Читать книгу Die engel rook skelm - Kristel Loots - Страница 4

2

Оглавление

In die dae en die weke … ag jimmeltjie tog, in die drie maande daarna leer ek, Dezi Diedericks die Domme, nog iets wat nie ingesluit is in die leerplan vir BA Mansoek Onvoltooid nie: Daar is sekere dinge wat vergewe kan word en dan is daar die ander. As ’n mens net voor die eindstreep jou studie opskop, kyk mense jou vreemd aan. Veral as jy werk soek.

Waddehel is fout met jou? vra daardie gesigte. Hoeveel van jou varkies is nog op hok? En veral: Waddedinges laat jou dink ons sal iemand soos jy aanstel om amok te kom maak in ons firma? Dis moeilik genoeg om met geestesgesonde mense te werk en dié wat iets so simpel aanvang, kan nie lekker in die kop wees nie. Sluk sekerlik Prozac asof dit Smarties is. Hou verby.

So hier en daar kry ek ’n tydelike werkie. Ek staan in een van my besonderse gewade gewapen met ’n bottel parfuum in ’n shopping centre se gang en wag, gereed vir die aanval. As ek gelukkig is, bespuit ek niksvermoedende mense wat verbyloop voordat hulle kan keer. Dan vra ek vriendelik dog dringend of hulle nie asseblief ’n plaas se prys vir die parfuum wil betaal sodat hulle vir die res van hul lewens na … wel, sleg kan ruik nie.

“Die goed ruik na hondedinges,” verseker ’n voortvarende vrou my. Ek verskil van haar, dis eerder kattedinges. Maar ek bly stil, want ek is ’n promotor, nie ’n reukontleder nie.

Niemand bedank my vir die gratis skeut reukwater nie, gluur my eerder aan. Ek hoor vloekwoorde wat ek nie geweet het in enige taal bestaan nie en ’n ou tannie wat blykbaar aan hooikoors én ’n slegte humeur ly, kom my met haar handsak by. Maar ek – en my outfits – oorleef darem.

Vir ’n hele twee weke, totdat ek ook nie meer die reuk kan verdra nie en die aftog blaas. Ek loop ’n kursus in wynproe en een in grimering. Ek leer hoe om mond-tot-mond te doen as dit nou die dag regtig nodig is en hoe om ’n wond te verbind sodat die bloeier dit maak totdat ’n professionele persoon opdaag. Maar as dit regtig sou gebeur, sou die professionele persoon eers aan my aandag moes gee daar waar ek in ’n floute op die vloer lê.

Maar whatever – ek is nog nie paraat of geskik vir die arbeidsmark nie. Niemand, maar niemand stel blykbaar belang in wat ek het om te bied nie.

“Dis omdat jy jou tyd mors met Mickey Mouse-kursussies,” kritiseer my ma. Sy is natuurlik reg. Ek kon gedink het die regte manier om lip liner en eye shadow aan te wend, sal haar net so min beïndruk as my kennis van noodhulp. Ek is self nie besonder beïndruk daarmee nie.

“Dis omdat jy so ’n extreme bottle blonde is dat jy nie werk kry nie,” is Jane se nie-so-oorwoë mening.

“Ekskuus my! Ek is nie ’n bottle blonde nie, Jane. Net gedeeltelik. Die ekstra kleur wat bygekom het, is net om my blondheid te enhance. Dis hoe Wynne dit stel,” keer ek.

“Dis nou seker jou hairdresser wat so met jou mooi koppie smokkel.”

“Een van die beste en die duurste wat daar is. Selfs my ma laat hom toe om sy hande in haar hare te steek elke keer wat sy in die limelight is. As daar nou iemand is wat weet wat hy doen, is dit Wynne.”

“It all depends. As jy ’n lady of the night wil wees, dan is jy op die regte pad. Maar nie as jy jou geld met jou klere aan wil verdien nie. Dan moet daar niks op jou kop of aan jou ge-enhance word nie. Veral nie jou hare nie. Blondes are so passé.”

Ek sluk ’n slag. “Hoe sal jy nou weet wat passé is en wat nie?”

“Ek weet meer as wat jy sou raai, madam. Ek is miskien oud, maar ek is nog lank nie dood nie.”

“Hoe oud ís jy, Jane?”

Dis nie die eerste keer dat ek vra nie en ek weet goed wat die antwoord gaan wees.

“None of your beeswax.”

Partykeer dink ek Jane se gesig is ouer as haar lyf. Daar is ’n hele leeftyd se stories in daardie plooie geskryf. Maar dis seker ook none of my beeswax.

“Jy wat jou dae in jou Stellenbosch-huis om sit en net elke af en toe by die hekke uit beweeg in daardie slap kar van jou? Wil jy vir my kom vertel wat is in en wat is uit? Jy is amper al ’n uitgestorwe spesie, jy en daardie swart motor met die stertvere.”

Ek is sommer vies, want daar is dinge in Jane se lewe waarvan ek niks weet nie en dit maak my mal van nuuskierigheid.

Dit lyk nie asof Jane haar vir my vererg nie. “Blondes are a dime a dozen,” verduidelik sy ewe geduldig. “So volop soos vlieë in die somer.”

Oukei, nou het ek alles gehoor – nou word ek al met ’n vlieg vergelyk. Wat probeer Jane doen? My met ’n skok aarde toe bring? Wel, sy slaag daarin. Ek voel omtrent soos een van daardie volop vlieë wat met ’n goeie skoot Doom bygekom is.

“Al wat ek nog het, is my blondheid, my boobs en my bene, demmit, Jane.”

Maar as ek simpatie wil hê, moet ek dit ’n ander dag kom soek.

“Julle daag almal op vir ’n interview, one the same as the other. Nice toots, nice boobs, stemmetjies soos Krismisklokkies. Irriterend. Die high profiles kyk na julle en hulle dink hulle sien double. A dime a dozen. Jy sal moet special wees as jy wil uitstaan, Dezibelle. Otherwise gaan niemand jou raaksien vir wie jy in werklikheid is nie.”

Dezibelle. Jane noem my net so wanneer sy my ’n lekseltjie heuning om die mond wil smeer. Want, so sê sy, ekke, dis nou Dezibelle Diedericks, behoort my lewe lank the belle of the ball te wees. Wys jou wat sy weet. Hier sê sy dit dan nou self – dat ek een van baie boring blondines in ’n bondel is.

Dis eintlik the story of my life, dat ek met my bene en my boobs en al so maklik onsigbaar kan raak. Dis ’n moerse probleem, want sowaar, veel langer kan ek nie in my pa en ma se oë kyk nie.

Ek weet dis ’n kenmerk van ons, die sogenaamde Y-generasie. Dis mos ons wat terug boemerang wanneer ons arme pa’s en ma’s gedink het hulle is at last van ons ontslae. Trek sak en pak weer by hulle in, stroop hul koskaste en neuk hul lewens van voor af op. Ek dink as my ma geweet het ek is op pad terug huis toe, het sy die welkom-matjie voor die deur betyds onderstebo gedraai.

Soms wonder ek hoe verduidelik Ma my teenwoordigheid aan haar slim kennisse wat van tyd tot tyd hier inval. Sou sy hulle vertel van Handsome Harold wat my ’n gat in my dom kop gepraat het?

Kan julle dit glo? Dat die kind so onnosel kon wees. Eers gee die Brit voor om vir haar om te gee en al wat die arme naïewe Dezi sien, is ewige liefde en trou. Vertel vir haar ’n storie oor hul toekoms saam, vertel van die besigheid wat hy wil begin. Gaan glo groot geld maak, die toekoms wink vir hulle tweetjies. Maar hy’t toe mos hierdie probleempie wat hom pootjie in sy plannetjies, julle weet? ’n Kontantvloei-probleem.

Maklik genoeg om op te los. Met die arme Dezi se spaargeldjies, natuurlik. Sy’t mos haar jis afgewerk daar in Londen, elke pennie wat sy oorgehad het in ’n neseiertjie weggesit, drome van haar eie gehad. Wou iets kon wys vir die jare wat sy in Engeland was. Elke keer wat haar kontrak verstryk, wou sy terugkom. Het gedink Mister High and Mighty Harold the Handsome sal agter haar aankom.

En elke keer hernu hy maar net weer haar werkspermit. Maklik vir hom, werk mos by die agentskap wat haar in die eerste plek Londen toe laat kom het. En sy is maar net te dankbaar. Dink dis omdat hy haar so graag daar wil hou. Omdat hy haar liefhet, sien. Ja, dis reg. Liefhet, nogal. Soos in ’n liefdesverhaal. Sy is gretig om hom te help met sy probleempie. Net ’n tydelike probleempie, verseker hy haar. Natuurlik, ja. Hy betaal haar binne die eerste paar maande terug. Sê hy. Met rente. ’n Vreeslike klomp rente. Sy sal vir haar meubels en gordyne kan koop net van die rente wat hy haar gaan betaal. Sê hy.

Vir hulle nuwe blyplekkie, jy weet. Ja, ja. Hulle sou glo saam intrek, die twee tortelduifies. Daar was selfs sprake van trou. Nou wel nie nou al nie, maar iewers in die verre toekoms voordat perde horings kry. En sy val daarvoor. Die arme, onnosele kind val daarvoor. Hook, line and sinker. Sy glo hom, sy droom drome en sien gesigte.

Van hoe sy vir ewig en altyd die grys strate van Londen bewandel. En later begin dit vir haar na die goue strate van die hemel te lyk. Want sy en His Holiness Harold the Handsome gaan saam ’n lewe begin. Met ’n paar Engelse kindertjies op die koop toe, regte snotneus- Britse bloedjies wat altyd verkoue het van die nat winters.

Sy vra nie raad by haar ouers nie, nie eens by haar ma wat alles van alles af weet nie. Was seker bang ons sou verstand in haar kop ingepraat het. Nee, sy foeter voort. Sy teken hier, sy teken daar en sy betaal selfs vir die ete die aand toe hulle die transaksie vier. Behalwe dat dit nie ’n transaksie was wat ooit in haar guns sou tel nie. Behalwe dat daar niks was om te vier nie, maar baie om oor berou te hê. Behalwe dat sy haar uitgegee het vir ’n toffie en toe behoorlik gekou is.

En toe die pôpô die fên tref, toe eers gaan haar oë oop. Vir baie dinge. Toe sit sy soos kiepie daar in die vreemde. In haar liefde verlaat met leë sakke en egg on her face. Toe wil sy van die brug oor die Teems afspring, maar kry dit nie reg nie, want dis nogal hoog en die water lyk slymerig en vrek koud.

En daar is nie ’n vriend of ’n vyand wat omgee wat van haar word nie. When times are tough, friends are few. Selfs haar Facebook friends het die een na die ander van haar blad af verdwyn. Was seker te bang sy gaan plak by een van hulle. Daag sommer daar op, min of meer net met die klere aan haar lyf en soek ’n slaapplekkie vir die nag. En die nag daarna. En daarna.

Dis toe dat sy begin varkpeule vreet, julle weet. En wanneer ’n mens varkpeule vreet, besef jy daar is net een ding om te doen. Net een plek om by te gaan aanklop waar die deur nie summier in jou gesig toegeslaan gaan word nie. Dis dan dat jy jou trots in die vullisdrommetjie gooi en ’n please call me huis toe stuur. En dit, liewe vriende en vriendinne, is hoe dit gekom het dat ons dogter in hierdie stadium van haar lewe weer pens en pootjies met leë hande en ’n oortrokke bankrekening by ons geland het. Noudat sy eintlik al ’n man en een-komma-ses kinders moes gehad het, as jy haar met haar tydgenote vergelyk.

Dié wat nie na matriek oorsee is om hul vlerke te sprei nie, maar universiteit toe om man te soek. En geslaag het. Wat ’n graad gekry het. En ’n man. Dié wat nie met verskroeide vlerke en ’n rookgewoonte terug huis toe gekom het nie, maar in hul eie huise teen die heuwels bly en net oor Kersfees by hul ouers opdaag. En dan nie eens lank bly nie.

Oukei, dit sal seker nie presies so klink nie, ek weet. Want Ma weet nie van my rokery nie. Wel, nie amptelik nie. En selfs al weet sy ook daarvan, sal sy nooit vir haar geleerde vriende daarvan vertel nie. Selfs aan domheid is daar perke en iemand wat nog in this day and age rook, is dommer as dom.

Dommer as dom mag ek dalk wees, maar ek is vir slim mense so gatvol dat ek wil weghol die oomblik wat een van hulle aan die voordeur klop. Ek kan alles nog vat as ek in my kamer bly – of nog beter, iewers in die donker tuin ’n sigaretjie gaan rook – maar die partytjies wat Ma van tyd tot tyd hou, is ’n marteling wat jou na bewusteloosheid laat verlang.

Trosse en trosse van haar geleerde vriende en kennisse wat die huis vol staan, glasies in die hand, brille op die neus, almal met die een of ander issue wat hulle wil opper. Vuil wasgoed ook, ’n antwoord op alles. Aardverwarming, brandstoftekorte, die paringsmetodes van ’n verskeidenheid insekte en hoe dit van mekaar verskil, oorloë en vrede, die sin van die lewe. Wat filosowe deur die eeue nie ontrafel kon kry nie, word in my ma se sitkamer uitgepluis. Die absolute waarhede wat gryskoppe hul lewe lank ontwyk, word daar op die tafel geplaas en met woordeboekwoorde geëvalueer.

En natuurlik, voor in die koor sal jy Gertruida Jakoba Diedericks kry, my ma met soveel grade agter haar naam dat feitlik die hele alfabet daarvoor gebruik moet word.

Ja, ja, ek weet ek het ’n helse hang-up daaroor. My ma het dit mooi vir my verduidelik toe sy destyds aan haar graad in die sielkunde gewerk het. Ek voel minderwaardig omdat ek nie so slim soos sy is nie. Ek het ook iets oor dié teorie van haar en die skrywers van sielkundeboeke te sê, maar ek is nie woordryk genoeg om my gedagtes oor te dra nie. Buitendien staan sy beswaarlik lank genoeg stil om na my te luister.

Ek is nog steeds honger vir haar. Ek verlang nog na haar soos in my kleindogtertjie-tyd. Dit is nie verniet dat my ma se studeerkamer op die boonste vloer is nie, het ek toe gedink. Dit moet daar bo wees, naby aan die hemel, daar waar die engele wandel. Die engele en die slim mense van die aarde is baie na aan mekaar. Mense soos my ma.

Een ding weet ek. Wat ek ook al met my lewe vorentoe aanvang, daar gaan nie boekgeleerdheid by betrokke wees nie. Boggher slim mense wat met hul koppe in die wolke loop.

Maar eers moet ek iets aan myself doen. Wat Jane sê, is waar. Ek is ’n boring blonde, ’n kloon van derduisende beauty queen-tipes, daardie poppies met wie rugbyspelers trou en wat dan by die huis gelos word terwyl meneer oorsee gaan speel. Behalwe dat daar blykbaar iets in my DNS makeer, ’n geen of ’n ding wat gekeer het dat so ’n gloeiende geluk my tref. Nee, ek het oorsee rondgedobber en rondgebodder en my kanse en my jeug verspeel.

Dis nou oor en verby, ook my studentelewe wat tot niks gelei het nie. Ek wil ’n makeover hê, asseblief, ek wil heeltemal anders lyk. Ek kan natuurlik alles oorboord gooi en met ’n passie begin eet. Alles wat voorkom. Oliebolle en dik stukke sjokolade. Hompe ham en vetterige vleis, groot snye koek met genoeg versiersuiker om van naar te raak. Kondensmelk net so uit die blikkie drink, liters en liters daarvan. Room, roomys, alles wat verbode is.

Sodat ek ’n spekvet blondine kan word, met klein ogies wat heeltemal in my poffergesig verdwyn. Dubbele, nee, trippele kenne en boarms soos dié van ’n stoeier. Drillende, trillende bobene en boude wat op geen man se skoot sal pas nie. Ek sal na asem hyg en sweet soos ’n perd en stoele stukkend sit en almal sal verskrik na my kyk en padgee as hulle my sien aankom en niemand sal aan my dink as ’n boring blonde nie. Maar ai, ek huiwer tog … Ydelheid is ’n gedugte vyand wanneer ’n mens ’n metamorfose so nodig het soos ek.

Eerder by my hare begin. Dis makliker, maar nie minder radikaal nie, nie as ek my sin kan kry nie.

Ek maak nie ’n afspraak nie en ek sê vir niemand wat ek beplan nie. Ek storm net op die haarsalon af, stamp die deur oop soos ’n cowboy wat ’n kroeg uitmekaar wil skiet. Sien nie vir Wynne nie, maar weet waar om hom te kry. Stap by die agterdeur uit. Sien hom daar in die binneplaas in die sonnetjie sit en rook.

Ek groet nie, hy ook nie. Sonder om te praat, vat ek die sigaret uit sy vingers om daaraan te teug.

Hy kla nie en hy vra nie. Rokers weet wanneer om stil te bly, weet wanneer ’n bloedbroer of -suster ’n sigaret so nodig het dat daar nie aan protokol, formaliteite of etiket aandag gegee word nie.

Ek gee nie sy sigaret vir hom terug nie, rook dit klaar. Druk dit teen die muur dood en vermorsel die stompie onder my voet. Jig! Sies, my magtig! Hierdie rokery van ons is eintlik ’n gemors. Sit hier soos melaatses tussen die vullisdromme, want dis al plek waar ons nie geteer en geveer sal raak nie. Iets vrot iewers, want die stank hang in die lug en die geskarrel wat ek in die oorkantse hoek hoor, kan net rotte wees. Dis mos bisar vir Wynne met sy fyn gees en handige hande om hier op ’n melkkrat te sit en rook en vir my om by hom aan te sluit. Nee, o hel, dit moet sowaar endkry.

“Wynne, jy moet ophou rook.”

“Jy ook.”

“Ek weet.”

“Ek hoes soos ’n aamborstige hond in die maanlig.”

“En my mond voel in die oggend soos die vloer van ’n budgiehok.”

“Dalk is dit hoekom daardie Engelsman jou gelos het.”

“Vir die een of ander nuwe Suid-Afrikaanse meisietjie wat ook haar heil in Engeland gaan soek het, ja. Een wat net so naïef is as wat ek was toe ek, skaars uit die skool, daar geland het.”

“Met ’n varser asem.”

“Bleddie cheek, as jy in gedagte hou dis hý wat my leer rook het.”

“Die bliksem.”

“Ek is behoorlik gatvol daarvoor om skelm sigarette te koop en skelm sigarette te rook,” kerm ek nog. “Die goed is my baas, jaag my soms uit my warm bed om by die agterdeur uit te sluip en te hoop niemand hoor my nie.”

“Ek stem. Dis belaglik!”

As ek ophou rook, sal ek vet word. Vet en interessant. Mense sal anders oor my praat. Na my verwys as die vet blondine. Dis wragtig soveel beter as die boring blondine wat lyk soos miljoene ander met mooi lywe en rooi lippies en fladderende ooglede oor slaappopmooie albasterblou ogies.

“Ons móét ophou rook!” besluit ek met nuwe ywer.

“Ja. Maar net nie vandag nie.”

Dis nie die eerste keer dat ons hieroor praat nie. Ek kan maar net sug, die stryd verlore voordat dit begin is.

“Wat nou weer, girl? Wat het jou nou weer in so ’n flat spin dat jy selfs wil ophou rook?”

“Alles aan my ruik na frieken rook, selfs my hare.” Ek onthou skielik waarom ek eintlik hier is. Ek kry Wynne aan die hand beet, trek hom van die melkkrat af op. “Kom. Jy moet my hare sny. Vandag nog. Nou.”

“Jammer, sweetie-pie, ek is volgeboek tot môre toe.”

“Ek gee nie ’n hel om nie. Ek is jou buddy én een van jou regulars, jy kan ’n uitsondering vir my maak. Dit kan nie wag nie. As ek daaroor gaan dink, gaan ek van plan verander en ek wil nie.”

“What gives? Is dit ’n special occasion? ’n Date? Is daar ’n man in jou lewe?”

Wynne kyk na my asof dit die agtste wonder van die wêreld sal wees as so iets kon gebeur.

“Nie ’n date nie, nie ’n flippen man nie, ’n nuwe lewe.”

“Today is the first day of the rest of my life en al daai jazz?”

“So iets, ja.”

“Wel, lovey, the rest of your life sal maar net moet wag tot môre.”

“Nee. Jy sny my hare of ek sit my ma op jou.”

Vir my ma is Wynne so bang soos die duiwel vir ’n reënbui.

“Bite your tongue, Dezi. Ek soek nie die dragon lady naby my nie.”

“Dis ’n onding hierdie dat ek en my ma dieselfde haarkapper het.”

“Nog van die dae toe die salon aan Susan behoort het. Toe het jou ma jou al saamgesleep om jou kuif te sny.”

“’n Mens sou verwag sy sou die hasepad kies toe jy oorvat. My ma dink jy is ’n vreemde vent met vreemde gewoontes wat sy nog nie in haar baie boeke teëgekom het nie.”

“Maybe so, maar sy ken talent as sy dit sien.”

Teen dié tyd stoot ek Wynne voor my uit. Ek moenie toelaat dat hy my ontspoor nie. Die oomblik toe ons by die salon se agterdeur in is, sak ek neer in die eerste die beste oop stoel voor die spieël.

“Sny, Wynne, sny. Stomp af.”

Wynne word sienderoë bleek. “Wat bedoel jy met ‘stomp af’?”

“Soos in stomp, teen my kopvel.”

“Is jy mal, girl?”

“Nee, net desperaat.”

Wynne laat sak sy kop oor myne. “Het jy luise?” vra hy gedemp. “Not to worry, daar is goed wat mens kan gebruik. Ek sal jou help daarmee, net nie hier in die salon nie. My ander clients sal my sue.”

Ek kyk op, sien in die spieël hoe Wynne se clients links en regs van my na my kyk – óf hulle het gehoor wat hy sê óf hulle maak hul eie afleidings.

“Ek het laas op skool kopluise gehad, Wynne,” verseker ek hom, hard genoeg vir die res van die salon om te hoor.

“Shut up!” fluister-skree hy tussen sy tande deur, baie bang ek maak ’n scene. “Wil jy hê die clients moet uitfreak en in die straat af hardloop voordat hul highlights gevat het?”

Ek tel die skêr op wat langs my lê om te wys die gesprekkie oor kopluise is afgehandel. “Sny, Wynne, of ek doen dit self. Rof en onbeskof. Dit moet lyk asof my hare met ’n snoeiskêr bygekom is. Deur ’n ou wat nie al sy faculties intak het nie.”

“Dis nie ek daai nie, girl. Ek het nog die meeste van my faculties. Jou ma sleep my hof toe as ek dit sou doen.”

“Jy verstaan nie, Wynne. Ek wil my lewe verander en om my lewe te verander, moet ek ontslae raak van my Barbie-voorkoms.”

“But why, sweetie, why?” kerm Wynne. “Elke girl op aarde wil ’n Barbie wees.”

Ek het nie die woorde om vir hom te verduidelik nie. “Sny, Wynne. Sny net die frieken goed af. As jy dit nie doen nie, doen ek dit self.”

“Nee! Jy doen dit nie aan my nie.”

Miskien moes ek. Sommer met Ma se kombuisskêr. Dalk het ek dan die gewenste resultate gekry.

Wynne lyk asof sy troetelkat onder ’n lorrie beland het en nie oorleef het nie. Maar ek sien tog hoe die kreatiewe sappe in hom begin vloei. “Maybe …just maybe … sal die look jou nogal pas,” mymer hy. “’n Deur-die-blare-style, jy weet?”

Ja, ek weet. Deur die blare. Die prototipe dom blonde. Dis ek daai.

“Funky,” prewel Wynne. Hy staan effens terug, begin op sy hakke wieg, sy hande in die sye. “Hang on, doll. Gee my kans dat ek my bearings kry. Ek gaan vir jou ’n hairstyle gee wat die yin en die yang van die lewe simboliseer.”

Hy kry sy instrumente en implemente bymekaar en roep sy assistent nader. “Jaybee, jy en die girls moet die ander customers handle. Ek wil nie gedisturb word nie. This is going to be a work of art.”

Wynne doen ’n paar strekoefeninge met sy hande. “Musiek, Jaybee!” roep hy oor sy skouer. “Die ‘Friska’-deel van die Hongaarse Rapsodie nommer twee van Liszt. I need a little madness for this.”

Hy wag totdat die ontstoke klaviernote oor die luidspreker gehoor kan word voordat hy begeesterd inspring en begin sny. Ek wil-wil ’n angsaanval kry, maar dis te laat daarvoor. Staan ek nou hier op, sal dit wees met ’n paar lelike happe in die hare. Dis ’n off-beat stuk musiek, dink ek, net so off-beat soos ek my hare wil hê. Die musiek huppel en Wynne huppel en die skêre en ander blink dinge in sy hande huppel en ek maak nie ’n geluid nie. Soos ’n lam ter slagting sit ek daar, oorgelewer aan ’n mallerige man met ’n skêr in die hand.

Kyk, ek het ’n sterk gestel, maar nie só ’n sterk gestel nie. Ek maak eerder my oë toe en gee my oor aan die musiek wat nou vir my klink soos ’n by wat nektar ingekry het wat gespike was. Daar is ’n buzz in my kop en my lyf voel ook nie te rustig nie. Wat makeer my? Wat vang ek aan? As ek nie ’n boring blonde is nie, wat ís ek dan?

Dis te laat vir omdraai.

Toe die musiek wegsterf, raak die geknip-knip bo my kop ook stil. Maar ek is te bang om my oë oop te maak. Dis doodstil in die haarsalon, dis asof selfs die haardroërs asem ophou oor die slagting wat hier plaasgevind het. Wynne vroetel met sy vingers deur my hare. My hare? Watter hare? Ek draai my kop, nog steeds met my oë toegeknyp. En skielik voel ek so lig soos ’n feetjie.

“Jy sal die een of ander tyd moet kyk, skat,” herinner Wynne my.

Toe maak ek maar my oë oop, eers stadig en toe wyd. Toe oopgesper. Toe skuif ek nader aan die spieël om seker te maak dat ek reg sien. Ek ken die vroumens voor my van geen kant af nie. Sy met haar hare soos die vere van ’n verkeerdeveerhoender in allerhande rigtings. Sy met haar flentertjies hare – diekant toe, daai kant toe – sy met haar pikante, parmantige haarstyl wat alle voorgeskrewe reëls oor vorm en fatsoen oortree.

Sy … hierdie girl hier voor my … is HOT!

“Wow, Wynne,” is al wat ek uitkry.

“Fabulous, nè?”

“Dis waarvoor ek gevra het en ook nie.”

“Dit is soveel beter.”

“Dit is … stunning, awesomerowend shockingly stunning!” Ek spring orent en slaan my arms om hom. “Wynne, jy is my hero. Ek trou sommer met jou!”

“Not to tap-dance on your parade, lovey – not gonna happen!”

Hy lag, ek lag, sy assistent lag, die girls lag en die clients onder die haardroërs lag ook. Ek gaan sit weer voor die spieël.

“Wat gaan jou ma sê?” vra Wynne effens benoud.

“Dat ek en jy al twee hulp nodig het.”

Dis nou te sê ás sy iets agterkom.

“Eintlik gee ek nie om wat jou ma of die pous of die fashion police sê nie, ek laaik wat ek sien. Miskien begin jy ’n nuwe trend.”

“Nee. Asseblief nie. Dan lyk al ons blondes weer een van die dae dieselfde.”

“So jy gaan blond bly? Dankie tog. For a moment was ek bang jy wil jou hare kleur ook. Dit sou ’n disaster wees.”

Ja, besluit ek, ek gaan blond bly. Die wêreld behoort aan blondes. Te hel met Jane en wat sy voel oor blondes wat a dime a dozen is.

“Miskien moet ek ’n tatoe ook kry,” mymer ek.

“Ek ken ’n ou wat ’n mean skeleton doen,” stel Wynne voor.

“Ek het eintlik iets anders in gedagte gehad, maar ons kan dalk onderhandel. Sodra ek geld het om daarvoor te betaal.”

Toe ek daar by Wynne wegstap, is daar vlerke aan my voete.

Ek gaan met nuwe ywer in op Gumtree. Vandag is die dag dat ek aansoek doen vir elke werkie wat daar aangebied word. Wel, amper elke werkie wat my sedes so min of meer ongeskonde laat. Verkieslik iets wat by my nuwe happerige haarstyl pas. Iets ongewoons, maar ook glamorous. Iewers waar daar oopkop mense is, mense wat sal weet hierdie haarstyl van my wat eintlik nie ’n haarstyl is nie, is hot, hot, hot!

Dis waarom die werk by Happenings vir my so reg lyk toe ek daarvan lees. ’n Anderste haarstyl en ’n bietjie bling is dalk net wat ’n mens nodig het as jy ’n assistent-funksiebeplanningskoördineerder wil wees.

Sjoe! Dit sal sowaar indruk maak as iemand jou vra wat jy vir ’n lewe doen en jy hom so kan antwoord: “Ek is ’n assistent-funksiebeplanningskoördineerder by Happenings.” G’n mens sal seker weet waarvan jy praat nie, maar hulle sal huiwer om uit te vra en hul onkunde te openbaar. En jy sal vir belangrik en interessant kan deurgaan. Hoe cool sal dit nie wees nie!

Nie dat ek self honderd present seker is wat dit gaan behels om jouself ’n assistent-funksiebeplanningskoördineerder te noem nie, maar Happenings klink vir my hip genoeg vir my haarstyl. En dalk is dit wat ek van nou af moet doen – my nuwe lewe aanpas by my nuwe voorkoms. ’n Barbie met ’n effense verskil, ’n Barbie met binnegoed. Maar nog steeds met die blondste hare buite die grense van Swede, Switserland én Finland.

Sommige dinge is eenvoudig nie onderhandelbaar nie. Sug.

Maar ek is mos altyd laat. So gebore en sal so doodgaan. My oë soek deur die advertensie vir die sluitingsdatum. Ja, nes ek gedink het. Dis vandag. Nie oor ’n week sodat ek mooi my kop onder my platinumblonde hare bymekaar kan kry nie, nie oormôre of môre nie, maar vandag. Ma is natuurlik in haar grot, Pa is missing in action, Wynne het genoeg van my gehad vir hierdie eeu en ek is skielik dommer as gewoonlik. Wat moet in ’n CV staan as jy ’n … ’n … so ’n ding wil wees?

Dis net Jane wat beskikbaar is. Jane wat haar hande saamslaan toe sy my met my verestoffer-haarstyl sien en só haar stamp of approval gee. Hoeveel sy in hierdie eeu, hierdie millennium gaan werd wees met die opstel van ’n CV, weet ek nie. Maar sy is ten minste gewillig.

“As jy gaan lieg, word jy uitgevang,” gee sy raad. “Maar dis nog nie te sê jy moet the truth and nothing but the truth vertel nie. Daar is ’n verskil tussen ‘need to know’ en ‘spill your guts’.”

“Wat is die verskil, Jane?”

“Jy sê jy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar jy sê nie jy het soos ’n yellow-bellied quitter in die helfte van jou laaste jaar weggehardloop nie. Die mense sal na jou hare kyk en dink jy het ’n skrik gevang en is nie all there nie.”

So leer ek aan die voete van ’n meesteres hoe om net so langs die waarheid te wandel en my helderder in te kleur as wat ek seker in my dag des lewens ooit sal wees. Ons dik sommer ook ’n bietjie aan oor hoe goed ek met die Britse ou tannies en hul kwale gevaar het. Om eerlik te wees was dit daar ’n paar keer touch and go. In my Londen-dae het ek natuurlik nog nie ’n noodhulpkursus geloop nie en het Harold the Handy Hunk vir my toutjies getrek om werk te kry. Die bliksem.

Eintlik was dit vir my pretty gross om die ou tannies te versorg. Ek was jammer vir die arme ou siele, natuurlik was ek. Geen mens kan hulle in die oë kyk en nie verkrummel nie, maar ek weet nie of ek aldag alles reg gedoen het en of ek die hande vol pille wat hulle gesluk het, reg uitgedeel het nie. Dit troos darem dat nie een van hulle die tydelike met die ewige verwissel het terwyl ek met hulle doenig was nie.

“Jy kan nie lieg om jou lewe te red nie, Dezi,” het my ma my jare gelede al gewaarsku. “Jy moenie eens probeer nie.”

Natuurlik weet ek wat sy bedoel het: dat ek te dom is om behoorlik te lieg. Om oortuigend en logies te lieg en met jou liegstorie vol te hou al slaan die vlamme blou bo jou kop uit, moet ’n mens die geheue van ’n olifant hê. Net jammer daar is nie ’n kursus wat ’n mens daarvoor kan loop nie. Ek het al probeer uitvind. Tentatief, natuurlik, want ek wou nie blatant daaroor lieg dat ek eintlik wou leer lieg nie.

“Neem dramalesse,” dis die beste raad wat ek kon kry. “As jy goed kan toneelspeel, kan jy goed lieg ook.”

Toe sluit ek drama in by my keusevakke, selfs al weet ek toe al ek het nie die gift of the gab nie. En toe maak ek ’n lieflike gemors daarvan. Miskien moet ek my ma eintlik daarvoor bedank dat sy my uit die dramaklas gedryf het. Maar verskoon my – ek is nog nie dankbaar genoeg daarvoor om dít te doen nie.

“Jy weet natuurlik jy kan deesdae ’n graad oor die internet koop, Dezibelle. Selfs ’n doktorsgraad as jy bereid is om genoeg te betaal.”

“Wat weet jy daarvan, Jane? Jy het dan nie eens internet nie, net ’n rekenaar wat nog met paraffien werk waarmee jy konsuis jou memoires skryf.”

“Ek hoor maar so by my gentleman callers.”

Ek spits my ore. Ek wag in spanning vir hierdie memoires wat Jane glo skryf, want ek wil eerste wees om dit te lees. Jane bly vir my ’n enigmatiese wese, sy met die gesig soos ’n grenadella en die lyf van ’n ballerina. Tot my spyt. Ek sou graag meer van haar vintage en retro klere wou leen, maar die meeste daarvan pas my nie. Veral die bloesies kry ek nie toegeknoop nie.

Vandat ek maar kan onthou, bly Jane hier langs ons, maar ek weet nie veel van haar af nie. Jane het ’n geheim, dit kan enigiemand raai, maar sy lap nooit iets uit nie. Nie van haar verlede of van haar hede nie. Oor gentleman callers het sy nog nie voorheen gepraat nie.

“Gentleman callers, Jane? Is jy nie te oud vir gentleman callers nie?”

“Never too old for love, Dezibelle, never too old.”

Nou het sy my behoorlik nuuskierig. Niemand weet wat agter die toegetrekte gordyne in Jane se huis aangaan nie. Daar is tye wat sy nie die deur oopmaak nie, nie eens op ’n skrefie nie. Nie eens vir my nie en ek is spesiaal. Of altans, dis wat sy my altyd laat glo.

Ek haat dit! Daardie tye wat ek nie my ma of Jane se aandag kan bekom nie. Almal se boeke is duister behalwe myne. Tot dusver, voordat ek in ’n platinum blonde met ’n happerige haarstyl omskep is, was my boek so boring dat geen mens daarin sou wou lees nie. Selfs my storie met Harold the Hateful is nie sappig genoeg om oor te vertel nie, net dom. En simpel. My boek was so bleddie boring, nie eens die vismotte wou daaraan vreet nie. Dezi die Dowwe Dolla, die Dooie Drel.

Selfs my ma het in die tye wat sy uit haar grot kom al oor Jane se besoekers probeer uitvra. Nogal by my, asof ek sou weet. En as ek geweet het, dit met haar sou deel. Sal die dag wees. Jane is mý vriendin. Wel, soort van, want die ou ding is eintlik te oud om enigiemand se vriendin te wees. Maar as sy die waarheid praat, blykbaar nog nie te gedaan vir gentleman callers nie.

As ’n mens deur die vensters op die boonste verdieping van ons huis kyk, kan jy soms motors sien wat feitlik geluidloos hierheen sluip en by die rylaan indraai. En dan aan die ander kant van Jane se huis verdwyn. En dis hoe ver die storie strek. Want wat daarna gebeur, daar waar die tuin so bebos is dat selfs ’n tuindwergie sal verdwaal, is vir niemand sigbaar nie.

“Jou gentleman callers klink nie vir my besonder edel van inbors nie, nie as hulle jou daarin onderrig om vir jou ’n doktorsgraad oor die internet te bekom nie.”

Jane lag. “No need,” verseker sy my. “Ek het myne op die harde manier verdien.”

Ek kyk na haar asof sy so pas uit ’n alien-eier uitgebroei het. “Jou wat?”

“My PhD, my dear.”

“Ag, jy lieg, Jane!”

Sy haal haar skouers op. “If you say so …”

Ek gaan sit eerder, want my bene is lam. Die vrek weet, as dit waar is, as selfs Plain Jane van langsaan ’n regte, egte doktorsgraad het, spring ek oor die muur en doen iets onverantwoordeliks. Ek weet nie wat nie, net iets sodat daar van my geweet sal word en in die koerante geskryf sal word … voordat ek heeltemal verdwyn.

“Jane?” My mond is droog.

“Doctor of Philosophy in Social and Behavioural Sciences, Dezi. Good as new. Baie min gebruik. If ever.” Sy frons effens. “Want wat ek gou genoeg agtergekom het, is the more I learn, the less I know.”

“Flippit, Jane! Wat gaan hier aan? Was daar iewers ’n uitverkoping van doktorsgrade wat ek gemis het? Dis hierdie plek, ek sweer, daar moet iets in die water wees. Of in die lug. Dalk iets wat die frieken akkerbome afgee. ’n Stankie wat almal in die omgewing van die Stellenbosse universiteit na dikke akademiese boeke laat gryp.”

“Stellenbosch University? Who? Me? Daai jare toe ek my doktorsgraad gekry het? You must be joking, Dezi. Ek sou nie eens op kampus toegelaat word nie.”

“Nou waar dan, Jane? ’n Ivy League-universiteit?” Ek raak maar so sarkasties wanneer die lewe of die mense van hierdie lewe my met ’n klip teen die kop gooi.

“Wel, dit was nie Harvard nie.” Jane lag. “Maar dit kon netsowel wees. Ek het ewe out of place gevoel by Wits University. Ek het my lewe lank in ’n … wel, in ’n skoenboks gebly. Of so het dit gevoel. En all of a sudden was ek uit my comfort zone, was ek ’n klein swart miertjie tussen ’n streep mal miere wat nooit tot rus gekom het nie. Studente, politics, boeke, my kop het gedraai. Gelukkig was daar ’n ryk ou ballie met ’n skuldige gewete en ’n bleeding heart wat vir my studie betaal het, anders sou ek dit nooit kon doen nie.”

Dis nou ’n total waste as daar ooit een was. Jane wat ’n doktorsgraad het! En my ma. Wie nog? Dalk verras die tuinier my ook.

“Vertel my daarvan, Jane. Ek wil weet waar kom jou doktorsgraad vandaan.”

“Wat is daar om te vertel, kind? Dit was many moons ago. Ek was jonk.”

“En slim. Jy moes slim genoeg gewees het om daardie doktorsgraad te kry.”

“Ek was.” Sy gee daardie kekkellaggie van haar. “Ek is nog steeds.”

“Maar kan jy miskien bollemakiesie slaan? Of ’n wawiel doen?” probeer ek ’n grap maak.

“Can you dance the tango?” wil Jane laggend weet.

Ek begin dink ek verstaan waarom sy nooit getroud is nie. Geen man sal kans sien vir ’n vrou wat ’n antwoord het op alles wat na haar kant toe gegooi word nie.

“Nee, Jane, ek kan nie tango nie. Ook nie behoorlik two-step nie. Ek kan eintlik nie baie goed dans nie, weet jy? Daar was nog nooit iemand wat my wou leer nie.”

Die woorde dra swaar aan sarkasme en sommer plein bitterheid ook. Handsome Harold is ’n voordanser, maar dis nie wat hy my wou leer nie. Om te rook, ja, en nog ’n hele paar ander lyflike dinge wat ’n ouderdomsbeperking van meer as ’n brose agttien jaar behoort te hê.

“Vir my was daar iemand wat my leer dans het. ’n Man. ’n Man soos wat hierdie aarde nog nie weer gesien het nie. Philip.”

“Philip?”

“Hy, ja. The love of my life.”

Jane staar droomverlore voor haar uit. Hier kom ’n storie of my naam is nie Dezi Diedericks nie. Great. Nóú is Jane blykbaar in ’n geselsbui, nóú is die regte tyd om alles oor haar verlede uit haar te trek. Noudat ek my CV in aller yl op die rekenaar moet kry om dit vandag nog betyds vir Happenings te e-pos.

“Jinne, Jane,” baklei ek met haar. “Jy weet hoe graag ek jou storie wil hoor, maar jy klap altyd toe as ek daaroor begin uitvra.”

Jane sug. “Ag, wat help dit tog om daaroor te praat, Dezi? Dis yesterday’s news.”

Ek sien hoe sy haar uit die verlede na die hede terugdwing. Nog ’n geleentheid om haar beter te leer ken daarmee heen.

Eers toe ek my CV in Times New Roman vir die bestuurder van Happenings gestuur het, probeer ek my kop agtermekaar kry en verwerk wat Jane my vertel het. Dat sy iewers in ’n laai ’n ou doktorsgraad versteek hou, waar dit stof vergader omdat sy dit nie nodig het nie. Ek gun myself genoeg tyd om daaroor te tob en my wonde te lek, na hartelus te filosofeer oor waarom die lewe so onregverdig is. En waarom ou Murphy sy mes in het vir my. Veilig in my geheime hoekie heel agter in die tuin waar niemand my kan sien nie, natuurlik met ’n sigaret tussen my vingers. Die vet weet – dis ’n wonder ek gee my net oor aan sigarette, nie aan hoërskoolseuns of drank nie.

Die engel rook skelm

Подняться наверх