Читать книгу Sushi en sjampanje - Kristel Loots - Страница 3

1

Оглавление

Verslaaf aan Facebook? ’n Facebook freak? Wie? Ek? Nooit gesien nie.

Ek kyk net vroegoggend gou daarna terwyl ek my eerste koppie koffie drink. Net om te sien wat deur die nag gebeur het waarvan ek nog nie weet nie. En so elke af en toe deur die dag. En in die aande voordat ek gaan slaap. Net gou, jy weet? Net gou.

Wat op aarde dóén mense wat nie Facebook het nie? Hoe kry hulle die tyd om? Veral hier teen laatmiddag op kantoor as dit so stil raak dat jy jou buurman kan hoor asemhaal.

“Was dit nie vir Facebook nie, het ek sowaar gevrek van verveling,” mor ek.

“Dis juis vandag über-boring hier by Die Boekhoek,” kla Pulani saam met my. “ ’n Mens sal nie sê ons is ’n klomp movers en shakers nie.”

Ons is nogal. Movers en shakers. Maar Gary is nie hier nie en iemand wat werk wanneer die baas weg is, het ’n ernstige selfbeeldprobleem. As die universe jou high-five, maak jy ook so. En smile. Pulani verf haar naels en Harry het die rekenaar nou al twee keer met skaak gewen. Só mors ek nie my tyd nie. Ek loer na al die Facebook-blaaie wat ek gelike het en lees wat ’n paar van my 378 friends gepost het.

Daar is die gewone soetsappige spreuke en prentjies. Wyshede wat wyd en wild verkondig word. Pep talks wat maar eerder kon gebly het. The early bird gets the worm, but the second mouse gets the cheese. Ja, ís so! Ha! ha! I don’t like morning people. Or mornings. Or people. Ja, ja, ek ook nie aldag nie. Ek scroll verby die prentjies van wollerige hondjies en lieftallige katjies en foto’s van cute kindertjies en kleinkindertjies wat trotse mammies en oumatjies op hul Facebook-mure pleister. Oulik, ja, tog te oulik, maar hou tog net verby, asseblief.

“Wat doen jy?” wil Pulani weet. “Stalk jy al weer vir Gary?”

Sy’t sowaar oë agter haar kop, want die oomblik wat ek dit wíl doen, weet sy daarvan.

“Hoe kan ek hom stalk as ek nie een van sy Facebook friends is nie?”

“Hoekom is jy nie?”

“Gary het gedink dis ’n simpel idee. Ons sit langs mekaar op kantoor. Dis freaky om met mekaar op Face­book te chat.”

“Of hy wil nie hê jy moet lees wat hy op sy Facebook-blad skryf nie.”

My thoughts exactly, maar ek sê dit nie.

“Dis seker nie vir jou ’n probleem nie. Jy’s mos nie ’n onkundige cyber virgin nie.”

Ek antwoord haar nie, want ek lieg nie onnodig nie. Natuurlik kan ek op Gary se Facebook-blad ingaan. No problem. Sy sekuriteit-settings is so simpel opgestel dat enige bobbejaan met ’n breinsel en ’n toetsbord dit kan doen. En natuurlik lees ek alles wat hy daar skryf.

“I ain’t no saint,” mompel ek verontskuldigend in

Pulani se rigting.

“Hy gaan jou uitlag as hy sien hoe gereeld jy op sy profiel ingaan.”

“Ek dink nie ’n mens kan regtig nie, al sê Facebook ook so. Dis sommer ’n hoax.” Hoop ek. Eintlik hou ek my slimmer as wat ek regtig is, eintlik ken ek net die basics. Facebook is the devil in disguise en ’n mens weet nooit wat alles daar openbaar gemaak word nie. Wat as Gary kán sien hoe gereeld ek gaan loer of hy dinge vir my wegsteek? Hy sál lag, ek weet hy sal. My uitlag en by sy pelle daarmee spog, vir hulle vertel hoe paranoid ek is.

Miskien moet ek my aan Pulani se waarskuwing steur, miskien is sy the voice of reason om my van my verslawing te genees. Sy met haar gifbek, sy wat nou haar naels sit en bewonder asof niemand al so ’n perfekte manikuur kon doen nie. Wel, sy ís ’n ekspert. Het vroeër vandag my toonnaels geverf, ’n kunswerk in die kleine. Die een groottoon blou, die ander swart, drie groenes, ’n gele, ’n silwer, ’n rooi en ’n oranje toonnael, met die linkervoet se kleintoontjie ’n skreeuende skelpienk. Pragtig! Fabulous!

Pulani is lank nie meer die vaal plaasmuis wat sy glo was toe sy in die Kaap geland het nie, sy dra ál die stempels van ’n volbloed city girl. Al wat sy van haar Noord-Kaapse agtergrond oorgehou het, is die suiwer Afrikaans wat sy praat, een van die redes waarom Gary haar dadelik hier by Die Boekhoek aangestel het. Maar wanneer sy relax, is dit nie woordeboektaal wat by haar mond uitborrel nie.

Ons is ’n gedugte span, ek en Pulani. Ebony and Ivory, noem Harry ons. Beauty and The Beast is ’n beter beskrywing. Of miskien eerder Beauty and The Brains. Waar Pulani die beauty is en ek die brains.

Ou Harry is darem ook iets werd, veral met sy kamera om sy nek. Hy kiek al wat celeb is en plak dan die foto’s op Facebook. Sommer so sonder om dit te Photoshop as hy die dag spiteful is. Verder hou hy die fort aan die Engelse kant van die winkel. So min of meer, want dié soutie is nie lief vir praat nie. Met Harry en Gary aan die een kant en my en Pulani aan die ander, hou ons Die Boekhoek/The Book Nook van bankrot­skap af weg. Net-net, maar darem.

Die Boekhoek/The Book Nook is nie jou gewone boekwinkel wat allerhande twakkies behalwe boeke verkoop nie. Dis hoofsaaklik die ernstige lesers wat ’n boek wil hê die oomblik wat die ink droog is, wat by die deur instap. Ja, ja, mense koop al hoe meer e-boeke, maar die papier-stroompie by ons het gelukkig nog nie opgedroog nie.

“Was dit nie vir die koffiemasjien nie, het Die Boekhoek seker ook al sy gat gesien,” is hoe Pulani dit opsom. Is so. Die literati en die glitterati gaan maak almal eers ’n draai by die koffiekan. Almal wat bril dra, kan nie lees nie, maar almal stap hier uit met ’n sak boeke in die hand. Wat hulle daarmee doen, is hulle saak. As hulle dit vir deurstoppers gebruik, is dit ook maar goed so. Ons is nie hier om die volk op te voed nie, net om die kasregister vol te hou.

Ons move en ons shake, ek en Pulani. Ons lywe, ons hare en alles wat nodig is om ’n ding georganiseer te kry. ’n Boek het nog skaars op die rak beland of ons hou ’n paartie van ’n aard. Kyk, ons kan vir jou ’n boekbekendstelling of toekenningsaand reël dat dit soos ’n Hollywood-geleentheid lyk. “Vir ’n sommerso skrywertjie is butternut-sop die mees eksotiese dis op die spyskaart,” het Gary my vroegtydig onderrig in hoe dinge hier gedoen word. “Maar vir die groot geeste wat die dik boeke skryf en die toekennings kry, bedien ons sushi en sjampanje.”

So is dit – almal weet as jy eers behoorlik gearriveer het, is sushi en sjampanje jou beskore. Al wat who’s who is, kom wys dan tande en skud hande. Ek staan by die deur in my nuutste outfitjie en verwelkom man, muis en mistress – en na baie oefening kry ek selfs al die African handshake amper reg. Soms soen ek die lug langs die bebrilde gesigte van die stedelike intelligentsia. Die dames in hul Queenspark-pakkies se parfuum kielie my neus en so hier en daar gee omies wat na Vicks ruik my drukkies wat die grense van welvoeglikheid oorskry. Die hooikoors pla my dan ’n bietjie, maar ek oorleef.

Dis ook ék wat met ’n gekug agter die kateder inklim om ’n speech af te steek wat die hooggeplaastes én die wat nie so hoog op die food chain is nie sal verstaan. “Die Boekhoek is soveel meer as net ’n boekwinkel, dames en here. Hier kry boeke vlerke. Die Boekhoek/The Book Nook lanseer boeke met promosies op sosiale blaaie wat tot ver buite die landsgrense strek. Die Boekhoek/The Book Nook bied jou meer waarde vir jou geld as wat jy met ’n belegging in die bank kan kry.”

“Dis waarvoor ek jou betaal,” herinner Gary my gedurig. “En vir jou genoeg blink rokke koop om ’n klomp vroue gelukkig te hou.”

Dis fine met my. Eintlik het ek ’n great werk, in fact, I luv my life!

Sulke tye is Pulani natuurlik die cherry op die koek. Nie alleen is sy beau-ti-ful nie, sy boul ’n ieder en ’n elk uit die oomblik wat sy haar mond oopmaak en klink asof sy agter die boereworsgordyn grootgeword het. Sy met haar bekoorlike Prieska-aksent.

Al freak haar ma ook uit omdat sy nie meer klink soos toe sy met die Shosholoza hier aangekom het nie. Ek moes nou eendag die hele ou drama aanhoor toe Pulani se foon op speakerphone gestel was. “Jy mors met jou taal. Dis die stad wat dit aan jou gedoen het,” het haar ma gekerm. “Jy’t nie so gelyk en so geklink toe jy by die huis weg is nie.”

“Hoe lyk ek dan nou, Ma?” wou Pulani weet.

“Soos een van die voëlverskrikkers hier op die lande op die plaas.”

Sowaar, ma’s is almal dieselfde. Probeer altyd van hul dogters miniatuur-weergawes van hulself maak sonder om te weet dat ’n mens eerder dood wil wees as soos jou ma.

Ek weet nie hoe Pulani by die huis was en of sy kaalvoet op stofpaaie geloop het nie, maar deesdae is sy een van die African princesses wat net die duurste ontwerpersklere dra en handsakke met name wat met hoofletters geskryf word. Gladde hare en hair extensions wat oor haar skouers hang. Word gewine en ge-dine deur ’n hele string black diamonds met die meeste geld en die blinkste karre. By hulle gooi sy die Engels wat sy by haar pa geleer het wanneer sy vakansietye by hom in Johannesburg gaan kuier het. “The best of both worlds,” spog sy gewoonlik. “Met ’n plattelandse ma wat nie nonsens van my vat nie en ’n pa in die stad wat my tot in die afgrond bederf. En kyk vir my – ek is so gebalanseerd, jy kan my vir ’n skaal gebruik wat mikrogram afweeg.”

Gebalanseerd? Wie? Sy? Sy met haar los mond? Ag, ek weet nie, ek dink ons het almal ’n klap van die windmeul weg, party is net harder geslaan as ander. Pulani verbeel haar maar net sy is the last sane woman stand-ing. Het glo min van haar pa gesien toe die Noord-Kaap vir hom te warm geraak het en hy uitgewyk het Gauteng toe, maar nogtans met haar gat in die botter beland. Daddy Dearest het die een of ander joppie in die regering losgeslaan waar die voordele die nadele oortref en bly in ’n penthouse wat al op Top Billing gewys is. Glitz and glamour to die for!

Ons wil hom vra om Lukas van Wyk se koffie­tafelboek oor ’n herrese Johannesburg in sy penthouse bekend te stel. Dit sal ’n nice touch wees. Dan kan ons hele ou lotjie opsuiker Johannesburg toe vir ’n naweek. Dis wat Gary vandag doen, sover ek weet. Onderhandel met Lukas se uitgewers oor die helse BANG! waarmee ons sy boek wil launch. Whatever, whenever, wherever, dis nie net Beauty wat mooi sal moet lyk vir die okkasie nie, Brains gaan ook moet poeier en paint en titivate. Die baas ís after all my verloofde, al sal jy dit nie sommer sê as jy na ons kyk nie. En al weet ek nie aldag wat presies in my baas-cum-verloofde se lewe aangaan nie.

“Daar wás nogal movement op Gary se Facebook page vandat ek laas gekyk het,” fluister ek in Pulani se rigting. Harry hoef nie alles te hoor wat ons praat nie. Hy is in elk geval so verdiep in sy rekenaarspeletjies dat hy skaars van ons bewus is. Mans kan mos nie multi-task nie. Gelukkig nie.

“Wat? Enige bewonderaars wat hom wil bed toe sleep?”

“Nie hierdie keer nie. Maar hier ís ’n girl wat sy boek slegsê. Sy skryf sy verstaan nie ’n dooie woord daarvan nie.”

“Ek ook nie.”

“Ek nog minder.”

“Fênsie titel wat Gary uitgedink het, maar dis ook al.”

“Vreemde titel. Reënboogtoebroodjies vir ’n piekniekmandjie. Ek het dit nou eendag in ’n winkel tussen die kookboeke gekry.”

Ons het Gary se boek met ’n vreeslike fanfare bekendgestel, nogal met sushi en sjampanje asof hy ’n groot gees is. Maar ten spyte van die hype wat ons soos die Suidooster aangeblaas het, was die resensies maar so-so.

Pulani ry met haar wieletjiestoel nader om oor my skouer te kom loer hoe Gary op die kritiek gereageer het. “Dis jammer jy het nie die boek geniet nie,” lees Pulani. “Dit vra ’n gesofistikeerde leser om die simboliek te ontrafel.”

“Ag twak!” lug ek mý mening. “Die simboliek waarmee hy so smous, is verwarrend.”

“Hoekom sê jy dit nie vir hom nie?”

“Omdat ek nie ’n death wish het nie.”

“Hy hoef nie te weet dis jy wat sy boek kritiseer nie.”

Dis hoe Pulani is – vol planne. Die res van die middag leer ek by haar van knoei, konkel, korrupsie en soortgelyke aksies.

“Ons skep ’n fiktiewe profiel vir ’n fiktiewe meisie, Sally Smith. Dan kan jy uit Sally se mond praat sonder om die gevolge te dra,” lei sy my verder in die versoeking.

Dis toe nogal fun. Alles wat ons oor Sally Smith skryf, is ’n fantasie en ons gaan behoorlik mal daarmee.

“Waar gaan ons ’n foto vir die girl kry?” wil ek weet.

Pulani giggel. “Ons trek ’n foto van die een of ander oorsese sekskat van die internet af. Dan toor ons met Photoshop totdat ons ’n vrou geskep het wat Gary tot stilstand sal skok. ’n Vroulike wese wat enige man se oog sal vang.”

“Hoekom moet dit juis ’n sekskat wees?”

“Omdat ’n man eerder na ’n sexy girl sal luister as na een met ’n moesiemondjie.”

Ek kan nie met Pulani stry nie. Photoshop is die fantasie van die nuwe millennium, Photoshop is daar om die lewe soos hy werklik is vir ons te verander in iets wat die mense van vroeër net in hul drome en gedagtes gesien het. Daarmee kan jy plooie wegtoor, puisies met die klik van ’n muis laat verdwyn, kilogramme verwyder en ’n nare stiefmoeder in ’n beeldskone Sneeuwitjie verander.

Ons sit soos twee rekenaargeletterde hekse en konkel. Toe ons klaar is met ’n Skandinawiese blondine wat blykbaar ’n rolletjie as ’n ekstra in ’n pornografiese movie gehad het, het sy ’n Hannah Montana-pruilmond, die meisie wat Dove-seep adverteer se neus, is haar hare skokblond, haar oë ’n bietjie blouer as blou en spog sy met ’n lyf wat geen lewende wese kan hê en oorleef nie. So top-heavy kan geen vrou wees sonder om onderstebo te tuimel nie. Maar mans is mos nie logiese wesens nie, ook nie Gary nie. Hy sal na alle waarskynlikheid glo ’n vrou met daardie afmetings bestaan wel en leef hier op Moeder Aarde waar hy haar in Pick n Pay kan raakloop.

“Ons maak haar so in haar middel twintigs rond,” besluit Pulani. “Nie oud genoeg om al opgebruik te wees nie, maar darem ook nie jonk genoeg om heeltemal onkundig en onskuldig te wees nie.”

“Miskien kan sy ’n danser wees,” stel ek voor.

“Met ’n akrobatiese agtergrond, ja. Net om Gary se hormone behoorlik te kick-start.”

Ek weet nie wat neuk Pulani ál met Gary se hormone nie. Die idee is tog dat sy hom van sy troontjie af moet ruk, nie by die knieë moet knak nie. Daardie deel sal ék doen. “Sally Watsenaam kan nie ’n leëkoppie wees nie, want dan sou sy nie Gary se boek probeer lees het nie.”

“Nee, sy kan nie te blond in haar denke wees nie. Ons gee kamma vir haar ’n graad in Afrikaanse letterkunde, een wat sy op Stellenbosch verwerf het, haar Engelse naam ten spyt. Mans hou van meisies met sagte ou naampies soos Sally.”

“En waar bly onse Sally?”

“Sommer hier in die Kaap iewers. Net om Gary lekker ongemaklik te maak.”

Is goed so. As ons met Gary se kop wil smokkel, kan ons dit netsowel behoorlik doen.

“Onse Sally het ook ’n paar Facebook likes en Facebook friends nodig om geloofwaardig te wees.”

“Wat ons waar kry?”

“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Hoeveel Facebook friends het jy?”

“So drie-, vierhonderd, dink ek.”

“En hoeveel van hulle ken jy? Hoeveel ken jou?”

“Beslis nie almal nie. Ek wonder nog steeds wie is Bin Well en of Johannes Johannessen regtig in Johannesburg bly. Hulle het versoeke vir my gestuur en ek het dit uit pure nuuskierigheid en goeie maniere aanvaar.”

“Daar hét jy dit. Facebook is soos ’n piramide, die moontlikhede is eindeloos. Ons klik links en regs op Add Friend. Sommer voor die voet, by enige naam, hier en oorsee. ’n Paar vrouename, maar hoofsaaklik mansname. Kyk na Sally Smith se foto. Dink jy daar is ’n man onder die son, lewend of dood, wat nie haar friend request gaan aanvaar nie?”

Ek spring weg en stuur dadelik namens die sexy Sally Smith friend requests na die mooiste mense wat ek opgespoor kan kry. Ook aan Gary van Heerden, eienaar van Die Boekhoek/The Book Nook. Hy met die sandkleurige kuif oor sy voorkop en sy silwerraam-brilletjie, hy wat nêrens op sy Facebook-blad noem dat hy ’n verloofde man is nie. Die bliksem! Dis nie dat ek desperaat is nie, maar ek loer soms skelm na trourokke. En die donner van ’n Gary noem nie eens my naam nie. Miskien kan ek sommer ook vir hom iets daarvan sê – uit Sally Smith se mond, natuurlik.

“Wat doen ons met Sally Smith as ons haar nie meer nodig het nie?” wonder ek hardop.

“Sy sal forever in die kuberruim bly sweef. As ’n mens eers ’n Facebook-karakter geskep het, is doodkry min. Jy kan die account sluit, maar dit verdwyn nooit werklik nie.”

“Eerie. You can check out any time you like, but you can never leave!”

“Wát?”

Sulke tye wys ons kultuurverskille.

“ ’n Classic song, man. The Eagles.” Ek trek los en sing vir Pulani van die ou wat die pad wou vind na waar hy eers was, en die deurwag se onheilspellende woorde: “We are programmed to receive. You can check out any time you like, but you can never leave!”

“Jy’t ’n baie vreemde stem,” merk Pulani op.

“Dis nie só vreemd nie, dis falsetto, net effens buite die normale register.”

“Tipies jy. Om effens buite die normale te wees.”

“In my prille jeug op laerskool wou ek vreeslik graag in die koor sing. Al die dogtertjies in die koor het wit rokkies gedra, met strikke in hul hare.”

“Hulle was seker die with-it girls van graad een en twee?”

“Ja. En ek was een van dié wat in die klas agtergebly het wanneer die koor gaan oefen het.” Ek sug. “Maar ek kon dans,” onthou ek. “Toe al het ek ritme in my lyf gehad. Ek was die voordanser, het die klomp koorkoekies onder die stof in gedans. Maar dinge wou net nie vir my reg uitwerk nie. Die flippen juffrou het gevra ek moet lip-sync wanneer die ander met hul suikersoet sopraanstemmetjies sing.”

“En het jy?” vra Pulani, wat my eintlik al te goed ken.

“Ja . . . Behalwe die laaste aand van die konsert, toe sy my nie meer kon uitskop nie en ek nie langer wou stilbly nie. Toe . . . wel, kom ons sê maar net daardie aand was die feetjies van Feetjieland ’n bietjie van hul wysie af.”

Teen huistoegaantyd sit die denkbeeldige Sally Smith behoorlik in my kop. Sy tuit ewe guitig haar roosrooi lippies en dring in ’n heserige, sexy stem by my aan om woorde in haar mond te lê, woorde wat sy op Gary se Facebook-blad wil post. Sally Smith wil my spreekbuis word, sy is ready, able and willing.

Maar drie dae lank peper Gary my met blogs wat ek oor nuwe boeke moet skryf en kom ek nie by Face­book uit nie. Ek trap in my spoor. Bang vir die baas, jy sien?

“Ons sal ten alle tye professioneel moet optree terwyl ons by die werk is,” het hy gewaarsku toe die ding tussen ons begin het. “Ek wil nie klagtes van nepotisme teen my hê nie.”

Wat het hy verwag? het ek toe gewonder. Dat ek moet bedank? Terwyl werk so skaars is? Alles wat ek hier het net so prysgee? Die lekker onthale, al die gratis kos en wyn, selfs die bottels wat oorbly? You must be joking. Soms dink ek ek sal eerder vir Gary koebaai sê as vir Die Boekhoek.

Maar intussen hou ek by sy reëls. Ek vly my nie teen hom aan as ons per ongeluk saam in die hysbak beland nie. Ek kyk skaars in sy rigting.

Dis net dat daar ’n duiweltjie in my woon, een wat soms op die onmoontlikste tye allerhande dinge in my oor fluister en nie weet wanneer om op te hou nie. Daardie Vrydag met die morning meeting is sy weer daar, pens en pootjies op my skouer, vol dinge.

Ons sit om ’n tafel, notaboekies en penne in die hand. Ek en Pulani langs mekaar aan die een kant en die mans-mense aan die ander kant. Gary het ’n lang lys grafieke voor hom waarmee hy ons bang maak: verkope wat gedaal het, boeke wat van die mark onttrek moet word, allerhande planne. Ek kyk hom so, my verloofde, ewe sedig, vroom en vroed in sy beste jeans en ’n hemp met lelike paisley-patrone op. ’n Regte meneertjie.

En daardie duiweltjie lig haar kop. “Hoekom speel jy nie ’n bietjie voetjie-voetjie met hom nie?” wil sy weet. “Toe, man! Dit sal pret wees!” Ek probeer haar ignoreer, maar wyfie-duiwels laat hulle nie ignoreer nie. “Of nee, wag! Voetjie-voetjie is te mak, dis vir kinders, nie vir verloofdes nie.”

Vrydae is anders as ander dae. Vroeg in die oggend val daar al ’n anderste gevoel oor jou, ’n waaghalsigheid wat die bloed in jou are laat bruis en amper oorverdowend in jou kop laat suis. Vandag is die dag dat ek die reëls oortree, behoorlik oortree! Maar ek gaan dit so kundig doen dat net ek en Gary daarvan weet. Ons twee se geheimpie, ’n heerlike ou geheimpie wat kleur aan die dag sal gee. Teen die tyd dat ek met hom klaar is, sal Gary die res van daardie grafieke opfrommel en in die vullisdrommetjie gooi.

Ek woel my voet uit my Jimmy Choos wat ek vir myself vir Kersfees gekoop het en oefen eers my tone. Toe lig ek my voet, baie stadig, baie versigtig. Net om eers te toets, net om te sien hoe Gary gaan reageer.

Ek wil hom nie in ’n verleentheid laat beland nie. Daarvoor is ek hopeloos te ordentlik. Wel, soort van. Ek wil hom net ’n bietjie terg, ’n bietjie laat rondskuif, ’n bietjie laat bloos. Sodat ons later daaroor kan lag agter toegetrekte gordyne. Opwinding is the spice of life.

Ek streel met my toon teen sy skeen op, knie se kant toe, my oë op sy gesig. Kyk, dié man is ’n pro. Hy’t sowaar semels waar ander mense senuwees het. Hy wys niks, hy skrik nie, kyk nie eens in my rigting nie, bloos nie, gaan net onverstoord voort met sy praatjie oor hierdie maand se grafiek en ander vervelige statistieke. Toe ek my voet in sy skoot laat sak, hou ek ’n oomblik lank asem op.

Maar ek is verniet bang. Gary stamp nie my voet weg nie, hy doen niks! Hy bly kalm en rustig, hopeloos té rustig na my smaak. Bliksem. Hy kan darem net wys hy leef en hy weet van my voet in die gevaarsone. Nie net daar sit soos ’n zombie met ys in sy are nie.

Knip nie ’n oog nie, slaan nie ’n bladsy oor nie, stotter nie en stamel nie. Ek moet hom seker bewonder vir sy selfbeheersing, maar eintlik is ek die dinges in daaroor. Dêmmit! Geen meisie wil ’n dooie stuk hout vir ’n verloofde hê nie, eerder iemand wat verkrummel as jy in sy rigting kyk. Met ’n gerek en ’n gestrek probeer ek hom in sy ribbes kielie, in die hoop om ten minste ’n giggellaggie uit hom te kry.

Hy sal kwaad wees, besef ek, maar dan weet ek darem hy het nog nie emosioneel afgesterf sonder dat iemand daarvan weet nie. Dit verg nogal ’n akrobatiese toertjie om by te kom en ek gly amper van my stoel af, alles verniet. Gary sit nog daar asof hy familie van ’n sfinks is. Dis genoeg om enige meisie mal te maak. My voet kramp later. Seer. Vrek seer. Ek wil tou opgooi en weer my stiletto’s aantrek. Maar dan wend ek ’n laaste poging aan – ek wikkel en woel vir oulaas my voet in sy skoot.

Nog niks! Zilch!

Dis toe Gary vir Harry ’n vraag vra dat ek vir die eerste keer onraad vermoed. Harry antwoord nie, staar net voor hom uit, sy oë glasig. Sy mond hang oop en sy asem jaag soos dié van ’n hond wat lank sy eie stert gejaag het. “What . . .” hyg-hyg “. . . what was the question?” kom dit hortend. Sy gesig is bloedrooi en daar is ’n lagie sweet op sy bolip. Amper soos iemand wat beroerte of ’n ander lewensgevaarlike aandoening kry.

Wat de hel gaan met die man aan? Hy lyk kompleet asof . . . My hart mis ’n slag, nog ’n slag – en gaan toe mal in my borskas. Oh no! Nee, nee, flippen NEE!

Dis ék wat my asem skerp intrek toe ek besef wat gebeur het, dis ék wat by ’n hartstilstand gaan omdraai, ék wat my voet wegruk asof uit die vuur, so vinnig dat ek Gary in die proses op sy maermerrie skop.

“Eina, dêmmit!” roep hy uit.

Great! Nóú tref my voet die regte lyf.

Ag, berge val op my! Of ten minste die dak van die gebou. Of ’n tafeldoek, of ’n gordyn, of enigiets wat my skaamte sal bedek. Ek voel hoe die vlamme op my wange uitslaan. Ek voel-voel na my skoen, maar dit is weg, my voet is kaal. Ontbloot. Alles aan my is kaal, skandalig ontbloot. Of so voel dit.

Ek sou verkies om dood neer te val, maar dit gebeur net in die movies. In stilprente waarin die vroue korsette dra. Wanneer jy die grootste moontlike dinges van jouself maak, val jy flou of dood neer en word jy grasieus weggedra. Nie in die regte lewe nie. In die regte lewe sít jy nog daar. Lewensgroot. Uitgelewer aan almal om die tafel wat óf wonder óf weet watter verskriklike gek jy van jouself gemaak het.

Ek strompel weg, een skoen aan en een skoen uit. Hinkepink. Skoon skeef. Lomp. Die badkamer was nog nooit so ver in die gang af nie en die deur het ook nog nooit so moeilik oopgemaak nie. Ek storm daar in en gaan buk oor die wasbak, so naar soos ’n landrot op die oop see. Ek draai die kraan volstoom oop, spat die water oor my gesig, bo by my borste in, my nek, skouers, alles wat aan die gloei is wat ek kan bykom. Maar die water is nie koud genoeg om my te laaf nie, dit stoom van my gesig af soos van ’n warm plaat. Ek wil my kop in die toiletbak gaan steek, ek wil in die bad klim, ek wil saam met die water deur die gorrelgat in die riool afspoel.

Maar niks daarvan gebeur nie. Dit voel of ek elke minuut groter raak, of daar horings op my kop groei, of ek ’n plakkaat om die nek dra wat in groot rooi letters vir die wêreld vertel wat ek aangevang het. Wat gaan ek doen as Gary genoeg belangstel om te begin somme maak en by die regte antwoord uitkom? Hoe verduidelik ek my stuitigheid aan hom? En ag hemel tog! Hoe gaan ek Harry ooit weer in die oë kyk? Onnosele aap. Hoekom sít hy net daar? Hoekom doen hy nie iets nie? Hoekom sê hy nie iets nie?

Wat? Wat moes hy sê? Verskoon my, Jacki, ek dink jou voet het op die verkeerde skoot beland. Ek gee nie om nie, maar ek voel dis my plig om jou daarop te wys. Behalwe as jy my dalk onweerstaanbaar vind en my onder die tafel deur wil plesier.

Dis Pulani wat my kom haal met my skoen in haar hand. “Is jy oukei?” wil sy weet.

Ek skud my kop. “Nee, nie regtig nie.”

“Waddehel het daar aangegaan?” Sy gee die skoen vir my aan. “Hoekom is jou skoen van jou voet af? Jy en Gary het tog seker nie voetjie-voetjie gespeel nie?”

Ek bloos van voor af. “Moenie vir jou laf hou nie, Pulani. Natuurlik nie.”

Sien, soms praat ek tog die waarheid, die reine waarheid, al klink dit nie so nie.

“Jy’s bleek. Is jy naar?” Sy frons. “Moenie vir my sê jy’s pregnant nie.”

“Ek is nié pregnant nie, Pulani, ek belowe jou.”

Ek kan nie pregnant wees nie, behalwe as ’n mens dit met ’n ge-voetjie-voetjie-spelery met Harry kan opdoen. Oombliklike bevrugting. Amper iets soos spontaneous combustion!

Gelukkig is al twee die mans doenig met iets toe ek genoeg moed het om my gesig en die res van my by die deur uit te steek. Gary is oor sy rekenaar gebuk en dit lyk nie juis asof hy onraad of onkuisheid vermoed nie. Ek gluur Harry aan. Dis ’n if-looks-could-kill-kyk. “Sê iets!” spel daardie kyk vir hom uit. “Sê net iets en ek trap jou tjank vir jou af. Onthou, ek slaap by die baas.”

Die res van die dag hang daar ’n vreemde, gevaarlike atmosfeer in Die Boekhoek en niemand weet waar dit vandaan kom nie. Behalwe ek en Harry, en Harry sal nie praat nie. “Ek is ’n lover, nie ’n fighter nie,” verkondig hy graag. My voete bly in my skoene en geen ander deel van my anatomie oorskry enige grense nie.

Maar daar sit ’n stuk doringbos in my borskas vas. Ek skaam my. Waddehel makeer my? Hoekom kon ek nie my tone in toom hou nie? Dis . . . dis omdat ek ’n magic moment wil hê, ’n simpele spesiale iets wat ek en Gary deel. Oë wat ’n oomblik lank connect, miskien ’n gesteelde soentjie so in die verbygaan. Daar hoef nie tonge by betrokke te wees nie, sommer net ’n piksoentjie, al land dit ook op my neus of oor.

Net iets, sodat ek kan weet my flippen verloofde weet nog van my. Gary, jou swernoot! Ek verwag nie veel van jou nie, jy hoef nie my klere van my lyf af te skeur of my van liefde op te vreet nie. Ek wil nie spesia­le gunste van jou hê nie, net . . . wel, my magtig, man, net ’n bietjie erkenning daarvoor dat ek soms soos Eva voor jou staan. Sonder haar vyeblaar.

O, ek vind gewoonlik ’n hele kwota verskonings vir Gary se afsydigheid. Hy is nie demonstratief nie, terughoudend van geaardheid.

“Met ander woorde hy’s ’n koue vis,” was Pulani se reaksie toe ek dit so vir haar probeer verduidelik het.

Gelukkig gryp Gary sy baadjie en sy laptop hier teen twaalfuur en staan deur se kant toe. “ ’n Vergadering,” mompel hy in my rigting. “Sal seker tot laat toe besig wees.”

Ek is verlig. Na my droogmakery huiwer ek om hom in die oë te kyk. Nou voel ek soos Eno’s wat te lank op die rak gelê het; ek het my fizz verloor.

Ek sweer daar was al ’n paar sangomas in Pulani se familie, want dit lyk my sy ruik ’n rot op ’n afstand, al probeer jy hom as ’n skadelose konyntjie verbloem.

“Waarnatoe is Gary?” vra sy.

Ek haal my skouers op. “Seker maar ’n meeting of ’n ding. Hy’t nie gesê nie.” Die vrek weet, deesdae word baie sondes onder die dekmantel van meetings gepleeg.

“Dis ’n dark horse, daai een.”

“Dis sy werk, Pulani. Ek en jy weet nie van al Gary se wheelings en dealings nie. Hy hoef nie sy whereabouts aan ons te verduidelik nie. Dis hy wat die skip aan die seil moet hou.”

Maar Pulani is agterdogtig gebore. “Mmm. Dis wat ek sê: ’n dark horse. Ek vertrou hom nie. Sy ogies sit te na aan mekaar.”

Dit ís darem van my verloofde wat sy praat. Ek het die ring om dit te bewys. Nou nie juis ’n knewel van ’n diamant nie. Of ’n erfstuk wat geslagte lank al in die familie is nie. Maar darem ook nie ’n blink ding wat by ’n Nigeriër op die straathoek gekoop is nie. Wel, nie sover ek weet nie . . .

“Wanneer nooi jy my om by jou en Gary te kom koffie drink?” karring Pulani aan my. “Jy het elke keer ’n verskoning as ek wil kom.”

“Man, jy weet hoe is hy.”

“Ek weet, ja. Otherwise. Waarvoor is hy bang? Dat die bure sal praat? Dat ek die eetgerei sal steel? Dat die honde vir my sal blaf?”

“Gary het nie honde nie,” is die beste verweer waarmee ek vorendag kan kom.

My ma kerm net so om my ore om te kom kuier, maar Gary skiet dit elke keer af. “Ek sal kyk dat sy niks rondskuif nie. Of jou kaste begin regpak nie,” verseker ek hom dan.

“My kaste ís reggepak. Dis jou kamer wat soos ’n muisnes lyk.”

My kamer, sy kamer . . . Sien, dis die tipe ding wat ons geheim wil hou.

Die idee wanneer ’n ou jou nooi om by hom in te trek, is tog tradisioneel juis om jou byderhand te hê die oomblik wat hy jou wil hê.

“Sulke ouens gebruik vroue,” het Pulani in haar gedaante as doemprofetes my probeer waarsku toe sy hoor ek gaan by Gary intrek. “En gooi hulle dan eenkant toe.” Ek wou nie met haar stry nie, ek was te haastig om my tasse te gaan pak. Die winter was in aantog en ek wou iemand hê om te cuddle. Die res was white noise.

Ek wóú daar wees vir Gary. Langs hom. Byderhand.

Maar ek het ’n eensame enkelbedjie van my eie, en ’n kamer van my eie in Gary se huis. Verstaan mooi – ’n kamer van my eie, so ’n gróót kamer van my eie is ’n luukse, meer as wat ek by Ma-hulle gehad het. Of in die oorvol universiteitskoshuis, of in die woonstel wat ek met vier ander meisies gedeel het in my two-minute-noodle-dae toe ek net begin werk het.

Gary se huis is ruim en luuks genoeg. Met ’n sitkamer­stel van egte leer en ’n televisie wat amper een hele halwe muur vol staan. Wat meer kan ’n vrou vra? Om in die master’s bedroom te slaap? Ja! Behalwe dat die master verkies om snags alleen daar te slaap.

“Ons ís nie getroud nie, pop,” het Gary my herinner toe hy my die eerste aand van my nuwe lewe saam met hom ná ons katelkaskenades vriendelik dog ferm uit sy bed jaag. Ek het soos ’n straatkat gevoel, maar dit gedwee aanvaar. Hy hét my darem pop genoem en om iemand se pop te wees is nie al wat meisie is beskore nie.

Maar Pulani met haar gifbek sal beslis iets hieroor te sê hê. Van taktvol wees, leer hulle blykbaar nie in die Noord-Kaap nie. Dis beter om Gary se privaatheid as rede voor te hou sodat sy – en Ma – nie van ons sleeping arrangements sal weet nie. “Gary verkies om sy professionele en persoonlike lewe apart te hou,” verklaar ek.

“Apartheid het nog nooit vir my gewerk nie.” Pulani frons, nog steeds die ene agterdog. Met daardie skerp tong sal sy nie uitgepraat raak oor die tipe apartheid wat ek en Gary toepas nie.

Dis die ding daarvan om vriendinne soos Pulani te hê. Hulle plant saadjies juis wanneer jou tuingrond effens omgespit is. En dan voer hulle daardie grond met stink beesmis sodat die saadjies soos Jan se boontjierank opskiet.

Wanneer hét Gary my laas in die oë gekyk? My op die boud gewiks wanneer hy binne die beskerming van die vier mure van sy huis by my verbyloop? Of my nag gesoen? Wanneer laas wou hy my met ’n verterende passie hê?

“Miskien kan Sally Smith vir my probeer uitvind waarmee Gary hom besig hou as hy nie by my is nie,” voer ek Pulani se plannetjies ’n bietjie verder.

“Miskien kan Sally Smith ’n bietjie met Gary flirt,” stel Pulani voor.

Sien, die duiwel kom in baie gedaantes. Ek begin van daardie voorstel hou.

Sally Smith se Facebook-blad lyk heel anders toe ons daarop ingaan. Dit het lewe gekry. Die meeste van haar friend requests is aanvaar en dit wemel van die bood­skappies. Maar ons, of altans Sally Smith, het vrede daarmee. Sy stel net belang in ene Gary van Heerden, of hý haar as ’n vriend aanvaar het. Ek sien sy naam en profielfoto dadelik raak. Daar is hy! Die bliksem! Gary van Heerden, my flippen verloofde, is een van Sally Smith se nuwe vriende.

“Maar dis dan presies wat ons wou hê,” herinner Pulani my. “Let the games begin!”

“Hy kon haar ten minste net eers gegoogle het, seker gemaak het sy is aboveboard voordat hy haar friend request aanvaar het.”

“Dit sou hom nie veel gehelp het nie. Want sy bestaan nie.”

“Hy kan mos sien sy is ’n regte klein tert en hy’s tog ’n verloofde man.”

“Jy weet ek vertrou Gary nie naby ’n wyfiespinnekop nie, maar ’n Facebook friend kan nie veel skade doen terwyl hy of sy in die kuberruim bly dwaal nie,” herinner Pulani my. “Dalk wou hy maar net nice wees.”

“Gary is nie juis bekend vir sy niceness nie.”

“True. Maar jy onthou nog dat Sally Smith net in ons verbeelding bestaan, nè? Hoekom is jy so kwaad?”

“Omdat sy ook in Gary se verbeelding bestaan.” Dit voel vir my of ’n kooltjie vuur in my maag beland het.

Vergete is die oorspronklike plan om Gary se skryfkuns te kritiseer. Sally Smith, as kuberslet, kan ’n baie kragtiger wapen wees. Ek hoor alarms in my kop afgaan, maar ek steur my nie daaraan nie. Ek los dadelik namens die sexy Sally vir Gary ’n boodskap: Aangename kennis, Gary. Ek is een van jou grootste fans. Jou boek het my siel aangespreek.

“Nice!” sê Pulani. “Dit behoort hom aan die gang te sit.”

Ek skrik my dinges af toe Gary dadelik antwoord. Waar hy is, weet ek nie, net dat dit nie in ’n meeting is nie. Gary is nie die tipe wat in ’n meeting sal sit en Facebook nie.

My oë slurp behoorlik die woorde op wat hy vir Sally Smith stuur: Ek is bly jy het my boek geniet. Altyd lekker om ’n bewonderaar te ontmoet. Dis nie almal wat die simboliek in Reënboogtoebroodjies vir ’n piekniekmandjie verstaan en waardeer nie.

Sally antwoord ook dadelik, net so on the ball soos hy. Nie almal verstaan postmodernistiese skryfwerk nie, waag sy om te sê.

Die boek is eerder post-postmodernisties, word sy summier deur Gary reggehelp.

“Dis moer exciting,” sê Pulani toe die gesprek tussen Gary en Sally Smith begin spoed optel. Daar word alte lekker oor en weer geflirt. Harry kyk ’n slag of wat op toe ons so giggel, maar verder stel hy gelukkig nie belang nie. Droom seker nog oor die gelukkie wat die oggend in sy skoot geval het.

My gewete pla my effens. Ek weet wat die regte ding is om te doen. Ek moet Sally Smith summier nek omdraai. Hier en nou, voordat dinge handuit ruk. Ons het ’n monster geskep, ek en Pulani, ’n monster wat haar skepper kan vernietig. Vra maar vir Frankenstein. Laat hy jou vertel wat gebeur wanneer ’n mens infoeter waar engele dit nie eens sal waag nie. Ek moet die monster met ’n moerske knal in die kuberruim laat ontplof sodat sy nooit weer met my verloofde sal lol nie.

Maar ek weet ook ek gaan dit nie doen nie . . .

Sushi en sjampanje

Подняться наверх