Читать книгу Engel van my hart - Kristel Loots - Страница 4

Оглавление

2

Erik se verduideliking verstom Breggie van voor af. Sy blaai deur die drukstukke van die korrespondensie tussen hom en dokter Condor. Tot by die laaste e-pos waarin die dokter bevestig dat hy vandag sal bel vir ’n telefoononderhoud.

Breggie stik in haar koffie. “Werklik, Erik, jy oorskry alle grense van wat toelaatbaar is onder die vaandel van goeie bedoelings! Wat moet ek vir die man sê? Ek het lus en antwoord eenvoudig nie die telefoon nie.”

“Graham Condor stel belang in jou aansoek, Sus. Hy sal aanhou bel totdat jy antwoord.”

“Hy verwag seker van my om sy boeke vir hom te doen, dalk nog te kook ook,” mymer sy nadenkend. “Hoekom anders sal hy ’n rekenmeester wil aanstel om sy administratiewe sake vir hom te reël? Enige bobbejaan wat ’n almanak kan lees en ’n telefoon kan beman, kan dit doen.” Sy frons bekommerd. “Dêmmit, Erik, jy weet ek kan nie by so iets betrokke raak nie!”

Hy kry haar aan die skouers beet. “Haai! Hokaai, Breggie! Luister na jouself. Jy’s heeltemal oorstuur. Dalk is dokter Condor ’n doodgewone man wat bloot op soek is na iemand om hom in sy praktyk by te staan.”

“Of dalk verwag hy gunsies en gawes van hierdie vroumens wat jy vir hom voorgehou het en wat moontlik in sy oë van twyfelagtige karakter is.”

“Allesbehalwe,” verseker Erik haar. “Lees gerus wat in jou aansoekbrief staan. Jy’s ’n vrou van edele inbors, Sussie!”

Breggie wil dood toe sy sien wat Erik alles onder haar naam kwytgeraak het. “As alles wat hier staan wáár moet wees, is ek ’n regte ou soetkoekie wat daarop floreer om goeie dade te doen. Vir die liefde van die saak omdat geld nie vir my belangrik is nie. ’n Leiersfiguur in die gemeenskap wat glimlaggies uitdeel asof dit stokkielekkers is.”

Dit terwyl sy deesdae eerder grom as glimlag!

“Erik, jou luis! Hoe op aarde gaan ek dit regkry om die beeld wat jy van my geskilder het vol te hou, selfs al is dit net oor die telefoon? Jy weet ek is nie so nie.”

“Nee, nie meer nie, maar jy was op ’n stadium. Jy was nie altyd so ’n ou bitterbek nie. Daar was ’n tyd toe jy ’n sonstraaltjie was wat ons almal opgebeur het.”

“Iemand wat in haar vrye tyd vrywillige verpleging doen? Wat jy waar kry? Ek sien hier ek het oumensies besoek, vir hulle blomme aangedra en hul hare versorg. Liewe hemel, jy’t my stralekrans omtrént gepoets. Geen wonder dit het die dokter verblind nie.”

“Wel, daar wás die keer toe tant Sarie in die hospitaal was en jy by haar gaan kuier het ...”

“Net omdat Ma my gevra het om te gaan. En ek het ook net daardie enkele keer haar hare vir haar gevleg.”

“En haar kunstande geborsel.”

“Ja, en my morsdood gegril daarvoor.”

“Ek hét miskien ’n bietjie aangedik,” erken hy.

“Aangedik? Ek sou eerder sê jy’t dik stukke gelieg! Hierdie dokter gaan van my verwag om sy pasiënte se glasoë blink te hou.”

“Al wat ek wou doen, was om jou liefdevolle geaardheid te beklemtoon, Breg,” verdedig hy. “Iets wat jy blykbaar intussen heeltemal verloor het.”

“Wel, ek het die lewe leer ken soos dit is. Verskoon my as ek sinies geraak het.”

Sy wip soos sy skrik toe die telefoon lui. “Kan dit al hy wees?”

Erik knik. “Gaan hoor ten minste net wat die man te sê het.”

Breggie weet self nie waarom sy dit doen nie, miskien omdat alles te skielik op haar afgekom het. Miskien omdat sy vir die eerste keer in weke, nee, maande, aan iets anders gedink het as die vernedering en die ontnugtering van die afgelope tyd. Miskien omdat sy diep binne-in haar, daar doer ver waar daar lanklaas ’n roering was, effens nuuskierig geraak het om meer te hoor van hierdie man wat oorkant die water sy sakke vol prop met ponde terwyl sy dienste hier in sy eie land so nodig is. Tipies! ’n Slaplap van ’n wegloop-dokter soos soveel ander wat hul tassies gepak en hul heil elders gaan soek het.

“Hiervoor gaan ek jou terugkry,” belowe sy oor haar skouer toe sy die gehoorstuk van die telefoon optel.

“Goeiemiddag.”

Daar’s ’n padda in haar keel en sy bloos asof die man haar kan sien hier waar sy in haar sakkerige romp en vuil sokkies staan. Sy sal regtig iets aan haar voorkoms moet doen, besef Breggie. Anders gaan Erik se voorspellings waar word.

“Middag. Praat ek nou met Breggie?”

Die man moes seker een of ander tyd spraaklesse geneem het, dink Breggie. Met ’n stem soos daardie – hy klink soos ’n predikant. Nee, nie ’n predikant nie, eerder ’n dramaturg, ’n ghoeroe van ’n aard, of ’n lewenstrateeg. Iemand wat die wêreld se wysheid in pag het en aan wie se voete jy wil sit en luister. Net luister en luister, selfs al lees hy vir jou vervelige statistiek voor.

Hoe sou iemand met so ’n ryk en donker sjokoladestem lyk? wonder sy vir ’n oomblik. Seker soos een of ander insek. ’n Hottentotsgot, dalk. ’n Skraal man met ’n lang nek en arms wat op sy knieë hang. Sy weet hoe die lewe is – die geluksgodin deel nie uit sonder om te vat nie. Noem dit karma, noem dit Murphy’s Law, noem dit kosmiese balans, sy sien dit elke dag van haar lewe.

Neem nou maar vir Erik met sy 20/20-visie. Kyk wat gaan op sy kop aan – niks! Of dan, baie min. Arme ou Erik gaan heeltemal bles wees teen die tyd dat hy vrouvat en kinders kry. Hier sit sy weer alewig met ’n bril op die neus, maar sy dra ’n haredos met haar saam wat twee of meer koppe kon bedek. Om ’n swaar, soet stem soos hierdie te beman, sou die dokter heel moontlik ook iets moes inboet.

Sy kug. “Dis reg. Dis Breggie Bruwer wat praat.”

“Breggie.” Die man rol haar naam in sy mond. “Is dit jou doopnaam?”

“As ek ’n muntstuk kon kry vir elke keer wat ek daardie vraag gevra word,” sug Breggie. “Ja! Dis my doopnaam.”

Sy hoor die man sag lag.

Ja, lag maar, dink sy. Jy en ’n horde ander mense. Vir my was dit nooit snaaks nie. Vir my was dit ’n stryd om elke keer vir die onderwysers by die skool te verduidelik dat dit is hoe ek tot die dag van my dood bekend sal staan. En ja, dis ook die naam wat op my grafsteen sal staan – vir die nageslag om oor te giggel.

O, sy hét al daaraan gedink om dit te verander, maar dit sou nie sin maak nie. Vir almal wat haar ken, sal sy steeds Breggie bly. Ou Breggie Bril, soos sy op skool bekend gestaan het. Geen amptelike stempel van die Departement van Binnelandse Sake sal iets daaraan kan verander nie. Haar naam, soos haar bril, is die doring in haar vlees waarmee sy lewenslank opgesaal sal sit en klaar.

“Breggie Bruwer,” laat die man weer hoor. “Daar’s ’n lekker klank aan. Breggie ... Breggie Bruwer.”

Sy het nie ’n idee wat om daarop te antwoord nie. “Dankie,” sê sy, vir ingeval dit as ’n kompliment bedoel is.

“Waarvandaan kom jou naam?”

Waddehel is dit met die man dat hy so ’n bohaai maak oor haar naam? Toegegee, dis ’n simpel naam, maar dis seker nie die ergste wat daar is nie. Wat van Kakebenia? Of Eufesia?

“Ek is na my ouma vernoem,” antwoord sy so kortaf as moontlik.

“Laat ek raai – Heibreght?”

“Nee. Erger. Gerbrecht.”

Hy lag! Hy lag sowaar! Asof die hele wêreld haar nie al genoeg bespot nie, lag hierdie wildvreemde man nog vir haar naam ook. Hoeveel vernedering kan ’n mens op een dag verwerk?

“Aan vaders- of moederskant?” vra hy. “Hierdie ouma Gerbrecht wie se naam jy geërf het?”

“Vaderskant,” antwoord sy koud.

“Aard jy na haar?”

Breggie draai haar om en gee Erik ’n kyk wat die laaste paar hare op sy kop kan skroei. Hy sit en verkneukel hom daar in die hoek in die deel van die gesprek wat hy kan volg.

“My ouma Gerbrecht was ’n nooi Van Helsdingen,” vertel sy met lus. “Een van daardie kaalvoet-oor-die-Drakensberge-tipe, jy weet? En ja, ek is veronderstel om na haar te aard.” Hopelik sal hy haar nou met meer respek behandel.

Natuurlik is sy nie so ’n reputasie waardig nie. Sy sal deesdae nie eens kaalvoet oor Tygerberg-heuwel kan kom nie. Sy’s nie ’n sterk vrou nie. Kyk hoe het sy die afgelope maande gevou! Sy beskik oor niks wat van haar ouma ’n nooi Van Helsdingen gemaak het nie.

“Nou maar dan is jy presies waarna ek soek,” laat hoor dokter Condor, oënskynlik in sy skik.

“Miskien ... as jy my beter leer ken ...” stamel Breggie.

“Dis die plan, ja. Om mee te begin, verkies ek dat ons mekaar in die oë kyk terwyl ons gesels. Selfs al is dit in die kuberruimte. Het jy Skype op jou rekenaar?”

“Skype?” Die woord is genoeg om haar nekhare te laat rys.

“Ja. Of enige ander program wat sal toelaat dat ons mekaar kan sien terwyl ons praat. Ek gebruik Skype, met goeie resultate, en ek stel voor jy skakel ook daarby in.

“As jou rekenaar ’n ingeboude kamera het, behoort dit goed te werk. Maar ’n ordentlike webcam met sy eie mikrofoon, verkieslik met ’n wye lens, gee selfs ’n beter beeld. Al wat ek nodig het om by jou uit te kom, is jou gebruikersnaam.” Breggie bespeur weer die geamuseerde klankie in sy stem. “Ek neem aan jy gebruik die naam, Breggie? Maklik genoeg om jou te roep, want ek twyfel sterk of daar iemand anders is wat as sulks geregistreer is.”

Die man se stem het ’n hipnotiese uitwerking op ’n mens, dink Breggie. Selfs as hy oor iets so tegnies soos ’n internetverbinding praat, klink dit of hy ’n gedig voordra. Hoe moet dit klink, wonder sy vlugtig, as hy die dag tere liefdeswoordjies in jou ore fluister? Sy skud haar skouers. Die dekselse man sal kondensmelk deur ’n mens se are laat vloei as jy nie versigtig is nie.

“As jy probleme het met die programmetjie, kan ek jou oor die telefoon deur die proses help.”

Breggie wil hom verseker dat hy háár niks daarvan kan vertel nie, maar sy laat hom praat sodat sy die kans het om haarself bymekaar te maak. Die herinnering is nie soet nie en die pyn is met wreedaardige felheid terug in haar bors.

Sy’t lank om Leon se ore gekerm om dieselfde programmatuur wat hy vir sy video-konferensies gebruik, op haar rekenaar te installeer. “Dan kan ons mekaar sien terwyl ons gesels al is jy duisende kilometers ver.”

Hy’t haar onbegrypend aangekyk. “Ek weet mos hoe jy lyk.”

“Ja, maar jy gaan lank weg wees. ’n Week, twee weke, hoe lank is dit hierdie keer?”

Dit was net voordat hy weer op een van sy gereelde sakereise sou vertrek, dié keer weer New York toe. Haar keel wou toetrek by die gedagte daaraan. Die Empire State-gebou, die winkels, die stadsligte, Central Park waar die gras groen groei, al daardie mooi meisies in Manhattan wat met hoëhakskoene in Fifth Avenue rondloop. Alles dinge waaraan Leon blootgestel sou word terwyl sy ewe kuis by die huis sit en wag.

Sulke tye was die horlosie nie haar maat nie. Bedags terwyl sy gewerk het, kon dit nog gaan. Dan was daar ander stemme om haar en het die eensaamheid nie met sy yskoue asem in haar nek geblaas nie. Maar saans het die stilte haar versmoor. Die toegetrekte gordyne, die netjiese kombuis, die lazyboy wat leeg teenoor haar staan en koggel het: Hier sit jy, jou arme drommel! Stoksielalleen op ’n Saterdagaand!

Naweke was die ergste. Die duiwel het soms op haar skouer geklim om haar geselskap te hou. “As hy rêrig vir jou omgegee het ... as hy net so intens na jou verlang het soos jy na hom, sou hy sy reëlings so getref het dat hy ten minste naweke by jou kon wees,” het hy met sy duiwelstem in haar oor gefluister. “Daar word nie oor naweke vergaderings gehou nie en Leon sit vir kwaadgeld rond. Of in Johannesburg, of in Parys, die een week in Europa, die volgende in Londen, Chicago, New York, you name it!”

Leon het die wêreld deurkruis, maar haar nooit saamgenooi op hierdie reise van hom nie. “Wat sal jy nou daar gaan maak, Breggie? Ek gaan om te werk. Jy sal jou morsdood verveel.”

Morsdood verveel in wêreldstede met alles wat daar aangebied word, met alles wat ek kan sien en ervaar? het sy gedink. Maar haar ingeboude ordentlikheid het haar daarvan weerhou om hom te smeek om haar saam te vat. Totdat sy ’n bonus by die firma verdien het en self begin planne maak het vir ’n oorsese vakansie. Toe kon hy nie langer ’n verskoning vind nie. “Ons gaan sommer Disneyland toe,” het hy besluit. “Dis die maklikste.”

Die maklikste? Miskien, ja. Maar dis nie wat sý wou doen nie. Sy het ’n poging aangewend om hom tot ander insigte te bring, en toe besluit dis nie die moeite werd nie. Sy sou gaan waar hy wou gaan en die beste van die saak maak.

Hulle sou as ’n paartjie allerhande avonture beleef en saans saam in die hotelkamer wees. Sy in die sexy nagklere wat sy spesiaal vir die okkasie gekoop het. Miskien, so het sy heimlik gehoop, sou dit Leon aanspoor om die jawoord te vra sodat sy hom voor die preekstoel kon kry. Daarna kon hulle ’n ware wittebrood beplan, waardig en wettig saam wees.

Maar die vakansie was ’n ramp. Alles om haar was van swak gehalte. Pure plastiek! het sy heimlik gedink. Selfs die Amerikaners in hul geblomde kortbroeke en duur sonbrille het haar verveel.

“Sien jy? Ek het jou mos gesê!” was Leon se reaksie toe hulle ’n week vroeër as wat hulle beplan het in Suid-Afrika land. “Dis hoekom ek jou nooit saamnooi op my oorsese besoeke nie.”

Sy’t nie weer gevra om saam te gaan nie.

Sy’t vrede probeer maak met sy afsydigheid, aanvaar dat sy hom met sy werk moes deel. Hy’t tog ’n vet tjek huis toe gebring en altyd met die nuutste model motor gery, met haar aan sy sy. En wanneer hy terug was, het hy weer in sy lazyboy neergesak. Sy’t niks gehad om oor te kla nie, baie om voor dankbaar te wees.

Sy wou net graag weet dat sy vir hom saak gemaak het. Maar sy kon netsowel vir die maan gewens het. Dit was laf van haar, het sy geredeneer. Leon is Leon, hy raak nie opgewonde oor die eerste lentebloeisels of oor klein katjies en tranerige flieks nie. Leon was so romanties soos ’n ou vadoek. Geen wonder hy kon nie opgewonde raak daaroor om met haar van aangesig tot aangesig op Skype te praat nie.

Maar die teleurstelling daaroor was bitter in haar bors.

Sy het nogtans die nodige program afgelaai in die hoop dat hy van plan sou verander. Dat hy eendag die begeerte sou uitspreek om haar te sien omdat hy haar mis. Sy sou haar behoorlik en bekoorlik uitvat, in haar Sondagsklere as dit nodig was. Of in deurskynende nagkabaaitjies as hy in die aand sou bel. Sy sou haar lippe tuit en haar hare koketterig agtertoe gooi en so ’n bietjie stuitig wees. Sy sou alles moontlik probeer om Leon huis toe te laat verlang.

“Miskien wil hy saans ná ’n lang dag sy das afhaal en in sy sokkies rondloop en wil hy nie hê jy moet hom so gehawend sien nie,” het Erik probeer troos.

Maar dit was ’n simpele troos. Sy het Leon tog op sy slegste gesien – met of sonder sy sokkies. Soggens as hy wakker word met sy hare penorent, die keer toe hy griep gehad het en soos ’n stoomenjin gesteun en gekreun het, die tye toe hy te lekker gekuier het en met ’n babelas wakker geword het wat hom na ’n boemelaar laat lyk – en ruik – het.

“Jy’s seker reg,” het sy gesê.

Nie omdat sy dit geglo het nie, maar omdat haar trots haar nie toegelaat het om te wys hoe afgehaal sy daaroor gevoel het nie.

En nou ... nou wil hierdie wildvreemde doktertjie hê sy moet van Skype gebruik maak omdat hý wil sien hoe sy lyk. Tipies man! Graham Condor wil natuurlik weet of sy mooi genoeg is en of hy maar eerder moet verbyhou.

“Is jy nog daar?” klink sy stem skielik dringend in haar oor op.

“Ek het Skype op my rekenaar,” verseker sy hom vinnig.

“Nou maar toe dan! Waarom mors ons nog tyd? Gee my jou besonderhede, dan skakel ek jou gou op die rekenaar.”

“Nou dadelik?”

“Ja. Hoekom nie?”

Omdat, sou sy vir hom kon sê, ek soos ’n skroplap lyk. Omdat ek nie wil hê iemand buiten my naaste bloedfamilie moet my so sien nie. Omdat ek ’n gogga-maak-vir-baba-bang-verskynsel is.

Maar nie een van hierdie besware sal vir hom sin maak nie. Dokter Graham Condor het heeltemal ’n skewe beeld van haar, hy sien haar as die supervrou wat deur die dekselse Erik aan hom voorgehou is. ’n Bekwame nommer wat liefdadigheidsorganisasies ondersteun en in ’n japtrap ’n funksie vir ’n politieke party kan reël wat ordelik en sonder voorvalle sal verloop. ’n Raakvatter!

Sy gluur haar broer weer aan, maar daar is niks wat hy aan haar penarie kan doen nie. Soos ’n lam ter slagting rammel sy haar besonderhede af. Toe sy die foon neergesit het, gryp sy na haar hare. “Dêmmit, Erik, kyk wat het jy nou gedoen! Die man wil sien hoe ek lyk.”

“Oe-hoe!” Hy maak sy oë groot.

“My hare ... ag, ek kan nie eens onthou wanneer ek laas by Romando was nie. En my gesig ... ek het nie ’n krieseltjie grimering aan my gesig nie!”

“Knoop oop jou bloes!” gee hy raad. “Gou!”

“Jy’s laf! Hoekom sal ek dit wil doen?”

“Moenie vir jou dom hou nie, Breggie. Die man sal gelukkig nie jou onderstel kan sien nie, ook nie jou beenhare wat so welig groei nie.” Hy kom nader, krap haar hare met opset deurmekaar. “So! Nou lyk jy ietwat minder na ’n gees en meer soos ’n vrou. ’n Bietjie wild miskien, veral met die boonste paar knopies losgeknoop, maar darem nie heeltemal na iets wat in ’n donker kas hoort nie.” Hy spring weg in die rigting van haar slaapkamer. “Waar’s jou lipstiffie?”

Lipstiffie? Het sy ooit nog so iets wat nie al verdroog het nie?

“Who knows, Erik? Ek weet nie. Los dit, daar’s nie tyd daarvoor nie.” Sy gryp haar handsak wat op die tafel lê, krap daarin totdat sy haar parfuumbotteltjie raak vat en spuit mildelik daarvan agter haar ore en op haar polse. “Breggie!” raas Erik. “Die man kan jou nie ruik nie!”

“Maak nie saak nie,” sê sy toe sy na haar rekenaar stap. “Ek kan!”

Erik sal nie verstaan nie. As sy omgewe word van ’n volronde, vroulike geur, aktiveer dit iets in haar psige wat haar beter laat voel. Dit werk selfs daardie tye wanneer sy in ’n moddermoeras wil wegsak. Haar parfuumbotteltjie is feitlik leeg gespuit, en as sy veel langer in selfbejammering gaan versink, gaan daar nie ’n lekseltjie van die duur inhoud oorbly nie.

“My bril,” wonder sy hardop. “Moet ek my bril afhaal?”

“Kan jy daarsonder klaarkom?” Daar is ’n huiwering in Erik se stem.

“Jy ken die antwoord op daardie vraag, Erik: nie regtig nie.”

Maar toe die Skype-oproep deurkom, wag sy dokter Graham Condor sonder haar bril in. Alles aan hierdie onderonsie is skyn, ’n vooropgestelde toneeltjie wat niks met die werklikheid te doen het nie. Daarom kan hy maar glo dis hoe sy normaalweg lyk.

Sy skreef haar oë toe sy gesig op haar rekenaarskerm verskyn. Sy verwag half en half ’n Gandhi-figuur. Wel ... miskien nie heeltemal nie, die man leef immers in ’n wêreldstad waar voorkoms baie belangrik is as jy sukses wil behaal en waar jy nie met ’n doek om die lyf gaan wegkom nie. Nogtans verwag sy iemand wat op die oog af lyk of hy iewers in sy binneste ’n stuk wysheid ronddra wat by daardie diep, donker stem van hom sal pas. Hoewel ... die man het tot dusver nie juis met wonderlike wyshede vorendag gekom nie. Nee, hy kon beswaarlik sy binnepret oor haar simpele ou naam verberg, en die vrae wat hy gevra het, was bra oppervlakkig.

Maar die deksel van Pandora se boks is gelig en sy is vretend nuuskierig om te sien hoe die man met die heuningsoet stem lyk – iets wat sy nie met die blote oog behoorlik kan doen nie. Hy het natuurlik ’n voorsprong, is seker getrim tot by sy tone, terwyl al wat sy het, die geur van haar peperduur parfuum is.

“Ja, dis beter,” sê Graham na ’n oomblik se stilte waarin hy haar seker behoorlik bekyk het. “Aangename kennis, Breggie Bruwer.”

“Goeiemiddag, dokter,” stamel sy en voel-voel na haar bril.

“Nee wat, Breggie, ons sal mekaar op die naam moet noem, hoor. Vir so ’n mooi meisiekind met so ’n oulike naam wil ek nie juffrou sê nie. My naam is Graham, hoor.”

Mooi meisiekind? Dis ’n gevaarlike kombinasie daardie – ’n stem soos ’n melodie en ’n vleier op die koop toe.

Breggie gryp senuweeagtig na haar bril en plak dit op haar neus. Dis toe dokter Graham Condor se gesig behoorlik in fokus kom op die skerm dat sy haar lam skrik. Dis ’n mooi man, modelmooi soos wat hy hier ’n liniaallengte van haar oë af haar ondersoekend aankyk. Hy’t ’n dik nek en moet taamlik bonkig gebou wees, lei sy af. Maar dis sy krulkop, sy donker oë en sy gul mond wat haar na woorde laat soek.

Vir wat wíl ek nou ook ’n indruk maak? wonder sy vies. Wat op aarde maak dit saak wat hy van my dink? En tog is daar genoeg Evastrots in haar om te wens sy was beter voorbereid op hierdie virtuele ontmoeting.

“En daardie bril, Breggie?” vra hy en weer hoor sy die lag in sy stem.

Sy sug innerlik. Die man skop haar vandag op haar achilleshiel asof hy opleiding gekry het daarvoor. Eers haar naam waarvoor sy haar haar lewe lank al skaam, en nou natuurlik ... die bril! Die ewige, altyd teenwoordige ou bril! Die albatros om haar nek wat sy al van haar kinderdae af dra.

Reg aan die begin het sy nie ’n idee gehad wat nog alles vir haar sou voorlê nie. Daardie tyd was sy ’n dolgelukkige ou dogtertjie vir wie die son elke dag opgekom het en die toekoms gelag het. Destyds, toe sy skaars begin skoolgaan het en niemand anders in haar klas ’n bril gedra het nie, nie eens juffrou Nolte nie.

Juffrou was dierbaar en het soos ’n blomtuin geruik. Al dertig graadtwee-leerders het haar bewonder asof sy ’n engel uit die hemel was. Hulle sou appels aandra en flikflooi tot hulle flou val om haar te plesier. Om Juffrou se witbroodjie te wees, was ’n droom, ’n statussimbool!

En sy wat Breggie is, het dit nogal reggekry. Want sy was slim! Sy kon al die moeilike name op die boeke lees lank voordat die res van die klas dit kon baasraak, en Juffrou het haar graag gevra om die boeke uit te deel. Ja, sy moes haar neus feitlik teenaan die boek hou om die letters uit te maak, maar sy kon dit nogtans regkry.

Dit was juis dié takie wat Juffrou se aandag daarop gevestig het dat sy moontlik probleme met haar sig kon hê. Toe Juffrou vir haar ’n afspraak by die skooldokter reël, was sy nie bekommerd nie. O nee, sy was trots daarop. Dit het tog gewys hoe spesiaal sy is, dan nie?

En toe ... Ag, droewe dag! Toe moet sy vir die skooldokter die letters van die kaart aflees, eers met die een oog en toe met die ander. En toe ... maak sy net soveel foute soos arme ou Hendrik wat hakkel as hy lees en altyd nul uit tien vir sy speltoetse kry. O, die skande! Die verskriklike skande! Sy’t gehuil, sy onthou. Haar neus het geloop en Juffrou het vir haar ’n snesie uit haar handsak gehaal en haar probeer troos.

Daar was net een uitweg: as sy slim wou bly, moes sy ’n bril kry.

“Hierdie bril, Graham,” antwoord sy nou afgemete met spesiale klem op sy naam, “is mý bril.” Haar stem bewe toe sy sê: “Ek dra dit om beter te kan sien, my kind.”

Dis ’n ou grappie, ’n flou grappie wat sy dikwels maak wanneer iemand haar na die bril vra. Dan probeer sy effens uit die hoogte teen haar neus af praat soos met ’n kind wat die verhaal van Rooikappie ken en die verwysing sal verstaan. Sy wou uitdagend klink, maar soos gewoonlik kry sy dit nie heeltemal reg nie. “Ek dra darem nie altyd bril nie,” vra sy verskoning. “Net soms.”

“Om te lees?”

“Onder andere, ja.”

“En te bestuur?”

“Wel ... ja.”

Wat neuk die man so met haar bril? Ja, goed, hy ís ’n oogarts, hy sal seker daarin belangstel, maar sy is nie een van sy pasiënte nie.

“En as jy op die rekenaar werk?”

Breggie sluk. “Ja. Ek het ’n bril vir elke geleentheid. En nee, ek kan nie kontaklense dra nie – ek het probeer.”

Die plafon druk op haar kop. Al weer die ou-ou storie. Al weer haar bril wat haar pootjie. Die moedeloosheid vou soos ’n swaar mantel om haar. Nou goed, sy weet ’n mens kry nie ’n prikkelpop of ’n sekskat met ’n bril nie ... Sy verwag nie dat mans soos honde wat ver gehol het aan die hyg moet gaan die oomblik wat hulle haar sien nie, wil dit ook nie hê nie. Maar sy is keelvol daarvoor dat haar bril haar dadelik as sekskat diskwalifiseer en as Sondagskoolonderwyseres klassifiseer. Soms, net soms wil ’n vrou hê mans moet na jou kyk met dierlike drange in hul oë.

Sy’s mooi genoeg, sy weet. Sy sien dit as sy in die spieël kyk, selfs sonder haar bril. Sy’t ’n besonderse boskasie blonde hare, ’n bietjie te krullerig na haar smaak, maar nogtans mooi genoeg om soos die Lorelei van ouds mans taamlik mal te maak wanneer hul vingers daarin verstrengel raak. Oor haar oë het ’n medestudent, wat tot oor sy bakore verlief was, in haar eerste jaar op universiteit ’n liriese gedig geskryf. En as sy haar lippe inkleur, was daar in die verlede genoeg mans wat wou toustaan om daardie lippe te soen – op voorwaarde natuurlik dat sy haar bril by die huis los.

Verder is sy nog mooi gebou ook, of altans, sy was altyd. Lekker wulps en sexy genoeg. Dis maar net die afgelope ruk, vandat alle kos soos saagsels proe, dat sy so skraal is soos ’n anoreksiese besemstok. Maar dis tog die beeld wat die modebedryf aan mans voorhou as begeerlik: vroue wat lyk of hulle enige oomblik kan flou val van die honger. Alles dinge wat in haar guns tel dus, maar wat met een veeg weggevee word die oomblik wat sy haar bril opsit sodat sy kan sien wat om haar aangaan.

“Daardie raam pas glad nie by jou mooi hartvormige gesiggie nie, meisie.” Graham se stem het sagter geraak, meer intiem. Asof hy haar vriend is, iemand wat haar belange op die hart dra. Maar voordat sy hom die voordeel van die twyfel kan gee, wys hy weer sy ware kleure.

“Dit lyk asof jy na ’n sonsverduistering kyk deur een van daardie skrefiebrille – soos daai wat ’n mens gebruik in ’n driedimensionele fliek.”

“Ek het hierdie raam gekies op aanbeveling van die oogarts wat my oë getoets het.” Sy hoor hoe bitsig sy klink, maar sy gee nie om nie.

“Die ou het seker opgeskeep gesit met ’n bestelling rame waarvan hy nie ontslae kon raak nie.”

“Jy sal beter as ek weet of oogartse van nature skelm genoeg is om dit te doen.”

“Nie hierdie oogarts nie, hoor,” verseker hy haar. “Maar dis niks om jou mooi koppie oor te breek nie, Breggie Bruwer. Ons sal dit regstel sodra jy in Londen land. Ek weet presies watter raam die kleur van jou slaappopoë sal beklemtoon en die besonderse vorm daarvan sal komplementeer.”

O ja? Nou het sy al slaappopoë! Hoe digterlik, al is dit ook die tipe ding wat ’n graadtien-seun sal kwytraak. Hierdie man beweeg hopeloos te vinnig vir haar, hy met sy gladde bek.

Praat, jou bobbejaan! waarsku die deel van haar brein wat nog werk. Vergeet nou eers van jou bril en die hoendervel wat ál neuk om op jou arms uit te slaan. Vertel vir hom wat aangaan, dat hierdie hele ou sirkus ... wel, ’n sirkus is. Roep vir Erik nader dat hy kan kom verduidelik hoe jy in hierdie penarie beland het, die luis! Hy sit hier kort agter jou en verkneukel hom in jou gestotter en gehakkel om dokter Graham Condor se vrae te beantwoord. Speak now, or forever ...

Vir ’n genadige paar oomblikke is Graham se oë nie op haar gerig nie. Hy blaai blykbaar deur haar CV, wat sy net so graag onder oë sou wou hê.

“Ek sien jy het nie veel ondervinding in my veld nie,” mymer hy.

Sy weet ten minste dat ’n mens nie ’n oogarts kan vertrou nie.

“Jy beskik seker oor die basiese kennis van die anatomie van die oog, of hoe?”

“Wel ...” Sy weet nie veel nie, dis waar. Eintlik maar net wat sy in die biologieklas in matriek geleer het, en biologie was hoeka nie een van haar gunstelingvakke nie. Al daardie tekeninge van derms en organe en goed, jig! Maar as sy op skool in die eksamen genoeg kon gorrel om die vak deur te skraap, kan sy dit nou ook doen.

“Ek weet darem die oog werk soos ’n kamera; ligprikkels word verwerk en deur die optiese senu na die sigsentrum in die serebrum gestuur.” As sy reg onthou ... Maar dis nie nou die tyd om te talm nie. Behalwe natuurlik as sy sommer van meet af wil hê die doktertjie moet weet hoe dom sy is en die verbinding verbreek. Aan die ander kant: wat gee sy om?

Maar sy gee tog om – die duiwel weet waarom.

“Die sigapparaat kry jy natuurlik in die oogbol,” gaan sy voort. “Ek verstaan die werking van die pupil en die iris – dat die pupil deur die iris wyer of nouer gemaak kan word, al daardie dinge wat ’n mens op laerskool al leer. Ek weet ook die deursigtige deel van die sklera is die horingvlies of kornea ...” Ek weet ook hoe kosbaar ’n kornea kan wees, sou sy kon byvoeg, maar sy veronderstel dokter Condor wil nie van haar persoonlike pyne en probleme hoor nie. “Direk daaragter kry jy die voorste oogkamer,” diep sy nog op uit haar elementêre kennis.

“En wat weet die slim meisie alles van oogsorg en oogkunde?” Hy lig sy kop en kyk haar ondersoekend aan. “En natuurlik van oogkundiges?”

“Dat oogkundiges nie aldag so kundig is nie.”

Dis natuurlik nie wat sy wou antwoord nie, maar dit het uitgeglip. Sy moet dit regstel, sy weet, maar daar is nie ’n enkele gedagte in haar kop oor hoe om dit te doen nie. “Ek is jammer ...” stamel sy. “Dit was ’n simpel ding om te sê.”

“Nee. Jy’s nie verkeerd nie. Die oog is ’n komplekse orgaan en daar is baie wat ons nog daarvan moet leer. Ons sien maar nog deur ’n spieël in ’n raaisel.”

Breggie steier voor die erns waarmee hy haar aankyk. Dankie tog dat daar derduisende kilometers tussen ons is, dink sy. En dat hy deur die kuberruimte na my kyk. Om van aangesig tot aangesig met hierdie man te wees, sal jou laat wens om deur die aarde ingesluk te word elke keer as jy gepraat het voordat jy gedink het – iets waarin ek uitblink!

“Ek staan elke keer verstom voor die wonder van sig, weet jy, Breggie? Besef jy dat net die retina alleen 137 miljoen ligsensitiewe reseptore per 6.45 vierkante sentimeter bevat?”

Nee, sy’t nie geweet nie. Hoeveel nou weer? 137 miljoen? Eintlik kan haar brein nie daardie som maak nie – en sy’s nogal ’n rekenmeester!

Graham is nou behoorlik op dreef. Hy beduie met sy hande in die lug. “By die waarneming van ’n voorwerp word ’n ingewikkelde chemiese reaksie aan die gang gesit. ’n Ligte elektriese skok, te flou om ’n vlieg te kielie, word teen sowat 500 kilometer per uur deur die optiese senuwee na die brein gestuur.”

“En die brein sê vir jou jy het iets gesien,” vul sy aan. Dis duidelik dat dokter Graham Condor begeesterd is oor sy werk. Sy’t ’n idee hy sal ure lank daaroor praat as sy hom sou toelaat.

“Is die skepping nie wonderlik nie, Breggie?”

O liewe aarde! dink sy benoud. Beplan die man om aan die filosofeer te gaan of wat? En sal sy kan byhou? Hoe slim is sy veronderstel om te wees? Hoe slim het Erik haar voorgehou? Die arme man gaan die skok van sy lewe kry!

“Wonderlik,” stem sy ewe sedig saam. “Veral as dit by die mens kom.”

En as dit by mans kom, staan ’n mens eers verstom, dink sy suur. Nie eens die donkie is so ’n wonderlike ding soos ’n man nie. Nie eens ’n donkie kan jou so onverwags skop soos ’n man as hy die slag goed genoeg mik nie.

“Ek verstaan jy is gretig om ’n verandering te maak? Jou paspoort is in orde en jy staan reg om jou tasse op kort kennisgewing te pak.”

Breggie probeer haar asemhaling reguleer. Sy’t dít nie geweet nie, maar dan, sy weet ook nie wat sy alles konsuis vir Graham in die string e-posse geskryf het wat namens haar aan hom gestuur is nie.

Graham verbreek skielik sy oogkontak met haar en kyk vlugtig oor sy skouer. Breggie verbeel haar sy hoor ’n stem op die agtergrond, dalk nog ’n vrouestem.

“Ek moet gaan, Breggie,” sê hy dan. “Maar ek skakel jou weer, hoor. Sommer gou ook.”

“Ek ... Ja, dankie,” is al waartoe sy in staat is.

Daar is nie ’n sweempie van ’n glimlag op sy gesig toe hy skielik fronsend na haar kyk nie. “Ek hoef nie te weet waarom ’n goed gekwalifiseerde rekenmeester soos jy belangstel daarin om vir my in Londen te kom werk nie, en ek hoef nie te weet waarvoor jy weghardloop nie, Breggie. Al wat ek vra, is of die polisie op jou spoor is en of hulle aan my voordeur gaan kom klop op soek na jou?”

“Nee, natuurlik nie!”

“Jy vlug dus nie vir die lang arm van die gereg nie?”

“Nee. En ek het ook nie ’n kriminele rekord nie.”

Wel, nog nie, nie sover sy weet nie. As die lang arm van die gereg sou weet wat sy in blinde woede aangevang het, het hulle haar lankal kom toesluit.

Hell hath no fury like a woman scorned, probeer sy verskoning soek vir haar onbesonne optrede.

“Ons praat weer, hoor,” belowe Graham Condor voordat hy die verbinding verbreek.

Engel van my hart

Подняться наверх