Читать книгу Verliesfontein - Karel Schoeman - Страница 4

Fouriesfontein

Оглавление

Die verlede is ’n ander land: waar is die pad wat soontoe loop?

Hoe moet mens begin? Teoreties is die moontlikhede onbeperk, en die verbeelding aarsel, oorweldig deur die oorvloed wat hom aangebied word. Beter is dit miskien om die vraag op meer konkrete en spesifieke wyse te herformuleer en te vra wáár mens moet begin. By die onthulling, die bevryding, die besetting; by die inval van die Vrystaatse kommando’s in die Kaapkolonie, die proklamering van krygswet of die uitbreek van die oorlog? Hoe ver moet mens terugstaan en hoe wyd is die blikveld wat nodig is om die terrein na behore te oorsien en sy topografie te begryp? By die stigting van die dorp wat beset is, of nog verder terug: by die koms van die trekboere ten behoewe van wie dit gestig is, die handjievol nomade wat hulle met hul skaaptroppe by die seldsame fonteine gevestig en geleidelik ’n sekere welvaart ontwikkel het, niemand in daardie geweste méér nie as die Fouries van Verliesfontein?

Dit is aan ’n grootskaalse verlies van skape dat hierdie naam deur die plaaslike oorlewering toegeskryf word, sy dit as gevolg van siekte, droogte of ’n geslaagde roofoorval deur die Boesmans wat in die klipperige rante van die geweste geskuil het, alhoewel ’n meer oorwoë en beter beredeneerde mening wat hom op argivale navorsing en eietydse verslae van veldkornette beroep, verwys na ’n neerlaag wat die intrekkende boere gely het toe hulle die besit van die betrokke fontein met die Boesmans betwis, en tydelik moes terugval voor die verbete verset en swermende gifpyle wat hierdeur uitgelok is. Is dit dus nog verder terug dat mens moet gaan om te kan begin, om te kan verstaan: na daardie onbeskrewe eeue wat slegs aan die hand van toevallige restante herkonstrueer kan word en dan ook net gedeeltelik –pylpunte, krale, rotstekeninge onder oorhangende kranse en dieregebeente wat in die afvalhope van rotsskuilings bewaar is? Dog hoe dan ook, die fontein is van hulle herower en sy besit voorlopig verseker: die boere met hul perde en gewere het tydelik geseëvier, die jagters, skilders en stryders is verdrywe, in die kranse en klowe agtervolg en afgemaak, en die oorlewende vroue en kinders is onder die lede van die kommando’s uitgedeel as knegte. Ook die Fouries van Verliesfontein het hul regmatige aandeel bekom.

Mens sou natuurlik kan vra of dit werklik nodig is om so ver terug te gaan, en indien wel, of dit nodig is dat hierdie dinge alles gesê word. Is daar nie reeds genoeg gesê of selfs te veel nie, met die gevaar dat die begin van die eintlike storie onnodig vertraag word? Dog op ’n ander vlak sou mens ewe goed kan redeneer dat daar tot dusver nog altyd te min gesê is, sóveel van wat eens hier gebeur het verdring, verswyg of ontken dat insig en begrip bykans onmoontlik geword het. In hierdie halflig waar die onbeskrewe verlede onduidelik in pylpunte, krale en die skaars ontsyferbare hiërogliewe van veldkornette gestalte begin kry, vind mens miskien die mees geskikte aanvangspunt vir die navertel van ’n verhaal wat na regte geen begin en geen voorsienbare einde het nie: met die Fouries op Verliesfontein, hul opstal en skaapkrale naby die oog, hul kuddes, hul Basterknegte en Boesmanskaapwagtertjies.

Onder die veldkornette van hierdie wyk en die ouderlinge en diakens van die verre gemeente op Stellenbosch en later op Worcester het die name van opeenvolgende generasies van Fouries sedert die einde van die agttiende eeu voorgekom, en toe die boeregemeenskap van die geweste so talryk en stabiel geraak het dat hul geestelike behoeftes noukeuriger aandag verg, was dit op Verliesfontein dat die eerste dienste teen die middel van die negentiende eeu deur besoekende predikante waargeneem is. Braam Fourie van Verliesfontein was op hierdie tydstip sowel ouderling as vrederegter, en met sy dood het sy ampte, sy rykdom, sy aansien en sy ambisie as vanselfsprekende erfenis op sy oudste seun Herklaas oorgegaan. Toe daar in 1883 tot die stigting van ’n gemeente en die oprigting van ’n kerkgebou besluit is, was Herklaas Fourie invloedryk genoeg om te bewerkstellig dat dit op sy plaas sou gebeur, en vermoënd genoeg om die eenvoudige grasdakgebou vir eie rekening te laat oprig. Dit kon in hierdie omstandighede nouliks anders as dat die dorp wat rondom die kerk uitgelê is na hom vernoem sou word en die naam Fouriesfontein sou kry, en hier het hy vir hom die grootste en opvallendste huis in die gemeenskap laat bou en afgetree om van sy rente te lewe: sy dogters was almal goed getroud, en sy seuns het elkeen sy eie plaas gehad en selfstandig geboer, Abraham Fourie op Vaaldam naby die nuwe dorp, en Jacob op Reigersfontein so ’n tien of twaalf myl daarbuite, wat destyds as een van die spogplase van die distrik bekendgestaan het.

Waar skaaptroppe gewei het, het daar in minder as twintig jaar ’n dorp tot stand gekom met ’n magistraat, ’n pos- en telegraafkantoor, ’n bank, ’n hotel, twee kerke en ’n skool, deur ’n poskar verbind met die treinspoor agttien uur ver. Die oumense het egter nog altyd van Verliesfontein gepraat.

Deur ’n besoekende fotograaf is die dorp vroeg in die negentigerjare vasgelê met jong tuine en vrugteboorde rondom die grasdakkerk, terwyl ’n foto wat kort voor die oorlog geneem is perdekarre toon wat op die markplein saamgeskaar staan voor ’n nuwe wit kerkgebou: Herklaas Fourie het die orrel en die metaalrelings vir die ringmuur aan die gemeente geskenk. Deur die aanwesigheid al dan nie van hierdie aansienlike bouwerk, in die neo-Gotiese styl ontwerp deur ’n bekende argitek uit Kaapstad, en bowenal deur sy triomfale toring, wat van oor ’n groot afstand sigbaar was, is dit moontlik om die oudste foto’s van Fouriesfontein by benadering te dateer. Op ’n reeks poskaarte wat een van die ondernemende winkeliers op die dorp vroeg in die nuwe eeu laat uitgee het, is die aansienlikste geboue van die klein gemeenskap voorts ook vasgelê: magistraatskantoor, Dutch Church, English Church, hotel, gevangenis en skool. Sover bekend, is daar geen foto’s wat die interieurs van magistraatskantoor, winkels of woonhuise toon nie.

Die bevolking van die dorp het teen die eeuwisseling 986 mense bedra – in die terminologie van die tyd 483 blankes, 321 Hottentotte, 87 Kaffers en Betsjoeanas, en 87 ‘gemengd en ander’. Volgens die adreslyste moet ongeveer twee derdes van die blankes Hollandssprekend gewees het, alhoewel die meeste amptenare en professionele mense soos die magistraat, skoolhoof, bankbestuurder, posmeester en distriksgeneesheer Engels was, en daar was drie Joodse winkeleienaars met hul gesinne. Ook hier kan foto’s ’n sekere uitkoms bied en ’n benaderde raamwerk verskaf, portrette van mense selfbewus, protserig, agterdogtig, skaam of ongemaklik in ’n fotograafsateljee opgestel, vroue met hoede, kinders in matroospakkies en knoopsteweltjies, ’n man in polisie-uniform, jong mans met fietse of in tennisklere of ’n enkele jong man glimlaggend waar hy skrylings op ’n stoel die kamera betrag. Sommige van hierdie portrette is geïdentifiseer, terwyl ander weer voorsien is van name wat niks meer beteken nie, dog die meeste van diegene wat op hierdie wyse verewig is, is naamloos en sonder geskiedenis, vergete asof hulle nie eers bestaan het nie: ‘Ek het geleef,’ fluister hulle teen die stilte in; maar wie is daar wat hoor? En elders, in die dorpsmuseum miskien, in die konsistorie, in laaie of op solders, is daar verdere foto’s wat moontlik Fouriesfontein voorstel of anders so goed moontlik daarvoor moet instaan, of ander fragmente waaruit mens gissend en tastend ’n soort legkaart van die verlede sou kan saamstel; dog waar daar stukkies ontbreek, moet jy by gebrek aan die inligting wat hulle moontlik sou kan verstrek maar probeer regkom met die afleidings wat aan die hand van hul omtrekke gemaak kan word.

’n Bybelteks, ’n skoolrapport, ’n sertifikaat; ’n pas of permit uit die oorlogstyd: ‘Pass the bearer . . .’. Die stemme fluister, ruis en sterf weg in die omringende stilte, nouliks nog waarneembaar; jy tas in die donker verder, en maak uiteindelik jou oë toe om noodgedwonge die desperate sprong in die duister te waag. Vloerplanke wat kraak, ’n laai wat toegestoot word, die gerinkel en gerammel van ’n geelkoperledekant. ’n Kombuistafel waar kinders saam by die lig van ’n enkele vetkers elkeen ’n sny gesmeerde brood vir hul aandete kry, twee wit seuns en ’n bruin seun saam by die tafel in die kerslig. Wat nog? Riempiestoele, ’n bank, ’n meelkis? By die lig van daardie enkele flakkerende kersvlam is dit nie moontlik om detail uit te maak nie. ’n Paar prente uit een of ander geïllustreerde tydskrif aan die muur vasgespeld, die ou Engelse Koningin, ’n glimlaggende dame uit ’n advertensie, kleuters onder die vleuels van hul skutsengel? Wie weet? Jy knyp jou oë toe, spring en raak geen grond nie, swewend deur die donker. ’n Sweepslag, die klank van ’n sweep – wie weet nog hoe ’n sweepslag klink? Die walmende paraffienlamp wat vinnig laer gedraai moet word en die verrookte skoorsteen wat soggens skoongemaak word wanneer die lampe gevul word. Die kers wat doodgeblaas word deur ’n skielike windvlaag langs die gang. Die geur van koffie wat gebrand word of brood in die bakoond, van kwepers wat gestowe word, die geur van rose in die nag en die deurweekte aarde na die reën, die reuk van ongewaste liggame, die reuk van sweet, die stank van krale en stalle en gemakshuisies in die hitte, die sloot anderkant die bloekombome by die lokasie waar die bruinmense gegaan het om hul gevoeg te doen. Toe-oog spring jy, swewend in vrye vlug deur die donker van die verlede sonder om te weet wat jy sal ontdek.

Stukkies van die legkaart ontbreek na soveel jare onvermydelik en sal nie teruggevind word nie, dog dit is volledig genoeg om die geheelbeeld of -patroon uitkenbaar te maak. Daar lê die dorpie dus rondom die nuwe kerkgebou met sy baksteenmure en afgewitte mure, sy sinkdakke en gestreepte veranda-dakke, sy stofstrate en leë markplein, sy vrugteboorde en bloekombome, die lokasie eenkant, die begraafplaas hoër op, en die dorpsdam met sy wilgebome nét nog sigbaar aan die rand van die panorama om die ligging van die oorspronklike fontein aan te dui, die wye veld rondom uitgestrek, wagtend.

Hiér is tog seker die aangewese plek om stelling in te neem vir ’n verhaal wat oor die oorlog handel, op een van die punte waar ’n besoekende fotograaf rondom die eeuwisseling sy statief opgestel het (’n handlanger het die verdere toerusting agter hom aan gedra). Dog ’n honderd jaar later is geen aanname van hierdie aard meer eenvoudig en vanselfsprekend nie, want te duidelik het mens intussen van ander moontlikhede bewus begin raak. Daar bestaan ook ander punte waar jy stelling sou kan inneem ten einde die oorsig te verkry wat vir hierdie verhaal nodig is: die perspektief wissel, die middelpunt van die beeld word verskuif en die landmerke verander hul onderskeie posisies, sodat ook hul onderlinge verhoudings ’n subtiele wysiging ondergaan. Die wit ringmuur van die begraafplaas lê nog as ankerpunt op ’n afstand teen die hang van die rant, maar die dorp self is niks meer nie as ’n lae ry bome in die verte, die kerktoring onsigbaar; was dit nie vir die ringmuur sou mens waarskynlik nie eers besef dat dit Fouriesfontein is nie. Dit is die dorp soos dit uit die lokasie gesien is, tussen vuurlig en waaiende rook, die stemme van vroue en van kinders, die geblaf van honde. ’n Doodkis wat in die werkswinkel van ’n skrynwerker op bokke staan en wag om voltooi te word. ’n Wasbalie aan die spyker teen die muur langs die voordeur. ’n Wasplank. Timmermansgereedskap.

Die rook waai yl voor jou uit en in die dalende skemer is net nog die verspreide vuurtjies van doring- en harpuistakke sigbaar, sodat jy met hande tastend voor jou uitgestrek jou pad moet soek sonder om te weet waarheen dit jou lei of hoe ver jy dit moet volg. Terug na daardie pylpunte en krale, die beendere van springbok, steenbok en eland, die beelde teen die rotswand in oker, roeskleur en wit? Mistroostig word die rook opgewaai en dwarrel stof, takkies, dooie blare en as deur die lug, sodat die uitsig vertroebel. Stof, takkies en as, ’n handvol gruis, ’n handvol bene of krale is al wat behoue gebly het om as basis vir die herwinning van hierdie verdere verlede te dien, sodat die verbeelding hom hier nog meer as elders moet inspan. Hoe ver kan mens gaan; hoe ver is dit toelaatbaar om te gaan? Die geroep van die jagters tussen die klipperige rante, die geluid van musiek en gesang by vuurlig of maanlig, die geklap van skote wat in die klowe weerklink en ’n vrou wat ’n huilende kind onder ’n bebloede karos verberg, vroue en kinders wat te voet voor die waens uitgejaag word (aan den burger Kowis Fourie, 2 vrouwen en 3 klijne Bossimans). Was dit by benadering hoe dit was; is dit meer as die waarheid, of skiet dit daarenteen te kort as poging om die onverwoorde en onverwoordbare ervaring te beskryf? Die rook waai op, waai uit om die uitsig te verteken, en in die halflig kan nouliks meer as buitelyne nog uitgemaak word. In verslete karosse en ou komberse hurk mense om ’n vuurtjie van doringbostakke, koes agter ’n skerm van opgehoopte takke teen die skraalheid van die wind, hul gelaatstrekke oor die afstand onherkenbaar. ’n Kind wat skape oppas. ’n Man wat besig is om osse te leer, ’n man wat besig is by die breipaal; ’n seun wat leer om ’n perd te beslaan of planke te saag. ’n Man in ’n verflenterde, afgedankte baadjie, tuisgemaakte velskoene aan sy voete. Vroue met kopdoeke laag oor hul oë vasgebind; ’n jong vrou in ’n kappie met valletjies en plooitjies. Die kers, die vuur vlam op en verlig vir ’n oomblik hul gesigte, die rumoer van beskonke stemme wat verward in die nag skreeu en die eentonige gepluk aan ’n ramkie, die getreur van ’n trekklavier, die eentonige gesaag op ’n viool. Kortstondig spring die rokerige kersvlam op en verlig die gesigte van die mense wat vir ’n diens vergader het, en die rukkerige ritme van ’n Nederlandse gesang klink uit die nag, vermeng met die geblaf en getjank van rondloperhonde. Is dit reg? Hier is daar nog minder kans op oorblyfsels, rekords of getuienis as elders, tastend deur die donker waar die waaiende rook jou oë verblind en jy by onsekere kerslig die gelaatstrekke moet probeer uitken. Wie weet nog wat dit beteken om by kerslig te moet lewe?

Tuur in die vuurlig, die kerslig, die halflig, in die dowwe skynsel van die sterlig, want dit is al wat jou ter beskikking staan. Die onvoltooide doodkis op bokke in ’n skrynwerkerswinkel; die timmermansgereedskap. Die strikkie of rosetjie van ’n afskaffersgenootskap of die uitgerafelde en verkleurde serp van ’n ampsdraer. Die kontribusielys van een of ander hulpvereniging, die ledelys van ’n Bybelstudiegroep, die presensielys van ’n Sondagskool, of ’n klasregister, Teacher Miss M.M. Colefax. Hoe lank moet jy soek, hoe diep moet jy grawe, in die los grond, tussen die gruis en die klippies? Hier is daar geen sprake of selfs skynsel van ’n legkaart meer nie: hier is dit hoogstens fragmentjies wat jy nog kan hoop om aan te tref, skilfertjies erdewerk of porselein of brokkies gekleurde glas. Hoe diep moet die voor gegrawe of die skag gesink word om iets te vind, hoe lank moet die sand gesif word voordat jy tussen klippuin, gesteente gruis en molm afkom op ’n splintertjie hout of ’n stukkie sening wat nie vergaan het nie, ’n stukkie geslypte been wat nog uitkenbaar is, die verspreide restante waaruit (wie dink nog aan legkaarte?) die begrafnis herkonstrueer moet word wat eens hier plaasgevind het, die lyk, die lykkleed en die beklede kis, die sang om die graf, die woorde van die prediker en die gesnik van die vroue en kinders, die hele menselewe waarvan daar slegs ’n naam en ’n verkleurde lintjie oorgebly het, ’n beenfragment en ’n splintertjie hout?

Waar moet jy stelling inneem om die oorsig te verkry wat nodig is ten einde te kan begin? By die begraafplaas miskien, teen die hang van die rant bokant die dorp; op die afgewitte ringmuur miskien. Die urne, suile en engele lê binne die ommuring agter jou, en by jou voete strek die grondhope en kliphope van die kleurlinggrafte uit na die sanderigheid van die omringende veld met sy lae bossies wat wag om hulle te oordek. Voor jou op ’n afstand van jou uitkykpos lê die hutte van die lokasie laag weggeduik op die vaalheid van die veld, die takke, riete, goiing en klei waarvan hulle opgerig is nouliks daarvan onderskeidbaar, die bloekomlaning, die tronk met sy hoë, blinde muur, en die bome en blink silwer dakke van die dorp rondom die kerktoring. Is dit beter? As jy moes probeer om verder terug te staan, sou die vaal huisies van die lokasie uit die geheelbeeld verdwyn, nog verder en die wit ringmuur van die begraafplaas sou nie meer sigbaar wees nie en selfs die helder kerktoring sou wegval, Fouriesfontein ’n blote donker lyn bome oor die dynserigheid van die horison dwarsoor die pad tussen Kromburg en Donkerpoort.

Hoe ver is dit nodig om te gaan; hoe naby is dit moontlik om te kom? Op vrae soos hierdie is daar egter geen pasklaar antwoord nie, en slegs proefondervindelik kan mens iets uitwerk wat by gebrek aan alternatief as antwoord sal kan dien. Met jou oor teen die grond gedruk probeer jy die gedreun van verre perdepote opvang, oor teen die deurpaneel gedruk, moet jy die gesprek in die kamer daarbinne probeer volg. Hoe naby kan jy kom? Buk oor die spore van perde in die stof of die vars skaafsels onder die werkbank, vou die verkleurde papier oop en lees die woorde wat in verbleikte ink geskryf is. ’n Afgrond skei jou van daardie verre werklikheid, dog afgronde is oorbrugbaar wanneer die pad eenmaal gevind is; ’n glaswand skei jou onverbiddelik van die wêreld wat voor jou oë uitgestrek lê, dog onder jou tastende handdruk kan dit skielik kraak en splinter soos ys. Verbaas en nie sonder ontsetting nie merk jy hoe die spinnerakpatroon van barste oor die gladde vlak uitsprei en die skerwe tril, los raak en geluidloos deur die donker tuimel, om net die leë raam oor te laat waardeur jy kan binnetree sonder om ag te slaan op die enkele splinters wat nog daaraan kleef of jou aan hul skerpheid te steur. Hiér kan jy begin.

Verliesfontein

Подняться наверх