Читать книгу Ester - Kerneels Breytenbach - Страница 6
3
ОглавлениеDie dorp Piet Retief is een van die eerste uitvloeisels van die Groot Trek, ’n doelbewuste poging om hóm te gedenk wat by Ngungundhlovo sy lewe aan Dingaanshand verloor het. Die dorp hou steeds die nagedagtenis van sy grootste seuns in ere – Felix Mijnhardt, Joe Gouws, Johanna Raath, Koen van Rensburg, Hans Rabe – en vir baie dorpsliede hoort Dieter Bergman in daardie geledere.
Hoe om iemand te “verstaan” waarvan jy nie hou nie, dit is seker die kern van die probleem. Die juris troos hom egter met die verloop van tyd dat hy alle inligting oorweeg waarop hy sy hande kan lê. Die beeld wat hy van Bergman het, is omvattend.
Hy is ’n seun van die veld, dié AO Bergman, wat sy pa se plaas tussen Piet Retief en Wakkerstroom somers en winters kaalvoet platgestap het. Altyd met die gestapelde wolkepaleise wat die Hoëveldse winde gebou het daarbowe. Die gevierde digter kon netsowel oor Piet Retief se hemele geskryf het. In sy kindertyd was Bergman gewoond om alles omheen te sien groei. In sy kindergemoed was die Groot Oorlog ’n vae werklikheid, nes Bloedrivier en die Groot Trek en die twee vryheidsoorloë, wat ’n meer direkte band met die Bergmans had as die uitwissing van verlangse Duitse familie op die slagvelde van Europa. Die stakings en rebellie daarna was só ver verwyder van sy daaglikse lewe op kosskool dat hy meer tyd spandeer het aan verlang na sy ma en, ja, sy pa. Patriarg Bergman, wat sy plaas in die Depressie sou verloor toe die wolkestapels minder geword en die winde die land verraai het. Maar hy was só ’n krag in sy seun se lewe dat die latere geregsdienaar tydens skoolvakansies op die plaas rondbeweeg het, op elke moontlike en onmoontlike plek in navolging van die vader uit volle bors “Veronika, der Lenz ist da” gesing het, ’n eenman-Comedian Harmonist. Lied in die hart. Die toekoms syne om te verower.
Sy pa is ’n nasaat van Coenraad Bergman, gebore 1740. Sy oupagrootjie is Johan Hendrik Willem Bergman, getroud met Helena Mulder, ’n trekboer wat in 1836 kort op die hakke van Andries Hendrik Potgieter se trek na die noorde onder die Britse juk uitgekom het. Sy ma is ’n Rabe, een van die uitgelese Duitse families van die Piet Retief-distrik. Danksy haar het hy ’n liefde vir musiek ontwikkel. Hy het nooit die gereelde klassiekemusiek-aande op die dorp misgeloop waar sy ma se pianistiese voortreflikhede altyd een van die glanspunte van die aand was nie. Muti, soos die plaaswerkers haar tot sy pa se leedvermaak genoem het, het haar seun Duits leer praat. Hy het met gemak rondbeweeg tussen die telge van die families Thiele, Eggers, Weber en Niebuhr, en net so maklik met die Maartense en ander Afrikaanse kinders gespeel.
Patriarg Bergman het elke jaar die oudste ooi in sy kudde geskenk om as prys weggegee te word by die skyfskiet-item op die basaar op 15 Desember. Tot sy vreugde, en skaam-kwaadgeit, het die latere adjudant-offisier, toe hy nog nat agter die ore was, dié kompetisie ’n paar keer gewen. Wat die patriarg betref het, was dit ’n nepotisme-grensgeval.
Gelukkig het die kind nie uitgeblink in die Voortrekker-vasvra nie. Dis ’n luttele klad op die naam van enige nasaat van ’n Voortrekker. Boonop is dit op ’n dorp waar daar, so ver as wat menseheugenis strek, elke jaar ’n Dingaansdagdiens gehou is, selfs voor die ersatz-Groot Trek van 1938. AO Bergman het sy energie gekanaliseer na die Duitse deel van die vierings op 15 Desember, die skyfskiet en die musiekaand. Daar was hy een van die lede van die saamgestelde basuinorkes wat hulle met meer wêreldse partiture bemoei het ter voorbereiding vir die volgende dag se erediens en gemoedsalwing, waar hulle die Afrikaners se gemeentelike sang besonder stigtelik begelei het.
Die dorp het die AO gevoed, en hy op sy beskeie manier die dorp. Hy het selfs op ’n keer erken dit het hom verryk, maar dit neem nie weg dat hy altyd gedroom het van ’n lewe elders nie. ’n Lewe binne die vaart van die Unie, waar hy sy merk in ’n veel groter gemeenskap sou kon maak. Dit is waaroor hy met sy ouers gesels het wanneer hulle gepraat het oor sy lewenspad en sy drome vir homself.
Sy ouers het saam met hom gedroom, aanvanklik. Toe hulle nog gelewe het.
Ondanks die welvaart van patriarg Bergman se vrou se een oom, wat in 1925, tydens generaal Hertzog se eerste Nasionale Goewerment, Lid van die Provinsiale Raad vir Wakkerstroom geword het, was die patriarg in 1932, met die groot Depressie, feitlik op sy knieë. Die AO, toe in sy derde jaar as regstudent op Stellenbosch, moes terugkeer plaas toe. Twee jaar later het sy Stellenbosse droom weggewaai saam met die warm winde wat die groot droogte oor die Hoëveld vasgedruk het. ’n Mens kan jou voorstel, terugskouend, dat hy twee keuses gehad het: onderwys of polisie. Omdat hy die belangstelling had in regspleging, was die polisiediens vanselfsprekend sy keuse. Dit was geen geheim nie in sy klein vriendekring op die dorp dat hy intens bewus was van hoe anders dit vir hom kon gewees het, was dit nie vir die Depressie nie, en, uiteraard, as die kapitalisme nie in 1929 sy Groot Hik gehik het nie. Sou hy afgestudeer teruggekeer het na sy geboortedorp, om een van die vername Duitse families se dogter na die kansel op te voer? Een van die vrouens wat nóú so buite sy bereik is, ’n stasiebevelvoerder helaas nie sosiaal ’n vangs nie? Hy is ’n veteraan van verskeie liefdesteleurstellings, die vrouens op wie hy verlief geraak het nou almal reeds getroud met die ryk boere van die omgewing, of die dorpsadel: dokters, dominees en skoolhoof. Die vroulike liggaam is nie aan hom onbekend nie, maar weens sy vereensaming ook nie in die heel fynste besonderhede nie.
En sy wat in die kompartement in die middel van die wa sit, waarheen hy haar in Windhoek geneem het? Volgens die dokumentasie oor haar wat brigadier Butler in Pretoria aan hom gegee het, is sy ook van ’n besonderse Duitse familie, Nissen-Lass, die eerste van die Duitse nedersetters wat in 1891 na die Duitse kolonie gekom het om hulle naby Windhoek te vestig – ’n skrale jaar ná die koms van Curt von Francois.
Duitswes-adel.
AO Bergman sit in sy kompartement, blaai, lees, blaai en lees. Die opdrifsels uit die een of ander geheime staatsdepartement, inligting oor Duitse inwoners van Suid- en Suidwes-Afrika wat opgediep is vir leidrade na moontlike insurgensie. Duitsers wat tydens die oorlog eers saam met die Afrikaanse opstandiges geïnterneer is, en later na Baviaanspoort oorgeplaas is. Geen Nissen-Lass onder hulle nie, geen Denk. Het sy haar ouers aan die dood afgestaan, soos hy? Nee, die rede blyk uiteindelik, aan die Denk-kant, maar alledaags te wees. Want Denk, Herr Hans Denk, eggenoot van die vrou wat hom op die trap van die treinwa ’n blik in haar siel gegee het, hy het die oorlog deurgebring in Lourenço Marques, te bang om sy voete in die Unie te sit, diep onder die indruk van sy geheime verbintenis met Karlowa en Joachim von Ribbentrop. Hans Denk, geleier van inligting oor die Smuts-regering en hul strategiese paraatheid. Sy vrou, die skone Thyra, wat haar liefde vir haar eggenoot saam met haar ideale vir die Duitse Wêreldryk vertroetel het in die loop van ses lang, sieldodend eensame jare op Mecklenburg, vyf en vyftig myl van Windhoek. Thyra Denk, gereeld die onderwerp van lompe spioenasie deur Sy Majesteit se Suid-Afrikaanse helde.
’n Duitser in ’n omgewing wat deur Afrikaners oorheers is. Sou hy haar daaroor uitvra, sal mevrou Denk hom vertel dat sy geen hoë dunk van die nasate van tulpesmouse het nie – knegte, houthakkers en waterdraers wat bestem is om telkens ’n juk af te werp en dan ’n nuwe een oor die skof te voel skuif. Weggehardloop van die brandstapels van die Hervorming, net om die knie en later die hoof te buig vir die Britse koning. Bestem om altyd weg te vlug na ’n volgende gewaande paradys.
Maar nou is hy nog heeltemal onder die indruk van haar as Suidwes-presteerder, hierdie kosb’re pêrel, fraaie pêrel, wat onskendbaar op Mecklenburg bly glinster het terwyl die oorlog met groot gedruis in die gemoedere van Duitssprekendes chaos gesaai het.
Die AO kyk op van die legger. Die dokumentasie oor haar laat hom begryp hoekom sy met soveel omsigtigheid benader word. Al in 1940 moes daar besluit word of sy as Duitse spioen geïnterneer moes word. Altesame sewe Duitse vroue is in die loop van die oorlog na ’n interneringskamp in Suid-Rhodesië gestuur. Maar sy was nie een van hulle nie. Hoekom? wonder AO Bergman. Niemand het kans gesien om haar te laat haal nie. Sy was daarbowe verhewe. Eintlik ongehoord, voel ons plattelandse stasiehoof, om ’n spioen wat in Duitsland opgelei is toe te laat om onbelemmerd op ’n plaas in Suidwes-Afrika te gaan sit en net nou en dan seker te maak dat haar man nie oor die Angolese grens geglip het om haar te kom besoek nie. Maar daar is nog leemtes in die dokumentasie, en wat hom betref is dit glad nie benede hom om so ’n bietjie uit te vra daaroor nie.
AO Bergman sit terug, draai sy sit oor na sy linkerboud sodat hy sy regterbeen kan kruis en by die venster uitstaar. Hy sien, maar sien ook nie. Hy het ’n hele skedule opgetrek vir die reis, maar hy kan nie nóú daaraan aandag gee nie. Sy gedagtes is by haar oë, by sy hand en hoe sy dit neem, maar nie beweeg nie. Net kyk na hom. Kyk in hom. Het sy hartslag versnel? Het sy dit vermoed?
Hy ken haar slegs ’n dag en tog dink hy aan niks anders nie. ’n Pianis, nes sy ma. Hý wat so gewoond geraak het daaraan om te hunker, pynlik te verlang na iemand wat hy nog nooit ontmoet het nie, wat gedink het dis sy lot om sy skemerjare alleen tegemoet te gaan, hy dink skielik anders oor haar. Natuurlik, sê hy vir homself, is dit muisneste, wat hy op sy ouderdom nie behoort te hê nie. Maar hoe moet hy weet om hierdie verlange na haar nabyheid te hanteer, hý wat nog nooit só verbyster is deur ’n aanraking en ’n blik nie?
Kon hy dit verhelp, die galante heer wat deur haar oë diep in haar siel gestaar het? Hy was dadelik oorweldig deur die begeerte dat sy tot hom toegeneë moes raak. Tot hom, Dieter Bergman. Nie tot die uniform en die rang wat daarmee saamgaan nie. Kon sy hom verlos van die vakuum aan liefdesherinneringe wat hy met hom saamdra?
Sy, ’n getroude vrou, tans sonder gemaal?
En met sy hart wat bons soos dié van ’n tiener, is die AO onverwags bly oor brigadier Butler se besluit dat die wa waarin mevrou Denk haar vir die duur van die reis sal bevind, met uitsondering van etes, aan die eindpunt van die trein is, net voor die bagasiewa, waar geen ander passasiers kan rondsnuffel nie. Hulle sal nie by die konstabels Fitzsimmons en Bentley verbykom nie. Nie dat die SA Spoorweë & Hawens enige verdere besprekings vir hierdie tog aanvaar het nadat die Gekose Komitee besluit het om mevrou Denk vanuit Windhoek te laat afreis nie. Dít was brigadier Butler se eerste dekreet.
Fitzsimmons en Bentley deel ’n kajuit op die punt naaste aan die res van die trein, in die kompartement langs hulle is Bergman, twee kompartemente verder is mevrou Denk. Weerskante van mevrou Denk is ’n leë kompartement en heel aan die einde van die wa is die kloos, deur brigadier Butler aangewys as vir die uitsluitende gebruik van die Duitse spioen.
Ná hul wa is daar geen passasierwaens of mense nie. Net die bagasiewa.
Hoe geval die reis vir haar wat die gemoed van AO Bergman vul, sy bloed laat bruis? Sy wat in Windhoek dit gelate aanvaar het dat konstabels Fitzsimmons en Bentley haar koffers op die bank verste van die lokomotief plaas sodat sy heelpad agtertoe kyk? Wat sonder om ’n spier in haar ongegrimeerde dog opvallend aantreklike gesig te trek luister hoe Fitzsimmons in geradbraakte, gemutileerde Duits verduidelik dat sy die boonste bank kan afslaan en die koffers wat sy die minste gebruik daarop kan plaas? Sy het ’n sweem van ’n glimlag kon deel met Bentley, wat in nog meer beskadigde Duits vertel het dat dit beter is om met haar rug na die lokomotief te reis, aangesien die kans dat daar dan van die lokomotief se roet in haar oë kan waai, feitlik nul is.
Ná hul vertrek het sy die kompartement bekyk, die rakkies bokant die vensters gesien en dadelik haar grimering, seep, waslappie en tandeborsel daarin geplaas. Sy het die blad van die tafeltjie tussen die sitbanke opgeslaan, sodat dit ’n wasbakkie onthul, haar hande gewas. Uit haar kleinste tas het sy ’n handdoekie gehaal, en toe die proses afgehandel was, het sy ’n hangplek daarvoor bokant die skuifdeur gevind. Toe eers het die blou leer van die sitbanke, wat saans haar bed sou word, haar opgeval, en die baie hout-paneelwerk, en die ry van vyf foto’s in rame bokant albei sitbanke. Plekke waarvan sy gehoor het, maar nog nooit gesien het nie: Sir Lowryspas uit ’n trein gesien, leeus wat ’n bokkie in die wildtuin eet, Houtbaai se berg, Durban se strand, en die drake se berge. Die ander plekke herken sy nie.
Sy slaan die boonste slaapbank oorkant haar sitplek af, tel haar stel koffers op en plaas hulle een vir een daarop neer. Die reuk van die tasse bring dadelik ryke herinneringe – in die Wielandstrasse gekoop voordat sy na Afrika gekom het, netjiese kompartemente waarin niks kan kreukel nie. Sy ruik die leerwerk daarvan, dink terug aan die Salon.
Sy glimlag – of is dit ’n grimas? Haar gedagtegang het met gemak die sprong gemaak van die Wielandstrasse na D.F. Malan.
Verspot, maar logies.
En die uiteinde, hierdie treinrit.
Onthou, hierdie gedagtes het soos mis deur die berkebosse van haar jeug beweeg – nog voor die treinrit begin het, terwyl Jurie Kimberley en Daveltjie die stoom opgebou het vir die vertrekslag.
Mevrou Denk het met haar rug in die rigting van die lokomotief gaan sit. Buite, aan die ander kant van die perron, het sy ’n wielklopper gesien wat besig was met die wiele van die lokomotief wat afgehaak is. Hy het van wiel tot wiel beweeg. Elk met sy hamertjie geslaan, aandagtig geluister na die klank wat dit maak. Uiteindelik was hy tevrede. Hy het hand op die perronskouer op die loopvlak gespring en met die perron af verdwyn. Natuurlik het sy gehoop dat hy die prosedure met hul trein sou herhaal – dit sou net haar geluk wees as die trein onklaar raak tussen Windhoek en Mariental. Dis ’n dorre honderd en sewentig myl wat hulle moet aflê voor hulle die aand in Mariental sou aankom.
Sy hoor ’n klop aan die kompartement se deur. Voordat sy kan antwoord, het AO Bergman die deur oopgemaak en sy voete oor die drempel geskuif. “Ek het advies, voordat ons ry.”
Hul oë het weer gesluit in die aanblik, sy wat swyend wag dat hy voortgaan.
“As die trein teen ’n opdraande sukkel, moet u die vensters toemaak.”
“Ja?”
“Die trein begin dan stadiger beweeg, en die roet waai by die venster in.”
Hy het haar mondhoeke sien trek. Irritasie of verveling?
“Maar ek mag die venster andersins open?”
Is dit ’n sweem van sarkasme wat hy in haar stem bespeur? Ja? Natuurlik. “U mag die venster andersins open. Trouens, ek kan dit aanbeveel. Dit gaan nog baie warm word op die vlakte, al is dit winter. Vannag sal dit anders wees.”
“Dit glo ek ook.”
“Nou goed. Die trein stop net agttien minute lank in Windhoek. Ons sal binnekort weg wees.”
Bergman is by die deur uit voordat sy iets kan sê.
Sy gaan staan in die deur van die kompartement. Kyk na die sitbanke, die wasbak wat diens doen as tafeltjie tussen die sitbanke. Sy neem haar drie hoeddose en plaas dit op die netrak bokant die sitplekke. Ons Duitse spioen. Wat sou haar gemoed kwel, hier waar sy haar hoedjie afhaal, op die sitbank neergooi? Die wa is haar woning nie. Hoekom sou sy moeite doen? Alles is verby, en wat in Kaapstad op haar wag, is net die vryf van sout in haar wonde. Wat is die ergste wat met haar kan gebeur?
Gans niks? Die ergste het reeds gebeur. Die Geallieerde magte het die oorlog gewen. Die Vaderland is nie meer nie.
Sy hoor die fluit, en dan die gegly van die lokomotief se wiele soos wat hulle traksie op die spoor probeer vind. ’n Siddering beweeg van trok tot trok, namate die wiele vasbyt aan die staalspore. Sy sien deur die venster hoe die perron begin verbygly, en uiteindelik in die verte agtertoe verdwyn.
In sy kompartement hou AO Bergman se leeswerk sy aandag net met rukke. In Windhoek was die stasie, in die woorde van brigadier Butler, syne. Nou is die trein in dieselfde trant sy eiendom, om mee te maak soos hy goeddink, totdat hy Dinsdagoggend vir mevrou Denk van die trein af begelei en vergesel na die Parlementsgebou. ’n Kwartier buite Windhoek, met die Auasberge in die verte sigbaar, klop AO Bergman met afwagting aan haar skuifdeur. Hy wag vir haar om oop te maak, maar hoor net hoe sy hom toestemming gee om binne te kom.
Hy skuif die deur oop. Mevrou Denk sit nog presies waar hy haar gelaat het. Al wat verskil, is haar hoedjie, wat nou op die sitplek langs haar lê.
Hy sien alles raak – haar bene lank vorentoe gestrek, naas mekaar, die regop houding van haar bolyf, haar gesig. Alles verbygaande dinge, sou hy toegee, maar daardie gesig, die matelose skoonheid. Die oë wat lui aandag skenk aan alles, net om lewendig te flikker wanneer iets haar aandag gryp. Die mond so wyd, maar met kunstige gebruik van grimering lyk dit kleiner, ’n amperse pruilmond.
Hy staan sprakeloos na haar en staar. Hy worstel met ’n gevoel wat hy nie ken nie. Paniek. Die vrees dat hy haar sal verloor sodra sy opdrag uitgevoer is. Dat hy haar reeds verloor het.
Sy sê niks, kyk hom net aan, mis niks nie.
AO Bergman voel hy begin bloos. “Ek kom om u touwys te maak vir u etes,” sê hy. Sy woorde voel vir hom skielik só sonder gesag.
“Touwys?” Sy kyk op van sy oë na sy hare, asof sy nie belang stel in sy antwoord nie.
En dan, effens aspris: “Of wil u my die vreugde van my eensaamheid ontneem?”
Nogtans staan sy op. Reik hom eers die hand, sodat hy haar vastigheid kan bied met die beweging, en kom dan soepel en elegant orent. Haar rug fier, haar nek wat uit haar skouers rys. Haar hand wat in die AO s’n talm voordat sy haar vingers onttrek.
Hy moet ’n tree agteruit gee, na die gang. Sy slaan ’n trotse figuur hier langs hom, onwrikbaar. Hy bewonder wéér die lang lyn van haar rug en heup tot dit versmelt met die spiere van haar bobeen, in haar verbygaan en afstap in die gang.
Maar hy moet haar terugroep, moet ons AO. Hy het na die verkeerde rigting in die gang geretireer en sy is nou op pad na die bagasiewa.
Sy talm ’n oomblik lank langs hom, haal diep asem en skuur dan verby in die ander rigting. Sy gaan staan, kyk oor haar skouer na hom. “Dit had sekerlik nut,” sê sy sag en beloon hom met ’n glimlag.
Wanneer mevrou Denk die eetwa betree, is die AO steeds bloedrooi in die gesig.
By die ander punt van die gang aanskou konstabels Fitzsimmons en Bentley die toneeltjie maar weet van beter as om nou enige opmerkings te maak, tewens, dit is eers wanneer hulle terug is in Pretoria, meer as twee weke later, dat hulle in hul eiesoortige wysheid dit gerade ag om hul waarnemings met enigiemand te deel, en toe was dit reeds te laat.
Al wat hulle nou geregistreer het, is die veerkrag en soepelheid van haar tred, langer treë as wat vrouens normaalweg op die skommelende vloere van treine waag.
Die Duitse spioen is verbaas oor die netheid van die eetwa. Sou sy dit dan nie raaksien nie, ná soveel jaar op die plaas, hierdie tafels met regte stoele, wit damas-doeke en silwereetgerei. Regte silwer, merk sy wanneer Bergman haar by een van die tafels laat aansit. Geen gaasdoeke wat die vlieë, lui en fluks, moet weghou nie. ’n Vorm van spesiale dispensasie moet geld, meen sy. Hulle is die enigste gaste in die eetwa.
Buite streep die winterlandskap verby. Doringstruike, knopperige doringbome, grasveld en die groot toevlug vir mens en dier in somertye, naamlik die alleenstaande kameeldorings met hul sambreelboskasie en knopperige dorings. Sy het lief geword vir hierdie land, waar daar oënskynlik geen duidelik onderskeibare jaargetye heers nie. Winters is kouer snags – baie koud, maar bedags breek die son deur en is die getye baie eenders. ’n Mens moet met aandag let op die kleure van die veld om te sien dat die winter wel ’n tydelike einde gebring het aan die lewensap wat somers so wonderlik deur blaar en tak bruis. Sy is versot op die manier waarop die son bedags die kale heuwels bak. Sy het geleer om die koel bries van die namiddag na waarde te skat, oomblikke wanneer die barheid van die landskap onverwags verkleur, met ’n pienkerige blos op die grou gelaat afskeid neem van die son. Die trein klim nou vanaf Khomas deur die poort van die Auasberge na die hoër, kouer wêreld agter die bergreeks. Vaal, nader aan kleurloos die amperse grasveld. Maar haar oë soek, soos op Mecklenburg, die einders, dáár waar die felheid plek maak vir sagter pastelkleure, waar die natuur in harmonie verkeer met die bloue koepel van die hemele …
’n Kelner meld hom aan. “Iets te drinke?” vra hy op Afrikaans.
Sy kyk na Bergman. “Henkell Trocken?” Met ’n wenkbrou wat spelerig omhoog lig, die lyn daarvan sonder enige hulp van grimering skerp afgeëts teen haar vel.
Hy proes, ’n skeut lug wat uit sy mond ontsnap. “Net water, asseblief.” Hy leun effe na vore. “Ek sal u nie blootstel aan die soet vonkelwyn wat hulle in die plek van Henkell het nie.”
“Heksedrek!” roep sy uit.
Sy moes dit seker voorsien het. Die oorlog se skade neem lank om uitgewis te word. Sonder die letsels van die Groot Oorlog sou Hitler nie sy strydros kon opkommandeer nie. Maar die Unie is nie Duitsland nie. Die verarming van die oorlogstyd is sekerlik nog nie in die Unie omgekeer nie, en buitendien is daar ’n agterlikheid by die spul te bespeur wanneer die fyner dinge ter sprake kom. Soet vonkelwyn!
Wanneer ’n groot fles met water voor hulle neergesit word, vra Bergman of sy sal meedoen aan die vyfgang-maaltyd.
“Vyf gange?”
“Die trots van die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens. Hierdie eetwa is nie onderworpe aan rantsoenering nie. Die kok is uit Italië. ’n Oudgevangene.”
“En in watter rioolplaas in Sardinië het hy voor die oorlog gewerk?”
Die AO se gesig val onmiddellik.
“Goed,” sê sy. “As dit nie anders kan nie.” Wat sou Bergman van haar dink – dat sy ydel op die plaas gesit het terwyl die oorlog aan die gang was? Alle vorme van beskaafdheid vergeet het? Meer nog. Dat die koeie ophou melk gee het? Dat niemand geweet het hoe om skaap te slag nie? Dat mevrou Denk nie ’n kombuis vol bediendes kon bestuur nie? Hy kan mos sien sy is nie maer en uitgeteer nie!
AO Bergman sien hoe haar wange begin gloei, daarna haar nek. Vanwaar die woede? Hy hoor hoe sy diep asemhaal, die ademing stadig, uitgerem laat ontsnap. En weer.
Haar toorn sak. Sy is bewus van sy aandag.
Mevrou Denk glimlag vir hom. Dit sal help as hy ook ontspan. Sy wonder waaraan hy dink? Kan tog nie uitsluitend fokus op die maaltyd en sy rituele nie. Het sy maar geweet dat hy sy bes moet doen om nie sy onsekerheid te laat deurskemer nie. Dít is hoe dit altyd met hom is – om die uiterlike indruk van selfversekerdheid en inbors nie te verloën met onbeholpe gedrag nie. Hy had vreugde aan sy ma se Duitse tafel, kan homself handhaaf onder die vergrootglas van sosiale verkeer, maar hierdie keer is die eerste in meer as sewe jaar dat hy alleen met ’n vrou aansit, by die beste wat die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens kan bied, ’n geil tafel in ’n tyd van groot skaarstes. Hy het twee dae laas behoorlik geëet, en hy moet met die sametrekking van sy maagspiere probeer verhinder dat sy maag se gorgeluide bo die metrum van die treinwiele oor sweisplekke in die spoorlyn en gapings tussen die stawe hoorbaar word.
Albei is versonke in eie gedagtes, en die liewe AO het nog nie vir homself die deur na hare kon oopbeur nie.
“Honger?”
Sy knik.
AO Bergman wens hy kan nóú meer as net oppervlakkige waarnemings maak. Hy maak wel afleidings, soos hy opgelei is om te doen, van die omgewing waar hy haar ontmoet het. In die verbygaan, sodat niemand agterkom hy stel ’n inventaris op nie. Die opstal van Mecklenburg, die stoele, jagtrofeë, velle op die klipvloer wat as matte dien. Eenvoudige eetgerei. Oorvloed in ’n tyd van rantsoenering. Die spioen was deel van die inventaris, niks meer nie. Blind het hy haar huis betree, blind is hy daar weg. Nie eens die reuk van kos wat uit die kombuis aangesweef gekom het, kon hom van sy voorafingenome oordeel laat afsien nie.
Hoe het daardie oomblik op die stasie dinge nie verander nie!
Mevrou Denk verwyder haar handskoene, plaas hulle bo-op mekaar eenkant op die tafel, naaste aan die venster, langs haar handsakkie.
Die kelner kom aangestap met ’n skinkbord waarop twee borde rus. Elk is bedek met ’n groot silwerkoepeldeksel. Hy plaas die borde voor hulle neer, en lig dan eers mevrou Denk se koepeldeksel en daarna Bergman s’n, om ’n sopbord met ’n helder groente-consommé bloot te lê.
Sy wil haar soplepel lig, maar sien hoe Bergman sy oë sluit. Sy tafelgebed klink helder op: “Zegen Vader hetgeen wij eten. Laten wij nimmer Uw vergeten.”
Is dit ’n meewarige glimlag wat daar om haar mondhoeke roer? Of begrip vir die koddigheid – lakeie van die Britse troon wat steeds hul God aanspreek in die taal van die Nederlandse seehandelaars, die taal van inhalige, korrupte suinigaards? “Wat vir ons oorbly,” sê sy, “is twyfel en onrus.”
Die AO kyk verbaas op. Sy staar by die venster uit, bewus van die groot skuiwende skildery daar buite, en hulle wat bestem is om nooit deel te word daarvan nie. Kan ’n skilder hierdie landskap met fantasie ontsluit?
Mevrou Denk kyk terug, glimlag vir die AO. “Moontlik moet ons ons toevlug tot fantasie neem,” sê sy sag. “Dáár waar verraad en lojaliteit een en dieselfde ding is.”
Die manier waarop hy na haar kyk, sy mond oopmaak om te antwoord maar dan onverrigtersake sluit, steek die vonkie van ’n vermoede by haar aan.
Sy begin eet.
Die reuk van sigarette wat onverwags by hom registreer – ou rook, verslaan in die meubels, in die houtpanele, geabsorbeer saam met ’n duisend en een gesprekke.
Hy dwing sy aandag terug na sy sop.
Mevrou Denk neem ’n paar lepelsvol na die mond, plaas haar soplepel terug in die bord, lepelsteel op sesuur.
Bergman is verbaas. Moontlik is sy beter gewoond. Indien so iets moontlik is. Hy verorber sy sop, koninklike spyse na sy smaak. Haar amper onaangeraakte sop staar met ’n groot blink oog terug.
Dit spreek seker vanself dat haar gedagtes elders dwaal, vir al wat die Kroon se gesant hier weet. Dalk by Windhoek onder meer, beter omstandighede, met Hitler se afgevaardigde wat die stad namens der Führer voor ’n skare in ontvangs neem, en sy is deel van ’n oorwinningskonvooi, per trein op pad na Kapstadt, hande omhoog in saluut terwyl hulle sing van die vlag wat omhoog wapper, en hul vermoorde kamerade wat naas hulle marsjeer. AO Bergman sou iewers in ’n interneringskamp wees, een van ’n span wat strate teer en sanitasie aanlê vir die nuwe woonbuurte van die oorwinnaars uit Europa. Die woorde doem op, maar sy is tot swygsaamheid verplig. Sy neurie saggies, vir hom net hoorbaar, saam: “Die Knechtschaft dauert nur noch kurze Zeit! ”
Ja, dit is ’n wrange glimlag …
Die kelner verwyder hul borde en is feitlik onmiddellik terug met die volgende gang, stokvis met ’n suurlemoenskyfie en ’n spriet pietersielie. Weer die Europese ritueel met die silwerkoepeldeksels.
Die vis is in botter berei, en mevrou Denk druk haar suurlemoenskyfie met mening daaroor uit. Sy weet van die chemiese dans van botter, witvlees-vis en suurlemoensap, die voorspelbaar ekstatiese uitwerking op die palaat. Haar gedagtes spring na ’n restaurant in Frankfurt, die Alte Kanzlei, sy kwalik tiener, in algehele ekstase oor ’n botter-en-suurlemoensap-sous wat ’n Italiaanse sjef vir die visgereg berei het. Die herinnering bring nie heimwee nie, maar ’n mond wat onverwags in antisipasie speeksel produseer.
Hierdie keer eet sy met oorgawe, en laat alleen ’n stukkie vis agter wat drooggekook het. Maar wat anders het sy van ’n Italiaanse kok verwag? Het enige Italianer al ooit iets heeltemal juis afgehandel? Daar sal altyd iets haper, nes met daardie stommerik wat aan sy voete opgehang is sodat sy urine by sy neusgate kon inloop.
Dieter Bergman sien verbaas dat sy voor hom klaar is. Hy is nie gewoond aan vis eet nie. Sy is. Weet presies watter eetgerei om te gebruik, en wat om met die suurlemoen te maak. Hy aap haar na, maar eet sy bord skoon, dat net die uitgedrukte suurlemoenskyfie agterbly. Hy sien hoe sy ’n smeerseltjie by haar een mondhoek wegveeg met haar servet. Geen manier waarop hy kan weet of sy mond dieselfde oorgekom het nie. Hy trek sy servet van sy skoot af en maak sy mond skoon, driehonderd en sestig grade.
Die gebruikte eetgerei word verwyder. “Bietjie blaaskans?” Die kelner rys bo hulle uit. “Sigaret?”
Hy voel in die heupsak van sy uniform se baadjie, haal ’n silwer sigarethouer uit.
Mevrou Denk neem die Gold Leaf wanneer Bergman dit aanbied. Brits, wat beteken dat dit haar keel sal brand. Maar sy smag na een en laat hom toe om dit met sy paraffien-aansteker aan te steek.
Sy blaas haar rook bo hom uit. Hy sien haar keel, die pragtige beweging van haar nekspiere so met die draai van die kop. Haar vel lyk sag en sonder ’n teken van grimering of enige plooitjies wat ouderdom kan verklap. Die spore van vergete lagbuie. Te oordeel na haar wangbene, en die effense insinking van haar wange voor die ferm lyn van haar kakebeen, is sy nog jonk – jonger as wat hy weet sy is.
“Die ene opwinding, is dit nie?” sê sy.
Die AO laat sy blik op haar talm. “Ek moet nog die fyner detail van hierdie reis met u bespreek,” antwoord hy.
Sy lig net haar een wenkbrou, ken omhoog. Teug aan haar sigaret.
“Hierdie ete is die enigste wat ons op ons eie geniet,” sê hy.
Sy blaas haar rook uit, rigting van die leë tafels.
“Van vanaand af sal ons met die res van die passasiers aansit.”
“Die oorlog is verby,” sê mevrou Denk. “Die vrede is verklaar, maar nie gemaak nie.”
“U het vryheid van beweging, maar ons sal moet teenwoordig wees indien u besluit om verder te wandel as die eetwa. En wanneer u aansit vir ete.”
“Ag so?”
“Uit die aard van die saak sal die Volksraad dit verkies dat niemand met u getuienis inmeng nie.”
Mevrou Denk frons. “Ek het hoë respek vir jul koestering van die regsproses.”
“Daar mag geen kontak tussen u en die regspan van doktor Malan wees nie.”
“Ek ken hulle nie, maar as dit julle gelukkig sal laat voel, sal ek teenoor hulle swyg.”
“Só moet dit bly totdat u voor die Gekose Komitee in die Volksraad verskyn.”
“Wanneer sal dit wees? Die spanning raak uitmergelend!” Sy het haar glimlag skielik teruggekry, haar tande pragtig wit.
“Ons arriveer Dinsdagoggend om 6:14 in Kaapstad. Daardie oggend reeds verskyn u voor die komitee.”
“Só snel?”
“Hoogverraad is ’n ernstige saak.”
“Ongelooflik!” Sy blaas ’n rookwarreling weg van hulle, die eetvertrek in. “Dit kan tog nie. Een ontmoeting met ’n spioen en julle wil hom van hoogverraad aankla?”
“Kan tog nie? U kan tog nie onkundig wees oor die wetgewing wat gedurende die oorlog gegeld het nie! U eie eggenoot het dit nie durf waag om sy voete in die Unie te sit nie.”
Hans Denk. Boer en landboukundige. Altaarpoetser vir Adolf Hitler.
Mevrou Denk versomber, neem haar toevlug weer tot die venster. Die wydse vlakte naby Rehoboth waarvoor Hans Denk so lief is. Die veld skuif verby, terug, ’n groot vaal kombers wat van die trein afgetrek word. Sy druk die laaste kwart van die sigaret uit in die asbak voor haar. Die kelner is onmiddellik by om die asbak te verwyder.
Die hoofgereg is skaapboud met gebakte aartappels, wortels, boontjies en mentjellie. Plus ’n sousie, wat Bergman oor die groente giet en die skaapvleis droog laat.
Mevrou Denk sien dat hy rojaal van die mentjellie oor die skaapvleis stort. Engeland lê oral op die loer.
Bergman val met oorgawe weg, eet met die vasberadenheid van ’n uitgehongerde. Mevrou Denk peusel, staar verby die AO.
“Speel u nog klavier?” Sy eerste skuif in die Spel van Vriende.
Alles kom by mevrou Denk tot stilstand – tot sy verbasing. “Wat?”
Hy is seker sy het baie goed gehoor wat hy gevra het, maar hy herhaal sy vraag. “U is tog in Duitsland opgelei, nie waar nie?” voeg hy by.
Sy lig net een wenkbrou.
Hy is geduldig. In die staat se legger het hy alles oor haar gelees wat daar maar oor haar te lese is. “Volgens my inligting was u van Julie 1916 af ’n leerling aan die Grossherzoglichen Musikschule in Weimar. Die klavier was u instrument.”
Mevrou Denk knik ingedagte. Staar na die skaapboud terwyl sy praat. “In die Groot Oorlog. Dit was my droom. My ouers het nie gedink die oorlog behoort my studies te belemmer nie.”
Buite sien sy ’n droë rivierloop verbyskuif. Dan weer die vlakte met lang, geel gras. Enkele doringbosse wat hier en daar te sien is.
“Dit moet nietemin ’n wonderlike tyd gewees het.”
Sy kyk nie na hom nie. “Onvergeetlik.”
Hy kan dit nie help nie, maar die AO kry die oorweldigende gevoel dat mevrou Denk droomtyd betree het, besig is om te verdwaal in herinneringe aan die welgeluksalige tye van haar jeug. “Student van mejuffrou Hedwig Hinz …” sê hy.
Die naam wek ’n glimlag.
“Op Saterdag 22 Junie 1918 sou u na alle waarskynlikheid die groot Mozart-uitvoering ter ere van groothertog Karel Alexander bygewoon het.”
Mevrou Denk glimlag steeds. “Saam met my vriendin Anna Maria Bach.”
AO Bergman sit regop. Maar daar is geen blyke dat sy van sy bedugtheid bewus is nie. Indien sy dit wel opgemerk het, sal sy haar dit nie verwerdig om hom te vra wat dit is wat hom skielik laat verstar het nie. Sy moet besluit het dat sy in elk geval niks daaraan kon doen nie. Dit weet ons nou.
Hulle verduur die nagereg in stilte, selfs AO Bergman skynbaar nie meer uitgehonger genoeg vir ingelegde perske en vla nie, en daarna nog minder vir kaas en beskuitjies saam met vyekonfyt. Dié ongekende luukse, gans verspil op die seun van Piet Retief.
Hy begin aan haar verduidelik dat hulle die aand sou eet nog voordat hulle in Mariental aankom.
“Geen beswaar nie!” Sy het ’n groot behoefte aan die bruising van mense rondom haar, maar hoe verduidelik sy dit nou aan die AO?
Hy vergesel haar na haar kompartement.
Mevrou Denk sê sy wil gaan dut.
Die AO sê die konstabels Fitzsimmons en Bentley aan om wag te hou oor die gang en toegang tot die wa. Verdaag dan self vir die middag.
Die AO is onbewus van nóg doringbome nóg grasvelde waardeur hulle beweeg, nog minder van die die egalige ritme van die trein veroorsaak deur die wiele wat die lasse in die spoor met rustige reëlmaat tref. Hy maak homself in sy kompartement tuis, sy gedagtes in algehele chaos. Sy liggaam is nog aangevuur deur die gevoelens wat skuins na die noen daar op Windhoek se stasie by hom wakker gemaak is. Hy roep die herinnering aan haar oë, daardie indringende blik, weer en weer voor sy geestesoog op. Hy sien haar lyf voor hom in die gangetjie beweeg, die strek van haar bene waar sy in haar kompartement sit. Hy wonder hoe sy lyk op die plaas wanneer sy gaan jag, want jag sal sy móét. Hy besef egter, in die draai van die mymering, dit is alles kaf en té min koring, en sy verstand vlug weg, in gans ’n ander rigting.
Daar is by hom geen twyfel oor sy sending nie, maar een ding weet hy nou: Mevrou Thyra Denk is nie wie sy voorgee om te wees nie. Iets klop nie in haar antwoorde nie. Hy weet wat dit is, want hy het die vrae gevra. Nie per toeval nie, maar omdat hy moes – omdat hy wou.
Dit beteken vir AO Bergman net een ding: ’n groot gemors.
Buite skuif die landskap in ’n eindelose vergestalting van die Goue Snee verby, ’n volmaakte uitdrukking van juiste mate en diepte, van donker en ligter vlakke in die verte. Die AO se gedagtes is verstrengel in die onjuisthede wat mevrou Denk kwytgeraak het. Kan hy nou nog buitestander wees? wonder hy. Hy kan niks aan die toeval of ou gerapporteerde feite oorlaat nie. Eers sal hy agter die kap van die byl oor mevrou Denk moet kom, en daarna vir haar vertel van die gesprek wat op hande is, dié een waarvan niemand durf weet nie.