Читать книгу Ester - Kerneels Breytenbach - Страница 5
2
ОглавлениеMevrou Denk het op dieselfde plek bly staan. Sy het neergekyk op haar drie besoekers. Bergman en sy ploerte eweneens onbeweeglik. Het sekerlik nie die tekens verstaan wat deel is van beskaafde ommegang nie, en wat sy so onsubtiel gesinjaleer het nie: Gaan nou. Loop.
“U moet u tasse gaan pak,” het Bergman gesê. “Genoeg klere vir vier dae op die trein, ’n paar dae in die Volksraad, en dan weer vier dae terug.”
“Nog koffie sal lekker wees terwyl sy pak,” sê konstabel Bentley. Aan hom. Asof hy hom nie verwerdig om haar direk aan te spreek nie.
“Nou praat jy my taal,” sê Fitzsimmons.
Bergman het na mevrou Denk gedraai: “Asseblief.”
Maar dit is die huishulp, wat deurentyd in die vooringang getalm het, wat haar kop knik en weer op wieke van Wachet auf deur die donker binneruim van Mecklenburg ingesluk word.
’n Uur later gaan hulle vort, sy met vier koffers waarvan een tussen haar en Bergman agter in die Fleetline staan. Mevrou Denk versonke in haar stilte. Maar kon dit anders, in só ’n klein ruimte, dat sy moes luister na die twee polisiemanne voor in die motor se geklets oor rantsoene en vriende wat nie van die oorlog af teruggekom het nie? Wil hulle hê sy moet skuldig voel, ’n gloed in die nek kry? Dalk in trane uitbars, boete doen?
’n Aand in ’n met weeluis besmette losieshuis in Brandbergstraat.
’n Oggend van sit en wag en probeer om so min as moontlik met Bergman te doen te hê, al het hulle om dieselfde ontbyttafel aangesit, dieselfde aaklige koffie gedrink, dieselfde karige spyse probeer inwurg. Sy kan nie glo dat hulle ’n spesiale permit aan die losieshuis moes toestaan vir hierdie voorreg nie. Eiers, skaapkarmenaadjie en wors. ’n Brit se idee van vroeë spyse. Seker ’n groot toegewing van die owerheid se kant, gegee die rantsoen-gemors waarin die Uniale bewind hom bevind, volgens die konstabels, wat nou amptelik aan haar voorgestel is. Moet sy hulle sonder meer aanvaar, hulle met hul Britse bloed, en die een nogal met ’n Afrikaanse moeder?
Uiteindelik, net voor elf, hou hulle op dool.
AO Bergman het hom weggeskeur van die stapel aantekeninge wat hy die oggend gemaak het, sy aandag stip op sy annotasies tot op die laaste oomblik, wanneer hy die velle papier bymekaarskraap, in sy leertassie wegmoffel en iets in die rigting van konstabels Fitzsimmons en Bentley blaf.
Bergman en Bentley vertrek met ’n bevel dat sy haar gereed moet maak om te gaan. Fitsimmons bly sit, vanuit sy plek aan tafel het hy ’n uitsig op die gang en die deure na alle vertrekke.
Die Chevy, vuiler as bruin weens die stof van Mecklenburg wat nog plek-plek bly sit aan die Amerikaanse kolos se intieme plekkies, neem die twee nie ver van die losieshuis nie, na ’n sinkplaathuis, eiendom van die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens, en bewoon deur die treindrywer wat die Kaapstad-trein vandag van Windhoek af verder neem.
Die drywer het die roepman verwag, soos reglement vereis. Hy is al geskeer en aangetrek. Die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens maak seker dat die trein op tyd die stasie verlaat, maar dit is twee dieners wat daar op die stoepie staan. Dis ’n toneeltjie wat die drywer dadelik bang maak, twee kakie-uniforms voor ’n sinkplaathuisie. Ou herinneringe van die slegte afloop van toktokkiespelery kom by hom op en vul hom met ’n naarheid. Sy vrou, Elize, is in die kombuis besig met sy kostrommel, en hy neem die dieners daarheen, stil soos muise.
Die een met range verbreek sy swye: “Adjudant-offisier Bergman,” en gee hom die hand.
“Jurie Kimberley.” Hy gee sy bynaam, nog lam van die skrik.
Die dieners knik net. Weet wie hy is.
Elize onverstoord. Sy trommel toegemaak, aangegee. Elize se vredigheid is misleidend.
“Ons kom jou haal,” sê AO Bergman.
“Wat het ek verkeerd gedoen?” roep Jurie Kimberley uit. Armoede moet altyd voor mag kapituleer, nie waar nie?
Die dieners deel onderlangs ’n blik. “Niks nie.” Glimlagge in die rondte. “Ons moet net seker maak dat jy die trein vandag op tyd wegkry.”
O. Mond wat die klank vorm, maar nie lug gee nie.
“Presies volgens skedule.”
Jurie wou niks sê nie, maar die hele situasie is vir hom baie eienaardig. Twee dieners kom haal ’n treindrywer, pleks van die roepman, stap in sy huis in, staan sy vrou behoorlik toe in sy kombuis. Natuurlik sal hy begin voel of hulle iets weet wat hy verkeerd gedoen het. Maar hulle kyk net onder mekaar vir hom, asof hy iemand is wat maar altyd aan die verkeerde kant van die spoorlyn sal woon. Só is dit mos maar met hom.
AO Bergman laat hom sy trommel en tassie kry, prop hom in hul Chevrolet Fleetline voor die deur in, terug na Bahnhofstrasse. “’n Spesiale passasier klim in Windhoek op,” sê Bergman langs hom.
Jurie Kimberley, die enigste lid van hierdie klein kring wat geen benul het van presies waar hy in die groot geheimsinnigheid inpas nie, kyk hoe sinkplaathuise en rooi bakstene plek maak vir mooier modder, gebak in die een of ander godverlate groef buite Windhoek. Die oorlog is nou al lank genoeg verby. Waarom nou nog sulke dinge? Hy geniet die rit in die polisiemotor, soveel weelderiger as die roepman se trokkie, maar sy gedagtes is tuis, by Elize, wie se maag seker nou al gegaan het. Sulke onverwagse dinge, soos hierdie besoek, slaan op haar senuwees.
“Dis ’n vrou,” onderbreek AO Bergman die gang van sy gedagtes. “Dinsdag laai ons haar in Kaapstad af. Hulle wag vir haar daar.”
“Hulle?”
“’n Gekose komitee van die Volksraad.”
“Goed,” sê Jurie. “’n Spesiale vrou.”
“Baie.”
By Bahnhofstrasse draai hulle op na die stasiegebou, ’n groot wit dubbelverdieping-gebou in Duitse styl gebou, met ’n titseltjie Holland in die gewels. Die konstabel agter die stuurwiel parkeer die Chevy Fleetline dwarsoor ’n gereserveerde plek vir polisievoertuie skuins voor die stasie-ingang, asof hy vir die wêreld wil uitbasuin dat hulle van Pretoria hulle nie aan kleinburgerlike dinge soos parkeerplekke steur nie.
En nou stap AO Bergman langs Jurie, die konstabel agter hulle. Op met die trappies, verby die stasiemeester se kantoor, verby die loodsman en die roepman, wat net vir Jurie knik, sy oë groot. Af met die perron, en aan die onderpunt daarvan af na grondvlak, en oor die spore, na die jaart se kant, tot by die asput, waar die 7F-lokomotief al wag, en Daveltjie die wonderdadige stoker gereed staan. Daveltjie wat so gretig is om ’n welbehae te wees vir Jurie Kimberley, die lewende legende, die treindrywer wat nog nooit ooit ’n enkele keer laat uit ’n stasie vertrek het nie, en nog minder laat aangekom het by sy bestemming – selfs al was daar ’n swerm sprinkane onderweg wat die spore glad en olierig gemaak het, hel vir enige stoomlokomotief, en ’n nóg groter hel vir enige stoker, wat dan gruis voor die wiele moet gooi vir traksie én die vuur daarbo aan die prima-prut moet hou.
Daveltjie is altyd vroegtydig op sy pos, wanneer Jurie Kimberley nog tuis sy oor spits vir die roepman se klop. Daveltjie se hart swel van trots as hy net dink aan die lokomotief waarin hy nou staan. Die pragtige 4-8-0-wielstel, die grootste wat nog enige plek in die wêreld op treine gebruik is. Met sy klas 7F-stoomketel, nasaat van die ou Mastodon-lokomotiewe wat al in 1913 in die Unie begin diens doen het, en ná 1925 volopper geword het. Vra vir Jurie Kimberley, soos Daveltjie gereeld doen, want hy is nie ’n ou vir dinge onthou nie, en Jurie sal jou die detail gee oor die kleinste stukkie apparaat in die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens se magasyn. Vra vir Jurie Kimberley, hy wat nou langs die 7F staan, die hand van die diener met die rang op sy skouer, asof hy ’n pa is wat sy kind voorsê.
Daveltjie hou die ding só dop: Die ander diener wat so effens tru staan van die grootkop, maar tog met gespanne aandag luister na wat gesê word. Gespanne aandag en ’n aardige glimlag, presies dieselfde trek as wat die voorryman gehad het wat hom verlede Saterdag op die rugbyveld gemoer het, die grimas van mag, wat ’n mens net sien wanneer jy ónder lê – die prerogatief van die onderdruktes. Daveltjie voel sommer aan sy pere dat hier moeilikheid kom. Hy kan Jurie Kimberley se gesig nie sien nie, maar hy kan sien aan die manier wat Jurie beduie met sy arms, die kak sit wit op die klippe.
“Sy’s joune.” Die man met die rang neem van Jurie Kimberley afskeid.
Die drywer klim met ’n lang gesig op na die vloerplaat. Daveltjie staan sommer tru, laat kom net met ’n “more, oom Jurie”. Daveltjie kom oorspronklik van Transvaal af.
Die dieners is al ver op pad terug stasie toe.
“Daveltjie, my mater.” Jurie Kimberley sit sy kostrommeltjie en tassie op hul gebruiklike plek neer.
“Die vuur is al geskud, oom Jurie.”
Kimberley kyk af, sien dat die valrooster oopgetrek is. Die reste van die veertien ton steenkool wat die 7F op sy laaste op-tog na Windhoek verbrand het, lê nou onder in die asput, as en stof, as tot stof.
Voordat die dieners Jurie Kimberley hier aangebring het, was Daveltjie besig om met die klinkerhark ’n nuwe vuur te bou.
Die loodsman het nie kans gekry om die lokomotief hierdie keer behoorlik skoon te maak nie. Gelukkig het die drywer wat dit van Walvis af opgebring het dit in ’n goeie toestand gelaat nadat hy die lokomotief gestabiliseer het.
“Laat ek jou vertel, Daveltjie.” Koddig hoe die gryse spoorweg-puris van Daveltjie praat terwyl Daveltjie ’n goeie ses duim langer as hy is, met spiere soos Tromp van Diggelen. Maar dis sy reg, as drywer, om só te praat, en Daveltjie voel vereer om deur Jurie Kimberley geken te wees.
Jurie vertel van die groot nuus wat hy pas moes aanhoor: “Daai ou is adjudant-offisier Bergman. Dis sy jop om te sorg dat ons trein vandag ’n baie belangrike passasier hier wegneem. Sy moet Dinsdag in Kaapstad wees, die regering wil haar aantree voor ’n gekose komitee; onse Liewe Hemelse Vader alleen weet wat dit is, moet my nie vra nie.”
Daveltjie kyk na sy drywer. Jurie Kimberley, hy wat sy leerlingskap gedoen het tussen Kimberley en De Aar, hy wat lank die topstoker was in Germiston, van waar hy bevorder is tot drywer en nooit weer teruggekyk het nie, hy is nou baie omgekrap deur die adjudant-offisier. Duidelik.
“Die trein van Usakos sal presies op skedule om twaalf minute oor twaalf hier wees. Ons het gesorg daarvoor. Dit gee jou genoeg tyd vir die omruil van lokomotiewe. Maar om halfeen stiptelik sal jy uit hierdie stasie uit vertrek, ja?”
Daveltjie se aandag vat so bietjie-bietjie. “Jis, oom Jurie, kom die vrou al van Walvisbaai deur?”
Jurie Kimberley staar ’n oomblik glasig in die verte. “Nee,” sê hy ná ’n ruk. “Sy is in ’n losieshuis naby die stasie. Die dieners sit haar presies vyf en twintig minute oor twaalf op die trein.”
Daveltjie se mond vorm die “o” maar hy maak nie die klank nie, nes Jurie Kimberley altyd doen. Hy sien die swart hond het weer oom Jurie se gedermte beet, slaat in sweetdruppels op sy gesig uit. Maar Daveltjie kan nie weet nie, hoe sou hy, nè, dat Jurie Kimberley bekommerd is oor hom wat Daveltjie is, dat hy voel hy moet die klong beskerm, sy gemoed vul met heerlikheid en lig en ’n welbehae in die lewe. “Ons het nie ’n baie vol trein nie. Hou presies by ons skedule. Laai by Mariental nuwe steenkool en water op.”
“Waar ons afgelos word deur ’n drywer en stoker.”
Jurie Kimberley kan sy ore nie glo nie, Daveltjie, die liewe kind, Daveltjie sê presies wat Jurie Kimberley minute gelede aan AO Bergman gesê het. “Nee. Hulle weet ek en jy is tot meer in staat.”
Daveltjie glimlag trots. Iemand iewers weet hy is nie sommer só ’n stoker nie.
“Môreoggend is jy om twintig voor vier op Keetmanshoop. Jy vul jou water en steenkool aan en vertrek presies om vyf minute voor vier. Net voor vyf die oggend swenk jy by Seeheim links in die Unie se rigting. Jou steenkool sal hou tot by Karasburg, wat jy so tien voor elf die oggend sal bereik. Jy laai nuwe steenkool op, en water, en vertrek presies sewe minute oor elf na Upington.”
“Waar ons afgelos word deur ’n nuwe voetplaatman en stoker.”
Een keer is toevallig, maar Jesus Christus ons Verlosser, twee keer is genoeg rede om jou gelykvol toe te tjorts.
“Nee. Ons vat die trein tot by De Aar,” sê Jurie Kimberley.
“Dis meer as twee dae, oom Jurie!”
Jurie Kimberley kyk sy stoker met meegevoel aan. Albei weet nou dat ’n vorm van die hel op hulle wag. “Hulle sal vir ons elk ’n trommel kos gereed hê by elke stasie. Ons moet sorg dat ons slaapbeurte neem, sê hulle. Wanneer laas het hulle op ’n voetplaat gestaan, wil ek weet.”
Jurie Kimberley kyk skielik heel vertroulik na sy stoker. “Jy moes gesien het hoe daai konstabel my gesig dophou. Wil seker maak hy sien hoe ek paniekerig raak, hoe ek smeek.”
Wat hy nie met Daveltjie deel nie, is sy skietgebed op daardie oomblik: “Liewe Vader, twee dae. Daveltjie gaan dit nooit hou nie. Help my om hom nie in die steek te laat nie …”
Hy sal moet inspring, hy, Jurie Kimberley wat vyftien jaar laas skouers agter ’n graaf ingegooi het. Doen hy dit nie, gaan Daveltjie dood wees van die moeg.
“Kos, wat van kos?” vra Daveltjie.
“Maat!” Jurie Kimberley kan hom so onmiddellik vervies. “Wat het ek jou gesê van trommeltjies? By die stasies?”
Daveltjie staan effens tru. Jurie Kimberley deel soms klappe uit voordat hy antwoord.
“Hier’s wat die adjudant-offisier my gesê het. Môreaand kwart voor sewe, indien nie vroeër nie, is ons op Upington. Ons neem voorraad in. Om een en vyftig ná ses vertrek ons weer. Dis ’n maklike trajek. Ons werk baie ekonomies met ons steenkool en water. Oormôre skuins voor twee is ons op Prieska, vertrek weer om presies twee in die oggend nadat hulle na ons omgesien het met steenkool, water en trommeltjies. Maklik. Kort trajek. Halfses is ons op Britstown, twintig voor ses weer weg, en dan vat ons dit rustig. Net twee en dertig myl tot in De Aar. Ons is mos veterane, weet hoe om dit kalm te vat wanneer kalmvat die wagwoord is. Die trein sal ’n raps minder as ’n uur op De Aar vertoef. Ons sal nie later as halfsewe daar aankom nie.”
Daveltjie ken ook sy skedules, ’n mens hoef nie ’n voetplaatman te wees om dit te onthou nie, en hý boonop met sy geheue … maar wat hom verstom, is dat dit tot op die gepubliseerde skedule se minute korrek is. “Dan stap ons af?”
Jurie kyk na Daveltjie soos AO Bergman na hom gekyk het, en dan is hy weer die ou Jurie Kimberley, sy humeur wat gaan lê het. “Ja. Hulle sal daar wees. Ons gaan na die loodsman se kantoor. Kry hulle daar. Vertel hulle van enige snaakse dinge wat tydens die rit gebeur het.”
“Snaaks?”
“Buitengewoon.”
In sy ongerepte onskuld ’n desperate versugting van Daveltjie: “Dink Oom nie dit sal beter wees as hulle self op die trein is nie?”
“Hulle is.”
Nou staan hulle albei op die 7F se voetplaat, kyk na die stasie wat helaas nie meer vereer word deur die teenwoordigheid van AO Bergman en konstabel Bentley nie.
“Hoe ver is jy?” vra Jurie uiteindelik, skouer gereed vir die wiel.
“Daar’s al nuwe kole in die vuurkis, oom Jurie.”
“Jy hom al gesprei, mater?”
Jurie het gesien Daveltjie staan met die T-hark in die hande, maar hy moet tóg vra. Met Daveltjie moet ’n mens nie sommer enigiets aanneem nie.
“Oral, oom Jurie.”
“Nou waarvoor wag jy, Daveltjie? Spuit die panne skoon en sorg dat jy nie die vuur doodblaas nie.”
“Ja, oom Jurie,” so sonder opset in sy stem. Daveltjie het die vuur al vantevore in sy glorie gespuit. Hy neem die sproeipyp en spuit die panne aan beide kante skoon, die neus heel korrek effens na onder gepunt sodat die lug nie opblaas in die vuur nie. Hy spuit die wit as wat buite aan die kante van die ketel versamel het af, en daarna die voetplaat, al verby Jurie se voete.
Jurie se gedagtes bly troebel. Hoe op aarde gaan Daveltjie se kragte hou vir só ’n lang skof?
En dit vir één vrou.
Jurie gaan staan onder die kap terwyl Daveltjie die sproeipyp aan sy haak ophang. Jurie trek sy klere uit en vou hulle netjies bo-op sy kos in die groot trommel. Daarna trek hy sy oorpak aan, met net sy onderbroek en frokkie daaronder. Dis winter, die dag kan nie eintlik warmer as nou nie, maar Jurie sweet gellings.
Jurie bekyk alles wat hy moet. Ruite skoon, alles op hul plek. Daveltjie skakel die injekteur af en kyk met ’n glimlag op van die vuur.
Hulle is gereed. Genoeg stoom om ’n lang trein te trek, en hulle is nog nie eens gehaak nie.
Daveltjie was sy hande en gesig in die emmer water wat hy vooraf daarvoor op die vloerplaat neergesit het. Daarna begin hy tee maak vir Jurie Kimberley, ’n ritueel waarvoor Jurie Kimberley baie voorskrifte het. As dit nie noulettend gevolg word nie, sal Jurie Kimberley dit dadelik agterkom, en sal die hele proses herhaal moet word.
Die rangeerders fluit vir Jurie.
Hy laat die lokomotief rustig van die asput af vorentoe beweeg, hoor hoe Daveltjie die aspan langs hom toeslaan.
Perfek.
Tien minute later stoom die trein van Walvis en Usakos die stasie binne.
Jurie het geduld, al tel hy die minute nou af. Hy wag dat die aflaai van passasiers, possakke en ’n paar stukkies vrag klaarkom. Die inkomende 7F-lokomotief is ontkoppel. Die rangeerders het dit met die lyn af getrek, verby Jurie en Daveltjie. Wanneer hulle verby is, en die sinjaal vir hom lig, laat beweeg Jurie sy lokomotief in trurat die treintrokke tegemoet.
Die rangeerder op die perron roep uit na Jurie: “Bring hom, maatjie, kom, maatjie,” uitroepe wat hang.
Die hele stasie sidder skielik wanneer die 7F die waens tref.
“Hokaai!” roep die rangeerder uit, die afsluiting van die lopende poets van die nasionale broederskap van rangeerders en treindrywers …
Nóú weet die mense in die trein hulle het ’n nuwe masjinis.
“Daveltjie,” sê Jurie, gemaak-ingedagte.
Daveltjie gee vir Jurie sy koppie tee aan. Die fondament, soos Jurie altyd aan hom sê voor hulle ry, van ’n goeie dagtaak.
“Maat, vandag ry hier ’n prinses of iets op ons trein.”
“Haai nee, Oom lieg mos nou vir my.”
Jurie Kimberley verduidelik sy teorie, hoe hy nie glo dat ’n vrou wat aangery word om voor die spul ape in die Volksraad te gaan praat sulke reëlings soos hierdie sal regverdig nie. Wat kan enigiemand nou eintlik dáár sê? Daar moet iets aan haar wees, iets wat haar bo ander mense verhef, hy is seker daarvan. En dis hoekom hy en Daveltjie nou twee dae en nagte lank hulle des moers gaan werk.
“Slaat my dood, oom Jurie,” sê Daveltjie.
Wat hy nie aan Daveltjie sê nie, is dat dit net ’n variasie is van ’n gevoelente wat hy oor homself het, soms wanneer die spoor lank voor hom uitgestrek lê en sy oë moeg raak van sinjale soek op plekke waar hy weet hulle nie sal wees nie. Die droom dat hy, Jurie Kimberley, eintlik iemand anders is, ’n magnaat met geheueverlies, sy ongekende rykdom wat elders vir hom lê en wag, sodra die newels van vergeet begin lig.
Jurie kyk op sy horlosie, kontroleer dit met die groot uithanghorlosie op die perron. Twintig oor twaalf. “As ek dit nie mis het nie, is sy amper hier.”
Hulle kyk terug na die perron. Sien hoe ’n klomp polisiemanne daarop uitsprei en by al die uitgange na die stad gaan staan, twee-twee.
Die perron lyk onverwags verlate. Die polisie ken hul werk.
AO Bergman se gesig is die enigste wat Kimberley ken, aan die voorpunt van ’n hele prosessie van polisiemanne, sommige van hulle met leertas in die hand, wat agter hom aanstap. Skuins agter AO Bergman is die vrou, verberg deur sy gestalte. Hulle stap by die goederewa verby, reguit na die heel laaste passasierswa. Die AO draai om na die vrou.
Jurie sien haar nou duidelik. Blonde hare, nee, dis net die son, haar hare is donkerder, ’n bruin met ’n glinstering rooi daarin vasgevang. Deftige klere. Modieuse hoedjie op haar kop. Hoë hakke. Sy stap met gerekte, gespierde treë, asof die hoëhakskoene deel is van haar voete, en haar heupe maak beloftes en wilde bewerings wat elke man op die perron verstaan. Skarniere vir die gedoente van balans en beweging. Jurie weet sommer in sy binneste dat hierdie vrou moeilikheid sal maak in enige man se lewe. Sy lyk soos iemand van voor die oorlog, die jare vóór die doodslag en vernedering. ’n Woelwater, dis wis en seker. Maar haar gelaatstrekke laat hom dink aan ’n tekening van die ou Romeinse gode wat hy in ’n Brandwag gesien het. Klassiek. Adellik. Ook ’n bietjie soos Marlene Dietrich, daai Duitse filmster waarvan Elize so baie praat. Dalk het hy reg. ’n Ondeunde vrou, dink Jurie, ’n rabbedoe.
Jurie Kimberley sien die gebare van AO Bergman terwyl hy met haar praat, die ene hande. Bergman bring sy een arm hoflik agter sy rug in, knik met die kop en klim in die trein. Die perron is effens laer as die trein se trappies, sodat ’n mens tegelyk moet spring en opklim. Jurie sien hoe die AO weer na haar draai en galant sy hand na haar uitsteek, en haar help om in te klim. Sy het lang bene, kan hy van hier af sien.
Die vrou neem AO Bergman se hand, kyk op na hom, staan ’n lang ruk só, asof sy nie kan besluit of sy wil inklim of nie, en dan help Bergman haar om met een grasieuse beweging tot langsaan hom in die trein te klim.
Jurie kyk op sy horlosie. Presies ses en twintig oor twaalf.
Die oomblik waarop die verhaal vir mý begin, wetties gesproke. Dit is presies waar dit vir my begin.
By die uitgange bly net twee wagte oor, op die perron net die vlagman. Dis nou as ’n mens die stasieblompotte met hul lawwe uniforms buite rekening laat.
Die tablet word aangegee.
Drie minute later kom die fluite, en kort daarna swaai die vlagman sy vlag. Daveltjie se vuur is ’n inferno. Jurie Kimberley gee die stoomdrukmeter een kyk en dis hoe hy gedink het dit sou wees: die naald bewe by die rooi merk, tweehonderd vyf en twintig pond per vierkante duim.
“Lekker fris gebou,” prewel Jurie Kimberley. Hy gooi die omstelsleutel na vol vorentoe en begin die regulator versigtig ooptrek. Die metaalwiele gly een maal, nog ’n keer, en dan vat hulle, staal teen staal. Dis ’n indrukwekkende vertoning van brute krag. Met die hoofstoomklep oop kry die lokomotief sy sin. Jurie voel die skudding soos die hele string waens die momentum amper stuit, eers beur, dan inval en begin beweeg. Dit is energie op uitstalling wat hy hier saam met die stoomgespuit aanskou, die lokomotief wat by die stasie uit wil beur, en die trillings wat die lang prosessie van waens veroorsaak soos hulle traag toegee en begin beweeg, trillings wat tot buite in Bahnhofstrasse gevoel word.
Dan, soos dit bestem is om te gebeur elke keer dat ’n loko sy sleepsel tem, eggo die fluit wyd tussen die stad se koppies. Drie maal. Jurie Kimberley sê totsiens vir Windhoek en Elize in hul sinkplaathuisie.
Alles maklik, seepglad en stiptelik, maar hoe kan AO Bergman weet, en hoe sou mevrou Denk kon voorsien, dat in daardie oomblik van talming, waarin hulle hande geneem en haar blik syne gevind het, álles verander het, van die pad wat Bergman se lewe volg tot die verwesentliking van haar drome? En dat sy in haar kompartement die stasie verlaat, voortgesleep deur ’n staalfurie onder die beheer van die eksellente Jurie Kimberley, met diep binne haar ’n gevoel van bevrediging, ’n sekerheid dat sy nie meer kan omdraai nie?
Sy wil haar hoed in die lug gooi, maar onthou dan waar sy is.