Читать книгу Die uur van die engel - Karel Schoeman - Страница 4
Die uur van die engel
ОглавлениеKort ná middag op ’n weeksdag teen die einde van die somer in die jaar 1838 het die engel van die Here aan Daniël Josias Steenkamp verskyn waar hy sy broer se skape oppas in die veld. Hy – die engel – het, sover daar van die beskikbare getuienis vasgestel kan word, ’n plek in die lug ingeneem ongeveer drie duim bo ’n doringbos, of so staan dit mens in elk geval vry om af te lei uit die beskrywing wat die begunstigde self van hierdie gedenkwaardige gebeure nagelaat het.
Die verskyning was natuurlik enigsins verrassend vir die jong boereseun, wat slegs sewentien jaar oud was, want al kan ’n sekere bekendheid met die Bybel in die omstandighede veronderstel word, en sou mens selfs die vermoede wil uitspreek dat hy met ’n platebybel vertroud moet gewees het, het hy min geleentheid tot opvoeding geniet, en sy ervaring buite die alledaagse werklikheid van die landelike lewe was beperk tot bywoning van die Nagmaalviering op Colesberg, waar hy ook enkele jare tevore aangeneem is. Dog hoewel verrassend, sou dit nie met volkome juistheid as onverwag beskryf kan word nie, nòg kan die siener as onvoorbereid beskou word, want toe die verskyning vir hom merkbaar word – die oningewyde aarsel hier enigsins oor die korrekte woordkeuse, lewendig bewus van sy onkunde aangaande die benodigde terminologie – was hy juis besig om te bid, soos sy gewoonte was waar hy hom oordag in die veld bevind met die skape, knielend op ’n plat klip met opgehefte hande en gesig na die hemel gekeer, die oë toe in die konsentrasie van sy gebed: hy was soos gewoonlik gekleed, so kan mens met redelike sekerheid uit latere getuienis aflei, in ’n hemp en velbroek, sy kaal voete in velskoene wat deur hom of sy broer gemaak is, en self noem hy in een van sy latere verse oor die onderwerp dat hy sy baadjie uitgetrek en onder ’n bossie opgevou het. Hy was bewus – so mag daar geredelik aangeneem word – van die hitte van die son op sy rug en die gloed van die klip onder sy knieë, maar volgens sy latere getuienis het hy volhard in hierdie ongemaklike houding, waaraan hy deur langdurige oefening reeds gewoond begin raak het. Dit het lank geduur voordat sy middaggebed beëindig is en hy sy oë weer oopmaak, en toe dit gebeur, was hy vir ’n oomblik verblind deur die felheid van die lig, want die son het kort tevore sy hoogtepunt bereik, maar toe hy gewoond raak aan die daglig en die vertroude landskap het hy tewens bewus geword van die nog groter helderheid van die verskyning voor hom.
Hoe die engel presies gelyk het, kon Daniël Steenkamp in sy latere verse en verklarings oor die onderwerp nie vermeld nie, en ook wanneer hy uitdruklik hieromtrent uitgevra is, het hy volgens berig geen groot duidelikheid oor die onderwerp gegee nie, wat deur liggelowiges aangegryp is as rede om die verskyning in sy geheel in twyfel te trek, terwyl ander belangstellendes dit egter op meer welwillende wyse toegeskryf het aan die effense spraakgebrek waaraan hy ly. Gedagtig aan die platebybel wat reeds as hipotese geopper is, kan ’n wuiwende gewaad, vleuels en moontlik ook ’n swaard, ’n olyftak of ’n lelie waarskynlik veronderstel word, want die gegewens is skraal, en die eksegeet word gedwing om te woeker met die feite wat hy het. Wanneer hy in ’n hoek gedryf word en geen uitwyking moontlik is nie, het Steenkamp wel van ’n “jong man” gepraat, maar dit het slegs onder druk gebeur en met aanmerklike onwilligheid gepaard gegaan, en self het hy klaarblyklik verkies om die kwessie van geslag sowel as ouderdom in die midde te laat, en trouens sover moontlik enige verwysings na die verskyning te vermy: nie net het hy hom daarvan weerhou om te roem op die onderskeiding wat hom te beurt geval het nie, maar dit wil selfs voorkom asof dit hom aansienlike ongemak besorg het.
Die engel het hom roerloos aangekyk, vlammend bo die doringbos (en hier is die eksegeet weer op vaste grond, want soveel is daar in verse vasgelê, alhoewel die nodige toelatings vir digterlike vryheid gemaak moet word); nie heeltemal in sy oë nie, maar ’n bietjie hoër, rakelings oor sy kop, asof hy wel van die knielende jong man teenoor hom bewus is, maar dit nie nodig ag om enige aanduiding van die feit te gee nie, nóg het hy ’n beweging gemaak of enige neiging getoon om te praat. By die jong man het dit ook nie opgekom om self ’n gesprek met die hemelse gesant te probeer aanknoop nie, en hy het dit as voldoende beskou om hierdie sigbare bekroning van sy gebed te aanvaar en met ooreenstemmende roerloosheid te betrag, knielend op die klip in die middagson met opgehefte hande en oop oë, bewus van die egtheid van die uitsonderlike verskyning soos hy bewus was van die gloed van die son, die hitte van die dag en die toenemende hardheid van die klip onder sy knieë.
Hoe lank die woordelose konfrontasie van betragtende en betragte geduur het, kon Daniël by latere ondervraging ook nie met enige skyn van juistheid aandui nie: báie lank, het hy by geleentheid verklaar met die vaagheid wat sy geloofwaardigheid op so ’n noodlottige wyse ondergrawe het, dog ’n ander keer het hy toevallig te kenne gegee dat sy bewustheid van die bewegings van die skape tussen die bossies en van die wolke wat agter die rant opkom skaars deur die verskyning onderbreek is. Hoe dan ook, na ’n gegewe, onbepaalde tydsverloop het die verskyning weer verdwyn, of is dit in elk geval op een of ander ongepresiseerde wyse aan die oog onttrek: baie stadig, volgens ’n verklaring wat hy by ’n sekere geleentheid gegee het. Soos ’n wolk? is daar aan hom gevra, en hy het geantwoord, ja, soos ’n wolk. ’n Ander keer was sy presiese woorde in dié verband egter, “Schielijk was hij weg.” Daarna het die seun ’n vinnige blik op sy skape gewerp waar hulle verspreid is, traag op die hitte van die dag, en toe het hy hom in die skadu van ’n bossie uitgestrek om te slaap, want hy het besef dat hy baie moeg is. Dit was egter slegs die eerste van ’n lang reeks soortgelyke verskynings oor ’n tydperk van tien jaar of langer, en na ’n tydjie het die seun gewoond geraak aan die aanwesigheid en geselskap van engele waar hy in die veld skape oppas of andersins besig is, en het hulle vir hom vertroude metgeselle geword.
Met inagneming van die lang tyd wat verloop het, die onbetroubare geheues van die bejaarde oorlewendes, die onvolledige kerkrekords uit die vroeë jare van ons gemeentegeskiedenis in die binneland, en in ’n mate ook die gebrek aan voldoende dokumentasie van enige ander aard, is dit tans ’n bykans onbegonne taak om groter duidelikheid omtrent die figuur van die ontslape broeder D.J. Steenkamp te bekom, alhoewel skrywer hiervan in die loop van sy navorsing meermale doelgerigte pogings in dier voege aangewend het. Deur die vriendelike welwillendheid van ons weleerwaarde ampsbroeder te Colesberg was dit vir ons moontlik om insae in die kerkrekords van sy gemeente te verkry, maar nòg hier nòg in die argiewe van ons eie gemeente kon ons beduidende inligting omtrent hierdie omstrede figuur bekom. Onweerstaanbaar groei die indruk dus by ons aan dat die vrome kerkvaders van die vorige geslag, hoewel verontrus deur die verskynsels rondom broeder Steenkamp, dit in hulle wysheid tog nie raadsaam geag het om die saak verder te voer of dit formeel by die kerklike owerheid aanhangig te maak nie.
Hierdie verwikkeling kan die nageslag slegs betreur, want ag, hoe graag sou ons nie uit notule of verslae nadere inligting oor hierdie interessante figuur wil bekom nie! Ook het hierdie besluit, hoe verstandig dit op sigself na alle waarskynlikheid ook was, die betreurenswaardige bygevolg gehad dat die gerugte oor Daniël Steenkamp wat onder sy tydgenote in omloop was, by gebrek aan noukeurige ondersoek ook nooit as ongegrond en onverantwoord uitgemaak kon word nie, maar in die volksmond en die volksherinnering bewaar gebly het, en sy nagedagtenis is gevolglik steeds deur ’n vae en onverklaarde sweem van afkeuring omgewe. Dit kan die vrome vaders en moeders uit ons pionierstyd nouliks verkwalik word as hulle verkies om hulle nie oor hierdie onderwerp uit te laat nie, selfs nie in hierdie late stadium en dertig jaar na die oorlyde van die betrokkene nie. Hoe dikwels moes ons nie hierdie verstaanbare dog onberedeneerde kiesheid betreur waar ons dit in die loop van ons ondersoekinge teëkom, en des te meer is hulle onwillig om teenoor ’n dienaar van die Woord ’n uitspraak oor hom te waag. So sterk was die onwilligheid onder ons bejaarde gemeentelede om hulle herinnerings aan Daniël Steenkamp met ons te deel dat ons by geleentheid haas die indruk gekry het dat ’n onderwerp wat destyds binne die grense van die huidige gemeente algemene rugbaarheid geniet het, tans doelbewus verswyg word. Die meeste wat ’n ondervraagde bereid is om toe te gee, is dat “Danie” maar “een snaaksche ouwtje” was, soos hulle dit goedig uitdruk, en dat hy “versjes” gemaak het; maar ook uit die gesigte wat hy volgens sy eie getuienis gesien het en die innige vroomheid van sy geesteslewe wat uit sy nagelate geskrifte spreek, kon ons geen verdere inligting bekom nie.
Hoe bedroewend is dit nie dat hierdie valse skroomvalligheid ons verhoed om nadere kennis van die verlede in te win en vir die nageslag op te teken nie! Hoe vinnig is die lede van hierdie pioniersgeslag nie besig om uit ons midde te verdwyn nie, en saam met hulle verdwyn ’n haas onvervangbare bron van inligting vir ons kennis aangaande die stigtingsjare van ons Kerk in die Oranje-Vrystaat en die Godgewyde manne wat vir die verbreiding van Gods ryk in hierdie onbeskaafde geweste verantwoordelik was en wie se gedagtenis ons gaarne na behore in ere sou wil hou. Ook die naam van Daniël Steenkamp sou ons voorlopig graag onder dié van die stigters en vroeë kerkvaders in die Transgariep wil plaas, en waar ons openlik toegee dat hy tydens sy eie leeftyd in bepaalde opsigte ’n omstrede figuur skyn te gewees het, en dat daar ook vandag nog sekere twyfels of voorbehoude omtrent hom skyn te bestaan, wil ons tewens daarop wys dat dit by die betragting van die vorige geslagte nodig is om toelatings te maak vir die moeilike omstandighede waarin die Christelike gemeenskappe hulle hier in die afsondering moes handhaaf te midde van Basters, Griekwas en Boesmans, en die vaak oordrewe waaksaamheid en gestrengheid waarmee die plaaslike ampsbekleërs moes optree ten einde die suiwerheid van die leer en die soewereiniteit van die kerklike gesag te handhaaf. Laat ons ons egter nie blind staar aan gerugte waarvoor daar geen bevestiging gevind kon word en nie aan ongestaafde oorlewerings ’n alte groot gelowigheid verleen nie. Die verspreide geskrifte van die hand van die ontslape broeder waarin ons deur die welwillendheid van sy naasbestaandes bevoorreg was om insae te hê, getuig weliswaar van geen uitsonderlike geletterdheid nie, en is dikwels in die vorm van psalmagtige berymings aangebied wat helaas afbreuk doen aan hulle suiwerheid, maar desondanks, hoe gebrekkig hul uiterlike vorm by geleentheid ook mag wees, hoe suiwer is die gedagtes daarin uitgedruk nie op sigself nie, hoe opreg die strewe na vroomheid en diensbaarheid in algehele oorgawe aan die almagtige Skepper, hoe roerend die uitbeelding van die skrywer se innige Godsbelewing! Hoe diepbedroewend is dit nie dat daar nie ’n groter aantal soortgelyke geskrifte uit die voorgeslag vir ons bewaar gebly het nie, waarin die oorwegings, gebede en versugtings uit ’n kerk- en gemeentelose tyd vasgelê is tot stigting en lering, tot moontlike beskaming en hopelike navolging van ’n nageslag wat oneindig meer bevoordeel is.
As evangeliedienaar van die gemeente waarin Daniël Steenkamp oorlede is en begrawe lê, is skrywer hiervan bewus van die heel besondere verpligting wat op hom rus om sy nagedagtenis in ere te herstel en wyer bekendheid aan sy uitsonderlike getuienis as Christengelowige te verleen. Nog het hy die vertroue nie prysgegee dat dit deur volgehoue vlyt moontlik sal wees om meer aangaande die lewe en werke van hierdie eiesoortige dog oortuigde self-opgeleide Christen te kan vasstel, en selfs wil hy die stoute hoop koester dat verdere onvermoede geskrifte van die hand van die ontslapene nog aan die lig gebring sal word. So hoop ons byvoorbeeld om by geleentheid van ’n buitediens die graf van die digter te kan opspoor op die afgeleë plaas in hierdie distrik waar hy oorlede is, wat na bewering in ’n verwaarloosde toestand verkeer, en slegs onlangs het dit ons ter ore gekom dat sy laaste oorlewende suster tans op hoë leeftyd in die distrik Hopetown woonagtig is, sodat, indien die nodige tyd vir die lang reis opsy gesit kan word, dit selfs nog moontlik sou kan wees om nadere inligting by hierdie vrome ou moeder te bekom.
Tot sover Gottlob Deodatus Heyns, V.D.M., agter sy lessenaar in die studeerkamer van die pastorie met die inkkoker langs hom en die Nederlandse woordeboek gerieflik byderhand, gestewel en gespoor vir sy uitstappie in die letterkunde. Dog dis sover soos wat hy ooit gekom het met die vrome, godgewyde broeder. Wat het die man ook verwag sal die armsalige ou ooms en tannies hom oor Mal Danie Steenkamp vertel waar hulle skoon verbouereerd hier in die heiligdom ingesleep is om ondervra te word of waar hy hulle in hul voorhuise bydam met huisbesoek, Bybel onder die arm? Ja, hy het so ’n bietjie rondgekrap in die kerkboeke en wie weet waar nog; wie weet wat hy nie dalk alles in die hande gekry het en weer vernietig het omdat dit nie onder die godsalige kudde in sy kerklike kraam pas nie? Ja seker, oorwegings, gebede en versugtings, die’t hy goed genoeg geken as hy dit die dag onder oë kry, maar van die digkuns het die vrome leraar nie die flouste benul gehad nie.
Hy’t met een van die ryk Minnaars van Kalkoenkrans getrou, en die ontsag wat hy nie self deur sy amp kon inboesem nie, daarvoor het sy skoonfamilie gesorg met hul geld; ou oom George Minnaar was nie ’n man wat met hom laat sukkel het nie. O, hy’t daar in die pastorie soos ’n heer gelewe, met al sy literêre bedoeninkies om hom besig te hou, en vir hom was dit maklik genoeg om in sy studeerkamer te sit en die hulp van sy weleerwaarde medebroeders in die naburige gemeentes in te roep en die ou ooms en tannies op te kommandeer om ondervra te word. Nee wat, so kos dit geen moeite om vir ’n groot navorser en selfs ’n skrywer aangesien te word deur mense wat nie probeer om ’n bietjie skerper te kyk nie. Het Theodorus Amadeus Heyns hom egter ooit ingespan om uit te kom by die graf van die digter “op die afgeleë plaas in hierdie distrik waar hy oorlede is”, wiegend op die vere en die kussings van die herderlike perdekar na Witlaagte? En hoe ver sou die pastorie se perde ooit op die pad Hopetown toe gekom het? Nee wat, agter die lessenaar is dit nou eenmaal geriefliker, en vir die skryfwerk hoef mens nie eers jou baadjie uit te trek nie. Wie was dit wat toe die dag heelent uitgery het Witlaagte toe en ’n halwe dag daar rondgesoek het met Faans Engelbrecht en Kosie Landman en die skaapwagter; wie het vir die skaapwagter beduie waar om te grawe en self in sy hempsmoue onder die bosgasie ingekruip en die kopsteen uiteindelik gevind? Daar is ’n kiekie van my by die graf wat Kosie geneem het nadat die skaapwagter so ’n bietjie daar rond skoongemaak het, net was hy te haastig en sy hande het effens gebewe, dis nie maklik om uit te maak wat dit voorstel nie, maar daar staan ek langs die hoop klippe op Witlaagte tussen die doringbome in die kloof. Die steen met die grafskrif het ons teruggebring dorp toe op ’n lorrie om te bewaar, en dié bewaar ek hier in my studeerkamer as bewys vir geval iemand sou wil twyfel. Dit was nie Theophrastus Bombastus Heyns wat dit reggekry het nie.
Die huis is stil, die dorp slaap. Ek kan begin; dit wil sê, ek kan aangaan, verder gaan, klaarmaak.
“Hoe lyk dit, broeder Jood, sal jy dit alles kan baasraak?” het ou dominee Hamman nog met so ’n laggie gevra toe hy sy toestemming gee dat ek in die konsistorie mag sit en die notuleboeke en registers deurwerk om daaruit aantekeninge te maak, maar hy het nie gewag dat ek antwoord nie. Dis al wat hy wou gehad het, ’n samevatting van die kerkraadnotule en ’n verheerliking van al sy ontslape voorgangers, behalwe dalk dominee Van Biljon: oor daardie episode in die verlede van ons gemeente sou ek seker maar baie versigtig moet gewees het. En sy eie portret, dié moes natuurlik ook inkom, hom en sy vrou. Dertig jaar gelede, en intussen is die ou ook al dood, ’n engel op sy graf. Maar dit was nie so eenvoudig soos die ou gemeen het nie, dit was nie net die kerkraadnotule nie, intussen het al Theodidactus Heyns se aantekeninge nog bygekom. Ek moes probeer uitrafel wat hý alles deurmekaargemaak het, en ondertussen het my eie aantekeninge opgehoop, die aantekeningboekies vol, die lêers vol papiere; dit kos tyd as mens die werk behoorlik wil doen, dit het Autodidactus Heyns nie besef nie, nog minder ou dominee Hamman en die kerkraad. Dertig jaar is niks nie vir ’n lewenstaak.
Ek kan begin: hier is die skema wat ek al jare gelede uitgewerk het, wat ek bygewerk het, bygehou het, die hoofstukindeling, die opsomming, die byvoegings en invoegings, die chronologie. Ook maar goed dat ek dit al jare gelede gemaak het, want ek begin vergeet, daar is al soveel wat ek vergeet het, en al staan dit opgeskrywe, mens kan nie altyd jou hand op die aantekeninge lê as jy dit soek nie. ’n Lewenstaak, ja, inderdaad. “Sal jy dit alles kan baasraak, broeder?”, met daardie skewe glimlaggie, nes hy nou eenmaal was. Nee, ek vergis my, nie ’n engel nie, die engel is Theodorus s’n, dit was ’n granietsuil wat hulle die ou uiteindelik gegee het vir veertig jaar se troue diens. Maar toe hy nog ’n proponentjie was, het ek al hier begin aantekeninge maak, jong onderwyser wat ek was; al die name op die grafstene in die ou begraafplaas het ek opgeteken terwyl dit nog leesbaar was, voordat die stene verniel is, die boekie het ek nog hier êrens. Ek kan onthou oom Jan Olivier het my vertel sy oorlede oupa het die laaste leeu in die distrik geskiet op Groenfontein, in die riete van die vlei. Vandag het die vlei al lankal opgedroë en ou oom Jan is ook lankal dood, maar my aantekeninge het ek nog. Ek moet dit soek, ek moet onthou om dit op te teken. Wie sou dit vandag nog weet as dit nie vir my was nie? Self het ek dit alles gedoen, geen mens het my gehelp nie, behalwe hier en daar om na ’n graf te soek of om op ’n plaas uit te kom.
Ja goed, dit was die hoogeerwaarde dominee Heyns wat Danie Steenkamp se verse ontdek het oor een of ander goedgelowige wat niks daarvan wis nie dit in sy hande besorg het, dit bestry ek nie, dit was hy wat party daarvan uitgegee het in ’n boekie, of wat daarvan oorgebly het nadat die hooggeleerde heer met die redigeerwerk klaar was; dit was tussen sy goed dat die manuskrip toevallig bewaar gebly het. Maar wie was dit wat die waarde daarvan besef en vir die eerste keer verkondig het? Nie Deodatus Heyns met al sy geprewel oor vroomheid en diensbaarheid en algehele oorgawe aan die almagtige Skepper nie. Wie het ooit gekyk na daardie armsalige bundeltjie stigtelike verse, “uitgezocht en van ’n inleidend woord voorzien door J.Th.H., V.D.M.”? In 1925 was dit – die knipsel het ek hier nog iewers, ek kan dit soek, ek kan dit vind – in 1925 reeds dat daardie stukkie wat ek geskryf het in die Volksblad verskyn het. “’n Vroeë Afrikaanse digter” – dit was ek wat hom uitgeken en bekend gestel het, ek en niemand anders nie. En die volgende jaar die artikel in die Brandwag, “Daniël Josias Steenkamp, volksdigter van die Vrystaat”, al het dit maar ’n gesukkel gekos en het hulle kwaai daaraan gesny. Mense kan mos nie ’n ander man se werk los soos hy dit self geskryf het nie. Ek was die baanbreker. En die gedigte – wie het gespook om hulle uitgegee te kry soos hulle geskryf is, sonder tussenkoms van literêre dominees, en dit uiteindelik self op eie onkoste laat uitgee? Wat daarvan oor is, het ek nog hier, dit lê daar op die rak agter die deur, tweehonderd eksemplare, en dis my naam wat op die titelblad staan en ek wat die inleiding geskryf het om die saak so ’n bietjie reg te stel.
Ek kan begin, aangaan. Waar het ek laas opgehou? My aantekeninge het deurmekaar geraak – het daar weer iemand in my goed kom rondkrap nadat ek soveel kere al gesê het hulle moet my studeerkamer uitlos? Daar’s hele stukke al oor die jare geskryf, dalk selfs die grootste deel van die boek as ek dit net alles bymekaar kan kry en agtermekaar sit. So ’n bietjie oor die Boesmans en die Griekwas, en dan die trekboere, die ou grafte op Groenfontein, ou oom Sagrys en die leeu in die dae voordat die vlei opgedroog het. Baie ou ooms het vroeër nog leeustories kon vertel, maar nou is die laaste een ook al dood. Steenkamp kan daar inkom, voordat ons begin met die predikante en die gemeente, hulle sal wel vir hulle hier inwurm, maak wat mens wil: gemeenstestigting op Heuningkrans, en toe die kwaai bakleiery voordat ou Jacob Landman dit reggekry het om Vlakfontein aan die gemeente af te smeer – daardie spul Landmans was ook nie dom nie, sê wat jy wil. Van dié geskiedenis sal die Landmans nie so baie hou nie, maar aan hulle wense kan ek my nie steur nie. Ek moet daardie kiekie van my by die graf op Witlaagte in die hande probeer kry, dit moet ook hier afgedruk word, in die hoofstuk oor Danie Steenkamp; ek sal self die foto’s vir die boek uitsoek, en ek sal sôre dat die dominees maar min is. Dis my boek hierdie en ek sal self bepaal hoe dit daar uitsien, nie hulle nie: dis wat hulle in gedagte gehad het met die gemeentegeskiedenis toe hulle my die opdrag gee om dit te skryf, dat hulle sou hiet en gebied met dominee Hamman voorop en ek sou maar hul opdragte uitvoer. Daar het hulle hul egter vasgeloop; ek is niemand se kneg nie, en die boek waaraan ek werk, is myne. Al die predikante oor die jare met hul foto’s by, het dominee Hamman nog spesiaal genoem, en die hele kerkraad het al gaan toustaan by die fotograaf om hulle te laat afneem, sodat hul foto’s in die boek kan verskyn, in die gemeentegeskiedenis, bedoel ek, nie in hierdie boek nie, nie in my boek nie. “’n Vroeë volksdigter” – dis die naam vir daardie hoofstuk, die een oor Danie Steenkamp, en die artikel uit die Brandwag kan ek ook sommer daar afdruk, die hele artikel soos wat ek dit geskryf het. Dit was Flippie Landman se voorstel dat hulle my vra om dit te skryf, die gemeentegeskiedenis, mý was die ou altyd goedgesind ten spyte van die kere dat ons haaks was, en uiteindelik moes hulle dit ook doen, want daar was niemand anders wat so iets kon aanpak nie; maar dominee Hamman het nooit so danig lus gevoel vir die transaksie nie, en in die oë van die kerkraad het ek ook nie bra baie goedkeuring geniet nie. ’n Lewenstaak, broeder Jood; ja waarlik. Snaaks, na daardie moeilikheid oor die pastorie met die leiwater het niemand weer teenoor my ’n woord oor die gemeentegeskiedenis gesê nie, nie dominee Hamman en nie die kerkraad nie, en as ek skielik met die ding vorendag moes gekom het, sou hulle seker maar danig verleë gewees het. Maar mý boek gaan hulle nie in die hande kry nie.
“Onze eigen Vrijstaatsche volkszanger,” het weleerwaarde Deodatus hom genoem, en dis al wat hy van Danie Versies oorgelaat het. Die vrome broeder was nou eenmaal maar agter die stigtelikheid aan – “haast zou men in den verzoeking komen van onzen eigenen Afrikaansche mystikus te spreken”, siedaar! “Deur ’n besonder fyn teologiese sif gesif deur J.Th.H., V.D.M.”, dit sou ’n noukeuriger beskrywing van sy redaksionele werksaamhede gewees het, wat nie by sy eie siening van die vrome volksbroeder gepas het nie, dié’t gewaai, uit en gedaan. “Godszanger van het veld”! Maar hy moes seker ook iets hê om vir die ampsbroeders te wys, iets om sy bestaan in hierdie gemeente te regverdig, en uiteindelik was dit toe ook al wat hy gehad het om vir vyf jaar in die bediening te wys, hierdie sameraapsel van Danie Steenkamp se gedigte en die bondel papiere wat oom Kallie destyds hier by my aangebring het en die engel wat die dankbare gelowiges op sy graf laat oprig het. Laas toe ek daar verbystap, sien ek een van sy vingers is weer af. Ek moet bietjie vir die koster laat weet, dat hulle daarna kan laat kyk, al sal hulle sê ek meng weer in die kerk se sake in, maar as ek dit nie doen nie, wie sal daarvan notisie neem? Ek weet nie eers meer wie is deesdae koster nie; dalk maar net ’n briefie oorstuur pastorie toe, ook al sê hulle ek meng in. Ja, en sy preekbundel, al was dit uiteindelik seker maar die weduwee wat dié laat uitgee het; maar die Minnaars kon so iets goed genoeg bekostig. Leerredenen en overdenkingen van wijlen Jacobus Theophilus Heyns, V.D.M. – ek het hier iewers ’n eksemplaar.
Dis stil so in die laatnag. Dit laat my dink aan die tyd toe ek nog nuut was op die dorp, die aande in die boardinghuis met my lamp. Paraffienlampe het ons nog in daardie jare gehad, paraffienlampe en kerse. Die nuwe onderwyser by die skool. Dis in daardie tyd dat ek begin het om begraafplaas toe te gaan en al die name en datums op die grafstene op te skryf, al wis ek self nie wat ek daarmee moes doen nie. Seker maar omdat daar nêrens anders was om heen te gaan nie, niks anders om te doen nie. Met die bloekomlaning af het die mense daardie jare na die dam gaan stap, in die laatmiddag met die son in jou oë, maar dit was al. Dit was seker maar vir hulle snaaks om my so met my sakboekie tussen die grafte rond te sien; ek het dit nog altyd, en die name van die grafte op die oudste plase, Groenfontein en Kalkoenkrans. Heuningkrans.
Dis heeltemal stil, en ek kan werk; ek kan aangaan en my boek klaarmaak, ek moet nou begin klaarkry, maar my papiere is deurmekaar, mens sukkel om tussen al hierdie goed te vind wat jy soek. ’n Leeftyd se werk, ’n leeftyd se navorsing. Dis tyd dat daar weer ’n slag hier afgestof word, maar ek moet self daarby wees, dis nie altemit nie. Die stof waai heeldag in van die straat, alles is vol stof. Dalk moet ek eers so bietjie uitsoek, regsit. Begin.