Читать книгу Verliesfontein - Karel Schoeman - Страница 5

Aankoms

Оглавление

Die teerpad strek reguit uit en verdeel die effenheid van die veld in twee gelyke helftes; die ylverspreide koppies versteur nouliks die vaal, wye golwing. Daar is niks om te doen nie behalwe om die kilometertekens af te wag soos hulle met lang tussenpose een na die ander verskyn, van op ’n afstand reeds leesbaar, en verbyflits: Fouriesfontein 60, Fouriesfontein 50, Fouriesfontein 40. Ander padtekens het ander naderende dorpe aangekondig wat met kerktoring, bome en dakke laag teen die horison verskyn het soos belowe, om uiteindelik vergestalt te word in ’n vulstasie, ’n padkafee, koerantplakkate en ’n blêrende transistorradio. Daar is stilgehou en petrol gekoop, koeldrank gekoop of iets om te eet, en doelgerig maar met gestadig kwynende begeestering navraag gedoen na die munisipale kantoor, die kerkkantoor of die bejaardetehuis, of by gebrek aan inligting of leiding in die hitte, stof en verslaenheid gesoek na die gedenkwaardighede wat na bewering hier aanwesig is. Vroeër of later word die soektog gewoonlik wel beloon en een of ander iets opgespoor, ’n monumentjie, ’n grafsteen of gedenkplaat, of miskien as mens gelukkig is ’n ou man met fluitende stem êrens in ’n kamer wat verdonker is teen die gloed van die dag. Die nodige foto’s word geneem of ’n bandopname gemaak, besonderhede word opgeteken, en dan keer hulle met verligting terug na die beskutting van die lugverkoelde kar met sy getinte vensterruite. Gedurende die afgelope week of twee het die kar ’n wykplek geword en die beknopte ruimte veilig en vertroud in die vreemde, afsydige en soms ook agterdogtige wêreld van die platteland, en hulle het geleer om tuis te voel tussen die rommel van papiere, koerante, koeldrankblikkies, kamera-onderdele en leë filmhouers wat hulle met hul saamdra, deur die getinte ruite geskei van die dorpstrate en vaal landskap wat verbygly sonder om hulle te raak en kilometer na kilometer soos die reëlmatige afstandtekens agter hulle verdwyn, genadiglik afgehandel. Fouriesfontein 40. Fouriesfontein 30.

Hy blaai deur die lêer met inligting oor Fouriesfontein. ‘Onbesliste veldslag (skermutseling?), Feb. 1901, 22 km suidoos van dorp’ lees hy voor. ‘Slag van Vaalbergpas (?). Verskeie oorvalle deur Boere-kommando’s in distrik tot einde van oorlog. Graf G.F. in begraafplaas op dorp; oorlogsgedenkteken.’

Eddie gee geen blyk of hy gehoor het nie, sy oë op die reguit pad voor hulle. Hy is gehuur om foto’s te neem en vervul daarnaas ook die rol van motorbestuurder, verpligtings wat hy professioneel maar sonder merkbare geesdrif of selfs betrokkenheid nakom: die fotografie is sy lewe, maar van die Anglo-Boereoorlog weet hy skaars iets en wil hy kennelik ook niks meer uitvind nie, en as stadsmens is die platteland vir hom onbekende en onbekoorlike terrein. Dit wat hom buite sy werk interesseer, is die dorpshotel aan die einde van elke dagtog, die kroeg, die jongste kriekettelling, ’n bier of twee en ’n aand voor die televisie. Êrens is daar ’n vrou en ’n jong gesin met wie hy elke aand lang telefoongesprekke voer, êrens op die agtergrond is daar ’n voorstedelike huis, ’n swembad en ’n elektriese grassnyer, en dit is al wat hy oor Eddie uitgevind het in die bykans twee weke dat hulle in verdraagsame stilswye die beknopte ruimte van die motor deel en langs die strate van stowwerige dorpe ronddwaal.

Fouriesfontein, dink hy by homself terwyl hy verder deur sy aantekeninge en fotokopieë blaai; en daarna? Hy is nie meer seker nie. Fouriesfontein vanmiddag, die graf en die gedenkteken afgehandel, die toneel van die skermutseling moontlik besoek indien dit belofte inhou, en hopelik sal hulle vroeg genoeg kan wegkom om nog op die volgende dorp op hul roete te kan oornag. Elke besoek word langer uitgerek as wat moontlik geag is toe die reisplan opgestel is: gedenktekens het verdwyn tussen bome en struike waar geen daglig deur dring nie, het toegebou geraak, het gekraak, gebars en van hul voetstukke getuimel, het soek geraak of verdwyn, inskripsies het onleesbaar geword, mense verskil van mening oor die ligging van ’n slagveld of ’n plaas, stry met mekaar oor aanwysings, ’n adres of ’n telefoonnommer, soek na sleutels wat nie opgespoor kan word nie of bel kennisse wat blyk nie by die huis te wees nie; ou mans begewe hulle op onsekere bene tussen die verweerde stene van begraafplase, struikelend oor klippe, onkruid en verroeste metaalkranse, raak verward in hul herinnerings en weerspreek hulself terwyl hulle driftig maar uiteindelik ondoelmatig dui op koppies of die loop van ’n spruit. Hulle het hul belangstelling verloor en vergeet, die vergangenheid prysgegee, en die ongevraagde herinnering aan die feit dat iets wat eens belangrik geag is hulle ontgaan het, laat hulle voel dat hulle op een of ander manier gefaal het in hulle plig, sodat hulle al hoe meer aggressief en ontwykend reageer. Is dit vir die televisie? vra mense, en verloor sigbaar hul belangstelling in die onderneming wanneer hulle moet vasstel dat dit slegs gaan om ’n boek. Dikwels genoeg is die beste wat hulle die besoekers kan toon uiteindelik ’n monumentjie ter ere van die Ossewatrek, ’n suil of wawiel eenkant op ’n stowwerige plein of kerkterrein met wielspore vasgelê in die beton. Dit is al wat van die verlede oorgebly het.

Fouriesfontein 20, lees hy, en reken vinnig na. Die beweerde slagveld lê op ’n afstand van die dorp en die inligting daaromtrent skyn onvolledig en onseker te wees, sodat dit waarskynlik maar gelaat kan word; die terrein sal bowendien seker moeilik identifiseerbaar wees, en op sigself was die slag of skermutseling van geen wesenlike belang nie. Die graf en gedenkteken is gelokaliseer en behoort redelik maklik gevind te kan word, en die foto van die jong rebel wat hier dood is, besit hy reeds in ’n eietydse afdruk van goeie gehalte. Fouriesfontein sal dus redelik maklik afgehandel kan word. ’n Uur miskien? ‘Fouriesfontein klink nie baie belowend nie,’ merk hy op. ‘Ek sien iemand skryf daar het nog nooit iets gebeur behalwe die oorlog nie.’ Eddie toon egter steeds geen reaksie nie, sy gedagtes onpeilbaar. Fouriesfontein 10. Na Fouriesfontein kom Donkerpoort, onthou hy, en blaai verder om te sien wat Donkerpoort hulle kan bied. Grafte van Engelse troepe wat deel van die garnisoen uitgemaak het, ’n stuk van ’n muur wat na bewering deur hulle gebou is, die dorpshuis van kommandant Christiaan Louw (tans museum): familieportrette, pluiskeile, kinderwaentjies en kersvorms. Ook hier is daar niks wat hulle oor die afgelope weke nie meermale reeds gesien het nie, tot tien of twintig keer selfs. Hoeveel soortgelyke objekte het Eddie nie al toegewyd, professioneel en heeltemal ongeïnteresseerd op film vasgelê nie, hoeveel honderdtalle foto’s wag nie reeds om ontwikkel te word, die een reeks nouliks onderskeidbaar van die ander: die gedenktekens, grafte, dorpsmuseums, die hoogbejaarde afstammelinge van kommandante of rebelle-leiers, kliphope wat ou verskansings aandui, verroeste blikkies of doringdraad, patrone wat nog opgetel kan word tussen bossies en gruis, die lae deining van veld en rante waar daar eens geveg is, ’n verflenterde vaandel, ’n verkleurde lintjie. Hoe moet daar uit hierdie verslae oorblyfsels ooit ’n boek tot stand kom?

Hy kyk op van sy aantekeninge en sien die kilometerteken wat verbyflits, Donkerpoort 50, sien die reguit pad, die vlakheid van die veld, ’n verre ry bome, die ligte golwing van ’n kliprantjie teen die lug, sien die saamgeskaarde groepie ruiters wat deur die vaalheid van die landskap beweeg, gehul in die stofwolk wat onder die pote van die perde opslaan.

Iets is verkeerd, besef hy dan skielik, en dwing sy gedagtes terug na die werklikheid. ‘Wat het daardie bordjie gesê?’ vra hy.

‘Ek het nie gekyk nie,’ sê Eddie ongeërg.

‘Daar het Donkerpoort gestaan,’ sê hy, maar vir Eddie is die onderskeie dorpe langs hul pad niks meer nie as plekke waar hulle stilhou, foto’s neem en by geleentheid oornag, hul name volkome uitruilbaar. ‘Maar Donkerpoort is die volgende dorp, dit kom ná Fouriesfontein, en ons is op pad Fouriesfontein toe. Eers Fouriesfontein, dan Donkerpoort.’ Terwyl hy nog praat, besef hy hoe verspot sy woorde klink, en soek na die padkaart om bevestiging te vind.

‘Dalk het jy verkeerd gekyk,’ sê Eddie na ’n tydjie sonder om spoed te verminder. ‘Ons sal sien wanneer ons by die volgende bordjie kom.’

Uit sy aktetas haal hy die padkaart te voorskyn, dog onweerlegbaar staan dit daar aangedui: Kromburg na Fouriesfontein, 63 kilometer, Fouriesfontein na Donkerpoort, 54 kilometer, aaneengeryg langs dieselfde reguit rooi lyn waaruit daar skaars selfs ’n plaaspad vertak, en hulle is reeds meer as ’n halfuur gelede uit Kromburg weg. Hy voel ’n ligte ongeduld by die vooruitsig van ’n vertraging wat sy plan vir die middag verder sou kan ontwrig, en waar hy langs Eddie sit met aantekeninge en kaart in ’n slordige bondel op sy skoot vind hy dit moeilik om sy gedagtegang te hervat. Die weinig belowende foto’s wat hulle geneem het, onthou hy dan, die karige restante van die verlede wat aangevul sal moet word met skote wat Eddie bloot as lokale kleur geneem het, die hout- of ysterwerk van ’n ou veranda, ’n houtluik, ’n bakoond, ’n watervoor, die spel van lig en skaduwee oor die oppervlakte van ’n ongelyke muur. Met effens oordrewe kleurgebruik, perspektivistiese verkorting en oordeelkundige snywerk sal jy in die boek ’n drama moet suggereer wat aan die werklikheid ontbreek, dink hy, deur middel van lokale kleur en die oordeelkundige gebruik van ouer foto’s in wasige sepia afgedruk: dit is Eddie se vaardighede wat hier benodig word eerder dan syne as skrywer, en uiteindelik sal dit in feite seker ook Eddie se boek wees en Eddie se foto’s wat die toevallige kyker aantrek, sy eie moeisame navorsing niks meer nie as ’n reeks uitgerekte byskrifte wat die beelde vergesel. Oor hierdie vlak veld het die kommando beweeg, dink hy weer, en kan hulle in die vaalheid sien met die stof wat onder die perde se pote opwaai, dog wat kan die kamera, sonder geheue, verbeelding of gevoel hier vind, ten spyte van al Eddie se tegniese vernuf? ’n Arbitrêre verdeling van die landskap in twee dooie horisontale vlakke, blou lug en vaal aarde, in twee arbitrêre helftes weerskante van die pad: dit is al wat bestendig kan word. Die hitte, die stof, die gloed van hout of metaal teen die hand, die sweet in die oë en stof in die keel, die gefluit van koeëls, koeëls wat kets teen die klippe, en skielike dood, dit kan op geen film of foto vasgelê word nie. Die bloed in die oë, die bloed wat gorrel in die keel. Niemand sal ooit weet nie.

Hy draai weg van die landskap wat geen bystand bied nie en leun na vore, sy oë op die reguit pad, wagtend dat die volgende kilometerteken in die verte sigbaar word, maar die leegheid is ongerep. Het daar ’n bordjie of wegwyser weggeval? begin hy effens ongeduldig wonder wanneer hy die smal naald skielik in die verte uitken, die enigste vertikale lyn in hierdie ruimte, en Eddie spoed verminder. Hy leun na vore om oor die afstand te probeer uitmaak wat daar staan: ‘Donkerpoort 40’ lees hy.

‘Ons het verbygery,’ sê hy. ‘Ons moes waarskynlik êrens afgedraai het.’

‘Daar was geen afdraaipad nie,’ sê Eddie met rustige oortuiging.

‘Maar ons het êrens by Fouriesfontein verbygery. Kyk, dis waar ons nou is.’ Hy hou die padkaart uit, dog Eddie slaan geen blik daarop nie, onaangeraak deur twyfel.

‘Wil jy hê ons moet teruggaan?’ vra hy. Hy ry nog stadig, en hulle beweeg onverbiddelik verder op die pad Donkerpoort toe, weg van die plek waar Fouriesfontein moet wees.

Gekonfronteer met hierdie klaarblyklike gebrek aan deelname aarsel hy vir ’n oomblik. ’n Graf, dink hy, ’n begraafplaas, ’n monument; nóg ’n graf, nóg ’n begraafplaas, nóg ’n monument. Nóg ’n dorp. Hierdie of daardie een, wat maak dit ten slotte saak wat toegevoeg word tot die honderde foto’s wat reeds geneem is of wat ontbreek? Die plek waar ’n jong rebel gesneuwel het en begrawe is. ‘Nee,’ sê hy uiteindelik, ‘draai maar weer om’, en stadig en pligmatig draai Eddie die motor op die smal pad om, verby die kilometerteken wat na Donkerpoort wys en terug in die rigting van Kromburg van waar hulle kom. ‘Ek wil dit nie graag mis nie,’ sê hy vergoeilikend. ‘Ek meen dat Fourie se graf belangrik is, hy het indertyd ’n soort volksheld geword; ons behoort dít ten minste op te spoor en af te neem, al vind ons niks anders wat die moeite werd is nie. Ek het ’n portret wat kort voor sy dood van hom geneem is, ’n nogal goeie afdruk, wat ek wil gebruik . . .’ As Eddie luister, laat hy die feit egter nie blyk nie. Hy verspil sy tyd, besef hy, want Eddie verlang geen verduidelikings of motiverings nie, bloot dat die volgende bestemming aangegee word en die objekte wat hy moet afneem, aangewys. Dit is ’n professionele opdrag wat hy uitvoer, en reeds het hy te kenne gegee dat hy hoop om ’n week by sy gesin te kan deurbring voordat die volgende aangepak word. Wanneer hierdie reis beëindig is, sal hulle kort samewerking ook verby wees en sal hulle mekaar waarskynlik nooit weer sien nie, niks meer van hulle lang tog behoue nie as twee name op die titelblad van ’n boek.

Met sy aantekeninge en die kaart nog op sy skoot kyk hy uit vir ’n moontlike afdraaipad of hek, vir ’n verre ry bome in ’n laagte of ’n kerktoring half agter ’n rant verskuil waar dit die verbyganger nie dadelik opval nie. Dit is jammer dat hy hierdie reis nie met iemand kon onderneem wat ’n sekere belangstelling in die onderwerp het nie, dink hy by homself, ’n mate van historiese kennis of aanvoeling, of in elk geval die bereidwilligheid om hom vir die duur van die projek daarin te verdiep; dog hulle het bykans twee weke in hierdie gedeelde swye en wedersydse onbegrip deurgebring en sal die laaste twee of drie dae seker ook kan deurkom. Dit is genoeg, dink hy dan egter skielik waar hy opkyk van die kaart, en besef effens tot sy verbasing dat hy nie meer werklik in Fouriesfontein belangstel nie. Êrens langs hierdie laaste stukkie pad tussen Kromburg en Donkerpoort het hy versadigingspunt bereik, en hy voel warm en stowwerig en geïrriteerd, moeg vir die rommelige motor en die reguit teerpad, die verslae dorpe, die hotels, die huise met hul sonkamers, diefwering en satellietskottels, die televisiestelle flikkerend in die hoek van woonkamer of hotel. Die pak los blaaie, knipsels en foto’s in die lêer op sy knieë gly van sy skoot en val om sy voete uit, en hy buk nie dadelik om dit op te tel nie. Hy is moeg van die ronddool, die onbestendigheid, die ongerieflike hotels en oneetbare kos, moeg van die verwarde reeks onderhoude, museums en monumente, en dit is tyd om klaar te kry en terug te keer stad toe na die sekerheid en vertroudheid van woordverwerker en lessenaar. Vir hom is hierdie boek ten slotte ewe goed ’n opdrag as vir Eddie, dink hy by homself, al gaan dit in sy geval met groter betrokkenheid gepaard, en ook vir hom sal dit uiteindelik niks meer wees nie as ’n gedenkboek met sy naam op die titelblad, ’n glanspapierpublikasie wat hy later nie eers meer sal deurblaai nie. Die enigste verskil is uiteindelik dat daar op Eddie reeds ’n volgende opdrag wag, terwyl hy hierna self een sal moet soek, self iets sal moet vind.

‘Daar’s die volgende bordjie nou voor,’ merk hy half ingedagte op, en buk om die verspreide papiere op te tel.

‘Ons soek nie bordjies nie,’ sê Eddie met ’n sekere snedigheid, ‘ons soek ’n afdraaipad na jou dorp, en dié moes ons al lankal teëgekom het. Ons is nou presies weer waar ons netnou al was.’

Sonder om ag te slaan, leun hy weer vorentoe na die bordjie wat voor hulle opdoem langs die pad. ‘Kromburg 60’ lees hy. Woordeloos bring Eddie die motor tot stilstand, en vir ’n tydjie sit hulle in stilte daar.

‘Dis waar ons nou net vandaan kom,’ sê Eddie. ‘Dis waar ek die hamburger gekoop het.’ Ja inderdaad, dink hy, en onthou nog met betreklike duidelikheid die hitte, die vrou wat op ’n onsigbare bediende skreeu in die kombuis, die transistorradio, leë koeldrankblikkies op ’n tafel. Die verdonkerde museumpie, die sleutel wat hulle by die kerkkantoor moes gaan soek, die wawiel van beton – dit was Kromburg.

‘Ons het weer verbygery,’ sê hy.

Stadig en geduldig reik Eddie dan uit om die kaart by hom oor te neem en volg met sy vinger die rooi lyn van die pad. ‘Kromburg na Fouriesfontein, 63 kilometer, reg?’ vra hy rustig. ‘Fouriesfontein na Donkerpoort, 54 kilometer; dis 117 kilometer altesaam. Hierdie bordjie sê dis 60 kilometer terug Kromburg toe, en die vorige bordjie waar ons nou net vandaan kom, sê dis 50 kilometer Donkerpoort toe. Dit laat sewe kilometer tussen die twee bordjies waar ons nou heen en weer sukkel, en op hierdie sewe kilometer het ek niks g’n uitdraaipad gesien nie, aan jou kant van die pad of aan myne.’

‘Ek sou darem ten minste Giel Fourie se grafsteen wou probeer vind,’ sê hy sonder om duidelik van sy eie woorde bewus te wees; ‘ek het ’n nogal goeie foto van hom wat ek wil gebruik, en daar hoort iets meer by te wees, ten minste ’n foto van die graf . . .’ Sy stem sterf weg, en hy besef dat Eddie ook nie eers geluister het nie. Dit is nie die plek of die tyd om te sit en redekawel nie, dink hy, op die hitte van die dag op die oop veld in die son; fel slaan die gloed van die dag deur die vensterruite na hulle op, weerkaats van rante, rotse, klipbanke en gruis. Stadig en woordeloos draai Eddie die kar dan weer om en maak hom gereed om opnuut terug te ry in die rigting van Donkerpoort. Ry maar verder, wil hy vir ’n oomblik sê, en doen dit nogtans nie. Op Donkerpoort sal daar iets kouds beskikbaar wees om te drink, ’n hotel met lugverkoeling in die sitkamer of ten minste ’n elektriese waaier, ’n stortbad of bad; hy is moeg en sou liewer vir ’n halfuur wil gaan lê as om langs hierdie troostelose en verlate stukkie pad tussen twee kilometertekens rond te kruie met geen beskerming teen die stowwerige barheid van die somermiddag nie. Werk die lugverkoeling dan nie meer nie?

In die verre deining van die veld, lig trillend soos lugspieëling, kolkend soos ’n dwarrelwind, gaan die groepie ruiters verby, maar daar is niemand wat van hulle bewus is nie, net hy wat deur die venster van die kar sit en uitkyk en hulle so helder sien asof die ruitglas nie gekleur was nie. Dit help nie eers om Eddie se aandag op hulle te probeer vestig nie, want daar is niks wat hy sou kan sien, niks wat die lens kan toelaat of selfs die gevoeligste film kan vaslê nie. Hy is vasgevang, besef hy loom op die hitte van die middag in die rommelige motor, in ’n opdrag wat in wese onuitvoerbaar is, hy is gedoem, hy sal nooit loskom nie, en of dit Fouriesfontein of Donkerpoort is wat hulle bereik, of dit hierdie besondere onderneming is of die nog onbekende projek wat daarop sal volg, maak nie saak nie, want uiteindelik het dit alles uitruilbaar geword. Eindeloos strek die reguit pad voor hom uit na die horison en deel die landskap in twee. Dit is sy lewe.

Eddie ry baie stadig, asof dit deel van sy lydelike verset uitmaak, sy hande feitlik roerloos op die stuurwiel, sy oë op die afstandsmeter. Stadiger en stadiger kruip hulle langs die kant van die pad, aan die rand van die teerblad, sodat gruis onder die motorbande knars en droë gras ritselend teen die deure skuur. Dan hou hy stil en skakel die motor af.

‘Ons is nou presies halfpad tussen die twee bordjies,’ kondig hy aan. ‘As ons nog drie en ’n halwe kilometer verder ry, kom ons weer by die bordjie uit wat sê dis 50 kilometer Donkerpoort toe. En dis waar jy vir die eerste keer wou gehad het ons moet omdraai, onthou jy?’ Hy praat bedaard, sy oë op die pad voor hulle, maar die blote bedaardheid is reeds irriterend.

‘Dit moet hier êrens wees,’ sê hy.

‘Waar?’ vra Eddie.

Hy werp ’n vlugtige blik op die pad, die drade weerskante, die kragpale, die leë horison, en soek opnuut die plek op die padkaart. ‘Hulle het ’n fout gemaak op die kaart,’ sê hy dan verstrooid.

‘Dit lyk vir my hulle’t in dié geval ’n nog groter fout gemaak met die padtekens,’ sê Eddie. ‘As jy foto’s wil hê, dan beter ons wegval en dit hier in die pad begin neem, want ek skat Fouriesfontein moet so naastenby hier wees waar ons nou staan.’

As hy antwoord, as hy verder hierop ingaan, as hy nou enigiets hoegenaamd probeer sê, sal hulle albei hul humeur verloor, besef hy, en sal daar ’n breuk plaasvind wat dit bykans onmoontlik sal maak om die laaste paar dae van die ekspedisie afgehandel te kry. Eddie is eenvoudig die beste fotograaf vir hierdie soort werk wat beskikbaar is, te waardevol om opgeoffer te word aan prikkelbaarheid en moegheid, op die hitte van die dag op die oop veld in die son. Het die motor dan geen lugverkoeling gehad nie, wonder hy dof; was die ruite nie getint nie? Dit bied geen skuiling meer nie.

’n Tyd lank sit hulle swygend saam in die motor, en dan knip hy sy veiligheidsgordel los, maak die deur oop en klim uit, aarsel vir ’n oomblik waar hy langs die motor staan, verblind deur die volle felheid van hitte en sonlig, en slaan die deur agter hom toe. Daar is geen boom of struik te sien nie, geen skadu teen die gloed nie behalwe die smal strook langs die motor. Nêrens om hom heen kan hy ’n teken van lewe gewaar nie, geen skuur, hut, kraal, muur, dam of windpomp nie, geen plaaspad of verre opstal, nog minder ’n afdraaipad wat op die aanwesigheid van ’n onvermoede dorp êrens in die vaal verlatenheid sou kan dui.

En nou? dink hy sonder gevoel van dringendheid by homself waar hy langs die motor bly staan. Die verstandigste sou ongetwyfeld wees om weer in te klim en verder te ry Donkerpoort toe na die volgende monument, museum of dorpshotel, en die geheim van Fouriesfontein en sy onverklaarde verdwyning onopgelos laat; die verstandigste, ja, maar as hy moes doen wat verstandig is, sou hy ooit hierdie dolle tog aangepak of selfs hierdie opdrag aanvaar het? Asof hy blindelings koers kies, asof hy sy oë toemaak en hom klaarmaak om te spring, breek hy soos ’n swemmer deur die trae golwing van die hitte en begin by die pad af stap, stadig langs die gruisbaan tussen die teerblad en ritselende droë gras van die berm asof hy kan verwag om hier iets te vind. Hy sal nie omdraai en terugkeer totdat hy dit gevind het nie, dink hy moedswillig by homself, en stap koppig verder met die skroeiende lug van die middag teen sy gesig en die gloed van die grond brandend onder sy skoensole. Wanneer hy uiteindelik terugkyk, is hy verbaas om te sien hoe ver hy ongemerk gestap het en hoe ver op die pad hy die motor agtergelaat het. Eddie sit nog roerloos agter die stuurwiel, maar die onversetlike lyn van sy nek en skouers het verslap: waarskynlik het hy aan die slaap geraak. Daar is dus geen haas nie, besef hy, en voel verlig, onthef van die verpligting om vanmiddag verdere besluite te neem of verdere vrae te stel, om verder te reis of nuwe ontdekkingstogte aan te pak.

Hy kyk na die lang, reguit pad voor hom waar die lugspieëling oor die verte dans. Waar het die ruiters heen verdwyn, vlugtig soos ’n skaduwee, ’n stofwolk, ’n tolbos? Hy kan hulle nie meer sien nie. Sonder om te dink aan wat hy doen, beweeg hy verder, aarselend langs die rand van die pad. Êrens hier voor hom wag die eerste padteken na Donkerpoort, êrens agter hom kondig ’n ander die afstand na Kromburg aan, en hier in die leegte tussenin, drywend soos die lugspieëling in die hitte, is die plek waar hy moet wees. Iéts moet daar dus te vinde wees, iéts moet hier sigbaar wees as mens slegs weet waar om te soek of hoe om te kyk, hoe om te luister.

Traag beur hy teen die hitte, uitgeput soos ’n swemmer deur die branding, en merk hoe die stilte van die middag hoorbaar begin word soos die verre gesketter van sonbesies. Hy moet omdraai, dink hy afgetrokke, en teruggaan, en beweeg nogtans doelgerig verder, gedra deur die breë deining, opgebeur en verder gevoer deur die magtige deining waaraan hy hom oorgelewer het sonder om te besef wat met hom gebeur, totdat hy soos ’n swemmer weer bewus word van vaste grond onder sy voete, en druppend deur die golwe van die hitte uitstrompel langs die trillende strand en op sy knieë daar neerval, oë verblind deur die skittering van die wit sand langs die kus.

Die gesketter van sonbesies klink in sy ore en die grond brand sy hande. Hy het geval, dink hy, loom asof hy bykom en die besef nog nie kan verwerk nie; maar hy het geen krag vir die inspanning wat nodig is om te probeer opstaan nie, en hy bly dus daar kniel en sien voor hom die wit pad verblindend onder die son en die donker lyn van die bome wat daaroor loop. Hy moet opstaan, of Eddie sal begin wonder wat verkeerd is. Stadig kom hy dus orent en staan op, moeisaam soos ’n drenkeling belas deur die gewig van sy deurweekte klere, wankelend waar hy staan in die stof van die pad, en draai om na die motor, maar die motor is nie meer daar in die verte agter hom nie; draai terug en sien voor hom die donker lyn bome wat die dorp aandui met die wit kerktoring daartussen.

Hy beweeg teen onsigbare weerstand, die geringste beweging wat hy probeer uitvoer, kan slegs deur volslae inspanning tot stand gebring word, en ook sy gedagtes werk traag. Eddie het aan die slaap geraak in die motor, onthou hy, en die herinnering kom oor ’n eindelose afstand, asof dit betrekking het op iets wat so lank gelede gebeur het dat dit geen relevansie meer besit nie en vervaag, verkrummel en verpulwer waar hy dit oorweeg. Hy moet vir Eddie laat weet, dink hy vir ’n oomblik by homself; Eddie het aan die slaap geraak, stel hy homself egter gerus, en sien hoe die herinnering soos ’n handvol stof opwaai van sy hand en in die helder lig van die middag vervlugtig. Stram begin hy dan verder stap oor die laaste stuk wit pad wat hom nog skei van die dorp waar hy uiteindelik uitgekom het, die donkerte van die bome en skadu voor hom ’n doel op sigself wat ruimte vir geen ander oorwegings oorlaat nie. Dit was dus altyd hier, dink hy by homself; hoe het dit gebeur dat hulle dit nie raak sien nie? Dit was slegs nodig om te kyk en hulle sou dit so voor hulle gevind het.

’n Donker lyn bome oor die pad: bloekombome sien hy voor hom met silwer stamme, en vrugtebome, dakke, die wit kerktoring op regterhand teen ’n lae rant, op ’n afstand anderkant die huise die afgewitte ringmuur en sipresse wat op ’n begraafplaas dui, en hoër op teen die effense helling wilgebome en die wal van ’n dam. Daar is egter geen teken van lewe nie, geen spoor van beweging en geen klank nie afgesien van daardie hoë gesketter wat ewe goed ’n gesuis in sy ore sou kan wees. Is dit dalk ’n droom, wonder hy; ’n skim, ’n hallusinasie? Hoe sou dit moontlik wees om hier deur te ry of verby te ry sonder om die bome, die dakke en toring raak te sien? Hy het geval en sy bewussyn verloor, aan die slaap geraak, iets het gebeur wat hy nou nie meer kan verklaar of selfs onthou nie. Die laaste fyn dwarreling van stofkorrels waai egter weg oor die rug van sy hand, skitterend in die lig van die son. Hy sien die dorp voor hom met sy kerktoring, begraafplaas en dam, hy bereik die bloekombome en betree hul skadu; hy het aangekom.

Stadig begin hy oplet en waarneem, stadig begin hy weer helderder dink terwyl hy voortstap langs die laning van bloekombome wat na die dorp toe voer, en op die wit grondpad voor hom merk hy die spore van perde, die spore van wiele, sleepsels in die stof. Daar het ruiters verbygegaan, dink hy, ’n groot geselskap ruiters, maar so volkome uitgestorwe lyk die dorp aan die einde van die bloekomlaning dat dit moeilik is om te glo dat hulle daarheen op pad was, en mens eerder geneig sou wees om te dink dat hulle dit ontruim het. Hierdie spore in die stof waarop die gestreepte lig en skadu van die laning val, is egter die enigste teken van lewe wat hy kan gewaar, en as sodanig verwelkom hy dit. Dit moet hulle afneem, dink hy vlugtig, hierdie spore van perdepote en wiele afgeteken in die stof, en gee die gedagte dan weer prys en vergeet dit, want die laning het tot ’n einde gekom en in die breë strook sonlig wat voor hom uitstrek, lê daar bloedkolle donker in die stof.

Hy bly staan om daarna te kyk. Maar dit hoef tog geen bloed te wees nie, dink hy by homself; daar is geen rede om aan te neem dat dit bloed moet wees nie, die donker vlekke op die wit stof van die pad. Wat anders is daar wat ’n aanduiding gee van geweld? Die lae huise wat hy sien, is vredig weggeduik agter formele blomtuintjies en die rankplante van hul verandas; daar is vrugteboorde, kweperheinings en ’n watervoor, alles vertroud genoeg van foto’s, en slegs die feit dat die ouderwetse dorpsbeeld so goed bewaar gebly het, verras hom enigsins. Die straat mond uit op ’n leë plein met winkels rondom versprei en ’n markgebou met ’n klok, en bo die sinkdakke en bome troon die wit kerk uit, met as enigste beweging in die wydheid van die panorama wat hy voor hom sien die trae fladdering van die vlag op die hoektorinkie van wat ’n openbare gebou moet wees. Dit sou die museum kan wees, dink hy, en stap oor die plein soontoe, maar die deur is gesluit en daar is geen bordjie of kennisgewing te sien nie. Fouriesfontein, probeer hy moeisaam onthou van lank gelede: daar was ’n graf, en ’n gedenkteken voor die kerk wat hy hier nie raak sien nie, maar van ’n museum is daar geen melding gemaak nie. Dit is tog wel die plek; dit is tog Fouriesfontein? Waar hy voor die kerk bly staan het in die middel van die plein kyk hy om hom rond, maar die dorp gee niks prys nie. Waar is die mense dan? wonder hy. Dit is tog nie moontlik dat die hele dorp hom teen die hitte van die dag in die huise teruggetrek het en dat alle bedrywighede tot stilstand gekom het nie, geen hond wat blaf of haan wat kraai, geen geluid van ’n voertuig of radio, geen geroep van ’n kind in ’n tuin nie. Die stoepe van die huise en winkels en die tuine is verlate.

Hy stap verder met die straat waarlangs hy die dorp binnegekom het, dwarsoor die plein, verby ander huise, ander tuine en boorde en klipmure, draai om ’n hoek en stap langs ’n ander straat, waar daar peperbome geplant is met fyn blare wat liggies tril in die nouliks merkbare luggie en die water geluidloos loop in die voor, so rustig dat die beweging skaars nog aan die speling van die lig op die kabbelende vlak gemerk kan word. Iémand het die sluise oopgemaak en die water laat uitloop, dink hy, iémand moet daar tog nog wees, verskole tussen die boorde en tuine van hierdie verlate dorp, en hy kyk op en sien die drywende takke van die peperbome en die fyn trilling van die bessies, die bedrieglike ligte roering, die speling op die watervlak, kyk langs die straat af en sien ’n man wat uit die verte haastig na hom aangestap kom, winkend met sy arms.

In so ’n mate het hy in sy tentatiewe verkenning reeds aan die uitgestorwe dorpsbeeld gewoond geraak dat hierdie plotselinge verskyning amper gewelddadig aandoen en hy dit vir ’n oomblik nie kan verwerk nie, maar dan skud hy hom reg en stap die man vinnig tegemoet. Is hy verwag, word daar na hom gesoek, of het die man hom dalk oor een of ander onvermoede gebeure kom inlig of waarsku? wonder hy, verras deur die dringendheid waarmee die vreemdeling op hom afkom; dog in sy verwondering merk hy die onreëlmatigheid van die man se gang en besef dat hy kruppel is en die ongekoördineerde en haas driftige bewegings van sy arms niks meer is nie as ’n poging om sy balans te behou. Die man het hom skynbaar nie eers raak gesien nie, besef hy verder namate hulle mekaar nader, alhoewel hulle twee alleen is op die kruispunt van twee verlate strate, maar kyk strak voor hom uit, sy oë op ’n ander doel en sy gedagtes klaarblyklik elders. Dan, net voordat hulle mekaar moet teëkom, draai hy skerp weg om die hoek en sit sy vinnige, dringende gang langs ’n ander straat voort. Hy is ’n jong man in ’n donker, formele, haas ouderwetse pak, en so naby is hy waar hy wegdraai dat dit moontlik is om te sien dat die omslae van sy broek en sy swaar, blink stewels wit is van die poeieragtige stof. Hy gaan by ’n hekkie in agter ’n skraal sipresheining, hinkend langs die tuinpaadjie verby beddings vol sonneblomme, en verdwyn in die skadu onder die veranda. Die hekkie piep op sy skarniere, ’n deur slaan toe, die skielike geluide onverwag in die volslae stilte van die dorp, en dan is alles weer stil.

Hy sou die man kan volg en aan die deur van die huis gaan klop, dink hy, maar bly buite in die straat voor die hekkie staan. Hy is nie gemagtig om aan deure te klop, om deure oop te stoot of vrae te stel nie, besef hy, alhoewel hy nie die rede vir die sekerheid sou kan aangee nie; hy kan hom in hierdie swygende, geslote gemeenskap waar hy so pas aangekom het nog nie alle vryhede veroorloof nie. Die plek waar hy hom bevind, het sy eie reëls en konvensies wat hy vermoedelik proefondervindelik sal leer ken, en intussen betaam dit hom om te wag en geduldig te wees, soos hy hier in die straat by die hekkie staan en wag, die tuinpaadjie tussen die stywe beddings en kwynende blomme ’n onoorbrugbare afgrond, die lae, eenvoudige huisie agter sy veranda ’n onbereikbare vesting, in stilte en geheimsinnigheid gehul.

Die onverklaarbare insig is op een of ander manier gerusstellend, en bevredig deur hierdie skrale versekering draai hy uiteindelik weg van die hekkie en die huis waarin die hinkende jong man verdwyn het. Hy moet verder soek, dink hy terwyl hy voortstap, hy moet elders soek; of dalk moet hy nie eers doelbewus soek nie, dring dit algaande tot hom deur, dog genoeë daarmee neem om eenvoudig te kyk en te wag, om ’n ontvanklikheid te beoefen waarop niks in die lewe hom tot dusver voorberei het nie, maar wat skynbaar tot die konvensies van hierdie gemeenskap behoort.

Hy bevind hom in die onderste straat van die dorp, sien hy, aan die rand van die veld, waar daar tussen boorde en heinings enkele groter woonhuise staan, ver terug van die straat op hul uitgestrekte erwe. By ’n heining oorrank met klimrose bly hy staan en kyk na die welige blombeddings en priële en die koelte van die huis agter sy breë stoep oordek met rankplante, en namate sy oë aan daardie digter skadu gewoond raak, kan hy ’n ligte skynsel in die skemeragtigheid uitmaak en ontdek hy geleidelik die gestalte van ’n man in helder klere wat op die stoep in ’n rottangstoel sit en lees. ’n Tyd lank bly hy hier staan in die hoop dat die man sal opkyk en hom sien oor die afstand wat hulle skei, anderkant die skerm van versluierende rankplante, die breedte van die tuin en die heining in die helder sonskyn van die straat, dog uiteindelik moet hy toegee dat die moontlikheid gering is. En as hy tog moes probeer om die hekkie oop te stoot, wonder hy; as hy hom tog moes verstout om by die tuinpaadjie op te stap, en aan die voet van die glimmende treetjies bly staan, vlak onderkant die man wat sit en lees? Hy kan ten minste probeer, dink hy, want niks kan met hom gebeur nie; dog wanneer hy sy hand na die hekkie uitstrek, sien hy dat die stoel leeg is en dat daar niemand meer in die skadu van die veranda sit nie: vinnig en geluidloos, vinniger selfs as wat hy moontlik sou geag het, het die man deur die glasdeure van die stoep verdwyn. Die enigste waarneembare beweging is die ligte roering van ’n wit gordyn waar ’n venster opgeskuif is. Dus ook nie hiér nie.

Langs die geleidelike helling stap hy stadig terug na die markplein en die kerk, die wit toringspits steeds as oriëntasiepunt sigbaar bo die dakke, bome en tuine, en ontdek verkennend tussen die winkels met hul leë stoepe en blinde fasades die hotel waarna hy in eerste instansie miskien moes gesoek het, ’n onaansienlike enkelverdiepinggebou weggeduik agter sipresboompies: by die museum, die hotel of die munisipale kantoor is daar gewoonlik uitkoms van een of ander aard, hoe beperk dan ook, onthou hy nog van lank gelede, terwyl die polisiekantoor en die pastorie weinig leiding kan bied; by die hotel kan mens navraag doen, of hier behoort dit in elk geval moontlik te wees om te wag of verdere verwikkelings af te wag. Die stilte hier is so volslae soos elders op die dorp, dog met ’n gevoel van verligting sien hy dat die voordeur ten minste oopstaan en merk terwyl hy die skadu van die stoep betree die skielike helderheid van ’n oranje-en-wit lintjie wat iemand op die drumpel laat val het. Hier was daar ten minste nog onlangs mense gewees, dink hy, en bly op die drumpel staan terwyl sy oë aan die skemerdonker daarbinne gewoond raak: ’n toonbank van donker, glimmende hout, die glansende glas van omraamde prente teen die dowwe muurpapier, die blink geelkoper van ’n pot met veeragtige pluime, en ’n boog wat dieper in die gebou in lei, afgesluit deur swaar pluchegordyne wat hom belet om verder te sien; met bo-oor die boog die gedrapeerde vlae van die twee Boere-republieke. Waarom sou ’n hoteleienaar op die Kaapse platteland behoefte voel om sy ingangsportaal met hierdie historiese vlae te versier? wonder hy, en besef dan dat die lintjie op die drumpel by sy voete eweneens in die Vrystaatse kleure is. ’n Tyd lank staan hy daarna en kyk, soos hy eerder na die onverklaarde bloedkolle in die stof van die pad gekyk het, maar hy kan geen verklaring daarvoor vind nie, nòg buk hy om dit op te tel. Dit is nie vir hom dat dit hier gelaat is nie.

Hy probeer nie om die hotel binne te gaan om ’n klokkie of ’n bediende te vind nie, maar draai om en kyk oor die leë ruimte van die plein na die groot wit kerk teen die rant en die gebou met die traag wapperende vlag op die hoek daarlangs. As dit nie die museum is waar daardie vlag gehys is nie, moet dit die landdroskantoor wees, dink hy; dog die vlag wat daar wapper, is die Union Jack, en ook hierdie anachronistiese toespeling is vir hom onduidelik. Weerkaats deur die wit stof van die plein slaan die hitte van die middag hom tegemoet waar hy op die veranda van die hotel bly staan. Hy voel die tekstuur van die verandapaal onder sy hand en sien die barste in die goedkoop hout en die kwasmerke en blase in die rooibruin verf waarmee dit geverf is, en waar dit in die voeë saamgeklont en gestol het, kan hy dit met ’n vingernael loskrap. As hy beweeg, moet hy sy hand doelgerig uitstrek, bewus van die inspanning en koördinasie wat vir die gebaar geverg word, en die een voet oplig om voor die ander te plaas; op sy horlosie draai die sekondewyser met gebruiklike reëlmatigheid. Dit is geen droom waarin tyd en werklikheid opgehef is nie en insidente van op ’n afstand beleef word nie soos die opgetowerde skimme op ’n doek of skerm, maar werklikheid waarin tyd, ruimte, hegtheid, gewig en tekstuur hul onderskeie waardes ongeskonde behou het en wat slegs onderskei word deur die feit dat sy eie aandeel of deelname daaraan, voorlopig in elk geval, beperk moet bly en hy nie kan ingryp om die gang van sake te probeer rig of stuur nie.

Wat is dus die som van sy ervarings tot dusver en tot watter gevolgtrekking kan hy op grond daarvan kom: vlag, lintjie, die man op die stoep en die hinkende man op straat? Hy sal teruggaan na die huis agter die roosheining, dink hy, hy sal teruggaan na die huis met die sonneblomme in die tuin, en opnuut probeer, want moontlik sal ’n hernieude poging slaag: by een van hierdie twee mans, die enigste mense wat hy tot dusver nog op hierdie uitgestorwe dorp gesien het, sal hy dalk inligting kan bekom, iets wat sal dien om die gebeure van die laaste paar uur in ’n voorlopige perspektief te plaas en die onbekende reëls van hierdie afsydige klein gemeenskap te verduidelik. Hoe vaag of ontwykend die antwoord op sy vrae ook mag wees, of hoe ver verwyder selfs van dit wat redelikerwyse as ’n antwoord beskou sou kan word, sal dit in elk geval meer bevredigend wees as hierdie onbegrypende dooltog deur die verlate dorp. Hoe niksseggend die woorde op sigself, deur die stemme sal die stilte ten minste gebreek word.

Vinniger en meer doelgerig as wat hy tot dusver nog beweeg het, stap hy dus terug in die rigting van die twee huise waar hy eerder vertoef het, dog hy het slegs die hoek van die straat bereik wanneer hy bewus word van ’n vreemde lae gedruis soos wind in die verte wat des te meer opvallend is in die haas volslae stilte wat hom tot dusver omgewe het. Anderkant die bome en dakke van die dorp swel dit al hoe sterker op tot ’n soort onreëlmatige polsing of dreuning, asof dit besig is om ongesien nader te kom, alhoewel hy die oorsprong daarvan nie kan raai en dit selfs nie duidelik is uit watter rigting dit kom nie. Dit is die gedreun van perdepote, besef hy dan, kloppend deur die los stof van die pad, dit is die gedruis van die groot perdeskaar wie se spore hy met sy aankoms op die dorp gewaar het en wat nou van hul onbekende bestemming terugkeer. Die probleem van die verlate dorp is opgelos en die tydelik ontvolkte strate sal weer tot lewe kom, en hy draai terug teen die helling na die markplein om die stoet daar in te wag terwyl die onsigbare ruitery nader galoppeer. Die dwarsstrate wat hy kruis, strek egter leeg aan weerskante van hom weg en eindig in die leë veld en die markplein lê nog onverstoord voor hom uitgestrek; daar is geen teken van perde of ruiters nie, en selfs wanneer hy voor die kerk gaan staan om uit te kyk langs die lang pad wat dwarsdeur die dorp voer, die pad waarmee hy dit self binnegekom het, kan hy niks bespeur nie. In die verte sterf die gedreun weer anderkant die bome en dakke weg.

Dit is tog nie moontlik nie, dink hy: op so ’n klein plekkie soos hierdie – drie strate in die lengte, vier in die breedte, wat almal saamkom op die plein en met die omringende veld aan die uiteinde van elkeen sigbaar – op so ’n klein plekkie is dit nie moontlik dat so ’n aansienlike stoet in die nabyheid verbygaan sonder dat mens van een of ander kruispunt of uitsigpunt ten minste ’n deel van die kavalkade kan sien nie; dit is nie moontlik dat die stof van hul deurtog reeds gaan lê het nie nog voor die naklank daarvan weggesterf het in die lug. Die stof van die strate is egter roerloos en ongerep, en hy staan alleen voor die kerk waar die leë pad oor die leë plein verbyloop. Was dit die wind, die klank van verre onweer, hallusinasie, wensdenkery, bedrog? In die gegewe omstandighede sou elkeen van hierdie alternatiewe seker ewe goed moontlik kan wees en is geeneen daarvan as hipotese bo die ander verkiesbaar nie. Dan is die laaste weerklank stil, en geen geluid is meer waarneembaar nie behalwe dié van die golwende vlag aan die vlagstok wat onreëlmatig uitwaai in die wind, nie meer die Union Jack wat hy skaars tien minute gelede nog hier gesien het nie, maar die helder oranje-en-wit bane van die Vrystaatse Vierkleur.

Lank bly staan hy voor die kerk terwyl hy die trae, droomagtige deining van die vlagdoek waarneem. Iemand het die sluise van die watervoor oopgemaak, iemand het die lintjie voor die deur van die hotel laat val, iemand het binne die laaste tien minute hierdie vlag op die toring gehys, dog geen verdere teken van menslike aanwesigheid is vir hom merkbaar nie. Die verf, die hout is eg, die vlagdoek plooi in die wind en bied weerstand met hoorbare gedruis, en binne die relings van sy ringmuur staan die wit kerk solied op sy fondament van bewerkte klip; dit is moontlik om beslissings te neem en hulle uit te voer, om oor die plein te stap en terug te keer na die huis met die sonneblomme in die tuin, dog iéts bly in hierdie situasie wat herinner aan die onbeheerbaarheid en onvoorspelbaarheid van ’n droom, asof hy hom bevind in die tussenruimte van bewussyn en onbewuste, werklikheid en skyn. ’n Stap terug, so kom dit voor, en hy sou die realiteit wat hy tot dusver geken het, kan herwin; ’n stap vorentoe en hy sal vermoedelik die eie, verborge werklikheid van hierdie dorp kan betree, om die laaste ruiters in die verte in die stof van die pad te sien verdwyn en ’n onbekende wat besig is om die vlag wat so pas gestryk is werktuiglik op te vou. Die insig dien egter hoogstens om sy onduidelike posisie nader te presiseer sonder om enige praktiese voordeel te bied, want om vooruit of agteruit te beweeg, is nie in sy mag nie. Slegs tot sywaartse beweging is hy in hierdie beperkte tussenruimte nog in staat, heen en weer langs die leë wit strate en kruis en dwars verby die blinde huise van die verlate dorp.

Om na die huis met die roosheining of die huis met die sonneblomme terug te keer en daar inligting te probeer inwin, is nuttelose moeite, besef hy, en dit is trouens twyfelagtig of hy die mans wat hy eerder vanmiddag gesien het daar sal terugvind, selfs al sou hy by die tuinpaadjie opstap en by een van die deure aanklop: as hy vrae wil formuleer of antwoorde soek, is hy op homself aangewese. Watter vrae is daar dus wat hy met enige sinvolheid sou kan stel terwyl hy afwagtend en verkennend binne die grense van hierdie noukeurig afgebakende ruimte rondbeweeg?

Hy was op pad gewees na Fouriesfontein, onthou hy, maar niks bevestig dat die dorp waar hy so onverwags aangekom het inderdaad ook Fouriesfontein is nie. Waaraan sou hy dit by gebrek aan enige ander inligting kan uitken? ’n Veldslag, ’n monument, ’n graf – watter hiervan is voldoende om uitsluitsel te gee? Geeneen nie, besef hy. Voor die kerk met sy skoongeskoffelde en -geveegde perseel is daar baie duidelik geen monument binne die relings nie, maar op sigself hoef hierdie feit natuurlik ook niks te beteken nie, want hy het reeds die verganklikheid van marmer en graniet leer ken en vasgestel hoe onbestendig ’n ewige nagedagtenis kan wees. Die graf hou egter meer belofte in, want die verwaarlosing van ’n ou begraafplaas verseker soms die voortbestaan van gedenktekens wat op meer prominente posisies die vernieling van tyd en vooruitgang nie sou oorleef het nie, al is die grafskrif verweer of die kruis of engel geknak of van sy voetstuk gekantel. Hy sal gaan soek na die wit ringmuur en sipresse wat hy met sy aankoms vroeër dié middag teen die rant effens eenkant van die dorp gewaar het, want die son het intussen begin daal en die skadu’s word langer, die felste hitte van die dag getemper.

Hy stap verder langs die pad wat voor die kerk en die landdroskantoor verby oor die markplein voer. En as hy die graf opspoor, wonder hy, wat sal dit bewys behalwe die feit dat hy hom inderdaad op Fouriesfontein bevind, inligting wat in die gegewe omstandighede van geen besondere nut kan wees nie? Hy onderdruk die vraag egter soos dit by hom opkom. As hy ’n antwoord kan vind, sal dit ten minste ’n enkele onbetwisbare feit wees in ’n situasie waar alles ontwykend of onseker skyn te wees. En as hy die graf nie vind nie, as die antwoord uitbly? Dan maak dit seker ook nie saak nie, dink hy gerusstellend, en sal hy eenvoudig so goed soos wat hy kan sy sydelingse beweging in ander rigtings voortsit binne die afgebakende ruimte waarin hy hom bevind, verkennend na hierdie kant en na daardie totdat hy daarin geslaag het om die omtrekke daarvan proefondervindelik te bepaal.

In hierdie rigting rafel die dorp gou uit in ’n paar eenvoudiger huisies op groot erwe, groentetuine en lappe mielies, met effens eenkant van die pad ’n afgeslote struktuur met hoë mure waarvan hy vermoed dat dit die gevangenis moet wees. Voor hom waar hy uit die skadu van die dorpstraat tree, val die sonlig oor die stof van die pad om opnuut, en duideliker nou as voorheen, die spore van die perdestoet wat hier verbygegaan het af te teken, en soos vroeër vanmiddag aan die ander kant van die dorp waar hy dit binnegekom het, bly hy staan om daarna te kyk, bewus van die feit dat die gebeure waarop dit dui sinvol is, maar onseker wat die sin sou kan wees. Dan skrik hy egter op, want ’n enkele, hoë gil het die stilte van die middag versteur en bly deur die lug voortklink nadat die roep self beëindig is.

Verskrik deur die skielikheid en heftigheid van die kreet waarop niks hom voorberei het nie, bly hy in die middel van die pad staan en luister, maar dit word nie herhaal nie nog word dit deur enige verdere klank of enige merkbare reaksie gevolg. Was dit ’n dier wat so geskreeu het, of ’n mens wie se stem deur die heftigheid van sy pyn, angs, wanhoop of protes in so ’n mate van alle menslikheid beroof is dat dit nie meer van ’n dier s’n onderskei kan word nie, ’n uiting van loutere verskrikking, ’n enkele uitgerekte gil dwarsdeur die onverstoorde stilte van die dorpsmiddag?

Hy staan in die pad oorkant die hoë mure van die gevangenis en kan nie anders aanneem as dat die onnaspeurbare kreet van agter die hoë mure moet gekom het nie, alhoewel dit so min aan ’n rigting of oorsprong gebonde was soos die gekletter van die perdekommando daarvoor, ’n los, swewende geluid deur die ruimte oor die dakke en bome van die dorp, oor die pad en die gevangenis en die bloekombome en die wydheid van die veld. Moet hy by die swaar ingangsdeur aanklop, en indien iemand agter die tralievenstertjie sou verskyn, wat sou hy vra, met watter reg sou hy verklaring of verantwoording kan eis vir iets wat blykens die gebrek aan reaksie vir niemand anders opspraakwekkend is dan vir hom as vreemdeling nie? Hoe rou en ontstellend daardie kreet ook in sy ore geklink het, moet dit wees bloot omdat hy nog nie geleer het om dit te aanvaar en as normaal te beskou nie, want dit is duidelik dat daar een of ander alledaagse en aanvaarbare verklaring moet bestaan. Hy kyk na die deur met sy klinknaels en breë planke waar die roesbruin verf begin splinter en afskilfer, die uitgebeitelde sluitsteen met die monogram VR 1883 en die hoë, blinde muur van bewerkte klip. Hy sal nie aanklop nie, dink hy: hy moet wag, besef hy opnuut, hoe ongebruiklik hierdie benadering ook mag wees, hy moet waarneem, hy moet kyk, want hy is ’n besoeker op ’n plek waar die instellings en die gebruike vreemd is, en daar is baie wat hy moet leer.

Die son het reeds laag aan die lug gesak, die skadu’s langer, die spore van perde en rytuie skerper afgeteken in die los sand van die pad, en as hy van plan is om na die begraafplaas te gaan, sal hy moet gou maak, besef hy, want die sekondewyser van sy horlosie sit sy ongehaaste wenteling voort, en hoe onverklaarbaar die gang van sake op hierdie dorp ook mag wees, vind dit plaas binne ’n raamwerk van ruimte en tyd wat ’n gerusstellende vertroudheid besit. Ook hier word die middag skaduagtig en koel en begin die donker toeneem.

Op die gevoel af verlaat hy die pad en volg ’n klipperige, uitgespoelde spoor deur die veld wat hom vermoedelik in die rigting van die begraafplaas sal voer. Eenkant op ’n afstand sien hy onduidelik teen die lig van die dalende son, in die toenemende skemeragtigheid van die laatmiddag, ’n skamele versameling huisies wat vermoedelik die gekleurde woonbuurt moet wees, dog ook tussen die hutte en pondokke kan hy oor die afstand geen teken van lewe gewaar nie. Geen hond blaf, geen voël roep in die middag nie, geen geritsel of geruis roer tussen die droë gras en die klippe van die veld nie, asof nie slegs die mense die dorp op geheimsinnige wyse ontruim het nie, maar ook die lewe van die natuur hom op een of ander manier onttrek het. Dit is egter eers baie onlangs dat die ontruiming plaasgevind het, dink hy, want die strate en tuine is versorg, die water loop in die voor, oor die landdroskantoor of magistraatskantoor, wát die juiste historiese benaming in hierdie omstandighede ook mag wees, waai daar ’n vlag en die deur van die hotel staan oop, nog is daar enige teken wat op moontlike ramp of onheil sou kan dui afgesien van die enkele bloedkolle in die stof van die straat en die hoë gil waardeur hy vir ’n oomblik opgeskrik is. Hierdie volslae stilte is egter nie die stilte van verlatenheid nie, besef hy dan, maar ’n stilswye wat verswyg en verberg en slegs wag om oop te breek in geluid soos daardie gil van beskuldiging of wanhoop wat nog in sy ore weerklink. Die hand wat die sluise oopgemaak, die vlag gehys, die strikkie laat val het, is nog hier; die man in die ligte pak is in die huis agter die roosheining waarin hy so onverklaarbaar verdwyn het, die hinkende jong man in die huis agter die sonneblomme waar hy die deur agter hom toegeslaan het. Ongeag die skyn van sake, is hy nie alleen op hierdie dorp nie.

Waar hy hierdie gedagte loop en verwerk, is hy nie onvoorbereid op die nuwe kreet wat hy hoor nie; dog dit is ook nie dieselfde onmenslike en haas onwesenlike gil as voorheen nie, maar die uitroep van ’n vrou wat duidelik afkomstig is van êrens tussen die armoedige huisies van die kleurlingwoonbuurt op ’n afstand van hom. Jy moet wag, dink hy, jy moet luister, jy moet waarneem; en hy bly staan op die klipperige voetpaadjie deur die veld en merk sonder verbasing dat daar van tussen die huisies iemand na hom toe aangehardloop kom.

Soseer het hy gedurende hierdie middag en in die loop van enkele ure aan die wisselvalligheid, onvoorspelbaarheid en onverklaarbaarheid van die gebeure gewoond geraak dat die skielike aanskoue van hierdie ontstemde vrou in die verte hom ewe min verras as die kreet wat haar verskyning aangekondig het, en hy die verdere verwikkelings met ’n sekere onbewoënheid kan waarneem. Dit is ’n vrou in ’n lang, donker rok en ’n helderwit voorskoot met valletjies, van die soort wat vir vertoon eerder as praktiese nut gedra is, en sy hardloop dwarsoor die veld, nie na hom toe nie, want ook sy gee geen teken dat sy van hom bewus is nie, maar skuins voor hom verby in die rigting van die dorp, so naby aan die plek waar hy staan dat hy sien dat haar gesig verteken is deur smart of angs en dat daar trane oor haar wange loop. Haar rok haak vas aan die lae bossies, sy strompel oor die ongelyktes en die klippe en die soom van haar rok, struikel, val op haar knieë neer en spring weer op om verder te hardloop asof sy nie eers van die val bewus is nie. Die son het agter die lae rant verdwyn en slegs haar donker rok en die helderheid van haar voorskoot is nog in die dynserigheid sigbaar soos sy van hom af voorthardloop in die rigting van die dorp met haar hande voor haar uitgestrek, maar dan verdwyn sy agter een of ander onvermoede rant, bank of wal, en kom nie weer te voorskyn nie. Hy moet haar volg, dink hy, en vasstel waarheen sy op pad is, en dwarsoor die veld hardloop hy agter haar aan, maar besef dat hy haar heeltemal uit die oog verloor het, sonder om egter te kan verklaar waarheen sy verdwyn het of selfs hoe dat haar skielike verdwyning moontlik was, want tussen die plek waar hy staan en die eerste tuine en bome van die dorp strek die veld met sy klippe en lae bossies egalig uit; daar is geen rant of bank, wal of sloot waaragter iemand hom selfs sou kan probeer verberg nie, laat staan nog vir ’n waarnemer onsigbaar raak. Eers wanneer hy aan die rand van die dorp die poging tot agtervolging laat vaar en weer omdraai, terug na die kleurlingwoonbuurt en die begraafplaas, ontdek hy die groepie vroue in lang, donker rokke soos hare wat agter sy rug om op pad is terug deur die veld in die rigting van die verspreide huisies en pondokke, en besef dat sy in hul midde is en dat hulle alkant van haar loop terwyl hulle haar stut en voortlei of half teen haar sin met hulle saamsleep, strompelend oor die ongelyk grond in die heftigheid van haar ontsteltenis sonder om ag te slaan op hul pogings om haar te troos of te kalmeer. Waar het die vroue haar dan gevind en hoe was dit vir hulle moontlik om haar op hierdie wyse terug te lei sonder dat hy hulle sien? wonder hy, en besef opnuut en met groter duidelikheid die ongepastheid van vrae van hierdie aard en die irrelevansie van die inligting. Dit is nie verklarings wat hier gesoek moet word nie, begin hy algaande besef, maar aanduidings, leidrade of vingerwysings aan die hand waarvan hy algaande die nodige kennis sal kan opdoen en begrip sal ontwikkel van dit wat vir hom nodig is om te verstaan.

Onseker of die vroue van hom bewus is, volg hy hulle op ’n afstand deur die veld. Dit is asof die ontstelde vrou wat hy die eerste gesien het haar verset, en hulle bly saamgebondel staan om haar aan te spoor, moed in te praat of vertroos; sy struikel weer en val of wil haar neerwerp op die grond, en hulle hou haar teë en buk oor haar, hul hande onder haar elmboë om haar op te hef, hul koppe bymekaar, en in die vaal wasigheid van die aand is die deining van die vroue in hul donker rokke en die heftigheid en dringendheid van hul gebare duidelik genoeg oor die afstand om te verklaar wat hier gebeur. Stapvoets en teësinnig word sy op hierdie wyse tot by die eerste huisies voortgelei, en wanneer hy besef dat hulle op die punt staan om weer vir hom verlore te gaan, maak hy skielik sy moed bymekaar om te roep, en skreeu agter hulle aan in ’n poging om hulle aandag te trek voordat hulle verdwyn, verras oor die feit dat dit in die droomagtige en versweë wêreld waarin hy hom bevind nog moontlik is om ’n geluid uit te bring. Die vroue in die verte gee geen teken dat hulle hom hoor nie terwyl hulle in hul donker rokke stadig onsigbaar raak tussen die skerms, pondokke en hutte van die kleurlingbuurt. Dit is werklik, dink hy, ook dit is werklik: die roesbruin verf en die gesplete hout en die kreet en die poeieragtige stof op die blink swart stewels aan die een kant, en aan die ander sy eie stem en die gerusstellende gang van die sekondewyser op sy horlosie. Die twee wêrelde bly egter afsonderlik, elk langs sy eie baan, en hy kan slegs flitse van die ander waarneem, soos in ’n vreemde taal waarin jy in die loop van ’n gesprek hier en daar ’n woord of frase kan uitken wat jy toevallig reeds geleer het, sonder om hul onderlinge verband egter te begryp of die betekenis van die mededeling te kan verstaan.

Voor hom op die veld, tussen die kleurlingwoonbuurt en die blanke dorp, sien hy die wit muur en donker bome van die begraafplaas. Die vroue het verdwyn en dit het geen aantoonbare sin om agter hulle aan te gaan en hulle in die toenemende skemerte te probeer opspoor nie; hy loop dus verder tussen die bossies en klippe, na die verspreide kliphope en grondhope waar enkele houtkruise of onhandig uitgebeitelde kopstene aandui dat hy hom tussen die grafte van die bruinmense bevind, en stoot die hek oop om binne die wit ringmuur die geordende rye stene van die blankes te ontdek met treurende engele en geknakte suile wat in die halflig uit glim.

Wat was dit wat hy hier kom soek het? probeer hy onthou, sonder om dadelik te kan antwoord, maar reeds waar hy doelloos langs die stene stap en die opskrifte lees, ervaar hy ’n onverklaarbare verligting. Hy het ’n spesifieke graf kom soek, weet hy dan weer, maar sonder dat hy dit nog gevind het, het hy hier ’n mate van sekerheid gekry wat hom op hierdie swygende en geheimsinnige dorp nog heelmiddag ontwyk het. In teenstelling tot daardie enkele elliptiese inskripsie op die sluitsteen van die gevangenisdeur is die inligting op hierdie stene, bondig soos wat dit onvermydelik ook is, eksplisiet en ondubbelsinnig, die afgestorwenes van die gemeenskap met voornaam, van en nooiensvan, met datum en dikwels ook plek van geboorte sowel as afsterwe uitgeken, en hul ouderdomme by geleentheid selfs tot maande en dae uitgereken. Hier eers binne die wit ringmuur gee die ontwykende dorp iets prys en word inligting verstrek, al is dit maar in karige frases en al geld dit slegs die dooies, en na die vermoeiende dooltog, die onsekerhede en die frustrasies van die middag is dit vir hom haas soos ’n ontmoeting met ou bekendes wat hier binne die beskutting van die ringmuur op hom lê en wag, in die stilte waar die stene skielik praat en die dooies self, so wil dit voorkom, hom sou kan aanspreek. Dit is dus inderdaad Fouriesfontein, lei hy af, want in verskeie opskrifte word die naam vermeld, en onder die grootste en mees opsigtige stene lê lede van die familie Fourie begrawe; die vroegste sterfdatum is bowendien ook 1883, die datum op die sluitsteen van die gevangenis wat ook die stigtingsjaar van die dorp moet wees. Geen sterfjaar, merk hy egter, is later as 1900 nie, en die oorlogsgraf wat hy soek, is ook nie hier nie: elders moet daar dus ’n ander, latere begraafplaas wees, alhoewel hierdie een nog nie halfvol is nie en een van die grafte trouens heeltemal nuut is, bedek met blomme en kranse wat slegs gedeeltelik verwelk is. Iemand het die blomme hier geplaas, dink hy, iemand het die lintjie voor die hotel laat val; die mense is hier, verborge, en bewaar hul geheime. Slegs die dooies het hom egter in hul vertroue geneem en met hom begin praat.

’n Jong rebel wat in ’n skermutseling dood is, dink hy, ’n glimlaggende jong man skrylings op ’n stoel; dog dit was lank gelede en hy is alleen tussen die wit grafte in die toenemende skemer, wagtend op die stemme om verder te praat. Waarheen nou? Voorlopig is daar egter geen duidelik aantoonbare doelwit nie, en die beste is waarskynlik om na die betreklike beskutting van die dorp terug te keer en verdere gebeure af te wag; stadig verlaat hy dus die begraafplaas en trek die hek agter hom toe. Sonder om na te dink of selfs daarvan bewus te wees, het hy tot handeling oorgegaan, besef hy dan: hy het geskreeu, alhoewel die vroue hom nie gehoor het nie, hy het die hek oopgestoot en die begraafplaas betree, en binne die ringmuur het die stene hom aangespreek. Die son het agter die rant gedaal, die laaste sonskyn het weggeglip oor die veld, en die grootste deel van die panorama wat hy voor hom sien, lê in skadu. Dwarsdeur die veld waar hy geen paaie kan uitmaak en daar geen drade of ander belemmerings skyn te wees nie, kies hy koers in die rigting van die dorp. Die aanvanklike ongeduld en onrustigheid waarmee hy na ’n gedenkteken of ’n graf, na inligting of verheldering, na verduideliking of gerusstelling gesoek het, het oorgegaan, en hier aan die einde van die dag is hy tevrede om in die skemer stadig teen die helling af te stap in gelate afwagting van wat verder gaan gebeur. Hy het die patroon van strate rondom die plein leer ken, die ligging van die kerk, hotel, magistraatskantoor en gevangenis vasgestel, hy weet waar die kleurlingwoonbuurt geleë is en het die oudste grafskrifte gelees. Hy het ’n hinkende jong man gesien, ’n man op ’n veranda in ’n huis waar ’n wit gordyn voor die venster wieg, verlepte sonneblomme in ’n bedding, water in ’n voor, ’n gillende vrou strompelend oor die veld in ’n donker rok. Hy het die spore van perde gesien en bloed of iets wat daarna lyk in die stof, die helderheid van ’n lintjie en die deining van ’n vlag teen die lug. Iets het duidelik begin word en sal vermoedelik ook ’n uitkenbare patroon aanneem. Hy moet wag.

Iets het begin uitstaan, en van oomblik na oomblik word verdere brokke, fragmente of flenters verstrooide inligting hom nog toebedeel, selfs hier in die halflig aan die einde van die dag waar hy terugstap na die donker bome van die dorp. Dit is die skielike oopheid en wydgestrektheid van die ruimte hier teen die helling wat hom opval en hom vir ’n oomblik laat stilstaan, en wanneer hy noukeuriger rondkyk, besef hy dat hy hom weer eens op ’n plek bevind waar iets gebeur het, al is dit ook hier nie dadelik vir hom moontlik om te sê wat dit was nie. Hy vind spore van perde en sien hoe die dor, gruisagtige grond omgewoel is, hy tas rond in die dalende skemer en vind verspreide restante van menslike aanwesigheid, blikkies en bottels, ou skoene, stukke van kledingstukke, ’n metaaltentpen en hoefysters. Hier het ’n kamp gestaan, besef hy terwyl hy in die laaste lig oor daardie verlatenheid ronddwaal, en so onlangs nog dat die blikkies wat hier weggegooi is nie eers begin roes het nie, en vind dan die plekke waar daar vuur gemaak is met grond en klippe wat swart gebrand is en fyn poeieragtige as. Die silwerwit as roer effens terwyl hy daarna kyk asof dit deur ’n onsigbare luggie geraak word, dit dein en kolk met ’n skaars merkbare beweging soos die kabbelende silwer vlak van die water in die voor. Die aandwind het opgekom, dink hy; en dan trek ’n skielike dwarreling oor die kampterrein en waai die silwer as en vaal stof verblindend om hom uit.

Die dorp trek sy klipmure, sy groentetuine, sy heinings en huise rondom hom in die donker, die leë, reguit strate niks meer nie as ’n dowwe skynsel. Hier en daar anderkant bome of heinings is ’n venster skaars waarneembaar verlig, maar wie die kers of die lamp aangesteek het, kan hy nie sê nie. Sonder haas, sonder doel stap hy langs die reguit, glansende strate met die donker tuine weerskante en hoor sonder verbasing die geluid van feesviering êrens in die donker en die verte, verwarde stemme, onduidelike gesing en doellose, verspreide vreugdeskote; sonder verbasing betree hy eweneens die plein en vind dit verlate voor hom, die enigste blyk van lewe die dowwe gloed in die vensters van die hotel anderkant die sipresbome en die veranda. By die magistraatskantoor is die vlag gestryk.

Die skote, die stemme is weer stil; die vensters wat gelyk het of hulle verlig is, is donker, die deur van die hotel is toe. Daar is geen geluid meer in die nag nie, soos daar gedurende die dag ook geen geluid was nie, geen gevoel van iets wat tot ’n einde gekom het, wat afgerond of afgesluit is nie: dag is deur nag vervang en helderheid deur donker, dit is al, en in die donker word die geheimsinnige gang van sake roerloos en onmerkbaar voortgesit. Straat-op, straat-af loop hy die dorp deur tot hy hom in sy ongejaagde tog uiteindelik weer in die onderste straat bevind en die huis herken waar ’n man op die stoep sit en lees het. In die kamer waar die venster opgeskuif is, anderkant die wiegende wit gordyn, brand daar ook gedempte lig en die glasdeure is nog oopgeslaan op die stoep, al is dit vir hom van oor die afstand nie moontlik om uit te maak of daar mense in die huis is of wat in die verligte kamer gebeur nie. Hy het die hele dorp verken, straat-op en straat-af in die donker; die dag is verby, en slegs in hierdie een huis anderkant sy heining en groot tuin brand daar nog lig. Is dit die wind wat die gordyn laat plooi en vou, wonder hy, talmend in die straat, of is dit iemand wat daar binne rondbeweeg, tussen die venster en die lig, en in die verbygaan ’n skadu oor die gordyn laat gly; is dit sy verbeelding, of word hy geleidelik bewus van die geur van blomme en vogtige aarde wat uit die donker van die tuin na hom toe gewaai kom? Die starheid en strakheid van die dorp begin versag, fyn krakies en barsies reeds merkbaar in die gladde vlak wat hom van die gebeure rondom hom geskei het, ’n deining in die roerloosheid soos die ligte deining van ’n skadu oor die gordyn, ondefinieerbaar soos die skaars merkbare geur van die laaste rose in die donker tuin.

Die vensters verdonker sonder dat hy dit merk en anderkant die versluierende takke en rankplante sterf die gloed weg; die glasdeur is toe, sien hy, sonder dat hy gemerk het dat dit toegetrek word. Die gordyn is weer roerloos, en van die geur van die rose is niks meer merkbaar nie, asof dit inderdaad verbeelding was. Maar dit was nie verbeelding nie, weet hy, en die fyn haarbarsies vertak en versprei in ’n netwerk oor die hele glansende vlak.

Hy draai om, weg van die groot huis in die donker tuin, en ontdek dat daar in die roerlose donker nog ’n enkele venster verlig is, in die huis skuins oorkant die straat met die sonneblomme in die tuin waarin die hinkende jong man vroeër vanmiddag verdwyn het. Ook hier bly hy staan terwyl hy kyk na die ruite van die glasdeur asof hy hoop om iets van die vertrek daarbinne te kan uitmaak, asof hy hoop om hier vanaf die straat ’n beweging te kan opvang of ’n geluid te kan hoor wat op lewe dui, iets so fyn miskien soos ’n blad wat omgeslaan word of die gekras van ’n penpunt oor papier. Lank bly hy hier staan, roerloos en afwagtend langs die heining van die huis, totdat die glasruit ook donker word, skielik asof ’n kers in die kamer daarbinne doodgeblaas is; en dan weet hy dat hy kan gaan.

Verliesfontein

Подняться наверх