Читать книгу Sushi en sjampanje - Kristel Loots - Страница 4

2

Оглавление

Ek sou nooit kon raai hoeveel ek by Sally Smith sou leer nie. Sou ook nooit kon raai hoe pittig die freaking Gary kan wees nie. Hoe loslippig, sjarmant en verleidelik. Hier by die tweede, derde dag al vergeet hy én Sally Smith heeltemal om oor die boek te gesels.

Gou-gou slaan hulle oor na die chat-opsie sodat elke jaap en sy maat wat op Facebook is nie kan lees wat hulle vir mekaar skryf nie. Vir haar vertel Gary grappies wat my ook aan die lag kry. Selfs Pulani glimlag as ek dit vir haar vertel.

“Wie is dit dié?” vra sy wat ek ook wil weet. “En wat het geword van die Gary wat hier tussen ons rondloop met sy onderstebo gesig?”

Ek sal nie sê dis ’n onderstebo gesig nie, maar dis beslis een van graniet. Kyk, Gary was nog altyd geslote, maar nou het hy ’n masker vir elke geleentheid. Selfs wanneer ons twee alleen by die huis is. Dis asof hy skielik nice is met my. Soos teenoor iemand vir wie jy jammer is. Patronising. Tog vreemd wat ’n skuldige gewete aan ’n man kan doen. Nie dat dit dikwels nodig is vir hom om nice te wees nie, want ons sien mekaar skaars. Hy kyk skaars die seweuur-nuus voordat hy kamer toe gaan. Sý kamer.

“Dit was ’n lang dag,” is sy verskoning gewoonlik.

Izzit? Asof my dag nie net so lank was nie. Bull! Dis wat hy praat. BS in gekonsentreerde formaat. Ek weet wat hy doen. Agter daardie toe slaapkamerdeur sit hy en perv oor Sally-flippen-Smith, sit hy heel moontlik en hoop sy moet dieselfde tyd op Facebook wees sodat hulle slim en soet woordjies kan wissel.

Ek los hom om te stoom in sy eie skelmstreke. Ek slaan nie my laptop of my BlackBerry oop vir sy daaglikse Sally Smith-kwota nie. Laat hom suffer, laat hom wonder waar Sally is, wat sy doen wanneer hy haar nie op Facebook kan opspoor nie. Of sy nie dalk ’n kêrel het wat hom met sy linkerhand kan vloer toe stuur nie.

Die gevaarligte flikker asof daar iewers by Eskom ’n moerske kortsluiting is. Dinge ruk handuit. Miskien is dit tyd om Sally Smith onder ’n bus te laat beland. Of voor die preekstoel. Met ’n wonderlike man aan haar sy, een wat Gary met ’n knal terug aarde toe sal bring, vir hom met sy brilletjie en sy klein skoentjies.

Ek is self nie ’n oil painting nie. Nou nie so lelik dat jy kinders met my sal bang maak as hulle nie meer vir die bogeyman skrik nie, maar nie so mooi soos my ma se ander kinders nie. Heel anders. Ek én my oudste broer eintlik. Weglê-eiers, dis wat my ma ons soms noem. Een van die baie simpel grappies wat sy maak wanneer sy daarop uit is om my te embarrass. My vreemde kleur hare en die paar sproete op my gesig en boarms kon gerus maar gebly het toe sproete uitgedeel is. Darem nie soos iets wat buite vergeet is en behoorlik geroes het nie. My hare is nie vloekrooi soos die hare van ’n volbloed helle­veeg nie, maar iewers in my voorsate was daar seker ’n bietjie Ierse bloed. Genoeg om met my boerebloed te meng dat ek net so langsaan mooi is. Close, but no cigar. Goed genoeg vir Gary, het ek nog altyd gedink. Mooi genoeg ook.

Miskien is dit tyd dat Gary besef hy speel nie in Sally Smith se liga nie. Sally Smith is sexy genoeg vir die A-span en hy wat Gary is, is nie eens ’n reserwe nie. Dalk sal hy dan weer tevrede wees met Jacki de Wet, sy vale­rige verloofde, ’n vrou van vlees en bloed wat nie lyk soos iets uit die buitenste ruimte wat die geheim van ewige jeug en skoonheid ontdek het nie. ’n Vrou wat volgens alle logika van ’n ertjiekorrel per dag moet leef om daardie uurglasfiguur te behou.

Daar is ’n bitterheid in my bek waarvan ek nie ontslae kan raak nie. Wys jou! Be careful what you wish for. Gary is deesdae elke aand by die huis. Agter sy toe kamerdeur! Ek hoef hom nie meer te stalk nie, want ek . . . of altans Sally Smith, weet nou meer van sy whereabouts en sy lewe as vantevore.

Dink jy nie dis tyd dat ons twee gaan koffie drink nie? wil Gary kort voor die naweek by Sally weet. Dit nogal op kantoor terwyl hy ’n meter of twee van my af sy onheile sit en pleeg. Hy wat so sterk daarteen gekant is om persoonlike sake in werksure af te handel. Skynheilige Fariseër. Ek wil opstaan en wegloop, sorg dat ek ’n ent van hom af kom voordat ek dalk oorleun en hom ’n klap agter die kop gee.

Dit hét ons nou daarvan om Sally konsuis in die Kaap te laat bly. Die een of ander tyd sou Gary haar in lewende lyf wou leer ken. Maar tog skok dit my toe hy dit voorstel, so erg dat ek ’n halfuur lank in die Dames gaan sit en tjank. Gelukkig is dit net ek en Pulani wat hier mag wees. Laat die baas maar wonder waarom ek so lank wegkruip. Of ek nie dalk naar is nie. Pregnant is nie. Dít sal sy vlerkies vir hom knip.

Jong, is jy single? wil Sally Smith by Gary weet voordat sy instem vir ’n koffiedrinkery. Want sy weet baie goed waarheen ’n koffiedrinkery kan lei.

Natuurlik is ek single, laat Gary weet.

Hy wat ’n ring aan my vinger gesteek en my laat verstaan het ons gaan trou en kinders kry.

En jy? wil hy by Sally Smith weet. Is jý single?

Alles hieraan is fake. Alles! Die een leuen op die ander en ek is net so skuldig soos Gary. Dis tog ek wat met die virtuele liegery begin het – wel, ek en Pulani. My vingers huiwer bo die toetsbord toe ek hom wil antwoord. Single? Sally Smith is single, ja. Maar ek nie, ek sit met ’n diamantring aan die vinger. Selfs al het Gary blykbaar daarvan vergeet. My ingebore goeie mens, die een wat nog die meeste van haar Sondagskool-versies kan opsê, sukkel om prontuit vir hom te lieg.

It’s complicated, tik ek toe maar.

Klink interessant, vorm Gary se vingers die woorde wat binne sekondes op my skerm beland, hier neffens my. Ek skrik nie vir complicated nie, ek ontrafel dit nog voor brekfis.

Hy klink so manlik, so lekker macho. Ek sou ook op hom verlief kon raak as ek hom só leer ken het.

Hoe klink Vrydagaand by The Orchid Room in Kampsbaai? wil hy weet. Ek sal vir ons plek bespreek.

Die Orchid Room? Die flippen Orchid Room waarheen ek maande lank al so graag wil gaan. Peperduur en feitlik onmoontlik om plek te kry. Hy wil haar sowaar soontoe neem.

Ek sal nie verbaas wees as daar vlamme bo my kop uitslaan nie.

Klink lekker, verseker die voorbarige Sally Smith hom. En wie kan haar kwalik neem? Watter girl in her right mind sal nie ’n uitnodiging na die Orchid Room in Kampsbaai aanvaar nie?

Wat is jou selnommer? vra Gary. Sodat ek jou kan bel as daar dalk iets voorval.

Soos wat? Soos sy verloofde wat dalk daarop aandring om saam te kom wanneer hy sy skelmpie ontmoet?

My verstand gaan in overdrive. Selfoonnommer? Ek onderbreek die heen en weer e-pos-gesprek vir eers. Hy kan maar dink wat hy wil, Sally sal later ’n verskoning uitdink waarom sy so skielik van lyn af moes gaan, sy’s vindingryk genoeg.

“Waddehel doen ek nou?” wil ek by Pulani weet toe ons etenstyd afstap ondertoe om ’n bietjie onder Gary se oë uit te kom.

“Nou gaan koop jy vir jou ’n cheap foon by Pep en laai die ding se battery sodat jy ’n nommer het wat hy kan gebruik. Jy kan tog nie jou eie nommer vir hom gee nie.”

“Het jy ’n kursus in verneukery geloop, dat jy so bekwaam is daarin?”

“My pa is sy lewe lank al ’n womanizer. Hy’t van lieg ’n nasionale sport gemaak. Ander girls se pa’s leer hulle motor bestuur, myne het my ander lewensvaardighede geleer.”

“Wat doen ek as Gary my bel? Hy sal mos my stem herken?”

“Jy antwoord nooit jou foon nie. Laat die blikstem hom antwoord en luister agterna na sy boodskappe.”

Dis eers toe al hierdie voorbereidings getref is, dat die realiteit my behoorlik tref. “Flip, Pulani! Besef jy wat hier aangaan? Sally Smith en Gary het ’n date vir Vrydagaand!” Ek gaan aan die giggel van pure senuwees. “Terwyl ek droëbek by die huis gaan sit.”

Ek voel soos Alice in Wonderland gone wrong. Die fantasie wat ek geskep het, begin my inhaal.

“Ek besef nou eers dat Gary ’n volbloed affair aanhet met die flerrie van ’n Sally,” verwoord ek die gedagtes wat soos dronkaards in ’n oorvol bus teen mekaar stamp. “Hoe nou gemaak?” En weer gaan ek aan die giggel, kort duskant histeries.

“Ek wens ek kan ’n vlieg teen die muur wees,” lag Pulani.

Vir haar is dit ’n groot grap. Maar nie vir my nie. Al giggel ek ook, is ek so depro jy kan ’n veldbrand met my blus. Waar is die Dear Abby-troostannies as ’n mens hulle die dag nodig het? Ek soek ’n regte outydse troostannie, nie een wat jou teen die kop gaan gooi met allerhande New Age-idees nie. Ek wil nie hoor die oplossing vir die probleem lê in myself nie, ek wil nie hoor ek moet my sokkies optrek, my maag intrek en myself wees nie. Ek soek troos, nie kritiek nie.

En ek kry dit ook nie by Pulani nie. “Get real, Jacki,” vermaan sy. “Die man is ’n paloeka. Don’t get mad, get even. Skop hom onder sy gat en kry klaar. Good riddance to bad rubbish, dis wat ek sê.”

Dis maklik vir haar om te praat, háár telefoonnommer is in ’n horde swartboekies geskryf of op die selfoon gelaai. Sy kan kies en keur tussen die mansmense met hul blinkswart Mercs wat toustaan. As dit nie by ’n politieke rally is nie, is dit by een van daardie plekke waar sushi van kaal vrouelywe af geëet en met peperduur sjampanje afgesluk word.

Ek weet nie hoe ek dit gaan handle nie. Ek weet net ek wil daar wees wanneer Gary vir Sally die eerste keer in die Orchid Room ontmoet. Ek wil sy gesig sien!

“Ek moet laatmiddag deurry Franschhoek toe om iemand vir werk te ontmoet,” kondig Gary daardie Vrydagmiddag aan sonder om my in die oë te kyk. Hy mompel so, ek kan skaars hoor wat hy sê. Maar dit maak nie saak nie, hy praat in elk geval gibberish. Vir my kom vertel hy gaan iemand vir werk ontmoet. Ja, sure, en die maan is van soetmelkkaas en ek is die een wat daarvan ’n toebroodjie gaan maak. Franschhoek nogal. Daar waar al die inwoners soos hul peperduur Pekinese poedels lyk en met net sulke lang pedigrees spog. Gary liég selfs snobisties wanneer hy die slag oor Sally Smith lieg.

“O, dis lekker. Ek ry sommer saam.”

“Saamry?” Gary se stem versplinter toe hy die vraag vra.

“Ja. Vir ’n joyride. Dit sal ’n lekker drive wees.”

Ek sien hoe hy verbleek. Wat het hy miskien gedink? Dat ek dit vir hom gaan maklik maak om my te verneuk?

“Ek gaan iemand ontmoet oor . . . e . . . oor boeke, jy weet?”

“Ek weet, Gary, natuurlik weet ek.” My stem is so vriendelik soos mevrou-dominee s’n. “Dis tog waaroor ons hele bedryf gaan. Boeke.”

“Ja. Ek wil . . . e . . . ons wil dalk . . .” Gary sug. “Dalk kan ons uitbrei soontoe, dalk ’n tak daar oopmaak.”

“Dis ’n wonderlike idee. Ek sal graag wil by wees tydens die bespreking. Dalk kan ek selfs daaraan deelneem.”

Teen hierdie tyd het Gary asemnood. Hy pluk sy das af, knoop sy hemp oop en neem ’n slukkie water uit die kraffie op sy lessenaar. Die water kan nie baie lekker wees nie, hierdie tyd van die middag het al die ysblokkies ure gelede al gesmelt, maar hy sluk dit asof dit nektar van die gode is.

Wat gaan ek doen as die man ’n hartaanval van pure benoudheid kry? Skuldig voel? I don’t think so!

“Miskien ’n volgende keer,” antwoord hy lamlendig. “As ek nie so haastig is nie.”

“Ek is reg om te ry,” verseker ek hom.

“Dis . . . nie nodig nie.”

“Ek weet, maar ek gee glad nie om om jou geselskap te hou nie. Miskien kan ons sommer ietsie daar eet wanneer julle klaar gesels het.”

“Ek is nie seker hoe laat ek . . . ons gaan klaarmaak nie.”

Ek bly vriendelik. Inskiklik. “Moenie worry nie, Gary. Ek gee glad nie om om vir jou te wag nie.” Ek kan ook nice wees as dit die dag nodig is.

Hoe lank wil ek nog met die charade volhou? Wat probeer ek doen? Dalk tog vir Gary van Sally af weghou. Sodat hy hom sal bedink.

“Nou goed dan,” gee Gary bes. “Wag vir my hier. Ek kry jou hier. Ek gaan net gou . . . ek moet net gou . . .” Hy is bloedrooi in die gesig. “Ek is nou-nou hier.”

Hy gryp na sy sleutels soos na ’n reddingstou.

“Ek stap sommer saam . . .”

Maar hy is te vinnig vir my. Voordat ek behoorlik uit my stoel is, is hy al teen die trappe af. Teen ’n spoed wat die hysbak nie sou kon inhaal nie.

Ek weet nie watter verskoning Gary later vir my gaan opdis nie, ek weet net hy hardloop van my af weg met ’n spoed wat hy seker in sy hoërskooljare laas kon volhou.

Gelukkig het ek vanoggend met my eie motor gery en kan ek dadelik huis toe gaan om Sally Smith in die oë te kyk.

Sally Smith sal vanaand by die Orchid Room móét opdaag, besef ek. So kan dit nie aangaan nie. Ek loop nou al weke lank op ’n balanseertou sonder ’n veiligheidsnet.

“Sien jy nou?” vryf Pulani na hartelus sout in my wonde. “Wat het ek jou gesê? Julle is nog nie eens getroud nie en die blikskottel is klaar verveeld met jou.”

“Miskien is dit my eie skuld omdat ek so ordentlik is.”

“Wat moes jy doen? In jou nightie deur brandende hoepels spring om hom te entertain?”

“Sally Smith sou nie huiwer om dit te doen nie.”

“Wel, dan moet hy vir hom ’n Sally Smith van vlees en bloed gaan soek, Jacki. As dit is wat hy wil hê. Want jy is nie ’n Sally Smith nie. Dis maklik om ’n virtuele vrou van losse sedes te wees, maar dis gevaarliker om dit in die werklike lewe te wees.”

“En meer moeite.” Ek sug. “Sally Smith sal vanaand nog geëlimineer moet word. Op die wreedste moontlike manier. Sy het haar doel gedien.”

“Ten minste sal dit ’n bloedlose dood wees,” troos Pulani.

“Die enigste bloed wat vergiet sal word, sal O-positief wees.”

“Laat my raai – Gary se bloedgroep?”

“Korrek.” Ek is te kwaad om te huil, maar ek vermoed dit gaan nie so bly nie.

Ek bly nie ’n oomblik langer op kantoor nie. Die baas sal nie weer sy gesig wys nie, ook nie sy selfoon antwoord nie. Ek sal hom eers weer vanaand in die Orchid Room sien, daar waar hy op sy Sallytjie wag. En wat ’n ontmoeting sal dit nie wees nie!

Wat trek ’n mens aan as jy jou verloofde se skelmpie is? wonder ek toe ek voor my klerekas staan. Gedink Google het ’n antwoord vir alles? Dink weer. Ek kry nêrens op die wêreldwye web iemand wat raad het oor wat die protokol in so ’n geval is nie. Daar is baie raad oor wat om te dra wanneer jy daardie skelmpie gaan konfronteer en hoe om dit te doen sodat sy daarna in ’n klooster sal gaan skuil. Maar sake raak meer ingewikkeld as jy sélf daardie skelmpie is en dus in kompetisie met jouself gewikkel is. Selfs die wyse Salomo sou hier kopgekrap het.

Moet die skelmpie slegter as jy lyk sodat die blik-skottel kan besef dis nie so ’n goeie idee om jou vir ’n ander vrou te verruil nie? Of baie beter as jou gewone self sodat hy kan sien hoe goed jy kán lyk? Ek beleef ’n behoorlike eksistensiële krisis en ek het dit self geskep.

Na vele oorweging besluit ek op ’n little black number wat Gary nog nie gesien het nie. Vir die vorige einde-van-die-jaar-kantoorpartytjie gekoop, gedink ek gaan sy asem wegslaan. Behalwe dat die suinige dwis toe besluit het ons hou sommer ’n braai by sy huis.

“Kerspartytjies is so overrated,” het hy in die morning meeting sy storie vir die waarheid probeer verkoop. “Kom ons vier die einde van die jaar rustig by my huis. Ek en Harry sal die vleis braai en Jacki kan vir ons slaai maak.”

“En ek?” het Pulani gevra. “Gaan ek die houtkapper en waterdraer wees?”

Gary het hom nie laat afsit nie. “Jy kan . . . Wat kán jy doen?”

“Die skottelgoed was as almal klaar geëet het.” Pulani se stem het direk uit ’n vrieskas gekom.

“Dit sal nie nodig wees nie. Ons gebruik sommer papierborde,” het Gary onverstoord laat hoor. “Maar jy kan dalk vir ons roomys of iets vir nagereg bring. Koop sommer iets by Woolies, dan weet ons dis eetbaar.”

Pulani se mond het oopgehang. Myne ook. Nie net het Gary vir ons ’n cheapie gegooi nie, ons sou blykbaar uit eie sak ’n bydrae moes maak.

Ek wou die swart nommertjie dieselfde dag nog gaan teruggee. Maar ek het bly hoop daar sal ’n geleentheid opduik waarheen ek dit kan aantrek. En kyk nou net – die hoop het nie beskaam nie. Ek kry vanaand die kans om Gary daarmee te beïndruk. As Sally Smith. Aanpasbaarheid en om buite die boks te dink is inderdaad ’n vereiste as ’n mens opgang wil maak in vandag se korporatiewe en sosiale lewe.

Dit ís nogal ’n outfit wat eerder by iemand soos Sally Smith pas as by my. Ek is mos so half en half ’n ordentlike meisie. Sy nie. Maar vanaand wil my boobs bo by die rok uit ontsnap en onder by die soom langs loer my knieë ewe guitig uit. Ek trek die rok effens af, maar moet toe bo keer dat die girls hulle gedra. Daar is vanaand ’n ongekende wildewragtigse gebons aan hulle wat nie deur ’n bra van yster en staal in toom gehou sou kon word nie. So saam met effens slordige hare, ’n skelrooi mond en ’n paar goue beenbreek-stiletto’s aan die voete, moet ek self twee keer kyk voordat ek die flerrie in die spieël herken.

Toe ek by die voordeur kom, wil my knieë onder my knak. Nee, o hel, só kan ek nie hier uitstap nie, ek maak ’n spektakel van myself. Ek kyk op die muurhorlosie. Te laat. Dis te laat om ’n ander outfit te gaan aantrek, ek moet ry as ek betyds by die Orchid Room wil wees.

Onder in die straat stap ek verby ’n bergie op pad na my motor toe. Of dit die parfuumwalm is wat hom van sy laaste flentertjie nugterheid ontneem, of my voorkoms oor die algemeen, weet ek nie, maar hy steek in sy spore vas om my aan te staar. “So dydelik soos die engel Gabriël,” prewel hy.

Ek is seker sy storie oor die engel Gabriël is nie die­selfde as wat ek ken nie, maar ek talm nie om met hom daaroor te redekawel nie. Ek sukkel om só agter die stuurwiel in te skuif dat daar nie te veel van my te dydelik sal wees nie.

Tot my ergernis is niemand vanaand by hul huis nie, niemand kyk nuus en sepies nie. Nee, driekwart van die stad se inwoners is blykbaar ook op pad in die rigting van Kampsbaai. Ek kronkel saam met die res van die Kaap op die nou paadjie wat na die plesierplekke langs die see lei. Toe ek na ’n klein ewigheid my mindere motortjie tussen die blink menere in die Orchid Room se parkeerplek tot stilstand bring, staan Gary se Bee-em al daar. Heel moontlik vanmiddag gespoeg en gepolish en seker nog gevalet ook. Daar sal geen teken van sy verloofde in daardie motor wees nie. Nie ’n geurtjie nie, nie ’n haarknippie of ’n snesie nie.

Dis toe ek uitklim en alleen in die parkeergarage staan, dat die onsekerheid my pak. Ek luister na daardie stilte wat ’n mens in ’n parkeergarage kry. ’n Kilkoue seewindjie kom van iewers af ingedwarrel en lig my rok hoër teen my bene op. Ek swaai om, seker daarvan ek het iemand hoor asemhaal. Hier naby, hier bý my. Ek wil skree, maak my asem bymekaar daarvoor. Maar besef toe betyds dis ekself wat so hortend asemhaal, banggat wat ek is.

Ag, ek wens ek was nie so alleen nie, dat Gary hier by my was en nie daar binne gesit en wag het op sy Facebook-flerrie nie. Of Pulani. Pulani kon saamgekom het as sy nie so ’n hot date vir vanaand gehad het nie. Miskien moes ek een van my broers saamgebring het, dalk vir Hendrikkie. Hendrikkie! Simpel naam vir ’n mansmens wat so lank soos ’n telefoonpaal is. Ma se nonsens, Ma wat dit nie oor haar hart kan kry om van sy troetelnaampie afskeid te neem nie. Haar ou witbroodjie, he can do no harm.

Maar vanaand sou ek wou hê hy moes sy vuiste gebruik. “Donner hom, Hendrikkie,” sou ek gevra het. “Hy verneuk jou suster met ’n blonde!” Ons kon ’n lekker ou brawl gehad het, ’n behoorlike scene gemaak het in die Orchid Room, daar waar almal glo met gedempte stemme praat en die musiek sag en strelend op die agtergrond speel. Daar waar die kos in klein porsies bedien word, mooi klein porsies, nie juis vir eet nie, eerder vir kyk en waardeer. Die sushi is glo van die beste, lyk soos presentjies. Sjarmante langsteelglase met sjampanje uit die beste bottels. As Hendrikkie by my was, sou hulle ons uitgejaag het, ek weet, so beskaaf moontlik gevra het dat ons die perseel moet verlaat. En nooit weer ons gesigte tussen die mooi opgevoede mense moet wys nie.

Tot dusver het my woede my gevoed, maar nou is ek bang vir die donker om my en nog banger vir die sagte ligte van die Orchid Room voor my. Waarvoor wag ek nou eintlik? Vir die werklike lewe om in ’n sprokie te verander?

“It’s not gonna happen, Jacki, my dear!” spreek ek myself streng aan. My stem eggo tussen die geparkeerde motors deur. O gorrelgat, ek raak net so cuckoo soos my ma. Ek haal ’n slag diep asem voordat ek nader stap. In die stilte klink my voetstappe soos dié van ’n wyfie-olifant in ’n paar stiletto’s wat nie behoorlik pas nie.

Die maître d’ staan dadelik nader toe ek by die deur instap. “Good evening, welcome to The Orchid Room.” Deftig. Nes ek daarvan gedroom het. Behalwe natuurlik dat ek in my droom nie alleen hier gestaan het nie, veral nie met bewende bene en my aandsakkie styf onder my arm vasgeknyp nie.

My oë beweeg oor die restaurant. Waar ís hy? Waar ís die bliksem? Die maître d’ wil weet of hy my kan help, of ek na iemand op soek is, of ek bespreek het. Sy stem sag soos fluweel, maar die uitdrukking op sy gesig nie meer heeltemal so verwelkomend nie. Wat het hy hier? ’n Vrou van die nag? Sy met haar swart mini en die verlore uitdrukking op die gesig? High-class genoeg as hy mooi na my Jimmy Choos sou kyk en my Franse parfuum sou ruik, maar nogtans nie noodwendig welkom hier tussen die A-lys-gaste nie.

Ek dwing my oë terug na hom toe. Jeffrey Burgess, lees ek op die kopernaamplaatjie teen sy bors.

Yes. Ja. Nee, hy hoef nie te worry nie. Ek . . . daar ís plek vir my. Bespreek, ja. Onder wie se naam? Onder

. . . wel, seker onder Gary se naam? Van Heerden, ja, dis reg. Gary van Heerden, sy ma is Afrikaans, you know?

Die arme Jeffrey Burgess kyk my aan asof ek ’n taal praat wat nog nie voorheen hier in Suid-Afrika gehoor is nie. Maar Gary se naam maak darem vir my die deur oop. “Ah! Miss Sally Smith, I believe.”

So, ek het eintlik nie gelieg nie. Daar ís plek vir my bespreek, vir my, Sally Smith, Gary van Heerden se skelmpie.

“Mister van Heerden asked me to look out for you. Please come with me.”

Maar ek wil nie soos ’n mak lammetjie agter die maître d’ aanstap tot by Gary nie. Ek wil soos ’n leeu daar aankom, hom tref soos ’n onverwagte weerligstraal, gevolg deur ’n donderslag.

“Nee, nee,” keer ek. “Wys net vir my waar hy sit. Ek wil hom verras.” Ek weet ek is veronderstel om Engels te praat, maar dis asof ek nie aan ’n enkele Engelse woord kan dink nie.

Jeffrey Burgess glimlag, hy wys tande, gelerige tande, maar die res van sy gesig glimlag nie saam nie. “Just around the corner to your left,” beduie hy strammerig.

My voete sak weg in die sagte mat toe ek hoek toe stap. Ek loer om die hoek. Daar sít hy! Daar sit die bliksem in sy pak klere wat hy iewers na werk moes gaan aantrek het. Uitgevat soos die kapokhaantjie wat hy is, die das wat sy ma verlede Kersfees vir hom gegee het om die nek. ’n Aaklige das met patrone op wat soos vlermuise lyk, sulke flapperige ontwerpe. Toe sien ek die orgidee, ’n pragtige, perfekte pers orgidee wat langs Gary op die tafel lê. Die hele Orchid Room is vol orgideë, maar die een wat hy hier ingedra het, is selfs meer eksoties as dié in die blompotte op die tafels.

Nice touch! So romanties! Om Sally Smith met ’n orgidee in te wag.

Die jaloesie wil-wil my verswelg, die hartseer en die woede. ’n Eksotiese blom vir die blonde ding wat hy in sy gedagtes opgetower het, die skelmpie wat hy vanaand hier ontmoet. Terwyl hy nie eens vir Valentynsdag vir my ’n blom gekoop het nie. Nie eens ’n plastiekroos nie!

“Dis ’n rip-off, Jack. Jy betaal meer vir ’n enkele blom as normaalweg vir ’n hele bos.” Asof hy sal weet hoeveel ’n bos blomme kos. Asof hy ooit vir my ’n bos blomme koop.

“Natuurlik is dit ’n rip-off,” het ek hom probeer opvoed oor die betekenis van Valentynsdag. “Dis juis die idee – dat jy soveel vir jou geliefde omgee dat jy vir haar ’n blom koop op ’n dag wat dit jou ’n ekstra paar rand kos.”

“Ons is te oud vir sulke twak,” was sy verweer.

Nie te oud nie, wou ek vir hom sê, net te koud.

En hier sít hy nou. Gary van Heerden, my flippen verloofde wat vir ’n ander meisie kan uithaal en wys, maar nie vir my nie. Miskien moet ek net omdraai en uitloop. Huis toe gaan. Voordat hy my sien. Voordat hy weet wat aangaan. Sally Smith se selfoon gaan afskakel en iewers diep wegsteek en hom by die huis gaan inwag met ’n glimlag op my gesig en nie veel meer aan my lyf nie. Hy sal troos nodig hê, die arme ding, die versekering dat daar darem nog iemand is wat hom wil hê. Selfs al het die wonderlike Facebook-flerrie nie vir hom kans gesien nie. Dalk, so sal hy dink, het sy hom deur die venster gesien en besluit hy is niks om oor opgewonde te raak nie. Te kort. Te vaal. Dit sal hom aarde toe bring, die verwaande klein miskruier!

Iemand kug agter my. Jeffrey, die maître d’ wat nie die vrede vertrou nie. Iets sê vir hom alles is nie kosjer hier nie. Ek kan nie vorentoe nie en ek kan nie agtertoe nie. Ek strompel vorentoe, nog steeds met die grasie van ’n wyfie-olifant in Jimmy Choos. En bekruip Gary skuins van agter.

“Haai, Gary, hoe’s dinge?” vra ek toe ek by hom kom.

Gary word nie wit nie, hy raak deurskynend. Soos ’n bloedlose insek, as ’n mens so iets kry. “Jacki?” vra hy. Letterlik asof hy ’n spook sien, nie sy verloofde in ’n sexy swart nommertjie nie.

“In lewende lywe, ja.”

Hy lig hom effens uit die stoel. “Wat? Hoekom is jy hier?”

“Kom ons vra eerder hoekom is jý hier?”

“Ek . . . het jou mos gesê ek moet iemand ontmoet.” Ek sien hoe Gary oor my skouer kyk. Seker bang Sally Smith daag hier op en betrap my by hom.

“In Franschhoek, ja, ek onthou.”

“Franschhoek? Ja. Ja, dis reg. Maar . . . ons planne het verander.”

Ek verstom my daaraan dat Gary so maklik op sy voete kan dink. Hoeveel keer het hy dalk al vir my gelieg? En ek, arme naïewe, liggelowige ou Jacki de Wet, slurp alles op.

Gary gluur my aan. “Ek verstaan nog nie hoe jy geweet het waar om my te kry nie, maar jy sal my moet verskoon. Ek het ’n belangrike afspraak.” Hy wag sowaar vir my om te loop, verwag van my om mooi soet huis toe te gaan en daar vir hom te wag!

Ek pluk die stoel oorkant hom uit en gaan sit met ’n plofgeluid lomp daarin, nog steeds die ene oorgewig wyfie-olifant. Wat ek nie is nie. Ek is skraal genoeg, gesofistikeerd genoeg as ek die dag hard genoeg probeer. Dis hý – dis hierdie man, hierdie . . . hierdie bliksem wat my reduseer tot ’n vrou sonder enige grasie of sofistikasie, dis hy wat my so onwelkom laat voel soos ’n virus wat op iemand se rekenaar beland het.

“Ek weet alles van Sally Smith af, Gary,” gooi ek hom met ’n klip teen die kop.

“Sally Smith?” Hy sluk. “Van wie praat jy?”

“Van jou skelmpie, Gary.”

Hierdie keer word hy rooi in die gesig. “Ek weet nie wie vir jou allerhande stories aangedra het nie, Jacki. Maar jy weet nie waarvan jy praat nie.”

“O nie? Ook nie van die gedig wat jy vir Sally Smith geskryf het nie?” Ek probeer onthou wat hy geskryf het. “ ’n Sneeustorm van verwondering oorspoel my, oor jou, virtuele vrou wat ek in my hart hou. So iets.”

Dis ’n simpele gedig sonder enige meriete. Maar ek was jaloers toe ek dit lees. Jaloers op Sally Smith wat Gary sover kon kry om dit vir haar te skryf. Ek kyk hom uitdagend aan. Iewers in daardie verwaande brein van hom moet dit registreer dat ek meer weet van die intieme gesprekkies tussen hom en Sally Smith as wat hy sou raai.

Die kelner staan nader om ons bestelling te neem, maar Gary waai hom weg. Maklik vir hom om dit te doen, hy sit met ’n drankie in die hand. Dis ek wat droëbek bly sit. The story of my flippen life! Eintlik kan ek doen met iets om my senuwees te kalmeer. Iets taamlik drasties soos ’n papsak bakleiwyn vir die pyn.

Gary is self aan die sweet. “Wat gaan hier aan, Jacki? Wat het jy nou weer gaan staan en aanvang?”

“Aanvang? Wie? Ek?”

“Ja, jy. Of jy en hierdie Sally Smith saam? Waar kom jy aan haar? Ken julle mekaar? Het julle gekonkel? Wat het jy vir haar gesê dat sy nie vanaand vir ons vergadering opgedaag het nie? Ek sit al hoe lank hier vir haar en wag.”

“Vergadering?” Ek lag. Hard en lelik. “Gary, jy het die vermoë om die lelikste ding met die mooiste naam te verbloem. Jy probeer nog steeds ’n professionele klan-kie gee aan hierdie skelm ontmoeting van jou en SSSally SSSmith. Wat jy en SSSally SSSmith gehad het, was ’n date, ’n blind date, ’n ships-that-pass-in-the-night date, ’n one-night-stand date heel moontlik, ’n roll in the hay, nie ’n afspraak of vergadering wat enigsins met werk verband hou nie.” Ek het geen beheer oor die sarkasme wat my spraak kleur nie.

Dit raak stil om ons. Selfs die gedempte stemme waarmee mense in The Orchid Room praat, vervaag. Ek maak amok, óns maak amok. Ek wil nie, maar daar is ’n vrou in my vel wat haar nie wil laat stilmaak nie. Ek leun vorentoe om Gary behoorlik in die oë te kyk, maar ek kry dit nie reg nie. Want sy oë dwaal van my gesig af weg, ondertoe, na waar my cleavage wys, behoorlik wys omdat ek vergeet het van my rok se onvermoë om alles te bedek wat bedek moet bly.

Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. If all else fails, show a little cleavage. Ek pluk die swart rokkie se halslyn op tot teen my ken. “Hier, Gary,” berispe ek hom en druk my gesig feitlik teen syne, “hier is my gesig, hier bo. Kyk my in die oë.”

Ek wag totdat hy dit regkry. “Ek het jou gesê, Gary, ek weet van Sally Smith, ek weet álles van Sally Smith af.” Ek leun nog verder vorentoe, so ver dat ons neuse aan mekaar raak. “Ek ís Sally Smith, jou moroon!”

Nou weet Gary al dat daar gekonkel is, maar dít het hy blykbaar nie verwag nie.

“Maar . . . maar Sally Smith is blond.”

“Nee, sy is nie. Sy dink ook nie regtig jy is so hot nie en sy lag ook nie regtig altyd vir jou simpel grappies nie. Die meeste daarvan het sy in elk geval al op Facebook gelees. Maande gelede al toe dit nog nuut was.”

Dis asof Gary nog nie kan glo wat hy hoor nie.

“Wag.” Ek hou my hand in die lug. “Wag, ek vertel jou gou die een wat jy gisteraand vir Sally gestuur het.” Ek is nie juis in ’n bui vir grappies vertel nie, maar ek druk deur. “ ’n Goeie feetjie tik ’n bekende politikus, who shall remain nameless, met ’n towerstaffie op die kop en sê: ‘Nou het jy vlerke.’ Hy kyk. Sowaar, hy het vlerke. ‘Is ek nou ’n engel?’ vra hy. ‘Don’t push your luck,’ sê die feetjie. ‘Jy’s ’n brommer.’”

Gary se mond is oop. Hy onthou seker dat Sally Smith dit vreeslik snaaks gevind het. Vir ’n oomblik wil ek hom amper jammer kry, maar dan gaan die gevoel weer verby.

“Ek gaan nou huis toe,” sis ek. “Na jou huis toe om my goed te pak. Ek wil jou nie vanaand daar sien nie.”

“Nou waar moet ek dan gaan slaap?”

“Ek gee nie om nie, miskien kan jy by Sally Smith gaan inkruip.” Ek stoot my stoel agteruit en gryp my aandsakkie. “Ek sal môre uit jou huis wees, sak en pak.”

“Wag nou, Jacki, moenie oorreageer nie.”

Ek sien rooi voor my, maar nie net rooi nie, nog ’n klomp ander onrustige kleure. Vir my kom staan en vertel om nie te oorreageer nie! Hy wéét nie wat oor-reageer is nie, hy weet nie hoe gelukkig hy is dat ek hom nie voor getuies verskeur nie. “En hiermee gee ek ook sommer kennis by die bleddie Boekhoek ook. Ek werk nie ’n dag langer vir jou nie.”

Voordat ek uitstorm, oorweeg ek wel om die laaste bietjie van Gary se drankie in sy gesig te gooi soos die girls in die movies maak. Of om die tafel om te keer sodat die gedekte messe en vurke op die vloer val, die kleinbordjies aan stukke spat. Iets lekker dramaties sodat daar van my gewéét kan word, van my en van my verloofde wat my verneuk het. Met ’n skim wat nie regtig bestaan nie!

Maar ek is te chicken daarvoor. Te ordentlik. Dis nie hoe my ma ons grootgemaak het nie. Ou Jacki’tjie, die naïewe meisietjie wat nie eens ’n entrance kon maak nie, wat nog te sê ’n exit wat respek sal afdwing. Al wat ek doen, is om die orgidee op te raap. Ek wil die blom breek, uitmekaar skeur en die pers kroonblare op Gary se kop uitskud. Maar ek kry dit nie reg nie – die orgidee is te mooi daarvoor. Toe ek verby die hoogs bekommerde maître d’ gestap kom wat in die omgewing bly rondhang het, prop ek dit in sy hande. Hy moet maar besluit wat om daarmee te doen.

Ek huil al die pad kar toe, maar nie baie hard nie. Soms is die seerkry in ’n mens so groot dat jy skaars ’n geluid kan maak. Ek rem aan my verloofring, probeer die ding afkry, maar slaag nie daarin nie. Ek sal my vinger moet gaan seep smeer, hoe gouer hoe beter. Want skielik voel dit vir my of my verloofring ’n gat dwarsdeur my vinger brand.

Sushi en sjampanje

Подняться наверх