Читать книгу Jeremy vannie Elsies - Jeremy Vearey - Страница 5

Die sypad deur Hemel-en-Aarde Vallei

Оглавление

Miss Biscombe – my sub-B-onderwyser in 1970 en 1971 by Greenlands Primêre Skool in Bishop Lavis – was my eerste gids na ’n fantasiewêreld van kanniedood wit mans wie altyd die mensdom van bose magte red. Haar laaste periode op Vrydae was ’n reeks vertellings oor avontuurboeke van Leon Rousseau se Fritz Deelman en die skepe van Mars tot Alistair Maclean se Fear is the Key. Dit het die leesgier in my geprikkel lank voor ek met die hulp van haar aanpassingsklasse woorde reg kon sien en skryf.

Met haar kleurvolle, aangepaste draaiboekweergawes van rolprente soos Bridge on the River Kwai en Jamie Uys se Dingaka het ek die wêreld buite Elsiesrivier in suiwer Engels asook in Elsies-spreektaal verken. Elke rolprentvertelling is gewoonlik afgesluit met miss Biscombe se solovertoning op die klasklavier van die “Colonel Bogey March” uit Bridge on the River Kwai, aangevul deur omtrent veertig van ons wat saam “Tara! Ta-ra-ra-rat-rat ra!” sing soos ons twee-twee uit die klas marsjeer.

Miss Biscombe was ook Ma se gunstelingonderwyser by Greenlands Primêr aangesien sy as musiekonderwyser net soos Ma met die klavier kon toor. Ek dink hulle het vir die eerste keer ontmoet oor my gesukkel met lees. Miskien was dit nadat ek vir Ma genoem het miss Biscombe speel Nikolai Rimsky-Korsakov se “Flight of the Bumblebee” beter as sy op die klavier. Of was dit omdat miss Biscombe ’n gerespekteerde lid van die Unity Movement se Teachers League of South Africa (TLSA) was en dié se Trotskisme sterk aanklank by Ma se werkersuniepolitiek gevind het? Nietemin, dis hierdie vennootskap wat my gehelp het om my algemene leeragterstand en hiperaktiwiteit in die klas te oorkom. En deur hul toedoen kan ek vandag met trots verklaar dat ek, bo alle verwagting, in ’n klas van veertig in die eerste eksamen in standerd twee in 1973, vyftiende in die eindeksamen gestaan het.

Soos die leser nou seker al agtergekom het, het ek hierdie tyd by die Greenlands Primêr op die Kaapse sandvlaktes van sink, prefabskole en skiemhuise meer surrealisties as werklik ervaar. Dit verg dus ’n dosis magiese realisme om dit soos deur my kinderoë te sien. Onthou nou, tussen 1970 en 1972 het ek al twee keer ’n operasie ondergaan vir ’n hardkoppige testis wat nie sy plek in sy balsak wou volstaan nie, twee vingertoppe verloor in Pa se Morris Minor se vliegwiel as gevolg van ’n geskil met my neef, en nog verbrand toe die primusstoof met kookwater skielik van die tafel af op my been gespring het.

Van al die vakke wat ek by Greenlands gedop of naelskraap geslaag het, was Handwerk my gunsteling, waarin ek altyd die hoogste punte behaal het. Dit was in 1974, in die standerddrieklas, waar ek vir die eerste keer gehoor het van stoot, soos ons dit in Elsies noem.

Eendag terwyl ons hard swoeg met die afrondingswerk aan ons boekmaaktaak, ontplof daar ’n hewige rusie tussen drie minirokonderwyseresse en meneer Hartzenberg, wie glo besig was met ’n klasgroepvergadering agter in die Handwerk-klas. Dit ontstel toe vir meneer Petersen (die nuwe Handwerk-onderwyser wat sy klas vir die vergadering beskikbaar gestel het) so erg dat hy uit die klas storm om die skoolhoof, meneer Majoos, te gaan haal. Die oomblik wat hy uit is, bedaar die gemoedere onder die minirokke toe meneer Hartzenberg met sy diep Barry White-basstem sê: “Girls, don’t fight over me. There is more than enough of me. Why don’t you share me?” Toe meneer Petersen en die skoolhoof daar aankom, is meneer Hartzenberg en die drie minirokke lankal bedaard en die probleem opgelos.

Met eerste pouse vra ek vir Markie wat nou eintlik gebeur het. Markie vertel toe.

“Kyk hiesa, die ding wêk soe: Miste Hartzenberg stoot vi al drie ghoeste sonne rat hulle van mekaa wiet. Toe kommit soe rat hulle uitvin van mekaa. Toe sê miste Hartzenberg rat hulle moetie baklei nie cause why hy het soe baie gevoelentes in hom. Hy sal somma vi amal van hulle enige tyd wanne hulle wil, stoot. Toe is hulle somma hêppie.”

“Okay, maa wat is stoot?” vra ek.

“Jirre, maa djy het daarem dom gekom,” spot Markie. “Wiet djy nie as miste Hartzenberg hulle vasgryp en enige plek tien hulle vryf, dan val hulle om, ampe soes hy hulle omgestootit. En daai is wat stoot is. Dit is soe lekke dat hulle somma mettie lyf raak.”

Die meer ervare Markie het blykbaar meer geweet van stoot as ek. Maar wat dit te doen het met hoe babas in die wêreld kom, weet die Vader alleen. Ma het hierdie kwessie min of meer dieselfde tyd met my eerste en enigste pak slae van haar kant opgeklaar, ná ’n huis-huis-speel-misverstand met antie Dora se bure se dogter een Saterdagmiddag in Tiervlei.

Antie Dora was dikwels vir lang tye alleen in haar steenskiemhuis naby Floridapark in Tiervlei, as gevolg van uncle Ivan se “uitwerkery” wat soms vir die Vearey-kamp nuwe niggies en newe besorg het.

Sy was dus ’n roetinebestemming van Ma, Tietie, antie Rosie en antie Baby se naweekgrootloop saam met ’n hele trop van ons newe en niggies vanaf die Vearey-kamp se sinkkraal in Sewendelaan. Veral nou as die mans heeldag domino’s speel en soms te gesellig word om met kinderversorging belas te word.

Huis-huis speel vir die Vearey-laaities was anders as die gewone weergawe van hierdie kinderspel met net ’n getroude paar en een pop in die rolverdeling. Dit was soos uncle Ivan en antie Dora se lewe, waar die pa in die spel ’n paar vroue en kinders het en vlugtig en vinnig met een vrou moet verkeer voordat hy na die ander aanbeweeg. Daar is dus nie tyd vir die gewone tierlantyntjies van klein koppietjies tee drink, pretensieuse vleitaal en piksoentjies nie. Doen jou ding en vamoes, muchacho!

Dis wat ek met antie Dora se bure se dogter probeer doen het, maar die storie het skielik ’n vreeslik lelike nadraai gekry toe ek haar vra dat ons asseblief onmiddellik moet stoot want ek wil by my newe se straatrugbyspel gaan aansluit. Voordat ek nog soos meneer Hartzenberg kon stamp en omstoot, hardloop sy huilend na antie Dora toe.

Dis toe dat Ma en die span anties op my afstorm. Ek skarrel vinnig pad toe maar antie Baby was vinniger en lei my by die oor tot voor Ma se stoel in die sitkamer. Ma lyk kalm en vra my mooi om op haar skoot te sit. Ek begin snik want as jy die effek van my ma se onheilspellende kalmte en sagte stem ná jou gruweldaad ken, dan weet jy hier kom groot moeilikheid. Ek skuifel gedwee nader. Met een ratse beweging trek sy my oor haar skoot en gee my ’n paar brandrapse met haar skoen op my hol. Elke raps gaan gepaard met ’n enkele woord van ’n baie lang verduideliking oor hoe verkeerd ek was. En soos gewoonlik was Ma by hierdie geleentheid baie omslagtig.

Tydens die huilery, wat ek geleer het jy so gou as moontlik al hoe harder moet doen om die sessie te verkort, onderbreek Tietie die proses en vaar uit teen Pa en die ander Vearey-ooms wie nie hulle seuns van die bye en voëltjies vertel nie. Ma stop toe onmiddellik en vertel my die volle storie van die bye en die voëltjies wat ver te abstrak vir my klein verstand klink, en nog minder met bye of voëltjies te doen het. Ma vra of ek alles verstaan. Ek knik nederig en word vrygelaat om straatrugby te speel.

Êrens in die middel 1970’s het Ma haar werk by die Rex Trueform-klerefabriek verloor, waarna sy en die anties hulle eie vroueoorpakbedryf begin het. Kort voor lank het dit nie so goed gevaar nie want Ma se totale gebrek aan ’n begeerte na eiegewin het dit seker vir haar moeilik gemaak om enige ontwykende skuldenaars aan te vat.

Pa het vir ’n wyle ophou groente en vis smous en as merchandiser by die Swiss Miss-sjokoladefabriek in Dieprivier gaan werk. Pa se bevordering het beteken dat ek soms skoolvakansies en Saterdae heeldag saam met hom Swiss Miss-produkte op Pick ’n Pay se rakke moes pak en dié se pryse etiketteer sonder om die wit klante te steur.

Dit was van korte duur want Pa is daar ook afgedank, miskien omdat hyself Swiss Miss-produkte in Elsiesrivier begin verkoop het. Maar vir Ma was dit ’n goeie ding want sy het altyd geglo dat mens nooit te gewoond moet raak aan dit wat jy nie kan bekostig nie.

Volgens Ma het dieselfde gegeld vir die grootmenswêreld waar ’n huis net ’n tydelike vesting is wat nie eintlik joune is nie. Dit kan, net soos ’n werk, enige tyd deur die hand van die staat ontneem word, soos dit onder die Groepsgebiedewet met die Galant- en Vearey-gesinne van Goodwood en Constantia gebeur het. En so was ek in standerd twee toe Elsiesrivier en Tiervlei se sinkkrale en djaarts op groot skaal deur die munisipaliteit ontwortel is en die mense verstrooi word oor eenvormige steen-en-beton-behuisingsskemas, met – ironies – die amptelike konsepnaam ’n garden village.

Troepe munisipale amptenare, hier en daar ondersteun deur die polisie, bestorm die djaarts en sinkkrale van Elsiesrivier en Tiervlei, gewapen met verf om met nommers die verdoemdes se huise te merk. Oupa Vearey se Tiervlei word Ravensmead en ouma Galant se werf word deel van Eureka Estate. Estates en dales van steen en beton spring orals soos onkruid op, met nuwe Engelse name soos Clarke en Avonhood Estates, Avondale en Leonsdale. Daar was ook hier en daar opwinding onder dié op die behuisingskortlys, oor wie die nuwe betonflats en “geboude” huise gaan kry.

Meer stofstrate word ook nou geteer en dit beteken meer speelplek. Volgens Ma was dit asof die munisipaliteit die ongenaakbare ontworteling van hegte, uitgebreide families en gemeenskappe in Elsiesrivier en Tiervlei wou versag met amptelike Engelse vleitaal. En dis dan hoe ons saam met ouma Galant na haar nuwe betonhuis in Jakarandalaan, Uitsig toe getrek het, ’n plek met plantnaamstrate waar daar geen plante of uitsig was nie.

Dis ook in hierdie onstuimige milieu waar alles wat mal is met my psige begin worstel het. Dit het gestrek van ’n tweede operasie vir ’n testis tot die loods van my akteursloopbaan saam met my jonger suster Merle. Ek het die enigste kinderrol gehad, dié van ’n jong Israeliet in ’n Bybelse toneelstuk oor Moses se trek deur die woestyn.

In die proses het ek smoorverlief geraak op my eerste denkbeeldige meisie. Sy was my suster Merle se vriendin Nicolette Fisher, die dogter van ’n ouere man in die Elsiesrivier-gemeente van die Jehovah se Getuies aan wie ek in een toneel moes sê: “Moenie huil nie, Mirsa. Hier is my water, drink soveel as jy kan.”

Behalwe dit, kon ek nooit daarna ’n woord aan haar sê oor hoe ek rêrig voel nie omdat die Getuies onsedelike gedagtes baie streng verbied. En so moes ek dus maar my begeerte om langs haar in die Koninkryksaal te sit en handjies hou terwyl ons saam ’n gesang sing, laat vaar. Sulke duiwelse versoekings van die vlees sou lei tot my verbanning na ’n Sodom en Gomorra wat my aspirasie om een van die honderd vier en veertig uitverkorenes te wees op daardie stadium nie kon bekostig nie. Dit sou ook my wyd verkondigde roem, as die jongste kind wat vir ’n volle halfuur die hooftoespraak in die Koninkryksaal ingelei het, skend.

Maar Pa het net soos ek met sy eie demone geworstel. Ongeag die Getuies se streng voorskrifte rondom die liggaam as ’n tempel van Jehova wat sigaretrook verbied, het hy skelm sy Rembrandt van Rijn geniet. En asof dit nie geestelik verdoemend genoeg is nie het hy met sy opgradering na seskanne om die dumstafel Jesus se lesse waarin hy die water in wyn verander soms in grootmaat te ver gevat. Destyds was een van Pa se groot ambisies om van ministeriële kneg na ouere man bevorder te word, maar broer Fischer het hom voorgespring. Pa het dit as ’n onreg beskou en geglo dat die regterlike komitee gemoeid met die ondersoek na bewerings van ernstige sondes iets daarmee te doen gehad het. Pa en sy beste vriend uncle Raymond besluit toe in 1975 om by die Jehova se Getuies-gemeente in Bergsig op Caledon aan te sluit en ons trek sak en pak na Hemel-en-Aarde Vallei. Ondanks haar sterk onafhanklikheidsin het Ma maar saamgetrek. Dit was maar seker ’n geval van volg die broodwinner, wie in haar tyd altyd die man was, al was hy nou wie en wat met al sy foute.

Destyds was daar geen wynplase in die Hemel-en-Aarde Vallei nie. Net een stofwolk van ’n rooi grondpad. Links van die hoofpad na Hermanus het dit voor Mount Pleasant weggeswenk, agter die berge verbygekronkel na Babylonstoren en Ertjiesvlei tot in Caledon. Dit was al wat die vee- en groenteplase van mekaar geskei het. Dis hier waar Pa as voorman die ewig afwesige oubaas Fourie se veeplaas bestuur het.

Al wat ek van Fourie kan onthou, is die gereelde besoeke saam met Pa aan sy kantoor by die kroeg van die Royal Hotel op Caledon van waar hy sy sake bedryf het en dat ek hom, op aandrang van Ma, nooit “oubaas” moes noem nie. Dit het nie gelyk asof Fourie juis belangstel in wat op sy plaas aangaan nie. Pa was die voorman oor geen plaaswerkers en skaapwagters van skape wat sorgeloos rondgewei het op ’n plaas sonder naam. Daar was ook hierdie stokou teelbul wat kwansuis te rof en onbeskof vir sy taak was en noodgedwonge permanent in die bulkamp agter slot en grendel moes staan. Die plaas se paar laeproduksiemelkkoeie moes maar self by die buurplase se bulle gaan vlerksleep, wat ook soms hewige geskille veroorsaak het oor wie se bul wie se koei laat kalf het.

Die familiepondok was ’n wit vyfvertrekplaashuis, omtrent vyftig meter vanaf die R320, min of meer waar Hamilton Russell Vineyards se hoofingang vandag sit. Die eerste week was straf, ’n geswoeg om die mure weer wit te kalk en beesmisvloere weer tot glad te bewerk. Laasgenoemde was natuurlik altyd ’n bron van groot genot as ek met my newe in die stad spot dat ek elke dag op kakvloere loop.

In daardie eerste week was die kombuis met sy kaggel en roetaangepakte skoorsteen my voorland. Volgens Pa was ek was soepel en skraal genoeg om daarin te pas. Ma en my suster Merle was meesal besig om voëlmisskilderye van die mure, deure en vensterbanke af te skrop. Al spoor van ’n dier wat oorgebly het, was die vaal swaeltjieneste van klei hoog in die hoeke.

Aan die einde van die groot reiniging het Ma die huis ingewy met ’n skaappens-en-pootpotjie waarvan die pikante geure genoeg was om enige wandelende spook of bose gees hel toe te dryf.

My ooms, Pa se vriend boeta Frank en ’n paar van die newe kom toe eenkeer al die pad van Elsiesrivier en Ravensmead af om met die damstafel en ’n paar seskanne nagmaalwyn die nuwe Vearey-huis in te seën. Dit sou ook vir twee jaar die laaste sien van die newe en ooms wees, want volgens uncle Ernie was “daai plek soe fokken ver darrit vat ampe ’n wiek se pay om daa te kom!”

En so was dit ook met die ongeveer drie myl se kaalvoet grootloop saam met Merle en ’n meisie van die buurplaas, met die rooi gryspad langs na die laerskool in Mount Pleasant. Met die eerste loop het hierdie meisie my gewaarsku om nie te naby die bossies of gras langs die kant van die pad te loop nie want die pofadders hou nie daarvan dat hul rus versteur word nie. Ons het dus altyd halfpad in die denkbeeldige linkerbaan geloop maar daar was nooit regtig ’n probleem met die trokke en bakkies wat nou en dan in stofwolke teen ’n hoë spoed die pad afgestorm het nie. Hierdie monsters kon ons buitendien al omtrent ’n halfuur lank hoor aankom voor ons hulle kon sien.

Die droommeisie van die buurplaas het my ook gewys hoe om saam met haar stroomwater aan die ander kant van die pad uit haar hande te drink en ek was vir ’n ruk daarna heeltemal versot op haar. Dis van haar wat ek geleer het dat die getjilp van ’n klomp voëls in ’n boom beteken dat ’n boomslang hulle neste bedreig en hoe om tussen daardie geluid en die klank van die wind deur die bloekombome te onderskei.

My eerste week van standerd vier by Mount Pleasant Laerskool was, deur my eie toedoen, nie so maklik soos die skoolnaam beduie nie omdat ek eers in Junie 1975 daar begin het. Om onverwags deur enige persoon met “goeiedag” gegroet te word, en dit sonder bymotiewe, was ’n aanpassing wat onvoorwaardelike openhartigheid geverg het, iets wat ongewoon vir my was. Om nie te praat nie van my Afrikaans wat moes verander van “Vêrre hoe?” na “Hoe gaan dit met jou?” Van eenvoudige vrae soos “Is mette vollene kôrek?” na “Dit is als in die haak”. En “Skankiebaai” moes word “Goed so”. En dan die onvertaalbare “Isja!”

Die eerste probleem was dat ek ook hierdie straatwys alfawolfstreek saamgebring het wat vereis dat ek in enige nuwe situasie eers my man moes staan en my gesag afdwing. In hierdie situasies sou standaard- hipermacho straatreëls verlang dat ek eers die vyand trotseer met vloekwoorde oor dié se familie, aangevul deur gepaste byvoeglike naamwoorde en kleurryke bywoorde. So aangevuur, besluit ek toe daardie eerste week om twee ander moontlike kandidate vir alfawolf in my klas uit te daag. Maar ek sit met ’n probleem. Beide beskou my as ’n vriend en loop orals beskermend saam met my op die speelgrond rond. Jy sou sweer ons is ’n bende waarvan ek die leier is, met hulle as lyfwagte.

Die een, kom ons noem hom Langeraat, was twee keer my lengte, en die ander, “Korteraat”, was helfte my lengte. Wat Korteraat betref, was die uitdaging een pouse voor almal nie eens die moeite werd nie want hy het onmiddellik ná ’n klassieke Afrikaanse vloekgeveg toegegee. Met Langeraat was dit ’n heel ander saak. Hy was net te sagmoedig en kon nie eens ’n slegte woord onder die senutergendste tarting uiter nie. Ná ’n lang, vrugtelose veldtog bestorm ek hom toe eendag op ’n skoolveld en skop hom in sy knaters. Vir ’n oomblik staar hy stomgeslaan na my asof hy vir rede pleit en ek volg dit op met ’n tweede skop. Ek kan nie onthou of dié skop hom getref het nie maar die laaste ding wat ek kon gewaar voor sy vuis van bo af my kakebeen tref, was die trane van dié sagmoedige reus wie aanhoudend “Nee, nee” ween.

Volgens stories wat daarna in die omloop was, het Langeraat my huilend na die siekeboeg gedra en by die onderwysers gepleit dat dit ’n ongeluk was. Toe ek wakker word, het ek hierdie weergawe beaam en beken dat ek eerste met hom skoor gesoek het. Maar die snaaksste van alles was dat hy daarna, ongeag die portuurgroep se lof wat aan hom toegeswaai is omdat hy die Kapenaar op sy plek gesit het, nie sy titel as alfawolf wou aanvaar nie en steeds as my beskermheer opgetree het. Volgens hom was ek ’n ware man wat ’n pak net so goed kan vat as wat ek dit kon uitdeel.

Hemel-en-Aarde Vallei was nie juis jou sprokiesverhaalplaaswêreld nie, ondanks die legendariese Babylonstorengebergte en rivieroewers wat ná reën geblyk het geen bodem in sig te hê nie. Jou vrye gang deur hierdie natuurskoon is ook belemmer deur Boere wat hierdie wêreld met sjambok en geweer polisieer het. Die grootmense se waarskuwing dat jy versigtig deur die bloekomboomwoude moes loop en moes hardloop as jy die voëls hoor raas om ’n boomslang te verwilder, het ook gegeld vir wanneer jy sonder toestemming op ’n boer se plaas was en hy jou vang.

Een van die min boerlose plase was die een met die kontrei se melkery, omtrent een kilometer van ons huis af. Ek en Merle moes elke tweede dag in die laatmiddag soontoe loop vir vars melk. Al was sy twee standerds jonger en baie slimmer op skool as ek, het sy geglo net ek het die antwoorde op al haar vrae. Dit het gewoonlik gestrek van hoekom die lug blou is tot hoekom Moses en die Israeliete so lank in die woestyn verdwaal het op pad na die land van melk en heuning. Soms het ek maar antwoorde opgemaak, soos dat Moses en sy Israeliete vir melk en heuning gesoek het in ’n woestyn waar daar geen groen weivelde vir melkkoeie of blomme met nektar vir heuningbye was nie. Ek weet nie of sy my altyd geglo het nie. Maar haar tergende vrae het my later minder gepla omdat ek dit begin sien het as ’n geleentheid om my praatvaardigheid te toets; iets wat altyd ’n bron van groot angs was in die klaskamer, waar ek gereeld oor my woorde geval het tydens voordragsessies.

Ma het mettertyd van hierdie kreatiwiteit te hore gekom maar het dit as ’n leergeleentheid benut. Ek moes later daagliks vir haar alles van ’n boom tot ’n skaap in vyf sinne beskryf met soveel byvoeglike naamwoorde as moontlik. Maar die een beskrywing wat my gepootjie het, was hoe om Ma se vraag “Hoe ruik vars melk?” te beantwoord.

Merle het egter hierdie vraag eendag by die melkery beantwoord. Soos gewoonlik het die spierwit melkery se stal daardie dag gewemel van melkers in wit oorpakke op driepootstoeltjies wat onder koeie met oorvol uiers oor vaal blikemmers worstel om soveel as moontlik gedoen te kry voor die koeie te onrustig raak.

Die voorman besluit toe juis op so ’n woelige dag om my te leer hoe om ’n koei te melk. Hy streel eers die koei om haar te kalmeer voordat ek agter haar uier gaan sit. Toe ruik hy haar asem, knik instemmend en kom sit langs my. Met sy eerste trek aan die speen spuit ’n stroom melk luidrugtig in die blikemmer. Daarna neem ek oor, gryp volgreep die twee agterspene en begin melk. Die melk spuit chaoties teen ’n geweldige pas orals buite die emmer en die voorman maan dat melkery nie ’n geveg van eiewil tussen mens en koei is nie. Op sy advies maak ek my oë vir ’n wyle toe en begin versigtig melk, totdat die ritme tussen die koei se vloei en my trek aan die spene een word. Die warm, klewerige roomgeel stroop wat onder my hande uitvloei, voel glad nie soos waterige spierwit winkelmelk nie. Die sterk reuk daarvan is ook nie dié van winkelmelk nie maar ek kry dit nie uitgepluis nie. Ná ’n paar minute vloei die stroom stadiger, die uier se swelling sak en vertikale rimpels begin diep daarop plooi. Die voorman beslis dat die koei uitgemelk is en die emmer word verwyder.

Nou is dit tyd vir afroom maar ek is ongeduldig. Ek skep ’n handvol room van bo af en snuif daaraan maar niks ruik bekend nie.

Merle staan nader en snuffel versigtig. “Warm soetpap,” verklaar sy en proe ’n handvol.

Ek weet tot vandag toe nie of vars melk wel soos warm soetpap ruik nie maar dié antwoord was goed genoeg vir Ma. Miskien was dit vir haar ’n aansienlike verbetering op my meer letterlike, platvloerse taalgebruik. Dit kon dalk ook die begin gewees het van ’n wending in Ma se missie om my leesgewoontes te rig, want daarna is RP-fotoboekies in die huis verban en ek moes gedwonge saam met haar Heinz Konsalik uit die plaaslike biblioteek lees. Leon Rousseau se Fritz Deelman-reeks was van die min jeugboeke wat Ma se sensuur ontkom het. Dit was ook nie meer goed genoeg om bome en skape bloot letterlik te beskryf nie; enigiets moes nou sinliker en in ’n breër konteks uitgebeeld word.

Dit blyk dat Pa ook op hierdie stadium my kreatiwiteit wou stimuleer maar in ’n heel ander rigting. As ek dan nou so goed bome en skape kon beskryf, kon ek mos net so goed landskappe teken. Hy het my voorgestel aan ’n hippieskilder in ’n karavaan op Hermanus en dié het my houtskoolskets- en olieverftegnieke geleer. Ek het nooit rêrig verby die fase van olieverf meng beweeg nie maar in sy oë wel goed genoeg in potlood- en houtskoolsketse gevaar. Daarna het my sketswerk, tot Ma se plesier, al hoe meer sinnebeeldig geraak. Miskien was Ma meer ingenome daarmee dat ek begin teken en praat het oor dit wat ek voel, en nie net wat ek letterlik sien nie.

Neëntien-ses-en-sewentig was nie net vir my nie maar ook vir Pa en Ma ’n jaar van ontnugtering. Pa het, volgens die Jehova se Getuies se leerstellings “uit die Waarheid geval” en nie sy bevordering van ministeriële kneg na ouere man bereik nie. Nie net het hy sy geloof verloor nie, maar ook sy beste vriend, naamlik broer Raymond Joseph wie, volgens Pa, as gevolg van sy skoonfamilieverwantskap met ’n ouere man, nou in die Bergsig-gemeente voorkeur geniet het.

Pa het ook toe behep geraak met esoteriese teorieë, soos dié van Erich von Däniken se boeke Chariots of the Gods en Gods from Outer Space. Dié het betoog dat die Ou Testament ’n metaforiese verslag is, geskryf deur onkundige profete, oor ruimtewesens wie verkeerdelik deur die mens as gode beskou is. Von Däniken het ook geskryf dat hierdie ruimtewesens eintlik die Egiptiese piramiede en ander antieke argitektoniese wonders gebou het. Ma het van die begin af skepties gestaan teenoor Pa se nuutgevonde Von Däniken-stories maar sy het later die lyn getrek toe Pa vir my die boek laat lees. Hoe kan hierdie wit man Von Däniken sê dat dit nie die werkers was wie se slaweaarbeid die piramiede en ander wonderwerke gebou het nie? En só het ook Von Däniken nie die valbyl van Ma se sensuur vrygespring nie.

In Junie 1976 verkoop Fourie sy plaas. Ons trek haastig sak en pak terug Kaap toe, na ouma Galant se huis in Uitsig. Daar was nie eens tyd om ordentlik van al ons kennisse en vriende op Hermanus, Caledon en Hemel-en-Aarde Vallei afskeid te neem nie. Maar dis maar hoe ek Ma en Pa leer verstaan het. Ons bly nooit so lank op een plek dat ons wortels kan anker nie.

Jeremy vannie Elsies

Подняться наверх