Читать книгу Die uur van die engel - Karel Schoeman - Страница 3
Aankoms
ОглавлениеLig, ruimte, gloed. Stof. ’n Lae land, ’n wye land van klip en bossies en doodgerypte gras, van leë skeure waarlangs die water in die reëntyd afkom; skaapwêreld, waar die plaasgeboue onbewoon staan en geen skape meer loop nie. Klipbanke, kliprante, klipkoppies, wisselend van kleur en gedaante onder die helder lig van die winterdag en die trae bewegings van wolke voor die son. Skadu skuif oor die veld en vul die leë skeure kortstondig met sy vloeiing, skadu stroom oor die heuwels en raak die land met die geheimsinnigheid van sy beweging. Daar is geen padwysers meer om die besoeker deur die leegheid te lei nie, die naambordjies verwyder en die plaashekke gesluit, die slotte verroes; die huis staan verlate met houtwerk wat kraak en bars, en ruite gebreek. Nog is daar verspreide spore van die lewe wat eens hier bestaan het, ’n spreuk teen ’n muur vasgespeld of ’n almanak aan ’n spyker, maar die muurpapier het begin lostrek, die sinkplate begin losraak, die vloerplanke wieg reeds onder die voete; voëls vlieg in en uit waar deure en vensters oopgelaat is en maak nes. Die lewe van vroeër het gewyk, en die enigste beweging wat oorgebly het, is die darteling van die voëls, die enigste geluid is die gekraak van ’n oopstaande deur wat heen en weer swaai op sy skarniere, die geklap van ’n sinkplaat wat losgetrek het, die getik van ’n tak teen ’n ruit. Dan is alles weer stil en die gebou het geen verdere inligting om te verstrek nie; maar oor die wye land daarbuite vloei die patrone van sonlig en skadu verder. In daardie wydte, tussen die heuwels, in die klowe, deur die roerlose stilte op die warmste van die middag sou die eensame soeker dalk die geheim kan vind, struikelend oor die los klippe teen die hange waar bokke van hul lêplek opspring, in die kloof waar bosduiwe opfladder en die water drupsgewys van die kliplys aflek. In die klowe tussen die koppe sou mens kan verdwaal, soekend op die warmste van die dag, al agter die ontwykende geheim waarop die landskap dui.
Die heuwels skuif verby, die rante dein weg na die wasigheid van die verte; die skadu van die wolke skuif oor die land, oor die ontruimde opstalle en leë krale, oor die reguit, leë pad. Daar is geen padtekens meer nie, geen kilometertekens om die afstande aan te gee nie, en op herinnering en intuïsie reis mens verder, die verlede tegemoet. Hier êrens anderkant die kim moet die dorp geleë wees, hier êrens in die ongemerkte wydheid van veld, los koppies en heuwelgroepe lê die bouval van ’n huis, die toegegroeide graf, die ongemerkte klip; êrens, as mens weet waar om te soek, in hierdie wydheid waar geen merktekens oorgebly het nie, in die helder lig op die warmste van die dag.