Читать книгу Meerminliefde - Lizet Engelbrecht - Страница 5

2

Оглавление

René sit haar lêer op Mandie se tafel neer. Sy voel vanmôre tam. Sy’t heelnag nagmerries gehad oor ’n blondekopman met ’n stukkende voorkop. En dan byt-byt Mandie ook nog vanoggend aan haar soos ’n uitgehongerde vlooi. Sy wens sy’t nie nodig gehad om haar vriendin se vraag te antwoord nie.

Sy haal diep asem en sê: “Mandie, ek stel nié belang nie. Regtig. Jy kan die blind date op jou maag skryf en met jou hempie uitvee, ek wil niémand ontmoet nie.” René woel haar vingers deur haar hare terwyl sy wegstap. “Ek verpés hierdie nat weer, my hare lyk soos Fiela se kind se boskasie. Gaan die son nooit weer skyn nie?” mompel sy en gaan skink vir haar en Mandie filterkoffie in.

“Ek ken jou, René, jy probeer nou net die onderwerp verander. Daar’s nie fout met jou hare nie,” kap Mandie terug toe René haar koffie aangee.

René proe aan hare, dan kyk sy op na Mandie, haar beste vriendin – eintlik haar enigste vriendin.

“Ag nee man, Mandie! Moenie my so aankyk nie,” raas René toe sy Mandie se gesig sien.

“Hoe kyk ek jou aan?” vra Mandie kamma onskuldig en klap ’n lêer met papiere hardhandig toe.

“Jy weet baie goed. Met daardie help-my-asseblief-ogies van jou. Jy’s erger as ’n straatkind, maar vandag gaan dit nie werk nie. Luister nou mooi: Ek stel nie belang om iemand te ontmoet nie! En in elk geval eis die werk al my aandag. Ek móét die direkteur vandag oortuig dat ek ondersteuning in die veld nodig het. Professionele ondersteuning. Ek’s oortuig daar steek meer in die koningsprotea- en suikerbosplundery.”

“Hoekom sê jy so?” vra Mandie nuuskierig.

“Ek sal later verduidelik. Is Carlos hier? En is die dokumentasie vir die vergadering gereed?”

“Jou baas is mos al heelweek uitstedig, jong. Wie weet wáármee hy hom besig hou,” sê Mandie en mompel: “Hy praat in elk geval nie met mý nie.”

“Carlos is deesdae ’n geslote boek, ja. Maar die dokumente?” vra René en lig haar wenkbroue strengerig. Ofskoon sy en Mandie vriendinne is, tree sy professioneel op by die werk – en Mandie kan maar party dae ’n regte loskopdolla wees.

“Gereed, Juffrou Tweede-in-bevel. Die papierwerk, en al die gerapporteerde proteaplundery oor die laaste agt weke is aangeheg.”

“Die hele Overberg: Stanford, Hermanus, Agulhas, Napier, Bredasdorp, als?”

“Presies soos jy beveel het, ja. Ek moet sê, daar’s baie gevalle aangemeld. Miskien het jy tog iets beet,” antwoord Mandie en drentel na haar lessenaar.

“Dankie, Mandie,” sê René verlig dat haar vriendin skynbaar nou die idee om haar aan iemand voor te stel laat vaar het.

“Jy weet, René …” sê Mandie en ruk haar papiere ergerlik rond.

“Nee, ek weet nie, maar ek het ’n idee jy gaan my nou vertel.”

“Ja, ek gaan! Jy’s my beste vriendin vir die laaste veertien, of is dit al vyftien jaar?” sê-vra Mandie.

“Vyftien,” antwoord René en weet wat gaan volg, daarom voeg sy vinnig by: “Waarin daar soveel onderbrekings was, dat ons eintlik seker nog nie eens drie jaar vriende is nie.”

“Nonsens! Onderbrekings ofte not, ons is die laaste vyftien jaar vriende. Niks en niemand gaan dit ooit verander nie.”

“Dankie, Mandie,” sê René sag, en sy bedoel dit. Mandie was nog altyd daar. Mandie is die een wat al die jare kontak gehou het. En wanneer hulle nader aan mekaar gebly het, was dit altyd Mandie wat die drade opgetel en die vriendskap voortgesit het asof daar geen onderbreking was nie.

“Wat ek probeer sê,” onderbreek Mandie haar gedagtes, “is dat ons reeds vyftien jaar vriende is, maar dat ek jou soms nog steeds nie verstaan nie. En party dae, soos vandag, dink ek jy probeer net moeilik wees.”

“Nou’s jy onredelik,” begin René stry en haal diep asem. Sy’s geneig om haar te vinnig te vererg. Een, twee, drie en sy’s op haar perdjie.

“Is ek?” vra Mandie.

“Jy is, ja! Net omdat ek nie in ’n verhouding belangstel nie en nié jou neef wil ontmoet nie, gee jou nie die reg om my moeilik te noem nie. Met my uitkyk op verhoudings gaan ek in elk geval net jou neef se tyd mors. So ek doen hom eintlik ’n guns,” sê René, vasbeslote om nie deur Mandie oorrompel te word nie. Sy weet al dat wanneer dié kupido haar pyltjies blinkgevryf het, sy nie gou laat los nie. Daardie uitdrukking op Mandie se gesig ken sy alte goed.

“As jy nooit moeite doen om mans te ontmoet nie, gaan jy eendag verby jou pot se deksel stap en hom nie herken nie. Jy raak nie jonger nie, jy weet. En jy’t reeds oujongnooi-neigings.”

“Wát?” René sukkel om die lag uit haar stem te hou.

“Ja, jy het,” sê Mandie. “Twee honde, ’n kat, voëltjies, ’n bak vol visse en nou nog ’n nagapie ook.”

“Kupido, indien jy meer op jou werk sou konsentreer, sou jy weet dat ek reeds aanneemouers vir Apie gekry het, hulle’t hom al kom haal.”

“Wel, die aap maak nie saak nie – daar’s steeds die honde, kat en visse. Ek sê jou vandag, my neef is ’n goeie vangs, as jy slaap, gaan jy spyt wees. Ek moes ’n liefdesghoeroe gewees het. Maar met kliënte soos jy sal ek vir die res van my lewe ’n sekretaresse wees!”

“Mooi, ek’s bly dat ons mekaar dan verstaan,” sê René en stap weg. Dit raak laat en sy’t nog voorbereiding om te doen vir die vergadering, wat oor ’n uur begin.

“Indien jy dit nie vir jouself wil doen nie, doen dit vir my. Hy’s eensaam. Hy’t onlangs sy vrou verloor en is heeltemal vreemd hier. Hy kan regtig doen met ’n vriendin,” smeek Mandie.

René byt op haar tande. “En ek kan regtig doen met ’n huislening en ’n ander huurder as die vent van gisteraand. Jammer, Mandie, maar ek het régtig nie nou die tyd of energie nie.” Wat vir ’n uitgevrete man benodig in elk geval sy niggie om vir hom ’n date te reël, wonder sy.

“Ek moes dit geweet het,” kap Mandie terug. “Jy’t altyd tyd vir verwaarloosde diere. Jy sal jou lewe op die spel plaas om ’n blom, blaar of wortel te beskerm, maar ’n versoekie van jou beste vriendin – dís te veel gevra.” Mandie gooi haar hande in die lug en skud haar kop oordrewe.

“Jy’s wéér onregverdig! Om die Kaap se fynbos te beskerm is my wérk. My passie ook, en jy weet ek’s baie trots om deel te wees van die beskerming van een van die wêreld se plantkoninkryke. Dis in elk geval waarvoor ek betaal word.”

“Peanuts betaal word, ja, en jy gee nie eens om nie. Ou Carlos kan nog steeds nie sy geluk glo met jou aanstelling nie. Ondersoekbeampte, fotograaf én altyd die gewillige dienskneg.”

“Mandie!” klap René se stem kil. “Jy’s nou op dun ys. Geld is nié alles nie. Party dae dink ek jy verstaan nie die eerbaarheid van ons werk nie. Besef jy nie dat ons die kleinste maar rykste floraryk is nie? En dat as ons dit nie beskerm nie, daar niks vir ons kinders oor gaan wees nie?” René sug. “Maar dit gaan nie oor die werk nie, nè, dis oor jou neef. Ek’s nou jammer dat ek hom nie kan onthaal nie, hoor, maar my lewe is klaar deurmekaar soos dit is.”

“Mens se lewe is net so deurmekaar as wat jy jouself toelaat om te glo. Ek het nie ’n huislening nie, maar mor ek daaroor? Ek het ’n buurvrou wat my grensloos irriteer, maar daaroor kla ek nie. En verder is jy anyway naïef. Geld ís alles! Dis die alfa en die omega, maar daaroor sal ons seker ook nooit saamstem nie.”

“Nee, ons sal nie! Maar iets waaroor ons wel kan saamstem, is dat ek al wat agent is moet bel en hulle laat weet dat die huis langsaan in die mark is. Jy’s reg, my lewe hoef nie so deurmekaar te wees nie. En ek kan ’n koper vir my erfgoed vind sodat ek ’n deposito het vir my kothuis.”

“Wat? Hoe kan jy dit verkoop?” snak Mandie na asem. “Is jy nou heeltemal kinds?”

“Ek gaan nié trek nie – daardie kothuis is my tuiste. En jy, meer as enigiemand anders, behoort dit te verstaan.”

“En daardie erfstukke is jou trots – jou lewe.”

“Ongelukkig moet ek kies. Daar’s geen manier wat ek albei kan hê nie.”

“Ek maak jou ’n offer,” bied Mandie meer gemoedelik aan. “Ontmoet my neef, dan soek ek vir jou ’n ander huurder vir die groot huis.”

“Genade, maar jy’s soos ’n rooimier wat bytplek gekry het!” sê René onvergenoegd.

“Wel, dis my voorwaarde. Het jy my hulp nodig of nie?”

René kreun. “Hemel! En dis nou my beste vriendin … Kry jy die huurder, dan praat ons oor die ontmoeting.”

“Hoekom wil jy so graag van dié een ontslae raak?” roep Mandie agterna.

René steek vas en frons. Sy weet eintlik self nie hoekom die gedagte aan Kobus haar so ontstig nie.

“Hy herinner my aan my stiefpa’s,” antwoord sy na ’n oomblik. “Arrogant, beneuk, haat waarskynlik diere – én hy hou nie van die plek nie.”

“Hoe weet jy dit?” vra Mandie.

“Hy’t so gesê en toe vir die agent gevra om vir hom iets anders te gaan wys. En hy was uiters ongeskik.”

“Wel, wat verwag jy,” lag Mandie. “Jy’t die arme man oor die kop gemoker voor sy eie hek.”

“Dis nog lank nie sy hek nie! En verder sê ek steeds sy agtervolging was verdag. Iets aan die man staan my nie aan nie.”

“Is hy sexy?” vra Mandie.

René mors koffie op die vloer voor haar. “Wát?”

“Sexy? Aantreklik? Jy weet: Lank, donker, geheimsinnig met smeulende oë en stywe boudjies.”

“Wat het dit met die prys van eiers te doen?” vra René en druk haar bril terug. Sy’t lankal geleer dat oë, en veral háár oë, baie meer verklap as woorde.

“Die boudjies – vertel my,” hou Mandie tot René se groot ergernis vol. “Of wag, jy’s mos ’n meisie wat fokus op die hande. Was daar moontlikhede in daardie vingers van hom? Potensiaal?”

“Mandie!” raas René. Haar vriendin kan so aangaan oor die onbenulligste dinge. “Nie almal is soos jy wat op elke tweede vreemdeling verlief raak nie. Los dit nou.”

“Ek was maande laas verlief. Ek voel soos ’n vetplantjie in die woestyn – niemand om my te waardeer nie.”

René sug. “Ja, jy het nogal eintlik verander die laaste paar maande. Hoekom? Dis vandat jy daardie aand saam met Carlos uit was.”

“Hy’t niks daarmee te doen nie. Ek het net groot geword.”

“Oornag?” vra René en lig haar wenkbroue.

“Dit gebeur in die beste families, ja. Ek verstaan die lewe nou beter. En daarom verstaan ek dat jy nie van jou buurman hom nie omdat hy jou hartsnare laat tril.”

“Moenie laf wees nie! Lyk my jy verstaan nog níks,” sê René ergerlik en verdwyn by haar kantoor in. Dan stap sy terug tot by die deur en sê: “Gaan jy my help om ’n ander huurder te soek of nie?”

“Ek sal help, indién jy my neef daarna sal ontmoet,” sê Mandie selfvoldaan en haar bruin oë skitter van lekkerkry. “Maar moontlik is ek klaar te laat. Net die gedagte aan jou ligtekop buurman met sy blou-blou oë laat jou wange blom asof dit lente is.”

“Jy soek ’n –” René kantel skielik haar kop en luister. “My foon lui, hoop net nie dis die direkteur wat nóú kanselleer nie.” Sy stap weg, steek vas en draai vinnig terug. “Hoe weet jy hy het blonde hare en blou oë?”

Mandie lag en konsentreer op die papiere in haar hand. “Jy’t my mos vertel.”

“Wanneer?” vra René.

“Sien! Ek sê jou, hy roer jou hartsnare. Jy’t klaar muisneste. Toe-toe, gaan maak daai foon stil.”

Mandie reageer snaaks, dink René terwyl sy wegstap. Sy trek haar rolblinding oop en skakel die rekenaar aan voordat sy die foon antwoord. Terwyl sy na die manstem luister, voel sy hoe haar knieë meegee.

Dan sit sy die foon neer. “Mandie!” roep sy dringend.

“Wat’s fout?” vra Mandie terwyl sy by haar kantoor instorm. “Oooo, wanneer jou sproetjies so flikker …”

“Ek verstaan nie! Dit was die sekuriteitsmaatskappy. Hulle sê Tess en Donald het uitgekom, hardloop op die strand rond, en iets van ’n man wat daar is.”

“Ag vadertjie,” sê Mandie en slaan haar hand oor haar mond. “Hulle het by jou huis ingebreek!”

“Ek weet darem nie. Helder oordag?”

“Natuurlik. Dan’s almal by die werk. Ek lees net gister weer … Iemand het jou dopgehou. Waar’s daai stene van jou?” vra Mandie angstig.

Hulle staar na mekaar. Woorde weggeskrik.

Mandie kom eerste tot verhaal en fluister: “Sê tog vir my dat jy nie weer verlede nag na die halssnoer lê en staar het tot jy aan die slaap geraak het nie. Sê tog dat jy dit veilig in jou kluis toegesluit het.”

René voel hoe sy bleek word, gryp haar motorsleutels en is in ’n dolle vaart daar weg. Dis presies wat sy gedoen het! Of meer korrek, nié gedoen het nie.

Dis al wat sy besit. En dis nie verseker nie. Die premie was te hoog en sy dra die halssnoer nooit nie. Dis veilig in die kluis – veronderstel om te wees, maar nou lê dit oop en bloot op haar bedkassie! Waar was haar gedagtes tog vanoggend?

Sy kreun hard. Sonder haar erfstuk is al haar drome verlore.

Kobus steek gefrustreerd in die hardloop vas en ruk die selfoon uit sy sak. Vandag vermoor hy ’n hond of twee! Hy bewe van woede, en dit gebeur nie maklik nie.

“Kobus Burger,” groet hy kortaf.

“Wanneer maak ons daai dak nat?” Dis Carlos.

“Binnekort,” sê Kobus uitasem.

“So, is jy in?” vra Carlos.

“Die moer in, ja,” antwoord hy en verduidelik vlugtig vir Carlos wat aangaan.

Carlos lag en sê: “Ek kan hoor jy’s oorstuur. Ek wou net sê welkom in die Kaap. Jy sal baie gelukkig hier wees – dis nou as jy by die weer kan aanpas.”

“Op die stadium is die weer die minste van my probleme,” mor Kobus en kyk na die honde wat in die verte baljaar. Hoe de hel gaan hy hulle terug in die erf kry?

“Ek’s soos ’n kleuter met ’n suigstokkie oor jy weer deel van ons span is,” sê Carlos. “As my vermoede in die kol is, gaan hierdie ’n groot fonds wees.”

“Dankie vir jou vertroue in my,” sê Kobus en voeg by: “Jy was nog nooit verkeerd nie.”

“Luister, Kobus, ek het ’n vergadering oor vyf minute, maar ons móét gesels. Miskien in die geheim ontmoet, ons beter ons stories regkry voor ons volgende naweek vir Chika ontmoet. Wanneer pas jou?”

“Ek het nie my dagboek by my nie, maar bel my sekretaresse, Sonja, by die kliniek. Sy kan ’n afspraak reël. Jy’t mos my kantoornommer?”

“Ek het,” sê Carlos, maar Kobus hoor sy huiwering.

“Wat’s fout?” vra Kobus en gee ’n lang fluit. Die honde steek vas. Hy fluit weer. Goddank, hulle kom teruggedraf.

“Is jy nog seker jy wil weer betrokke raak? Dinge het die laaste drie jaar aansienlik verander. Dis nóg gevaarliker as destyds,” sê-vra Carlos.

“Ek’s in, Carlos. Jy hoef jou nie oor my te bekommer nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Dis ’n belofte.”

“Nou maar goed,” sê Carlos. “Sterkte met die uitpakkery. Ek sou jou wou help, maar dis beter dat Mandie ons nie saam sien nie. Sy kan my dalk net met jou troue verbind en een en een bymekaarsit.”

• • •

“De Wet,” roep René nog voor sy uit haar motor kan spring. Sy trek haar knuppel nader. “Het julle hulle op heterdaad betrap? Bliksems! Waar’s hulle?”

De Wet staan hande in die sye langs ’n enorme meubelwa en praat dat die spoeg spat.

“Hallo, juffroutjie,” groet De Wet. “Goeie ding jy’t so vinnig gekom voor hy jou honde vermoor.”

“Wie? Waar’s my honde? As die skurke iets aan Tess of Donald doen … Ek sal nie verantwoordelik gehou word vir my dade nie. Wat gaan aan?”

“Hokaai,” roep De Wet uit en tree terug. “Bêre daai ding voor jy nog iemand beseer.”

“Nie voor ek weet wat aangaan nie!”

“Eers wou hy die alarm deaktiveer, toe druk hy die verkeerde knoppie en die ding gaan af,” sê De Wet en vee oor sy snor. “Gelukkig vir hom word ek wat hom reeds ken toe uitgestuur, maar met die gesukkel om die stelsel te herset druk ons toe seker nog ’n verkeerde knoppie en maak die strandhekkie oop. Jou brakke vat toe die pad. Dit het ons ’n halfuur geneem om hulle terug in die erf te kry. Dis in daardie tyd wat ek jou laat bel het. Ook maar goed so, want daar was skaars vrede, toe druk die onnosele trokdrywer waaragtig weer die verkeerde ding, dieselfde hekkie gaan oop en jou brakke is wéér vort. Man, ek sê jou, ek dog die man kry die stuipe.”

“Waarvan práát jy tog?” vra René en kyk vervaard rond.

“Die hekkie daaronder,” sê De Wet en wys na die strand. “Dit het twee keer oopgegaan en elke keer het jou brakke die pad gevat.” Hy skep swaar asem. “Johannes! Kyk wat jy doen, moenie die man se meubels stamp nie. Hy slag julle saam met daardie brakke af.” De Wet draai na haar. “Wat staan jy nog hier rond? Hardloop, niggie, hardloop! Hy’s woedend oor jou honde so ongehoorsaam is.”

René skud haar kop verdwaas en vra: “Het hulle nie by my huis ingebreek nie?”

“Ingebreek? Ag nee donner man! Het hoofkantoor jou ’n verkeerde boodskap gegee? Party dae sweer ek hulle is ’n spul mamparras. Ek het uitdruklik gesê hulle moet jou nie ontstel nie – net sê dat die nuwe intrekker per ongeluk die hekkie laat oopgaan het.”

“Watse nuwe intrekker? Ek weet …” ’n Donderende stem wat van die strand se kant kom, onderbreek hul gesprek.

“Sal jy jou brakke gaan red voor daar regtig moord is,” beveel De Wet en druk haar hardhandig in die rigting van die strand. “Ek moet liewer hier toesig hou.”

René draf met die oprit tot aan die verste punt van die erf. Die veiligheidshek staan wawyd oop. Sy kan Donald onder op die strand hoor blaf. Sy drafstap tot op die houtdek.

Daar steek sy vas en voel hoe verbystering oor haar spoel. Onder op die strand speel die eienaardigste toneel hom af. As sy nie geweet het dis haar eie honde nie, sou sy gesweer het dis ’n imbesiel in ’n swart jas wat met sy honde probeer speel, links trap, regs trap, gly, val, opspring en met swaaiende arms beduie. Duidelik is haar honde uitgelate en hulle geniet die speletjie terdeë. Sy giggel vir die verspotte toneeltjie. Haar Jack Russell, Tess, het die punt van die man se jas beet en swaai soos ’n mallemeule saam wanneer hy in die rondte draai, terwyl die Alsatian, Donald, die man van voor tempteer.

“Waar’s my kamera tog?” mymer sy.

Asof hy haar oë op hom voel, kyk die man op. Hy staak sy onderonsie met die honde en hang ’n oomblik vooroor, duidelik uitasem. René se hart maak ’n lang sprong toe sy hom skielik herken. Hy kom orent en stap nader. Sy jas waai ’n bol agter hom en sy borskas vertoon fris onder sy polonektrui. Sy stap teen die houttrappies af om hom halfpad te ontmoet.

“Dis die ongehoorsaamste bleddie honde wat ek in my lewe gesien het,” baklei hy en swaai sy arms deur die lug van frustrasie. “Ek sukkel reeds meer as veertig minute om hulle binne te kry!”

“Môre, Kobus,” groet René en probeer haar ekwilibrium vind. “Is dit jou meubels wat afgelaai word?”

“Ja, en kyk waar’s ek. En dis beslis nie uit vrye keuse nie!”

“Ek verstaan nie, hoekom word jou meubels hier afgelaai?” vra René bekommerd. Sy was nie veronderstel om ooit weer met die man swaarde te kruis nie.

“Ek trek in.”

“Nooit! Waar?” Sy weet sy klink nou domonnosel, maar sy kan haar ore nie glo nie.

“By jou in die kothuis. Die eienaar sê ons kan die plek deel, jou kamer is ruim en ek het nie baie goed nie. Net ’n paar onderbroeke.”

“Wat?” haar stem styg ’n fraksie. Hy dryf die spot met haar, sy weet, maar hy lyk so doodernstig dat sy eintlik onseker voel.

“Ja. Jy en jou honde is ewe wild – julle kort ’n temmer. Die eienaar sê – ”

“Jy’s nie ernstig nie. Vergeet dit! Ek het ’n kontrak en ek bly nie saam met vreemde mans nie.”

“Jou kontrak het verval, ’n week gelede. En dis nie mans nie, dis net ek, één man. Ons sal dit geniet, jy sal sien.”

“Jy sal niks geniet nie, ek gaan beslis – ”

Kobus bars uit van die lag en René weet sy het reg in sy hande gespeel. Sy’t mos geweet die man is besig om met haar te mors, maar nee, sy spring op haar perdjie. Haar pa sou nou gesê het: “Dis daai Koekemoer-bloed van jou ma wat deur jou are vloei, my kind. Wat daai humeur betref, is jy jou ma se kind. En Ouma Koekemoer – jy wou háár nie ken nie. Eers geklap en later vrae gevra.”

Kobus hou op lag en sê: “Man, ek trek in die hoofhuis in.”

“Maar … maar jy’t dan gister eers die plek gesien en nie daarvan gehou nie,” stamel René en merk dat die tennisbal op sy voorkop glad nie opsigtelik is nie.

“So?”

“Geen normale mens sien ’n huis die een dag en trek die volgende dag in nie.”

“Normaal, sê jy?” spot hy en sy oë flikker ondeund.

Sy stoot-stoot aan haar bril maar weier om weer uitgelok te word.

“Ek het die plek reeds twee maande gelede op die agent se webwerf gesien. Tegnologie is ’n wonderlike ding. Nie dat dit my vandag enigsins gebaat het nie.” Kobus skud sand van sy jas af, probeer sy skoene ook skoonkry en vra dan: “Hoekom hardloop jou verdomde honde so oor die hele erf? En hoekom is hulle so deksels ongehoorsaam?”

René klap haar tong vies. “Tess! Donald!” Hulle kom dadelik aangehardloop. “Binne. Tess, kom!”

Speel-speel gehoorsaam hulle en hardloop terug na haar huis toe.

“Ek reken jy weet net nie hoe om met honde te werk nie, meneer Burger. Jy lyk nie na die diereliefhebber-tipe nie.”

Kobus betrag haar woordeloos. Sy oë gly openlik oor haar, van kop tot tone.

René voel hoe die ongemak op die krop van haar maag kom sit. Hoe haar sproete begin lewe kry en hoe sy deurdringende blou oë haar ontsenu.

“Ek’s jammer, ek moet vergeet het om hulle toe te maak vanoggend,” begin sy babbel. “Die plek staan al vir amper twee jaar leeg en ons het gewoond geraak om albei erwe te gebruik. Dit was veiliger.”

Sy wens die mansmens wil ophou staar. Haar hart bons onreëlmatig. Dis net omdat sy heeldag in oorlog gewikkel is met mense wat nie plek in hul hart het vir diere of die natuur nie, redeneer sy, en sê: “Dit sal nie weer gebeur nie.”

“Ek sal dit waardeer, want volgende keer los ek hulle net hier op die strand.”

“Dit sal ek goed glo,” antwoord sy.

“Wat bedoel jy nou daarmee?”

“Meneer Burger, ek het genoeg gesien en gehoor om te weet dat jy nie van diere hou nie.”

“Ek het geen probleem met diere nie – dit wil sê, opgeleide, gehoorsame diere. En verder kan jy my Kobus noem, ons bly immers omtrent op mekaar se skoot.”

“Natasha kan liewer vir jou ander eiendomme gaan wys. Iets meer privaat. ’n Plek waar jy nie op iemand anders se skoot hoef te bly nie. Ek weet daar is …”

“Ek het nie tyd om verder te soek nie, hierdie huis sal doen.”

“Wel, in daai geval hoop ek jy sal die skootblyery oorleef. Totsiens,” snip René, gooi haar kop agteroor en stap vinnig weg.

Die man vryf haar verkeerd op. Sy kry warm, dis bedompig en sy voel benoud. Dié Kobus-vent akkordeer nie met haar hormone óf haar humeur nie.

Mandie kyk op haar horlosie. Dis al veertig minute vandat René uit die kantoor gestorm het. Hoekom antwoord sy nie haar selfoon nie?

“Ag aarde tog, René. Waar de hel is jy?” wonder Mandie hardop en stap terug foon toe.

Sy gaan een laaste keer probeer. Sy kyk vlugtig na Carlos, hul afdelingshoof, wat intussen kantoor toe gekom het en wat heen en weer deur René se kantoor stoomroller.

Carlos is ’n moeilike man – almal weet dit – en buiten René wat nie ’n bang haar op haar kop het nie, vrees en vermy die res van die departement hom. Selfs sy, erken Mandie teenoor haarself. Sy luister hoe René se selfoon lui en lui. Wat gaan sy tog doen?

Carlos mompel ál harder en plak ’n lêer so hardhandig op die lessenaar neer dat jy net papiere sien waai. Sy ken daardie gemompel. Volgende skiet sy prop uit en ontplof die man soos ’n vulkaan. Dan’s dit nag vir René – en dis alles haar skuld, weet Mandie.

Sy moet iets doen. Enigiets, solank sy Carlos se aandag net vir tien of vyftien minute aflei. Volgens De Wet moet René al amper op pad terug wees.

Mandie frons terwyl sy na Carlos loer.

Sy’t ’n plan – riskant en onortodoks, maar dit kan dalk werk. Sy was ’n paar maande gelede een aand saam met dié droë bokkom uit. Die aand het nogal goed verloop. Carlos was ’n gentleman en het haar verras met sy bedagsaamheid. As sy brutaal eerlik moet wees, hy het haar knieë lam gehad op ’n manier wat sy nog nooit vantevore ervaar het nie. Elk geval, dis nou tot haar vaste kêrel, van wie Carlos niks geweet het nie, onverwags by die restaurant opgedaag het.

Mandie sug hardop. Die uitdrukking in Carlos se oë voor hy ontplof het, sal sy sekerlik nooit vergeet nie. Dít en die feit dat hy haar ’n flerrie genoem het. Daarna vermy hulle mekaar sover moontlik en praat net die nodige op kantoor.

Maar nou sal sy moet regmaak wat sy verbrou het. Mandie kreun saggies. Sy moes haar nie in René se sake ingemeng het nie. Sy moes nie haar vriendin se lewe probeer reël het nie en sy moes nie vir René laat verstaan het dat Carlos nie vandag op kantoor gaan wees nie.

“Behoed my, Vader,” mompel sy en sit gou haar rooiste lipstiffie aan. Sy moes nie, maar sy hét René onder daardie indruk gebring. ’n Vinnige blik in haar handspieëltjie bevestig dat sy goed lyk – sensasioneel. Ai, hoe moes sy nou geweet het dat die ou droë bokkom so ontydig sou terugkom?

Wel, sy sal die situasie nou maar net moet red of haar kaiings gaan braai.

“Jip,” sê Mandie vir haarself, skud haar skouers agteroor en stap doelgerig op haar doel af. Sy sien nog kans vir ’n beneukte Carlos, maar nié vir ’n vies rooikop nie.

’n Oomblik weifel Mandie voor die toe deur. Oordink die wysheid agter haar besluit. Gaan Carlos nét beneuk wees as sy hom aan die das nader trek en soen dat sy ore tuit? Soen soos sy hom daardie aand wou soen. Soen soos sy hom elke dag van daardie aand af wou soen. Gaan hy nét beneuk wees, of gaan hy moord pleeg? wonder sy en stap binne, sonder om te klop.

René swaai om en stap driftig weg van Kobus. Plaas hy hulle albei die ergernis spaar en vir hom ’n ander huis loop soek. Hy kan mos sien hulle twee saam op een erf gaan nooit werk nie.

“Ek was eerste hier!” mompel sy en drafstap na haar kar. Dan hoor sy ’n gromgeluid. Sy steek vas. “Wat de hel was dit?”

Die volgende oomblik loop iemand van agter af in haar vas. Sy vlieg soos ’n pyl uit ’n boog vooroor, struikel en verloor haar balans. Haar handpalms en knieë brand byna onmiddellik toe sy hard met die aarde kennis maak.

“Magtag! Vir wat steek jy soos ’n steeks donkie voor my vas?” vra Kobus. “Ek’s jammer, het jy seergekry?” Hy hurk en hou sy hand na haar uit. “Laat ek sien.” Sy stem is simpatiek en hy pak haar arm beet.

Sy trek haar hand weg en probeer opstaan.

“Ek’s nog nie klaar gekyk nie,” sê hy en vang haar hand voor sy dit te ver kan wegtrek. Hy draai haar palms na bo. “Ek het so vinnig geloop en nie betyds gesien dat jy stop nie. Jy’s ook so klein, ek sal bo-oor jou loop.”

’n Gloed, môre of aand, sy’s nie seker nie, styg teen haar nek en wange uit. “Ek’s reg, dis niks. Ek kan …”

“Ag nee! Jou hande is lelik stukkend, kom …”

Sy hande is goed versorg, die naels skoon en kort. Die aanraking verwek ’n sensasie wat warm deur haar binneste draai. Sy weet nie hoe om dit te hanteer nie. Impulsief ruk sy haar hand uit syne.

“Dis niks. Ek sal self. Ek’s klaar laat,” stamel sy, spring op en probeer statig haar romp afskud. Sy loer na Kobus en besef dat haar woede van so pas heeltemal verdamp het.

Die hees gebrul wat haar laat vassteek het, klink egter weer op van anderkant die heining. “Hou jy ’n hond of ’n leeu aan?” vra sy en beduie na die heining.

Kobus lag. ’n Warm, aansteeklike geluid. “Remos. Hy’s my trots. Wag, hier is jou bril,” sê hy en hou die ronde brilletjie wat afgeval het na haar uit.

“Dankie.” Sy neem die bril, maar Kobus se vingers sluit om haar hand.

“Jy steek sowaar die mees besonderse groen oë wat ek nog gesien het weg agter hierdie bril. Hoekom?”

Omdat opmerkings oor my oë my aan my pa herinner, wil sy sê, maar sy vra net: “Is hy opreg?”

“Het ’n stamboom langer as my eie,” sê Kobus.

“ ’n Boerboel. Uit Namibië dan.”

“Ek’s beïndruk. Jy ken jou honde.”

’n Warmte vul haar hart, iets soos ’n skoolkind wat ’n medalje ontvang. “Aan wie behoort Remos?”

“Aan my.”

“So jy hét ’n hond?” vra René en sien hoe haar vraag Kobus se voorkop op ’n plooi laat trek. “Is … is hy aggressief?”

“Nee, heel vredeliewend.”

Die seebries stoot ’n ongemaklike stilte tussen hulle in. Sy soek na woorde. “Dis omtrent ’n oerwoud hier agter by jou, ek het dit nie besef nie, anders sou ek my tuinier gevra het om die gras te sny.”

“Myne begin môre werk, dankie.”

“Goed, laat ek dan hardloop. Jammer, hoor.”

“Waaroor?” vra hy geamuseerd.

“Oor, ag oor …”

Hy grinnik en sê: “Ek slaap nog vanaand in die gastehuis maar gaan ’n glasie rooiwyn hier geniet teen sononder. Stel jy belang?”

Haar hart slaan bollemakiesie. Sy’t nie tyd nie. Haar aand is oorvol beplan. En hy dink reeds sy bly op sy skoot. Maar …

“Dit klink lekker, dankie. Sien jou dan later. Ek’s laat vir ’n vergadering. O ja,” roep sy oor haar skouer. “Herinner my om vir jou die sleutels te gee wat die agent destyds vir my gegee het.”

Sy skakel haar motor aan en sonder om weer in Kobus se rigting te kyk ry sy agteruit. Haar stukkende hande brand, en dan gee iemand ’n waarskuwingskoot op ’n toeter.

“Hallo, René. Maar jy’s haastig,” groet Natasha deur haar afgedraaide motorvenster.

René antwoord nie, waai net en ry. In haar truspieëltjie sien sy hoe Kobus vir Natasha tegemoetstap. Hy glimlag en lyk bly om vir Blondie te sien.

Sy klap haar tong vererg. Vandat sy gistermiddag vir Kobus ontmoet het, was haar gemoed nog net deurmekaar. Alles om haar verander té skielik.

Die son gooi reeds lang skadu’s toe die vervoerwa en helpers eindelik by die hek uitry. ’n Deurmekaarspul, maar nou rus en vrede, dink Kobus en trek sy motorsleutels nader. Hy’t inkopies om te doen en moet nog ’n draai by die kliniek gaan maak.

By die voordeur steek hy vas en kyk aandagtig na die huisie van sy buurvrou. Netjies, dink hy en vryf oor sy voorkop. Wat ’n eienaardige rooikop, en tog wek die vrou sy belangstelling beslis.

“Hug,” sug hy moeg en klap die deur toe.

Toe hy vroeër haar hand vasgehou en in daardie smaragoë gekyk het, het iets met sy hart skeefgeloop. Hy’s lankal nie meer jonk en onervare nie, hy ken vroumens-moeilikheid – en daarvan het hy meer as genoeg gehad om hom ’n leeftyd lank te hou.

“Kobus!” groet Sonja, sy ontvangsdame, toe hy by sy praktyk indraf. “Wat maak jy hier? Hulle kan onmoontlik nie jou meubels klaar afgelaai en uitgepak het nie?”

“Kan jy dit glo, hulle ís klaar. Afgepak, ingedra én die meeste bokse uitgepak. Die res sal ek later uitsorteer. Maar sjoe, ek’s bly hulle’s nou weg, wat ’n lawaai. Ten minste is die grootste werk nou agter die rug.”

“Ook maar goed, want jou dagboek begin reeds besig lyk,” sê Sonja en hou ’n stapel dokumente na hom uit. “Wat het met jou voorkop gebeur?”

“Lang storie. En dié?” vra Kobus en kyk na die dokumente in haar hand.

“Eendag wil ek daardie lang storie hoor, nè,” sê Sonja.

Hy grinnik net, want daar’s géén manier dat hy vir enigiemand gaan vertel hoe ’n rooikop hom ore aangesit het met haar knuppel nie. Sy bene bewe nou nog ligweg wanneer hy daaraan dink.

“Dié is werkgoed,” onderbreek Sonja sy gedagtes. “Sê jou mos, die mense hier kan skaars glo dat hulle nou einde ten laaste hul eie veearts gaan hê aan die kant van die dorp. Ek dink ’n paar afsprake is sommer ou tannies wat net wil kom inloer.” Sy knipoog en sê: “Hubare jong mans in Hermanus is so skaars soos kaviaar in ’n kinderhuis.”

“Ag nee, moet nou nie vir my sê hierdie is een van daai plekke waar die tannies elke bachelor met ’n melktert probeer aankeer vir hul dogter nie.”

“My buurvrou sê ons sal nog geheg raak aan die ou kusdorpie. Selfs die melktert of twee wat per geleentheid hier opdaag, gaan glo nog jou hart steel.”

“Nou ja, dankie, Sonja,” sê Kobus maar, dik van die lag vir haar sêgoed. “Die afsprake lyk belowend. Hoe besiger, hoe beter. Gaan dit goed tuis?”

“Baie goed. Ek het verlede week my Suid-Afrikaanse bestuurderslisensie gaan kry, maar my senuwees is gedaan. Dis so anders as in Amerika!”

“Gee tyd, jy sal die paaie vinnig aanleer. Ek het gou ’n oproep of twee om te maak, dan kan ons vinnig deur dié pak werk,” sê hy en stap na sy kantoor.

Vandag drie maande gelede het Carlos hom uit die bloute gebel. Hy’t dadelik lont geruik. Carlos het met ’n paar woorde die saadjie gesaai, toe gegroet en, soos hy belowe het, nie weer van hom laat hoor nie. Maar die gogga het gebyt.

Vandat sy vrou oorlede is, was hy wat Kobus is niks meer as ’n robot nie. Emosieloos. Geen hoogte- of laagtepunte nie. Hy’t net aangegaan en probeer om nooit weer seer te kry nie. Die laaste paar maande voel-voel hy weer die veld. Die spelers het weliswaar verander, maar die spel is nog dieselfde. Die enigste noemenswaardige verskil is dat hy hierdie keer niks het om te verloor nie. Niemand om homself voor te beskerm nie.

“Chika speaking,” onderbreek die Sri Lankaan sy gedagtes.

“Kobus Burger hier,” groet hy in Afrikaans, want volgens Carlos verstaan Chika die taal goed. “Carlos het gevra dat ek jou bel sodra ek ingesettle is.”

“I’ve expected your call earlier,” sê Chika, sy aksent swaar, vreemd. “I was just wondering if you were up for the challenge. Carlos believes in you – but I must see for myself.”

“Wat’s die potensiaal?” vra Kobus.

“Big, my friend. Big! That’s if you don’t run away from the law like a dumb virgin from a sumo wrestler.”

“Ek’s nie bang nie,” antwoord Kobus.

“In that case you called the right man. We’ll meet this weekend. Bring a sample of the paperwork you’re going to supply.”

“Watter items wil jy daarop hê?” vra Kobus en voel hoe sy maag draai. Hy’t homself belowe dat hy klaar is met skuim soos Chika. Hy’t op Henriëtte se graf gesweer dat hy nooit weer dié pad gaan stap nie.

“Anything, man. I can’t explain on phone. You know these walls have ears, and there’s a redhead that’s on my case. Sy drives me insane. Wants my blood like a bleddie hungry vampire.”

“Lyk my al die rooikoppe hier sleep ’n sakkie moeilikheid agterna,” sê Kobus en vryf ingedagte oor sy voorkop.

“This one doesn’t play. The law I can handle, but this trouble with her – I don’t like it.”

“Ken jy haar?”

“No, but my men call her Double Trouble. I’ve asked for photos. Nude ones preferably. I’ll send you some. We can decide later if Double Trouble is worth getting excited about.”

“Goed dan. Wanneer ontmoet ons?” vra Kobus haastig. Die gedagte aan ’n glasie wyn saam met sy buurvrou klink skielik veel meer aantreklik as besigheid.

“This weekend. You’ll bring paperwork?” vra Chika.

“Ek sal saambring.”

Hulle groet en lui af.

Kobus staan nog ’n wyle met die foon so in sy hand. Drie jaar gelede het hy gesweer dat dit die laaste keer was. Hy skud sy kop. Daardie grou môre toe hy voor aan Henriëtte, sy vrou, vriend en lewensmaat, se kis moes dra en toekyk hoe haar familie uitmekaar spat, het hy hom onttrek aan die malle gejaag na niks.

Ingedagte blaai hy deur sy dagboek, aarsel by Woensdag. “Carlos middagete” het Sonja daar geskryf. Sy hart pyn en hy staar nikssiende na die woorde.

Sy bedanking destyds ná Henriëtte se begrafnis was ’n tameletjie. Carlos was woedend, almal was vies vir hom. Vertroudes was teleurgesteld en vriende onthuts. Hy het hulle in die steek gelaat, hy weet, maar saam met Henriëtte het ’n gedeelte van hom gesterf. Hy wou nie meer leef nie. En hy wou beslis nie meer deel hê aan iets wat hom dagin en daguit aan haar sou herinner nie.

Hul sel was jare lank een groot familie. Sy was die anker. Hy wou nie gedurig haar naam op die res van die span se lippe hoor nie. En hy wou die verwyt oor sy vrou se dood, wat aan hom geknaag het, nie met hulle deel nie. Hy wou alleen wees – en dis presies waar hy die laaste drie jaar was. Alleen.

Meerminliefde

Подняться наверх