nie, steek ons jou vrek, jou fokken Boer!” skree een van hulle.

Die groot wit hand los my oor en die man vaar benoud terug die donker duikweg in. Ek draai braaf om om te sien waarnatoe die “fokken Boer” verdwyn. Maar die skril geluid van brieke wat bokant die duikweg ’n trein tot stilstand dwing, verdoof die wit gedaante se noodkrete.

Ek marsjeer terug na Ma waar sy en die ander vroue moedig om my laer trek terwyl die Portugese van die viswinkel dreigend nader beweeg om die Boer te help.

“Het djy gesien hoe haloep daai fokken Boer!?” skree een vrou tartend.

“Soek kak met ôs vandag en djulle is amal witbene!” daag ’n ander een.

Die Portugese draai om en kruip verslae terug na Station Fisheries.

Toe gebeur daar iets wat Ma se gees van verset teen ongeregtigheid diep by my ingeboesem het. Sy en haar krygsvroue trek weer om my saam en trotseer die Whites Only-duikweg sonder dat enige Boere ons keer.

En só begin die storie van dié sesjarige se eerste skoene. ’n Storie van almal se antie Annette. Antie Annette, die fabriekseamstress en shop steward. Antie Annette, die vrou waarna die vroue van Balveniestraat se omtes in Elsiesrivier gekom het vir raad oor alles van kinders grootmaak en wandelende mans tot uniesake en die politiek. Almal se antie Annette en ek, haar klong.

Ek oordryf ’n bietjie as ek sê dat my eerste paar skoene werklik skoolskoene was in die ware sin van die woord, want hulle was spesiaal. Ver te groot, soos my ander klere wat ek moes ingroei totdat daar weer geld sou wees. Spesiaal omdat Ma altyd gesê het dat hierdie skoene gemaak is met die bloed en sweet van ander ma’s wie vir baie min geld in fabrieke slaaf en waar hulle rondgeorder word deur Boerelaaities. So, hierdie skoene word nie sommer net enige tyd gedra nie, veral nie elke dag skool toe nie. Dis uitgaanskoene dié. Uitgaanskoene vir grootmensdinge soos Ma se unievergaderings in Soutrivier, en as ons mense wie Ma lank laas gesien het baie ver gaan besoek. So, dit was eintlik Ma se skoene. Ek het dit net vir haar gedra.

Ek het dit vir haar gedra een bloedwarm dag voor breaking-up in Desember 1969 in die SweetorLibra-klerefabriek in Elsiesrivier, waar ek langs haar sukkel om stil te staan. In die stank van ou masjienolie wat swaar in die warm lug hang, sit swetende vroue in blou oorjasse gebukkend voor honger naaimasjiene en overlockers wat lap vreet. Die een skree-gesels harder as die ander oor gister se dinge, asof hulle stry teen die verdowende dreunsang van dié meganiese monsters.

Maar ek kan nie stilstaan nie want ek voel my voete in my skoene kriewel en dit sê ek moet loop.

“Loop, maar moenie aan iets raak nie,” maan Ma.

Ek spring weg en rits verwonderd tussen die rye lapvreters tot by die uitgang, in ’n lang wit man in ’n kakieoorjas vas.

“Stop running! What are you doing here!? Where is your mother!?” skree die man.

Ek begin huil.

“Hy is antie Annette se klong, my baas,” antwoord ’n vrou ’n in blou oorjas en gryp my hand.

“Take him to his mother,” skel die kakieoorjas.

Die blou oorjas drafstap angstig tussen die masjiene met my aan haar hand na Ma toe. “Die Limey-vark het vir Jeremy geklap, antie Annette. Toe staan ek bankvas voo hom, gryp vir Jeremy en vertel die vark nerra kak!”

Nog voordat ek kan verduidelik dat dit nie is hoe dit regtig gebeur het nie, spring Ma op en skree: “Stop die lorrie!” Die masjiene en hulle slawe word stil. “En ophou huil, Jeremy. Djy’s nie meer ’n baby nie,” vermaan sy.

Ek sluk diep en vee die trane af. Sy is allemagtig, hierdie ma van my. As sy sê stop, dan stop die hele wêreld. Amper soos my ouma se God Jehova.

Die Limey marsjeer na my ma toe en kom staan voor haar soos ’n wafferse baas. “And what is the meaning of this, Annette?” vra hy parmantig.

“Missus Vearey to you,” kap Ma terug. “Shop steward here for the Garment Workers Union. We have an agreement with management to bring our children with in the last week of breaking-up. If they are a nuisance we will deal with them and not you. Understand?”

Die Limey vou en prewel heel bedaard: “Okay, missus Vearey. Let’s not make this a union issue. I merely scolded him but did not touch him.”

Ma se wenkbroue lig en sy staar vraend. Ek knik my kop. “Okay, in future just bring him to me if there is a problem,” sê Ma.

Die Limey draai om en die masjiene begin weer dreun, maar nou klink dit asof die skree-gesels van Ma se vroue in blou oorjasse die geraasgeveg gewen het.

In die loop op grys paaie deur Louw se Bos, deur geroeste sinkhuise, oor ’n vuil sandvlakte na die djaart in Balveniestraat pla ek knaend vir Ma. Wat is ’n Limey? Is hy dieselfde as ’n Boer? Is ’n shop steward dan nie iemand wat in ’n winkel werk nie? Is Boet en Saartjie van my skool se Afrikaans-leesboek Boere en Janet and John van die Engelse een Limeys?

Nou, die ding van Ma is dat sy geglo het sy sê jou liewers alles, al verstaan jy nie nou alles nie want die saad van daai kennis sal eers later deur wyser mense gewater word en uitgroei. Êrens in haar antwoorde kon ek optel dat daar so ’n ding is soos ’n werkersklas wat dubbel onderdruk word deur wit mense onder iets genoem apartheid en dat die unies, gelei deur shop stewards soos Ma, eendag in opstand sal kom en almal bevry. Daar was ook iets van die Limeys en die Boere wat oor goud en diamante baklei het, maar dat ek nie moet vergeet nie, hulle het dit alles saam met die land geroof. So, die Limeys en die Boere was amper soos die Panorama Kids en die Twaalf Apostels, bendes in Elsiesrivier wat oor turf baklei wat hulle in die eerste plek geroof het.

“En ja,” het Ma geknor, “Boet en Saartjie is Boere en Janet en John is Limeys want hulle sê mos ons mense is nie goed genoeg nie.”

“Ma, wat moet ek vir Ouma sê as sy vra hoe die dag was?”

“Sê dit was goed, nè? Jy weet hoe worry jou Ouma as jy iets oorkom.”

Ek kon nooit die ding tussen Ma en ouma Jakoba Galant verstaan nie, veral Ouma se minagting vir my pa, wie sy nooit gedink het goed genoeg vir haar dogter was nie. Maar ek kon deur my pa se gewingerde Vrydagaand-stryery met Ma optel dat dit iets te doen gehad het met my ma wie ’n voorkind was en Ouma wat toe nooit getrou het nie. En, om dinge te vererger, dat Ma ook by Pa ’n voorkind gehad het wie – volgens Ouma – weens Pa en Ma se buite-egtelike gruweldade kort ná geboorte afgesterf het.

“Jou ma is getroud met Jehova, die God van die leërskare! Haar familie is die Jehova se Getuies!” het Pa een aand in Ma se gesig voor Ouma in die huis geskree terwyl ek en my suster êrens weggekruip het tot die storm bedaar.

Maar dit was nie waar nie. Ouma het omgegee. Toe Ma haar werk by klerefabriek verloor, het Ouma elke jaar daarna skoene gelayby en my in Desember kalm deur die slegs-kleurlinge-duikweg by Parow-treinstasie na die skoenwinkel in Stasieweg gelei om my skoene te gaan haal. Dit sonder dat die Boere, die Portugese van Station Fisheries of enige Limeys my gepla het. Ouma se klong se spesiale skoene kon ek toe soms skool toe dra, maar dit was steeds heilige skoene. Ek het dit byna elke Sondag gedra met ’n bruin-en-swart-dambord-safaripak, ’n wit hemp met ’n swart strikdas en spierwit sokkies styf tot bokant die knie opgetrek. Dit was nou vir die weeklikse pelgrimstog van Balvenielaan na Halt Road tot in Sewentiendelaan waar die Koninkryksaal van Jehova se Getuies in ’n geel gebou van die International Order of True Templars (IOTT) gehuisves was.

“I Only Take a Tot,” soos my pa altyd gekgeskeer het.

Daar is min wat ek kan onthou van my en Ouma se jarelange pelgrimstogte na die Koninkryksaal, behalwe Ouma se bevel om op te staan voor die hele gemeente as ek wegsluimer onder die dreunsang van ouere manne wat klink of hulle kompeteer oor wie die stadigste op monotoon aansloer. Ek het wel later geleer om wakker te bly deur my skoene op en af te wieg en stip daarna te staar. Hiermee was Ouma darem tevrede. Maar ek was altyd op en wakker wanneer die gemeente die laaste gesang sing en ek het volbors saam met Ouma gesing terwyl ek trots my hande in die lug rondswaai.

Dit was veral een gesang wat in my kop vasgesteek het. Al wat ek daarvan kan onthou, is ’n reël uit die refrein: “And you will see it realised, if you, keep your eyes, on the prize!” Toe ek vir Ouma vra wat die “it” en die “prize” is het sy my, net soos my ma, een van daai lang verduidelikings gegee. Hierdie een was van ’n toekomstige paradysaarde ná die groot vernietiging, waarna alle Jehova se Getuies wie oorleef, en dié wie in die waarheid gesterf het, op sal staan om ’n nuwe koninkryk van God op aarde te bou. Behalwe die verkose honderd vier en veertig duisend wat dan in die hemel sou bly, sal Jehova weer vir Satan ná ’n duisend jaar vrylaat om sy volgelinge in die Paradys te toets, waarna dié wie dan sondig, met die ewige dood gestraf sal word. Toe ek dit hoor, het ek net daar besluit dat ek een van die honderd vier en veertig duisend wil wees. Ouma se storie het amper soos Ma se storie geklink. Ma is seker een van daardie honderd vier en veertig duisend shop stewards wat die onderdrukte Getuies in die fabriek gaan verlos van die bose Boere en Limeys en ’n koninkryk van werkers in Suid-Afrika gaan bou.

Met Ouma en my heilige skoene het ons gereeld Saterdagoggende die Jehova se Getuies se Watchtower- en Awake!-traktate aan die onreine kinders van die wêreld in Elsiesrivier en Tiervlei verkoop terwyl ons die Woord verkondig en hulle bekeer het tot die Waarheid. Met Ma se politieke skoene het ons werkers van ander klerefabrieke gaan bekeer vir die Garment Workers Union terwyl ons die Woord van die werkers se vrye toekoms verkondig. Maar omdat Ouma nou die skoene gekoop het ná Ma afgedank is, was die heilige en politieke skoene een en dieselfde ding.

So, dit was juis met hierdie heilige, politieke skoene wat ek eendag in Desember 1972 saam met Ouma in Seepunt by die Williamson-familie gaan char het. Van die stasie af tot in Seepunt het Ouma my alles geleer van hoe dinge in ’n stad werk, van hoe om af te kyk as jy verby ’n wit man loop tot watter ingange van winkels slegs vir blankes is. Ouma het my gewaarsku dat ek nie ’n oorlas van myself by master Williamson se huis moet maak nie en met hulle kinders mag speel, maar nie met hulle mag stry of baklei nie. Maar hoe verder ons Seepunt se Hoofweg invaar, hoe vinniger loop Ouma.

“Loop vinniger, ons gaan laat kom!” jaag sy my aan, tot ek omtrent moet drafstap.

Ouma se master Williamson se huis was moerse groot. Hulle voordjaart was seker tien keer groter as ons hele djaart in Elsies waar vyf families met altesame dertien kinders woon. Dit was, soos my pa sou sê, ’n geboude huis en nie ’n sink een nie. Met ons aankoms het niemand uitgekom na die hek toe om te groet nie en Ouma en ek het haastig verby die voordeur gestap na die kombuis aan die agterkant van die huis waar sy geklop het.

“Jakoba, you are late,” grom die lang wit man wat die deur vir ons oopmaak.

“Sorry, master Williamson, the train was late and the boy could not walk so fast,” pleit Ouma.

Die man staar nors na my en verdwyn sonder om te groet.

Ek sou weer daardie dag master Williamson se norsheid teëkom. Ek het nou aan Ouma se sy gebly terwyl sy die hele huis reinig. Met haar kaal hande vaar Ouma hierdie stal van ’n huis in en vermorsel die stank van sweetdeurdrenkte wasgoed, dae se ongewaste skottelgoed en vuil houtvloere met net haar Omo, Sunlight-seep en Cobra-vloerpolitoer. Ek verwonder my aan al die speelgoed wat in die kinders se kamers rondgestrooi lê. Daar was Corgi Toy-karretjies, allerhande soorte poppe en Lego-blokkies, maar geen kinders nie.

Ek gryp toe maar ’n rooi brandweertrok onder die lot en wroem-wroem op my knieë in die lang houtgang buite die kamer af. Ek skrik eers toe ek die groot paar swart skoene voor my sien en ’n stem êrens bokant my kop hoor grom.

“Jakoba, control your boy! And you! Put that back!”

Met dié storm Ouma uit die kamer op Williamson af en ek hardloop verby haar die kamer in, onseker of sy kwaad is vir my of vir haar werkgewer.

Ek is nie seker wat gebeur het nie, maar Ouma het hom stilgepraat. Toe ons verbystorm, het hy gedwee sy kop laat sak terwyl sy hom aangluur, die deur oopruk en met mening toeslaan. Al wat ek uit Ouma kon kry op pad stasie toe was dat sy al jare vir die Williamsons werk en sy het hierdie spesifieke Williamson herinner dat sy hom en sy kinders grootgemaak het. Sy kon sy ouma gewees het. Wie is sy “Jakoba”? Die bogkind wat op twaalf nog in die kooi gepis het! Ek het Ouma tot dan nog nooit só hoor praat nie, sy was dan altyd so sagmoedig.

Miskien was Pa op ’n manier reg as hy soms in frustrasie vir Ma gesê het: “Djy’s nes jou ma.”

“Djy’s nes jou pa.” Dié het ek as kind al baie in my uitgebreide familiekring gehoor.

“Altyd op pad êrens anders heen in sy kop. Hy kan nie lank genoeg stilsit om aandag aan sy skoolwerk te gee nie.” Dit het ’n standerdeenonderwyseres eendag aan my ma oor my gesê.

Dit blyk Ma het daardie dag aan die onderwyseres voorgestel dat sy my onmiddellik uit die klas moet sit om ’n paar keer om die skoolveld te gaan loop as ek te onrustig raak. Dit het gewerk want nie net kon ek in die loop beter nuwe kennis verwerk nie, dit het ook later ’n passie vir langafstandhardloop aangewakker, iets wat in my volwasse jare gedurende my politieke gevangenskap op Robbeneiland goed te staan gekom het as alternatiewe terapie.

Miskien het die gedurige lopery saam met Pa en sy vriende deur Elsies, Tiervlei en Uitsig vir hulle ook so iets beteken. In die laat sestigs, lank voor Elsiesrivier uitgerafel het – in gesiglose kranse van betonfletse en eenvormige munisipale gehuggies, geometries georden deur teerstrate wat ons sosiale loopweë ontwortel het – het die mense geloop in stofstrate tussen djaarts en sinkkrale, oor sandvlaktes met portjacksons en bloekombome; dit was die weë van ons gemeenskaplikheid. In dié sin was Pa se kuierstaptogte met my na alle hoeke van Elsiesrivier en Tiervlei die beste inwydingskool van my komvandaan.

En dit is juis hoe ek die skipbouers van Eureka-landgoed ontmoet het. Ek was omtrent agt jaar oud toe Pa en ek een bloedwarme Saterdagmiddag sy gunstelingspeelmaat vir domino’s by die werk moes gaan haal. Van ons djaart in Balvenielaan af loop ons noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp verby meneer Matunsi se huis. Hy sluit by ons aan en begin bekommerd gesels oor die nommer wat die munisipaliteit op sy sinkhuis geverf het. Dis glo iets te doen met ’n ding wat hulle die Groepsgebiedewet noem en wat glo vir meneer Matunsi en sy vrou na ’n vreemde plek genaamd Gugulethu toe gaan skuif.

Pa en meneer Matunsi ploeg toe verder deur Malawikamp se skaap- en bokkampe tot by Broer van As se plek aan die voet van die witsandheuwel waarop die grootste geroeste sinkkerk staan wat ek al ooit in my lewe gesien het, die St. Andrews. Dit baken die grens met Eureka-landgoed af. Broer van As val toe onmiddellik by die gesprek in en vaar uit oor hoe hierdie duiwelsleer van die Groepsgebiedewet hom van sy bloedbroer in Goodwood geskei het – dié broer het die potloodtoets geslaag, Broer van As nie. Soos ons toe verby St. Andrews-kerk loop, gaan Broer van As gal af. Hy vertel hoe hy eendag hierdie bloedbroer kort ná die uitsetting van die res van die Van As-broers gaan besoek het, en dié glo vir hom gevra het om by die agterdeur van hulle geboortehuis in te kom. Om nie eens te praat van die konfytblikbeker waarin hy koffie bedien is nie, met vermufte brood wat hy buite in die agterplaas moes eet. Die Groepsgebiedewet het alle tekens van sy bloedbroer vermoor, in sy plek is daar net ’n vervalste wit man.

Ons ploeter verder saam oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg. Pa sê dokter Arnold is ’n man van groot eer want hy het verby die Boere-ceiling geskiet met sy gelerentheit en nie soos die verraaiers onder ons oorsee gaan bly nie. Hy dien ons arm mense onvoorwaardelik. Soos ons af in Connaughtweg loop, staar ek verwonderd na die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het. Pa bring my onmiddellik aarde toe en sê dat daar niks special aan hierdie skiem is nie, dis ’n fancy dumping ground vir die government se weggooimense. Meneer Matunsi stem saam en sê dis presies ook wat dié se Gugulethu is waarnatoe hy moet trek.

Verder af Connaughtweg, rigting treinspoor, draai ons in by die hoë hout-en-draadhek van ’n tamaaie bruin sinkskuur. Dit rammel van masjiene en stemme en dit wemel van mense rondom halwe bote en seiljagte. Pa verdwyn in ’n stofwolk van saagsels en praat met die werfvoorman. Dié vaar dieper die stof in.

Ná ’n rukkie verskyn oom Dams, my Pa se maat, en stof hom af om haastig by ons aan te sluit. Op pad na die groot damskompetisie in Appelboord in Tiervlei – oor nog sandvelde, gepeper met sinkkrale en pasgeboude steenhuise – vra Pa vir oom Dams oor die nuwe groot seiljag wat hulle bou. Oom Dams sê dat dit een of ander ryk boer se seun se een-en-twintigste verjaarsdaggeskenk is.

“Ôs bou nie mee visbote vi ôs mense narrat die Boere ôs uit die visvangbiesagheit geforce het nie,” byt oom Dams. “Ons ambag nou net vi hulle vi fokol en peanuts.”

Toe ons uiteindelik in Appelboord by die damsdjaart aankom, sit die grootmanne aan die speeltafel en die besigheid van die dag begin in alle erns met kiste Lion Lagers en seskanne Virginia. Hier en daar hardloop vrouens rond met brood en gebraaide vleis tussen die skreeuery van die manne wat hulle domino’s op die tafel moker.

Daar is ook ’n klomp seuns. Voordat ons soos gewoonlik begin rugby speel, sit ons eers op ons hurke in ’n sirkel en hulle vra my uit oor die grootloop. Ek vertel hulle van meneer Matunsi en die Groepsgebiedewet-duiwel wat hom teister, Broer van As en sy vervalste wit bloedbroer, oom Dams en die ryk Boere wat ons mense uit die visvang bedryf wil boender, Pa se storie oor die skiem vir weggooimense, en die vername dokter Arnold wat die Boere-ceiling verbygeskiet het. So, as jy my vandag vra vanwaar my politieke komvandaan, dan lê dit nie in die teorie van my formele, radikale bewuswording in die tagtigerjare nie. Dit is die groot gidse van Elsiesrivier se loopstories wat my deur my komvandaan gelei het.

Bendegeweld, of gangfight soos ons dit genoem het, het ek een Saterdagmiddag ook op die grootloop ontdek. Ek en Pa was op pad na ouma Vearey se djaart in Tiervlei vir die naweek se kuier. Hierdie staptog neem ons gewoonlik oor ’n heuweltjie in Balveniestraat na Tiekie Stage in Connaughtweg, waar ons by Babbie Bataan se winkel vir ’n tweesentsakka stop. Daarna is dit net gryspad en sandveld tot by Wepener Primêr na ouma Vearey se djaart toe in Sewendelaan.

Dit was juis voor ons dié sandveld betree dat ons ’n groep mans teëkom wat ’n man omsingel wie hopeloos begin ween – bendelede en hul teiken.

“Up!” skree die leier luidrugtig en sy trawante lig gelyktydig hulle blink pangas omhoog en begin kap na hulle prooi, wie se geween desperate gille word.

Ná ’n paar sekondes van woeste gekappery aanvaar die prooi sy lot en die gille bedaar. In sy laaste woorde smeek hy: “O, Here! Ma, help my!” en word stil.

“Halt, ndodas, die bloed het salute. Die nommer is vol,” beveel die leier.

Sy trawante kom onmiddellik op aandag met hulle bloedbevlekte pangas soos gewere lynreg langs hulle regterbene gespan.

“March, ndodas,” beveel hy weer en sy trawante volg hom in lynformasie oor die sandveld tot in Neëndelaan waar hulle verdwyn.

Pa loop toe heel houtgerus met my verby die liggaam met gapende wonde wat nog bloed lek en voete wat al hoe stadiger stuiptrek tot dié finaal tot rus kom. Vir ’n oomblik stik ek in die stank van gal en stoelgang wat die lyk finaal uitwerp maar ek het niks om uit te braak nie. Buitendien begin die bebloede gedaante vir my meer na ’n varsgeslagte dier as mens lyk.

Pa hou my vir wyle noukeurig dop asof hy my reaksie toets.

“Kom, Jeremy, jy het niks hier verloor nie,” maan hy minagtend en vaar sonder skroom voort asof niks ernstigs gebeur het nie.

Ek ploeter op ’n drafstap agterna terwyl ek sukkel om die sand en bloed waarin ek getrap het van my tone af te skud.

Dis maar hoe ek Pa later sou leer verstaan: ’n harde man wat nie tyd vir fyngevoeligheid en sentiment het nie en deur sy kennisse geag word as iemand wat nie kak van kabouters vat nie. Gekerf uit graniet deur die ongenaakbare lewe, hierdie Pa van my, ’n yswoestyn vir wie trane onmanlike swakheid ontbloot, iets wat hy nie van sy seun duld nie.

Ouma Vearey se djaart in Tiervlei was heel anders uitgelê as ouma Galant se djaart in Elsiesrivier. Pa het my eendag vertel dat die verskil te doen het met hoe die Galant- en Vearey-families hulle djaart en huise probeer herbou het nadat hulle onderskeidelik deur die Boere uit Goodwood en Constantia gegooi is. Soos ek hom destyds verstaan het, trek ons mense nie eintlik uit eie wil nie, ons swerf altyd tot ons weer uitgegooi word. Huise word gebou soos treine wat altyd op pad êrens heen is en die djaart is maar net nog ’n stasie tussen die volgende een.

Ouma Vearey se djaart was ’n U-vormige sinkkraal van swart geverfde koppelhuisies om ’n sandbinneplaas, begrens deur soortgelyke buursinkkrale wat hekloos uitloop na die gryspad se stof van Sewendelaan. Een klein kwartstuk van die sinktrein was ontkoppel as ’n familiebalietoilet.

Oupa Vearey, of Dêrra soos ons hom genoem het, was ’n veteraan van die Tweede Wêreldoorlog wie as soldaat in Tobruk deur die Germans gevang is en in 1945 verlos is uit ’n tronk vir krygsgevangenes in Italië. Dêrra was ’n oupa van min woorde en streng gevegsreëls. As daar onder die trop newe ’n bakleiery was, het hy altyd eers met sy kweperlat ons gewaarsku dat vloekery verbied word omdat dit wys dat jy jou emosies na ’n geveg toe bring. Sy tweede reël was ’n les in sy siening van regverdige manwees en sy beginsel dat enige geveg se einde finaal begrawe word met versoening.

“Die eerste een wie kaalvuis bloed trek, wen. Vat dan jou broer se hand en tel hom op. Sê hom dat alles nou oor is en dat jy jammer is dat dinge tot hierdie punt gekom het en dat dit nooit weer sal gebeur nie,” het Dêrra altyd verduidelik.

Die uitdra en begrawe van die djaart se oorvol kakbalie, veral op die laaste dag van ’n lang naweek, was gereeld die bron van vuisgevegte tussen die trop newe op die djaart. Alhoewel baliewerk ’n driemanskaptaak was, het dit altyd neergekom op die jongste newe – Ricky, Danny Boy en ek. Een bloedwarme middag op Paasmaandag in die vroeë sewentigs sukkel ek op my hurke in konsentrasie om die swart oorvol balie van onder die houttoilet se sitvlakplatform uit te skuif, toe Ricky skielik agter my begin skree dat daar ’n slang agter die balie seil. Met die skrik ruk ek die balie te vinnig los en die kak spat letterlik om en oor my.

Ricky breek los met ’n skaterlag en skree: “Dêrra! Jeremy het die balie laat omval!”

Ek gryp hom by die bors en begin hom net daar in die vuil toilet moer. Maar Dêrra storm nader met sy kweperlat en begin slaan om my van hom af te kry. Soos die ongeskrewe reëls verlang, volg ek en Ricky gedwee vir Dêrra na die djaart se binneplaas waar die geveg moet begin. Hier word daar nie gepraat nie en Dêrra trek ’n sirkel in die sand om die bokskryt te begrens terwyl ons oorkant mekaar stelling inneem. Dêrra lig die kweperlat en slaan dit neer in die stof.

Soos Dêrra se reëls verlang, pak ek en Ricky mekaar sonder ’n woord of ’n huilery. Daar kom ook nie van die toeskouers wat stil rondstaan ’n gejuig of aansporing nie want niemand waag dit om aan die erns van Dêrra se lesse afbreuk te doen nie. Ná ’n kortstondige gestoei van kinetiese vuishoue, kopskiete en skoppe breek Dêrra die stilte en skree: “Bloed!”

Ons stop onmiddellik en Dêrra begin sy inspeksie. “Julle al twee bloei. Wie eerste gebloei het, maak nie saak nie, julle het al twee gewen. Skud hande en gaan maak die toilet skoon,” beveel hy en loop na die ouer newe buite die sirkel. “Help hulle,” berispe hy, “julle het mos ledig rondgestaan terwyl julle gesien het hoe Jeremy sukkel en julle het saamgelag toe die balie omval.”

Dit het al ons newe tot net voor sononder gevat om die toilet skoon te maak en alles te begrawe onder die wakende oë van Dêrra, wie seker gemaak het dat elkeen sy bydrae gelykmatig lewer. En só het ek vir Dêrra verstaan, as ’n harde maar regverdige man wie altyd seker gemaak het dat niemand ooit verantwoordelikheid ontduik nie. Dit, en dat enige konflik altyd moet eindig met ’n gebaar van versoening, wat inderdaad samewerking vereis, om ons menswaardigheid te herwin.

En so was dit ook op die grootloop deur Elsiesrivier en Tiervlei, jy moes altyd oordeelkundig luister en noukeurig die wêreld lees, anders leer jy dalk die verkeerde lesse.

Pa het my leer vuisslaan, messteek en bylkap. Dit het my, soos baie van sy ander lewenslesse, altyd onkant gevang: die vuisslaan van ons soms onverwagse bokslesse, as hy skielik ’n speelhou na my kant toe slaan en ek moet keer, of covertake en dit opvolg met ’n killer punch. Keer en slaan onmiddellik daarna, het hy altyd gewaarsku, want om net te keer is nie ’n man se werk nie. Die messteek het gekom toe hy my geleer het om sy varke en bokke op die djaart te slag. Dié was altyd ’n groot eer onder die seuns op die werf. Die bylkap was vir hoenders se koppe afkap en ’n bron van groot pret vir ons seuns, veral as hulle afkop rondhardloop en ons hulle probeer vang voordat hulle val. Varkslag was grootmenswerk en hoenderslag ons werk. Bloedwerk is manswerk in Pa se boek, en ware mans braak nie vir die koperige reuk van vars bloed, die swaelsuurstank van derms of die laaste poep van ’n slagdier nie. Ware mans slag varke sonder skoene. En ek wou eendag ’n varkslagter word, want hoenderslag is vir laaities.

“Niemand fok met Dennis Vearey nie. Skollie se kind wiet hy ken van messtiek. Al kom djy moet nuatagedagtes sal hy djou soe bang slaan met ’n kaart dat djou vlag same time sak,” het uncle Ivan eendag ná ’n groot varkslagtery om die drinkvuur op die djaart vertel, terwyl hy ’n glas Lieberstein uit die seskan oor sy skouer vir Pa skink.

Dis nou boeta Ivan, die skinker met die daggapil in sy mond wat hy altyd vir sy asma en hoëbloed gerook het want dis vir hom die enigste medisyne daarvoor. Hy was Pa se oudste broer, en soos die legende dit het, het hy klomp kinders by ander vrouens gehad en geen by sy vrou auntie Dora nie. Die kinders het gewoonlik voor Paasnaweek, in skoolvakansies, en in Desember op die djaart met ’n sakkie klere geland en sommer daar en dan deel van die groot trop newe en niggies van die Vearey-stam geword. Boeta Ivan, soos Pa sou sê, skiet nie blanks nie, hy maai alles wat hy saai.

Boeta Ivan was ook ’n baasstoriesnyer. Eendag om die drinkvuur vertel hy ’n stuk oor Pa waaroor daar altyd net in sy afwesigheid gefluister word. Boeta Ivan sny die storie só:

“Dit was die dag voor Good Friday toe Dennie stalle toe loep ommie pêre te span virrie wa virrie Easter se broke. Ek is nog portside biesag ommie snoeke oppie waentjie te line, toe kô Dennie met ’n tynskêr se blade vol gazi uitgehaloep en skree: ‘Daai varke het vi Mamba gestiek! Saal op! Moetie slange hangie, voorie einde vannie dag is dit over kedovers mettie varke!’

“Toe begrawe ôs vi Mamba daa onne ’n portjacksonboempie innie djaart voorie son tieng, cause why djulle wiet mos lat ’n perd wat te lank lê, stink erge as ’n vark. Daa was trane, maa manstrane, mansgehuilery en nie girlietjankery nie.

“Toe gaan haal Dennie vi uncle Martie, Earnie, en boeta Sunny en ôs vier broes enne skoonbroe march na Sesstraat toe. Al wat ek djulle nou kan sê, cause djulle is nog te jonk virrie violens vannie liewe, is rat daai moegoes innie Sesstraat het visak met hulle vlag en pleabaadjie gedrape. Hulle ringkop gie to vi Dennie ’n splinte nuwe waperd.

“Maarie storie is noggie oorie. Dennie het halfte vannie ringkop se broke routes innie lane afgevat en ’n braai op ôs djaart georganise mettie ringkop en sy manskappe. Toe pis hy op hulle vlag. Djulle moes hulle gevriete gesienit toe hulle klaarie vleis gevrietit en hy sê vi hulle dankie, cause die perd smaak befok. Die goed het getjank soes maer varke en mamok soes moegoes wattie kan suip nie. Daa was niks comebacks sie, cause hulle het gewiet lat as hulle wee kak try, maak ôs hulle zalties!”

Boeta Frank was Pa se beste vriend. Hulle het dikwels saam vis en groente op straat van hulle bakkies af gesmous. Hy was altyd baie spiekeries geklee met ’n potloodstreep- swart hanggat broek wat rus op ’n paar Crockett & Jones, afgerond met ’n spierwit langmouhemp onder ’n pencilstripe-batwingonderbaadjie gemaak deur ’n tailor van Louw se Bos met ’n Worcester-lappie. Wanneer boeta Frank in Crown Road in Louw se Bos optrek met sy swart Ford Fairlane om domino’s te speel het hy altyd met style uitgeklim. Eers poseer hy soos James Dean met ’n Gold Dollar-sigaret aan die linkerkant van sy mond om sy klere reg te trek, dan haal hy die goue ketting van sy sakhorlosie uit sy onderbaadjie om die tyd te kyk. Daarna stap hy kalm voort met ’n gevaarlike rôl: Hy tel sy hand hier van onder sy regterknie af op en op swaai dit tot oor sy hart terwyl hy kop omhoog vorentoe vaar deur almal wat vinnig met respek opsy staan.

“Gentilmin walk, dey nevva run,” het hy soms deur sy tande gesny terwyl sy donkerbruin oë jou deurboor. “’n Genuine ou kyk sy enemy straight innie oë as hy move en praat, cause die enemy se oë is die bioscope van sy hondgedagtes.”

By boeta Frank en Pa het ek vroeg die beginsels van handeldryf geleer. Op twaalfjarige ouderdom was ek reeds gesout in hoe om ’n produk te adverteer deur vroegoggend met my vishoring te blêr en van agter op die Ford FT-bakkie uit te basuin: “Sê vir djou Ma daar’s vis!” of “Lekker tamatie virrie party!”

Boeta Frank het my eendag ’n baie belangrike les geleer van op skuld koop wat my nou nog die rillings gee as ek enigiets groots op krediet moet koop. Destyds was aartappels omtrent R1 ’n sak by Epping se mark, maar boeta Frank en Pa het dit oor ’n maand op skuld vir R2 verkoop, met ’n weeklikse afbetaling van 50c. As jy nie by die einde van die maand die volle R2 afbetaal het nie, word daar ’n bybetaling van 50c vir elke uitstaande week bygereken.

En as jy nie jou skuld betaal nie? Wel, ek het al gesien hoe boeta Frank met sy swart potloodstreepbroek hanggat uit sy bakkie klim, sy sakhorlosie uithaal en iemand vermaan: “Of my watch loep te vinnag of djy is laat! Okay, miskien is die watch verkeerd. Maar djy sal volgende week ekstra moet betaal plus interest om dié watch reg te maak. Verstaan ons mekaar!?”

Boeta Frank en Pa se groente-en-vis-smousbedryf was harde werk. Op vroeë, rypkoue Saterdagoggende was ek soms kaalvoet met tone wat byt saam met hulle in die Koue Bokkeveld om agter-die-deuraartappels op plase van naamlose werkers te koop. Of ons het douvoordag êrens langs ’n afpad naby ’n Weskus-vissersdorp met die Ford-bakkie in bosse weggekruip en gewag vir die plaaslike vissermanne met hulle houers vol kreef, perlemoen en vis. Dit was ook geheime en gevaarlike werk. Ná sulke geheime transaksies was die aankope gewoonlik goed weggesteek en boeta Frank en Pa het dan op pad huis toe die wêreld goed verken. As daar enige gevaar van die polisie langs die pad was, het hulle gewoonlik êrens van die pad afgewyk en gewag tot dit veilig was om voort te gaan.

Maar hulle het nie altyd die polisie ontduik nie. Een donker Saterdagoggend in die winter, langs die ou Malmesbury-pad op pad terug van die Weskus af, trek hulle skielik af tussen die bloekombome.

“Is djy seker dis hy?” vra boeta Frank vir Pa.

Pa staar oor die stuurwiel na ’n geel Ford-polisiewa ’n ent verder in die pad waar ’n Boer in blou uniform met ’n flits in ons rigting flikker.

“Ek gaan gou kyk,” antwoord Pa en klim versigtig uit. Hy loop stadig vorentoe terwyl die Boer se flits hom bestraal.

Skielik skakel die Boer die flits af, net toe Pa by hom aankom. Dit is gespanne in ons bakkie en boeta Frank maan my vinger voor sy lippe om doodstil te bly. Ek probeer my ore spits maar hoor net ’n dowwe gepraat, wat nie juis onheilspellend klink nie. Toe klim die Boer in sy polisiewa en jaag in die donker pad af tot sy ligstrale in die verte verdwyn. Pa kom op sy gemak aangewals en klim agter die bakkie se stuur.

“Was dit hy?” vra boeta Frank.

“Ja, dit is die gemors,” antwoord Pa, “die vuil ding se prys is nog R2.”

Daardie oggend op die ou Malmesbury-pad huis toe het boeta Frank en Pa my iets nuuts geleer oor die Boere en Limeys.

“As djy dit kan help, moet djy nooit vir ’n Boer of ’n Limey gaan werk nie, want hulle vat net. Al maak djy ’n lewe vir jouself, wil goed soos daai vuil poliesman ook nog die laaste stukkie wat hy kan, gryp. Net omdat hy ’n Boer is en dink hy’s baas,” verduidelik Pa.

“Dié sleg goed hoef nie eens te rêrig te werk nie. Hulle witgeit is mos ’n standerdtiensertifikaat en ’n pay slip,” beaam boeta Frank.

“Djy moet onthou, innie liewe van vandag gun die Boere jou niks. Try om nooit vir hulle te werkie. Djy is mos slim merrie wiskunde, kry jou gelerentheid en word ’n bus driver of ’n onderwyser. Annerste moet djy aaire vir ons join in die besigheid,” bemoedig Pa.

Ek het nooit ’n bus driver geword nie. Wat my miskien afgesit het, was dat die busse so onder die klippe deurgeloop het in die 1976-studenteversetaksies. En aan handel dryf wou ek later nie eens dink nie. Hier was dit definitief Ma se werkersklas-vakbondpolitiek en my blootstelling aan Marxisme op hoërskool in die laat sewentigs wat my van daardie lewenskoers laat afwyk het. Maar die onderwys het my eerste beroep geword, in Engels nogal, in Elsiesrivier, van alle plekke. Miskien het dit meer te doen gehad met Ma se wense dat ek kinders van arm kinders moes opvoed as Pa se kommentaar oor my aanleg vir wiskunde.

Jeremy vannie Elsies

Подняться наверх