Читать книгу Klassiek reeks: Karolina Ferreira - Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach) - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Soggens gaan sy en Willie saam veld toe. Sy versamel in­ligting oor die motte, hy soek en versamel sy plante en ander grondstowwe. Smiddae rus sy, dokumenteer en maak aantekeninge van die oggend se veldwerk. Dit is vroeg Januarie, baie warm, byna die warmste tyd van die jaar, en droog. As sy nie kan slaap nie, lê sy net, dink aan die oggend se vondste, aan die ontwikkeling van haar argument, aan dinge wat Willie haar gewys of meegedeel het. Of sy dink aan mense wat sy geken het. Of aan sekere situa­sies waarin sy haar bevind het. Of sy laat haar asso­siasies beweeg waar dit wil – volg dit argeloos. Soms word sy ont­­huts deur ’n gedagte wat skynbaar uit die bloute op haar neersak: ’n insig, ’n fantasie, ’n aanvoeling, ’n vermoede.

Saans na ete gaan hulle soms snoeker speel.

Pol en die magistraat is feitlik elke aand in die dames­kroeg; in die snoekerkamer tref hulle dikwels luitenant Kieliemann, sersante Duif Visagie, Blaf Buytendach, Frik­kie Visser en nog ’n paar ander gereelde spelers aan.

Luitenant Kieliemann het nie om dowe neute sy lippe die eerste aand afgelek nie. Hoewel hy ’n man is wat in die teen­woor­digheid van ander niks laat blyk nie, maak hy spoe­dig – toe hulle vir die eerste keer alleen is – sy bedoelings aan Karolina bekend. Dinsdagaand, op pad na die dames­toilet, kom sy hom in die gangetjie buite die deur van die snoekerkamer teë (die deur waar­in Gert Els sy eerste verskyning gemaak het).

Hy druk haar teen die muur vas en probeer haar soen.

Enigsins onkant gevang, probeer sy haar losruk uit sy om­hel­sing. Maar gespierd is Kieliemann nie verniet nie.

In haar nek sê hy: “Assebliéf.”

Sy ruk woordeloos los en gaan toilet toe. Terug in die snoe­ker­kamer kyk Kieliemann op toe sy inkom, maar gee geen aandui­ding dat iets sopas tussen hulle gebeur het nie. Sy gaan langs Willie op die rottangbankie sit.

“Kieliemann,” sê sy onderlangs vir hom. “Wat is sy case?”

“Neiging na gespletenheid en fetisjisme,” sê Willie, “wreed teen­­­oor sy ondergeskiktes; nederig teenoor sy meer­deres. Uit­wen­dige koelheid, inwendige branding. Oorma­tige seksuele fantasieë.”

Langsaan in die dameskroeg sing Pol: Die Lente Met Haar Towerstaf. Karolina drink whisky. Sy hou die spelers dop. Kie­lie­mann is ’n venynige speler (dodelik akkurate oog); Frikkie Visser raak gou paniekerig; Duif Visagie se bewegings is onge­koördineer; Blaf Buytendach speel verbete en krampagtig (te gretig om te wen); Willie is indrukwekkend (om dié rede sal hulle waarskynlik sy teenwoor­digheid hier duld, dink sy). Karo­lina hou van snoeker, maar moet nog heelwat leer.

Kort voor lank steek Pol sy otterkop by die deur in. Hy sien haar sit, glimlag innig, kom na haar aangeswem, glas in die hand, gaan sit langs haar op die bank. Hy kyk diep in haar oë met sy waterige blik, sy oë die kleur van moeras­water, die wit nie sigbaar nie. Hy gee ’n groot hitte af, soos stoom. Vee met ’n sakdoek die sweet van sy voorkop af. Saggies sing hy nog ’n paar laaste versreëls van Die Lente: “En waar haar voetjies saggies raak,” sing hy, “het grassies opgestaan, het grassies opgesta-haan.”

Hy bly stil, hou sy kop skuins om haar beter te betrag.

“Vertel my,” sê hy, “of jy nou al iets belangriks gevind het.”

“Nee,” sê sy, “ek sal nog baie moet soek. Die motte is ont­wykend. Dis nie verniet dat hulle so goed onder on­moontlike omstandighede oorleef het nie.”

Pol kyk haar lank en indringend aan.

“Ek sidder nou by die gedagte,” sê hy, “aan die verstom­mende vermoëns van so ’n mot.”

Hy sidder sigbaar. ’n Heftige rilling gaan deur sy lyf. Sy oë kry ’n veraf uitdrukking.

Hy fokus weer sy waterige blik op Karolina.

“Ken jy die geskiedenis van hierdie streek?” vra hy.

“Nie baie goed nie,” antwoord sy.

“Dis hier,” sê hy en pouseer dramaties, “van waar een van ons groot generaals ’n belangrike veldtog geloods het. Net hier ander­kant, buite die dorp.”

Pol neem ’n diep teug uit sy glas.

“Ek sidder nou,” sê hy, “as ek dink aan sommige momente in ons land se geskiedenis.”

Karolina buig haar kop nader aan syne.

“Jy moet my nog van al die mense hier iets vertel,” sê sy.

Pol gee haar ’n betekenisvolle blik.

“Die meeste maters hier,” sê hy, “het groot sorge.”

Met dié woorde neem hy afskeid en gaan sit ’n nuwe lied saam met sy vriende in die dameskroeg in.

“Die lie-we len-te in die land, Met geur en kleur

Met blom en blad, Met reën ge-ruis en hel-der son-ne-skyn,

Met voël-ge-sang, Die heel-dag lang,

In weer-ga-lo-se soet re-frein,”

hoor sy hom langsaan sing.

Intussen droom Karolina nag vir nag verder. Asof ’n motief in­gelei is waarop nou op verskillende maniere nagteliks voort­ge­borduur word. Sy droom van verskillende mans wat sy geken het: minnaars, vyande, vriende. Sy droom asof sy snags klippe omdop om te sien wie sy daaronder aantref. ’n Padda, ’n prins, ’n man met die sleutel. Die man wat aan haar haar slaperige on­skuld sal terugbesorg; wat haar altyd sal liefhê. Asof sy elke nag almal wat sy ooit geken of lief­gehad, of verguis of geringgeskat of gehaat het, opkomman­deer om weer voor haar te verskyn, sodat sy elke moontlikheid deeglik kan ondersoek en heroorweeg.

En bedags vind sy dat haar gedagtes toenemend in die veld tussen die klippers en droë graspolle afdwaal na die vroue wat sy ken, geken het – elkeen wat sy as vriendin beskou het. Sy won­der oor hulle, watter een dit is wat haar nooit in die steek sal laat nie. Willie wys vir haar dinge, sy hoor nie wat hy sê nie, sy kyk in sy helder oë asof sy verwag dat ’n beeld van die vrou skielik in sy skoon irisse vorm sal aanneem.

Sy het hierheen gekom om die oorlewingstrategieë van ’n spesie van die motfamilie Geometridae na te vors. Op pad hierheen het sy Willie opgelaai, ’n man wat sy van geen kant geken het nie. Sy het in ’n karavaan – teen ’n bloedige sonsondergang oor die golwende deinings van die Natalse Middellande – ’n vrou met ’n nes van vergulde hare haar lig beswete palm laat lees. Die vrou het ongegronde, vergesogte dinge gesê. Karolina het gelag oor die voor­barigheid daarvan toe sy daar uitkom. (Sy is ’n wetenskaplike, haar entomologiese navorsingswerk word wyd gerespekteer.) Maar die manier waarop sy gelag het ten spyt, kan sy nie van die vrou se woorde vergeet nie.

Woensdagaand gaan sy en Willie voor aandete iets op die voor­stoep drink en tref weer soos met hulle aankoms vir Jess Jankowitz en sy vriend daar aan. Jess staan op, Karolina stel hom aan Willie voor, hy stel sy vriend Frans Roeg aan hulle voor. Hulle wissel ’n paar woorde oor die weer; Karolina-hulle gaan ’n entjie daarvandaan by ’n ander tafeltjie sit.

Dit is ’n mooi aand. Na die hitte van die dag kom die koelte soos ’n intieme, belowende aanraking op hulle velle lê. Die nag is uitnodigend. Karolina het haar lank gelede voorgeneem (na ’n tydperk van dwaasheid) om ’n lae emosionele profiel te hou. Sy lei ’n voortreflike lewe, toegewy aan die studie van die mot. Haar ento­mologiese kennis was al verbluffend op twaalf, voor sy alles verloor het. Haar skouers is sag, haar donker hare is happerig gesny.

Sy en Willie staan op om te gaan eet. Oor haar skouer sê sy tot siens vir Jess. Frans groet ook, met ’n gepynigde halfglimlag en ’n onpeilbare, talmende blik. In die eet­kamer vra Karolina vir Willie of hy nog steeds sy geld op die rooie sit. Willie lag weer en sê sy moet nie so onge­duldig wees nie.

Donderdagmiddag gaan sy tee drink in die Rendezvous-kafee. Jess is reeds daar. Toe sy inkom, staan hy half op, trek ’n stoel vir haar uit. Sy gaan by hom sit. Hy bestel vars tee, vir hulle albei. Saam drink hulle die ondrinkbare tee. Bo hulle koppe draai die dakwaaier stadig. Dit is die moei­same uur van die miskruier. Die hoofstraat, die systrate, die omliggende veld lê doodstil in die moordende somerhitte. Voor in die kafee is oorryp mango’s en verlepte druiwe in strooikissies uitgestal. Die swaar, soet reuk van die mango’s vul die hele kafee. Jess vee die sweet van sy gesig met ’n sakdoek af.

Op die tafel langs hom is die boek met die rooi buiteblad, die handleiding na helderheid.

Sy vra hom of hy die tegnieke al bemeester het.

Hy het ’n vreemde stem. Nogal aarselend, en nie baie diep nie, vir so ’n groot man.

“Nee,” sê hy, “maar ek het groter gemoedsrus.”

Hy vertel haar dat die Boeddhisme die een ding is wat hom die afgelope tyd hartstogtelik geïnteresseer het.

Wat het hom dan vroeër geïnteresseer, wil sy weet.

“O, vroeër,” sê hy. “Vroeër het ek gehoop op wêreldse sukses; vroue vrugteloos begeer. Ek het my lewe lank ge­wag op ’n deurbraak. Dit sou my ware, onvervreembare en superieure kwali­teite openbaar.”

“Het dit ooit gebeur?” wil sy weet.

“Nee,” sê hy, “dit het nooit gebeur nie.”

Sy aarsel voor sy vra: “En die vroue?”

“Die vroue het ook maar min opgelewer,” sê hy. “Min blywende vreugde.”

“Is daar nou ’n vrou?” vra sy.

Karolina weet dat hulle in die spieël teen die agterste muur ge­reflekteer word.

Hy aarsel voor hy antwoord: “Daar was tot onlangs.”

Karolina knik woordeloos. Die reuk van die mango’s is oorweldigend swaar en soet. Sy drink haar tee klaar.

“Wil jy vanaand met my gaan stap?” vra hy, “die aande is so mooi. Dis dan nie so warm nie.”

Karolina dink ’n oomblik na. “Dis goed,” sê sy.

Toe staan sy op, groet hom, en stap buitentoe. Die hitte slaan haar soos ’n golf toe sy by die kafee uitkom. Sy voel of sy die enigste persoon op straat is; sy weet nie dat luite­nant Kielie­mann haar dophou van agter ’n pilaar aan die oorkant van die straat nie. Hy eet ’n pakkie grondbone en rosyntjies.

Hoog in die wolklose lug is die maan sigbaar, so yl dat dit amper deurskynend is.

Na ete die aand ontmoet sy Jess op die stoep voor die hotel.

Eers stap hulle met Stiebeuelstraat op. Die maan begin vaste vorm aanneem. Hy sê die maan herinner hom aan ’n Sjinese film wat hy gesien het. Sy wil weet wat die film so besonder gemaak het.

“Dit het mens heeltyd in aanraking gebring met die dood, met ’n verskriklike onafwendbaarheid, met hoe verskriklik dinge kan wees,” antwoord hy.

Hulle draai links in Johanna Brandstraat op, begelei deur die maan. Die hemel het oopgegaan soos die pupil van ’n oog.

Sy vertel hom hoeveel sy van sipresse hou.

Hulle stap op die breë sypaadjies verby die groot, ou dorps­huise. Die huise lyk almal bekend, maar sy kan nie een eien nie, dit was te lank gelede.

Sy vertel hom nie met hoeveel onwrikbare aandag sy daagliks en veral snags haar gedagtes aan dood en sterflikheid wy nie. Sy vertel hom nie hoe graag sy dans nie. Sy vra hom nie na Frans uit nie, hoewel sy nuuskierig is om meer omtrent hom te wete te kom.

Jess vra haar uit na Willie. Sy vertel hom dat sy Willie opgelaai het op pad hierheen, dat sy hom nie vantevore geken het nie. Sy vertel dat sy en Willie soggens saam in die veld werk, dat Willie by ’n meneer Isayago bly, by wie hy verder van genees­middels leer. Dat sy Willie op dié ma­nier ontmoet het, beskou sy as voor­bestemming, hoewel sy tot op hede nie in so ’n verskynsel geglo het nie.

So gesels hulle, terwyl hulle deur die breë strate van die dorp wandel, onder die lig van die stralende maan. Hulle stap tot aan die westelike dorpsgrens, tot by die draad waar die veld begin, voor hulle omdraai en teruggaan hotel toe.

Hy vra of hulle weer kan ontmoet.

Vrydagaand gaan Willie en Karolina snoeker speel.

Eers gaan hulle in die dameskroeg iets drink. Die magi­straat, sien sy, is op sy plek in die hoek. Sy besluit sy het geen besondere begeerte om deur hom raak gesien of aan­gespreek te word nie. Pol is nog nie hier nie.

In die snoekerkamer gaan dit reeds jolig.

Kieliemann kyk vinnig op toe sy en Willie inkom, sersant Frik­kie Visser glimlag breed. Behalwe vir sersante Blaf Buyten­dach en Duif Visagie en die twee onderwysers Kriek en Botha, is daar va­naand nog ’n onderwyser teenwoordig, ene Balus­chagne (houtwerk en rugby), wat as Balletjies aan­gespreek word – ’n korterige, aantreklike kêrel met ’n breë bors en ’n vernietigende glimlag, ’n lady’s man, sonder twy­fel. Daar is ’n paar reisigers (in transit), ’n dokter Manie Maritz, een van die dorpsdokters (mank in die een been en wellustig van oog). Asook drie boere uit die om­gewing – die twee De Melck-broers is eienaars van ’n reuse­stoettelery in die distrik, en buitengewoon welaf, sal sy later ver­neem, ten spyte van die droogte. Die jongste broer is goudblond, strálend blond, soos ’n mens selde teëkom, maar sy merk dat hy hom eenkant hou, selfs in die geselskap van ander.

Toe hulle ’n rondte uitsit, vra Karolina vir Willie of hy dink enige vroue kom ooit hier speel. O ja, sê Willie, as die miere be­gin vlieg, sal die vroue kom. Op daardie oomblik steek Pol sy kop by die deur in, sien Karolina, hou die kop soetig skuins en wuif glas in die hand vir haar.

Vanaand speel Karolina roekeloos. Sy drink heelwat whisky. Wanneer dit haar beurt is, glinster haar skouers onder die swaar lig bo die snoekertafel. Haar donker haredos kry ’n lewe van sy eie. Die atmosfeer in die snoeker­kamer raak digter, soos die aand verloop, van die rook, van die spel, van die verskillende praatjies, van die gelag, van die liggaamshitte van die aanwesiges. Dit is ’n warm nag. Die vensters is wyd oop. Buite is die nag koel en blou. Die warm lig lok die motte; hulle kom in groot getalle, dring daarop aan om in te kom, geïdentifiseer te word.

Die ruimte raak geleidelik meer kloustrofobies. Uit die dames­kroeg langsaan kom flardes van liedere na hulle aan­gesweef, af­gewissel deur ’n reëlmatige gelag waarvan die register elke keer hoër word. Dit is die magistraat in sy hoek wat so lag, sien Karolina later.

Kieliemann hou haar onderlangs soos ’n valk in die oog. Waar moontlik probeer hy agter haar staan, sodat hy as sy voor­oor buig om ’n skoot te skiet, onopgemerk die blou terylene-bult teen haar boude kan aanvryf. Dokter Maritz met die mank been probeer ook sy bes om die een of ander liggaamlike kontak te bewerkstellig, maar hy is minder be­weeglik as Kielie­mann.

Karolina speel roekeloser, haar kop begin draai, sy voel of sy hallusineer van die groen tafeloppervlak, die effek van die whisky en die hitte. Die mure weerkaats ’n gevaarlike geel, die lug is dik van die rook, daar word baie ge­praat. Die De Melck-broers be­spreek Hereford-stamlyne met die reisigers, drink bran­de­wyn. Hulle praat oor sperm­tellings en teelballe. Die onder­wysers praat oor rugby. Die vaalste van die drie (meneer Kriek) het twee brandende rooi kolle op die wange van opgewondenheid. Geleidelik begin die Boere-psiges uitrafel. Die lug word swaar van on­artiku­leerbare verlangens, diep verskuilde vrese en voor­oordele, en ’n latente histerie wat geleidelik na die oppervlak beweeg. Dit kan op verskeie maniere uitbars, vanaand of later. In ’n kaalswemmery, ’n klopjag of ’n middernagtelike stroop­tog. In die een hoek vertel Balletjies hoe hy lank­laas so ’n voël aan hom gehad het (hoor Karolina in die verbygaan), en langs­aan is Pol se liedere en die magistraat se gelag in vlae hoorbaar.

Net ná hy sy skoot gespeel het, hoor Karolina sersant Frikkie vir Kieliemann vra hoe laat hulle vanaand moet uitry. Sy spits haar ore, maar sy hoor nie meer as dit nie.

’n Rukkie later gaan sy (so ongemerk moontlik) deur die agterste deur toilet toe. Toe sy by die damestoilet uit­kom, wag Kielie­mann haar in die donker gangetjie in.

Hy druk haar, soos die vorige keer, teen die muur vas. Dié keer het hy meer gedrink en is sy versoeke dringender: “Asse­bliéf,” smeek hy. “Moenie my weier nie.”

Karolina druk hom met geweld weg.

“Los my verdomp uit, Kieliemann,” sê sy.

Maar net voor sy die deur oopmaak om weer by die snoeker­kamer in te gaan, vra sy hom: “Waarheen is julle van plan om vannag uit te ry?”

Hy kyk haar ’n oomblik vreemd aan voor hy vra: “Hoe­kom, wil jy saamgaan?”

“Ja,” antwoord sy, op die ingewing van die oomblik.

“Daar’s kak in die lokasie,” sê hy. “As jy dit wil sien, is jy wel­kom om saam te gaan.”

Karolina gaan die snoekerkamer binne, Kieliemann volg op haar hakke.

Anderkant die bedreigende groen oppervlak van die snoeker­tafel staan kaptein Gert Els. Hy moet ingekom het toe Kielie­mann besig was om haar in die gangetjie om die hoek lastig te val.

Kleurlose hare, kleurlose vel; bleek, uitdrukkinglose oë (rooi om die onderste lede), voorkop natgesweet, groot sweet­vlekke onder die arms. Karolina verbeel haar die lug is koud óm hom.

“Sy ma se móér,” sê hy nadruklik vir iemand. Hy piets reëlmatig met die knuppel teen die bobeen.

Hy wink Kieliemann met die kop nader. Hulle konfereer vlug­tig. Sersante Frikkie, Blaf en Duif word ook nader geroep, en die hele groep vertrek; Kieliemann sonder ’n blik in Karolina se rig­ting.

“Dis te benoud hier,” sê sy vir Willie. “Ek gaan buitetoe.”

In die koelte buite op die stoep sê sy vir hom: “Kielie­mann sê daar’s moeilikheid in die township – hulle is seker op pad soontoe.”

“As daar moeilikheid is,” sê Willie, “kan jy maar weet hulle het daarvoor gesorg.”

Hy spoeg iets waaraan hy gekou het heftig uit. “Dis ná midder­nag,” sê hy, “die uur van die rot.”

“Wat beteken dit?” vra sy.

“Els en die rot is ’n sleg kombinasie,” antwoord Willie. “Two rats make a pack.”

Willie wens haar ’n goeie nagrus toe. Karolina voel ’n effense traagheid by die afskeid, ’n onwilligheid om hom te laat gaan; sy het behoefte daaraan om gerusgestel te word.

Sy gaan met die trap op, met haar hand op die hout­reling, met die verslete tapyt die gang af na haar kamer. (Sy moet ’n ander blyplek kry.)

Sy sit ’n rukkie in die donker op haar bed. Haar kop draai; sy het te veel whisky gedrink. Sy kyk deur die oop venster na die nag buite. Die hemel is helder en oop. Die maan is klein en hoog. Die hotel het nog lank nie tot be­daring gekom nie. Deure klap, toilette word gespoel, voetstappe en ’n gelag is hoorbaar aan die onderpunt van die gang. Vloerplanke kraak. In die ka­mer langsaan ’n vrou se fluisterstem. Dalk is dit die minnaars. Veraf, onder, ’n groot rumoerigheid.

Die kamer is vol motte, ’n ryk verskeidenheid soorte en groot­tes; sommige het sy hier verwag, ander nie. Voor sy in die bed klim, kyk sy, soos elke ander aand, wat sy alles aantref.

Wat is die mooi vrou se storie, wonder sy voor sy aan die slaap raak. Gaan die liefde haar verblind, óórneem en uitwis?

Karolina slaap onrustig. Een maal word sy wakker van ’n geel lig wat buite in die straat voor die hotel flits; ’n polisielig. Wat soek hulle hier? dink sy half deur die slaap.

Sy droom dat sy op ’n man afsak, feitlik vooroor op sy penis val, hom in haar mond neem, maar dat hy telkens sy ereksie verloor. Die man is Jess.

Die volgende oggend op pad dorp toe sien sy, behalwe die plakkate wat die toneelstuk van die jaloerse eggenoot adverteer, plakkate wat ’n bidbyeenkoms vir reën op die vliegveld aan­kondig.

Dit is Saterdagoggend, vanaand gaan sy weer dans. Maar van­dag vul die vooruitsig haar nie met die gewone aangename prikkeling van afwagting nie. Sy probeer ont­hou waar die dorps­tronk is. Waarskynlik het sy dit nooit geweet nie. Vyf en twintig jaar gelede was die munisipale swembad, die Oasis- en Rendezvous-kafee, Nortjé se apteek, die stadsaal waar rolprente vertoon is, Avbob, die veld aan die boonste en die vliegveld aan die regter­kantste dorpsgrens die belangrikste bakens vir haar hier.

Die aand dans Karolina weer met die Kolyn-kêrel in die hotel­eet­kamer. Hy dra ’n kortbroek omdat dit so warm is, en mo­dieuse, wit, Amerikaanse tekkies wat tot by die enkels opryg. Hy het groot, welgevormde kuite; delikate enkel-, knie- en polsgewrigte; ’n stewige maag en boude. ’n Vroeë uitbarsting van aknee het sy vel pokdalig gelaat, hier­die letsels nou gekamoefleer deur ’n welige, swart Voor­trek­kerbaard; die mond hierdeur nie goed sigbaar nie. Sy oë is groot, ver uitmekaar, donkerbruin, maar die neus is te fyn en smal in die bebaarde landskap van die gesig. Sy bene, kop en torso vorm nie ’n harmonieuse geheel nie. Haar regterhand hou hy liggies, rakelings vas, ten spyte van die stewige pas waarmee hy met haar om die draaie beweeg. Hy dans goed, maar meganies, soos iemand wat in die weermag leer dans het.

Karolina dans sonder oorgawe. Tussen danse drink hulle le­moen­sap op die stoep met die gekleurde liggies. Sy kyk af­ge­trokke oor sy skouer na die maan. Hy praat oor Here­ford­-stoet­beeste, hulpverleningskemas aan boere, naatlose damme. Droog­te en droogte­praatjies, allerlei kakpraatjies waarvan sy nie ’n woord hoor of glo nie. Hy is ’n regerings­amptenaar of -afgesant, wat skeel dit haar vanaand.

Om en om tol hy met haar in die rondte. Met magtige passe swiep hy haar om die baan totdat sy dink haar binne­dye gaan skeur in die poging om by te hou. Die sweet tap hom af. Sy vind ’n soort verplaaste plesier in die aanraking met sy stewige, natgeswete maag.

Op die agtergrond is ’n rumoer hoorbaar uit die snoeker­kamer en ’n luidrugtige gesing uit die dameskroeg – waarvan die een deur op die eetkamer oopmaak.

Om elfuur verskoon sy haarself, gaan op na haar kamer met die uitgekerfde baroktrap langs.

Sy verwag geen onmiddellike gratifikasie meer nie. Haar hart­s­togte is die bestudering van die mot en die verfyning van haar danstegniek. Sy verwag van geen man, vrou of minnaar iets nie – ten spyte van die vrou met die vergulde nes se voorspel­ling. Dit is haar voorneme om konflik en skaamte te vermy; gewelddadige eindes, onnodige pyn, emosionele ontwrigting. Sy is tevrede. ’n Honderd maal beter daaraan toe as vroeër.

Volgende keer gaan sy op haar eie in ’n ander dorp dans.

Sondag lê sy op haar bed; sluit die buitewêreld uit. Sy eet nie, sy drink water as ’n vorm van suiwering. Sy is nie ge­lukkig nie en sy is nie ongelukkig nie. Sy slaap en sy word wakker. Sy droom van ’n moeder wat baie vorms aanneem. Wat goed is, wat kwaad is, wat versorg, wat verwerp. Wat jonk is, wat oud is, wat swanger is, wat dood is, en altyd as sy wakker word uit die halfslaap, en die wêreld weer ’n vaste vorm aanneem, weet sy die moeder is nie meer daar vir haar nie. Sy huil.

En die landskappe wat na haar kom! En die vorms wat die vader aanneem! En die vermommings van haar eie seksualiteit; en die vriende, die bekendes, die onbekendes, be­mindes en dooies wat te voorskyn tree, wat oormekaar skuif, wat voorstelle maak, wat smous met onverklaarbaar­hede! Die technicolor-close-­ups, gasoptredes, raaiselagtige debute en gebare, grynse, dreigemente! Die intieme skare wat Karolina ontmoet, omhels, aan die bors vasdruk, af­pers, vertrou, vertroetel, tart, verlaat!

Laatmiddag staan sy op, gaan by die venster staan. Kyk uit oor ’n deel van die slapende dorp, kleurloos gebleik in die droë laatsomerhitte. Op die vensterbank sit ’n mot. Dit is die rare Chrysophasma vrystatentis. Dit is klein en blond, die vlerke ontmoet in ’n spits driehoekie in die middel. Die koppie is minus­kuul; die vlerke is styf, soos goue brokaat­kleed, delikaat met silwer geborduur.

Enigiets kan gebeur, dink Karolina. Sy kan enigiets sien, aan enigiets blootgestel word; daar is geen intrinsieke be­skerming van enige aard wat haar gebied kan word nie. Daar is geen waarborge nie.

Klassiek reeks: Karolina Ferreira

Подняться наверх