Читать книгу Hartstog in Malawi - Lizet Engelbrecht - Страница 7

4

Оглавление

“Nee, nee, asseblief, help! Caitlin …”

Rochelle skrik met ’n ruk wakker. Sy het haar beddegoed nes die ander aande op ’n bondel gewerk soos sy gestoei het. Die nagmerrie … Caitlin is ontvoer, maar sy was nog nie by die ongeluk nie. Wat het haar wakker gemaak?

Dan hoor sy dit: die skerp roep van ’n visarend. Dit sny deur murg en been en hoendervleis slaan op haar lyf uit. Sy laat haar kop ’n oomblik teruglê teen die kussing en probeer die angs as gevolg van die nagmerrie uit haar nek rol. Elke nag raak die droom meer werklik, meer intens, dink sy bekommerd en sluit haar oë ’n oomblik.

Haar maag rammel van die hongerte. Gisteraand kon sy nie veel in haar lyf kry nie. Enersyds was sy te moeg ná die uitmergelende dag, en andersyds het die walglike sosaties wat by elke dorpie teen haar motor se vensters vasgedruk is in haar brein bly spook. Sosaties met ’n keuse van paddas, veldmuise en die kleinste voëltjies wat sy al gesien het, sommerso met vere en kop gebraai. Net die gedagte aan die wrede dood van die voëltjies laat haar weer naar voel.

Sy spring uit die bed, stort en verklee. Godfrey, die bestuurder, is ’n ekstrovert en lief vir gesels. Hy het gisteraand behoorlik geklets oor als en nog wat. Sy kon aflei dat niemand hier bewus is van sir J.C. Auther se vorige lewe in Portugal nie – dat sy ánder lewe, soos sy vermoed het, ’n geslote boek is.

Doelbewus hang sy haar kamera oor haar skouer, gereed om die eerste gedeelte van haar opdrag uit te voer. Die môre ruik heerlik vars, dink sy terwyl sy met die wandelpad na die dek stap waar ontbyt voorgesit word. Die natuur lewe behoorlik: voëltjies kwetter, hier en daar skarrel ’n eekhoring of akkedis, en sy sien selfs twee sebras en ’n trop impalas.

Net soos die balkon van haar chalet hang die dek van die restaurant ook oor die Shire. Belangstellend bestudeer sy die landkaart wat agter op die spyskaart gedruk is. Die fyn skrif verduidelik dat die Shire-rivier die enigste bron is wat die derde diepste meer in die wêreld dreineer. Honderde kilometer ver word die massa water gedra tot waar dit met die welbekende Zambezi saamsmelt.

Dit kan ’n lieflike reservaat wees om te kom ontspan en ’n week of twee se verlof te geniet, dink sy en bekyk die netjiese opset. Maar sy is hier om te werk. Vandag wil sy J.C. Auther ontmoet en inligting begin inwin.

Xavier was reg, dink sy geamuseerd. Sy voel anders vanmôre: sterker, selfversekerd en opgewonde. J.C. Auther se situasie is kritiek, soos sy weet, maar met haar kennis en ervaring behoort dit een van haar aangenamer takies te wees.

“Dagsê, almal,” groet Godfrey die gaste agter haar.

Hy is ’n lenige Malawiër met ’n oop, vriendelike gesig en is baie trots op sy beroep en sy amp as bestuurder. Hy het haar gisteraand reeds beïndruk met sy bedagsaamheid en joviale gesindheid, dink Rochelle.

“Juffrou Fourie, goeiemôre,” hoor sy Godfrey agter haar sê. “Laat ek u voorstel aan die eienaar van Liwonde-natuurreservaat.”

Met ’n glimlag draai Rochelle weg van die rivier, maar meteens verstar haar glimlag. Dit voel of ’n vuishou haar reg in die maag tref. Iewers is ’n fout! Langs Godfrey staan niemand anders nie as kaptein Costa.

Die verdomde aantreklike kaptein volg haar soos ’n slegte gewete, dink sy vervaard. Wat maak hý hier? En waar is sir J.C. Auther?

“Juffrou Fourie, ontmoet kaptein Costa. Kaptein, juffrou Fourie is van Suid-Afrika.”

“Kaptein Costa?” sê-vra sy en steek haar hand uit om te groet.

“Kaptein Costa beteken ‘vader van menigte’ in ons taal, Chichewa,” vervolg Godfrey met ’n stem deurspek met respek en heldeverering.

“Vader van menigte?” sê sy en voel hoe haar wenkbroue lig. Sy’t mos geweet hy het ’n magdom vroue.

Costa hou steeds haar hand gevange en Rochelle voel hoe haar maag ruk en haar wange verkleur. Sy gesig is ’n gesonde goudbruin kleur en sy wange is glad geskeer.

“My gaste noem my J.C. of net Costa.”

Sy stem is besonder bot en onvriendelik, dink sy, maar sy voel meer bekommerd omdat sy besef dat hy haar gesigsuitdrukking stip dophou. Hy probeer haar lees … Hoekom? Of hou hy net nie van haar nie omdat sy dit gewaag het om sy drankie terug te stuur? Hoekom het sy hom nie van sy fotobeeld herken nie?

“Welkom by Liwonde, juffrou Fourie. Ek vertrou dat u sal vind waarna u op soek is,” sê hy.

Sonder om te wag dat sy antwoord, draai hy om en stap weg.

Sy sak bewend op haar stoel neer. Sy sien hoe hy by ’n blondekopvrou vassteek en gesels. Die vrou lag uitbundig en verbaas sien Rochelle dat Costa ook glimlag. Die grys wat langs sy slape deurslaan, blink in die son.

Die man het haar deurmekaar en dit gebeur nie maklik nie. Was sy opmerking sarkasties of dubbelsinnig? En hoe kan hy sy gelaat, oë en liggaamshouding só verskans dat sy nie ’n enkele leidraad kon opspoor nie? Is die blondine sy vrou?

Haar gedagtes warrel soos droë blare en bekommerd probeer sy op haar ontbyt konsentreer.

Die kalmte van haar gees keer eers lank ná ontbyt terug. Roerloos sit sy opgekrul in die hangstoel op haar balkon. Dis ’n halfmaanstoel wat aan bobbejaantoue uit die dakbalke hang en met groot kussings uitgevoer is. Die strelende effek van die swaaiende stoel tesame met die geklots van die magtige Shire hier reg onder haar teen die stutbalke is ’n absoluut natuurlike terapie. Iets wat sy baie dringend nodig het.

Waar het sy misluk? Hoe kon juis sý hom so verkeerd opgesom het? ’n Kreun wat haar frustrasie en ontnugtering beklemtoon, ontsnap oor haar lippe. Sy streel met haar vingers oor die lêer op haar skoot. Hoe kon sy hom nie herken het nie? Hoe kon sy so verwaand gewees het om te dink dat hierdie ’n aangename taak sal wees?

Tydsaam vou sy die lêer oop. Haar wysvinger gly oor ’n foto; sy’t gedink sy ken hom soos die palm van haar hand. Sy’t gedink sy weet hoe hy ná drie jaar van smart sal lyk, waar hy hom emosioneel sal bevind. En sy het geglo dat sir J.C. Auther haar nodiger het as wat hy besef.

Sy sug swaarmoedig. Hy het verander, gee sy toe. Die man wat nou Costa genoem word, het ’n gedaanteverwisseling ondergaan en haar hele berekening was foutief, maar sy móés hom herken het – reeds daardie eerste dag op die lughawe. Sy kyk weer aandagtig na die foto. Al was dit net aan sy onmiskenbare blou oë en die aristokratiese kyk daarin.

Die rustigheid dring tog ná vele ure tot haar gemoed deur, ofskoon sy haarself goed gekasty het. Vir ’n stadsjapie is die stilte te veel om op een slag in te neem; sy voel klein en verlore. Sy sluit haar oë en soos doudruppels wat van ’n dak afdrup, voel sy hoe die spanning, die nederlaag en die selfverwyt drup vir drup haar lyf verlaat.

Sy móét en sál haar taak suksesvol afhandel, besluit sy. Die feit dat hy ’n fees vir die oog is en dat sy houding haar geensins aanstaan nie, sal sy net opsy moet skuif en op haar werk konsentreer. Sy was nog altyd professioneel, van die bestes in haar beroep, en sy sal nié toelaat dat haar emosies haar opdrag verongeluk nie.

Rochelle ruk soos sy skrik toe drie seekoeie skielik uit die water oprys en begin speel. ’n Oomblik is sy vasgevang deur haar ou vrees: haar hart klop wild en die bloed pols deur haar are.

Die groot diere snork, blaas, rol en maak allerhande manewales hier vlak by haar balkon. Meteens ontspan sy en geniet die onverwagte. Dis asof die seekoeie ’n vertoning net vir haar lewer om haar op te beur. As sy vreesbevange teruggesnel het na die chalet, sou sy dit alles gemis het.

Dié besef laat sit Rochelle verslae regop. Sy is twee en dertig jaar oud. Wat het sy nie reeds in haar lewe gemis omdat sy toelaat dat hierdie vrees haar oorheers nie?

Sê nou sy aanvaar die onwaarskynlike – dat sy ’n onnatuurlike vrees het – waar kom dié vrees vandaan? Sy is ’n aanhanger van die teorie dat die meeste van elke individu op aarde se tekortkominge, vrese, ambisies, ensovoorts iewers tydens die kinderjare wortelgeskiet het.

Sy sug. Op die oog af is haar vrees ongegrond. Haar twee broers is onderskeidelik agt en nege jaar ouer as sy en sover sy kan onthou, het hulle haar altyd beskerm en op die hande gedra. Sy was hulle prinses. Sy wou altyd saam met hulle speel, maar almal het haar gewaarsku dat sy nie kan nie. Sy sal afval, sy sal seerkry, sy sal wegraak, die see is te sterk vir haar, want sy is te klein. Hulle kon gaan perdry, vis van die rotse vang, op die motorboot uitgaan, later jare motorfiets ry en laatnagpartytjies bywoon, maar sy is altyd beskut en beskerm.

Sy het dit gelate aanvaar. Hulle is immers seuns en daarby ’n hele paar jaar ouer as sy. Selfs tot vandag toe loer een van haar gesinslede al om die ander dag by haar meenthuis in, en wanneer sy ver moet reis, vergesel een van hulle haar altyd.

Rochelle sit regop en frons. Hulle – haar pa, ma, Stefan en Johan – was woedend oor dié besoek aan Malawi. As dit nie was dat Xavier ’n ultimatum aan haar gestel het nie, sou sy nooit gekom het nie. Sy hou daarvan dat haar mense na haar omsien en haar beskerm; dit laat haar veilig voel. Nou is sy stoksielalleen hier in Malawi, sonder enige hulp, vriende of familie.

Wel, vanaand is haar aand – die begin van die einde van Costa se huidige lewe, en haar geleentheid om eens en vir altyd aan haarself te bewys dat sy sonder hulp kan funksioneer.

Sy het hierdie opdrag aanvaar, want sy het dit nodig. Sy is uitgehonger vir bevordering, vir ’n nuwe uitdaging. Haar loopbaan stagneer en sy is te bang om ’n verandering te maak. Xavier se beloofde bevordering beteken dus alles vir haar. Sy móét net slaag.

Costa het al die gaste genooi om ’n skemerkelkie saam met hom te kom geniet. Hoe ironies: van die een drankie ongeskik terugstuur na feitlik afhanklik wees van die volgende een, dink Rochelle met ’n wrang glimlag. Hy is so selfversekerd en ongenaakbaar.

Sy probeer om die onbekende opgewondenheid in haar te onderdruk. Dit gaan ’n wonderdaad neem om sy vertroue te wen, veral ná haar gruwelike belediging by die hotel in Blantyre.

Costa se blik gly oor die gaste soos hulle aan boord gaan. Jare reeds dwing hy homself om sy rol as gasheer bevredigend uit te voer, omdat hy glo dat so ’n gebaar minder aandag sal trek. Hy het altyd dieselfde doelwit: om sy gaste op die Lala te onthaal en vrae in verband met sy navorsing en Malawi breedvoerig te beantwoord. Verder hou hy hom op die agtergrond. Sy privaat lewe is verbode terrein en dis soos ’n ongeskrewe reël waarby die meeste toeriste en werknemers berus.

Hy is altyd op sy hoede, maar die groepie vanaand hinder hom meer as normaalweg, dink hy fronsend.

“Juffrou Fourie, welkom op die Lala,” groet hy die oomblik dat Rochelle aan boord stap. Hy probeer sy blik wegskeur van haar nousluitende aandrok. Sy lyk verruklik in groen, effens bleek, maar tog asemrowend.

“Dankie. Noem my asseblief Rochelle, juffrou Fourie klink so professioneel.”

“Natuurlik,” sê hy en voel dadelik vies vir homself omdat hy nie haar versoek van die hand gewys het nie. Hy beduie haar na waar die ander gaste reeds gesellig kuier en verskoon homself.

Wat is dit met hom? Hy ontmoet gereeld toeriste, van rylopers tot skatryk sosiale vlinders, maar om een of ander rede het Rochelle Fourie ’n ongewenste effek op hom. Sy hinder hom – só erg dat die bloed deur sy are pols en hy sy hartslag kan voel verander.

“Ag, hartjie, maar ek dog mos dis vir jou wat ek vanmôre op ’n afstand gesien het,” hoor Costa hoe een van die ouer dames Rochelle groet. “Ek sê vir oompie: Is daai nie die dametjie van die lughawe nie? Maar oompie se oë is so sleg en toe hy eindelik sy kykertjie ophet, daar’s jy toe skoonveld. Ek’s Rits en hierdie is nou oompie, of noem hom sommer Jantjie.”

“Hallo, tannie, hallo, oom,” groet Rochelle en hulle begin gesels.

Costa glimlag stilletjies en stap weg voor Rits hom in die hande kry. Hy geniet haar borrelende geselskap, maar vanaand verkies hy om op sy hoede te wees. Die laaste paar jaar is hierdie sy lewe – ’n nuwe groep vreemdelinge al om die ander dag. Hy vertrou niemand nie en het die gawe ontwikkel om onegtheid met die eerste oogopslag te herken.

Costa betrag sy gaste. Die meerderheid paartjies is op wittebrood en hulle is nooit ’n probleem nie. Hulle het belangriker dinge om in belang te stel as in ’n eensame man se verlede. ’n Handjie vol pensioenarisse – hulle kan soms lastige vrae vra, maar hulle kry gewoonlik gou die boodskap. ’n Paar rylopers wat deur Malawi of Afrika toer, absoluut vir die avontuur daarvan.

Hy som elke gas individueel op voor sy blik weer op die fraai gesiggie met die bruin oë vashaak. Rochelle Fourie – pragtig, keurig versorg, oplettend, analities … maar vreesbevange. Sy probeer hard, maar sy pas nêrens in nie, besef hy terwyl ’n bekommerde frons sy gelaat ontsier. Háár sal hy moet dophou.

Hy gee die teken en die plesierjag begin vaar. Skemerkelkies en versnaperinge word op die middelste dek bedien.

“Genade, die drankies lyk almal so heerlik,” hoor hy Rochelle sê toe ’n kelner by haar stop en ’n skinkbord met glase na haar uithou.

Costa stap nader, steek reg agter haar vas en fluister: “Ek sou ’n drankie vir u kon aanbeveel, maar dis ’n probleem, aangesien u nie drank van vreemde mans aanvaar nie.”

Stadig draai sy om. Haar borste skuur rakelings teen sy arm en Costa voel tot sy groot ergernis hoe sy hart ’n slag mis. Moedswillig besluit hy om nie agteruit te tree en spasie te maak nie.

Haar gesig is digby syne en hy sien hoe sy haar kop agteroor gooi om hom in die oë te kyk.

“Costa,” sê sy op haar berekende manier, maar die spanning in haar oë ontglip hom nie. “Aangesien ons reeds verskeie ontmoetings gehad het, en jy so gaaf was om jou oor my en my tringels te ontferm, beskou ek jou nie meer as ’n totale vreemdeling nie.”

Sy ruik goed – sag, soet en vroulik, flits dit deur sy brein. Hy weet hy moet loop, maar skielik word sy liggaam beset deur sy eie begeerte: om net nog een sekonde so naby haar te staan. Om haar te ruik, haar syagtige hare teen sy wang te voel kielie, haar tepels teen sy arm te voel druk. Hy wil met sy vingers oor haar wange streel, maar bedink hom betyds.

“Rochelle,” sê hy en besef dat sy stem dieper as normaalweg klink. Hy tree agtertoe. “Ek verkies om ’n vreemdeling vir jou te bly. Kies gerus jou eie drankie en geniet die aand.”

Toe hy wegstap, kan hy hoor hoe sy haar asem inruk en op haar hakke omtol.

Hy besluit om haar die res van die rit te probeer vermy en beweeg katvoet tussen die gaste deur.

Die aand verloop gesellig, afgesien van die enkele geval of twee wat sy blik hardnekkig op Rochelle vashaak waar sy met ander toeriste staan en gesels. Sy nekhare rys toe hy opmerk hoe Tom, ’n ryloper, haar aandag opeis. Hy hoor haar lag, sag en melodieus.

Doelbewus draai hy weg en begin met Andy, ook ’n ryloper-toeris, gesels. Sover hy kan onthou, is Andy die eerste vrou ooit wat hom amper reguit in die oë kan kyk. Hy ken haar reeds ’n maand of drie en vermoed dat sy in haar laat twintigs is. In teenstelling met Rochelle se golwende lang hare, bruin oë en vreesbevange liggaamshouding, het Andy kortgeknipte blonde hare wat haar Franse voorkoms, blou oë en ongewone lewenstyl beklemtoon.

Hy verstaan vir Andy, dink Costa, sy is net nog ’n toeris.

Die atmosfeer is ontspanne en soos gewoonlik is die gaste in vervoering oor wat hulle die dag tydens hul safari’s beleef het. Vir meer as ’n uur word Costa met die een vraag na die ander bestook.

“Die renosterreservaat vorm deel van jou projekte?” vra Rochelle en onderbreek sy gedagtes.

Costa kyk om. Hy het haar nie sien naderkom nie en kan kwalik nou hardloop, dink hy, maar voel hoe sy skouers gespanne saamtrek.

“Ja, dis ’n projek wat ek tesame met Fauna en Flora hanteer,” sê hy en merk dat sy wegkyk terwyl hy met haar praat. Sy hou hom dop, ongemerk, maar hy is deeglik bewus daarvan dat sy hom opsom. Hy besef skielik sy het heeltyd net binne hoorafstand van hom gestaan. En sy is definitief gespanne.

Sy blik gly oor haar kamera. Sy is nie ’n toeris nie, daarvan is hy oortuig. Daar is spesifieke punte waar élke toeris wat al hier was tyd deurbring en foto’s neem – maar nie sy nie. Om soveel moontlik van haar ervaring terug te neem, is nie haar doelwit nie.

Wat ís dan hierdie verfynde dame se doelwit? wonder hy. Sy blik gly oor haar ringvinger. Tot baie onlangs het sy nog ’n ring gedra, verklap die wit merkie.

“Wat is die hoofdoel van die reservaat?” vra ’n gas.

“Ek, tesame met ’n span wildbewaarders, wil stelselmatig oor die volgende paar jaar swartrenosters terugplaas in die natuur. Hier is hoësekuriteit-aanteelkampe en die teelprogram verloop bo verwagting goed,” verduidelik Costa en sien hoe oom Jantjie ’n paar aantekeninge maak.

Oom Jantjie, onthou hy, is ’n ryk, afgetrede mielieboer uit die Vrystaat in Suid-Afrika. Hy en Rits is van die min afgetredenes wat dit kan bekostig om Afrika in luuksheid te besigtig, en sal ’n tyd lank by Liwonde vertoef. Akkommodasie hier is duur, en selde indien ooit kan gaste dit bekostig om langer as vier of ses dae te bly. Maar Costa het dit juis so beplan.

“Dit raak seker eensaam so alleen hier in die reservaat? Of het jy darem ’n vrou en kinders wat by die huis vir jou wag?”

Sy kop ruk op. Andy se vraag is onverwags en tog het hy geweet dit sal kom, want sy insinueer die vraag reeds dae lank.

Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Rochelle vinnig opkyk van waar sy kwansuis in die water gestaar het. Hulle oë ontmoet ’n oomblik.

“Ek is nie eensaam nie. En ek sal dit ook waardeer as my privaatheid gerespekteer word. Dis tog hoekom ’n mens dit ‘privaat’ noem,” antwoord hy.

Hy gesels nog ’n rukkie, maar maak dan verskoning en stap na die veiligheid van sy kajuit.

Terwyl hy wegstap, voel Costa hoe die woede deur hom bruis. Dis onnodig om ontsteld te raak daaroor, dit was net ’n onskuldige, taktlose vraag, redeneer hy met homself. Hy sou graag vir Andy iets wou toesnou, maar dit sou meer aandag getrek het.

Hy háát dit wanneer mense in sy privaatheid en verlede begin krap. Dis die enigste ding op aarde wat hy nié sal duld nie.

Hy glimlag wrang. ’n Jaar of wat tevore het ’n fotograaf hom toevallig herken en begin krap in sy verlede. Hy wat Costa is, het ’n enkele oproep gemaak.

Hy ril effens, want dit het nie heeltemal uitgedraai soos hy beplan het nie. Nou kan hy net hoop en bid dit sal nooit weer nodig wees om daardie tipe oproep te maak nie.

Hartstog in Malawi

Подняться наверх