Читать книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots - Страница 3
1
ОглавлениеFunky! Frieken funky! Wys jou – die regte outfit kan van ’n mot met verflenterde vlerke ’n stunning skoenlapper maak. As ’n girl lyk soos ek vanoggend lyk, eet jy nie ontbyt nie. Dit pas nie by die image nie en daar is ook nie tyd vir dit nie. Baie mense leef op lug en liefde en dit lyk nie asof dit hulle pla nie. Ek het nou wel nie die liefde nie, maar die lug is vars en verniet.
Ek voel nogal on top of the world vanoggend, ek met my geblomde leggings wat my sexy bene, lank soos dié van ’n volstruis, beklemtoon. In-your-face beklemtoon. By ’n miniromp met ’n geskiedenis en ’n top wat tartend ’n stukkie cleavage wys. Dressed to kill. Getittewyt tot in my tone met die donkerpers naels.
Ek’s laat. Ek’s altyd laat, of ek nou die vorige aand saam met die hoenders gaan slaap het en of dit the morning after the night before is, maak nie saak nie. Dis ’n sameswering. Ou Murphy wat my geteiken het, die ou bliksem. Doen iets terwyl ek slaap sodat ek die volgende dag ’n bad hair day kan hê, laat ’n knoop afbreek, steek my motorsleutels weg. Ha, ha, groot grap, geniet hom seker gate uit daar waar hy iewers in al sy onsigbare glorie in ’n hoek sit en lekkerkry wanneer ek so aan die skarrel gaan. Demmit!
Toe ek by die voordeur uitstap, hang Jane buite rond, seker om te sien wat ek vandag aan my lyf het. Just my luck. Ek het nie vanoggend tyd vir buurvrou Jane en haar pyn nie.
“Oukei, Jane, sê wat jy wil sê,” vra ek toe ek na my motortjie toe drafstap en sy oor die vibracrete-muur loer.
Sy lag soos ’n effens aamborstige heks. “Lyk ’n bietjie geblur, soos ’n Suid-Afrikaanse vlag wat te lank aan ’n paal gehang het.”
’n Landsvlag? Nie exactly die look waarvoor ek gegaan het nie. Hoe lyk ’n landsvlag wat te lank aan ’n vlagpaal gehang het anyway?
T’ag, Jane! Wat weet sy? Nou nie juis ’n supermodel nie, is sy? Sy was seker laas in die sixties amptelik in die mode. Verstaan mooi – ek is mal oor die goed wat sy aan daardie voëlverskrikker-lyf van haar dra, maar besonder trendy is dit nié.
Jane verstaan nie hoe moeilik dit vir my is nie, niemand verstaan hoe moeilik dit vir my is nie. Nóg vis nóg vlees, dis nou ek daai. Nie meer ’n blosende bakvissie nie, maar nog lank nie ’n vleeslike vrou van formaat, die ene status en statuur nie. Ek is aan die rondtol midde-in ’n abyss, dis waar ek is.
Mutton dressed as lamb wil ek nie wees nie, maar ek wíl die nuwe semester met ’n bang! begin. As dit dan met die landsvlag gone wrong aan my lyf moet wees, then so be it. Dan swaai ek vandag hierdie vlag hoog, trots Suid-Afrikaans.
Dis elke oggend se ding – die aantrekkery soos ’n fashionista. Ek is nie ’n volbloed-hipster nie en wil nie dood gesien word met ’n beanie op my kop nie. Maar ek moet iets doen om te keer dat die spul pipsqueaks saam met wie ek klas loop met my spot. Make no mistake, ek is nog jonk en jeukerig genoeg en die enkele kledingstuk in my kas wat nie onderhandelbaar is nie, is my skinny jeans. Maar die meeste van my zits het darem al in Londen opgeklaar, dankie tog.
Dis net dat ek te lank in die koue Noorde gebly het, dat ek soos die verlore seun eers moes varkpeule vreet voordat ek stert tussen die bene terug huis toe gekom het. Die strate van Londen moes my eers behoorlik verniel, totdat ek met my Afrika-hart onsigbaar gevoel het tussen die baie grys. The story of my life, dat ek so maklik onsigbaar kan raak.
Ek wou ’n papiersak oor my kop dra toe ek die dag op O.R. Tambo land, maar ek kon nie een in die hande kry nie. Hier in Suid-Afrika gebruik al wat leef nog plastieksakke. Voel vere vir die aarde wat onder rommel begrawe raak.
Flip. Al wat ek wou doen, was om in my gap-jaar in Londen “myself te vind”. Want glo my vry, die ou post-matriekmeisietjie wat hier weg is, was nie iemand wat ek wou ken nie, nog minder iemand wat ek wou wees. Beentjies wat bewe, onderlippie ook, die oomblik wat iemand na my kyk asof hulle nie hou van wat hulle sien nie. Nie dat ek baie raakgesien is nie, hoor. So ’n regte hotnotsgot-houdinkie gehad. Sou vir die res van my lewe senuweeagtig sit en handjies vryf het as ek hier gebly het. Toe al ’n lekker lyf aan my gehad, maar met daardie ekskuus-dat-ek-leef-persoonlikheid, te bekrompe om te flaunt wat ek het om te flaunt.
En toe loop ek my vas teen Harold the Handsome, daar oorkant die water. En … verloor myself finaal. Kop oor stert sodat ek later nie meer weet of ek Boer of Brit is nie. Bleddie bliksem! Hy’t my jeug gesteel. Of altans, ek het my jeug en my virginity en my lekker lyf vir hom op ’n skinkbord aangebied en toe vat hy wat hy kan kry en mors daarmee. Toe hy met my klaar is, was ek soos ’n afgeblaasde opblaaspop wat eenkant toe gegooi is.
Toe vlug ek skaam-skaam huis toe en hier sit ek nou. Ek kan doen met ’n makeover, maar gelukkig is daar nie veel fout te vind met my lyf nie. Dis die res van my wat verflenterd is. Wat ek nodig het, is ’n ander kop en ’n ander hart.
“Daar is sowaar nie pille vir domheid nie,” sê my ma graag.
Ek weet ek irriteer die wit waks uit haar met my domheid, ek weet ek is eintlik ’n familie-frats. Sukkel my oor ’n mik om ten minste BA Mansoek te slaag. Die gees is gewillig, maar die breinselle is blond.
Laterale denke, dis wat die akademiese wêreld van my vra. Om buite die boks te dink, terwyl ek neig om lekker cosy in die boks te wil sit, mooi stil in ’n hoekie in my comfort zone. Ewe kuis, beentjies oorkruis en handjies in die skoot gevou. Tog maar ’n hotnotsgot, met uitpeuloë. Tas blindelings in ’n lugleegte rond met my voelers, veilig en vervelig, maar kan alte maklik pap gedruk word.
“Luister, ou girlie, jy moet jou bondeltjie oor jou skouers gooi en iewers jou eie blyplek kry,” het Jane nou anderdag nog raad gegee. Ongevraagd, natuurlik. Nie dat dít haar nog ooit gekeer het nie. Dink mos omdat sy so oud soos die berge is dat sy meer van die lewe af weet as ek. “Daai ma van jou is hopeloos te powerful, sy gaan jou space cover as jy … if you don’t make a move.”
“Kan ek by jou intrek?” wou ek weet.
“No ways. I need my sanity.”
“Te laat, Jane,” het ek haar ingelig. “That ship has sailed.”
Is so. Sy mag plain Jane wees, maar sane Jane is sy nie.
Ek sal graag my bondeltjie wil pak en by die deur uitstap, maar Harold is weg met my hart, my toekoms, my trots en die ponde wat ek in Londen verdien het. Verder het ek in Engeland my smaak verloor daarvoor om in ’n kommune te bly en net een keer ’n week ’n beurt te kry om met ’n suinige straaltjie warm water te bad. Nou sit ek maar stil en gedwee in my slim ma se skadu en saans is daar genoeg warm water vir my om die bad vol te tap. Dis nogtans ’n marteling om weer ’n huis met haar te deel en soms verlang ek amper na die varkpeule.
Al wat ek kan doen, is om bedags hierdie amazing outfits te dra. Mabalel-arm- en enkelbande wat vrolik klingel as ek loop, outydse krale om die nek, ’n borsspeld wat in ’n museum hoort, vintage-kant en -satyn wat bedags in die somer- óf winterson aan my lyf blink, vere vasgesteek aan my klere. In die vae hoop om BA Mansoek te slaag terwyl die meeste van my onderdele nog werk.
Eintlik maar a lost cause, want die manstudente om my is toy boys gesien deur my oë, melkbaardjies wat kattekwaad in koshuise aanvang en daagliks dronk word. Die oes is maar skraal, in fact, die oes is ’n moerse mislukking. Ek mors my tyd, en tyd is die een ding wat ek nie het nie. My biological clock raak al besete. Ek sweer die eierselletjies wat ek teen dié tyd produseer, lyk al soos rosyntjies wat te lank in die son gelê het. Die arme goed sal seker nie eens meer daarin belangstel om met ywerige, stertswaaiende manlike selletjies geselskap te voer nie.
As ek binne ses maande met leë hande uit BA Mansoek stap, weet ek nie wat ek gaan doen nie. Net nie verdere studie nie. Ek – en my iPad – is oorlaai met info wat geen mens nodig het om te weet nie. En ek is gatvol daarvoor om ’n hele lange nag shooters in my keelgat af te gooi saam met studente wat deur eksistensiële krisisse worstel. Dis so … so studentikoos, jy weet?
Die vrek weet, ek pas nêrens in nie. Te oud vir die studente en te jonk en dom vir die dosente. Soms vang ek ’n dosent se oë op my, maar dan is dit gewoonlik my outfits wat hulle probeer uitfigure of omdat daar iets tussen my tande vassit. As ek die body language reg vertolk.
Ek weet ek moet oorgee en eerder heeltemal eksentriek raak as ek nie bejammer wil word nie. Ek moet my sigarette in die vullisdrom gooi en ’n regte oupa-pyp begin rook. Of sigare. Daar’s baie vroue wat dit deesdae doen, wat heeltemal buite die boks rook. Ek moet nie meer my beenhare skeer nie, my hare nooit was of kam nie, skoolskoene dra en vormlose rokke, so vyf, ses daarvan in dieselfde styl en van dieselfde materiaal laat maak. Maar ek stel dit uit vir wanneer ek een van die dae dertig word. Dan is alles anyway verlore en my lewe verby. Dan gaan ek ’n bonfire maak, die dodemars oor ’n luidspreker speel en my laaste sprankie hoop saam met al my gorgeous outfits in die maanlig verbrand. Daar sal ’n hele ritueel wees, want ’n mens moet behoorlik van jou jeug – en jou hoop – afskeid neem. Sodat jy closure kan kry en kan weet: wat verby is, is verby.
Let’s face it – life’s a bitch, finish en klaar. And then you die. Maar dis nie wat ek vanoggend wil glo nie, want dan draai ek net hier om en gaan kruip onder my bed weg totdat hulle my daar moet uitsleep om my te begrawe. Nee! Vandag gaan ’n flippen amazing dag wees. Daar is ’n lekker vibe in die lug, selfs onder die pipsqueaks wat gillend op mekaar afstorm asof hulle bloedfamilie is wat mekaar die hele wintervakansie nie gesien het nie. Joined at the hip, die hele ou spul. Ses maande, dis al wat oorbly, ses maande voordat ek uit hierdie sirkus kan ontsnap. En wat doen? Die goeie gode weet alleen. Net nie weer snotneuskinders oppas of ou tannies se lappoplywe met nat waslappies afvee soos in Londen nie. My dienende Marta-dae is hopelik verby, dis tyd dat ek ’n loopbaan volg en ’n sukses van my lewe maak, soos Ma dit stel.
Ja, sure, the sky is the limit as jy in die voetspore volg van iemand soos my ma. Maar ek kan op my tone staan en reik na die sterre tot frieken varke begin vlieg, ek sal nooit kom waar sy my wil hê nie.
Ag! As ek net ’n man kan losslaan wat wil hê ek moet vir hom kinders by dosyne baar! Dan strek die toekoms rooskleurig voor my uit. Suburbia, boekklubs en snoepiediens by die skool. Dis oukei, ek sal hotdogs maak dat die tamatiesous spat, ’n mens hoef nie ’n kursus daarvoor te loop nie.
Dit behoort nie so moeilik te wees nie. Ek is so blond soos ’n beauty queen. Dis die blond, dis die boobs, dis die bene, dis al wat nodig behoort te wees om ’n beroering onder die melkbaardjies te bring. Foei toggie! Mamma se seuntjies sien nie aldag ’n vrou met ’n behoorlike boesem nie. Die ou meisietjies om hulle is nog in die stadium waar anoreksie hul enigste strewe in die lewe is en het nietige gholfballetjies wat rondbons onder hul T-hemde.
Net na elf stap ek by die lesingsaal in vir my dramaklas. Nie my favourite vak nie, nie vandat ek my naam so gat gemaak het nie. “Emosie, dames en here, alles gaan oor emosie,” het professor Brink ons geleer. “As jy nie emosie kan wys nie, is jy nie op die regte plek nie.”
Ja, great. Toe vra hy my om ’n stuk uit Donita Studdard se nuutste drama oor moeders en dogters vir die klas voor te lees en … ag hel, toe gaan ek aan die tjank. Net daar. In die lesingsaal, omring met studente wat uit graniet gekap is. Aan die begin het almal nog gedink ek act befok, dat ek bleddie goed is. Maar toe ek so bewoë raak dat ek nie verder kon lees nie, het die penny gedrop.
Wacko! Dís wat ek is – weird en wacko.
Daardie dag al kon ek netsowel BA Mansoek opgeskop het. Studente het die geheues van olifante, veral wanneer jy ’n supergek van jouself maak. Jy word nooit weer in die kring van die spotters toegelaat nie.
“Selfbeheersing, dames en here, is die kern van ’n goeie akteur,” het professor Brink verduidelik. “Voordat jy op die verhoog gaan, moet jy alle menslike swakhede in die kleedkamer los. Dan behoort jy aan jou gehoor, dan het jy ’n verantwoordelikheid teenoor hulle, die mense wat betaal het om na jou te kom kyk en luister.”
Al wat asemhaal in die lesingsaal het verwytend na my gedraai asof ek twee koppe het en al twee die koppe skandes gemaak het. Hulle sou my sweerlik op ’n brandstapel wou smyt as daar nie deesdae so ’n bohaai oor menseregte was nie.
“Jy is daar om vir hulle ’n storie te vertel,” het die prof sy longe uitgepreek. “Nie jóú storie nie, maar die een in die teks. En jy moet dit oortuigend doen, jy sleep nie jou eie vooroordele of sieninge of persoonlike gevoelens saam met jou wanneer die kollig op jou is nie. Jy is nie meer Jan of Sannie Fourie wat daardie oggend spek en eiers in jou ma se huis geëet het nie, jy is nou Othello of Faan van Faan se trein, of wie jy ook al op die verhoog probeer uitbeeld.”
Sy oë het op my gebrand. Persona non grata!
“Daarom mag jy nie jou woorde vergeet nie, nie struikel nie, nie stamel of stotter nie, nie uit jou beurt hoes of poep of nies nie. En jy mag nooit deur lag of huil oorweldig word nie.”
Ek weet nie wat ek nog in hierdie klas soek nie. Maar dit is nou eenmaal deel van my kursus, so ek moet oë toeknyp en deurdruk. Eintlik behoort ek tussen die agterbankers te gaan sit, die rokers, die trailer trash van die lesingsaal.
Want ek het mos hierdie moerse doodsonde wat ek pleeg wat van my nog meer van ’n social outcast maak tussen die groenes, die gesondheidsbesimpeldes, die slimmes en die hoë bome. Ek rook! Daar, ek het dit gesê. Sue me! Sue me, maar moenie vir my preek nie.
Ek het dit alles al gehoor, thank you very much. Ek weet hoe dom dit is om te rook, ek weet ’n mens gaan dood daarvan én kry plooie. Ek weet jy ruik soos ’n low-class bordeel en jy soen soos ’n asbak. Ek weet jou longe is opgekoffie en almal haat jou omdat hulle jou rook tweedehands inasem. Ek kan vir jou vertel waarom dit stupid is om te rook, ek kan ’n boek daaroor skryf. Al wat ek nie kan doen nie, is om op te hou daarmee. Want sowaar, was dit nie vir ’n sigaretjie tussen my vingers wanneer dinge te mal gaan nie, sou ek sowaar nie met die lewe kon cope nie.
Alles die bleddie Engelsman se skuld.
“Oh honestly, you’re such a child!” het die bliksem my verwyt. Hy met sy bleek boudjies en sy Britse sproete oor sy krommerige neus soos die buite-egtelike kind van ’n aristokraat. A child! Verbeel jou! Wie wil nou as ’n kind bestempel word? ’n Dief, ’n leuenaar, selfs ’n reeksmoordenaar is oukei, maar nie ’n kind nie!
“Oh, come on, Dezi! I’m not offering you weed to smoke, it’s just a little old cigarette, quite innocent, you know,” het hy voortgegaan om my soos ’n jammerlappie te laat voel en die pakkie vir my uitgehou.
Wat anders kon ek doen? Natuurlik vat ek toe een van sy gifpyltjies en wag dat hy die ding vir my aansteek.
My hele skoolloopbaan nie gerook nie. Mooi soet gewees, my ma se kind. Nooit laat vir skool nie, huiswerk mooi netjies gedoen – dit nie altyd reggekry nie, maar darem mooi netjies geskryf, strepe met ’n liniaal getrek en als. Op aandag gestaan wanneer ons die skoollied sing; môre, Meneer; middag, Meneer; dankie, Meneer; nie moeilikheid gemaak nie.
Rook? Gevaar staan om uitgevang te word? My ma wat gebel sou word? Sy wat my daaroor sou corner? Jy moet jou kop laat lees as jy dink ek sou so simpel wees. Ek het nie ’n death wish nie, ook nie toe een gehad nie. Toe nog gedink die lewe gaan wel die een of ander tyd vir my begin glimlag as ek lank genoeg wag.
Maar toe ek daardie dag teenoor die bleddie Engelsman sit, het ek mos nie meer ’n verskoning gehad om my te gedra nie. Rook word nie deur landswette verbied nie. Nie ons landswette nie en ook nie Brittanje s’n nie. Wanneer ’n mens moet, moet ’n mens maar.
Toe teug ek daardie eerste teug – en gaan aan die hoes asof ek at death’s door is. En die Engelsman lag vir my dat sy klein ogies traan en slaat my op die rug dat ek hik. En hoes. Hik en hoes. En proes. En nie kan asem kry nie en nie kan verstaan dat enigiemand in his right mind wil rook nie, nog minder hoe ’n mens dit regkry. Nogal met grasie as jy na party gesoute rokers kyk.
Maar aanhouer wen en waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. En daardie dag en die dag daarna én daarna vang die rokersduiwel my in sy kloue en van daardie dae af is hy my baas. Partykeer is hy my vriend en partykeer is hy my vyand. Ek meen nou maar – party mense omhels Bacchus, ander eet vir ’n lewe en grou hul grafte met hul tande. Die een is so verslawend soos die ander. Choose your poison en gun my myne.
Rook maak ’n mens glo dom. My ma sê so en my ma weet alles van alles af. My ma is ’n frieken walking encyclopedia.
Ek skuif reg toe die dosent vervaard by die deur ingestorm kom. Lyk nogal asof hy verslaap het in ’n oorvol wasgoedmandjie, want sy klere en sy gesig is ewe gekreukel. Iemand kom agter hom aan gestap. Nog iemand wat verslaap het? Nee, daar is te veel statigheid in daardie stappie, te veel grasie. Soos ’n swaan op droë grond.
Ek kyk. En kyk toe weer. En dit voel vir my of ek te lank op ’n mallemeule was en afgeval het. Die mure wat ’n oomblik gelede nog stewig gestaan het, gaan aan die rol en tol om my. Dis ’n hersenskim, probeer ek myself wysmaak, ’n optiese illusie. Maar dit is nie – dis sý! Dis my ma wat agter professor Brink aan gestap kom. Dis my … my donnerse ma in een van haar wye geblomde rompe wat op haar voete hang.
Dis nie die eerste keer dat ek wens berge moet op my val nie. ’n Mens leef nie saam met my ma sonder om daardie wens gereeld uit te spreek nie. Enigeen van die Hottentots-Hollandberge sal doen. Daar moet net genoeg rots, klip en sand wees om my behoorlik te bedek, voordat iemand die formidabele Gertruida Diedericks herken en haar by my uitbring. By my, die randeier, die ouer student, die weirdo wat in hierdie einste klas aan die tjank gegaan het. Of voordat my ma my sien en in ’n oomblik van moederlike swakheid langs my kom sit.
En ek weet – my lewe soos ek dit die afgelope paar jaar hier op varsity geken het, gaan vir altyd verander. My sorgvrye studentedae, wat nie besonder sorgvry was om mee te begin nie, is vir altyd verby!
Ek rook nie gewoonlik in Jane se huis nie, maar vandag is ’n uitsondering. “Ja, rook maar,” sê sy toe ek vra. “My longe is in elk geval gone with the wind. En ek sal hulle seker nie meer veel langer nodig hê nie.”
“Wag nou eers, Jane, jy gaan nie vandag of môre al dood nie. Ons kan anderdag weer ’n pity party vir jou hou. Vandag is dit my beurt.”
Ek steek eers my sigaret aan, teug daardie eerste teug wat van enige plek op aarde ’n stukkie hemel kan maak. Dit was ’n lang, moeilike dag en ek kon nie aan my sigarette raak nie. Nie met my ma wat daar iewers op kampus was nie. Was so lus vir rook dat ek kon gil, maar as sy skielik voor my sou opduik waar ek gou iewers agter ’n muur ’n paar skywe vat, het ek sweerlik die brandende sigaret heel ingesluk.
Ek wag vir die bekende lamheid om my lyf oor te neem voordat ek begin praat. “Waddehel is ék nou veronderstel om te doen, Jane?”
“Het jy met jou ma hieroor gepraat?”
“Nie gepraat nie. Wat sal dit help? Sy sal doen wat sy wil. Maar ek het haar uitgevra. Die dramaklas is glo deel van ’n module vir die hoeveelste kursus wat sy volg.”
“Vandat julle meer as twintig jaar gelede hier ingetrek het, brand die lig pal in haar studeerkamer op die boonste vloer – partykeer sommer dwarsdeur die nag. Wat wil sy nou nog alles leer?”
“Wil ek ook weet. Én my pa. Maar daar is nie regtig ’n antwoord op daardie vraag nie. Dis wat my ma doen – sy studeer. As sy die een studieveld gedek het, begin sy met die volgende. My ma weet werklik iets van alles.”
“Iets jaag daai ma van jou,” verklaar Jane. “Insomnia if you ask me.”
“My ma is net gelukkig wanneer haar neus in ’n boek is, maar dit moet ’n dik-dikke, akademiese boek wees, een met die wêreld se kennis daarin. En nou is sy in dieselfde dramaklas as ek. Dis terrible!”
Ek druk my sigaret dood en gaan teësinnig huis toe.
My pa weet ek rook. Ek weet hy weet, want hy het my eenkeer in my spesiale rokershoekie ver agter in die tuin betrap. Maar ons praat nooit daaroor nie. Wat my ma sal doen as sy skielik op my moet afkom, weet ek nie. Heel moontlik die een of ander oorval kry waarvoor daar nog nie ’n beskrywing of behandeling bestaan nie.
So ongemerk moontlik gaan sit ek die volgende dag in die dramaklas tussen die agterbankers wat nooit verder sal kom as ekstras in ’n sepie nie. Hierdie deel van die lesingsaal is ’n oerwoud waar daar nog wilde diere dwaal. Vreemde reuke, vreemde klanke, baie pare oë wat in my nek boor. Maar ek hou uit. Sit daar en hoop my ma kry ’n nuwe gier en verkas uit my dramaklas.
Toe nie. Waar sy sit, sit sy in die weke daarna. Stadig maar seker groei my ma vlerke in die dramaklas. Frieken sterk vlerke, langer as palmtakke, en sy styg natuurlik uit bo die res van ons.
“Wat het ons hier?” wil ’n voortvarende agterbanker mompelend weet toe my ma weer die enigste in die klas is wat die antwoord op ’n vraag het. “Nog ’n desperate housewife wat nie weet hoe om te vacuum-clean nie?”
Wag maar, seuntjie, jy gaan nog jou woorde sluk, dink ek, maar ek sê niks.
Die skok kom gouer as wat ek verwag het: professor Brink wat my ma vra om ’n Shakespeare-passasie te vertaal en voor te dra.
En net die volgende dag – wham, bam – staan sy op en begin perform. Sy het die ou meester se woorde sweerlik beter vertaal as wat enige vertaler tot dusver kon. En sy gooi ons met Macbeth. Sonder die geringste huiwering, sonder die geringste onsekerheid. Shuddap, boys, daar gaan ’n vrou verby.
Die wolwe van die dramaklas sit en wag vir haar om ’n flop daarvan te maak, reg om haar uitmekaar te skeur, maar hulle kom ver tweede. My ma is nie ek nie, my ma maak nie ’n flop van enigiets nie, my ma is slim. En talentvol. My ma is frieken fabulous. Sy span haar stem in soos ’n gesoute aktrize, sy hoe en ha en gaan tekere. Shakespeare kon nie eens in sy eie taal só striking geklink het nie.
Dis asof my ma haar eie hart en dié van oom William op die tafel voor ons neerlê. Haar hande praat saam, haar stembuigings is perfek en die emosie, o hel, die rou emosie gryp my aan. Ek kyk eerder weg, want as ek nou aan die tjank raak, hou ek nie gou op nie. En dan is ek gedoem. As ’n mens se ma jou tot trane dwing met haar dramatiese vertolking, druis dit in teen die natuurlike balans van liefde en haat wat daar tussen ’n ma en haar dogter behoort te bestaan.
Dis die ding van my en my ma. Ek wil van haar af wegkom en tog soek ek na haar, verlang ek na haar, al bly ons in dieselfde huis.
Toe my ma se stem wegsterf, is dit grafstil om my. Dis nie net ek wat meegevoer is nie. Selfs die agterbankers hier om my vergeet om simpel aanmerkings te maak. Toe sy gaan sit, heers daar steeds ’n stilte, asof ons in ’n borrel vasgevang is en die geringste beweging dit gaan laat bars.
Ná nog ’n paar breekbare oomblikke word Gertruida Jakoba flippen Diedericks begroet met dawerende applous wat aan pandemonium grens. Sy is die blinkste ster aan die hemeltrans.
Professor Brink sit daar en gloei asof hy goud ontdek het. Gertruida Diedericks het nóg een van haar talente onder die maatemmer gaan uitkrap en ten toon gestel.
Gelukkig kom almal darem weer min of meer tot bedaring en begin normaal asemhaal. Professor Brink sit agteroor in sy stoel, so chuffed dis net nie waar nie. “Julle bloei diep, nè,” sê hy vir my ma. “Jy en daardie dogter van jou ook.”
Ma se oë soek na my, soek-soek oor al die koppe totdat sy my sien. Ek wens daarvoor, ek bid amper hardop daarvoor, maar ek sak nie in ’n gat in die vloer weg nie. “She’s a chip off the old block,” sê Ma en blaas vir my ’n soentjie soos ’n wafferse aktrise. En dit ís sy – want sy klink amper trots. Dit is natuurlik nie waar nie, maar dit was die regte ding om te sê. Trust my ma om te doen wat protokol verg.
Ek krimp ineen oor daardie soentjie deur die lug. Al weirder, ál weirder, dis wat ons by die minuut raak. Ma se fame sal genoeg wees om haar te red, maar ek twyfel of dit tot by my sal strek.
Professor Brink se oë streel oor haar. “Nie dat the old block enigsins oud is nie,” prewel hy aansitterig. “Nie van waar ek staan nie.”
Ma maak ’n ligte buiginkie. “Why, thank you, kind sir.”
Asof sy nie genoeg aandag gekry het nie, word daar nou sowaar nog met Ma geflirt ook. Demmit! Dit is maar net die begin van Ma as drama queen, iets waarin sy deur die jare baie ondervinding opgedoen het. Op arme Pa geoefen, haar stem van skerp na snydend verander wanneer sy met hom praat. Arme ou ongeluksvoël, doen alles verkeerd, maak nie saak hoe hard hy probeer nie.
Ek kan net dink wat nou by die huis op my en Pa wag. My ma agter die toe studeerkamerdeur, haar stem wat dwarsdeur die huis dra. ’n Luide stem, ’n dramatiese stem. Nog passasies uit Shakespeare se pen, vertalings veral. Aanhalings uit Julius Caesar en ander werke, maar anders gestel, meer verstaanbaar dalk. In my ma se eie woorde, wat aanklank sal vind by al wat student is.
My vriende, my pêlle, my tjomme, hóór wat ek vir julle sê. Ek is hier om ou Caesar in te spit, nie om die bliksem op die skouer te klop nie. As ’n ou drooggemaak het, word dit lank ná sy dood nog onthou, maar as hy ’n goody two-shoes was, word dit saam met hom toegegooi. Laat dit so wees met dié ou tweegesig ook.
So iets.
Ek is toe ook nie verkeerd nie. Ma verander oornag in ’n vreemde karakter, of dan in ’n vreemder karakter as wat sy reeds was. Alles is ’n drama. By tye spreek sy in tale wat nie ek óf Pa ken nie. As die melk suur is, gooi sy ’n tantrum wat die dak wil laat lig, verskillende stembuigings, die works. En as die een of ander politikus weer die een of ander sotlikheid kwytgeraak het, gaan sy tekere asof dit teen haar persoonlik gemik is. Dis met fladderende hande en intense woede of nagemaakte vrees wat die woorde by haar mond uit rol.
“Klink of Armageddon hier by ons losgebreek het,” brom Pa, maar hy doen dit gelukkig sag genoeg dat net ek kan hoor.
“En asof dit ’n Babelse verwarring in verskillende tale gaan afgee,” stem ek saam, net so sag en versigtig, want dis nie ons wat die drama queens is nie. Smoel houden, dít is ons leuse.
Aan die begin is dit nog snaaks om na Ma se melodramatiese monoloë te luister. Ook Jane kan haar hoor as sy skemeraand in haar tuin langs Ma se studeerkamervenster ronddwaal. Vermaak uit die boonste rakke as jy van Griekse tragedies hou.
Hier teen die derde, vierde week wil ek al weghol as Ma iets beetkry wat sy uit volle bors daar bo begin voordra. En dit wil al vir my lyk of Pa saam met my gaan weghol – as hy kan byhou. Dit lyk asof hy al hoe kleiner krimp en nou selfs meer as vyf cowboy-boekies in ’n week lees, iewers in ’n sonkolletjie waar hy niemand sal hinder nie.
Dis ’n verlore stryd wat ek hier voer. Ek weet maar te goed wat ek moet doen. Professor Brink het nie ’n cookin’ clue waarvan hy praat nie. Ons bloei diep? Ek én Ma? You must be joking. Ek en Ma doen niks dieselfde nie. Ma is ’n wenner, ek is ’n ou loser. Op persoonlike én professionele vlak. Op pad dertig toe en nog sonder man, kind of kraai. En nog sonder ’n graad van ’n aard. Looo … ser!
Ek sal nie met Ma kan meeding nie. Ek wil nie eens probeer nie, want ek weet wat gaan gebeur. Die dosente, die studente, almal gaan my met my ma vergelyk en kopskuddend wonder waar ek dan vandaan kom. Of ek in ’n vreemde nes uitgebroei het. Die dag toe ek dit ten volle besef, word die laaste spyker in my akademiese doodskis geslaan.
Wie loop nou anyway saam met jou ma klas? Suiwer sosiale selfmoord, dis wat dit is, en sosiaal is ek al klaar op life support hier waar ek op kampus rondbeweeg met klere aan my lyf wat die boemelaar wat ek soms voor die hoofgebou raakloop nie eens sal dra nie. Alles in ’n poging om hip en funky te wees, alles dinge wat ’n mens nodig het om ’n sukses van BA Mansoek te maak. Boggherol gehelp.
Ek is nie lelik nie, nie regtig nie. Ek skeer nog my beenhare gereeld en was my hare elke ander dag om die rookreuk uit te kry. Ek is dubbel so blond as wat ek behoort te wees, skokblond om die waarheid te sê. En ek het mos die boobs en die bene. Ek is nie slim nie, maar ook nie domonnosel nie. Ek het nie ’n graad in sielkunde soos my ma nie, maar ek het common sense. Ek besef ek het die selfbeeld van ’n kakkerlak wat in die middel van ’n skoon kombuisvloer betrap is, maar dis duidelik selfs ’n Barbie-graadjie soos BA Mansoek is my nie beskore nie. Nie met my ma wat so ver voor my uitstap dat haar spore al toegewaai is teen die tyd dat ek dit probeer volg nie.
Gertruida Diedericks is op haar eie planeet en sy soek nie besoekers daar wat nie die nodige akademiese dokumente het nie.
Ek onthou hoe ek as kind op die boonste trap naaste aan my ma se studeerkamer se deur gaan sit het. As ek lank genoeg daar sou sit, as ek stil genoeg sou wees, soet genoeg, sou my ma daar uitgestap kom, het ek geglo. Sou sy afbuk en my optel en weer agter haar lessenaar gaan sit, maar hierdie keer met my op haar skoot.
Ek sou my ma se lekkerruik-parfuum kon ruik, ek sou my ma se hare oor my voel val, hoe dit my wang kielie. My ma sou van my onthou, met my praat, oor my kop streel. My ma sou vir my lief wees. Vir my ’n storie lees. Met my speel.
Maar ek moes doodstil wees terwyl ek wag, want ek het geweet wat sou gebeur as sy die deur oopmaak en daar uitloer. “Dezi! Wat maak jy hier?” My ma se hare sou deurmekaar wees omdat haar vingers gedurig daarin woel terwyl sy oor boeke gebuk is.
Sulke tye het my ma se stem skerper geraak as ’n groentemes waarmee ’n mens maklik jou vingers kan sny. “Stefaans!” sou sy teen die trap af roep. “Wáár is jy, Stefaans?” En my pa sou soos ’n huismuis uitgekruip kom van waar hy hom ook al skaars gehou het met sy stapeltjie cowboy-boekies. “Maak plan met die kind.”
Die kind. Dit is wat ek sulke tye was. Nie Dezi nie, nie my ma se dogtertjie nie, sommer net “die kind”. Amper soos “die hond”, maar darem nie. “Asseblief.” Daardie woord het geklink soos ’n swaard wat uit die skede getrek word. “Ek probeer studeer, as jy nie omgee nie.”
Ons hét omgegee, ek en my pa. Toe én nou. Nie een van ons wil die befoeterde vrou op die boonste verdieping hê nie, die studie-verslaafde vrou wat selfs nou nog maerder word as ’n eksamen naderkom. Die vrou wat snags nie kan slaap nie, maar deur die huis dwaal soos ’n spook met te veel sondes.
In die verre verlede het ons nog hoop gehad. Wanneer my ma eksamen geskryf en nóg ’n kursus geslaag het, nog ’n sertifikaat in ’n goue raam teen die muur kon hang, was daar die tye van euforie. Dan het ons drie soms uitgery see toe, ’n ruk lank daar geparkeer en die nimmereindigende spel van die branders dopgehou. Maar nooit vir lank nie, want my ma sou gou verveeld raak. “Kom ons ry maar weer, Stefaans. Die branders maak my net weemoedig.”
“Hoekom tog, vrou? Kan jy nie net vir ’n uurtjie of twee ontspan nie?”
“Daar is beter dinge waarmee ek my kan besig hou.”
“Met jou neus tussen die boeke?”
“Ja, Stefaans, met my neus en gedagtes besig met die baie wonderlike en interessante dinge wat daar buite in die wye wêreld is, dinge waarvan jy niks weet nie. Al wat jy ken, is jou skop-skiet-en-donner-boekies. Boem! Boem! Dood is jy. Sonder dat die hoed op my kop oor my oë skuif.”
My ma het sommer maklik moerig geraak wanneer sy oor my pa se leesgewoontes praat. “Hoe kan jy jou tyd so mors? Skaam jy jou nie?” Sy sou een van Pa se boekies met haar vingerpunte optel asof dit ’n vuil sokkie of dooie muis of ander grillerige ding is. “Kyk hier, kýk net hier. Lees die titel: Kill Them All and Come Back Alive. Waar het jy nou al ooit van sulke sinneloosheid gehoor? Dit het geen letterkundige waarde nie, dis pulp, dis wat dit is, suiwer pulp!”
Natuurlik het my pa nooit ’n teenargument gereed nie. En wie kan hom kwalik neem? My ma se werkstukke is so goed beredeneer dat dit gereeld later in lesings gebruik word.
Later het my pa tou opgegooi, het hy nie meer uitgesien na die kort tye tussen my ma se studies nie. Nie die moeite werd nie, elke keer ’n struweling. Nou los hy haar uit, en sy vir hom. Hy lees sy cowboy-boekies en sy haar akademiese handboeke en iewers tussen die twee dwaal ek rond, op soek na myself. Ek begin dink as ek myself nou nog nie gevind het nie, gaan dit nie meer gebeur nie. Ek gaan altyd Gertruida Diedericks se dogter wees, nooit Dezi Diedericks nie.
Ja, ek kan myself nogal oorgee aan ’n pity party as ek die dag in die bui daarvoor is. As Plain Jane my nou moet hoor kerm, sal sy baie te sê hê oor hoe ondankbaar ek is. Ek hét ’n ma, ek het niks om oor te kla nie. Die wêreld oor is daar kinders wat nie dieselfde voorreg het nie.
“Hou op om vir my te preek, Jane,” probeer ek haar soms stil kry. “Jy is nie my ma nie.” Maar dit lyk nie asof sy al die boodskap gekry het nie.
My ma se nuutste endeavour verlam my so dat ek net tot die einde van die week nog in die dramaklas bly sit. Vir oulaas luister ek na die dosent, hoor ek wat nodig is om ’n goeie akteur te wees. Ek weet ek sal alles moet uithaal wat ek in hierdie twee en ’n half jaar oor toneelspel geleer het wanneer ek vir my pa en ma verduidelik waarom ek nie langer op universiteit wil bly nie. Dit gaan oor meer as net my ma wat op my terrein haar talente kom vertoon het. Dit gaan ook daaroor dat ek no ways hier ’n man gaan kry, veral noudat sy hier is.
Ek sweet en ek stamel en stotter en voel soos ’n kind toe ek uiteindelik die moed het om dit met hulle te bespreek. Van ’n goeie vertoning kom daar niks. Ek swaai arms en sluk my trane en verduidelik dat dit bars. En kyk in my ma se oë en sien die verskriklike teleurstelling omdat haar dogter weer probeer en misluk het.
So bring ek toe in my laaste jaar op varsity weer eens skande oor my gesin. Ek skop op! Sommerso! Wie doen so iets? Nie ’n kind van Gertruida Jakoba Diedericks nie …
Nice move, Dezi the Desperate! Nice frieken move.