Читать книгу Meerminliefde - Lizet Engelbrecht - Страница 4

1

Оглавление

“Nee, néé! Nie helder oordag in Hermanus nie!” kreun René. Nie in haar kusdorpie nie. Hermanus ken nie juis misdaad nie. Maar René Theron ken moeilikheid wanneer sy dit sien. En dié keer is sy en haar opvlieënde humeur nie daarvoor verantwoordelik nie.

Sy kyk vlugtig na haar handsak. Haar maag draai. Hoekom moes sy nou juis vanmôre haar selfoon by die huis laat lê het?

Sy druk haar bril op haar neusbrug terug terwyl haar oë outomaties na die truspieëltjie gaan. Haar moed sink. Hy’s nog altyd daar. Dan, sonder enige aanduiding, swenk sy skielik links op in Albatrossingel – haar straat. Haar motorbande kerm vanweë die té skielike draai, maar sy steur haar nie daaraan nie. Sy móét haar agtervolger ontduik.

“Demmit!” swets sy toe hy ook links draai. Is dit alles nou régtig besig om met haar te gebeur?

René probeer die ritteling in haar knieë beheer terwyl sy paniekerig op kyk in Albatrossingel. Ander aande is sy oortuig dis een van die mooiste strate in die Kaap. Dis ’n smal kronkelpad met massiewe palmbome aan die bopunt, en die son sak dié tyd van die aand geelrooi agter die palmblare weg. Vandag sien sy net ’n probleem. Iets waaraan sy sekondes gelede nie gedink het nie: Dit is ’n singel – ’n doodloopstraat.

“Idioot!” trap sy haarself uit.

Sy moes nóóit in Albatrossingel ingedraai het nie. Praat van ’n dom fout. In enige ander straat het sy nog ’n kans gestaan, maar nie in Albatrossingel nie!

Hoe kon sy so onnosel wees?

Sy klem die stuurwiel vas en sien voor haar geestesoog hoe die skadu van haar dood bo in die doodloop skuil. ’n Naarheid stoot op wanneer sy besef dat die man haar manipuleer het na presies waar hy haar wil hê. ’n Doodloopstraat.

“Hoekom vandág?” kreun sy en kyk weer in die spieëltjie. Vandag is haar kruis reeds oorlaai: Nog ’n vlakte se proteas is verlede nag geplunder, haar huislening is afgekeur – en nou dít.

Asof sy die noodlot probeer uitstel, verminder sy spoed en kruip voort. Sy byt haar onderlip vas en loer na haar snelheidsmeter – 20 km per uur. Met haar regterhand tas sy onder haar sitplek na haar knuppel. Haar vingers voel-voel. Dan vat sy die knuppel raak – dankie tog die ding is darem nog in die kar! Maar dis ’n allerlaaste moontlikheid, daar moet ’n ander uitkoms wees. Langdurige aggressiebeheerklasse het haar geleer om haar emosies beter baas te raak. Om te kommunikeer. Te argumenteer, te redeneer eerder as om kwaad te raak. Sy praat nie geweld goed nie, glad nie, dis net … wanneer sy eers swart sien, vergeet sy soms als wat sy geleer het. Maar nie vandag nie. Vandag sal sy kalm bly. Kommunikeer. En redeneer. Sy sal haarself uit die gemors probeer praat.

’n Vlugtige blik in die truspieëltjie bevestig dat die bakkie steeds op haar spoor is. Sy kyk dringend rond, wie kan dalk help, maar hek ná hek bly haar lot onveranderd: die Le Rouxs op vakansie, Kotze nog by die werk, tannie Annetjie in die hospitaal en die Jonkers op die dorpstennisbaan.

Die besef dat sy alleen is – stoksielalleen – en dat die end van die singel nader kruip, vul haar met paniek. By die bopunt sal sy eers moet stop om ’n U-draai te maak as sy wil probeer wegjaag.

Sy’t dinktyd nodig om ’n plan van aksie uit te werk. Die bakkie ry nou ook stadiger en René besef dat sy glad nie die bestuurder goed kan uitmaak deur die gekleurde ruite nie. Buiten dat hy ’n GP-nommerplaat het, sal sy nie eens weet of haar aanvaller jonk of oud is en of daar een of dalk ses was nie.

Haar mond is kurkdroog. Iéwers moet iémand wees wat haar kan help!

Haar oë spring van huis na huis, maar behalwe vir tannie Marie, wat halfdoof en kruppel is, is daar niemand anders tuis nie.

Sou haar agtervolger dit weet? Die gedagte is ’n sinker.

Effens hoopvol ry sy nader aan haar huis se hek. Moontlik, net moontlik, is die gaping nou groot genoeg dat sy alleen by die elektroniese hek kan inskiet, die alarmknoppie kan druk en iewers in die tuin kan wegkruip tot die blitspatrollie opdaag. Sy sit op die punt van haar sitplek en haar vingers tamboer op die stuurwiel. Dis haar enigste kans, want vinnig genoeg sal sy nie in die smal singel gedraai kry nie. En al draai sy ook het sy steeds die probleem dat die booswig die pad kan versper – wat maak sy dán?

Nee, al genade is dat sy in haar erf móét kom voor die skurk haar inhaal.

“Dit móét werk! Liewe Here help my, ek wil nie nou al doodgaan nie, daar’s geen ander uitweg nie,” bid sy en jaag op haar hek af.

“Maak oop, maak oop, vinnig!” smeek sy. Sy druk die afstandbeheerder so hard dat die plastiek kraak, sonder om haar oë vir ’n oomblik van die truspieël af te haal.

Haar agtervolger versnel en hy jaag nader, stop ’n paar meter agter haar en blokkeer haar pad agteruit.

Amper oop, amper! Maar dan gee die hek ’n hik en ’n snik en sy wéét die bleddie ding gaan vries. Die hek ruk en vibreer op sy spoortjies. Haar hart stop. Die hek gaan vashaak. Woordeloos bid sy, smeek sy, maar die motortjie gee sy kenmerkende skreeugeluid en die hek stotter tot stilstand. Halfoop. Halftoe. Al wat nou oorbly, is om die knoppie weer te druk sodat die hek toeskuif – en dan van voor af probeer.

Sy hoor ’n motordeur oopgaan en René voel hoe haar hart nog vinniger begin bons. Sy’t nie meer tyd oor nie. Dis verby. Dis nou aanval of sterf en daarop kan geen klasse jou voorberei nie. Haar pa se beeld skuif voor haar in. Sy was nege jaar oud toe hy vermoor is. Die gedagte aan ’n koue lem teen haar keel gee haar ’n tweede asem. Sy ruk orent en voel hoe woede en adrenalien haar ontsettende, wurgende vrees verdryf. Voor haar geestesoog beleef sy die aanval: die boef wat haar deur oopruk. Die mes teen haar keel druk, haar handsak gryp met haar laaste R1 000 wat sy pas by die BP-vulstasie getrek het, en skreeu: “Klim uit jou motor. Uit!”

Sy haat messe, kan die goed nie voor haar verdra nie. Dis hoe haar pa dood is.

“Nie vandag nie, ellendeling!” roep René bewend van woede uit. Sy ruk haar deur oop, spring katvoet uit haar motor en storm nader – die kaper gaan nou kry wat hy verdien.

“Vat só,” sis sy en ruk die knuppel agter haar rug uit die oomblik wat die man sy voet op die plaveisel sit. Haar hou tref hom net skrams oor die rug, maar die impak bring hom van stryk en hy slinger-val uit die motor. Hande-viervoet waggel hy daar. Sy boarmspiere bol terwyl hy sukkel om sy ewewig te herwin. René kook. Is dit van woede? Of dalk … omdat hy aantreklik en nogal oorbluf lyk? Nie die gesig wat ’n mens by ’n booswig verwag nie, maar selfs dié gedagte kan haar nie van stryk bring nie. Op sy linkerwangbeen merk sy ’n litteken. Sekerlik van ’n vorige rooftog. Sy lig weer haar knuppel.

“Nie vandag nie! Dink mos alle vroue is sagte teikens!”

Die hou klap teen sy kopbeen. ’n Fontein ontpop en kleur die man se blonde hare rooi. Hy kreun en gryp sy kop vas. René lig die knuppel triomfantlik – hy’s ’n skurk. ’n Skelm. En daarom hoef sy nie vandag haar humeur te beteuel nie!

• • •

Carlos stap op en af deur sy meenthuis terwyl hy vir ’n oproep wag. Hy mis steeds Pretoria se weer op trietsige Kaapse dae soos vandag. Deur sy are vloei Bloubulbloed en hy sukkel om aan die wispelturige weer gewoond te raak.

“Hemel, mooi dae is so skaars soos wors in ’n hondehok,” brom hy en kyk ongeduldig na sy foon.

Toe hy hier in Hermanus ingetrek het, was hy vas oortuig dat sake hom net vir ’n maand of drie in die Kaap sou hou. Hy sug. Hy was ook vas oortuig dat sy ou vriend Kobus nooit weer saam met hom sou werk nie.

Die foon lui en Carlos val oor sy voete van haas om daarby uit te kom. Hy wag al dae lank vir hierdie oproep.

“Carlos, middag,” groet hy en trek sy skryfblok nader.

“Cousin, I’ve got news,” groet Chika in sy Oosterse aksent.

“Net wat ek nodig het. Goeie nuus,” sê Carlos.

“The players want to meet. They like my flowers. Talk of good business. Who’s the new guy you want to bring in?”

“Kobus. We need him,” antwoord Carlos.

“Wrong! Chika doesn’t need anybody – everybody needs Chika.”

“Is reg. Vertel my wat gesels jou kollegas,” vra Carlos en byt op sy onderlip.

“Players will pay big beans, if you follow, but they’re scared about your new guy. With the perlemoen they have a good network of trusted people. They don’t like new people. New people – new problems.”

“Ek het jou verlede keer al gesê dat Kobus nie nuut is nie. Ek en hy het vantevore saamgewerk – hy’s nie ’n probleem nie.”

“We Sri Lankans don’t trust easy. And we don’t trust your government.”

“Presies hoekom ons vir Kobus nodig het! Sonder die vervalste Flora-dokumentasie gaan ons jare se kak hê. Kobus is lewensbelangrik vir hierdie projek. Ek sal hom met my lewe vertrou. Hy’s deel van ons span, of ek’s uit.”

Daar hang ’n swaar stilte tussen die twee mans.

“Ok. Ok, cousin. But I want to meet him. Tell him to phone me on a secure number and keep the weekend open. I book you and the new guy on a flight to Joburg. Info will follow.”

Hulle groet en lui af. Carlos staan nog ’n oomblik met die foon in sy hande. Hy voel benoud. Dis ’n groot projek wat hy aanpak en Kobus was drie jaar lank uit die veld.

Was dit die regte besluit om sy swaer en boesemvriend ná soveel jaar by so ’n groot ding te betrek?

• • •

Die kaper kreun en val vooroor langs sy bakkie. René lig die knuppel.

“Wag! Wag …” roep hy en probeer regop kom.

“Hierdie motor is my enigste besitting,” raas René en sukkel om bo die geluid van skreeuende bande te praat. Sy hou die knuppel dreigend bo haar kop. “En nie jy of enigiemand gaan dit sommer net afvat nie, ek sal …”

“Niemand beweeg nie! Ek’s gewapen en sal nie huiwer om te skiet nie,” roep iemand agter haar.

René se hart mis ’n slag. Waar kom sy trawant nou vandaan? Toe sy nader gestorm het, was sy oortuig daar’s net een insittende in die bakkie. Maar sy’s uitoorlê. Dood. Net nog ’n geweldstatistiek. Sy’t ’n kans teen een gehad, maar twee …

Haar hande bewe. Wat kan sy doen? ’n Knuppel-teen-rewolwer-geveg klink maar onregverdig, maar sy neem haar voor om tot die dood te baklei. Sy sal nie gaan lê nie. Sy sal soos haar pa baklei tot sy nie meer kan nie.

“Die vrou is …” kreun die kaper en kom orent.

“Stil! Juffrou Theron?” roep die stem.

Hoe ken hulle haar van, wonder René verskrik en kyk oor haar skouer.

“Ja,” antwoord sy versigtig en kyk na die biervaatjie met sy swart snor. Sy ken die man – het hom vantevore iewers gesien, pluk-pluk die gedagte aan haar.

’n Vlagie reën sak uit.

“De Wet van die armed response. Ons het ’n panieksein ontvang. Wat’s die storie hier?”

Die knoppie op haar afstandbeheerder! “Genugtig, plaas jy sê so. Amper moker ek jou ook. Dog jy lyk bekend,” mompel sy, diep-diep verlig, en sê dan: “Hierdie vent wou my motor kaap en …”

“Die vrou is van haar kop af,” sê die man en kom half orent. Hy kreun en bloed sypel by die eier op sy voorkop uit. “Ek’s hier …”

“Staan stil!” beveel De Wet en lig sy vuurwapen. Die man vries. “Staan stil en lig jou hande stadig tot agter jou kop.” De Wet bespied hom en die motors. “Waar’s die ander?” vra hy en kyk vlugtig na René.

René tree selfvoldaan agteruit. “Nee, dan’s dit seker net hierdie lummel.”

“Ek sê jou mos, die vroumens is mal. Wat de duiwel sal ek met twee voertuie gelyktydig maak? En hoekom sal ek my bakkie vir hierdie … miskruier verruil?”

René voel haar wange gloei. Miskien moet DStv ’n realiteit-show maak en na die aantreklikste krimineel soek. Hierdie een staan ’n goeie kans. Blonde hare, intense blou oë, ’n sterk gesigslyn en ’n winkelhaak-litteken.

“Los die slim praatjies! Jy’t my agtervolg en ek …”

“Kobus, Kobus!” Smoor ’n skril stem haar tirade. “Was jy in ’n ongeluk? Ag, liewe hemel, kyk hoe bloei jy!”

Hakskoene klik-klak oor die oprit en ’n blondine drafstap nader, met sambreel omhoog, boetiekpakkie en rooi lippe.

“Kyk daardie knop op jou kop! Sit. Het iemand ’n dokter gebel? Die pad is so glad wanneer dit reën, ek moes jou gewaarsku het.”

René frons; die vrou lyk dan nou óók vaagweg bekend. Maar dit kan steeds ’n agterbakse plan wees, besluit sy en verstewig haar greep op die knuppel.

“Natasha?” sê-vra De Wet en laat sak sy vuurwapen.

“De Wet, is dit sowaar jy? Heiland, maar die wêreld is klein. Ek kan dit nie glo nie. Ken jy en Kobus mekaar?”

“Nee, ons …”

“Ek dog jy’t my verseker Hermanus se mense is ontspanne en vriendelik. Of was dit bloot ’n verkoopstegniek?” val die boef vir De Wet in die rede en kyk vies na die blondine.

“Wat het gebeur, Kobus?” vra Natasha en haar hoë stem styg ’n fraksie.

De Wet kug. “Ek vermoed daar was ’n misverstand, jy sien …”

“ ’n Misverstand!” brul die man wie se naam Kobus is. Hy kom regop. “ ’n Misverstand is wanneer jy by die een restaurant wag en ek by die ander. Hierdie is sommer onsin. Histeriese aanranding!”

“Moet jou nie kom onskuldig hou nie,” kap René terug en voel haar wange weer opwarm. “Jy’t my agtervolg!”

“Moenie twak praat nie, man. Vir wat sal ek jou agtervolg?”

“Geld, wat anders? Jy agtervolg my al van Gansbaai af. Jy’t agter my by die BP ingery en gewag terwyl ek geld trek. En toe volg jy my tot hier by my hek.”

René merk hoe De Wet se kop van die een na die ander swaai.

“Ek het aanwysings gevra by die vulstasie,” sis Kobus.

“En toe lei jou aanwysings jou vanaf die ATM reguit na mý hek toe? Hoe gerieflik.”

“Dis korrek, en jy behoort op hok gehou te word. Jy sal jouself en ander verongeluk en …”

René tel die knuppel dreigend op. “Ek glo jou nie! En jy sal my nie hier reg voor my hek beledig nie! De Wet, hy’s op heterdaad betrap en nou probeer hy slimpraatjies verkoop. Bel jou kontrolekamer sodat hulle hom kan arresteer. Sommer vir hom én die vrou – hulle werk duidelik saam.”

De Wet vryf ongemaklik oor sy hare.

“Kalmeer, kalmeer net,” sê die blondine soetlik. “My naam is Natasha Kotze. Ek’s ’n huisagent, en De Wet ken my.” Sy steek haar hand versigtig uit na René.

“René,” stel sy haar dan maar halfhartig voor en wonder waar sy dié Natasha-naam vantevore gehoor het. Miskien oor die nuus, ’n misdadiger? Sy skud Natasha se hand terwyl sy met haar linkerhand die knuppel vasklem. Haar waaksaamheid verslap nie vir ’n oomblik nie.

“Kobus Burger,” sê die man nors en ignoreer De Wet se uitgestrekte hand.

“Ek’s jammer, man,” sê De Wet. “Ons het ’n noodsein ontvang. Dit het nogal verdag gelyk hier.”

“Nee, nee, ek’s jammer,” glimlag Natasha vir hulle al drie. “Ek het ’n afspraak om die hoofhuis aan Kobus te wys. My ontvangsdame het ’n boodskap by juffrou Theron se werk gelos om haar in kennis te stel van ons besoek. Maar ek moes seker gemaak het dat jy ons verwag, René.”

“Watse besoek? En … hoe nou?” vra René oorbluf.

“Ek’s reg as ek sê dat jy die kothuis huur?” vra Natasha.

René knik woordeloos.

“Kobus stel belang in die hoofhuis.”

“Wat?” René herken skaars haar stem. Hierdie man gaan nie saam met haar op een erf woon nie. Dit sal die bleddie dag wees!

“Ek twyfel of ek nog belangstel,” sê Kobus, en sy oë gly verkleinerend oor René.

“Kobus, ek’s jammer oor die insident, maar ek’s seker ons kan die situasie red,” kweel Natasha en neem Kobus teer aan die elmboog. Sy lyk baie kort teen sy lenige lyf.

’n Stilte omvou hulle, buiten die reën wat drup-drup.

René lek haar lippe senuweeagtig. Hierdie Kobus Burger laat haar ingewande wipplank ry, en dít het laas gebeur toe sy ’n kind was. Elke keer wanneer ’n nuwe stiefpa sý wette, regulasies en afkeure neergelê het, het sy hierdie seesiek gevoel ervaar. Dit voorspel niks goeds nie. Later sit dit in opstand om.

“Wel, nou maak alles sin,” lag De Wet, vee oor sy snor en draai na Kobus. “Kan ek jou ongevalle toe neem? Daardie besering kort aandag.”

“Nee, ek sal later.”

“Juffroutjie,” sê De Wet en draai na René. “Kan jy net hier teken dat jou noodsein beantwoord is en die verklaring voltooi.”

René neem vies die boekie by hom en vul haar inligting in. ’n Oomblik oorweeg sy dit om te skryf dat sy Goliat met ’n knuppel verslaan het, maar haar hand bewe so dat sy moet stop en eers ’n slag diep asemhaal.

René werk vir Cape Nature as ondersoekbeampte en dis haar werk om die Kaapse floraryk te beskerm, navorsing te doen en opleiding te gee. Sy’s direk verantwoordelik vir die bekamping van die onwettige uithaal van fynbos, so sy’s opgelei om moeilike mense en situasies op te som en te hanteer, maar hierdie blonde reus ontstig haar so dat sy nie eens haar sin kan klaar skryf nie. Asof outomaties draai haar oë na Kobus. Hy laat ’n vreemde opgewondenheid in haar opvlam. Vinnig kyk sy terug na die verklaring, probeer die onrustige geklop van haar hart ignoreer en op die verklaring konsentreer.

“Daar’s hy, De Wet,” sê sy en forseer ’n glimlag oor haar lippe. “Ek dink alles is ingevul.”

De Wet laat sy oë oor haar verklaring gly terwyl hy elke tweede woord hardop lees: “Gedink … agtervolg … verdag voorgekom. Verdagte … afspraak gehad … aanwysings by vulstasie gevra… . Natasha … huis wys. Klink goed,” sê De Wet en vee oor sy snor. “Nou toe, dan ry ek eers,” sê hy. Dan draai hy na Natasha. “Was ’n plesier om jou weer na soveel jare te sien, Natasha. Wanneer ek huis moet soek, weet ek by wie om koffie te kom drink. Juffrou Theron, en gebruik jy nou maar daardie wapen in die toekoms versigtiger.”

“Theron? René Theron?” vra Natasha en haar wenkbroue lig.

“Dis ek, ja,” antwoord René stug.

“Dis so wrintiewaar jy! Hoe op aarde het ek nie jou koperkrulle herken nie? En skynbaar is jy nog net so ’n humeurige rabbedoe soos toe ons kinders was.” Natasha lag, ’n helder, spontane lag. “Ons was mos saam op laerskool.”

René se voorkop keep behoorlik soos sy terugdink, dan gaan ’n lig vir haar op. “Natuurlik, ek onthou nou. Julle het Londen toe verhuis – jou pa was ’n onderwyser.”

“Einste, ja, maar ek’s terug in al my glorie,” sê Natasha met ’n buiginkie. “Jy lyk heel anders met die bril. Ek het jou eers glad nie herken nie. Hoekom steek jy daardie uitsonderlike oë van jou weg? Ek onthou nog …”

“Sal julle twee omgee om later reünie te hou. Ek wil graag die huis sien,” sê Kobus bot. “Ek het reeds te veel tyd gemors en het nog ’n kleinhuisie vol werk om af te handel.”

“Natuurlik. Ons parkeer sommer binne,” sê Natasha vinnig. “Dan stap jy saam, René, jy ken die plek beter as ek. Gee jy om, Kobus?”

“Kry julle daar,” antwoord hy en klad die ergste bloed met sy sakdoek. Sy hare is klam van die motreën en lê wanordelik op sy voorkop.

“Só, jy woon in die kothuis,” gesels Natasha nadat hulle albei binne parkeer het. “Ek het van die eienares verstaan ’n moeilike rooikop okkupeer dit. Het jy gekoop?”

“Ek huur nog, maar ek wil koop.” Sy dink ’n oomblik na en vra: “As die hoofhuis dan nou beskikbaar is, is die boedel seker einde ten laaste afgehandel?”

“Ja,” antwoord Natasha haastig, druk die sleutel in die voordeurslot en sluit oop. Die kolossale deur swaai moeiteloos op sy skarniere. “Die ingangsportaal met die marmerafronding en Michael Angelo-teëls is vir my een van die huis se treffendste vertrekke,” sê Natasha in haar eiendomsagent-stem en tree terug sodat Kobus kan instap. “Kyk die klassieke rooshouttrappe wat na die slaapkamers lei. Lyk kompleet vir my soos een van daardie herehuise uit die ou dae wat mens altyd in die flieks sien. Kort net die regte meubels, kinders en ’n hond of twee,” lag Natasha en vra vir Kobus: “Is jy getroud?”

“Nee.”

Mensig, maar die man is ongeskik, dink René. Sy moet onthou om haar stel sleutels vir die hoofhuis aan Natasha terug te gee.

“Is dit waar dat die eienares met haar man se jonger broer ’n verhouding gehad het?” vis Natasha by haar.

“Ek verstaan so,” antwoord René lugtig. In ’n dorp soos Hermanus, waar almal vir almal ken, dink jy twee keer voor jy jou tong loslaat.

“Tipies vroumens,” brom Kobus en stap vooruit.

Die vars reënlug word oorweldig deur die skerp reuk van motbolle, kom René nou agter.

“Verskoon die reuk, Kobus. Die plek staan al ’n geruime tyd toe,” sê Natasha en draai na René. “Die broertjie, verstaan ek, het in die kothuis gebly – die een waar jy nou woon.”

“Ja,” sê René.

“Ek verstaan die tweetjies vergeet toe een aand van die sekuriteitskameras en daar aanskou ouboet hul vurige omhelsing. Blykbaar net hier buite by die meermin-spuitfontein gebeur. Ek het netnou weer daarna gekyk. Sowaar ’n uitsonderlike fonteintjie. Ek verstaan haar man het dit spesiaal vir haar van Italië ingevoer.”

“O,” antwoord René stroef. “Gedínk die meermin is nogal suggestief.”

“Glo verskriklik gewees,” vervolg Natasha gretig. “Die ouer broer moes kies: Moord of selfmoord. Toe spring hy van ’n krans af – het nie kans gesien om sy vrou of broertjie skade aan te doen nie.”

“Ek ken nie …”

“Het julle klaar gesels? Of moet mens hier in die Kaap maar self deur die eiendom stap?” vra Kobus so driftig dat sy stem deur die huis eggo. Natasha val oor haar voete, ontsenu deur sy houding.

René voel skielik jammer vir Natasha – pragtig, maar nog net so onseker en selfbewus soos jare gelede. Sy self moes van kleintyd af leer om vir haarself te sorg. Die lewe het haar gebrei – sy skrik nie meer vir mans soos Kobus nie.

“Natuurlik nie, Kobus, jammer! Kom ek stap vooruit. Wil jy hier onder of die boonste verdieping eerste sien?” vra Natasha.

Sonder ’n woord draai Kobus om en stap by die voordeur uit.

“Haai, waar gaan jy nou?” roep Natasha en trippel agterna.

Hy bekyk die twee wonings se buitekante aandagtig. “Ek dog jy’t gesê die huis is in ’n sekuriteitskompleks.”

“Wel, ja en nee,” antwoord Natasha versigtig. “Nadat jy genoem het dat jy ’n renons in ’n sekuriteitskompleks het, het ek gesê dat hierdie huis dieselfde voordele as ’n kompleks het, maar geen van die nadele nie.”

“Voordele?” vra Kobus en sy oë flits in René se rigting.

“Wel, ja. ’n Gesamentlike hek vir sekuriteitsdoeleindes. Die voordeel dat wanneer jy weg is, is René hier en omgekeer. ’n Gekoppelde sekuriteitstelsel. ’n Eie veiligheidshek en wandelpad na die strand. Kamerastelsel wat deur julle albei gemonitor word. Maar in teenstelling met ’n kompleks behou julle jul privaatheid. Julle deel net die,” en Natasha wys met haar hand deur die lug, “hek, oprit, meermin en parkering.”

“Is daar enigiets anders in die mark waarna ek kan kyk?” vra Kobus stroef.

“Maar, maar … Jy was nog nie eens deur die huis nie,” stotter Natasha. “Hierdie is ’n eksklusiewe eiendom.”

Kobus antwoord nie.

Natasha sug en sê: “Ek hét ander plekke wat ek vir jou kan wys, maar nie van naastenby hierdie gehalte en afwerking nie. Kom ons stap eers deur die huis sodat jy ’n gevoel vir die plek kry. En verder is ek seker dat René haar aanvalle in die toekoms met groter omsigtigheid sal beplan.”

“Het albei plekke voltitel?” vra Kobus.

“Ja,” antwoord René, vies vir die neusoptrekkerige mansmens. “Albei is voltitelplekke en behoort aan dieselfde eienaar. Maar as jy nie van die huis hou nie, is ek seker dat Natasha vir jou iets meer gepas sal hê. Julle Gautengers is mos maar ’n spesie van julle eie. Wat van die huis daar bo teen die kop?”

“Hoe weet jy hy’s van Gauteng?” vra Natasha.

“Sy nommerplaat. Toe, gaan wys vir hom die huis teen die bult.”

“Die een wat so afgesonderd staan?” vra Natasha senuweeagtig.

“Daardie een, ja. Dit behoort vir Kobus te werk; ek twyfel ook of hierdie sy tipe huis is,” sê sy smalend vir Kobus en geniet sy frons. Sy vervolg vinnig: “Verskoon my, my huisfoon lui.”

René maak haarself uit die voete. Die man se oë ontstel haar en dan sukkel sy boonop om hierdie lawwe skuldgevoel te onderdruk elke keer wanneer hy ’n bloedstraaltjie van sy voorkop vee.

“Kom kuier vir my, ons het baie om oor op te vang,” roep Natasha agterna.

“Oukei, ek wou jou mense juis volgende week sien in verband met ’n nuwe huurkontrak en die opsie om te koop,” roep René oor haar skouer terwyl sy wegstap. Sy moet haar kothuis nóú haar eie maak, weet sy. Sy stap vinnig oor die plaveisel en verby die meermin-spuitfontein reg in die middel van die oprit.

Later daardie aand klim René in ’n stomende bad water en sak daarin af tot net die punt van haar neus uitsteek. Vandag het sy nie eens tyd gehad vir haar diere nie, maar môre vroeg sal sy met Donald en Tess gaan draf.

Die warm water, wat gewoonlik so ’n lafenis is, wil nie vandag op haar deurmekaar gemoed werk nie. Die gebeure van vroeër spook by haar en haar gedagtes weier om skiet te gee. Sy voel steeds ontsteld oor die knuppel-insident, maar meestal is sy bekommerd: Die bank het haar aansoek om ’n huislening afgekeur, en nou is die boedel afgehandel. Sy’t geweet dit sal eendag gebeur en dat sy dan bure sal kry, maar nie iemand so, so …

Die gedagte aan Kobus se flitsende blou oë laat haar orent vlieg. Sy voorkop het sleg gelyk, miskien moes sy darem vir hom ontsmetsalf gaan haal het. Sy swets saggies. Sy moet eerder op haar huispenarie konsentreer en van die vreemdeling vergeet. Sy twyfel in elk geval of hy die huis sal koop – mense koop deesdae met die oë, want min kan werklik ’n eiendom soos die een langsaan bekostig. Die gedagte kalmeer haar en sy sak terug in die water. In elk geval neem dit drie tot ses maande om ’n lening te kry en oordrag van eiendom te doen.

René sug hardop – sy weet dít immers. Sy sukkel al maande dat die bank vir haar ’n lening goedkeur. Kwansuis is sy nie kredietwaardig om ’n honderd persent lening te ontvang nie. Sy moet ’n deposito neersit – een wat sy wáár gaan kry?

Ses-en-dertig maande huur sy hier, en ses-en-dertig maande staan die herehuis leeg en wag vir die weduwee se boedel om afgehandel te word. Maar sy’t nie gewag nie. Nee, sy’t haar stukkie huurgrond omgespit en ingerig asof dit reeds haar eie was. Bome geplant wat nou weerbarstige tieners is met lang slap takke wat weier om te buig waar die wind hulle druk. Sy’t vir Wolf agter in haar erf begrawe. Als geverf. ’n Groente-en-kruietuin gevestig. Sy’t dit alles gedoen, want sy’t vas geglo wanneer die tyd reg is, gaan sy die kothuis koop. Sy’t al soveel gedroom van die dag wanneer sy haar motor afbetaal het. En daar’s nou net twee paaiemente op hom oor. Iemand anders kan die groot huis koop, maar hierdie tweeslaapkamer-paddastoel is hare. Sy kan nie weer trek nie!

Dis nie dat sy bang is vir werk nie, die hemel hoor haar, sy skrik nog nooit vir werk nie. Dis net dat sy, vóór hierdie kothuis, nog nooit langer as agttien maande op een plek gebly het nie. As kind het sy en haar ma soveel getrek dat sy nooit ’n plek gehad het wat sy werklik haar huis kon noem nie. Maar hierdie kothuis is háár plek – hier het sy geleer om die verlede agter haar te laat. En hier het sy geleer dat sy ongeag haar moeilike kinderjare tog gelukkig kan wees.

Sy’s liéf vir hierdie plekkie – in haar hart is dit haar eie. Die enigste standvastige blyplek wat sy nog ooit geken het.

Meerminliefde

Подняться наверх