Читать книгу Klassiek reeks: Karolina Ferreira - Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach) - Страница 5

Hoofstuk 1

Оглавление

Lank gelede het Karolina Ferreira ’n droom gehad. Op ’n prome­nade langs die see met ’n ry palmbome in die middel lê ’n man in twee helftes gekap met bloed wat uit hom spuit.

Aan dié droom dink sy toe Willie kniel en ’n plantblaar tus­sen sy vingers neem.

Hy is van middelmatige lengte, sterk gebou, met ’n ega­lige bruin vel. Sy kop is opvallend: dit het besonder harmonieuse proporsies. Hy het helder oë.

“Uit hierdie blaar maak jy ’n geneesmiddel vir bloed wat spuit uit ’n wond,” sê hy. “Dit moet behoorlik spúit. Dit moet saam met die hartklop uitpomp. Ander soorte bloe­ding is stadiger, by­voorbeeld ná ’n geboorte, en die bloed is donkerder.”

Dit is hulle eerste oggend in die veld, en dit is baie warm. Hulle het gister hier in die dorp Voorspoed, in die Vrystaat, aan­gekom. Hulle dra hoede. Die spruit is droog. Selfs die wilgers lyk verlep. Die gras is bruin. In Karolina se kop is ’n ruising weens die hitte. En ’n drukking in die slape. Sy voel lighoofdig van die inspanning en konsentrasie van die afgelope paar uur.

Willie kniel kort-kort. Tussen die dor graspolle vind hy klein plantjies, blommetjies, insekte, droë bene, landskulpe. Hy dui elk­een se eienskappe aan.

Wat ’n vreemde paar is hulle, dink Karolina.

“En dit,” sê Willie, en hy wys na ’n klein geel blomme­tjie, “gee jy vir iemand wat nie met die dood versoen kan raak nie. As hy dit inneem, sal die persoon laat los.” Hy maak sy hand oop. Karolina kyk in sy helder oë.

Bloeding en sterfte. Ja, sien sy. Vir oormatige, spuitende bloe­ding en vir moeisame sterfte. Jammer vir al diegene wat nie die troos hiervan kon hê nie.

By die droë loop van die spruit gaan hulle onder ’n wilger­boom sit, lekker in die skadu teen die stam. Sy wonder of hier nog enige krappe is – dit is so droog.

Karolina merk voor haar in die sand ’n natterige kol. Nie baie groot nie. Die miere is intensief aan die maal daar­omheen.

“Iemand was voor ons hier,” sê Willie.

“Hoe weet jy dit?” vra Karolina.

“Voetspore, platgedrukte gras, een of ander vog,” ant­woord Willie.

Karolina buk vooroor. Kyk van naderby.

“Wie sou dit kon wees?” vra sy.

“Ons sal hulle nog sien,” sê hy. “Op pad terug.”

Hulle eet hard gekookte eiers. Toebroodjies wat hulle by die Springbok-kafee gekoop het. Drink tee uit ’n fles. Klein stukkies eier val op die grond.

“Nog voedsel vir die miere,” sê Karolina.

’n Rukkie later stap hulle terug dorp toe. Hulle stap sta­dig, want dit is baie warm. Eers ’n hele ent deur die veld. Dan met Endstraat parallel aan die begraafplaas af.

Die dorp is doodstil. Almal rus agter toegetrekte gordyne. Dit is eintlik te warm om op straat te wees. Die uur van die kewer.

Sy stel voor hulle stap liewer deur die begraafplaas, dit lyk koeler daar. Hulle stap ’n entjie toe hulle op ’n bankie langs een van die sipresse twee mense sien sit. ’n Man en ’n vrou.

“Dis hulle,” sê Willie.

Karolina wil nie openlik staar nie.

Die man is onplaasbaar, hy lyk nie soos ’n plaaslike in­woner nie – ’n charismatiese sfeer hang om sy hoof. Die vrou is hart­ver­skeurend mooi. Pynlik beeldskoon en bedroef. Grondig be­droef. As hulle nie minnaars is nie, dan weet sy nie, dink Karolina. Maar waarom hulle liefde verban tot hierdie uithoek?

“Wat dink jy?” vra sy hom, toe hulle met Stiebeuelstraat af­stap hotel toe.

“Lovers,” sê Willie. “As hulle saam gesien word, is dit tickets. Die stakes is hoog.”

Hy spoeg ’n stukkie blaar tussen die tande uit toe hulle by die hotel aankom.

“Het jy al ’n mooier vrou gesien?” vra Karolina.

Willie dink ’n rukkie na.

“Ja,” sê hy. “Ek ken een mooier vrou.”

Op die lang, koel stoep voor die hotel sit twee mans by een van die tafeltjies en bier drink. Hulle hou haar en Willie met be­lang­stelling dop. Die mans is albei lank – sien Karo­lina in die verbygaan – die een het ’n opvallende roesrooi velkleur en hy dra ’n bril; die ander het kort donker hare, en ’n skewe, stywe glimlag.

Willie gee hulle een kyk en toe hy en Karolina by die hotel­deur ingaan, sê hy: “Ek sit my geld op die rooie.”

Toe hulle deur die skemer hotelsitkamer na die eet­kamer stap, sien hulle ’n groot blonde man bewegingloos in een van die gemakstoele sit. Sy bier staan onaangeraak voor hom.

“Hy vat dit sleg,” sê Willie, “maar hy is ’n gentleman.”

Net voor hulle die spyskaart optel om te bestel (Karo­lina gaan nie dikwels in hotelle tuis nie), vra sy: “Watse geld?”

Willie maak ’n kopgebaar.

“Jy sal self sien,” sê hy.

Na middagete gaan Willie terug na die huis van meneer Isayago die Argentyn bo in die dorp, waar hy tuisgaan.

Karolina gaan na haar kamer bo; sy stap deur die merkwaar­dige ingangsportaal, suiwer barok – ingevoer deur got­weetwie na hierdie streek bekend vir sy skape en mielies. Die ontvangs­toonbank, die baldakyn daarbo en die sporte van die traprelings is in ’n donker eikehout, elaboraat uitgekerf in swierige krulle, blare, blommotiewe, gerubs; fantastiese swellende en kurwende vorms. Sy gaan met die trap na bo, die houtreling satynglad onder haar handpalm. Sy stap die lang gang af na haar kamer. Die tapyt is verslete. Geen tekens meer hier van die barokke fantasieë en oordaad van die ingangsportaal nie.

Haar kamer is skuins bo die hotelingang, dit kyk uit op die hoofstraat; dit is koel en halfdonker. Sy gaan voor die spieël staan. Haar oë kyk stip en donker. Die donker wenk­broue is solied. Haar skouers het hulle sagte, vroulike ron­dinge verloor. Haar vel het ’n geel blekerigheid (onder die natuurlike don­ker­te). Haar donker hare is happerig gesny. Sy lyk soos iemand in wording. Onafgewerk.

Sy gaan op haar bed sit, kyk na haar handpalm. Op pad hierheen gister het sy en Willie teen sononder buite ’n klein dorpie stilgehou vir petrol.

Langs die garage was daar ’n Wimpy, en op ’n sirkel­vormige lap gras oorkant die garage – soos op ’n eilandjie – ’n karavaan. ’n Vrou wat in die toekoms sien het haar dienste hier aangebied. Die lug was goud en vuur. Die son ’n vurige bal op die horison. Karolina het die karavaan in die spektakulêre gloed van die onder­gaande son betree.

Binne het sy by ’n opslaantafeltjie oorkant die vrou plaas­ge­neem; die twintigrandnoot in ’n bakkie gesit. Die vrou het ’n klein lampie aangeskakel, Karolina se hand in hare geneem. Haar hare was ’n vergulde nes wat tot teenaan die dak reik. ’n Voël sou daaruit kon opstyg. Die ruimte was tot oorlopens toe vol: spieëls, ornamente, skulpe, krulle, weerkaatsings, in rokoko-oorvloed van hoek tot kant.

Die vrou het Karolina se hand oopgesprei en in die warm, lig beswete palm gekyk. Sy het in ’n ligte beswyming ge­gaan en gesê: “Ek sien, ek sien hier.”

Wat het sy gesien?

Sy het ’n man gesien wat Karolina altyd sal liefhê, en sy het ’n vrou gesien, ’n goeie vriendin, wat haar nooit in die steek sal laat nie.

Toe Karolina by die karavaan uitkom, was die son pas onder. Die oomblik van vergulde glorie was verby. Sy en Willie het ver­der gereis.

Dit is warm. Karolina is moeg van die vorige dag se reis en die oggend se ver stap in die veld met Willie. Sy raak aan die slaap. Die bloed vloei stadig deur haar warm, slapende liggaam.

Om vieruur word sy wakker. Sy staan op en neem ’n wande­ling deur die dorp. Meer as vyf en twintig jaar ge­lede het sy die dorp beter geken. Hier het hulle gesin ’n paar somervakansies deurgebring – haar pa het hier navor­sing gedoen. Hulle het ’n groot, ou, koel huis bo in die dorp gehuur.

Die dorp het merkwaardig onveranderd gebly. Dit het ’n eenvoudige, reghoekige uitleg. Die lang hoofstraat eindig bo teen die kerk. Die ander strate loop óf parallel aan die hoofstraat óf haaks daarmee. Die winkelsentrum het skynbaar nie veel verder as ’n blok of twee aan weerskant van die hoofstraat uitgebrei nie. Geen van die aanvanklike ge­boue is platgeslaan nie. Die sement­sy­paadjies voor die win­kels is steeds breed, met ruim oorhangdakke, onder­steun deur dun gietyster- of dikker sement­pilare. Die Oasis-­kafee is egter daarmee heen – in die plek daarvan is ’n skryfbe­nodigdhedesaak. Nortjé se apteek is nou die Dorpsapteek. (In die een hoek is daar nog ’n paar stowwerige Kers­geskenke.) Is meneer Nortjé dood of afgetree? (Sy onthou hom nog.) En waar is mevrou? Behalwe die twee kafees en Nortjé se apteek kan sy die ander winkels nie meer onthou nie, maar die Pep Stores en die Spar is nuut, en die tak van Milady’s en Foschini, en nog ’n apteek ’n ent verder af aan die oorkant van die straat. Heelparty van die strate, het sy vanoggend gesien, is nog steeds ongeteer, en van die huise bo in die dorp het haar selfs bekend voorgekom. Die Avbob-­geboutjie in een van die sy­strate, merk sy, is pienk geverf; die munisipale swembad kon sy nog nie weer vind nie.

Emosioneel het sy haar lank reeds aan die dorp onttrek, daar is niks waaraan sy haar meer hier kan heg nie. Die dorp met die strate van fyn bruin klippers en vrede op aarde het verdwyn. Dit het nou ’n ander gevoel.

Sy stap weer terug na die hoofstraat. Aan die bopunt daarvan pak swaar donderwolke agter die kerk saam. Sy ken niemand meer in die dorp nie. ’n Polisieman kom om die hoek met ’n blou crimplene-broek – of is dit terylene? ’n Sintetiese stof wat span oor die gulp. In blou, in blou geklee met ’n walkie-talkie in die hand. Hy kyk haar ’n oom­blik lank stip aan.

Sy steek die straat oor om iets in die Rendezvous-kafee te gaan drink. Hoopvol maar met angstige voorgevoelens – sy het geen duidelike beeld meer van hoe die kafee binne lyk nie. Die voorste deel, sien sy, lyk soos alle kafees in hierdie dae, oral in die land; die teedrinkplek agter dateer uit ’n vroeër tydperk.

Ten spyte van die hitte is daar ’n yskoue trek van iewers. Van die plafon, baie hoog, oud en baie ornaat, hang ’n paar droewige Kersversierings. Sy gaan by ’n tafel sit direk agter die houtafskor­ting wat dié deel van die voorste deel skei. Sy merk dat daar iemand by ’n tafel in die oorkantste hoek sit. Dit is een van die mans wat vroeër vandag op die hotelstoep gesit het, die een op wie Willie sy geld sit. Hy knik sy kop in ’n groet. Sy knik terug. Hy lees verder in sy boek. Die wind lig ’n Kersversiering aan die plafon. Die eienares neem Karolina se bestelling. In die kombuis op regterhand is ’n rumoerige gewerskaf hoorbaar. Die vrou bring haar tee en vertel dat hulle besig is om voor te berei vir ’n troue laatmiddag.

Karolina vind dit moeilik om onselfbewus haar tee te drink. Sy is ongemaklik bewus van die man in die oor­kantste hoek. Sy wil nie openlik na hom staar nie, maar sy wil probeer sien wat Willie bedoel het. Wat lees hy? ’n Boek met ’n rooi buiteblad soos vlamme wat brand. Dit pas by die rooi gloed wat sy vel afgee – dit lyk of hy onlangs te veel son gehad het. (Selfs in die halfdonker gee hy hierdie gloed af.) Toe sy weer ’n keer tersluiks in sy rigting kyk, kyk hy ook na haar. Sy drink haar tee vinnig klaar, staan op, knik ’n groet in sy rigting, betaal en stap uit.

Intussen word die lug donkerder, dreigender en blouer in die suide net links van die kerk aan die bopunt van die hoofstraat. Die verdonkerende lug is ’n skouspel wat drama­ties aan die op­bou is en die dorp geleidelik oorheers. Ook dié streek kan doen met reën – die droogte is besig om sy strop geniepsig nouer te trek.

Karolina stap vinnig terug na die hotel sodat sy nie deur die reën oorval word nie.

Langs die pad sien sy verskeie handgemaakte plakkate teen die straatligte vasgemaak, waarop staan:

Die Delarey en Beyers-toneelgeselskap bied aan:

DIE JALOERSE EGGENOOT

Gebaseer op ’n ou treffer.

Saterdagaand in die stadsaal.

Almal welkom. Verversings.

By die hotel aangekom, sien sy dat die donker, opge­sta­pelde wolkemassas agter die kerktoring aan die verbytrek is. Die lug is nou ’n troebel grys. Van waar sy voor die hotel aan die onder­punt van die hoofstraat staan, met die kerk aan die heel boon­ste punt, neem die dorp ’n paar oom­blikke lank ’n vertroude aan­sig aan. Karolina word deur ’n onverklaarbare verlange ver­­vul voor sy die hotel binne­gaan.

Toe sy laas hier was, was sy nog met slaperige onskuld gevul, hoewel sy toe reeds, op haar jeugdige ouderdom, die klassifi­ka­sie en taksonomie van die nege en twintig in­sekordes geken het.

Na aandete gaan Karolina in die dameskroeg sit. Sy het pas by die ingeboude kroegtoonbank plaasgeneem toe ’n korte­rige, don­ker man met sy glas in sy hand na haar aankom. Hy steek sy hand uit.

“Pol Habermaut,” sê hy. “Prokureur.”

Hy trek een van die kroegstoeltjies nader en gaan sit langs haar. Lank en aandagtig beskou hy haar. Sy kop hou hy effens skuins om haar beter te betrag. Sy hare en gesig is nat van die sweet. Sy kop is glad soos dié van ’n otter. Sy vel het die teks­tuur van ’n waterdier. Hy wieg effens heen en weer.

“Het ons mekaar al in wat algemeen bekend staan as die Nuwe Bedeling ontmoet?” vra hy.

“Nee,” sê sy.

Hy vra wat die doel van haar besoek aan die dorp is.

Sy vertel hom dat sy insekte bestudeer en navorsing oor ’n bepaalde motsoort doen wat hoofsaaklik in hierdie om­gewing aangetref word.

Hy kyk weer lank na haar. Hy lek sy lippe af en sê: “’n Sid­dering gaan nou deur my by die gedagte aan wat jy alles hier gaan aantref.”

“Ek hoop so,” sê sy.

Sy kyk in die vertrek rond. Behalwe die ingeboude kroeg met hoë stoeltjies is daar gemakstoele in groen en maroen kunsleer om plat, ronde tafeltjies gerangskik. Teen die mure is bokkoppe, in die hoeke is potplante op smeedyster­staanders, teen die een muur is ’n groot sebravel. Die ver­trek word gesellig verlig deur klein liggies teen die mure en rooi ligte by die kroeg.

Daar is nie baie mense hier nie, waarskynlik omdat dit ’n weeksaand is. Karolina se oog val op ’n man in die verste, lin­ker­­kantste hoek van die kamer. Sy kyk lank na hom, aandagtig.

“Wie is dit?” vra sy vir Pol; beduie met haar kop in die man se rigting.

Pol bring sy kop nader aan hare. Hy praat sag, vertrou­lik, onderlangs.

“Ons magistraat,” sê hy.

Hy gee haar ’n gewigtige, sameswerende kyk.

“Nie ’n mater in wie se persoonlike slaai ons moet krap nie,” sê hy.

“Ek sien,” sê sy.

Die magistraat is ’n fors, middeljarige man. Hy sit aan sy glas se rand en suig, of byt. Sy ander hand is oopgesprei op die stoel­leuning. Hy reageer nie opsigtelik op wat die man oorkant hom sê nie.

“Van die maters hier het groot sorge,” sê Pol.

Hy kyk weer veelbetekenend na haar. Sy kyk terug; diep in sy wateroë. Sy hou van hom.

“Ek sien,” sê sy.

Hy groet haar en gaan by ’n tafeltjie regs van haar sit. (In die hoek reg teenoor die magistraat.) Nie lank daarna nie daag sy vriende op, en sit hy sy eerste lied van die aand in. Hy het ’n diep en welluidende stem, en die vermoë om onskuldige liedere suggestief te laat klink.

’n Rukkie later kom Willie die dameskroeg binne; hulle het afgespreek om hier te ontmoet.

“Hoe lyk dit, Willie?” vra sy.

“Nee, dis op sy kop,” antwoord Willie, sonder om links of regs te kyk.

“Daai man daar in die hoek,” en sy beduie onderlangs in die rigting van die magistraat, “hoe lyk hy vir jou?”

Willie skink rustig sy bier voor hy ongemerk kyk.

“Hy pie ’n gevurkte groen straal,” sê Willie.

“O,” sê Karolina.

Willie neem ’n sluk bier.

“Waarskynlik vroeg deur die moeder verwerp,” sê hy. “On­les­bare dors. Konstitusie van ’n os. Maklik irriteerbaar. Krities. Moeds­willig. Aggressief. Manipulatief. Neiging tot anale vratte. Migraine oor die linkeroog, asof ’n spyker daar ingeslaan word.”

Willie kyk rustig voor hom.

“Ken jy hom?” vra Karolina.

“Nee,” sê Willie.

“So?”

“So?”

“Hoe weet jy dié goed?” vra sy.

“Enigeen kan dit doen,” sê hy. “Daar’s geen trieks aan nie.”

Karolina aarsel ’n oomblik.

“Hoekom sit jy jou geld op die rooie?” vra sy.

“Jy sal self sien,” sê hy.

Elke keer as sy in Pol se rigting kyk, kyk hy na haar, knik be­tekenisvol, alvorens hy met die diep welluidende stem ’n nuwe onhebbelike lied insit.

Karolina stel voor dat sy en Willie gaan kyk wat langs­aan, in die snoekerkamer, aangaan.

Toe sy die vertrek binnestap, voel Karolina die hare op haar ruggraat en agter in haar nek regop staan. ’n Vertrek vol vreemde vibrasies dié, ’n plek waar jy kan mal word en ’n misdaad pleeg, waar jy jou kop kan verloor, en jou goeie oordeel; oorgelewer aan jou medemens se geheime agendas en aan jou eie ondeurgrondelike drifte. ’n Plek wat die skakels in ’n ketting van óú herinne­ringe onverwags kan aktiveer. ’n Lekker plek, gesellig.

Aan die een kant van die vertrek staan die halfgrootte snoe­kertafel. In die res van die vertrek is daar rottang- en kuns­leergemakstoele. Teen die mure is daar bokkoppe (soos in die dameskroeg), bieradvertensies en geraamde foto’s. Die mure het ’n vreemde geel kleur – waarskynlik ’n weer­kaatsing van die groot lig bo die groen oppervlak van die snoekertafel. Die ver­trek is heelwat ligter as die dames­kroeg. Op die grond is ’n verslete olyfgroen vol­vloer­tapyt.

Ook hier is daar vanaand nie baie mense nie.

Die man in uniform wat besig is om oor die tafel te leun, kom orent toe hulle binnekom. Dit is die polisieman in blou van vanmiddag. Nou sonder sy pet. Hy het smal Oosterse oë en ge­spierde boarms; hy beskou haar ’n oom­blik voor hy verder speel. Toe hy sy skoot gespeel het, sit hy die stok neer, vee sy handpalms aan sy broek af, en kom na hulle met uitgestrekte hand.

“Kieliemann,” sê hy. “Luitenant. Bly te kenne.” ’n Man, ken­ne­lik, wat nooit iets laat blyk nie.

Hy stel hulle voor aan die ander spelers om die tafel en aan die ander mense in die vertrek.

Daar is ’n sersant Frikkie Visser, ’n sersant Duif Visagie, ’n sersant Blaf Buytendach; ’n meneer Maritz en ’n meneer Retief (wat vir Karolina soos FAK-manne en produkte van ’n universiteits­koor lyk); op stoele in die hoek, twee vaal onderwysers: ’n meneer Abel Kriek en ’n meneer Vrug Botha, en ’n reisiger met ’n vreemde naam (Karolina het hom tydens middagete in die eetkamer opgemerk).

Hulle word met verskillende intonasies, infleksies en grade van agterdog en vals Boere-hartlikheid gegroet, maar niemand neem hulle ernstig op nie. Karolina omdat sy ’n vrou is, Willie omdat sy van September is.

Op daardie oomblik kom ’n man by die agterste deur in, die een wat na die toilette lei. Uit die skadu kom hy in.

Die man is besonder lank, vaalblond, bleek in die gesig; hy steek sy hand na Karolina uit.

Karolina aarsel ’n oomblik, waarin sy haar van ’n paar feite ver­gewis. Sy hand is yskoud, sy handpalm sweterig.

“Kaptein Gert Els,” sê die man. Bleek oë, sien sy.

Karolina en Willie wys luitenant Kieliemann se aanbod van die hand om saam te speel. Karolina beduie onderlangs vir Willie, laat ons so gou moontlik hier uitkom. Hulle kom later in die week speel, sê Karolina.

“Kom ons gaan drink iets op die stoep,” sê sy sag.

Toe hulle buite sit, die koel naglug teen hulle wange, by die tafel waar die twee mans vroeër vandag gesit het, sê sy: “Hoe lyk dit vir jou daarbinne, Willie?”

Willie lag net.

“Dit lyk maar soos dit oral hier lyk,” sê hy. “No better, no worse.”

“Hoe lyk die kaptein vir jou?” vra sy.

Willie trek sy skouers effens op. “’n Man wat homself moeilik beheer,” sê hy.

“Ek het so geskrik,” sê Karolina. “Ek het ’n oomblik lank gedink hy is iemand anders. Iemand wat ek lank ge­lede geken het.”

Sy ril effens. Koue luggie?

“Ek vertrou hom nie. Nie so ver as ek my hand in die donker kan sien nie,” sê sy.

Willie kyk haar ’n oomblik lank stip aan. Asof sy eerder iets oor haarself as oor die man daarbinne gesê het.

Vrydagoggend kom Karolina op ’n vinger in die veld af. Of iets wat baie soos ’n vinger lyk. Willie ondersoek die vreem­de voor­werp lank en aandagtig. Dan sit hy dit in ’n bruinpapiersakkie om saam te neem. ’n Vreemde plantaardige groeisel, wit en wor­tel­agtig. Die vorige nag, onthou Karolina, het sy gedroom van swart klippe en swart sprinkane.

Hulle is albei goed toegerus vir die veld. Karolina doen na­vorsing oor die verspreiding en broeipatrone van die mot­spesie Hebdomophruda crenilinea. Willie is op soek na ’n verskeidenheid dinge, hy help meneer Isayago die Argen­tyn met die voorberei­ding van geneesmiddels. Dit neem hulle maande, soms jare, vertel hy haar, om party van die middels uit die basiese grondstowwe voor te berei.

Dié bepaalde soort mot word hoofsaaklik in hierdie streek aan­getref. Byna ’n honderd jaar gelede het Boer en Brit vrylik hier rondbeweeg. Hierdie provinsie was toe ’n betwiste gebied. Vroue, kinders en swartes is in groot stofwolke soos troppe diere hier rondgejaag. Die aarde is afgebrand. Die vernielde grond het wei­nig opgelewer. Die plante­groei en insektelewe het ’n gevoelige knou gekry – hier was plek-plek kilometers aaneen nie ’n blom, nie ’n plant, nie ’n graspol oor nie, nie ’n klipper onomgedolwe gelaat nie; die aardoppervlak was tot stof gereduseer soos die kloutjies van duisende groter en kleiner hoefdiere maande lank kruis en dwars daaroor beweeg het.

Nou is dit droog in hierdie streek. Karolina bestudeer die oor­lewingstrategieë van hierdie motspesie onder presies dergelike omstandighede.

Voor middagete stap hulle terug dorp toe. Hulle stap weer met die begraafplaas langs. Dit is so warm dat die sipresse vibreer, geen skaduwee gooi nie. Geen teken van die minnaars vandag nie. Hulle kom moeg, stowwerig en honger terug in die koelte van die hotel se barok­ingangs­portaal, en eet middagete in die eetkamer met die beskil­derde panele. Die ses panele beeld insidente uit die volksgeskiedenis uit: konfrontasies tussen Boer en Brit, wit en swart.

Die middag rus Karolina. Sy droom van ’n kol. Dit is ’n nat kol wat sprei soos bloed.

Toe sy wakker word, kyk sy na haar handpalm. Die vrou het twee mense daarin gesien: ’n man wat haar altyd sal liefhê, en ’n vrou wat haar nooit in die steek sal laat nie. Die lug was inderdaad ’n vurige rooi toe sy by daardie kara­vaan ingegaan het. Sy dink aan die wit wortelvinger wat Willie in die papiersakkie ge­sit het. ’n Grillige vonds. Sy dink aan die dans in die hotel môre­aand (sy het ’n adver­tensie daarvoor in die ingangsportaal ge­sien). Sy dink aan Pol, aan die lede van die plaaslike polisiemag wat sy ontmoet het in die snoekerkamer (in die besonder dink sy aan Gert Els), aan die magistraat, en aan die minnaars wat me­kaar met soveel hartstog en intensiteit in die begraafplaas aangekyk het, en sy dink aan haar eie lewe.

Maar die vreemdste van alles is ’n frase, wat as ’t ware uit die lug geval het, en wat deurentyd vandat hulle in die dorp aan­gekom het by haar opkom. Dit is ’n stem wat met groot nadruk sê: Ek het jou liéf. Sy weet nie of dit haar eie of ’n ander se stem is nie.

Sy weet dat die vermoë waaroor sy beskik om feite te anali­seer en te interpreteer op die gebied van die entomo­logie onge­lukkig nie geld ten opsigte van mense en mens­like verhoudings nie.

Vrydagnag droom sy van ’n man wat haar lank gelede die hof gemaak het, haar bemin het, vleeslik met haar omgang gehad het. Eers verguis hy haar, dan bieg hy hopeloos wel­lustig op die hande en knieë. En weer, en weer. In ’n toneel van obsene, onbehoorlike, onbetaamlike geilheid maak hy in die openbaar ’n be­kentenis. Op sy knieë en betraan, in ’n soort ordeloosheid van baie vlees. Onbehoorlik, triomfantlik geseën. Sy word verwilder wakker. Kan dit hy wees, waar hy hom nou bevind, kan dit hy wees wat haar nog steeds liefhet? Baie onwaarskynlik. Hy was toe al so weinig tot die liefde in staat. Onwaarskynlik dat sy vermoëns oor die jare in haar afwesigheid toegeneem het.

Nag vir nag begin hulle nou paradeer, die mans wat sy geken het, op een of ander manier begeer het, haar hart aan opgehang het, haar liggaam onverskillig aan uitgelewer het, vir wie se ongebreidelde genot dan ook al. Soos skouperde. Een vir een. Almal, uit die tydperk voor haar selfopgelegde onthouding.

Sy droom van die man aan wie sy haar hart die volledigste gegee het. Hy is ’n skadu van sy vroeë self. Of nee. Hy lê een­kant, dood, met sy keel sleg afgesny. En ’n vrou staan daar, haar klere geskeur, haar duur handsak van krokodilvel klou sy vas soos ’n laaste herinnering aan ’n eerbare, selfs plousibele lewe.

Saterdagoggend word sy vroeg wakker. Eers gaan sy gou dorp toe. Op die straathoeke dans en drom die mense dig saam. ’n Lewendige disko-gedruis uit die ghetto-blasters. Karolina hou haar in. Kies koers bodorp toe, gaan drink ’n koppie tee in die Rendezvous-kafee, en masseer haar kuite terwyl sy op haar be­stelling wag. Sy vind die mistroostige interieur vandag nie so be­drukkend nie. Die mure is dik. Die ryk roomkleurige vensterbanke is breed. Buite op die sypaadjie staan groepies vroue en gesels. ’n Stowwerige, gesellige warmte dring die koel, donker vertrek binne – dit wek ’n ou herinnering van stof en loomheid by Karolina. Sy verstaan nie die taal wat die vroue praat nie, maar sy hou van die klanke.

Sy het haar tee pas begin drink toe die man op wie Willie sy geld sit, die vertrek binnekom. Dié keer kom hy direk na haar tafel. Hy stel homself as Jess Jankowitz voor, en vra of sy omgee as hy by haar sit. Hy vra of sy elke dag hier tee drink, en hoe lank sy van plan is om in die dorp te vertoef.

Sy sê sy gee nie om as hy by haar sit nie, sy drink nie elke dag hier tee nie, en sy is vir ’n onbepaalde tyd op besoek.

Die man Jess is skaam. Agter die brillense is sy oë selfbewus, skugter. Hy het swaar ooglede, wat hom ’n effens trae, lui voor­koms gee. Sy vel gee steeds die rooi gloed af; dit is ’n diep rooibruin gebrand, met ’n sproeterigheid op sy gesig, op sy voor­arms en hande. Sy hare is yl oor die voor­kop, donker roesbruin in sy nek.

Sy hand rus op dieselfde boek van nou die dag, met die rooi buiteblad soos vlamme wat brand. Dit is ’n lang, smal hand, sproeterig, bedek met ligte rooiblonde haartjies.

“Wat lees jy?” vra sy.

“O,” sê hy, “dis ’n soort handleiding.”

“Waarvoor?” vra sy.

Hy lag bietjie, slaan sy oë neer. “Dit help mens om jou van vals persepsies te bevry … en, nouja, na helderheid te lei.”

Hy praat aarselend, sy oë is nie goed sigbaar agter die weer­kaatsende brillense nie.

“Dit is meditasie-tegnieke. Dit help om dinge wat ’n mens se insig vertroebel uit die weg te ruim.”

Die eienares bring Jess se tee. Buite die breë, koel vensterbank is die vroue se helder stemme hoorbaar. Dit is warm buite, en droog. In die lug hang daar ’n permanente stowwerigheid.

Hulle sit ’n paar oomblikke in stilte.

“En waaroor mediteer ’n mens?” vra sy.

“Oor baie dinge,” sê hy. “Oor sterflikheid, oor die dood. An­der se dood. Jou eie dood.” Hy haal die skouers effens op. “Daar is baie meditasies.”

“Dit klink waardevol,” sê Karolina.

“Dit is,” sê Jess.

Hy vra haar waarmee sy haar besig hou.

Sy vertel hom kortliks van die navorsing oor die motte waar­mee sy hier besig is. Sy vra hom of hy in die dorp woon, of hy hier werk.

Hy sê nee, hy woon in die Kaap. Hy is met studieverlof hier. Hy ken die dorp goed, sy oupa-hulle het hier gewoon.

Sy vra wat sy vakgebied is.

Sy vakgebied is ekonomie, sê hy. Hy werk aan teorieë oor makro-ekonomiese ewewig.

Hulle drink hulle tee klaar. Daarna staan sy op om te gaan. Hy sê hy stap saam, hy het ook nog iets om in die dorp te doen.

Toe hy opstaan, sien sy vir die eerste keer hoe lank hy werklik is. En nie skraal nie – sy liggaam suggereer ’n groot soliditeit – ten spyte van die skraal hande en die delikaat gepunte vingers.

Met die vreemde gloed of hy brand van binne, of mens jou by hom kan verwarm. En die sproeterigheid, van alle dinge. En die lyf moet seker ook met die brons hare oordek wees, dink sy onwillekeurig. En die ontwykende blik en die swaar ooglede. Nie die soort man oor wie sy in haar jeug en in die tye van dwaasheid daarná sou gefantaseer het nie.

Toe hulle uitmekaar gaan, vra hy of sy planne vir die aand het, sy sê ja sy het, maar sy vertel hom nie van haar voornemens om te gaan dans nie.

Saterdagmiddag rus sy. Sy verbeel haar sy hoor die wind iewers in bloekoms ruis. As sy wakker word, verf sy haar toonnaels. Sy doen dit versigtig: sit stukkies watte tussen die tone. Dan begin sy opwarm. Omdat sy die plankvloer (met verslete mat) nie ver­trou nie, warm sy bo-op die bed op. (Waarvan die vere gelukkig besonder hard en veer­kragtig is.) Sy beweeg in ’n geweldige tempo op die een plek op en af. Haar hare is styf vasgemaak. Die sweet tap haar af. Daarna vryf sy haar bene met warm olie in, voor sy stort en haar blou rok aantrek. In die spieël sien sy ’n vrou wat lyk of sy met bodemlose vertroue na die wêreld uit­reik. Haar onge­vormd­heid ten spyt.

Toe sy die musiek hoor, gaan sy af onder toe. Sy loer vinnig by die dameskroeg in, die magistraat is op sy plek. Uit die snoe­kerkamer is reeds ’n groot rumoerigheid hoorbaar. Sy stap om die gebou na die oostelike stoep waarop die eetkamer oopmaak; deur die venster sien sy vlugtig dat die tafels en stoele teen die agterste muur opgestapel is. Sy gaan by ’n tafeltjie sit en bestel ’n glas lemoensap. Dit is aangenaam koel op die stoep. Daar sit heelwat mense hier buite; die ander dans reeds binne. Hierdie Saterdag­aand­dans word skynbaar goed ondersteun deur die plaas­like in­woners.

Sy herken ’n paar van die mans wat sy die Donderdag­aand in die snoekerkamer ontmoet het. Daar is sersant Duif Visagie en gade, sersant Blaf Buytendach en gade, die twee FAK-kêrels en hulle verloofdes (die meisies lyk nie soos gades nie); by ’n ander tafeltjie sit die twee vaal onder­wysers en hulle gades, die vaalste van die twee (meneer Kriek?) se jong vroutjie het ’n klein don­ker koppie, asof haar skedel in die beklemmende teenwoor­digheid van haar onderdrukte eggenoot met die jare geleidelik aan die krimp is.

Luitenant Kieliemann, Gert Els, Pol, sersant Frikkie is nie teen­woordig nie. Hulle is waarskynlik sonder gades in die snoeker­kamer. Sy sal nog sien: daar is diegene wat snoeker speel, dié wat dans, dié wat in die dameskroeg sit, en dié wat snoeker speel én dans. Waarskynlik is daar nog ander, maar dit is die be­langrikste kategorieë.

Karolina sit rustig, kyk voor haar uit, drink haar lemoen­sap; sy ken en gehoorsaam die reëls van die spel.

By ’n tafel ’n entjie van haar sit ’n groepie mans op hulle eie. Hulle lag en drink bier. Uit daardie oord verwag sy die eerste handeling. Van binne is die ritme van die musiek reeds on­draaglik uitnodigend.

Sy is reg. Een van die mans staan op, kom na haar toe, stel homself voor as Kolyn (niks meer en niks minder nie), en vra haar om met hom te dans. ’n Man met ’n donker Voortrekker­baard.

Hy lei haar aan die elmboog na binne. Onder die be­skil­derde panele hoog teen die mure, en die twee dakwaaiers wat stadig draai, neem hy haar in sy arms, en onderwerp sy haar wil vir die duur van die dans gewillig aan syne.

As die Kolyn-kêrel iets besonders gemerk het, het hy dit nie laat blyk nie. Toe Karolina laataand uitgeput in haar kamer kom, dink sy sy kan haarself gelukkig ag. Dit is nie dikwels dat sy by so ’n geleentheid die beste danser van almal so vroeg in die aand of selfs hoegenáámd as dansmaat kry nie. Sy kan veel slegter doen as elke Saterdagaand met hom dans.

Ongelukkig en onvermydelik kan sy egter ook beter doen. Dit is die lot van Karolina dat sy ’n begenadigde danser is – ’n uit­verkorene, naas haar buitengewone vermoëns op entomologiese gebied.

Klassiek reeks: Karolina Ferreira

Подняться наверх