Читать книгу Vet feetjies vlieg nie - Kristel Loots - Страница 4

2

Оглавление

Ek wou nie weer die laptop nader trek nie, maar dis nog te vroeg om te gaan slaap. En die nuuskierigheid vreet aan my soos ’n rusper aan ’n blaar.

Ek skuif die leë pizzaboks opsy en gaan sit kruisbeen op my bed. My hart tamboer toe ek op Skype ingaan en sien hy het sowaar vir my ’n invite gestuur. Ek kliek op sy naam. Billy Bruwer. Slaat my om met ’n veer. Billy Bruwer, einste hy, verleidelik aantreklik soos die sonde self, besef ek weer eens toe ek na sy profielfoto kyk. Behalwe natuurlik as hy gehack is en ek my naam lekker gat gaan maak deur daarop te reageer. Whatever! Ek kan dit ook nie net so los nie, nie vir die res van my vervelige lewe daaroor wonder nie.

My vingers kry ’n lewe van hul eie, ek aanvaar “Billy Bruwer” se invite met ’n enkele tik van my wysvinger. Accept? Accept, ja! Daar! Dis gedoen! Nou sien ons maar hoe en wanneer meneer die redakteur, of sy spookstem, daarop gaan reageer.

Hy ís blykbaar online, sien ek. Nou toe nou. Ek weet hoegenaamd niks van Billy Bruwer af nie, net dat hy, soos ek, op hierdie oomblik online is. Toe die Skype-roepdeuntjie feitlik onmiddellik in my ore opklink, skrik ek groot genoeg om amper van die bed af te val. Nie vir ’n oomblik het ek verwag dat hy my dadelik gaan skype nie. Is die man heeltemal mal, of wat? Wat soek hy in elk geval by sy rekenaar? Hierdie tyd van die aand? Van ’n Vrydagaand? Hy is veronderstel om die stad rooi te verf met ’n poppie aan elke hand en een om die nek. Dis wat ouens soos hy doen. Dis bleeksiele soos Mario wat op ’n naweeksaand, of enige ander, voor die rekenaar aan die slaap raak. En vet meisies soos ek. Sosiale misfits. Nie die gesogte prinse van die samelewing nie.

Ek sluk. En sweet. En bewe. What to do, what to do? Ek wil hom regtig nie antwoord nie. Ek kan nie. Nie so nie. Nie so gou nie. Nie nou nie. Nie soos ek nou lyk nie. Dis die einde van die week. My hare is dae laas gewas, dis in ’n bondel agter my kop met ’n kammetjie vasgesteek. Ek het ure laas by die spieël gaan draai, maar ek kan raai dat ek taamlik oes lyk. Goed genoeg vir ’n ou soos Mario, wat nie vir veel vra nie. Maar nie naastenby aanvaarbaar vir iemand soos Billy Bruwer nie. Nie eens in my Sunday best sal ek die toets slaag nie, wat nog te sê in my huisdra-blommebroek met die rek om die middel, so na aan ’n pajamabroek soos demmit aan ’n vloekwoord?

Ek is verlig toe die geroep bedaar. Sjoe. Noue ontkoming.

Maar ek is teleurgesteld ook. Ek sien die rooi telefoontjie-teken op die blad verskyn. Missed call from Billy Bruwer, lees ek die verwytende woorde daarby. Dit voel asof ek so pas iets kosbaars verloor het, dat dit soos sand deur my vingers geglip het. Ek weet sowaar nie wát ek wil hê nie. Maar ek kan raai wat die man aan die ander kant dink. Hy weet ek is óf by die huis óf naby ’n rekenaar of tablet of watter tegnologiese katoeter ek ook al gebruik het om so pas sy invite te aanvaar. Dis nie rocket science nie.

Dalk dink hy ek het gou eers ’n sexy nommertjie oor my kop gaan trek voordat ek met hom praat. Just hang on while I slip into something more comfortable … Ek sóú graag ’n bietjie wou titivate voordat hy my sien, maar dis nou in elk geval te laat daarvoor. Billy Bruwer het tou opgegooi en ’n koers ingeslaan. My naam is modder nog voordat hy weet wat my naam is.

Ek gryp vervaard na die botteltjie parfuum op my bedkassie en bespuit my van ’n kant af. Agter die ore, in my nek, op my polse. Al die strategiese plekke wat sou saak maak as Billy Bruwer hier by my was. Te laat, besef ek, want Billy Bruwer is die niet in. Ek mors my Elizabeth Arden wat by die dag duurder word. Ek kan hom tog nie van my kant af terugroep nie, kan ek? Mag ek? Wil ek? Moet ek? Nee! Don’t push your luck, Lucy. Hoe sal dit nou lyk? Jy sal jou wát verbeel om sy privaatheid binne te dring. Onthou, jy is die muis, hy is die olifant.

Toe die Skype-deuntjie opnuut in my ore raas, ruk alles in my orent. Maar hierdie keer dink ek nie verder nie, ek reageer instinkmatig. Miskien is dit die parfuumwalm wat my op ’n high gesit het, want ek tik verwoed op die knoppie wat ’n video call sal aktiveer. Hier is ek nou – boots and all. Ready, able and willing. Soort van. Bring it on, Billy Bruwer.

Toe sy gesig op die skerm verskyn, voel ek ’n floute oor my kom. Wat ís dit met my? Die man is doer ver, wherever, nie regtig saam met my hier op my bed nie, al voel dit vir ’n malle oomblik so. En ja, op die rekenaarskerm is die man inderdaad gevaarlik aantreklik, maar wat daarvan? Vroue soos ek behoort immuun te wees teen manne soos daardie, nie duiselig te wil word omdat sy baard ’n dag oud is en sy sielvolle oë na joune soek nie.

Dis sy frons wat my summier van die floute laat vergeet. Want ek vererg my. ’n Bietjie. Die verbasing op sy gesig getuig net van een ding – hy het natuurlik nie verwag om ’n vet meisie op sy rekenaarskerm toe te laat nie.

The story of my life! The story of my frieken life!

Die man kon hom gerus geestelik voorberei het op die moontlikheid dat ek nie heeltemal so ’n funky feetjie is soos wat ek op my blog voorgee nie. Nou kyk hy na my asof ek van ’n planeet is waar die vroue na dertig ’n ekstra oog op die voorkop groei en op Vrydagaande in weerwolwe verander.

Dis nie die eerste keer wat ek dáárdie uitdrukking op ’n man se gesig sien nie. Ek het my kwota blind dates agter die rug, dankie. Op universiteit al daarmee begin. Van die meisies in die koshuis wat my jammer gekry het en wou weghelp met die een of ander agtertangse familielid wanneer dit nodig was om ’n plus-one vir ’n funksie te hê. Die meeste van die gawe Samaritane het vir my ’n ewe vet boyfriend gesoek. Asof dit al is wat nodig was vir ons om vir ewig en altyd gelukkig te wees. Hoe de hel het hulle gedink sou ons arme kinders dan lyk? Potjierolle wat soos vraatsugtige stofsuiers alles wat nie giftig is nie voor die voet verslind?

As daar nie ’n vette beskikbaar was nie, is ’n ander loser nader gehark om aan my af te smeer, ouens wat self so laag op die food chain was dat hulle nie sou omgee om saam met ’n vet meisie gesien te word nie.

“Feetjie?” vra Billy Bruwer dan nou ook, sy stem diep, donker, dik en waardig soos die toga wat ’n advokaat in die hoërhof dra. “Funky Feetjie, is dit jy?”

Ek kug, probeer ook vernaam klink. “Ja. Dis ek. En … en ek is vet.”

Dis uit voordat ek kon keer. Onnodig natuurlik. Die man het oë in sy kop.

“Ekskuus?”

“Ek … ek sê ek weet ek is nie presies wat jy verwag het nie.”

“Nee, jy is nie. Jy is soveel meer.”

Meer? Wat bedoel hy met méér? Meer wát? Meer hare? Meer sproete? Groter boobs? Méér om die lyf as wat enigiemand sou wou hê?

“Die foto by my blog is gedokter. Ek het Photoshop en ek weet hoe om dit te gebruik.”

“Ek sien so.” Hy lag. “Dis ’n verrassing om te sien jy is van vlees en bloed. Die profielfoto by die blog lyk alte veel na ’n avatar.”

“Ek het dit oorweeg om ’n avatar te gebruik, maar ek wou hê Funky Feetjie moet deels fantasie en deels vlees en bloed wees.”

“Dis presies waarna ek soek.” Billy Bruwer leun vorentoe en sy gesig kom nader aan myne. “Ek het ’n paar van jou blogs gelees. Ek hou van die eerlikheid waarmee jy skryf, jy skiet van die heup af. Ons kan daarmee werk.”

“Wat … wat bedoel jy?” My hart doen vreemde dinge in my bors. Iets soos gimnastiek of atletiek, iets wat ’n vreeslike gespring en ’n gesnak na asem tot gevolg het.

“Media Uniek wil ’n nuwe tydskrif launch …”

“’n Nuwe tydskrif? Ek het dan verstaan tydskrifte se verkope het drasties gedaal. Dat die bedryf in sy geheel in sy … in sy dinges is.”

Ek moenie praat nie, veral nie oor goed waarvan ek nie genoeg weet nie. En ek moet veral nie per ongeluk vloek nie. Ek moet probeer intelligent lyk, my mond hou en luister, my maag intrek, onthou om só te sit dat my dubbele ken in wording nie wys nie, en my kop elke nou en dan instemmend knik. Maar my senuwees laat dit nie toe nie. Daarvoor is die situasie te bisar, te absurd. Ek! Wat met Billy Bruwer gesels! Geen wonder die woorde borrel onbeheersd oor my lippe, waaraan daar nou nie eens ’n smeerseltjie lipstiffie is nie.

“A! Ja! Dit raak ietwat van ’n uitdaging om koerante en tydskrifte aan die gang te hou,” erken hy. “Maar ons is nie verniet Media Uniek nie, hoor. Weet jy wat ons leuse is?”

“ ‘Verwag die onverwagte’. Ek het dit uit jou mond gehoor toe jy die ander dag op ’n televisieprogram was.”

“Net so.” Hy leun terug in sy stoel sodat sy gesig nie meer die skerm heeltemal opvul nie. Die gordyne agter hom is oopgetrek sodat ek ’n swetterjoel stadsligte daar kan sien skitter. Ek weet nie waar die vermaarde doktor Billy Bruwer hom bevind nie, maar ek wed hy het ’n wonderlike uitsig. Rykmansbuurt as jy my vra.

“Dis hoekom hierdie een gaan werk,” verduidelik hy. “Om mee te begin, gaan dit ’n uniseks-tydskrif wees, iets anders as die gewone. Die bedryf is nog ver van belly-up, dit vra net na ’n paar kreatiewe aanpassings om te oorleef in ’n omgewing waar die wêreldwye web oorgeneem het.”

“En hierdie tydskrif gaan dit regkry omdat dit uniseks is?”

“Dit gaan nie jou gewone glitz and glamour-publikasie met meer advertensies vir lipstiffie en maskara as leesstof wees nie. Ons artikels gaan ook nie net wees oor presies wat die celebs vir ontbyt eet nie.”

“Met foto’s van gewone mense op die voorblaaie?” raai ek. “Mense wil nie betaal om na ander lelike mense soos hulself te kyk nie. Dis waarvoor Facebook daar is.”

“Feetjie, Feetjie,” berispe hy my. “Jou siniese onderrok hang uit.”

Is so. Ek met my groot mond. Sjarrap, Lucy, sjarrap tog net.

“Dink jy nie ek het deeglik navorsing gedoen voordat ek op Uniseks as ’n tydskrif besluit het nie?” Sy wenkbroue lig, hoeka soos een van daardie Facebook emoticons wat veronderstel is om die angel uit skerp woorde te neem.

“Die verskil tussen Uniseks en ander tydskrifte gaan vir die oningeligte persoon nie so ooglopend wees nie, maar die connoisseur sal dit gou genoeg agterkom.” Hy frons, kyk my amper kwaai aan. “’n Satiriese styl, hoewel effens getemper, behoort goed te werk. Ons lesers gaan nie net lees hoe awesome die sepiesterre by die … by die Tempo-toekennings en ander groot aande gelyk het nie. Hulle gaan dieper kyk, dieper luister, meer lees, die mens agter die celeb raaksien.”

“Ook hul voete van klei?”

“Ja. As dit nodig is. Maar met deernis aangebied. Ons wil die mens agter die celeb wys, nie die monster nie. As mejuffrou Een-of-ander-skoonheid uitermate groot voete het en haar ingevoerde skoene daardie voete van klei blase druk, moet ons lesers daarvan weet.”

“’n Skindertydskrif?” Ek glimlag om die steek uit my woorde te neem.

“Ek verkies om dit ’n geselstydskrif te noem.” Hy beduie weer allervreesliks met sy hande. “As daar geskinder gaan word, as jy dit so wil stel, moet dit met finesse gedoen word. Wat die op-die-man-af-geselstrant betref, sluit Uniseks juis aan by die sosiale media soos Facebook en Twitter.”

Ek gee ’n senuweeagtige laggie. “Het julle baie geld beskikbaar vir lastereise?”

“Dit sal nie nodig wees nie, nie as dit reg hanteer word nie. Dit kan nie stories wees wat die wind in jou oor gefluister het nie. As jy skryf oor ’n kalf met twee koppe, moet jy eers seker maak dat dit waar is en die ding nie net gesien is deur iemand met ’n hangover wat dubbel kyk nie.”

“Why spoil a good story with the truth?”

“Uniseks se lesers moet die tydskrif vertrou, maar nogtans aan die raai gehou word sodat hulle altyd meer wil lees. Dis ’n fyn spel wat bemeester moet word.” Hy lyk ’n bietjie moedeloos. “Ons moet hieroor gesels, ek en jy …”

Ek en hy? Gesels?

“Die laaste ding wat ek wil begin, is nóg ’n poniekoerant of geelpers-tydskrif. Daarom sal ons baie subtiel te werk moet gaan. Die aanslag sal tong-in-die-kies moet wees eerder as smerig. En tog sal dit nie net fluff kan wees nie, dan gaan ons nie die gehalte lesers kry wat ons soek nie.”

My ore tuit behoorlik terwyl Billy Bruwer die rekenaarskerm aan die brand praat. Ek is mal oor ’n passievolle man, ’n man wat laat waai en arms swaai wanneer hy opgewonde raak oor iets. ’n Man soos die Kaapse suidoos, wat ruk en pluk en geluide maak en nie gaan lê voordat hy uitgewoed is nie.

Dis waaraan Billy Bruwer my op hierdie oomblik laat dink. Iets roer in my, iets nogal erg skandelik. Want ’n man wat so opgewerk kan raak oor ’n projek, sal seker ook ’n vurige minnaar wees. Ek onderdruk die onkuise gedagtes met alles in my. Dis hierdie hongersnood waarin ek my bevind wat dit meebring, hierdie hunkering in my, die begeerte na ’n man wat sy arms om my sal slaan en my styf teen sy bors sal hou.

Miskien moes ek Mario nie so maklik laat gaan het nie, miskien moes ek hom tog maar probeer verlei het terwyl hy binne trefafstand was. Maar ek weet ook dat Mario nooit meer as my computer guy kan wees nie. Nie hy óf iemand soos hierdie Billy Bruwer sal my honger kan stil nie. Iewers móét daar asseblief tog ’n doodgewone gemiddelde man wees wat vir my bestem is, iemand wat nog êrens vorentoe uit die krake sal kruip om my vir hom te kom haal. Ek moet dit glo sodat ek nie op die dak van die woonstelgebou sal gaan staan en howl at the moon soos ’n hartseer hond nie.

“Dink Evita Bezuidenhout, dink komediante wat feitlik met karaktermoord wegkom en daarin slaag dat hul slagoffers saamlag,” dawer Billy se stem voort. “Dink Trevor Noah dalk, selfs Leon Schuster, maar met die kop uit die toilet. Dink stylvol, dink sofistikasie, maar met heilige koeie by die venster uitgegooi.”

Hierdie man se geesdrif is genoeg om ’n vuurpyl die ruimte in te stuur. Maar of hy so iets gaan regkry sonder om kniediep in die moeilikheid te beland, is ’n ander vraag.

“Ek verstaan nog nie waarom jy my, of dan eerder vir Funky Feetjie, genader het nie,” sê ek toe hy asem skep.

“Ek wil natuurlik hê jy …” Hy glimlag. “Of dan sý, die funky feetjie in jou, moet vir Uniseks skryf. Iets soos die Funky Feetjie-blog wat tans op die internet verskyn, maar só dat ons dit in die papiertydskrif én die e-uitgawe as ’n gereelde rubriek kan publiseer.”

Hoor ek reg, of het ek Billy Bruwer en wat hy sê opgetower soos ’n genie uit ’n bottel?

“Hoe … hoekom ek?” stamel ek. “Hoekom Feetjie?”

“Onder meer omdat jy – of sy – lekker funky is.”

Ek voel hoe daar ’n gordyn oor my drome afsak. Blykbaar het Billy Bruwer nog nie genoeg van my van die nek af ondertoe gesien nie. Of so nie, is Skype my vanaand besonder genadig. Dit sal beter wees as ek die saak regstel, en hoe gouer hoe beter.

“Jong, is die video aan jou kant aangeskakel?” vra ek en vat-vat aan my hare.

“Helder en duidelik,” verseker hy my. “Ek sien als. Selfs die feetjie-mobile wat bo jou bed hang. Ek kan raai waar die Funky Feetjie-persona vandaan kom. Jy is duidelik ’n feetjie-fan.”

Ek sluk. “You ain’t seen nothing yet.”

“Wel, wat ek tot dusver sien, pas perfek by die profiel wat ek in gedagte het.”

“Eerste indrukke kan helaas bedrieglik wees.” Ek haal my skouers op, skoon dom om die regte woorde te vind. “Ek is … eintlik glad nie funky nie.” Eerlikheid kom altyd teen ’n prys en ek moet bereid wees om dit te betaal. Dis nie asof ek iets het om te verloor nie. Billy Bruwer se belangstelling in Funky Feetjie was van die begin af gedoem. Die wêreld het nie regtig onderstebo gedraai nie, al het dit kortstondig so gevoel.

“Vir my lyk jy funky genoeg en daardie boskasie van jou pas ook perfek by die ambience waarna ek streef.” Toe gooi hy ’n glimlag wat ’n laptop se monitor kan laat crash.

Die oomblik is so intens dat ek dadelik iets moet doen om dit af te skaal. Ek lag hardop. “Ek is ’n regte huismuis, kuis en wys. Met ’n gewigsprobleem.”

“Ek is nie hier vir jou lyf nie, Feetjie. Ek is hier vir jou funky.”

“Ek bly in die Eugène Marais-woonstelblok in ’n besadigde deel van Bellville. Nét agter die boereworsgordyn, as jy weet wat ek bedoel. Suburbia op sy beste. Baie ver verwyderd van funky af.”

“Ek het die voorstedelike vrou raak gelees in jou blogs,” verseker hy my met ’n laggie. “Voorstedelik én funky, ’n dodelike kombinasie. Menige man se droommeisie.”

Ek is minder lus vir lag as hy. “’n Boeremeisie van agter die boereworsgordyn?” Ek hoop nie daar gaan met my en ander soos ek gespot word nie. “Met childbearing hips en wat nie sal huiwer om aan iets soos ’n bokdrolletjiespoeg-kompetisie deel te neem sodat sy as kampioen van die dag gekroon kan word nie? ’n Nooi van Helsdingen? Soos my ouma. Van die stoffasie wat die dorings oor die Drakensberge kaalvoet platgetrap het?”

Ek babbel al weer.

“Is dit ’n taamlik getroue beskrywing van jou?”

“Ek het my ouma se naam en ek aard na haar, maar dit was nog nie vir my nodig om my vermoë om ver te spoeg te toets nie. Of om blootsvoet oor die Drakensberge te sukkel nie.”

Dit lyk nie asof hy hom veel aan my en my sarkasme steur nie. “Media Uniek wil hê die stem van die nasie moet gehoor word.”

“The common man?”

“As jy dit so wil stel, ja.”

Ek sluk swaar hieraan. “Gelukkig is daar ’n verskil tussen common en kommin. Ek is net nie altyd so seker waar ek inpas nie.”

Hierop het hy niks te sê nie. Hy vra eerder: “Skryf jy voltyds?”

Ek wil hard lag. Ek wat advertensies vir toiletpapier skryf. “As dit so was, sou ek van liefde en koue water moes leef.”

Ek wens ek kon, want dan sou ek uiteindelik maer word. Die koue water is gelukkig volop, maar die liefde is moeiliker bekombaar.

“Wat doen jy dan vir ’n lewe?”

Ek weet wat wag. Die toneel wat hom gaan afspeel, sal die gewone wees. Ek ken dit asof ek self die draaiboek daarvoor geskryf het.

“Ek is ’n belastingkonsultant,” sê ek met ’n sug. Eintlik verdien my werk nie so ’n fênsie benaming nie, maar ek probeer altyd om daarmee weg te kom. ’n Mens hét darem jou trots.

“Werk jy vir jouself?”

Dis wat ek behoort te doen, ek weet. Lekker stewige fooie vra en al die pad bank toe lag. Maar ek was nog altyd te chicken om die sprong te waag. Om my medies en versekering en dertiende tjek in gevaar te stel deur my eie ding te doen. Sowaar, ek het die moed en die aspirasies van ’n vlieg sonder vlerke.

“Nee, ek werk vir SARS,” erken ek teësinnig.

“SARS?” Hy spoeg dit behoorlik uit.

“Dis reg, ja,” erken ek gelate. “Ek help belastingbetalers om hul vorms in te vul en gee raad oor waar hulle wettiglik kortings mag eis.” So probeer ek myself gewoonlik as meer van ’n engel en minder van ’n duiwel skets, maar dis selde suksesvol. Ek weet watter gevoelens dit by die meeste mense opwek wanneer ’n werknemer van SARS iewers kop uitsteek. ’n Mens sou sweer Jan Taks is my oom aan moederskant en ek sit naweke op sy skoot, te oordeel na hoe daar soms teen my opgetree word. “Ek kon nie dadelik ander werk kry na universiteit nie. Het voorlopig daar gaan werk en toe daar vasgeval.”

Hoe verduidelik ek dit tog? Dat ek nie ’n baie avontuurlustige mens is nie. Nie van die soort wat Kilimandjaro uitklim nie. Of Kersfees in Timboektoe deurbring nie, nie uit vliegtuie spring, met of sonder ’n valskerm nie, nie op tafels dans en sommer rondslaap nie, en nie van werk verander as ek reeds soos een van die liasseerkabinette in die SARS-kantoor begin voel nie. Dis moerse groot kaste daardie, moeilik om te verskuif, net so moeilik soos dit vir my sal wees om my wortels uit daardie grys gebou te trek sodat ek in ’n ander grys gebou kan gaan werk. Better the devil you know, daardie tipe van ding. Daarom dra ek my werk soos ’n albatros om die nek. Ek is nie trots daarop nie, maar ek het ’n dak oor my kop en kos om te eet. Genoeg kos. Baie kos.

“Glo my, Billy, geen mens droom daarvan om eendag in ’n boring belastingkantoor te gaan werk nie. Behalwe miskien as jy ’n psigopaat of masochis is.” Dis die eerste keer dat ek hom so op die naam noem. Seker onvanpas, maar dit het uitgeglip. Dis die warmte wat in my nek opstoot wat my roekeloos maak.

“Dis die lewe wat jou soms ’n streep trek,” gaan ek voort. “Dis die ekonomie en die politiek en ’n sameloop van omstandighede wat maak dat die graadjie wat jy met baie nagte se studie bekom het, vir jou min werd is en jy later aansoek doen vir enige werk waarvoor hulle jou gaan betaal sodat jy ’n bestaan kan maak.”

Omdat daar van jou ouerhuis net ’n bouval en gebroke harte oorgebly het en jy nie daar kon gaan inkruip het totdat dinge in jou guns draai nie. Maar daardie deel verswyg ek eerder.

“En dan bly jy daar, jaar na jaar,” vertel ek, verleë soos altyd wanneer ek verskonings soek vir my gebrek aan ambisie. “Niemand wil weet van die avonture van Lucy Lombaard, belastingkonsultant, nie. Daarom het ek nog nooit daaroor geskryf nie. Ek wil nie die hits wat ek vir my Funky Feetjie-blog kry, verloor nie. Mense sal eerder kyk hoe verf teen die muur droog word as om daarvan te lees.”

“Ek dink juis jy moet hierdie alledaagse frustrasies met jou lesers deel, sodat hulle ook die ander kant van die munt kan sien. Die lesers van Uniseks gaan na alle waarskynlikheid mense soos jy wees. Met min of meer dieselfde agtergrond en leefwyse.”

“Kerngesonde Afrikanerdogters?” Ek aarsel, maar nie vir lank nie. “Hoewel ek nie die kerngesondheid kan waarborg nie. Ek het my kwota persoonlike hang-ups.” Ek is nou weer hopeloos te eerlik, skiet myself in die voet. Dis ’n fout. Vet vroue is veronderstel om hulself op ’n skinkbord aan te bied, nie om hul foute uit te wys nie.

“Dis daardie issues wat jou skryfwerk so ‘real’ maak.”

Die man byt vas soos ’n straatbrak wat ’n skroplap beetgekry het. Of hy speel die een of ander surrealistiese spel met my, ’n absurde spel waarvoor daar nie reëls bestaan nie. Ek wil myself nie so blootstel nie, maar die smeulende frieken vonkie van hoop wat ek so hard probeer smoor, neuk al om op te vlam.

Ek het ’n duisend vrae, maar ek kry nie die geleentheid om dit te vra nie.

“Luister Feetjie, oftewel Lucy, jy sal my moet verskoon, asseblief. Ek moet iemand binne ’n paar minute ontmoet.”

Natuurlik. Dis Vrydagaand. Niemand anders sit stoksielalleen in ’n enkelkamertjie in die Eugène Marais-woonstelblok in Sonop, Bellville, soos Lucy Lombaard en haar alter ego Funky Feetjie nie. Veral nie iemand soos mediabaas Billy Bruwer met sy donkernag-oë nie.

“Ons gaan ’n persona rondom Funky Feetjie skep wat groot mans laat huil en vroue laat lekkerkry. Dit gaan ’n moerse journey wees, maar om dit te laat slaag, mag niemand nou al weet wie die ware jy is nie. Ook die manlike eweknie wat saam met jou aan die rubriek gaan skryf se identiteit moet aanvanklik geheim gehou word.”

Huh? ’n Manlike eweknie? Vir Funky Feetjie? Agter watter nom de plume sal hý skuil? Stoute Kabouter? Wat sou die idee daaragter wees? Barbie en Ken? Napoleon en Josephine? Bonnie en Clyde?

“Gedurende ons navorsing oor ’n alternatiewe tydskrif het ons ontdek dat daar meer mans is wat vrouetydskrifte lees as wat mens sou raai. Maar hulle is altyd skaam as hulle betrap word.”

Met Uniseks sal dit seker anders kan wees.

“Hoe lyk dit – sal jy dit kan regkry om stil te bly?”

“My lippe is gesluit,” verseker ek hom. “Maar eintlik verstaan ek nie veel hiervan nie.”

“Ek stel dit so gou moontlik reg,” belowe hy. “Ons sal binnekort by mekaar moet uitkom om ordentlik hieroor te brainstorm.”

Nie ’n goeie idee nie. Vandat ek nie meer rook nie, gaan ek vreeslik aan die eet ás ek die slag begin brainstorm. Winkelkoekies, peanuts en rosyne, net wat voorkom. En sjokolade, pakke en pakke daarvan. Ek hou nie boek van die kwaad nie, ek sorg net dat daar genoeg proviand is sodat ek nie langs die pad begin panic nie, en ek prop in. Deesdae veral sjokoladetoffies, want dit word gekou en hou langer. Wat dit aan my tande doen, is iets waaraan ek nie nou wil dink nie. Mens kan mos maar winkeltande kry as dit nou nie anders kan nie.

“Ek wil jóú as mens ook eers ordentlik leer ken.”

Ek skrik. “Ek … ek is nie besonder suksesvol as mens nie,” keer ek. “Dit hang natuurlik ook af van hoe jy ‘mens’ definieer. Ek is nog steeds meer mens as feetjie.”

Hy glimlag weer, maar hierdie keer is ek beter bestand teen die magic en bokspring my hart nie so erg nie. “Dis wonderlik, dis hoekom jy in jou Funky Feetjie-gedaante iets het om oor te skryf.”

Kan hierdie gesprek ooit waar wees? As dit ’n gekskeerdery is, doen hy darem baie moeite daarmee. ’n Man soos Billy Bruwer het tog seker beter dinge om met sy tyd aan te vang as om met ’n Kaapse meisietjie soos ek se drome te mors.

“Die aanlyn-weergawe van Uniseks gaan eerste live wees en sal natuurlik deurlopend interaktief wees,” praat hy nog terwyl hy sy das knoop en sy hempsmoue afrol. Hy hark met sy hand deur sy hare sonder om in ’n spieël te kyk. “Dis wat alle tydskrifte doen, maar ek hoop om meer lewe in die virtuele bekgevegte tussen skrywer en leser te blaas. Dit móét inderdaad amper iets soos Facebook wees, waar die woorde en gedagtes maar heen en weer kan vlieg. Maar met ’n streng poortwagter wat die gepeupel gaan probeer weghou.” Hy lag. “Elke ou met ’n koue vrou of ’n kwaai skoonma baklei mos deesdae op sosiale media oor onderwerpe wat eintlik nie daarmee verband hou nie. Dis ’n uitlaatklep, eerder as om hul werklike probleme aan te spreek.” Hy kyk direk in die kamera. “Die idee met Uniseks gaan wees om intelligente geselskap te inspireer en te aktiveer.”

Ek kreun. “Ek is bevrees Funky Feetjie is nie besonder intellektueel nie.”

“Nee, ek weet, sy is eerder ’n bietjie naïef.”

My nekhare spring orent. Funky Feetjie is miskien nie ’n besonder slim feetjie nie, maar sy dink oor dinge en sy sê haar sê. Miskien nie met vreeslike groot woorde geborduur nie, maar ook nie so dat sy tevrede gaan wees om as naïef afgemaak te word nie.

“Nou waarom wil jy haar dan vir die wolwe gooi?”

Billy Bruwer moenie dink ek gaan my of vir Feetjie so maklik laat misbruik nie.

“Luister, girl, al wat ek vra, is dat jy my die geleentheid gee om te verduidelik. Uniseks gaan nie droë, akademiese leesstof wees nie, ons wil erns én humor daarin hê. ’n Tikkie naïwiteit kan bekoorlik wees en Funky Feetjie is net reg daarvoor om ’n ambassadeur vir ons vroulike lesers te wees.”

My mond gaap oop, maar ek word nie toegelaat om te protesteer nie.

Billy Bruwer praat nog oor sy skouer met my terwyl hy sy selfoon in sy sak sit en skynbaar na sy motorsleutels soek. Dit verbaas my dat hy genoeg hande het om dit te doen, want hy is steeds aan die beduie soos ’n straatprediker voor dié wat nie wil hoor nie. “Uniseks gaan uniek wees. Dit gaan eenvoudig nie moontlik wees om bladsye uit die tydskrif te skeur om onder in die voëltjiehok te sit of om die vuur aan die brand te kry nie.”

Ek kan sien hy is nou rooiwarm-haastig om die end call-knoppie te druk om van my ontslae te raak. Billy Bruwer het ’n lewe buite daardie skitterblink blyplek van hom. Ek nie. Ek sit hier soos Raponsie opgesluit in ’n toringgebou in Bellville, kompleet met die lang blonde hare. Maar met niemand wat my hier wil kom red of wegsleep nie.

Dis meteens asof ek hom nie wil laat gaan nie, asof ek na iets wil gryp om my later daarvan te oortuig dat hierdie bisarre gesprek tussen my in my pajamabroek en Billy Bruwer in sy netjiese strepieshemp in sy penthouse in Johannesburg wel plaasgevind het. Ek pluk-pluk aan my klere, probeer my T-shirt glad stryk oor my boobs sodat ek nie heeltemal lyk soos ’n vlugteling uit ’n oorloggeteisterde land nie. “Ek lyk darem nie altyd so sleg nie,” verduidelik ek desperaat. “Dit was ’n woeste week en … enne … ek het nie verwag jy sou só gou skype nie.”

“Ek wou nie langer wag om met jou kennis te maak nie.”

“I clean up nicely,” probeer ek hom nog taamlik desperaat oortuig. Al is dit nie heeltemal waar nie. Maak nie saak hoeveel lae grimering en allerhande goeters ek aan my gesig en lyf plak nie, vetlae kry jy nie toegesmeer nie.

Billy Bruwer het nie ’n sáák met my lomp verskoning nie. Hy het people to see, places to go en ek kan maar net raai dat die people to see nie XXL-rokke dra nie. Teen die tyd dat hy vanaand of heel moontlik eers môreoggend inklok, sal daar ’n paar bloeddorstige lovebites teen daardie mooi bruingebrande nek van hom wees. Billy Bruwer gaan na alle waarskynlikheid alles van my en Funky Feetjie en sy planne vir Uniseks vergeet die oomblik wat hy met sy motorsleutels by sy voordeur uitstap. Na waar daar ander avonture op hom wag, sekerlik lyflik van aard en wat lakens van satyn en ’n horde opgepofte kussings insluit.

Toe sy gesig met Skype se kenmerkende gesug van die skerm af verdwyn, is ek vir ’n oomblik heeltemal gedisoriënteerd. Ek streel nadenkend oor die dooie skerm. Maar daar kom nie weer iets soos ’n genie uit ’n bottel te voorskyn nie. Wonderwerke soos daardie is few and far between.

My kop draai. Wat is waar en wat is wolhaar? Die ergste is dat ek nie hieroor mag praat nie. Met wie sou ek in elk geval kon? Dalk net met die nuutgevonde Mario, ás hy genoeg sou belangstel.

Vir die res van die naweek sien ek Mario in elk geval nie met ’n oog nie. Ek steek skaars my kop by die deur uit. Ek durf Operasie Mooimaak aan, net vir ingeval Billy Bruwer my weer wil skype. Hierdie keer wil ek reg wees vir hom. My beenhare geskeer, my hakke geskuur, my blonde hare nóg blonder gekleur en blinkskoon, my wenkbroue gepluk, eina tog! Hoeveel hiervan hy op sy rekenaarskerm sal kan raaksien, weet ek nie, maar dis beter om voorbereid te wees as om weer in jou amperse granny pants betrap te word. Veral as jy veronderstel is om funky te wees.

Teen Sondagaand lyk ek na ’n heelwat jonger weergawe van myself, soos een wat dit nog kan waag om so af en toe skelm na trourokke te loer. Net as daar, teen alle odds in, iewers op die aardbol ’n man rondloop wat vir my bedoel is.

Nou moet ek nog net by die winkels uitkom om die regte outfit vir die volgende Skype-geselsie te koop. Lekker casual, maar met ’n tikkie klas. Iets wat ek elke dag kan dra en saans kan was om oornag droog te word, sodat ek nie weer in rags and tatters betrap word nie.

My koskaste is lelik leeg, maar ek is te bang om by die woonstel uit te gaan en nie daar te wees indien Billy na my op die laptop roep nie. Eintlik behoort ek Skype op my tablet te laai, dan kan ek die virtuele Billy Bruwer in my handsak saamdra sodat hy my kan kry net waar en wanneer hy my wil hê.

Maar ek wag verniet. Teen Maandagoggend toe ek moet werk toe gaan, het ek nog niks weer van die prins van Media Uniek gehoor nie. Dis toe dat die realiteit my soos ’n klip teen die kop tref.

Niks hiervan kan waar wees nie. Belaglike gedagte! Om mý by Uniseks te betrek. Vir mý nogal, arme ou bloggertjie wat oor alledaagse storietjies skryf wat deur ’n paar honderd besoekers per dag gelees word. Almal seker sulke verlore siele soos syself, mense wat net op een of twee pistons leef. Groot geraas, weinig wol, soos Ouma sou sê – of dalk sou sy die spreekwoord aanhaal oor die leë blikke wat die meeste geraas maak. Want my ouma is nie een wat aan ’n drol in die drinkwater ’n mooier naam gee tensy dit absoluut noodsaaklik is nie.

Vet feetjies vlieg nie

Подняться наверх