Читать книгу Liefie - Louisa du Toit - Страница 3
1
ОглавлениеBy die stalletjie langs die teerpad staan ’n motor. ’n Man en en vrou is besig om die produkte te bekyk: vars groente, vrugte, rou hoenders sowel as gebraaide hoenders. Laasgenoemde word die “Liefie Special” genoem deur Joos, die groot hoewel effens lomp geboude dorpseun wat elke dag hier kom help.
Reeds van ver af gewaar Laurie Hugo die motor en oorweeg dit om verby te steek huis toe. Maar sy suster Liefie verwag van hom om elke middag net hier aan te doen en te verneem hoe sake staan. Dit laat haar hande vry vir die middagete, waarvoor hulle almal huis toe kom. Dis na genoeg aan die dorp. Dis dan seker ook die minste wat hy kan doen, dink Laurie. Maar vanmiddag is hy juis tien minute laat en die etensuur vlieg gewoonlik soos ’n gedagte verby. Bowendien verdra hy dit nie om ’n geselsie met klante te moet aanknoop nie. Dit lyk so na manipulering dat hulle moet koop.
Na ’n kort innerlike stryd oorwin sy pligsgevoel en hy hou voor die stalletjie stil. Hy knik net vir die man en vrou en seil die oordekte ruimte binne. Hy is haastig, en ontstem ook. Hy het na rose gaan soek en dorings gevind. En nou nog tien minute laat.
“Alles reg, Joos?” vra hy.
Sy oë flits oral rond met meer rusteloosheid as opmerksaamheid. Hy kyk trouens sonder om veel waar te neem.
“Lig vir Liefie in die hoenders en tamaties is gedaan, Laurie,” sê Joos gewigtig. Liefie het hom eindelik geleer om haar nie “tannie” te noem nie. Joos is nie baie slim nie, maar vergoed ruimskoots daarvoor met sy goeie selfbeeld en sy vermoë om te kibbel.
Laurie stem in en knik weer ’n beleefde dog haastige groet voor hy in die kar spring.
Die vriendelike vrou kyk sy motor agterna tot waar dit stilhou voor die rondawelhuis teen die hoogtetjie. Die gebou lyk koel en rustig met sy glanswit, geronde mure en swart grasdak. Aan die voorkant is die tuin terrasgewys uitgelê. Aan albei sye, en agterom seker ook, dink sy, is vrugtebome en priële. En die groentebeddings en hoenderhokke, fantaseer sy op haar eentjie. ’n Mooi hoewe, so naby die dorp. Vooruitstrewende mense, alles is eksieperfeksie.
“Dit voel mos altyd vir my,” sê sy vir haar man, “of mense wat in ’n rondawelhuis woon so ’n bietjie bo ons vierkantiges is. Koel, selfversekerd en rustig.”
“Dit lol ook maar partykeer daar, mevrou,” lig Joos haar in. Die “mevrou” vir klante het Liefie hom ook geleer gekry. “En Liefie – sy wil nie hê ek moet vir haar ‘tannie’ sê nie – nou ja, sy moes die drie kinders alleen grootmaak, sê hulle.”
Die Drie. Dis mos die naam op die bordjie by die uitdraaipad, onthou die vrou. Ongewone naam, wat haar laat dink het dit verwys na die voorkant van die huis wat drie rondinge vertoon, maar waarskynlik het dit ’n meer persoonlike betekenis.
“Is Liefie se man dan dood?” pols sy vriendelik-nuuskierig terwyl sy die gebraaide hoender in ’n bruin kardoes met welgevalle in ontvangs neem.
“Haai nee, mevrou, sy is hulle suster. Sy sal laaik om ’n man te hê, sê hulle.”
“Hulle” is skynbaar die publieke opinie. Die egpaar wil hulle slap lag toe hulle wegry. “Maar weet jy,” sê die vrou, “ek het ’n idee dat ons groot stories misloop.”
Soos gewoonlik tussen een en twee, hou Laurie sommer by die voordeur stil. Daar is ’n boom of wat en dit bied genoeg skaduwee sonder dat dit die treffende voorkant van die huis verberg. Hy bestyg die hoë trappe na die voordeur wat met sy beskeie ronding van die ingangsportaal effens trustaan om die groter rondinge aan weerskante tot hulle reg te laat kom. By die voordeur is ’n lantern-tipe lamp volgens Liefie se keuse. ’n Fyn rankplant het mettertyd ’n voeler uitgestuur en daaromheen geslinger sodat, wanneer die lig saans aan is, ’n blaarpatroon hom op die klipstoep afteken.
Dis dinge wat by Laurie registreer sonder dat hy hom juis daarop toespits om iets raak te sien. Tog voel sy onstuimige gemoed effens gekalmeer deur die blote feit van sy tuiskoms, deur die koel huislikheid wat om hom vou soos ’n beskermende wit kleed in ’n woestyn. Saam daarmee groei sy begeerte om gou by Liefie te kom, om sy kwelling met haar te deel. Hy voel ’n innige behoefte aan haar ongeërgde deurdagtheid, haar onfeilbare insig. En hy wonder watter emosie sy sal kies om die nuus wat hy bring, te begroet. Sy kan so intens luister en waarneem, oorwegend frons … en in daardie paar oomblikke bepaal sy haar manier van optrede, wat sy met paslike stemming aankondig. Hy verstom hom steeds aan die kundigheid waarmee sy voorneme en daad by mekaar kan laat aansluit.
Hy stap deur na die eetkamer, een van die min vierkantige vertrekke in die huis en wat terselfdertyd die gesellige fokuspunt vir die huismense vorm. Daar vind hy vir Liefie by die gedekte tafel, besig om spierwit margrietjies in ’n smaraggroen bakkie te rangskik. Dit vorm so ’n koel en rustige prentjie, dat hy ’n oomblik lank vergeet van die hoogsomer buite. Hy vergeet ook hoe hy al geskimp het dat dit vir hom beter en rustiger sal wees om elke dag liewer net toebroodjies saam te vat, in plaas van die heen en weer gehaas tussen werk en huis.
Sy kyk op toe hy langs haar staan. “Ja, middag,” sê sy. “Jy’s tien minute laat.”
“Dit pas my uitstekend om die vlieg in jou salf te wees. Ek is in ’n slegte bui.”
“Dit kon ek al agterkom aan die manier waarop jy jou motordeur toeklap.”
Hy wikkel sy dasknoop los en plof neer op die houtrusbank met die geblomde bekleedsel. “Jou minister van sluikhandel vra hoenders en tamaties.”
“Ek het nogal ’n dosyn tamaties geslag vir vandag. Ek bedoel hoenders.”
“En onder my persoonlike toesig is daar gisteraand ’n ballasmandjie vol ryp hoenders gepluk. Ek meen tamaties.”
“Nou ja, om ernstig te raak.” Sy plaas die bakkie met blomme op die tafel en staan ’n tree terug. Alles wat sy doen, moet altyd ten beste geskied. As dit nie vir hierdie berekende presiesheid was nie, sou sy dalk lank gelede reeds die handdoek moes ingooi. “Voordat Berdine van die skool af inkom, kan jy my vertel waarom jy so omgekrap is. Jou stemming wandel voor jou uit.”
Hy huiwer, oorweeg. Sal hy haar eerste vertel van die vreemde meisie en hoe hy probeer vasstel het wie sy is? Of, en voorlopig is dit seker belangriker, hoe hy in hierdie proses op ’n ander spoor gekom het? “Ek het vasgestel dat Jack op die dorp is.” Hy praat gedemp, want Lettie is sekerlik iewers in die huis rond.
Sy frons onmiddellik en haar ligbruin oë vernou tot smal, agterdogtige splete.
“Jack Husselman?”
“Natuurlik. Watter ander Jack nou?”
“Op die dorp?”
“So het ek gesê.”
“Wat vertel jy my, Laurie?”
“Dat Jack Husselman op die dorp is.”
“Moet my tog nie altyd so letterlik opneem nie. Jy is nes Uilspieël. Kan jy nie dadelik insien hoeveel daar op die spel is nie?”
“Natuurlik kan ek. Dit maak my skoon siek om te dink dat die hele ou gemors van voor af moet begin. Waar is Lettie?” Hulle praat in vinnige, gedempte stemme.
“In die kamer. Een van daardies.”
“Weer ’n folterende hoofpyn. Is jy seker sy weet nie dalk reeds nie?”
“Van Jack?” Die vermoede groei duister in Liefie se oë. “Dis waar, sy het lank laas so ’n kwaai hoofpyn gehad … of voorgegee. Maar sy was tog nooit hierdie week uit die huis nie. Geen telefoonoproepe, niks.”
“Wat ’n skaduwee het sy nie geword nie. Berdine, dalk?”
“Nie onmoontlik nie. Dis logies dat hy deur die kind sal probeer nader kruip.”
“Ek draai sy nek om. Die kind het swaar genoeg gekry deur hom, om van Lettie nie te praat nie.”
“Kyk of sy al van die skoolbus af aankom,” beveel Liefie skielik onrustig.
Hy gaan venster toe en sien vir Berdine opgestap kom met die rylaan waarmee hy self pas aangery het. Sy loop met haar kop omlaag, terwyl dit lyk asof die swaar skooltas haar verder aarde toe rem. Moeë ou eseltjie, dink hy in skielike opstand. Net die string vlasblonde hare blink met waaghalsige lewe in die son. Die pa se hare. Jack s’n.
“Sien jy haar?” Liefie is besig om die vleis te sny.
“Ek sien haar,” antwoord hy. “Liefie, is jy seker dat Berdine genoeg liefde en aandag hier by ons kry?”
“Aandag wel. Sy word goed versorg en verkeer onder goeie toesig. Maar ek het ook my swakhede, Lau.” Sy kyk eerlik na hom op terwyl haar hand met die vleismes dreigend oor die skaapboud hang. Die kontras tussen haar houding en haar belydenis is so groot dat hy sou glimlag as die oomblik nie so ernstig was nie. “Ek is gewoond aan Berdine. Ek is haar toegeneë. Maar ek kan nooit heeltemal vergeet dat sy ook Jack se kind is nie. En die stomme Lettie …”
“Dié lê gedurig met hoofpyn terwyl haar kind haar nodig het,” sê hy effens hard.
“En jy, Laurie? Gee jy werklik vir die kind om?”
Die kind.
Sy word dikwels so genoem, en die eerste keer wonder hy werklik oor die invloed daarvan op haar moreel. Is dit die onderliggende herinnering aan die vreemde meisie van vanoggend wat hom so byna teer stem? Die wete dat sy ook veertien jaar was, ’n skooltas gedra het? Haar hare is egter nie vlasblond nie, alhoewel die boonste laag ligter van kleur is as die onderste. En bokant haar wenkbroue was ’n ontembare krul.
Asof van ver af hoor hy Liefie se stem agter hom. “Sjimmie gee werklik vir Berdine om. Het jy al opgelet? Daar is so ’n stille verstandhouding tussen die twee.”
“Wat help dit haar? Ons is besig om hom af te sterf. Of hy vir ons.”
Liefie staan nou langs hom. “Ons moet haar maar fyn dophou en sien of sy iets verklap. Oor haar pa, bedoel ek. Of dalk vertel sy ons self.”
“Jy lyk taamlik seker dat Jack al met haar in verbinding was.”
“Hy sal nie om dowe neute in die omgewing hou nie.”
“Jy praat van hom asof hy ’n roofdier is.”
“Wie weet?”
Laurie gaan om sy hande te was. Toe hy terugkom, kom Berdine juis binne. Soos afgespreek, hou hy haar fyn dop terwyl sy middagsê. Het sy enige persoonlike belange, hierdie enigste kind van sy suster Lettie? Het sy vriende? Hy behoort tog te weet. Hoekom is sy skielik vir hom so vreemd? Dieselfde bloed vloei tog deur hulle are.
“Wie is jou beste maat, Berdine?” vra hy onverwags.
Haar kop ruk op. Nou sper haar oë wel deeglik oop, en hy merk dat dit hemelblou is, soos Jack s’n. Jack se kind, deur en deur. Daar is niks van die fyn, donker Lettie in haar nie. Maar hoekom het die kind, wat ook nie meer kind is nie, geskrik?
Sy herwin gou haar selfbeheersing. “Die een dag die, die ander dag daardie,” antwoord sy argeloos. “Hoekom, oom Laurie?”
“Jy kuier nooit oor en weer nie, daarom vra ek maar.”
Die seldsame gemeensaamheid stem haar half agterdogtig. Sy kyk na Liefie om lig, maar die is knaend besig om hulle kos in die borde te skep. Liefie weet presies wat elkeen eet en hoeveel, en die metode spaar tyd. Vir alle praktiese doeleindes is sy totaal onbewus van die gesprek tussen haar broer en die veertienjarige dogter van haar suster.
Berdine bly half hulpeloos met die tas in haar hand staan, asof sy onseker is of die gesprek afgeloop is. Hoe maklik raak sy ontwrig, merk Laurie op. Dit lyk of sy enkele woorde meer kwaad as goed gedoen het.
Liefie merk die klein reddeloosheid sonder dat sy hoef op te kyk. “Gaan was jou hande,” sê sy, “en groet vir Moeder in die kamer.”
So het sy deur ’n kwarteeu heen probeer doen aan “die drie”: aan Laurie, Lettie en Sjimmie, en nou ook Berdine. In haar eie persoon het sy met ongelooflike welslae die eienskappe van die ontbrekende vader en moeder saamgetrek. Noudat Laurie self ’n volwassene is, kan hy hom soms so helder indink in die stryd wat sy moes gehad het met drie kinders op haar hande: dertien, tien en twee jaar onderskeidelik. Was dit nie vir haar nie, sou hulle na ’n kinderhuis moes gaan. Sy kon self, as sy selfsugtig wou wees, haar brood verdien en later getrou, eie kinders gehad het. Sy was al twintig en heel aantreklik. Dalk het sy ’n jeugliefde gehad wat sy versaak het, wie weet?
“Ek gaan vir Moeder groet, ja,” sê Berdine onverwags gemoedelik. “En as ek terugkom, vertel ek julle iets.”
Die kameraadskap in haar stem laat vir Laurie vermoed dat sy vriendelikheid tog ’n deurbraak iewers bewerkstellig het. Maar toe Liefie se oë na syne soek agter Berdine se verdwynende rug, deel hy skielik haar kwalik bedekte vrees: Jack. Berdine wil hulle kamma ligweg vertel dat sy haar pa op die dorp gesien het, dat hy baie vriendelik was, geld aan haar gegee, gevra het hoe dit met Mamma en tannie Liefie gaan en gevra het of hy kan kom tee drink. Net tee, niks meer nie …
“Hou jou dom,” fluister Liefie vir hom toe hulle by die tafel aansit en solank hulle servette oopsprei.
Berdine kom gou terug. “ ’n Brief van oom Sjimmie,” onthul sy en trek ’n ligpers koevert uit die ruim sak van haar skooltuniek.
Verligting stroom deur Laurie. “Sal Sjimmie nooit in sy lewe leer om dieselfde kleur koevert en skryfblok te gebruik nie?” wonder hy half hardop terwyl Liefie die koevert oopskeur en die liggeel velle skryfpapier vorendag bring. “Het hy nog nooit van wit gehoor nie?”
Toe dink Liefie skielik aan iets en draai eers die koevert om. Sy bekyk dit aandagtig. Berdine het eenkeer tydens ’n skoolpouse ’n brief van Sjimmie in die huishoudkundeklas oopgestoom. Toevallig was dit ’n brief waarin hy taamlik morbied gesels het oor die verlede en die wonde wat hy opgedoen het.
“Ek het nie,” weerlê Berdine nou Liefie se agterdog. “Dit werk in elk geval nie goed nie, dit maak rimpeltjies. Ek sal nooit weer probeer nie.”
Die ander twee lag vir haar byna naïewe eerlikheid. Liefie lees swygsaam uit die hoek van haar oog terwyl sy kort-kort omblaai en tussendeur eet.
Laurie kan nie teenoor homself getuig dat hy bars van nuuskierigheid oor die inhoud van die brief nie. Trouens, hy vind in die stiltetjie eerder ’n geleentheid om ongehinderd na te dink oor die ding wat in sy eie herinnering spook: die meisie van vanoggend.
A. Durandt, het daar gestaan op die tjek wat sy by die bank kom wissel het. Dit was ’n salaristjek van Bingle en Kie. Haar eerste, waarskynlik, want sy wou alles in kontant hê. Agterop het sy ook net dieselfde geteken: A. Durandt. Dit was ’n byna seunsagtige handskrif. Terwyl hy die stempel en geldnote hanteer, was hy meteens bewus van haar blik op sy hande. Liefie sê hy het mooi hande. Maar hy is Liefie se kleinboetie, vir wie sy soos ’n hanslam grootgemaak het. Sou ’n vreemde meisie soos A. Durandt ook kon dink dat hy mooi hande het? Of was sy bloot begaan dat hy nie die geld verkeerd moet aftel nie? Toe hy dit in die toonbankgleuf na haar toe aanstoot, kon hy ’n paar tellings kyk na die kraakwit kantvalletjies om haar polse. Haar naels was keurig gelak in ’n baie ligte appelkoos om te pas by die kleur van die blomme op haar rok. Gelukkig nie roofvoëllank nie, die naels, net effens uitgegroei en gerond.
“Dankie,” het sy gesê, en dit was ’n gulde geleentheid vir hom om ten volle op te kyk in haar gesig. Haar vel was skoon en goudkleurig van sonbrand, heeltemal sonder grimering. Sy is die eerste meisie in sy ervaringswêreld wat vir hom goed gelyk het sonder grimering. Die ander lyk meestal vaal daarsonder. Sterk gelaatstrekke; nie beeldskoon nie, maar boeiend. ’n Duikie op die onderlip.
Sou die gebrek aan grimering ’n nuwe mode van bestudeerde onbestudeerdheid wees? Seker tog nie. Lettie is versot op skoonheidsrubrieke en handel daarvolgens.
Eers toe die meisie weg is, het hy haar pen sien lê. ’n Goedkoop balpunt waarmee sy haar naam geteken het. Dis nou wel nie ’n welriekende kantsakdoekie of ’n verwelkte roos nie, maar darem tog ’n aanknopingspunt. Iets om vir haar te neem. Toe hy egter onmiddellik na eenuur by Bingle en Kie stilhou, was hulle voordeur reeds toe vir die middagreses.
Wat nou? Het hy gewonder. Die meeste werkende meisies gaan in die losieshuis van mevrou Nel tuis. Die Nellita. Hy het self al soms ’n meisie daar gaan uitneem. Hy neem elke nuwe meisie uit en verloor dan belangstelling, of ’n ander ou slaan sy hand in die as terwyl hy talm. Hy het daar stilgehou, afgespring en in die voorportaal gaan kyk na die naamlys wat mevrou Nel klokslag op datum hou.
Inderdaad! Daar was dit: Mej. Annette Durandt. Soveel geluk darem. Sou sy nou al tuis wees vir middagete, of is sy een van dié wat toebroodjies werk toe vat? Dit was op daardie oomblik dat hy met ’n skok die ander bekende naam, laer af, gewaar het: Mnr. Jack Husselman. Lettie se man, wie anders? Dis ’n ongewone kombinasie van naam en van. Hy was oombliklik hoogs ontsteld. Jack is hier rond, op die loer, en nie een van hulle het dit eers geweet nie. Dus probeer hy na soveel jaar weer nader sluip, skelmpies. Waarom kom hy nie openlik na Die Drie nie? Hy is natuurlik doodbang vir Liefie, en tereg ook. Hier is ’n saak vir Liefie se aandag, het Laurie haastig besluit. En selfs nie die gedagte aan Annette Durandt wou hom die risiko laat loop om in Jack vas te loop nie.
Met die goedkoop pen dus veilig in sy hempsak, het hy die aftog geblaas. Na Liefie toe. Sy sal die beste raad weet. Hy maak vir hom soms ’n abstrakte voorstelling van haar waar sy met ’n paar toutjies in die hand op die oewer van ’n woelige meer staan. Aan elke toutjie is ’n dobberende bootjie vas, en dié manipuleer sy met oorleg en fyn kundigheid. Word die een te ver weggevoer, bring sy dit saggies terug terwyl sy aan ’n ander terselfdertyd ’n bietjie meer speling gee. Hy, Sjimmie en Lettie. Een van die dae seker Berdine ook. Sy bereik mos nou die “moeilike jare”. Tot dusver was sy op geen manier veeleisend nie, behalwe as sy dit baie goed wegsteek.
Liefie het klaar gelees, en hou haar blind vir die smekende blikke van Berdine se kant af. Berdine is baie erg oor Sjimmie. Miskien omdat hy die warmste, menslikste van hulle almal is, en haar soos ’n volwassene behandel. Liefie is die bekwaamste, mees pligsgetroue, standvastigste. Lettie is die kwesbaarste. Hy, Laurie, die bedorwe brokkie en daarom seker die selfsugtigste. Hy is eerlik genoeg om te erken dat hy bekonkeld raak sodra iets nie na sy sin geskied nie.
Op die oomblik koester hy ’n onredelike wrewel jeens Lettie, omdat dit indirek sy is wat ’n ontmoeting met Annette Durandt verhinder het. Al weet sy seker van g’n sout of water of Jack Husselman wat in die dorp is nie. Hy soek ’n skyf vir sy wrewel, en durf niks met Liefie waag nie. Sy sal hom gou genoeg soos ’n gogga vaspen. Dus gehoorsaam hy toe sy die taak aan hom opdra om vir Lettie kos kamer toe te neem. Dan kan hy vir Lettie met haar ipekonders bietjie onder hande neem.
Getrou aan sy aard om nooit te inskiklik te wees nie, protesteer hy egter eers ietwat. “Hoekom vat jy dit nie maar gou self in nie, Liefie? ’n Neurotiese vrou op die hitte van die middag is ’n man se moses.”
Liefie berispe hom met haar oë en beduie na Berdine, aan wie sy uiteindelik Sjimmie se brief gegee het. Die meisie het haar egter totaal afgesluit van die geselskap en lê behoorlik op die gekrabbelde lyne.
“Ek het gedink sy kry dalk lus om saam met ons te kom eet as sy ons so gesellig hoor verkeer,” sê Liefie.
“Gesellig? Met julle vroumense wat Sjim se brief lees of julle lewens daarvan afhang?”
“Moenie jaloers wees nie, Lau,” sê Liefie streng. “Sibling rivalry op jou ouderdom, a nee a. Vat, hier’s Lettie se kos.”
Hy gehoorsaam kastig traag, vat die bord na Lettie se kamer en smyt die deur onseremonieel wyd oop na ’n ligte tikkloppie.
“Dit was onnodig,” frons Lettie waar sy roerloos op haar bed lê. Haar gordyne is dig toegetrek.
“Tussen ons gesê, ek dink self jy kon in die eetkamer gaan eet het.”
“Ek praat van die deur se oopsmyt. Jy’s alte geneig om die deure te boelie; motordeure inkluis.”
“Aangesien ’n mens nie susters met hoofpyne mag boelie nie. Dè, vat, ek moet al amper weer ry.”
“Ek het vir Liefie gesê ek wil niks eet nie.”
“Niemand stel belang in jou slanke figuurtjie nie. Ek dink dis juis die moeilikheid. Jy kort ’n bewonderaar.” Hy sit die skinkbord op die bedtafeltjie neer. Hy kry haar opeens bitter jammer, maar maak hom wys skoktaktiek is beter as sagte handjies.
“Vat terug, man. Ek sê jou ek wil nie eet nie. En maak toe die deur. Die lig skyn in my oë.”
“Jammer, lief sussie. Ek sal jou meer sielkundig benader. Skuif op, dan sit ek langs jou en vertel jou ’n verhaaltjie oor waar die eerste molle vandaan kom. Daar was eenkeer ’n mooi donker vroutjie wat …”
Sy probeer hom wegstoot, maar hy sit soos ’n rots.
“Hartlik bedank, dokter Kwak, vir jou sielkunde; maar dit doen ewe min aan my as jou teenwoordigheid, om nie te sê jou bakkies nie.”
Die onverdraagsaamheid in haar stem skok hom tot erns en nadenke. Hy staan op en kyk op haar af. “Daar was ’n tyd,” sê hy, “lank gelede, toe jy soos ’n fontein geborrel het.” Dan, na ’n rukkie: “Hallo, ek is jou kleinboetie, en jy vrek oor my, onthou jy nie?”
Sonder waarskuwing begin sy huil en druk haar hande voor haar oë.
“Waarom skei jy nie die vent nie?” Hy voel hoe sy drif opnuut oplaai. Hy trek ’n snesie uit die boks en druk dit tussen haar vingers in.
“Hy’t nog nooit daarom gevra nie,” sê sy tussen snikke deur.
“Liewe genade, jy kan hóm mos dagvaar. Sê liewer dat vroumense nie graag afsien van ruwe, buffelagtige mans nie.”
“Loop,” huil sy en sit nou regop. “Wat weet jy, wat wéét jy?”
“Ek dag jou kop is te seer om regop te kom.”
“Loop!”
“Goed, ek loop. En ek is seker jou kop is tien keer beter na die bietjie aksie.”
Toe hy wel loop met die bord versmaaide kos waaronder die geurige skaapboudskyfies en gebraaide aartappels, is dit met ’n reeds knaende skuldgevoel oor sy ruwe optrede, en andersyds met ’n vae vrees: Lettie weet. Van Jack. Of weet sy nie? Berdine? Om die een of ander rede het die kind netnou yslik geskrik toe hy na haar beste maat uitvra, ofskoon hy nie ’n verband kan sien nie.
Hy hoop Liefie kry vir Jack uitgerysmier voordat hy nuwe skade kan aanrig. Terug in die eetkamer, kom hy agter dat Liefie en Berdine in sy afwesigheid Sjimmie se brief bespreek het. Daar is borrels in die lug.
“Enigiets wat ek behoort te weet?” vra hy nydig omdat hy uitgesluit voel.
“Ja,” sê Liefie. “Jy was reg, ek sal volgende keer self Lettie se kos inneem wanneer jy in ’n slegte bui is. Moes julle nou op mekaar skreeu? Magtie, word groot.”
“Wat skryf Sjimmie?” gee hy mompelend oor.
“Hy kom huis toe.”
“Wat? Kuier?” wil hy ongelowig weet.
“Oom Sjimmie kom vir goed huis toe,” werp Berdine in.
“Dit wil ek eers sien,” weerlê hy. Eenkeer ’n swerwer, altyd ’n swerwer.
“Sjimmie is seker oud genoeg om te weet wat hy praat,” wys Liefie hom koel tereg. Laurie voel aan dat sy besig is om hom terug te betaal vir sy opstootjie met Lettie.
“Of sou hy nuwe wonde hê wat hy kom lek?” wonder hy onderlangs.
“Jy weet, Laurie, ek het ’n klein draak grootgemaak in jou.”
“Dankie. Verder het jy nog ’n siek kalfie grootgemaak en ’n vlieënde kraai.”
“Dalk betaal dit my om ’n dieretuin met julle op te sit as ons weer voltallig is.”
“Dan vra jy toegangsgeld en sluit die stalletjie. Joos kan ons daagliks voer; vrot tamaties en ‘Liefie Specials’ besmet met salmonella.”
“Jy sal enige strooi praat net om die laaste sê te hê. Ek stel voor dat jy jou ry kry. Dis tien voor twee.”
“Toe maar, ek is op pad. Ek wens jy wil die hoofete liewer in die aand maak, Liefie. Dis heerlik, maar … dis een groot gejaag.”
“Ek wil nie heel namiddag voor die stoof staan nie. As ek ook nie kyk of Berdine se skoolwerk gedoen is en al die bedelbriefies beantwoord nie, sal niemand dit doen nie. En haal gerus die balpuntpen uit jou hempsak. Dit sal ink vlek. Laas moes ek die sak aftorring en ’n stukkie wegvou en dit weer vasstik.”
“Hierdie pen,” sê hy en slaan liefkosend op sy hempsak, “is kosbaarder as duisend van sy soort. Daarom dra ek dit teen my hart. Dit behoort aan ’n beeldskone jong meisie wat dit by my op die toonbank vergeet het. Aspris, natuurlik.”
“Hoogs onwaarskynlik,” verklaar Liefie onbewoë. “ ’n Duur goue pen miskien nog, maar ek kan my geen swakker alibi vir ’n kennismaking voorstel as daai gemorsie nie.”
Die waarheid van Liefie se woorde tref hom die eerste keer. Die meisie sal hom sowaar agter sy rug uitlag. Hy moet liewer daarsonder gaan as hy haar opsoek. Hy kry ’n blink idee, maar kyk eers oor sy skouer. Berdine is weg kamer toe, waarskynlik om dele van Sjim se brief uit die kop te leer.
“Wanneer gaan jy vir Jack spreek?” vra hy gedemp vir Liefie.
“Vanmiddag nog, natuurlik. Tref die weerlig voor hy jou tref.”
Hy trek die pen saggies uit sy hempsak, vou dit ’n oomblik in sy hande toe en oorhandig dit dan aan haar. “Bewaar die knikkertjie. Jack is in die Nellita. Seker nie genoeg geld vir die hotel nie. En sy is ook daar. Annette Durandt.”
“Dan sal ek na vyf eers moet gaan. Sy werk tog seker? En dis te laat vir my.”
“Asseblief, Liefie. Ter wille van my?” Nou smeek hy, want hy weet sy vind hom dan onweerstaanbaar. “Gee haar die pen en kyk haar deur, sal jy?”
“Asof jy jou aan my opinie sal steur.”
“Ons doen dit tog, ons almal, al lyk dit nie altyd so nie. Dis vir my so belangrik om te weet wat jy dink.”
“Dankie vir ’n heuningstropie na al jou buierigheid. Ek sal dit doen, hoewel ek nie juis groot dinge sien nie. Jy is te sentimenteel oor haar om ernstig te wees.”
“Dis dalk net daar waar jou klein draak jou gaan verras,” sê hy opeens half ernstig.
Sy draai betyds weg sodat die onrus en besorgdheid in haar oë net ’n vermoede is.