Читать книгу Talmende tuiskoms - Louisa du Toit - Страница 3

1

Оглавление

Die professionele uitdrukking op Irma de Wet se gesig verdwyn eensklaps toe sy besef dat die oproep van Deon kom. Deon Barnard. Saam met die verrassing, kom egter dadelik ook die skok. Dis die eerste keer dat sy hier op kantoor ’n oproep van die huis af ontvang. Matilda, haar stiefma, is te suinig om onnodige telefoonoproepe toe te laat.

Maar nou bel Deon, die plaasbestuurder. Haar pa …? Iets verkeerd met hom? Hy is wel nog net oor die vyftig, maar in ’n huwelik met ’n vrou soos Matilda … Sy sak agteroor in haar kantoorstoel omdat ’n lamheid opeens haar hele lyf vul. “Is iets verkeerd, Deon? Die lyn is ellendig, ek kan jou skaars hoor …”

Sy behoort hom liewer terug te skakel, maar persoonlike oproepe word vanselfsprekend nie toegelaat nie. Dis ’n kleinerige firma met ’n ontspanne werkgees, maar meneer Langley is op sy manier streng en ietwat oorekonomies.

“. . . ongelukkig nie goeie nuus nie …” maak sy uit. “Tillie …”

“Tillie?” Haar stiefsussie? Sy sou eerder slegte nuus van haar pa of Matilda verwag … “Wat van Tillie?” roep sy om haar hoorbaar te maak.

“. . . onweer hier,” hoor sy Deon se stem deursypel. Dit verklaar dan die gekraak op die lyn. Vreemd om te dink daar is onweer op Wernersdal, terwyl dit hier in Johannesburg ’n helder, sonnige dag is.

“Deon, wat is dit van Tillie?” Sy raak desperaat.

’n Paar oomblikke kan sy hom glad nie hoor nie. Dan dring sy stem weer hoorbaar deur: “. . . en toe was hulle in ’n ongeluk. Die motor het omgeslaan …”

“Was Tillie in ’n motorongeluk?” herhaal sy raadop, maar besef dan met ontnugtering dat sy alle kontak met Deon verloor het. Sy kan haar voorstel hoe hy aan die ander kant van die lyn worstel om hom hoorbaar te maak. Sy moet net een keer nog sy stem hoor, moet weet of Tillie nog lewe … Die irriterende gekraak oorheers egter nou die hele gesprek sodat iemand van die sentrale ingryp en verskoning maak. “Probeer nou weer,” bied sy na ’n rukkie aan.

“Irma?” Onseker verligting laat haar effens ontspan as die stem weer deursypel.

“Sê my tog, voor jy weer uitsny. Lewe Tillie?” Sy voel die beklemming in haar keel opstoot by die aanhoor van haar eie woorde. Maar dis die belangrikste ding om op hierdie oomblik te weet.

“Ja, maar baie swak en deurmekaar, roep na jou. Daar is dalk skade wat nog nie gediagnoseer is nie. Ek ry nou om jou te kom haal …”

In een asem wil sy vra of dit dan so ernstig is, wil sy sê dat Johan haar Wernersdal toe kan neem, maar albei gedagtes wyk voor die een oorstelpende feit: Tillie roep na haar, en sy moet dadelik gaan. Sy durf geen oomblik talm nie. Deon is ’n gelykmatige ou, sit nooit met iets op loop nie. Ook nou sou hy haar die nuus minder dramaties probeer meedeel het as die omstandighede dit toegelaat het.

Sy stem het weer weggeraak, maar nou weet sy. Genoeg, in elk geval. Die senuweeagtige terugplaas van die gehoorbuis weerspieël haar gemoedstoestand volkome. Die saaklik gedissiplineerde optrede waardeur sy haar die goedige kantoornaam “Immovable Irma” op die hals gehaal het, dreig nou om te verkrummel voor die skielike verwarring en onsekerheid wat deur Deon se oproep veroorsaak is. Sy vroetel haar vingers deur haar hare, ’n instinktiewe beweging wat die sagte lyn van haar kapsel versteur.

Tillie … arme ou Tillie. Tillie vir wie sy versaak het toe sy die deure van haar ouerhuis agter haar toegetrek het.

Hoe sou dit wees - sou sy baie pyn hê, dalk onooglike beserings? Sy yl, en sy roep.

“My stiefsuster was in ’n ongeluk,” deel sy haar kollegas kortliks mee. Hulle simpatiseer ligweg, gaan dan voort met hulle werk. Dis asof hulle daarmee wil vra: wat is ’n stiefsuster nou?

Hulle … dit val haar nou by dat Deon gepraat het van “hulle” wat in die ongeluk was.

Wie? Kan dit wees …? ’n Vriend? ’n Kêrel, soos haar stiefma afkeurend sou sê?

Wel, as dit so is, kan ’n mens slegs sidder vir die gevolge. Hopeloos ontwrig staan Irma op en gaan in die klein kantoorkombuisie ’n glas water drink. Dan besef sy dat sy eintlik geen behoefte aan water gehad het nie. Sy dwaal terug na die hoë venster vanwaar sy afkyk op besige strate en die glimmering van alle soorte dakke in die winterson.

Dis halfelf in die môre. Hoe totaal onwetend het sy vanoggend opgestaan, werk toe gekom.

Dit het iets so alledaags geword dat ’n mens ongevoelig begin raak het: motorongelukke … En nou is sy plotseling betrek in die kring daarvan … nou trek dit bloed.

As Johan haar kon neem, sou dit baie gouer gaan. Maar moontlik is Deon reeds op pad, buite die bereik van ’n telegram of telefoon. “Ek ry nou,” het hy gesê. En as Deon sê “nou”, dan beteken dit “nou”.

Dan maar wag, wat anders kan sy doen? Ondraaglike gedagte. Wag moet die ergste ding op aarde wees. Maar wie was saam met Tillie in die motor? Die vraag teister haar.

In haar laaste brief het Tillie iets gesê wat sekerlik as inligting bedoel was, alhoewel so vaag dat Irma gewonder het of sy dalk die kat aan die stert beet het met haar vertolking. “Die lewe hier op die plaas is darem nie so vaal soos voorheen nie …” Die omslagtigheid van inligting is heel verstaanbaar. Dit sou nie die eerste keer wees dat ’n brief, hetsy inkomende of uitgaande, in die hande van Matilda val nie.

Sou hierdie opmerking gedui het op Deon wat nou permanent op die plaas is? Of het Tillie iemand besonders ontmoet? En was sy (sonder toestemming, beslis) saam met hom in die motor toe die ongeluk gebeur het? Dan wag daar ’n vagevuur van verwyte op haar as sy herstel. Ás sy herstel. Selfs al herstel sy nie, sal Matilda se verwyte nie agterweë bly nie. Matilda is iemand sonder genade, dink Irma helder en duidelik.

Die streng, onwrikbare beeld van Matilda verrys voor haar; die onuitwisbare skrikbeeld, so duidelik ingegraveer asof sy haar slegs gister laas gesien het. Die gestalte wat haar laat vlug het uit die huis waarin sy die beeld van haar oorlede moeder nie meer kon vind nie. Sy het haar pa en Tillie versaak. Vir Tillie veral, wat op hierdie oomblik dalk ’n ongelyke stryd voer teen die skaduwee van die dood. Sy is so ’n brose mensie.

Tydens die jaar opleiding hier in die stad het Irma nog net twee keer huis toe gegaan. Daarna, toe sy werk vind en selfstandig raak, glad nie meer nie. Dis reeds twee jaar. Enige skuldgevoel jeens Tillie het vervaag toe sy hoor dat Deon nou vir goed op die plaas is. Is dit moontlik dat Tillie se eenkant lewe, haar jongmeisie-eensaamheid, selfs uit haar gedagtes begin verdwyn het? Op hierdie oomblik het Irma egter ’n duidelike beeld van haar stiefsuster: die ranke, tenger liggaam en die vloed blonde hare. Die fyn gesiggie met die energieke oë wat egter mettertyd al hoe stiller geword het totdat hulle op agtien as willoos beskryf kon word.

Die herinneringsbeeld dryf haar weg van die venster, beweeg haar tot aksie. Reisvaardige aksie. Eerstens: meneer Langley. Daarna vir Johan inlig en groet, en verskeie klein reëlinkies. Inpak, afsprake kanselleer.

Johan Jooneveld … om hom ’n onbepaalde tyd lank nie te sien nie. Die gedagte hinder haar soos gewoonlik wanneer hy ’n dag of langer uit die stad moet wees in verband met werk. Sy weet dat hy dit in ’n mate irriterend vind as sy gedurig, altyd by hom wil wees.

“Twee mense kan mekaar maklik verstik, hoor,” het hy haar op ’n keer in erns geterg.

“As dit jou definisie van liefde is,” het sy met ’n effens ergerlike handgebaar beduie.

Hy het vlugtig na die ring aan haar hand gekyk. Soos ’n jagter na sy trofee, was die ongunstige vergelyking wat by haar opgekom het. Of is hy reg? Is sy besitlik? Ly sy aan ’n gevoel van onsekerheid vanweë haar huislike agtergrond? Dis net dat sy in sy teenwoordigheid daarna verlang om ontslae te raak van die masker wat sy in haar gewone lewe dra, dat sy by hom slegs wil wees wat sy is: ’n eensame, ontwortelde meisie. Sy wil gekoester wees in sy manlike beskerming. Sy liefde moet haar omsluit, haar verseker van alles waaroor sy deur die jare onseker gevoel het.

Hoe kan sy dit ooit aan hom verduidelik? Hoe sal hy dit ooit kan verstaan; hy wat so oortuig is van homself en sy houvas op die lewe? Miskien is hierdie verskil tussen hulle die enigste oorsaak van die voortdurende wrywing, van die senutergende geskilletjies waardeur dit voorkom asof hulle besig is om te skerm, om heeltyd voelers uitgesteek te hou en mekaar tog nie te kan vind nie.

En dan, wanneer hulle weg is van mekaar, spoel die verlange onmiddellik aan, die gemis wedersyds. So dikwels lui die telefoon in haar woonstel slegs ’n kwartier nadat hy vieserig van haar af weg is. Dan is die berou daar, die volkome versoening wat hulle net nie in mekaar se teenwoordigheid deelagtig kan word nie. Dan weet sy onteenseglik dat hy haar ook liefhet, en nodig het … om net by ’n volgende geleentheid weer daaraan te twyfel. Hoekom kan sy hom nie net vertrou en haar toekoms aan hom oorgee nie?

Irma gaan na haar werkgewer se kantoor. Hy moet kan sien dat iets verkeerd is, want sy oë knipper heftig: “Ja, juffrou De Wet? Voel jy sleg?” Net asof sy ooit sleg voel.

“Nee, maar ek het slegte nuus gekry, meneer Langley. My suster was in ’n motorongeluk. My stiefsuster, eintlik. Ek kan nie uitvind hoe ernstig dit is nie, maar sy is baie broos.”

Hy haal sy bril af en neem die voorkoms van ’n ernstige mol aan. Die kwessie begin hom boei. “U moeder was dus twee keer getroud?”

“Nee, my pa. My eie ma is oorlede.”

“Dit spyt my van die slegte nuus. U wil seker gaan?” voeg hy begrypend by, al weet hulle albei dat hy sonder haar sal sukkel.

“As dit u sal pas. My … iemand sal my kom haal …”

“U verloofde, wou u sê?” Die triomf lê oor sy goedige gesig as hy by hernuwing haar verloofring raaksien.

“My verloofde woon hier in Johannesburg,” verduidelik sy geduldig, al brand sy innerlik van haas. “Ek wou amper sê my broer. Maar eintlik is hy niks van my nie.”

“Ingewikkeld. En interessant. ’n Aangenome seun?” poog hy opreg. “Is dit nou uit die eerste of tweede huwelik, ek bedoel …”

“Hy is so te sê aangenome,” probeer sy die ondervraging stuit.

“En u kom mos van … Moet my nie help nie, dis ’n plekkie op die platteland.” Hy talm asof hy dit net vir een oomblik vergeet het, dink sy geamuseerd en help hom dan tog aan die naam van Wernersdal.

“Natuurlik! En dis byna ses honderd kilometer. Moet dus ernstig wees. Gelukkig is daar darem ’n hospitaal, hoewel seker nie groot nie. Ek moes eenkeer daar oorbly toe my motor gebreek het.” Hy plaas ewe trots sy bril terug op die knipperende oë. ’n Dierbare siel, maar so verstrooid. As sy nie gedurig alles voor, agter en rondom hom regvat nie …

Afgehandel, weet sy verlig toe die bril op sy regmatige plek sit.

“Gaan gerus, juffrou,” plaas hy die stempel. “Iemand … ja, e … iémand kan u plek neem.”

“Dankie. Baie dankie.”

“Letterlik, natuurlik. Figuurlik nie maklik nie!”

“Ek is bly as my werk u tevrede stel,” opper sy nederig.

Hy knipper, glimlag toegeeflik: “Behrens moet maar oorkom na u kantoor toe. Maar ai, haar spelling tog.”

“En gestel nou, meneer Langley …”

“Natuurlik! Gestel nou dis nodig dat u daar bly vir ’n rukkie, laat my dan net weet, en ek sal aanneem dat u sommer nou u jaarlikse verlof neem. Ses weke in plaas van ’n maand. Spesiale vergunning.”

“Wat van ses maande, tot anderkant Kersfees?” waag sy dit tot sy plesier. Sy is opnuut verbaas dat daar soveel kan steek agter so ’n onopvallende voorkoms soos syne.

Die grappie geval hom van oor tot oor. Hy druk haar hand lank en stewig. “Gaan maar sommer nou,” sê hy simpatiek. “U moet seker nog inpak en afskeid neem.” Daar is beslis spesiale betekenis in die laaste woorde.

Hoe kan hy weet, dink sy en vermoed dat daar ’n pyntrek in haar oë is toe sy omdraai, hoe kan enigeen hier weet wat die nuus omtrent Tillie werklik beteken? Sal selfs Johan dit kan vermoed? Ook hy behoort tot haar latere lewe, daardie deel wat nooit met die vroeëre deel verenig sal kan word nie.

Sy trek haar kantoordeur agter haar toe en hou asem op dat Johan op kantoor sal wees as sy hom skakel. Sy wag ongeduldig terwyl die afgemete dubbelluie aan die anderkant aan haar oor krap en krap totdat sy die gehoorbuis geïrriteerd ’n entjie verder weg hou.

’n Onbeskryflike verligting wel in haar op as hy eindelik antwoord.

“Johan!” Sy dra al haar vrees en onsekerheid aan hom oor deur die enkele uitroep.

“Dis ongewoon dat jy my op kantoor bel, liefste.” Omdat sy haar verbeel dat hy baie besig is en gesteurd voel oor die onderbreking, knak haar weerstand, iets wat die slegte nuus aangaande Tillie alleen nie kon teweegbring nie. Sy begin huil.

Sy ontsteltenis laat die trane slegs vinniger kom. “Maar meisie, wat is verkeerd? Is jy siek? Of het iemand met jou getwis? Moet ek kom? Is jy op kantoor?”

Sy probeer haar beheers, gedagtig daaraan dat hy nie van sentimentele vertonings hou nie. Stamelend vertel sy wat skort. En, sensitief in haar ontsteltenis, meen sy dat hy verlig klink toe hy hoor waaroor en oor wie dit gaan.

Dan verstaan ook hy nie, dink sy, terwyl ’n ellendige gevoel van verlatenheid om haar vou. Om begryplike redes kan Johan haar ontsteltenis nie deel nie. Meneer Langley, alhoewel simpatiek, was voor vandag nie eers bewus van Tillie se bestaan nie. Haar kantoorgenote kom goed met haar oor die weg, hou dalk selfs van haar. Sonder om daarin te roem, weet Irma dat sy aantreklik is, maar niemand voel bedreig daardeur nie. Sy is nie iemand wat loop en ogies maak of ander meisies in die skadu probeer stel nie. Verder weet hulle hoogstens dat sy bekwaam in haar werk is en dat sy intuïtief alle toenadering afweer, haar diepste gevoelens verborge hou.

“Moet ek jou huis toe kom vat?” vra Johan met ’n besorgd­heid wat sekerlik nie die welsyn van ’n onbekende stiefsuster beoog nie, maar slegs die van die meisie aan wie hy verloof is.

“Dis nie nodig nie,” antwoord sy, skielik bly dat sy dit kan sê. “Deon kom my haal.” Dis ’n veilige, koesterende gedagte: Deon kom haar haal. Dis bekend en vertroud.

“Deon?”

’n Oomblik oorweeg sy dit om die gehoorbuis neer te gooi. Op hierdie oomblik, dink sy met wrewel, sou meneer Langley beter as Johan vaar in ’n toets oor haar naasbestaandes.

Sy ignoreer die vraag. “Kom jy my groet?” vra sy koel, haar trane skielik opgedroog.

“Meisiekind,” sê hy deur sy tande, “waarom is jy nou vir my kwaad? Ek sal jou seker nooit verstaan nie, hoe lief ek jou ook het.”

Die verwysing na sy gevoel vir haar bring die beroering in haar tot bedaring. Is dit nie belangriker as baie ander dinge nie? “Kan ons saam eet tussen een en twee? Johan …” fluister sy ontroerd.

“Ek sal jou waaragtig nooit verstaan nie,” sê hy nugter. “By die Odeon. Tot siens, Irma.”

Sy bly die gehoorbuis nog langer vashou, onwillig om te aanvaar dat alle verbinding met die man wat haar verloofde is, reeds verbreek is.

Dis elfuur. Wat ’n ewigheid nog. Sy kan nooit nou reeds na haar woonstel toe gaan nie. Om daar te wag, sal erger wees as om hier te wag, waar tog ander mense en kantoordrukte is. Buitendien sal sy dan die hele ent middestad toe moet terugkom vir die ete saam met Johan. Net na ete sal sy ’n bus na haar voorstad haal en dan kan sy nog betyds klaar inpak. Sy sal ook iets regmaak vir aandete. Deon sal seker nie op pad stop om te eet nie, en Matilda is nie iemand vir padkossies inpak en ander minlikhede nie.

Sy gaan dus eers terug na meneer Langley toe. “Ek sal nog tot eenuur hier wees. Is daar werk wat ek vir u kan doen?”

“U kom of u gestuur is … gestúúr is!” beklemtoon hy verlig en hou twee briewe na haar toe uit. “Beantwoord hierdie, asseblief. Amper vra ek ‘foutloos’, maar toe onthou ek dis onnodig. U is op hoogte met die hele saak, bewoord dit sommer self. En roep dan vir Behrens hierheen.”

Verlig knipperend glimlag hy die slanke, regop meisie agterna. “Korale”, mompel hy.

Selfs die ekstra werk het nie daarin geslaag om al die orige tyd te vermoor nie, en dis kwart voor een toe Irma by die Odeon aankom. Sy gaan eers kleedkamer toe om haar op te knap voor Johan se koms. Met verbasing merk sy in die spieël hoe bleek en senuweeagtig sy voorkom. Ook word sy nou bewus van ’n dowwe, kloppende hoofpyn. Saam daarmee stroom die assosiasies weer na vore: die skielike verstoring van die daaglikse kantoorroetine, die vreemde ondervinding om na etlike jare weer Deon se stem te hoor vanuit ’n stormagtige Wernersdal. En, boweal, die ongelooflike gedagte dat Tillie dalk in die skaduwee van die dood is. Goed, dis nie wat Deon gesê het nie. Maar sy het nie ’n goeie gevoel oor Tillie se lot nie. Iets is groot verkeerd. Die gedagte verleen ’n vreemde, onwerklike kwaliteit aan die dag.

Sy bestel solank die gebruiklike gemengde braaigereg, Johan se gunsteling. Sy wonder of sy sal kan eet. Sy sal probeer, ter wille van hom. Sy wil haar onbeheerste optrede van vanoggend uit die weg probeer ruim.

Johan is laat. Die kelner het intussen die tafel gedek en bring die twee borde deur die swaaideur van die kombuis juis toe hy by die ingang verskyn. Hy blik vinnig deur die ruim restaurant wat nou vinnig begin volstroom, sien haar dan raak teen die agterste muur. Hy pyl op haar af met sy kenmerkende haastige, effens vooroor stap.

“Jammer ek is laat … onvermydelike oponthoud,” gebaar hy. “Dankie dat jy solank bestel het.” Hy druk haar arm vlugtig toe hy gaan sit en vra voorlopig niks uit nie. Tog is sy hele houding simpatiek en beskermend en sy kry spyt oor haar bedenkinge aangaande sy belangstelling.

Mettertyd, terwyl hulle eet, hoor hy al die besonderhede van haar. Later glimlag hy fyntjies: “Jy moet my vergewe; ek was net ingedagte vanoggend.”

“Hoe so?”

“Deon is mos jou stiefbroer, Tillie se broer.” Hy glimlag verskonend na haar met sy onweerstaanbare oë wat so dinamies vertoon onder die sterk oogbanke. Op die oomblik is dit egter nie sy oë wat haar die meeste boei nie, maar die feit dat hy nog steeds mistas aangaande Deon se identiteit, asof laasgenoemde so heeltemal onbenullig is.

“Ja,” antwoord sy geslote. “Sê maar so. Dis seker na genoeg.”

“Wel, is hy nie?” Die borende, staalgrys oë vernou terwyl ’n frons sy gladde voorkop kreukel.

“Maak dit saak?” Sy haal haar skouers op en voel skielik dodelik moeg. “Jy trou immers nie met my familie nie.”

“Dan kan Deon net die koning se hond se vlooiknipper wees.” Sy stem is gevaarlik kalm, sy oë ook. “En jy weet hoe ’n belangrike persoon dit is. Wat jou familie betref, ek sal nie omgee om hulle te leer ken nie. Al is dit net om jou daardeur te probeer verstaan. Maar ek word nie juis soontoe uitgenooi nie, of hoe?”

Hulle gesprek is haperig, aangevul deur stiltes en die half verbete klank van messegoed op porselein. “Ek sou jou lank­al uitgenooi het as ek gedink het dat jy die ingewikkelde verhoudinge tuis sal verstaan,” antwoord sy na ’n tydjie. “Jy kan ’n knap bemarker wees, Johan, maar dis nog nie te sê jy kan mense lees en verstaan nie.”

“Praat jy van mense, of van geslote boeke? Kom, ek vat jou na jou woonstel toe.” Sy stem is geforseerd. Hy frommel sy servet op nadat hy dit teen sy lippe gedruk het. Die kelner staan nader om hulle borde te neem. Nie een van hulle het juis veel geëet nie. Johan gooi geld op die tafel neer sonder om vir die rekening te wag.

“Ek haal ’n bus,” kondig sy stroef aan toe hulle buite kom. Hulle gaan uitmekaar sonder ’n verdere woord, sonder ’n afskeidsgroet. Toe sy hom die straat sien oorsteek, wil sy hom roep, haar daarvan vergewis dat hierdie afskeid ’n verskriklike fout is. Sy wil dit óór doen. Haar lyf teen syne vasdruk en voel hoe hy vir haar toenadering ontwaak.

Verydeld sien sy hom verdwyn en voel haar oë begin brand. Sy word bewus van mense wat heen en weer verby haar loop. Die sypaadjie is vol. Dis tyd vir haar bus. Sy begin aanstap na die halte. In die bus sien sy bekende bakens verbyflits, maar vaag. Sy vee oor haar oë.

Dis moeilik om te weet hoeveel en wat om in te pak. Dis nog sterk winter, maar as sy vir ’n onbepaalde tyd daar anderkant bly, kan die warmte haar oorval. Sy pak dus veiligheidshalwe ’n kleiner tas met somersklere ook in. So weinig die bande wat my hier bind, dink sy met swaar heimwee. Sonder Johan, niks. Binne ’n halfuur reël sy om ’n onbepaalde tyd weg te wees, en die lewe gaan voort. Selfs meneer Langley sal hom begin tevrede stel met Behrens, nadat hy haar herhaaldelik oor haar spelling berispe het. Net Johan sal haar mis, miskien, as hy weer goed word.

Haar gedagtes slinger verward rond tussen die afskeid van Johan en die weersien van Tillie. Johan wat tussen die verkeer verdwyn sonder om selfs net een keer om te kyk; Tillie in ’n wit hospitaalbed met Matilda wat soos ’n engel van vergelding op ’n stoel langs haar waak, wag dat sy bykom, herstel, om haar beter te kan roskam.

En vader en Deon … Nee, maar Deon is mos op pad om haar te kom haal. Vir die eerste keer besef sy dat sy Deon binnekort sal sien. Sou hy verander het? Sou hulle nog soos van ouds teenoor mekaar kan optree? Sy self het onteenseglik verander, en dan dink sy nie net aan haar voorkoms nie. Sy het ’n eie lewe gekry, selfvertroue opgebou.

Sy het koue vleis en ’n kraakvars graanbroodjie by ’n winkelkafee naby die bushalte gekoop. Nou berei sy ’n slaaitjie voor. Intussen word sy haar egter sterker bewus van die hoofpyn wat haar teister. Sy sluk twee hoofpynpille saam met ’n koppie tee en probeer daarna op haar bed ontspan. Sy moes ingesluimer het, want toe die telefoon skril, ruk sy verward orent. Sy kyk op haar horlosie; dis vyfuur.

Tillie …! Sy vlieg op en draf kaalvoet telefoon toe, bereid om die ergste te verneem. Haar hart klop met ’n swaar bonsing en haar stem is hees toe sy praat. Dan bewe sy van verligting as sy Deon se stem herken.

“Ek is reeds hier in die stad,” sê hy. Sy skrik vir die moeë erns in sy stem wat nou so tasbaar duidelik in haar ore opklink, in teenstelling met die frustrerende gesukkel van vroeër vandag, wat op eienaardige wyse soos ’n vorige jaar of eeu voel. “Matilda het net jou foonnommer vir my neergeskryf. Ek wou ook nie wag tot sy jou adres vind nie. Dog ek bel jou maar van ’n hokkie af as ek hier kom.”

“Maar vertel my eers …” begin sy dringend.

“Ek vertel jou alles binne ’n kwartier,” keer hy haar. “Beduie my eers die pad na jou toe?”

Dit voel sy is óp gewag voordat sy hom aan die oorkant van die straat sien stilhou. Sy het by die venster stelling ingeneem en net kort-kort vinnig iets gaan doen wat haar byval. Toe sy haar pa se bekende ouerige motor sien, steek sy haar hand uit om die gordyne verder oop te trek. Dan huiwer sy en bly roerloos staan om hom dop te hou. Sy herken hom onmiddellik aan die ruie, donker hare. As kinders het sy en Tillie hom altyd geterg wanneer die krullerige hare weer orent begin kom nadat hy dit glad agteroor probeer kam het. Sedertdien wou dit in geen ander styl pas nie, as agteroor.

Hoe kom dit dat hy nie terugdeins om in die stad te bestuur nie? wonder sy, onthou dan dat Deon nie iemand is wat met enigiets sukkel nie.

Hy klim uit, trek sy klere reg. ’n Sekonde of twee staar hulle mekaar bewegingloos oor die breedte van die straat aan.

Talmende tuiskoms

Подняться наверх