Читать книгу Geloof anderkant Sondag - Julian Müller - Страница 3

Оглавление

1

My persoonlike reis na anderkant Sondag


Ek het op die plaas Witkop naby Nigel aan die Oos-Rand grootgeword waar ons gesin deel van ’n hegte boeregemeenskap was. Dit was ’n voorreg om my kinderjare in so ’n omgewing deur te bring, want dit het baie sekerheid en ’n duidelike ervaring van geborgenheid gebied, ook ten opsigte van my geloofservaring.

Die Müllers het soos die meeste ander boeregesinne elke tweede Sondag kerk toe gegaan. Ek het saam met my ouers en twee susters op die ander Sondae na die kerkdiens op die draadloos geluister.

Ons het nie elektrisiteit op die plaas gehad nie en die radio is met ’n battery aan die gang gehou. My pa het sy bakkie voor die eetkamervenster getrek en die draadloos aan die voertuig se battery gekoppel. Ons het dan met ons Bybel en Gesangeboek om die groot, bruin ou draadloos byeengekom.

Dit was ’n ritueel op sy eie waarin ons gelees, gesing en gebid het.

Ek het egter nie van die radiodienste gehou nie, want die preek in die dominee se hoogdrawende en krakerige stem was meestal ’n pyniging.

Die tradisie van Sondag kerk toe gaan was die samevloeiing en bevestiging van ’n hele lewenswyse. Die kerk was letterlik en figuurlik die middelpunt van die dorp en die boeregemeenskap.

Sondag was die bymekaarkomdag en al die sosiale aktiwiteite van daardie plattelandse gemeenskap is daar rondom gereël. Mense het nie in restaurante of winkelsentrums gekuier nie.

Die kerk en die skool was vergaderplekke, maar veral die kerk.

Sondae se diens het 10:30 begin, maar teen 09:30 het die kerkgangers al op die kerkterrein begin aankom. ’n Halfuur lank of so is daar oor en weer by mekaar se motors of bakkies gekuier. Dan het die gemeentelede stemmig begin inbeweeg kerk toe. Elkeen het sy gebruiklike plek in die kerk gehad en daarom het almal presies geweet wie in die kerk was.

Die orreltannie het so ’n kwartier voor die tyd ingekom en haar plek op die orrelbankie op die galery regs bokant die kansel ingeneem. Ek het my altyd aan haar ingly-aksie op die bankie verkyk.

Sy was kort en stewig gebou, maar het haar lyf altyd wonderbaarlik akrobaties van die kant af oor die bankie tot op die regte plek ingeswaai. Dan het sy haar musiekboeke reggeskuif en haar spieël, wat soos ’n motor se truspieël gewerk het, reg gestel. Ek vermoed sy was ’n gemiddelde, maar baie getroue orrelis. Sonder haar kon die diens in elk geval nie voortgaan nie.

Die diens het altyd dieselfde verloop: Die klok het gelui en die dominee het ingekom, gevolg deur die ouderlinge. Die diakens, ook almal in swart pak en wit das, het by die deur regs van die kansel ingestap. Die dominee het elke Sondag net drie trappies by die preekstoel opgeklim, gaan staan en eers gebid voordat hy tot heel bo geklim het. Wanneer hy sy plek op die preekstoel ingeneem en die kerkraad nog in hul banke gestaan het, het die orrel begin speel en ons het almal gestaan en ’n gesang gesing waarin ons gevra het dat Dominee “gesterk en geseën word in al sy werk”.

Nadat die dominee die aankondigings uit ’n swart boekie voorgelees het, het die preek begin. Altyd met dieselfde woorde: “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” Die lofsang wat daarop gevolg het, het meestal gewissel tussen “Prys die Heer met blye galme”, “Juig al wat leef” en “Op berge en in dale”. Dan was dit die Tien Gebooie, gewoonlik uit Eksodus 20, maar soms uit Deuteronomium 5. Vir die skuldbelydenislied het ons weer opgestaan. Met elke lied het ek my verwonder aan die orreltannie se flinke bewegings om die voetklawers by te kom.

Die preke was meestal maar lank en uitgerek – vir my as jong seun nie juis boeiend nie.

Soms het Dominee se stem skerp gestyg en het hy selfs ’n bietjie op die gemeente geskreeu. Dan het die mense gevoel dit was ’n “goeie” preek. Ek het my pa dikwels hoor sê: “Dominee het weer latjie ingelê vanmôre.”

Die ergste deel van die diens het ná die preek gekom: Die láng gebed waartydens die mans en seuns respek moes betoon deur op te staan. Boonop in ongemaklike klere wat óf te warm óf te styf was. Dit was byna onuithoubaar, maar staan moes jy staan.

Wanneer ons uiteindelik kon gaan sit, is die kollekte opgeneem. Vooraf het my pa die kerkgeld aan my en my susters uitgedeel en in my sak was daar altyd twee muntstukke. Die groter een, gewoonlik ’n sikspens, vir die bordjie en die kleiner een, meestal ’n tiekie, vir die deurkollekte. Wanneer die einde van die diens in sig was, het ons die slotlied gesing en Dominee het sy hande in die lug gesteek en die seën met toe oë uitgespreek.

Ná die diens is die gekuier buite by die voertuie voortgesit, want dit het gewoonlik nog lank geneem voordat die kerkraad uit die konsistorie gekom het. Van daar af het die meeste plaasmense na die dorpskafee gery en ’n Sondagkoerant gekoop. Ons het soms polonie en ’n brood gekoop, maar nooit ’n koerant nie, want dit was teen ons beginsels om op ’n Sondag koerant te lees.

Tuis was die hoender al gaar. In die Ellis DeLuxe-koolstoof se oond kon dit nie aanbrand nie. Die jellie was ook al geset. My ma het dan die aartappels en rys opgesit en die vla vir die poeding gemaak.

Wat rituele betref, was die Sondagmiddagete ’n hoogtepunt van die week.

Vir my as jong seun was die kerkritueel nie juis lekker nie. Tog het dit ’n soort magiese vashou op ’n mens gehad. Die ritmiese herhaling van roetines week na week was gerusstellend en selfs meesleurend. My besluit om self ’n dominee te word het ongetwyfeld uit dié vaste gebruike en gestruktureerdheid voortgevloei. Die dominee het ’n ereplek in die samelewing gehad en dit was iets om na te streef.

Op die eerste Sondag van elke maand was daar ook ’n biduur vir die plaaswyke, wat 14:00 begin het. Almal het ’n beurt gekry om die biduur aan huis aan te bied. Die gasvrou sou stoele in rye in die voorhuis pak en ’n klein tafeltjie regsit vir die dominee waarop ’n glas water in ’n piering en ’n bossie blomme uit die tuin gestaan het. Die biduur het byna soos ’n volle kerkdiens verloop met sang, gebed en ’n preek. Die verskil was dat daar aan die einde van die preek geleentheid vir gebede gegee is.

Soms was daar lang, ongemaklike stiltes, maar gelukkig was daar altyd staatmaker-ooms wat die saak sou beredder, telkens met dieselfde gerusstellende gebede. Oom Petrus, oom Hannes, oom Christie en oom Thys was die voorbidders. Die gebede het dikwels om die weer gedraai en natuurlik die landerye en die oeste. Daar is gebid vir reën en dankie gesê vir al ons seëninge. Die vroue het nie gebid nie, behalwe ons buurvrou, tant Rita, wat baie mooi kon bid.

My pa het ook soms gebid. Ek onthou hy het altyd probeer aansluit by die boodskap van die dominee, terwyl die ander ooms meestal net ’n vaste rympie opgesê het. Ná die biduur is daar heerlik om tafels vol koek gekuier. Sommige ooms het buite gaan rook en ons kinders het die plaas vol gespeel.

Elke tweede Sondag, ook 14:00, is Sondagskool in een van die plaashuise gehou. Dit het net so ’n geselligheid afgegee. Almal was natuurlik minstens al ’n halfuur voor die tyd daar en ons kinders kon op die werf speel totdat ons geroep is na die sitkamer waar ons Lied 444, “Wat ’n vriend het ons in Jesus”, en ’n paar ander bekende Hallelujaliedere gesing het. Ons klasse is daarna in verskillende vertrekke van die huis gehou met oom Christie of oom Alwyn wat met dreunende stemme uit die grys katkisasieboek vir ons voorgelees het.

Die kerk toe gaan, die bidure en die Sondagskool was alles deel van die Sondag-ritueel. Daar was talle duidelik uitgestippelde, onuitgesproke reëls oor hoe Sondae moes verloop en wat jy op dié dag mag doen. Al die gemeentelede het presies geweet wat van hulle verwag word en die kerk het ’n vaste oriëntasiepunt gebied.

Die Sondag-ritueel was die hoogtepunt van ons landbougemeenskap se bedrywighede wat ook volgens ander weeklikse, maandelikse en jaarlikse patrone geleef het. Oktober was planttyd en Junie oestyd. Op al die plase het die koeie 16:00 stal toe gekom om gemelk te word. Jy kon jou horlosie stel op oom Piet se skoolbus wat in die oggend dorp toe ry en in die middag terugkom.

In die winter is bees geslag, biltong gemaak en vir die bure ’n karmenaadjie gestuur. Saam met die bees is altyd ook ’n vark geslag en van die vet wat nie in kaaiings uitgebraai is nie, is seep gekook.

Saans was almal teen 19:20 in die huis om met groot toewyding na “Die Du Plooys van Soetmelksvlei” oor die draadloos te luister.

In dié gestruktureerde samelewing was daar weinig plek vir individualiteit en eie keuse. Die Natte het by Volkskas gebank en die Sappe by Standard of Barclays Bank. Daar was ’n paar gesinne wat Hervormers was en die res was almal NG. Al die kinders het na Hallgate, die laerskool op die Plotte, gegaan en daarna na dieselfde hoërskool op Nigel.

Almal was nie ewe getroue kerkgangers nie. Daar was veral een uitsondering wat ’n indruk op my gemaak het: ’n Afgetrede onderwyser van elders wat een van die plasies naby ons gekoop en daar ’n aftree-boerderytjie aan die gang gehou het. Die storie het gou versprei dat hy ’n ateïs is. Of dit waar was, weet ek nie, maar hy het hom nie met kerkdinge opgehou nie. Hy was teruggetrokke en effens eenkant. Ons het hom nie goed geken nie.

Sondag het skynbaar vir hom en sy vrou geen betekenis gehad nie, want aan die Sondag-rituele het hulle hul min gesteur. Sy plaashuis was vlak langs die pad en wanneer ons van die kerk af daar verbygery het, was hy dikwels besig om op sy Vaaljapie (Ferguson-trekkertjie) sy landerye te bewerk.

Hieroor het my ouers net hul koppe geskud en soos ander kerkgangers vir hul kinders vertel hoe vreeslik verkeerd dit is. Ek het gesukkel om dit te verstaan: Hier is ’n slim man wat duidelik ’n goeie lewe lei en sy plasie met groot sorg bewerk. Hoe het hy en sy vrou op so ’n dwaalspoor beland? In my kindergemoed het ek hulle vreeslik jammer gekry oor hul afvalligheid en die verdoemenis wat op hulle gewag het.

Heimlik het ek hulle egter tog ’n bietjie hul vryheid beny. Die oom kon immers op sy Vaaljapie sit en ploeg terwyl die res van ons in die kerk moes gaan sit!

Om die onbekende te verken

Só het my pad begin met wat ek vandag ’n Sondag-geloof noem. Die woord “Sondag” is in dié geval nie net die naam van ’n dag nie, maar ’n metafoor vir die georganiseerde godsdiens en ’n streng kerklikheid.

Toe ek etlike jare gelede vir die eerste keer die rolprent The Other Side of Sunday (1996, Marie Theisen, regie deur Berit Nesheim) gesien het, is ek baie geraak daardeur. Dit gaan oor ’n eng Lutherse dominee en sy gesin wat in ’n klein dorpie in Noorweë woon. Die meisie Maria kom in opstand teen die rigiede, wettiese godsdienstigheid van haar gesin en veral haar pa. Die rolprent stel twee wêrelde teenoor mekaar: dié van godsdienstige oorheersing met ’n klem op reg en verkeerd en dié anderkant Sondag waar Maria vryheid, respek en menswaardigheid ontdek.

In dié boek wil ek dieselfde metafore van “Sondag” en “anderkant Sondag” gebruik en gaan ek vanuit my eie ervaring oor dié twee wêrelde of geloofservaringe skryf.

Om ’n Sondag-geloof te hê, is om jou geloof ten nouste aan kerklike strukture, dogmas en rituele te koppel. Kerklike dogma of leerstukke verwys na geloofswaarhede wat (by sinodes of konsilies) deur die kerk as gesaghebbend of as waar aanvaar word. Dit is mensgemaakte formulerings en formules wat mettertyd die gesag van goddelikheid ontvang. Dié leerstukke vind ook gestalte in kerklike gebruike en rituele. Saam met kerklike strukture bied dié vaste praktyke ’n groot mate van standvastigheid wat die georganiseerde godsdiens vir talle gelowiges baie aantreklik maak.

Geloof anderkant Sondag, daarenteen, verwys na ’n nuwe verstaan van geloof wat nie so aan mensgemaakte kerklike strukture en dogma gebonde is nie. Dit staan losser van die kerk en is immer soekend na wat anderkant die kerk lê. In dié geestelike omgewing is daar ’n groeiende skeptisisme oor ’n onkritiese aanhang van die dogmas en gebruike van die kerk. Dit bied ook veel meer ruimte vir onsekerheid en die teenstrydighede van die lewe en die geloof.

Om anderkant Sondag te glo, bring jou as’t ware in ’n soort niemandsland. Dit lei jou na ’n woestyngebied waar die stutwerk van mensgemaakte godsdiensbeoefening weggeval het of nie meer sin het nie, maar waar daar steeds ’n behoefte aan geloof is. Dit behels veral ook ’n ander begrip van God met ’n groter klem op geestelikheid. Geloof anderkant Sondag is vir my ook terra incognito – onbekende land. Soos my vertelling aan die begin van die hoofstuk aandui, is ek gebore en getoë in die Sondag-land. Ek is deurdrenk van die kerk. Tog moet ek erken dat ek nie meer op dieselfde plek staan waar ek my geloofsreis begin het nie.

In dié anderkantland vind jy talle individue wat ontnugter is deur en teleurgesteld is in die kerk en alle vorme van georganiseerde godsdiens. Daar is ook diegene wat gewoon verveeld geraak het met die retoriek van die kerk en vir wie kerklike dogma nie meer enige betekenis inhou nie. Wat almal gemeen het, is die gevoel dat die ou strukture en ou maniere van praat nie meer sin het nie.

Ek hoor die noodkreet van diegene wat nie meer deur die kerk aangespreek voel nie, maar wat steeds erns het met hul geloof. Hoewel elkeen van ons op ’n unieke reis met God, geloof en die kerk is, kan ek ten sterkste met sulke gelowiges identifiseer. Dit is dalk nie aldag vir hulle ewe duidelik presies waarheen hulle op pad is nie, maar wat hulle wel weet, is dat hulle nie weer kan terugkeer na die tradisionele manier van dink, praat en doen nie.

’n Mens kan nie veralgemeen nie, maar my indruk is dat daar baie jong mense is wat wel positief voel oor en glo in die potensiaal van die kerk, maar terselfdertyd diep skepties is oor wat soms in die kerk gebeur. Hulle voel ook nie meer die druk van kulturele of samelewingsvoorskrifte nie en is dus vry om te kies vir of teen ’n bepaalde gemeente en selfs vir of teen die kerk.

Dié wegbeweeg van die Sondag-geloof en die ontdekking van ’n wêreld anderkant Sondag moenie oorvereenvoudig word nie. Dit kan nie vereng word tot die kwessie van kerklikheid en buitekerklikheid nie. My doel is nie om die georganiseerde godsdiens of Sondag-geloof te benadeel nie. Ek neem self nog daaraan deel en vind sin daarin. Daar is ook talle gemeentes en groeperings binne die gevestigde kerke wat steeds in die kerk as instelling glo, maar ’n anderkant Sondag-geestelikheid uitleef.

Ek voel tuis in my gemeente (die Ooskerk in Pretoria). Ek en my vrou, Zirkia, ervaar daar min van die tipiese Sondag-geloof. Ek besef egter dat selfs so ’n vryer en inklusiewer kerkomgewing vir baie ander gelowiges nog heeltemal te eng en gestruktureerd is.

As dominee is ek van die begin van my bediening af met die kerk buite die kerk gekonfronteer. My eerste gemeente was die Irenekerk, soos die Johannesburg-Oos-gemeente in die middestad ook bekend gestaan het. Dit was nog behoudende tye toe ek in 1971 by dié kerk begin werk het, maar die gemeente was toe reeds heeltemal anders as die gemiddelde voorstedelike gemeentes.

’n Groot deel van die gemeente het hulle toe reeds buite die kerk bevind. Een van ons groot take was om die lidmate van die kerk “op te spoor”. Hulle was soms nog op die boeke, maar nie meer in die kerk nie. In die plattelandse omgewing waar ek grootgeword het, was buitekerklikheid ’n sonde, maar in die Johannesburgse middestad was dit amper alledaags. Die tradisionele stutte wat kerklikheid in stand moes hou, was toe reeds ondergrawe en besig om in duie te stort.

Een keer per maand het ek saam met die groep kerklike jong mense die woonstelwêreld van Hillbrow, Berea, Joubertpark en Doornfontein ingevaar. Ons het by elke woonstel geklop en navraag gedoen oor die mense se kerklike betrokkenheid. Dit was ’n avontuurlike ervaring, want ons is nie altyd op ’n “kerklike” manier ontvang nie. Een aand het een groep jong mense bleek om die kiewe by die kerk teruggekom. By een woonstel het ’n vrou sonder om te blik of te bloos poedelnakend die deur oopgemaak. Ek kan nie onthou of hulle toe wel vir haar gevra het tot watter kerk sy behoort nie!

In daardie tyd het ek van die sinvolste geestelike gesprekke met mense buite die kerk gehad.

Dit het ’n blywende indruk op my gemaak en het my denke oor die rol van die kerk in mense se lewens vir altyd verander. Dit was asof daardie mense wat hulself doelbewus of om ander redes buite die kerk bevind het met die mees wesenlike lewensvrae na vore gekom het. Hulle was nie meer in die kerk nie, maar het diepsinnig nagedink oor die sin van die lewe en oor die misterie van God. Daar moes ek ontdek dat buitekerklikheid nie met onverskilligheid of ongelowigheid gelykgestel kan word nie. Ek het by meer as een geleentheid uit die woonstel van ’n buitekerklike persoon gestap, verryk deur opregte menslikheid.

Een aand het Diederik (skuilnaam), ’n jong man wat probeer het om by die gemeente in te skakel, my kom spreek. Hy het my vertel dat hy homoseksueel is, maar dat hy as Christen ook ’n behoefte daaraan het om deel van die kerk te wees. Ek was tot in daardie stadium net vaagweg bewus daarvan dat daar mense met ’n ander seksuele oriëntasie bestaan.

Diederik se besoek het my geestelike ewewig heeltemal versteur. Hy het my van sy lewe en sy wêreld vertel. Ek was dadelik onder die indruk van sy opregtheid. Hy het my bewus gemaak van my vooroordele en dit is iets waarvoor ek tot vandag toe dankbaar is. Vir die eerste keer was ek in die posisie om mét iemand te gesels wat homoseksueel is, eerder as om óór hom te praat. Ek het geluister na sy godsdienstige erns, maar ook na sy hartseervrae en die pyn wat veroorsaak is deur die kerklike en godsdienstige verwerping waaraan hy blootgestel is.

Ek het na Diederik uitgereik en deur hom ook ander gay mense leer ken. Saam het ons begin werk aan ’n nuwe projek: ’n Bybelstudiegroep vir homoseksuele mense. Ons moes dit in die grootste geheimhouding doen, want Diederik was toe voorsitter van ons kerkjeugaksie en nie uit die kas nie.

Die Bybelstudie saam met Diederik en sy vriende het aan my verander, maar te min.

Ek het hulle ontdek as menswaardige en eerlike mede-Christene, maar ek het nog nie die insig gehad dat seksuele oriëntasie nie ’n keuse is nie, maar ’n gegewe. Ek het gedink my betrokkenheid by dié groepie sou hulle op die ou end kon help om te verander. Die gevolg was dat die Bybelstudiegroep net ’n paar maande gehou het. Dit het weldra deurgeskemer dat ek geglo het homoseksuele mense moet hulle tot ’n “normale” seksualiteit bekeer waarna hulle hul vertroue in my verloor het.

As ek vandag daaraan terugdink, is ek hartseer dat ek nie vinniger tot insig gekom het nie. Gelukkig kon ek later veral weens my blootstelling aan gay studente tot ander insigte kom.

Ek vertel dié verhaal eintlik om te illustreer hoe ek reeds in die sewentigerjare ontdek het dat daar geloof en geestelikheid buite die kerk is. Ek het opregte menslikheid, ware geloof en wonderlike toewyding buite die tradisionele kerklike strukture gevind. Ek weet ook dat ek baie diep daardeur geraak en verander is.

Die ontdekking van geloof buite die kerk is later in my studentebediening verder gevoer. Van die ernstigste gesprekke wat ek met jong mense gevoer het, het buite die kerklike omgewing gebeur. Daar was wonderlike jong mense binne die kerk en ek wil geensins afbreuk doen aan die rol wat die kerk in hul lewe en in my lewe gespeel het nie. Ek kon egter ook studente oor die hele spektrum leer ken aangesien ek deel was van ’n universiteitsomgewing wat wyer gestrek het as die studentegemeente wat ek bedien het. Dit het opnuut die werklikheid van geloof buite die tradisionele kerklikheid aan my bevestig.

Vandag is ek dankbaar vir die blootstelling wat die middestadse en studentegemeente aan my gebied het. Dit het my gehelp om geloof te ontdek waar ek dit nie altyd verwag het nie.

Daarom word dié boek geskryf uit oortuiging, maar dit is nietemin ook ’n persoonlike waagstuk. Dit is soos om deur ’n rivier in die Amasone te probeer swem terwyl jy ’n swak swemmer is en boonop aan asma ly.

Die aangrypende boek en rolprent The Motorcycle Diaries (2004, Gael García Bernal, regie deur Walter Salles) vertel hoe Che Guevara as jong man op ’n motorfiets deur dele van Suid-Amerika saam met ’n boesemvriend getoer het. Aan die einde van die reis bevind hy en sy vriend hulle ’n paar weke lank in ’n hospitaal vir melaatses op ’n eiland in die Amasone, waar hulle as vrywilligers werk.

Guevara was ontsteld oor die skeiding tussen die mediese personeel, wie se kwartiere op die land was, en dié van die pasiënte wat op die eiland aan die oorkant van ’n rivier was.

Die aand ná ’n afskeidsparty vir hom en sy vriend het hy die rivier ingeloop en na die eiland begin swem. Sy kollegas was geskok, maar hy het alle waarskuwings verontagsaam en ondanks sy asma en onder groot aanmoediging van die melaatse pasiënte die eiland bereik.

Die mense van wie Guevara af weggeswem het, was nie sy vyande nie. Die skeiding tussen die siekes en hul versorgers was egter vir hom so ’n onreg dat hy genoop gevoel het om die swemtog aan te pak en standpunt teen die skeiding in te neem.

Vir hom was daar ’n onnodige kloof wat oorbrug moes word.

Met dié boek wil ek self ’n rivier oorsteek en uitreik na diegene op die geloofseiland: die gelowiges buite die magsirkel en gemaksone van die georganiseerde godsdiens en die kerk. Ek besef wel dat sommige mense dit kan sien as ’n wegswem van die kerk af. Dit is egter glad nie die geval nie. Ek probeer nie wegswem, of myself wegskryf van iets af nie.

Inteendeel, ek wil eerder probeer inhoud gee aan die geestelike plek waarheen ek op pad is en wie ek daardeur wil bereik. Dit gaan vir my oor ’n gemarginaliseerde en verwaarloosde groep mense wat nie meer deur die kerktaal geraak word nie, maar wat gelowiges wil wees en bly. Met dié boek wil ek aandui dat geloof en meer bepaald die Christelike geloof ook – soms selfs juis – anderkant Sondag te vind is.

Om ’n boek te skryf oor iets waarvan jy eintlik níks weet nie, is nogal benouend! Hoe verder ek geskryf het, hoe meer het ek my in onbekende vaarwaters bevind. Daar is min sekerhede wanneer jy nuwe maniere van dink en praat oor geloof, God, die kerk en die wêreld probeer formuleer. Daarom was dit ook so ’n interessante skryfervaring. Ek het ’n hele paar keer die sleutelbord teruggeskuif en opgehou skryf, want hoe skryf jy as jy tegelyk besef dat jy besig is om iets van ’n nie-wete te konstrueer?

Wat my laat aanhou het, is die oortuiging dat daar baie mense is wat, soos ek, genoeg gehad het van die oënskynlike baie-weet oor God en geloof. Die sekerheid en soms alwetendheid wat ’n mens in godsdienstige gesprekke en by godsdienstige geleenthede moet aanhoor, slaan ’n mens dikwels dronk.

Net toe ek weer deur ’n tyd van diepe twyfel gegaan het oor of ek wel dié boek die lig moet laat sien, het ek heel toevallig by een van die groot, gewilde Christen-boekwinkels ingestap. Ek was halfpad tussen al die boeke in toe die dawerende prediker op die groot skerm my weer daar uitgedryf het. Ek kon dit nie verdra nie. Daardie styl van aggressiewe prediking wat dreig en manipuleer met ’n vreesaanjaende God werk duidelik nog vir ’n klomp mense, maar daar is talle soos ek vir wie dit groot ongemak veroorsaak.

Ek wil nie die indruk wek dat ’n Sondag-geloof sleg en problematies is en ’n anderkant Sondag-geestelikheid net goed en onproblematies is nie. Wat wel nodig is, is dat daar ruimte gemaak word vir ’n geloofservaring anderkant Sondag. As dié boek selfs net ’n bietjie ruimte vir alternatiewe geloofsverhale kan help skep, is die doelwit reeds bereik.

Nie dat ’n duidelik afgebakende, afgeronde verhaal hieruit gaan voortvloei nie. Daarvoor is die anderkant Sondag-omgewing nog te onbekend en ongekarteer.

Ons soek nog ons pad deur die onbekende landskap, maar die reis het reeds begin. Vir diegene vir wie ’n Sondag-geloof nie meer oortuigend is nie, is daar geen sprake van terugkeer nie.

Ons gaan versigtig, maar nuuskierig in ’n ontdekkingsgees vorentoe – van binne en buite die kerk.

Geloof anderkant Sondag

Подняться наверх