Читать книгу Dokter van drome - Kristel Loots - Страница 3

1

Оглавление

“En is jy darem iets vir die oog?”

Anastasia vererg haar tot in haar haarwortels. Sy’t sweerlik verkeerd gehoor. Op hierdie dag en datum waar blatante diskriminasie onder die sewe doodsondes begin tel, sou Juan Harmse dit sekerlik nie waag om dáárdie vraag te vra nie.

“Ekskuus?” Sy hoor hoe skril haar stem skielik klink. Ag, aarde tog – sy hét dan haar uiterste bes gedoen om met die regte stembuiging en intonasie te praat! Beskaaf, professioneel en gesofistikeerd soos dit ’n ware dame betaam.

“Ek wil weet hoe jy lyk, juffrou De Wit. Ek kan nie die pos vir iemand aanbied wat Okypete se ewebeeld is nie.”

Anastasia soek na woorde. “Okypete?” stotter sy.

Daar is ’n sug in sy stem. “Ja, juffrou, een van drie lelike susters wat –”

“Ek weet wie Okypete is,” onderbreek sy hom. “En ek ken selfs haar susters by name. Podarke en Aello, as ek reg onthou.” Met meer geluk as wysheid en net omdat sy nog ietsie van die Griekse mitologie uit haar letterkundeklasse onthou. “Aaklige monsters met kloue wat vroeër in kunswerke as drie blonde susters uitgebeeld is.”

Ek ís blond, dink Anastasia vies, maar dis waar die ooreenkoms ophou!

“Die een leliker as die ander,” grom hy.

“Ek wonder net of enigeen van die drie susters nie die werk net so goed sou kon doen soos die een of ander pragtige ou poppie nie.”

“Nee. Nie in my bedryf nie.”

“Dokter, ek kan dit nog verstaan as jy my uitvra oor my mediese opleiding en ondervinding, maar dit behoort nie saak te maak of ek ‘iets vir die oog’ is nie.” Anastasia het geen beheer oor die sarkasme wat haar stem kleur nie.

Sy besef skielik sy klem die telefoon se gehoorbuis so styf vas dat haar kneukels wit wys. Natuurlik moet sy nie so met hom praat nie, sy weet! Natuurlik oorskry sy alle grense van ordentlikheid, en welvoeglikheid en protokol is ook lankal by die venster uit. Sy behoort haar te skaam – morsdood te skaam, sy weet, sy wéét!

Maar sy is op! Op, klaar, gedaan!

Behoorlik óp vir hierdie bakhandstanery vir werk asof sy niks het om aan te bied nie. Eintlik wil sy aan die skree gaan en nie sommer gou weer ophou nie.

“Ek het jou CV hier in my hand, meisie. Dit lyk darem of jy kan spel en ’n bietjie Engels kan praat, en ten minste weet watter punt van ’n koorspen in ’n pasiënt se mond moet kom.”

My mediese kennis strek heelwat verder as dit, dokter Weet-als, sou sy vir hom kon sê. Maar dis die laaste ding wat sy wil hê hy moet weet. Die dae toe sy lewe en dood in haar hande gehou het, is vir altyd verby. Al wat sy nou kan hanteer, is min of meer om ’n bedpan en ’n koorspen te beman en ’n pilletjie of twee te voer.

“Dit maak in elk geval nie veel saak nie,” mymer hy nog. “Ek is nie op soek na ’n verpleegster per se nie. Daarvan het ek genoeg en hulle is almal van die boonste rak. Ek laat nie sommer enigiemand naby my pasiënte los nie.”

Dan sal jy mý beslis nie binne ’n meter van jou pasiënte af wil hê nie, dokter Harmse, dink Anastasia heimlik, maar sy kry dit reg om glad nie op sy bedekte belediging te reageer nie.

“Ek het iemand nodig wat met die pasiënte kan kontak maak, wat as middelman tussen my en hulle kan optree. Iemand wat kan organiseer, sosiaal aanvaarbaar is en goeie menseverhoudinge handhaaf.”

“En wat iets vir die oog is?” Sy wou dit nie vra nie, sy wóú nie!

“Vanselfsprekend,” antwoord hy onverstoord. Sy hoor hoe hy deur iets blaai, heel moontlik die uitdruk van die bonkige CV wat sy vir hom per e-pos gestuur het.

“Hm. Hoofmeisie, studenteraad, redaktrise van die universiteitskoerant, Jong Dames Dinamiek, die hele toetie. Mooi, soet dogtertjie. Een van daardie kosbaarder-as-korale tipe vroue,” mymer hy. “Jy sê jy hét voorheen in ’n dokter se spreekkamer gewerk. Op die platteland, sien ek, maar ek kry geen verwysings of ’n telefoonnommer hier nie.”

“Ek kan dit aanstuur as dit nodig is, dokter.”

Sy kan miskien, maar sy sal nie, dink Anastasia bitter. Die doktertjie sal haar op sigwaarde moet aanstel as hy enigsins belangstel, want na Gerrit toe kan sy hom nie verwys nie. As hy die dinge van Gannaskraal uit Gerrit se mond moet hoor, word sy summier die deur gewys.

“Wees net eerlik met die man,” het haar ma raad gegee toe sy hoor Anastasia gaan aansoek doen om die pos as ontvangsdame by die vermaarde dokter Juan Harmse. “Vertel hom wat op Gannaskraal gebeur het sonder om doekies om te draai. Verduidelik alles vir hom. Hy sal verstaan.”

Ja, sure, Ma. En die maan is van kaas en die tandmuis is nie ’n mite nie. Ek kan natuurlik vir hierdie siniese bliksem aan die ander kant van die telefoonverbinding vertel dat ek onder ’n wolk weg is van Gannaskraal, met betraande ogies by hom gaan pleit om my ’n tweede kans in die lewe te gee, hom van my onskuld probeer oortuig. Ga! Ek kan net sowel teen die wind hoes! Al my pleidooie het nie destyds gehelp toe ’n hele dorp my verguis het nie, waarom sou dit nou anders wees?

Nee, om dit te waag, sal professionele selfmoord wees.

Al waarvoor sy kan hoop, is om dokter Harmse met haar popgesiggie en haar mooi maniertjies te beïndruk sodat hy haar ’n kans sal gee. As sy eers die werk gekry het, sal sy haar slag gou genoeg wys. Anders is daar vir haar geen genade nie – sy sal haar tasse moet pak om in die Midde-Ooste verpleegwerk te gaan doen. Daar waar ’n vrou maar min regte het. Eina tog!

Sy wil eerder hier bly, hier in die land waar sy gebore is. Baie van haar vriende is landuit, maar hulle kerm gedurig oor hoe hulle huis toe verlang. Vir daardie vervreemding sien sy nie kans nie.

Sy moet iets sê om haarself te bemark, die mansmens aan die ander kant van die telefoonverbinding ompraat om haar te woord te staan. Sy’s miskien nie heeltemal ’n mens-mens soos die ghoeroes wat die pienk selfhelp-boekies skryf dit wil hê nie, maar as hy haar ’n onderhoud toestaan, sal hy hopelik sien sy is nie sommerso nie.

“Glo my, ek weet hoe om lastige pasiënte van ’n besige dokter af weg te hou,” sê sy met ’n laggie. Sy wag vir hom om te antwoord, maar dit gebeur nie. “En om klippe uit sy pad te rol,” voeg sy by.

Daarvan het sy genoeg ondervinding by Gerrit opgedoen. Hom vertroetel asof hy iets besonders was, koffie aangedra, melktert ook vir spesiale geleenthede, tant Sarie met haar ipekonders reggesien wanneer sy hom onnodig kom pla het. Sy’s ’n voorslag as dit die dag nodig raak, ’n staatmaker.

Sy’s inderdaad kosbaarder as korale en sy moet Juan Harmse daarvan oortuig. Net jammer haar ingebore bitsigheid kry die oorhand tydens hierdie telefoonoproep en beduiwel blykbaar haar kanse. Want sy stilswye beloof niks goeds nie …

Dis net … ag, liewe aarde tog! Dat sy nou al weke lank op soek is na werk en haar elke keer teen ’n muur vasloop. Doen sy aansoek by ’n vrou, gee dié haar een kyk en kan dan nie gou genoeg van haar ontslae raak nie. Die mans vra wel haar telefoonnommer om ’n afspraak te maak, maar wil ook nie hê sy moet vir hulle werk as sy nie verwysings het nie.

Ek wil nie ’n man hê nie! wou sy al uitroep. Of ’n kêrel, of ’n skelmpie of selfs ’n vriend nie. Ek kan sonder daai klaarkom in my lewe, dankie. Wat ek nodig het, is ’n werk wat die rekeninge sal betaal en wat sin aan my lewe sal gee. Dis al!

Sy hoor nog steeds die geblaai aan die ander kant van die verbinding. Die dekselse mansmens het duidelik nog nie voorheen haar CV onder oë gehad nie en lees nou eers alles wat sy so noukeurig daar neergepen het.

“Miskien moes jy liewer ’n foto saamgestuur het,” laat hy hoor.

“Sodat jy kan sien of ek mooi genoeg is om die werk te doen?”

Verbeel jou. Sy jy en jou vir Juan Harmse die Grote, so al asof hulle op gelyke voet verkeer. Aan die begin van die gesprek het sy gedokter-dokter, ge-u en ge-asseblief en ge-dankie dat die kranse antwoord gee. Te vreeslik! Maar êrens langs die pad het haar Emsie Schoeman-maniertjies in die slag gebly.

Miskien was dit toe hy hul telefoongesprek die derde keer onderbreek het om ’n ander oproep te beantwoord. Of miskien is dit omdat hy met haar praat asof sy ’n onderdaan is.

Sy is! Sy ís eintlik ’n onderdaan, maar sy pas nie goed in die rol nie!

“Dis reg, ja,” antwoord hy onverstoord. “Dis een van die vereistes waaraan die suksesvolle kandidaat moet voldoen. My ontvangsdame se gesig is die eerste waarteen my voornemende pasiënte vaskyk wanneer hulle hier aanland en sy kan nie lyk soos ’n operasie wat ’n misoes uitgedraai het nie.”

“Wel …” laat sy huiwerig hoor. “My hare krul van nature en ek het dit lank laas laat reguit maak.” Die meeste mense bewonder haar wilde blonde boskasie en sy kry heelwat komplimente daaroor. “Op die oomblik trek ek nogal ’n bietjie na Medusa, jy weet.”

Toe hy nie onmiddellik reageer nie, gryp sy die geleentheid aan om hom in eie munt terug te betaal. “Medusa, jy weet? Een van die Gorgone uit die Griekse mitologie?”

“Wat so verwaand geraak het dat sy reggesien moes word, ek weet, ja. En daarna die arme ouens wat haar per ongeluk raakgesien het, laat versteen het. Ai … te … tai … te … tai! Dit sal nie goed wees as jy my pasiënte in klip laat verander nie. Veral nie as ek nog aan hul gesigte moet werk nie. Het jy ook Medusa se wrede geaardheid geërf?” wil hy weet. “Dit klink so.”

Anastasia sug innerlik. Sy het die kans om vir ’n persoonlike onderhoud genooi te word liederlik verbrou. O wel, dan is dit maar hoe dit is, besluit sy gelate. Another one bites the dust.

“Sou sissende slange om my kop my dus verder diskwalifiseer?” Sy speel senuweeagtig met die koord van die telefoon tussen haar vingers.

“O, beslis, ja. Ek het ’n sustertjie sonskyn in my spreekkamer nodig, nie ’n feeks van ’n vrou met ’n giftige tong nie.”

“Ek verstaan,” sis sy. “Sag en lief. Seker om by jou eie innemende geaardheid en sjarmante persoonlikheid te pas. Ek kan sommer hoor jy is Prince Charming in lewende lywe.”

As sy nie van beter geweet het nie, sou sy kon sweer sy hoor hom sag lag.

“Ek hou my sjarme vir my pasiënte, juffrou De Wit. Anders sal my gestel dit nooit hou nie. Daar is niks wat jou gesigspiere so moeg maak soos om heeldag ’n glimlag te veins nie.”

“Is dit jou professionele mening?”

“Nee wat, enige bobbejaan kan jou dit vertel.” Sy stem verander, raak meer formeel. “Ek sou nog ure lank so met jou kon sit en ginnegaap, meisie. As ek nie ’n praktyk gehad het om na om te sien nie.” Sy hoor hom weer in iets blaai. “Wag, laat ek sien hoe lyk die res van my dag. Dit gaan dol hier sonder ’n assistent en ek moet regtig so gou moontlik iemand aanstel om my te help.”

’n Sprankie hoop ontvlam weer. Kan dit wees dat hy dit tog oorweeg om haar van aangesig tot aangesig te ontmoet?

O, sy sal nie ’n voet verkeerd sit nie, sy sweer.

’n Pil drink om haar senuwees te kalmeer as dit sal help. ’n Wag voor haar mond hou. Sy sal ja en amen en so inskiklik wees dat hy nie sal weet wát hom getref het nie. ’n Engel uit die hemel! Stepford wife par excellence. En hopelik sal hy vergeet van haar voortvarendheid tydens hierdie telefoongesprek, dit aan PMS of so iets toeskryf.

“Ek het tot onlangs toe ’n rol in ’n sepie gespeel,” sê sy toe dit te lank stil is na haar sin. “Ek was Debora in Die dae van ons liefde – ek weet nie of jy die reeks ken nie.” Dit behoort hom gerus te stel oor haar voorkoms.

Hy lag. “Jong, ja, deesdae is sepies so volop soos vlieë in die somer.”

“En word sepiesterre onder elke bos uitgeskop?” Sy lag ook. Ewe inskiklik.

“Ja, wel … en dit hang natuurlik ook af of jy die rol van die heks of dié van die heldin gespeel het.”

Wys jou wat hy weet. In ’n sepie is die feeks van die verhaal dikwels die mooiste in die land, dink Anastasia. Hy lap miskien die gesigte van sepiesterre, maar dit lyk nie of hy veel van die intrige van ’n verhaal af weet nie. Ook nie juis van Die dae van ons liefde nie.

Sy het gehoop dit sou hom beïndruk dat sy deesdae ’n taamlik bekende gesig is en selfs onder die wie’s wie tel wat spesiaal na glansgeleenthede uitgenooi word. As die okkasie nie te groot of belangrik is nie …

“Waaraan is jy toe dood?” wil hy weet en weer verbeel sy haar daar is ’n glimlag in sy stem.

“Ek verstaan nie …” Sy dwing haar gedagtes terug.

“In die sepie, meisie. Dit lyk nie of jy oorleef het nie.”

“Dit was net ’n tydelike rolletjie,” skerm sy. “Die vervaardigers wou eers sien hoe die kykers op die karakter sou reageer. Dit was ’n soort proeflopie.”

“En toe word jy geweeg en te lelik bevind?”

“Nie noodwendig nie. Daar bestaan die moontlikheid dat ek in die toekoms aan die vergetelheid ontruk sal word.”

“Wanneer jy uit jou koma kom?”

Nou twyfel sy nie meer nie – hy spot met haar, die blikskottel!

“Nee!” verseker sy hom en verander haar stem met opset om so dramaties moontlik te klink. “Ek is helaas dood en begrawe. Ses voet onder die grond. ’n Motorongeluk, as jy nou moet weet. Teen ’n krans af. In vlamme. Baie dramaties. Baie treurig. Daar was nie ’n droë oog in ’n Suid-Afrikaanse sitkamer nie. Maar …” Sy aarsel ’n oomblik, hoor hoe hy onderlangs lag. “Maar … ek het glo ’n tweelingsuster, een wat net so beeldskoon is soos ek.”

“Dis al wat ek wou weet, engel. Dat jy beeldskoon is. Ek wou nie jou hele lewensverhaal hoor nie.”

“Ja, ek is mooi genoeg,” sug sy. En dit het my al diep in die moeilikheid laat beland, dink sy bedroë.

“Met Medusa-hare en al?”

Vir ’n plastiese chirurg wat so gewild is dat jy glo maande voor die tyd ’n afspraak moet maak as jy hom te siene wil kry, het die man baie tyd vir twakpraatjies.

“Ja. Dit word as een van my pluspunte beskou. Ek is blond en … en mans is mal oor my.”

Sy kan raai hoe grootdoenerig dit klink, maar dis dalk die enigste taal wat hierdie arrogante man sal verstaan.

“Was daar nog iets wat jy wou weet?” vra sy.

“Nee wat, jy klink mooi genoeg, maar ons sal drasties aan daardie houdinkie van jou moet werk.”

Anastasia sluk die bytende woorde wat in ’n vloed oor haar lippe wil stroom. Hy’t gelyk. Sy sal haar moet regruk, deernis in haar hart moet kweek as sy vir dokter Juan Harmse en sy pasiënte ’n sustertjie sonskyn wil wees. Maak nou nie saak wat sy van hulle dink nie. Haar persoonlike sieninge oor mense wat die mediese beroep so misbruik, is nie ter sake nie.

“Is jy nou by die huis?” vra die einste dokter onverwags.

“Ja …”

“Waar bly jy?”

“Waar ek bly?”

Wat op aarde traak dít hom? Dring hy selfs daarop aan dat ’n mens die regte adres moet hê voordat jy sy pasiënte se name in ’n afspraakboek mag skryf? Is daar dan werklik geen perke aan sy hovaardigheid nie?

“Ja, liefie. Jou adres? Jou huis? Waar is dit?”

“Panorama.”

Dis eintlik Parow, maar Panorama klink beter. Jammer dit kan nie Welgemoed wees nie.

“Waar?”

“Die Sonskyn-kompleks in Beyleveldstraat. Hoekom?”

“Beyleveldstraat? Die een met die baie bome? Dis mos in Parow. Ek dink ek weet waar dit is. Ek kry jou oor ’n halfuur daar.”

“Ek verstaan nie?” Aarde tog, sy klink soos ’n papegaai.

“Dan ry jy gou saam met my lughawe toe. Ek moet twee pasiënte wat van New York af kom daar ontmoet. Ons kan langs die pad gesels en jy kan sommer sien wat ek van ’n ontvangsdame verwag.”

“Dat sy mense moet ontvang?”

Dis die skok wat haar sulke moedswillige vrae laat vra, sy weet.

“Glo my, dit strek veel verder as dit. Jy sal sien.”

Daarmee beëindig hy die gesprek en verbreek die verbinding.

Anastasia staan ’n oomblik soos ’n zombie met die gehoorbuis in die hand. Die man moet mal wees. Hy kan tog nie hier by haar aangesit kom nie. Om te wat? Te sien hoe sy leef?

Sy kyk vervaard om haar. As dit is wat hy wil doen, gaan sy nie die toets slaag nie. Haar varkhokkie lyk verskriklik. Koerante die wêreld oor, ’n vuil koffiebeker, kussings wat rondgestrooi is. Sy’t verbete werk gesoek die afgelope paar dae, nie nesgeskop nie. Sy weet nie eens waar die stofsuier is nie, nog minder of sy die ding al ooit uitgepak het vandat sy hier ingetrek het.

Toe sien sy haar beeld in die gangspieël en dit voel of die plafon op haar kop beland het. Sy lyk inderdaad na ’n kruis tussen Okypete en Medusa. Of soos Liewe Heksie op een van haar niemand-is-lief-vir-my-nie-dae, dink Anastasia, net duskant histerie. Met haar hare soos ’n stralekrans om haar kop en geklee in ’n T-hemp wat ’n tyd gelede al tot ’n vloerlap gedemoveer moes gewees het. Sy lyk sleg!

Na die duiwel met die woonstel. As jy ’n man op sy Achilles-hiel wil tref, kry jy dit gewoonlik nie met ’n netjiese woonstel reg nie. ’n Halfuur! Sy’t ’n skrale halfuur om haar mooi te maak en iets aan haar lyf te kry wat die vitterige dokter tevrede sal stel. Waar, o waar is Aspoester se towertante as ’n mens haar die dag nodig het? wil sy op moedverloor se vlakte van die mure om haar weet.

Sy’s nie naastenby gereed toe die klop aan die deur kom nie. Haar hare is nog klam van die stort en sy’t nie ’n tikkie grimering aan nie. Verder tol haar kop soos ’n mallemeule wat buite beheer geraak het. Dit kan seker nie al hý wees nie, kan dit? Sy’t nie eens vir hom gesê watter van die ry woonstelle hare is nie. Maar … maar hy kon seker haar naam onder by die posbusse gelees het.

Anastasia de Wit. Júffrou Anastasia de Wit. Enkel en alleen. Sonder ’n huismaat, sonder ’n man, sonder ’n kat of ’n kanarie.

Anastasia weet nie wát om te doen nie. Haar hare probeer kam of terugvlug kamer toe om ’n smeersel lipstiffie aan te sit? Met ’n hand wat so aan die bewe is, gaan sy in elk geval ’n lieflike gemors daarvan maak.

Toe daar die tweede keer aan die deur geklop word, gaan maak sy oop omdat niks anders werklik sin maak nie.

Dit kan net Juan Harmse wees wat voor haar staan, maar sy is nie voorbereid op die uitwerking wat hy op haar het nie. In haar gedagtes het sy hom met ’n wit jas en ’n stetoskoop om die nek gesien, die stereotiepe beeld van ’n dokter. Maar die forse gestalte wat haar deuropening vol staan, dra jeans en ’n T-hemp wat gemaklik los aan sy lang lyf hang. Juan Harmse straal ’n ruwe manlikheid uit wat haar heeltemal onverhoeds betrap.

Hy is … ongelooflik aantreklik, sondig aantreklik!

Die dik donker hare, liggies met silwer gestreep langs die slape en netjies na agter gekam, prominente wangbene, sterk gelaatstrekke, alles aan hom vind sy oorweldigend aantreklik. Maar dis sy oë wat haar die meeste fassineer. Daardie diep, donker intelligente oë wat haar nuuskierig bekyk sonder die geringste poging om sy belangstelling te verbloem.

Ag, berge val op my, dink Anastasia met ’n siddering wat langs haar ruggraat afgly. Ek lyk seker soos iets wat die kat uit die dam gaan sleep het.

Sy hark met haar vingers deur haar hare. Sy weet goed wat daar op haar – en dus ook op dokter Harmse – wag as haar hare so onbelemmerd gaan droog word. Krulle, wilde woeste krulle, genoeg om Medusa tweede te laat kom.

En om te dink sy het by hom gespog dat sy ’n sepiester is, hom probeer oortuig dat sy onder die Suid-Afrikaanse skoonhede gereken word. As sy opgetof is, ja, opgedollie in een van haar aandrokke wat haar soos ’n handskoen pas. Of wanneer sy ten minste ’n ruk lank voor die spieël gestaan het, omring deur haar grimeerkwassies en toorflessies. Maar nie as sy minute gelede nog in haar nagkabaai en pantoffels rondgeslof het nie!

“Goeiemôre,” groet sy verby die knop in haar keel.

Daardie fynbesnede maar baie manlike gesig van hom kan net die werk wees van een van sy kollegas, besluit Anastasia. So sekuur kon Moeder Natuur sekerlik nie ’n gesig gebeitel het nie. Die man lyk asof hy daarna vra dat daar ’n Dawidsbeeld van hom gemaak moet word wat die oorspronklike in die skadu sal stel. Hy’t die liggaam van ’n heerser. Groot kop, breë skouers en ’n borskas soos ’n rots. Koninklik imposant.

’n Metro-man as sy moet raai. Sit seker sy dae om in ’n skoonheidsalon sodat sy gesig versorg en sy lyf gepamperlang kan word. Mag wees, besluit Anastasia, maar daar is niks, soos in niks, wat verwyf is aan hom nie. Inteendeel. Juan straal soveel manlikheid uit dat dit haar kortasem maak.

Sy’t al baie van die man gehoor, gelees ook. Hy tel onder die hoë bome van die omgewing, bekend daarvoor dat hy oorval word deur hoofsaaklik vroue wat van ver af kom om van sy dienste as plastiese chirurg gebruik te maak en dan sommer vakansie hou in Suid-Afrika terwyl hul wonde herstel. Maar om so na aan hom te wees, hom in die oë te kyk, was nie deel van haar plan vir die dag toe sy vanoggend wakker geword het nie.

Hy word vreeslik geprys vir wat hy konsuis vir Suid-Afrika se toerisme doen. Daar was selfs die een of ander toekenning, as sy haar nie misgis nie. Wat ’n grap!

Die toerismebedryf en die werkskepping wat daarmee gepaardgaan, is beslis nie prioriteit nommer een by hom nie – daarop sal sy Pa se portret wed. Inteendeel. Dis oor sy eie bodemlose pot goud wat hy bekommerd is.

Anastasia trap ongemaklik rond terwyl sy na gepaste woorde soek om hom welkom te heet. Want hy mag so aantreklik wees soos wat hy wil, hy mag so beroemd wees soos wat hy wil, maar hy ís nie welkom hier in haar pondokkie nie. Hy stel haar in die verleentheid met sy onverwagte besluit om haar by die woonstel te kom haal.

Pure nuuskierigheid! Wat anders? ’n Gulde geleentheid om te sien hoe leef die mindergegoedes. Verlekker hom dalk nog in haar vernedering. Blikskottel! Hoe wens sy sy was in die posisie om hom in sy peetjie te stuur!

“Ek sien jy’t nie gelieg nie,” merk hy lakonies op, die beduidenis van ’n glimlag om sy mooi mond.

Hy staan argeloos nader, leun skielik vorentoe en vat haar ken tussen sy duim en wysvinger vas.

’n Oomblik voel dit vir Anastasia of die vloer onder haar padgegee het sodat sy deur ’n diep gat val. Sy wil haar kop wegruk, hom selfs klap as dit nodig is, maar sy is so verstom oor sy voortvarendheid dat sy haar soos ’n lam ter slagting gedra en hom bloot verstom aanstaar.

Hy draai haar gesig sagkens sodat die sonlig daarop val. “Hm,” brom hy, “die Helena van Troje-tipe. Inderdaad ’n gesig wat ’n duisend skepe te water kan laat.” Toe vervolg hy met ’n diep, donker stem: “Of op die rotse sal laat beland.”

Sy kan nie besluit of hy hou van wat hy sien en of hy daaroor kla nie. Ook kan sy nie aan iets slims dink om vir hom te sê nie. Net nie kwaad word nie, maan sy haarself. Nie die man afjak nie, nie weer toelaat dat jou bitter bek met jou op loop gaan nie. Wees bly dat die mansmens jou enigsins te woord staan en nie die gehoorbuis in jou oor neergegooi het nie.

“Is jy reg om te ry?” vra hy onverstoord en laat haar gesig los.

“Ek … ek … e … kry net gou my handsak,” stotter sy en voel-voel om haar sonder om van hom af weg te kyk.

Haar handsak! Ag, hemel tog, waar is haar handsak? Nee! onthou sy. Die ding lê nog in haar kamer. Op die bed, dink sy. Of op die spieëlkas!

Hoe nou gemaak? Sy kan Juan Harmse tog nie innooi om ’n oomblik vir haar te wag nie, sy wil ook nie. Sy wil hê hy moet so min moontlik sien wat hier agter haar rug opgestapel is. Die koerante, die CD’s wat nie weer in hul houertjies gebêre is nie, die pantoffels wat sy onder die rusbank ingeskop het. Sy weet wat hy gaan dink – as dit is hoe haar blyplek daar uitsien, hoe gaan sy spreekkamer dan lyk?

Dan maar sonder die handsak gaan, hoop sy kry niks daarin nodig nie. Maar … wat doen sy dan die hele tyd met haar hande? En haar hare? So sonder ’n kam of borsel? ’n Vrou is niks sonder haar handsak nie; ’n vrou se handsak moet soos ’n geweer aan haar sy wees; ’n vrou se handsak het haar al van vele verleenthede gered. Anastasia sug gelate.

“Ek kry net gou my handsak.”

Sy swaai om en los hom net so op die drumpel in die hoop dat hy daar sal bly, maar verniet! Juan Harmse steur hom min aan haar gebrek aan hoflikheid. Toe sy in die nou gangetjie af draf om kamer toe te gaan, sien sy hoe hy ’n paar tree gee tot binne-in haar heiligdom en dadelik na haar boekrak stap.

Dit ook nog! Sy wil nie hê hierdie man moet weet wat sy lees nie. Die akademiese boeke, die mediese joernale, die biografieë, die liefdesverhale waarin sy haar so kan verkneukel, niks daarvan wou sy vir hom wys nie. Die man moet niks van haar persoonlike sake af weet nie, net die deel wat sy vir hom wil wys. Hy moet haar beskou as ’n bekwame assistent wat sy sake vir hom sal reël en sy afsprake seepglad sal laat afloop. Dis al.

Sy gryp die ellendige handsak en veroorloof haar geen oomblikkie om in die spieël te kyk nie. Haar plan was om hom in volle oorlogsmondering te woord te staan. Gepoeier en gepaint van blonde kroon tot pêrelpienk toon nadat sy ’n draai by Gary van Gary’s Hair Haven en ’n skoonheidsalon gemaak het. Hierdie man stel hoë eise en sy wou mooi genoeg wees om hom sy woorde van vertwyfeling te laat sluk. Sy wou hom nie laat wegkom met ’n powere Helena van Troje-verwysing nie. O nee, hy moes so stomverbaas gewees het oor haar skoonheid dat hy om verskoning sou vra omdat hy haar onderskat het.

Maar sy’t ’n idee Juan Harmse is nie ’n man wat maklik om verskoning sal vra nie. Vir niemand nie!

Dokter van drome

Подняться наверх