Читать книгу Geloof anderkant Sondag - Julian Müller - Страница 4

Оглавление

2

Die kerk en ’n ou spyskaart


Hoe het dit gebeur dat die kerk in soveel gevalle uit die hart van die gemeenskap verdring is?

Van waar die toenemende kriewelrigheid oor die kerk as instelling en alle vorme van georganiseerde godsdiens?

Gedurende ’n onlangse besoek aan Bristol in die suidweste van Brittanje loop ek een dag weer in die pragtige Gloucester Road, een van die stad se bekende ou strate. Ek was verstom om te sien wat van die mooi ou klipkerke in die straat en die res van die buurt geword het.

Een is verander in woonstelle, al lyk dit van buite steeds soos ’n kerk.

’n Ander is in ’n gimnasium omskep. ’n Klein geboutjie langsaan, wat miskien vroeër die konsistorie of ’n kapelletjie was, dien nou as die kerk waar ’n handjievol mense op ’n Sondag die diens bywoon. Die groot ruimte wat eens die kerk gehuisves het, moes dus plek maak vir ’n nuwe soort aanbidding. Die kerkgebou is steeds ’n toevlugsoord, maar die godsdiens van die lyf word nou daar beoefen. Ander soorte rituele speel nou daar af soos die mense probeer om fiks te bly te midde van die oordaad en die druk van die moderne lewe.

In ’n land soos Brittanje en in talle Europese lande het die meeste mense skynbaar die juk van die kerk, wat sonde en verdoemenis verkondig en dit dan opvolg of beloon met vryspraak, afgeskud.

Hulle bekommer hulle nie meer oor beloning of straf in ’n volgende lewe nie – hulle is gewoon nie meer ingestel op die hiernamaals en alles wat dit inhou nie. Skynbaar word hul lewe nie meer bepaal deur ’n verhouding met ’n God nie en hulle probeer op ander maniere sin maak van hul aardse bestaan.

Hoe en waarom het dit gebeur?

Die antwoord lê in die begrip “sekularisasie”. In die algemeen verwys dit na die geleidelike skeiding tussen die staat en die kerk in Wes-Europa sedert die 15de eeu.1 In daardie era het die magtige Rooms-Katolieke Kerk ’n bepalende rol in staatsake en die samelewing gespeel. In die vroeëre Europese samelewings het die heilige of sakrale – en daarom ook die kerk – ’n sentrale plek ingeneem. Die kerk se prominensie en beheer oor die samelewing het saamgehang met die feit dat

• hy die onverklaarbare dinge in die wêreld moes verklaar of verduidelik;

• God beskou is as die hoogste beherende mag en die kerk daardie funksie namens God uitgevoer het. Gevolglik was die kerk die hoogste gesag en was daar in baie lande ’n teokrasie; en

• hy ’n vertroostende gemeenskap aan mense voorsien het. In die kerk is mense opgeneem in ’n heilige gemeenskap waarin hulle versterking en bemoediging kon ervaar.

Intussen het dié funksies van die kerk grootliks verval of dit is deur ander instellings oorgeneem. Die kerk vervul byvoorbeeld nie meer ’n beherende rol in die samelewing nie, want die meerderheid van die Westerse state word deur politieke partye beheer. Demokratiese samelewings word vandag deur ’n grondwet gereguleer, eerder as deur die Bybel. Selfs die kerk se rol om ’n vertroostende gemeenskap te voorsien word in baie gevalle deur ander sosiale instellings oorgeneem. Mense vind sinvolle gemeenskap met ander by hul werk, rondom sport of stokperdjies, by klubs en deesdae natuurlik ook deur die sosiale media.

Die samelewing maak hom toenemend los van die eens noue identifikasie met godsdienstige instellings. Die sakrale maak plek vir die sekulêre. Talle mense wend hulle ook nie meer na die kerk vir ’n verklaring van dinge nie omdat hulle glo dat die wetenskap meer betroubaar is. Geestesiektes word byvoorbeeld nie meer verklaar aan die hand van een of ander duiwelse invloed of duiwelbesetenheid nie, maar eerder toegeskryf aan wetenskaplik verklaarbare chemiese en fisiologiese wanbalanse.

Die Christelike kerk ly dus aan funksieverlies. Gevolglik is die God wat met dié funksies van die kerk verbind is, ook deur talle mense “dood” verklaar.

Hiermee saam het ’n ewe drastiese omwenteling gebeur in hoe mense oor geloofsinhoude dink. Hulle aanvaar nie meer kerklike dogma kritiekloos nie en dinge wat eens taboe was, word nou sonder vrees verwoord. Mense is nie meer bang om te sê hulle glo nie in ’n hemel of ’n hel nie. Baie dink byvoorbeeld ook nie meer in terme van ’n wederkoms en ’n “wederopstanding van die vlees” nie en het die vrymoedigheid om dit te erken.

Al die konsepte wat te make het met wat ná die dood gebeur, pas nie meer in die hedendaagse geïntegreerde wêreldbeeld nie (ek keer later weer terug na die begrip van wêreldbeelde). Talle mense hervertolk dit dus metafories sodat hemel en hel nie meer na ’n spesifieke plek of bestaansruimte verwys nie, maar na ’n ongedefinieerde toestand van bestaan. Daar is baie mense vir wie dit selfs nie eens sin het om so metafories hieroor te dink nie. Hulle het skynbaar nie meer behoefte daaraan om duidelike konsepte te hê oor ’n lewe ná die dood nie en vind vrede in die onbekende en onbeskryfbare.

In die 20ste eeu het mense veral ná die twee wêreldoorloë met die kerk en die georganiseerde godsdiens ontnugter begin raak. Dit het grootliks in Wes-Europa en Brittanje tot wydverspreide sekularisasie van die samelewing gelei. Hoe dié proses in post-apartheid Suid-Afrika sy loop neem, sal ons nog moet sien. Maar wat wel klinkklaar is, is dat mense se verhouding met die kerk drasties verander.

Talle mense se verhouding met die Afrikaanse kerke het problematies geword as gevolg van die kerke se geskiedenis met apartheid. Die Nasionale Party-regering was hand op die blaas met die kerklike magstrukture. Die politieke magshebbers het sodoende teologiese regverdiging en kerklike sanksie ontvang vir ’n onderdrukkende beleid, terwyl die kerk daardeur meer politieke en openbare mag gekry het. Dit was vir die politieke en kerklike leiers van belang om die simbiotiese verhouding so lank moontlik aan die gang te hou. Dié noue verhouding tussen kerk en staat het gevolglik die sekularisasieproses in Suid-Afrika vertraag.

Ná die afskaffing van apartheid in die negentigerjare het daar ’n geweldige geloofwaardigheidskrisis in kerklike geledere ontwikkel. Dit was veral die sogenaamde Boetman-generasie wat hulself ontnugter en ontstoke op die kantlyn bevind het2. Hulle was nie net teleurgestel deur die politieke leiers van ouds nie, maar ook deur die kerk wat hulle mislei het deur teologiese regverdiging te verleen aan die stryd teen kommunisme soos dit gestalte gevind het in die Grensoorlog en vir die instandhouding van die apartheidstelsel.

Die ontnugtering met die kerk het weer gelei tot ontnugtering met die God van die kerk. Dit het ’n nuwe en bykomende mate van vervreemding en sekularisasie gebring.

’n Kerk wat sukkel om aan te pas

Sekularisasie is in baie gevalle ook die gevolg van die kerk se weerstand teen verandering. Dit gebeur maklik dat diegene wat tot ’n instelling behoort tot nuwe insigte kom en gretig is om te verander, maar dat die instelling vassteek by ou idees. Op dié manier ontstaan ’n gaping tussen die kerk en sommige lidmate, wat hulle dan toenemend verwyder laat voel van ’n instelling wat eens vir hulle ’n veilige hawe gebied het.

Die historikus Diana Butler Bass verduidelik die verskillende fases van die proses in haar boek oor die Amerikaanse Christendom, Christianity After Religion. Volgens Bass, wat spesialiseer in die geskiedenis van die Christendom, ontstaan daar aanvanklik ’n geloofwaardigheidskrisis wanneer individue nie meer die algemeen aanvaarde geloofskonsepte van ’n kerk of godsdienstige instelling kan goedkeur nie. Hulle begin dan om die ou leerstellinge en gebruike te bevraagteken, wat uiteindelik daartoe lei dat hulle probleme in die kerk begin ontdek.

As deel van die tweede fase dring die besef geleidelik deur dat hul “geloofsprobleme” nie soseer met tekortkominge aan hul kant te doen het nie, maar met die kerk of instelling wat nie meer doeltreffend funksioneer nie. Hulle begin dan soek na maniere om die ou strukture omver te werp.

In die derde fase begin hoëprofiel individue en groeperings ’n nuwe visie te verwoord en vra vir ’n ander verstaan van hulself, God, die kerklike praktyke en hul toekoms. Die nuwe konsep vind in die vierde fase ook gestalte in nuwe maniere van doen. Stadig maar seker ontwikkel ’n nuwe beweging.

In die laaste fase vind institusionele hervorming plaas wanneer die voorlopers daarin slaag om die groter groep onsekeres om te haal en die organisasie einde ten laaste verander.

Op politieke en staatkundige gebied het ons hierdie hervormingsproses gedurende die apartheidsjare feitlik net so sien verloop. Die Nasionale Party se beleid is geleidelik van buite en binne bevraagteken deur individue wat toenemend krities was oor die apartheidsbeleid. Nuwe idees oor hoe die land regeer moet word, het begin posvat en is mettertyd deur invloedryke individue verwoord. Die Nasionale Party het toe ’n drastiese verandering ondergaan nadat die meerderheid van sy ondersteuners oorreed is om ’n nuwe politieke bestel te aanvaar. Interessant genoeg sien ’n mens op die oomblik hoe dieselfde prosesse in die ANC begin afspeel.

Wat die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika betref, lyk dit vir my asof Bass se fase een tot drie reeds gebeur het, maar hier haak dinge vas. Fase vier – waar ’n nuwe verstaan van geloof gestalte moet kry in nuwe maniere van doen – gebeur nie tans nie. Die kerk is vasgevang in die rol van die bewaker van tradisie en vind dit skynbaar onmoontlik om aan te pas en die geloof werklik nuut te verwoord. Die breë kerklike instituut steek dus vas by ’n Sondag-geloof met die gevolg dat sommige lidmate eenvoudig aanbeweeg na ’n omgewing anderkant Sondag waar die kerk nie meer ’n rol speel nie.

Daar is natuurlik uitsonderinge, soos ds. Jaco Strydom se Echo Jeugontwikkeling in Pretoria, waar ’n gemeenskap van jong mense saamgebring is wat die basiese beginsels van Christenskap op ’n eenvoudige manier uitleef. Iets soortgelyks gebeur in Johannesburg met die bediening deur MES aan hawelose mense in die omgewing van Hillbrow en Doornfontein. Daar is nog baie voorbeelde van sulke inisiatiewe wat vir my ’n aanduiding is van die ontwikkeling van ’n anderkant Sondag-geestelikheid binne ’n tradisionele Sondag-omgewing.

Dit is egter veral Bass se vyfde fase van die hervormingsproses wat die meeste kerklike instellings laat struikel. Wanneer dit kom by institusionele hervorming, skop die kerk vas, al raak ál meer lidmate ontnugter deur verouderde en onaanvaarbare leerstellings. Die gaping tussen kerk en lidmaat word gevolglik net groter. Die kerk sal dalk een of twee stappe doen om te probeer hervorm, maar dan dikwels terugkrabbel om konserwatiewe lidmate tevrede te stel. Juis dit maak die kerk ál meer irrelevant in die oë van denkende en verligte gelowiges. Hulle verdwyn net eenvoudig van die kerklike radarskerm en die kerk gaan voort om ’n kleiner wordende groepie mense te voed met ’n ou spyskaart.

Dit is gevaarlik om sommer afleidings te maak van statistieke soos dié wat aantoon dat die NG Kerk die afgelope twee jaar ’n verlies van byna 50 000 doop- en belydende lidmate gely het. ’n Mens moet minstens erken dat dié verskynsel in ooreenstemming met ’n wêreldwye neiging is en ook in ooreenstemming met wat in die ander Afrikaanse kerke gebeur. Die statistieke moet verder ook verstaan word in ag genome dalende geboortesyfers onder Afrikaners, die grootste bron van lidmate vir die NG Kerk. Dit is met ander woorde moontlik dat mense nie noodwendig die kerk in groot getalle verlaat nie, maar dat natuurlike omstandighede die verliese kan verklaar.

Wat egter onweerlegbaar is, is dat ons leef in ’n tyd van individualisme en onverbondenheid. Die kerk speel nie meer so ’n belangrike rol in die samelewing soos twee dekades gelede nie en mense voel ook nie meer genoop om deel van ’n kerk te wees om te behoort of deur die samelewing goedgekeur te word nie. Mense het net nie meer daardie soort motivering om aan die kerk te behoort nie. Daarom is dit ook onwaarskynlik dat die groep vervreemde kerkmense nou ewe skielik in ander kerke sal opduik. Hulle sal eerder op ’n Sondagoggend in die winkelsentrums opgemerk word of by ’n kuier saam met vriende waar hulle na die krieket, gholf of ander sportgebeurtenis kyk. Die meeste sal nog ’n losse verbintenis met die kerk handhaaf en deelneem aan belangrike oorgangsrituele soos die doop, huweliksbevestigings en begrafnisse. Hulle sal selfs nog ingeskrewe lidmate wees, maar dit is nie meer vir hulle ’n sentrale saak wat hul lewens bepaal nie.

Die kerk kan geruime tyd al nie meer staatmaak op outomatiese bywoning of op ’n outomatiese gesagsposisie nie. As hy aanhou om die ou spyskaart op te dis – dit wil sê, volhou met kerklike retoriek wat nie meer toepaslik is vir ons tye nie – of voete sleep oor dinge soos Belhar, gays en die duiwel, sal hy lidmate op groot skaal begin verloor. Hulle sal nie meer met die instelling geassosieer wil word nie. Wanneer die kerk nie aanpas of sy boodskap meer toepaslik maak nie, loop hy gevaar om uitgedien te raak en van die toneel te verdwyn.

So was daar byvoorbeeld ’n dominee wat op die Sondag ná oudpres. Nelson Mandela se dood in sy preek geen verwysing na die persoon van die oudpresident gemaak het nie. Hy het eerder gefokus op die fiasko rondom die gebaretaaltolk by die gedenkdiens in Johannesburg wat vir hom ’n teken is dat Suid-Afrika op die afdraande pad is.

Hoewel die dominee heeltemal verstaanbare taal gebruik het, was sy preek onvanpas. Hy was onsensitief vir die geestelike behoeftes van die gemeente en gevolglik het sy teologiese taal ver tekortgeskiet. Aangesien sy boodskap in die konteks nie veel sin gehad het nie, het hy die kerk as’t ware ontoepaslik gemaak.

Die dominee het die geleentheid om ’n bepaalde rol te vervul deur sy vingers laat glip omdat dit vir hom belangriker was om ’n persoonlike, politieke standpunt oor te dra.

Toetsgeval: Die kerk en twyfelvrae

Die debakel om die NG Kerk en die Woordfees-gesprekke op Stellenbosch in 2013 is ’n goeie voorbeeld van kerklike retoriek wat myle van mense se belewenisse verwyder is. Die Kerkbode sou van die gesprekke by die Woordfees, wat oor dringende geloofsake sou handel, borg. Die gesprekke is beplan en gereël deur Jean Oosthuizen, wat toe nog nuusredakteur van die Kerkbode was. Dit het beloof om buitengewoon te wees. Die doel was om ruimte te skep vir die soort vrae en kwessies waaroor talle gelowiges twyfel en te soek na antwoorde wat verder gaan as die ou retoriek en gevestigde idees.

Die gesprekstema het egter groot teenkanting uit sekere geledere ontlok omdat dit kwansuis te krities was oor die kerk en geloof. Die uiteinde was dat Oosthuizen afgedank is by die Kerkbode omdat hy die gesprekke begin het en daarmee wou voortgaan.

Op 13 Maart van daardie jaar het die NG Kerk se moderamen ’n verklaring uitgereik wat onder meer lui: “Die kerk het ’n bereidwilligheid tot oop gesprek. Die kerk kan egter moeilik gesprekke borg waarvan die aanduidings daar is dat die gesprek die kernbelydenis van die kerk in die gedrang gaan bring en groter twyfel by mense gaan saai. Die kerk begelei mense nie na twyfel nie, maar deur twyfel na geloof. Dit is ons roeping. Die kerk is nie teen ewewigtige gesprek nie.”

Die verklaring dra swaar aan die kerk se teologiese bagasie oor kwessies soos geloof, sekerheid en twyfel. Dit is so tipies van die Sondag-geloof dat ek eers ’n oomblik daarby moet stilstaan. Die verklaring bring allerlei vrae na vore, onder andere oor die skynbare of werklike openheid binne kerklike geledere vir gesprek met andersdenkendes of twyfelendes. Dit wek die indruk dat die kerk enersyds oop is vir ’n kritiese gesprek, maar andersyds terugdeins vir sekere aspekte daarvan.

Die gesprek mag oënskynlik nie die “kernbelydenis” bevraagteken nie. Wat sou dit wees? Volgens wie se besluit en interpretasie is wat presies die kernbelydenis? In die Nuwe-Testamentiese tyd was die belydenis bloot dat Jesus die Here is. Maar wat sou dit in 2013 volgens die Moderamen van die NG Kerk wees? Duidelik het hulle meer in gedagte as net die basiese belydenis van eenvoudige geloof. Dit lyk asof die kerkleiding voel daar mag oor randsake getwyfel word, maar nie oor wesenlike sake nie. Dit spreek van ’n kerk wat dink dat lidmate van hom verwag om sterk op te tree en die ongeloof te besweer. ’n Kerk wat skynbaar net een belang het en dit is die beskerming van die instelling, al is dit met swak teologie.

Wat gebeur dan wanneer mense wel oor die sogenaamde kernsake twyfel? Moet sulke twyfel dan deur sterk verklarings besweer word?

’n Kerk wat alles wil beheer en twyfel probeer besweer met verklarings, is ’n handboekvoorbeeld van waarheen die Sondag-godsdiens ’n mens neem. Is dit omdat hy nie in staat is om verandering of enigiets wat die gebaande weë uitdaag, te omhels nie?

Wanneer dit kom by kwessies soos hemel en hel (wat waarskynlik by die Woordfees bespreek sou word) en konsepte wat die tradisionele verstaan van sonde, straf, verlossing en ewige saligheid vergestalt, raak die kerk bang vir die oop gesprek. Met ander woorde, die posisie is “ja” vir oop gesprek, maar net solank dit nie ons gevestigde verstaan van sake uitdaag nie.

Dít is tog geen “oop” gesprek nie! Dit is ’n geslote gesprek waarvan die grense vooraf afgebaken is. NP van Wyk Louw het die term “Die oop gesprek” geskep en daaroor gesê: “Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders dink as jy nie – wat ander dele van die eindelose rykdom van die waarheid tot hul besit gemaak het …”3

Dit is nogal ver verwyderd van wat die NG Kerk met ’n oop gesprek in gedagte het. ’n Mens kan nie ’n oop gesprek hê en tegelykertyd teenstrydige stemme wil smoor nie. As die NG Kerk dit wil doen, moet hy liewer heeltemal wegbly van ’n plek soos die Woordfees. Jy kan nie aan die een kant die indruk probeer wek dat jy ’n eerlike, luisterende gespreksgenoot is en aan die ander kant ontslae raak van die alternatiewe stem in jou midde en Oosthuizen se kop laat rol nie. Die oop gesprek verg juis ’n opregte luister na en ’n ware, doelbewuste omgaan met nuwe konsepte.

Dit is nie die eerste keer dat die leiers van die NG Kerk hulle probeer skaar aan die kant van die oop gesprek nie. In Mei 2009 het Beeld berig oor ’n byeenkoms van die destydse tien moderators van die NG Kerk en ’n verklaring wat deur hulle uitgereik is. Die moderators het toe ook gesê meningsverskil in ’n kerk is ’n goeie ding. Dit help om die kaf van die koring te skei. “Sonder so ’n robuuste onderskeidende gesprek kan ’n kerk nie werklik teologie bedryf nie.”4 Toe het dit gegaan oor ’n voortgaande gesprek rondom die opstanding van Christus en die verskillende sieninge daarvan.

Uiteenlopende standpunte oor belangrike kwessies bly skynbaar vir die kerk ’n moeilike saak om te hanteer. Die kerk gee voor dat daar ’n openheid vir verskeidenheid in eie geledere is, maar daar is ’n skynbare onvermoë om werklik in die gees van Van Wyk Louw te luister na dié wat “totaal anders dink” en anders praat as wat die kerk tradisioneel glo en bely.

Volgens die lineêre denkmodel waarmee hier gewerk word, is twyfel en geloof twee uitsluitende en teenoorstaande posisies. Óf jy glo óf jy twyfel. Volgens die Moderamen se Woordfees-verklaring is dit die kerk se taak om mense deur twyfel na geloof te begelei. Geloof staan egter nie teenoor twyfel nie.

In plaas daarvan om ’n soort kliniese, twyfelvrye geloof voor te hou as die ideaal, moet die kerk mense eerder help om in groter eerlikheid met hul geloofslewe om te gaan. Die kerk behoort lidmate te begelei tot die eerlike verwoording van hul diepste ervaring van menswees. Die tyd van reg of verkeerd glo bestaan nie meer nie.

Tog kry Christelike kerke wêreldwyd dit skynbaar reg om steeds ’n noemenswaardige rol te speel en voort te bestaan. Vir ’n groep mense, in sommige samelewings die meerderheid, speel die kerk steeds die rol van die instelling wat verklaar, beheer en ’n gemeenskap voorsien. Die bedoeling van dié boek is ook nie om die kerk vir sulke mense te diskrediteer nie. Ek is ook dankbaar vir aanduidings dat sekere kerke hard daaraan werk om ’n nuwe identiteit te ontwikkel en om hulself te herskep om ’n nuwe rol in die samelewing te vervul.

Ondanks goeie pogings van die kerk se kant, is daar steeds ’n groeiende groep mense wat hulself toenemend “anderkant Sondag” bevind en wat skynbaar nie meer bereid is om die kerk te verdedig nie of selfs ’n kans te gee nie. Gelowiges wat hulself as post-kerklik sal beskryf, individue wat nie meer geraak voel deur kerklike retoriek nie en vir wie die kerk eintlik irrelevant geword het.

Hoewel hulle post-kerklik is, het hulle egter steeds erns met hul geloof.

Ek glo as die Christelike kerke voortgaan om ’n oorvereenvoudigde boodskap te verkondig wat van lidmate verwag om twyfel agter te laat en ’n soort onbevlekte geloof te hê, gaan die stroom mense wat stilweg verdwyn en die kerk nie meer ernstig neem nie, net vergroot. As die kerk dit nie gaan regkry om self ’n bietjie na die anderkant van Sondag te beweeg nie en gaan vassteek by die tradisionele rigiede hantering van twyfelvrae, gaan meer en meer lidmate die kerk uit radeloosheid verlaat. Kortom, die kerk sal homself ook buite die kerk moet ontdek en leer om dáár te funksioneer, anders gaan hy terminaal siek word.

Die navorser Alan Jamieson beskryf gelowiges wat hulle anderkant Sondag bevind as “disillusioned”.5 Hy haal een so ’n ontnugterde persoon aan: “I’m a lot more hesitant now, because I don’t know what’s right and wrong any more. When I was in church and doing all the churchy things I felt I knew the answers to everything. There was always an answer and always a way of looking at things. Things were very black and white in those days. Now I feel that I don’t know the answers to anything. I know there’s a God but that’s about all I know.”

Dié “leavers” of kerkverlaters is nie langer met oppervlakkige antwoorde tevrede nie. Die “don’t know” wat deur hulle uitgespreek word, is eerder die gevolg van nuwe ontdekkings en insigte as wat dit die gevolg is van ’n onbelangstellende nie-weet. Die blootstelling aan die wyer wêreld en die ontdekking van wetenskaplike insigte maak net dat hulle nie meer met die kluitjie in die riet weggestuur kan word nie. Hoe dieper dié gelowiges delf, hoe meer bewus raak hulle van die ingewikkeldheid van die werklikheid, ook die geloofswerklikheid.

Waar die Sondag-geloof goed gestruktureerd is en ’n bekende omgewing bied danksy vaste rituele, ’n bekende taal, kerklike instellings en ander godsdienstige praktyke, wag daar grootliks ’n onbekende woesteny op diegene aan die anderkant van Sondag. In dié onbekende geestelike landstreek is geen definitiewe aanwysers nie. Ek gaan egter probeer aandui hoe so ’n geestelike omgewing kan lyk en wat gedoen moet word om gestalte te gee aan geloof anderkant Sondag.

SONDAGANDERKANT SONDAG
Kerk onder druk weens sekularisasie.Kerk is buigbaar en oop om veranderinge in die samelewing te hanteer.
Gaping tussen kerk en lidmate.Kerk ten nouste ingestel op behoeftes van sy lidmate.
Kerk probeer mag behou.Kerk bepaal hom by bediening, eerder as by sy posisie in die samelewing.
Geslote “oop gesprek”.Ware “oop gesprek”.
Óf geloof óf twyfel.Geloof en twyfel in harmonie met mekaar.
Geloof anderkant Sondag

Подняться наверх