Читать книгу Volbloedvrou vir 'n vaalseun - Kobie Smit - Страница 8

5

Оглавление

Die geskril van die wekker maak Fransien wakker. Sy sukkel om haar oë oop te kry en tas blindelings op die bedkassie rond.

“Hallo? Hallo?” beantwoord sy haar selfoon.

Die lawaai hou nie op nie en die slaapnewels begin stadig lig. Sy sukkel om die rooi knoppie raak te druk, maar uiteindelik daal ’n salige stilte oor haar neer. Stadigaan kom sy tot haar sinne.

“Ligte kalmeerpilletjie se voet, die goed skop soos ’n muil. Al wat nou gaan help, is koffie,” praat sy hardop met haarself.

Nog effens slaapdronk gaan sit sy buite met haar koffie. ’n Ligte rilling trek deur haar toe die oggend se gebeure weer by haar opkom. Eintlik voel sy ’n bietjie verleë omdat sy die kluts so kwytgeraak het, maar dis seker te verstane. Dit was die eerste keer dat sy so direk met die dood kennis gemaak het. Dit sal waarskynlik nog lank by haar spook.

Die dans begin om sewe-uur. Sy het oorgenoeg tyd om klaar te maak. Sy drink haar koffie tydsaam, voordat sy ’n bad vol warm water gaan tap en kwistig ’n paar hande vol badsout ingooi.

Toe sy vir oulaas in die spieël kyk voor sy na die danssaal toe stap, voel sy tevrede. Haar rok is ’n uitsonderlike groen, met net ’n effense blou ondertoon. Dis ’n kleur wat haar besonder goed pas, net soos die snit van haar rok. Veterdun bandjies hou die korsetbostuk op sy plek, terwyl die syagtige materiaal wyer na onder uitklok.

Sy het dit oorweeg om haar hare op te kam, maar het op die ou end besluit dat die bos krulle om haar gesig nie sleg lyk nie. Vir die aand het sy ’n bietjie meer grimering gebruik.

Die danssaal is feestelik opgetooi en selfs in die tuin hang gekleurde lanterns. Daar is nog nie baie mense nie.

Fransien benut die kans om haar naamkaartjie op die tafels te soek. Gelukkig sit sy by Mitzi-hulle aan tafel. Daan lyk groot en aantreklik in sy aandpak, en Mitzi fyn en elegant in ’n effens waaghalsige swart aandrok.

“O, maar julle twee lyk mooi saam!” sê Fransien spontaan.

By hulle tafel kyk Mitzi vinnig na die naamkaartjies. Sy vat ongemerk een en loop soekend deur die saal. Vier tafels verder kry sy wat sy soek. Sy kyk gou of iemand haar sien en ruil dan blitsvinnig die kaartjies om.

Triomfantlik wys sy die naamkaartjie wat sy op die ander tafel gevat het vir Fransien. Dis Barnie Nel s’n. Ongeërg sit sy die kaartjie op hulle tafel neer.

“So ja, nou sal jy kans kry om met hom te gesels. Beskou hom sommer as jou maat vir die aand, wat!”

Met groot oë kyk Fransien haar vriendin aan. “Jy kan dit nie doen nie!”

“Hoekom nie? Niemand sal dit eens agterkom nie, en ek is seker Barnie sal nie omgee nie. Daar is hy nou juis.” Met ’n wuif wink sy hom nader.

“Barnie! Hier! Jy sit by ons.”

Barnie Nel lyk goed in sy aandpak, dink Fransien. Gemaklik en vol selfvertroue stap hy na hulle tafel toe. Hier en daar stop hy om te groet of ’n woordjie met iemand te wissel. Die stil jong seun het werklik in ’n opvallende man verander.

By hulle tafel stel Mitzi hom aan Daan voor. Met ’n glimlag omhels Barnie eers vir Mitzi en dan vir Fransien.

“Mensig, maar dis lekker om julle te sien. Dis eintlik ’n skande dat ons nou eers by mekaar uitkom. En lyk julle nie wonderlik nie!”

Met ’n verspotte buiginkie aanvaar Mitzi die kompliment. “Baie dankie! Jy lyk darem self ook nie te sleg nie, hoor.”

Barnie vergas hulle op staaltjies oor die aandelemark, maar hy praat baie min oor sy persoonlike lewe. Fransien lag saam, maar daar is ’n vreemde, verlore gevoel diep in haar. Die maat vir wie sy kaalvoet deur die vuur sou stap, bestaan nie meer nie.

Iets … iets aan Barnie krap aan haar. Daar is ’n soort leegheid in sy oë wat sy nie kan miskyk nie. Hy bly onrustig rondkyk, en kort-kort staan hy op om iemand te gaan groet.

Toe Mitzi en Daan opstaan om te gaan dans, het hy nie veel vir Fransien te sê nie. Met vingers wat ongeduldig op die tafel trommel, sit hy net ’n minuut of wat voor hy weer eens verskoning maak en met iemand anders gaan gesels. Teleurstelling lê swaar in haar.

Terug by die tafel ná ’n dans bied Daan aan om vir hulle drankies te gaan kry.

Mitzi probeer haar koel waai met ’n spyskaart. “Dié Barnie het ’n oulike man geword, nè? Glad nie meer so stil nie!”

Sy beduie met haar kop na waar Barnie met twee mans staan en gesels en beduie.

Fransien deel nie haar entoesiasme nie. “Daar’s iets verkeerd met hom.”

“ Wat bedoel jy? Hy het verander, soos ons ook maar verander het.”

“Nee, daar’s iets anders. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gedink het hy is hoog … Soos iemand wat dwelms gebruik, jy weet.”

Nadenkend byt Mitzi op haar lip. “Dalk ís hy. Hy is nogal hiperaktief vanaand.”

Fronsend skud Fransien haar kop. “Nee, dis iets anders. Barnie haat drank en dwelms soos die pes, omdat sy pa so gedrink het.”

“ Ag nee!” kreun hulle feitlik gelyk.

Op pad terug na hulle tafel loop Barnie hom vas in ’n ooglopend dronk Chris de Wet. Hoewel hulle te ver is om te hoor wat gesê word, is die toneeltjie wat voor hulle afspeel alte bekend.

Chris se houding is aanvallend, sy lag smalend. Barnie s’n, daarenteen, is amper apaties. Hy antwoord Chris nie, staan net stil en luister, voordat hy, soos tydens hulle skooljare, omdraai en wegstap. Maar vanaand is sy skouers nie geboë nie, sy houding nie verskonend nie. Met regop skouers en gemaklike treë stap hy na die uitgang. Al wat sy ontsteltenis verraai, is sy hande wat krampagtig oop en toe gaan.

Siedend van woede spring Fransien op. Al weet sy nie wat Chris gesê het nie, is die herinneringe wat die toneeltjie by haar opgeroep het genoeg om haar tot die aanval te laat oorgaan.

“ Wat het jy vir hom gesê?”

“Huh?” Chris is stom verbaas toe sy soos ’n furie voor hom kom staan. Sy oë sukkel om te fokus.

“Ek vra: wat het jy vir Barnie gesê?” herhaal Fransien, haar stem gelaai met kwalik onderdrukte woede.

Die man voor haar skud sy kop en knip-knip sy oë. Dan kom daar fokus in sy besope brein. ’n Idiotiese glimlag sprei oor sy gesig.

“Ou Fransiena! Ons eie lessie! Dis wonner- … wonnerlik dat jy ons met jou teenwoo- … woordigheid vereer. Jy is mos glo deesdae ’n big shot in die go- … groot stad. Almal praat oor jou. Fransiena die Grote, met haar eie meubelfabriek! Geld pas jou, jy lyk wragtig goed, ou Sientjie!” Dronk waas ten spyt, dwaal sy blik oor haar met ooglopende begeerte.

Fransien byt op haar tande om haar selfbeheersing te behou. Die manier waarop hy haar blatant met sy oë ontklee, laat woede en vernedering in haar opstuif.

“Jy skuld my mos nog ’n ietsie van tien jaar gelede af. Miskien moet ons twee ’n plekkie gaan soek waar ons ’n bietjie alleen kan wees!” Hy lag veelbetekenend en probeer haar lomp nadertrek, maar Fransien ruk haar met geweld los. Dit weergalm soos haar handpalm sy gesig tref.

“Sit ooit weer jou pote op my en ek maak jou met my kaal hande vrek! Verstaan ons mekaar?”

Sonder om vir sy reaksie te wag, stap sy by die deur uit. Buite is geen spoor van Barnie nie.

Sy kom nou eers agter dat sy bewe van ontsteltenis. Hoe gaan sy die res van die aand omkry? Daar was genoeg nuuskierige oë en ore wat die relletjie tussen haar en Chris waargeneem het.

“Baie geluk, Fransien! Twee keer op een dag die middelpunt van bespreking. Dis nou wat ek ’n comeback noem!” Sy lag vreugdeloos vir haar alleenspraak.

Ter wille van Mitzi sal sy moet teruggaan, maar op die oomblik sien sy nie kans vir die kyke en gefluister nie.

Eers toe sy haar chalet se deurknop draai, onthou sy dat die sleutel in haar aandsakkie in die saal is. Wat nou gemaak?

Met ’n suggie gaan sit sy op die stoepbankie. “Net tien minute,” belowe sy haarself.

Doelbewus maak sy haar gedagtes skoon. Dit sal nie help om te sit en tob nie. Met toe oë sit en luister sy na die naggeluide, tot die bewing uit haar ledemate verdwyn.

Sy skrik toe sy op haar horlosie kyk. Dis al amper twintig minute dat sy op die stoep sit. Mitzi sal wonder wat van haar geword het. Onwillig staan sy op om terug te gaan.

Van ver af sien sy dat daar iets eienaardigs by die saal aan die gang is. Saam met die gekleurde lanterns brand daar nou helder spreiligte. Mense staan in groepies en gesels gedemp.

Fransien versnel haar pas. Die oomblik toe sy by die saaldeur inkom, storm Mitzi op haar af.

“Dank die Vader jy’s hier! Ek was al van my kop af van bekommernis. Waar was jy?”

“Jammer, maatjie. Ek moes jou gesê het, maar ek moes net ’n rukkie wegkom. Daardie Chris …”

Haar stem sterf weg toe sy die uitdrukking op haar vriendin se gesig sien.

“Mitzi? Wat is fout?”

“Hy’s dood.”

“ Wie?”

“Chris. Chris de Wet.”

“Jy yl, man! Hy het ’n halfuur gelede nog met my skoorgesoek. Hy het seker net uitgepaas; hy was maar taamlik ver heen.”

Mitzi skud haar kop. “Nee, hy’s dood. Hy is … geskiet.”

Verslae staar Fransien na haar. “Geskiet? Hoekom? Wie het dit gedoen? Ek het dan niks gehoor nie.”

“Niemand het iets gehoor nie. Wie dit ook al gedoen het, moes ’n knaldemper gebruik het. Die polisie sal seker nou-nou hier wees. Daan en ’n paar mans wag buite vir hulle en sorg sommer terselfdertyd dat niemand die misdaadtoneel versteur nie. Die polisie se opdrag is dat niemand die oord mag verlaat voor hulle hier is nie.”

Hulle gaan sit in stilte by hulle tafel. Fransien se gedagtes is in ’n warboel.

Sy skrik toe Mitzi skielik uitbars: “Dis hierdie vervloekte reünie! Ek moes dit nooit gereël het nie!”

Sy begin rukkerig huil. Ontsteld spring Fransien op en gaan staan by haar terwyl sy haar beskermend teen haar vashou.

“Kom nou! Jy kon mos nie weet so iets gaan gebeur nie. Toe nou maar, toe nou maar …” troos sy Mitzi asof sy ’n klein kindjie is. Maar haar vriendin huil net harder.

“Ek … ek moes van- … vanoggend al die hele af- … affêre stopgesit het.”

Tevergeefs probeer Fransien haar tot bedaring bring.

Toe sy Daan se diep stem langs haar hoor, kyk sy radeloos na hom. Hy som die situasie in ’n oogwink op. Sonder om te aarsel neem hy Fransien se plek in. Hy droog Mitzi se trane versigtig af, terwyl hy saggies en kalmerend met haar praat.

Uiteindelik bedaar sy. Daan sit haar aandsakkie in haar hand. “Gaan poeier jou neusie. Netnou dink die mense ek het met jou baklei!”

Hy keer toe Fransien saam met haar wil stap. “Fransien, ek wil graag met jou praat.”

Sy kyk vraend na hom.

“ Waar was jy? Netnou, toe Chris ontdek is … Mitzi was gek van bekommernis; sy dog jy lê ook êrens in die tuin.”

Fransien vee moeg oor haar oë. “Jy weet seker van my en Chris se onderonsie?”

“ Wie weet nie?” kom dit droogweg van Daan.

“Ja, wel …” Fransien sluk swaar. Die hele affêre voel vir haar onwerklik.

“Ek was só woedend, ek moes net eers gaan afkoel. My chalet was gesluit, toe sit ek maar ’n rukkie op die stoep, tot my ergste moordlus bedaar het.”

Sy skrik hewig toe sy besef wat sy gesê het. “E … ek bedoel … tot ek beter gevoel het.”

“Mmm … Die polisie gaan jou ondervra. Hulle is besig om ’n lys te maak van mense wat nie ten tye van die moord in die saal was nie. Jy is waarskynlik eerste op die lys – jou exit het beslis nie ongesiens verbygegaan nie. Ek sal jou aanraai om maar jou woorde te tel as jy met hulle praat. Hulle kan so ’n opmerking dalk letterlik opneem.”

Haar oë word groot. “Gits, en dan het ons nog ’n struweling ook gehad! Dink jy hulle sal dit as ’n motief beskou?”

“Moontlik. Ek was nie naby genoeg om alles te hoor nie, maar ek verstaan jy het hom gedreig ook. Hulle sal dit beslis ondersoek.”

“Nee, man! Ek het hom g’n gedreig …”

Sy word wasbleek en slaan haar hand voor haar mond. “O vrek, ek het! Ek het gesê as hy ooit weer aan my raak, maak ek hom met my kaal hande dood … of so iets.”

Moedeloos laat sak sy haar kop in haar hande en sit ’n rukkie so. Toe sy opkyk, begin die kleur weer terugkom in haar wange en haar oë vonkel gevaarlik.

“Hulle kan my maar ondervra. Ek weet ek het dit nie gedoen nie. En wanneer die moordenaar gevang word, sal almal wat nou so sit en fluister dit ook weet.”

Hulle tafel is inderdaad die middelpunt van belangstelling. Niemand kyk direk na Fransien nie, maar daar is baie tersluikse blikke en onderlangse gefluister. Sy voel of sy onder die tafel kan wegkruip, maar sy wys dit nie.

Mitzi lyk effe verleë maar baie kalmer toe sy terugkom by die tafel. Sy het skaars plaasgeneem toe een van die polisiemanne langs Fransien keel skoonmaak.

“Ek is op soek na juffrou Fransien de Swardt?”

Hoewel hy dit as ’n vraag stel, kyk hy reguit na Fransien.

“Dis ek.” Ten spyte van haar bravade van ’n paar minute tevore, klink haar stem vir haar maar baie yl.

“Ek is senior superintendent Tony Johnson. Kan ons ’n rukkie gesels? Mevrou Brink het haar studeerkamer tot ons beskikking gestel. As u my sal volg, asseblief?”

Volbloedvrou vir 'n vaalseun

Подняться наверх