Читать книгу Liefie - Louisa du Toit - Страница 4
2
ОглавлениеLiefie maak haar met sorg gereed vir die dubbele besoek wat sy haar op die hals gehaal het. Toe sy uit die bad kom, gaan sy eers in haar ligte kamerjas na Lettie toe. Lettie moet haar liewer nie sien as sy klaar aangetrek is nie. Netnou snap sy waarheen haar suster op pad is en kry lus om ook saam te gaan; wat onder normale omstandighede hoogs onwaarskynlik is, maar ’n mens weet nooit hoeveel Lettie dalk oor Jack weet nie.
Tot haar verbasing lê Lettie en lees. Berdine lê ook met ’n tydskrif by die voetenent van die enkelbed. “Is die kop soveel beter, Let?” vra Liefie versigtig.
“Ek sal nie juis so sê nie.” Lettie klink bra onwillig om beterskap te erken. “Maar Laurie het my so de vieste in gemaak vanmiddag dat ek moet lees om my te kalmeer.”
“Lê dan maar gerus nog,” praat Liefie die ontstemdheid dood. “Ek sal ’n rukkie uit die huis wees, maar is oor bietjie meer as ’n uur terug. Ons eet vanaand sommer brood met die oorskietboud. Moet ek nie die waaier vir jou bring nie?”
“Nee dankie, die geluid werk op my senuwees.”
“Ons sal een moet kry wat stiller werk,” besluit Liefie inskiklik.
Voordat sy uitstap, werp sy nog een blik op moeder en dogter. Ten spyte van Jack se dreigende nabyheid, voel sy tog ’n warm dankbaarheid dat hulle so gemaklik by haar in die huis teenwoordig is. Vyf jaar reeds. Voor dit was hulle vir kort tydjies hier, tot so lank as drie maande eenkeer, sodat Berdine die skool hier moes bywoon.
Tot Jack hulle dan ewe vriendelik en kruiperig kom terughaal, of Lettie uit haar eie besluit dat Jack se oortreding nie so erg was nie, dat sy net te fyngevoelig is. Toe bel Lettie een aand, huilerig terwyl sy hunkerend vra hoe dit op Die Drie gaan en wat hulle van Sjimmie hoor.
“Iewers is daar weer groot fout,” het Liefie vir Laurie gesê na afloop van die gesprek. “Ek is seker Jack is seker weer oorhoeks gesuip en dreig hulle met allerlei moorddadighede.”
“As hy liewer tot die daad wou oorgaan,” het Laurie sy mening gelug. “Dan kon Lettie ’n interdik teen hom kry. Nou bly dit ’n gedurige gedreig.”
Dit was inderdaad so dat Jack, wanneer hy smoordronk was, ’n duiwelse behae daarin geskep het om Lettie en die kind te dreig. Om ’n peits of rewolwer langs hom neer te sit en hulle dan vir hoe lank na sy pype te laat dans. Een aand het hy Lettie ure laat wakker sit, spelend met ’n dosie vuurhoutjies in sy hand. Sy was te bang om in te sluimer … sê nou hy steek die huis aan die brand? En wat kon Lettie doen? ’n Onskuldige Jack sou net aan ’n polisieman kon sê: “Die wat, die vuurhoutjies? Sy het daarmee ’n probleem? Wat is ’n roker sonder sy vuurhoutjies?”
Dis alles dinge wat Liefie stuk-stuk uit ’n onwillige Lettie moes trek wanneer sy op Die Drie “gekuier” het. Tot Liefie daardie aand, na Lettie se tranerige oproep, haar tassie gepak en dwarsdeur die nag gery het. Laurie moes maar dingetjies tuis regvat.
Liefie was reg in haar aanvoeling: Jack was die vorige aand saam met “vriende” en was erg toe hy tuiskom. Hy het die kombuistafel omgekeer en vir Lettie gedwing om binne-in te sit totdat hy self deur sy roes oorval is.
Toe Liefie teen voordag daar aankom, was dit om deur ’n moeë en verkreukelde Lettie binnegelaat te word. Jack het langs die omgekeerde tafel op die vloer lê en snork. Daar was ’n kussing onder sy kop en ’n ligte bokhaarkombers oor hom.
“Anders kry hy koud,” het Lettie gesê.
“Die vuilgoed kan verkluim wat my betref. Het jy al vannag geslaap, Let?”
“Ek het sommer by Berdine ingekruip. Maar snaaks genoeg, ek het jou motor se dreuning herken en jou voetstappe buite.”
“Waar is die tasse?” het Liefie gefluistervra toe hulle in Lettie se kamer kom waar die dubbelbed geen kreukel vertoon nie.
Wesenloos het Lettie haar help inpak en die slapende Berdine gewek. Deur dit alles heen het Jack sy slaap geslaap.
“Ek … ek wil darem ’n briefie vir hom los, net om te sê wanneer ons terugkom,” het Lettie gestamel voordat hulle gaan.
“Skryf vir hom dat julle vir goed weggaan.” Liefie het ’n pen en notaboekie uit haar handsak gepluk.
“Maar …”
“Skryf so.”
“As hy nugter is, is hy anders, Liefie. Regtig.”
“Dit lyk vir my jy is aan vernedering reeds so gewoond soos ’n vark aan modder. Kom, ek sê julle gaan vir goed huis toe.”
Sy het self van Die Drie af ’n kort brief aan Jack geskryf om te sê dat sy Lettie en Berdine vir altyd kom wegvat het, en dat sy hom nie sal aanraai om dit ooit weer naby hulle te waag nie. Van tyd tot tyd, tentatief, het sy die saak van egskeiding by Lettie aangeroer; om steeds afgewys te word met prewelinge van “te veel moeite” … “koste” … “later” … “sal maar sien”.
Tog het Lettie en Berdine mettertyd weer heg aan Die Drie se huishouding begin behoort. Dis slegs met vlae dat die ou melankolie weer op Lettie toesak, soos tydens die laaste paar dae. Sou Lettie weet? Maar hoe? Sy, Liefie, is dikwels by die hoenderhok, groentebeddings, stalletjie. Sy kan nie die telefoon voltyds oppas nie. Ook nie die pos nie, Berdine haal dit soms uit.
Lettie was selfs lank laas winkels toe, dalk bang vir die kleindorpse praatjies. As kontak nie intussen deur Berdine geskied het nie … Die meisiekind was vanmiddag hewig ontsteld oor ’n onbenullige aanmerking van Laurie.
Liefie sug en staan voor haar klerekas. Die salmpienk rok. Haar hare is op vyf en veertig nog bruin, sonder die beduidenis van ’n grys haar. Sy laat dit gereeld versorg en laat ook nooit die basiese grimering na nie; al is dit net vogroom, wangblosser en lipstif. Sy gaan nooit slaap voordat haar vel deeglik gereinig en verfris is nie, bekerm altyd haar vel teen son, kom nooit soggens uit die kamer sonder dat sy ten volle geklee is nie, en kontroleer haar gewig twee keer per week.
Toe haar ma enkele jare na haar pa oorlede is, het sy bewustelik vir haarself sekere reëls neergelê en met ingebore dissipline daaraan gehou. Eerstens sou sy die drie bymekaarhou: vir Sjimmie, Lettie en die tweejarige Laurie. Tweedens sou sy hulle sonder komplekse en minderwaardigheid opvoed; hulle sou leer om spontaan te wees, menswaardig. Derdens moes hulle hulle nooit vir haar skaam nie; sy sou weier om afgesloof en gedemoraliseer te raak.
Hulle het hier op die plot aangebly waarheen hulle kort voor hulle ma se dood verhuis het. Die opstal was nie watwonders nie. Eers jare later, na sy vakopleiding, het Sjimmie die rondawelhuis gebou. Dit was sy eerste groterige onderneming en hy het dit met vuur en ywerige liefde aangepak. Maar dikwels nog, as sy kyk na die ou opstal wat nou vir pakdoeleindes gebruik word, kry Liefie ’n dik knop in die keel. Daar is dit dat sy met die rug teen die muur geveg het. Met haar ma se dood het haar pa se pensioen verval. Liefie het hulp van liefdadigheidsorganisasies geweier en die stalletjie aangepak. Dit was uit die staanspoor ’n sukses. In die begin het sy nog bak- en naaldwerk onderneem, maar later was dit nie meer nodig nie, behalwe dié wat sy teen die grootpad kon verkoop. En daar was darem ’n paar klein annuïteitspolisse van haar ma wat sy wyslik aan die kinders bemaak het. Dit het die bou van die huis voorsien.
Maar beter as alles onthou Liefie die genoegdoening en die vreugdevolle wete dat sy besig is om te slaag, kop bo water te kry. Daar het tydjies gekom om te ontspan saam met die drie. Hulle het steeds groter geword en kon haar baie help, ofskoon sy hulle nooit wou oorlaai nie. Sy het hulle bederf: met eetgoedjies, gesellige uurtjies, met partytjies.
Ten spyte van alles het sy hulle nie van pyn kon bewaar nie. Sjimmie het seergekry, en Lettie. En sy vrees vir Laurie ook; die nuwe belangstelling wat hy vanmiddag aan haar geopenbaar het. Dis intens genoeg om hom kwesbaar te maak.
Miskien is dit daaraan toe te skryf dat sy hulle in alle opsigte sinvol in die gesin leer leef het, maar nie buitentoe nie. Deurdat sy hulle wou beskerm, het sy eintlik laer getrek en hulle daardeur juis blootgestel. Hulle is so bitterlik geneig om verhoudinge verkeerd aan te pak, te laat strand. Sy het hulle nie sterk bene gegee vir die samelewing nie.
Maar juis daarom vind hulle in haar des te meer ’n steunpilaar. Soos Sjimmie, wat wil terugkom. Toe sy hom destyds wegstuur, het sy dit gedoen met die wete dat hy sal terugkom, vir meer as net ’n vakansie.
’n Vlaag blydskap vaar deur haar toe sy daaraan dink dat hy werklik terugkom. Sy probeer haar indink hoe dit sal wees om weer sy kleinerige, donker, vooroor gestalte oral in die huis te hê, die hande wat vatgereed langs die sye hang. Dis as gevolg van hierdie houding dat hy op hoërskool die bynaam Sjimpie gekry het; sy het bitter ongelukkig daaroor gevoel, maar niks laat blyk nie. Toe selfs Lettie en Laurie hom in die huis so begin aanspreek, het sy dit begin vervorm na Sjimmie, wat uiteindelik bly vassteek het. Aan sy regte naam, Johannes, dink niemand bewustelik meer nie.
Liefie is eindelik tevrede met haar voorkoms en voer ’n paar mannekynagtige bewegings voor die lang spieël uit. Só sal sy lyk as sy vir Jack regsien; uitdagend. En só as sy die meisietjie te woord staan wat so by Laurie spook. Ervare.
Laurie het eenkeer gesê dat geen spieël reg aan haar kan laat geskied nie, omdat dit nooit haar beeld in volle aksie vertoon nie. Sy kyk nou na die onbuigsaamheid in die kykers, ofskoon sy nie dink dis hard en ongenadig nie; die sterk, dwingende erns wat uit haar hele gesig spreek, en seker soveel meer as sy in gesprek is. Sy het vroeg in haar lewe geleer om intens waar te neem, om absoluut niks aan haar aandag te laat ontsnap nie. En terselfdertyd om met ewe veel oorgawe op te tree, reg te laat geskied aan die noodsaaklike daad. Kort gestel: sy weet wat sy werd is.
Sy hou voor die Nellita stil.
Dis presies vyfuur. Te vroeg vir die meisie, sy sal eers vir Jack konfronteer. Sy stoot haar skouers ’n aks terug en lig haar ken dienooreenkomstig. Jack is in kamer 10, stel sy vas. Sy loop met die betraliede sementstoep langs en oomblikke later klop sy aan die bruin buitedeur met die uitgediende voorkoms: sondroë panele en lendelam knop. Omdat sy haar verbeel dat ’n manstem antwoord, draai sy die knop en gaan binne.
Toe Jack Husselman skielik vir Liefie Hugo in sy deur sien staan, forser, gedugter as wat hy haar kan onthou, spring hy soos ’n skoolseun orent. Al die noukeurige sinsnedes wat hy voorberei het, die raak argumente, begin stadig warrel en sak draaiend af tot ’n klipharde, vormlose hopie onder in sy maag.
Om die waarheid te sê, hy was ten tyde van haar binnekoms besig om sekere puntjies met uitgemete presisie op skrif te stel: as Liefie dit vir hom sê, sal hy dat antwoord en onmiddellik na so-en-so oorgaan voordat sy ’n verdere woord kan inkry. Hy was naamlik van plan om vanaand by Die Drie op te daag, en hy wou sy verdediging goed oefen.
Nou staan hy reddeloos. Hy weet aanval is die beste manier van verdediging, maar Liefie lyk nie op die oomblik baie weerloos nie. Die raadsaamste is om in haar goeie boekies te probeer kom. Hy trek sy lippe oop in ’n breë glimlag.
“Liefie!” roep hy uit en stap nader om haar op die wang te soen. Geen mondsoene vir haar, in elk geval nie van hom nie. Voordat hy nog by haar kom, ontdek hy egter dat die klimaat nie eers vir ’n wangpik reg is nie. Hy steek dus sy hand uit. Liefie ignoreer dit ook. “Sit!” roep hy uit met oordrewe gasvryheid en wys na die enkele regop stoel.
“Ek wil nie sit nie, dankie.”
“Mens kan tog nie so staan-staan gesels nie.” Uit pure radeloosheid stof hy die houtstoel met sy sakdoek af.
“Ek het nie kom gesels nie,” ontmoedig sy hom weer sonder blik of bloos.
“Wel, dis nou vir jou toevallig dat ons mekaar hier raakloop,” spartel hy rond om ’n gesprekkie.
“Om die waarheid te sê, het ek jou kom opsoek.”
“Nog meer toevallig dan, want ek was juis op pad na Die Drie.”
Haar neus kreukel baie effens terwyl sy die leuen uitpluis: hy het naamlik ’n kortbroek aan en is kaalvoet. Vlugtig deursoek haar oë die vertrek. Sy ruik of sien geen drank nie; maar dan, mevrou Nel is baie streng daarop.
“Wat wou jy by Die Drie kom doen?”
“Sommer … ’n bietjie kuier,” opper hy lamlendig.
Haar blik sweef nog steeds deur die kleurlose vertrek en strand onverwags op ’n foto van Lettie en Berdine op die tafeltjie. Dit ontwapen haar byna, so skielik was dit.
Sy hoef nie na hom te kyk om elke wesenlike trekkie van sy voorkoms te onthou nie: die lang, amper sluipende figuur, die vlasblonde kuif en ewe wit, sagte snor. En tussen die twee, die helderblou oë en lang, skerp, reguit neus. Maklik om hom te beskryf; en ewe maklik om deur hom te sien. Maar tog bly daar ’n skrynerige plekkie in haar ter wille van die foto waarop Berdine nog maar nege jaar oud is. Vreemd, verskriklik vreemd, dat hy sy dogter vyf jaar laas gesien het terwyl sy ’n ewebeeld van hom is.
Sy veg teen die skraapseltjie weekheid, dink doelbewus aan die ander sy, aan Jack Husselman op sy onaanneemlikste. Mettertyd gewaar sy weer die veilige wrewel in haar hart. “Op Die Drie heers nog dieselfde toestande as vyf jaar gelede, Jack. Ek is nog in beheer daar en ek huldig nog dieselfde mening omtrent jou.”
“Wag nou, Liefie. Vyf jaar is ’n lang tyd en …”
“ ’n Leeftyd is te kort om my van opinie te laat verander. Ek belet jou ten strengste om …”
“Genade tog, Liefie!” Hy moet sy stem verhef om haar dood te praat. “Luister tog net na wat ek te sê het.” Sy onsekerheid van so pas maak plek vir ’n drang om sy sê te sê, teen watter prys ook al. Hy dink aan die vyf eensame jare wat verby is, sy aanvanklike oorgawe aan die ellende, daarna sy pogings om hom reg te ruk, verlore geluk terug te wen.
Wat sy koms hierheen betref, moes hy onbetaalde verlof neem. Sy volle kwota verlof en siekteverlof is reeds ingesluk deur die tyd van terapie wat hy ondergaan het. Hy sit al drie dae in hierdie dooilike losieshuis en probeer moed bymekaarskraap. Sal hy hom nou sonder slag of stoot deur Liefie laat rondsmyt? ’n Koppige verset styg in hom op. Sy het nog altyd almal se lewe regeer. Sy’s kapabel en sluit vir Lettie toe, en vir Berdine ook. Hy het sy dogter nou reeds twee keer verby die losieshuis sien stap tydens skoolpouses, om haar dan weer te sien terugkom met posstukke in haar hand. Om haar te sien, het hom diep bewoë gemaak. Sy ou dogtertjie, vir wie hy nie altyd gelukkig gemaak het nie. Sy liefde en aandag het sy later met voorbehoud aangeneem, as gevolg van die swakker, negatiewe oomblikke in sy lewe.
Hy was bang om uit sy kamer te storm na haar toe, bang dat sy van hom af sal wegvlug of, erger nog, dat sy sal maak of sy hom nie ken nie. Sy was maar nege toe hulle van hom af weg is. Lank genoeg vir ’n kloof om breed en volkome te vorm. Daarom het hy maar op die loer gebly soos ’n uitgehongerde roofier wat onseker voel oor die reaksie van sy prooi. Wat het hulle nie intussen alles by Berdine ingeskerp nie? Liefie, veral. Dat hy boos is, ongewens, en vermy moet word? Hy kyk na haar ongenaakbare gesig voor hom. Sy was nog steeds by magte om hom heen en weer te slinger tussen onsekerheid en verset. ’n Nukkerige, versigtige kind, dis wat hy in haar aanwesigheid is.
“Ek … Liefie, jy moet darem weet. Ek drink nie meer nie. Ek is ’n ander mens.”
“Verbasend. Of miskien tog nie; was daar nie ’n tyd toe jy elke week opgehou het met drink nie?”
“Ek het behandeling ontvang. Agt weke lank. Ek het ses maande laas gedrink. Nou drink ek ses glase melk per dag, weet jy.”
“Dié wat jou snor so wit is,” sê sy voordat sy haar kan keer. Sy besef dat sy nou darem gemeen was, en dit veroorsaak ’n prikkie van die gewete. Sy versag effens. “Gaan nou terug, Jack, en kom oor ses maande weer. As jy dan nog nie weer begin drink het nie, kan ons gesels.”
“Maar ek sal nie, Liefie – ek bedoel, weer begin drink nie. Waarom sal ek nou, as ek weet dit doen my nie goed nie?”
“Dis ’n baie duur proefneming, Jack; en ek weier dat Lettie en Berdine die konyne is. Kom terug as dit ’n feit is dat jy nooit weer sal drink nie. Bring ’n beëdigde verklaring saam, indien moontlik.”
“Maar, Liefie …”
Sy waai sy protes met haar hand weg, amper asof dit ’n vlieg is. “Kom terug oor ses maande, Jack.” Daar bestaan weinig twyfel by haar dat sy soberheid dan nie meer sal voortduur nie. En dis nou eenmaal so dat iets in hom drasties bots met drank. Hy ondergaan ’n totale verandering van persoonlikheid sodra hy in die bottel kyk. Andersins is hy nie te onaardig nie, erken sy met ’n mate van onwilligheid.
Nee, besluit sy dan weer met harde onbuigsaamheid. Lettie en Berdine behoort aan haar, Laurie, Sjimmie en Die Drie. Nie aan hierdie halm in die wind nie.
“Jy kan my nie hierdie dorp belet nie, Liefie.”
“Maar ek belet jou Die Drie. En ek belet jou enige toenadering tot Lettie of Berdine.”
“Jy’t nie die reg om …”
“Ek het weer en weer die reg. Ek kan in die hof getuig, as dit moet, in watter toestand jy hulle twee gehad het. En van hof gepraat, ek dink dit raak tyd vir ’n egskeiding.”
Sy wit winkbroue skiet op. “Maar ek wil nie skei nie! En jy’t nou net gesê ek kan oor ses maande weer kom,” herinner hy haar wrokkig.
“As jy kan bewys dat jy niks gedrink het nie. En hoe sal jy dit doen?”
“Hoe de duiwel, vra ek jou. Ek kan net my woord gee …”
“Dié is nie genoeg nie.”
“Luister, Liefie.” Hy smeek nou. “Kom ons maak anders. Kom jy gee Lettie en Berdine vir my vir ses maande. Dan kyk ons …”
“Jammer, Jack. Ek het jou reeds gesê: dis ’n te duur proefneming om met sulke kosbare mensemateriaal uit te voer.”
“Wat kan jy presies doen om te belet dat ek eenvoudig my vrou en kind gaan vat?”
“Ek is Lettie se ouers, Jack. Ek weet beter as sy wat goed is vir haar. Probeer jy, dan sal jy sien wat ek kan doen. Ek stuit vir geen duiwel nie.”
“Ek ook nie.” Hy probeer dit net so fier soos sy sê, maar kan nie help om te voel hoe hy innerlik verkrummel voor haar blik nie.
“Jy en wie nog?” spot sy.
“Jy moet my darem nie beledig nie, Liefie. Ek sal ’n verkeerde perd opklim.”
“Onthou net, jy is hervorm. Tot siens, Jack. Voorspoedige reis terug.” Sy vertrek sonder ’n groet. Sy stel haar voor hoe hy haar agternastaar, saamgetrokke wit wenkbroue bo die glurende blou oë.
Op die stoep draai sy om. “Kan jy my sê in watter kamer ene juffrou Annette Durandt is?” vra sy asof hulle geen verskil van watter aard ook al gehad het nie.
“Dit traak my nie,” sê hy nors.
“Hoe jammer. Ek moet haar spreek. Dringend.”
Sy laat hom net daar staan en stap die paar treë stoeplangs na kamer 15. Sy weet reeds dat dit die meisie se kamer is.
Haar doel met die enkele woorde het sy egter bereik. Terwyl Jack nog in sy oop deur staan, begin hy dink. Wat sal nou skielik so dringend wees? Sy weet nie eers mooi in watter kamer die meisie is nie. Sy soek natuurlik iemand wat as speurder kan optree, sy bewegings kan dophou en rapporteer. Liefie doen mos geen halwe werk nie, vervlaks.
Hy klap die deur agter hom toe.
Liefie hoor dit waar sy voor die toe deur van kamer 15 wag en die albasterharde blik in haar bruin kykers versag. Sy glimlag effens. Sy kan sweer dat hy nou hunker na ’n drankie. Dit moes vir hom veel gekos het om vir behandeling te gaan. Maar hy het dit gedoen as ’n middel tot ’n doel. Sodra hy vir Lettie terug het, is die weerstand teen die drank nie meer nodig nie. Nee, dankie, daarvoor sal sy, Liefie Hugo, sorg.
Die deur waaraan sy pas geklop het, word oopgemaak. Die jong meisie voor haar is kaalvoet. ’n Oomblik wil Liefie haar verbeel dat sy ’n vasgekeerdheid in die grysblou kykers gewaar. Intuïtief voel sy aan dat die meisie terugdeins van vreemdelinge.
Binne ’n paar oomblikke neem Liefie elke besonderheid in haar voorkoms waar. Haar hoofindruk is die van ’n stil, sterk gesig met ’n gesonde gelaatskleur. Ligte, halflang hare. Sy is effens langer as Liefie, en baie slank.
“Goeiemiddag,” sê sy.
“Goeiemiddag,” antwoord Liefie. “Juffrou Durandt?”
“Dis reg. Wil u binnekom?” Daar lui nie klokkies in haar stem nie en daar lig nie liggies in haar oë nie. Sy beweeg soos sy lyk en praat, stil en onopvallend. Eers nadat sy beweeg het, tref dit ’n mens dat die beweging afgerond en ritmies was. ’n Skugter seilskippie op stil water, besluit Liefie.
Dat Laurie oor haar gaande kon raak, is bykans amusant. Hy wat so ’n ekspressiewe geaardheid het, wie se gemoedstoestand binne oomblikke kan omswaai. Dis dan seker die wet van teenoorgesteldes, besluit sy toe sy na binne stap. Of sommer een van Laurie se vlae van belangstelling wat ewe gou sal oorwaai as wat dit posgevat het. Hy is reeds sewe en twintig sonder dat hy nog ooit ’n blywende verhouding aangeknoop het. Sy het in stilte maar gehoop dat hy later heeltemal immuun sou raak, soos Sjimmie. Al het laasgenoemde dan langs ’n moeilike weg daarby uitgekom.
“Ek is Hugo,” sê Liefie. “Almal noem my Liefie.”
“Bly te kenne, mevrou Hugo,” sê die meisie ietwat versigtig.
“As jy dan nie my wenk wil neem nie, noem my juffrou,” reageer Liefie effens skerp.
Die meisie byt verleë haar lip. “Dan liewer Liefie,” stem sy in. Waarskynlik die voorsitster van die een of ander vereniging, besluit sy in stilte. Die vrou lyk so bekwaam en selfversekerd. “My naam is Annette, Liefie.”
“Gaaf, Annette. As jy hoor vir hoe ’n belaglike sakie ek hier is, is die voorstellery amper oorbodig.”
“Toe maar,” sê Annette by gebrek aan ’n beter antwoord. “Wil jy nie sit nie?”
“Dankie,” sê Liefie en gaan sit op ’n gestoffeerde stoeltjie met ’n ligte, besondere ontwerp. “Jou eie meubels?” Sy moet erken dat die kamer baie aantrekliker as Jack s’n daar uitsien. Die divan het ’n geplooide oortreksel en teen die venster is ’n staander met ruie potplante. Die groen loof staan doodstil teen die lig van die venster, beskeie en swygsaam soos die meisie wat hulle daar geplaas het.
“Ja,” sê Annette. “Ek sal seker binnekort oortrek na ’n huis, sodra ek een kry.”
“Jy gaan tog nie alleen daar intrek nie?” Liefie voel nogal besorg.
Die meisie se digte wimpers, goudkleurig soos haar vel, versluier ’n oomblik haar oë. “Sodra ek ’n huis kry, of woonstel, kom my ma ook.” Sy klink meteens geslote.
Liefie besluit wyslik om nie verder hieroor uit te vra nie. “Ek ken die dorp so goed,” sê sy net. “As ek hoor van ’n plek, sal ek jou laat weet.”
“Goed, dankie.” Die dank is egter sonder vuur. “Verskoon tog my kaal voete, Liefie. Toe ek van die werk af kom, het ek eerste my skoene uitgeskop.”
“Dis gesond. Hoor hier, Annette. My broer het my eintlik na jou toe gestuur.”
Die meisie raak effens verward, bykans onvriendelik. “Sê vir hom ek ontvang nie boodskappe nie.”
Liefie glimlag effens neerbuigend. Sy het haar woorde opsetlik swak gekies en staan nou ’n goeie kans om die meisie ’n gek te laat voel. “Jy verstaan my verkeerd. Ek moes iemand hier kom opsoek, toe vra my boetie ek moet hierdie pen vir jou gee.”
Sy haal ’n pen wat aan haarself behoort, uit haar handsak. Annette bekyk dit op ’n veilige afstand.
“Jy het dit glo vanoggend in die bank laat lê nadat jy ’n tjek by hom gewissel het.”
“O.” Annette bloos. Sy onthou nou die ou. Sy het nog gedink dat hy seker buierig is toe hy haar so van onder sy wenkbroue bekyk. “Ek het nie eers agtergekom dat ek dit verloor het nie. Ek ken in elk geval nie hierdie een nie. Moet ’n ander kliënt s’n wees.”
“Ag, nou ja, vat dit tog, ek het belowe. Hy is maar so ongeërg.”
Liefie klop haar innerlik op die skouer. Sy het daarin geslaag om Annette Durandt te laat dink dat sy geen besondere indruk op Laurie gemaak het nie. As Jack nou na wense wil reageer en aandag skenk aan die meisie, gebeur daar dalk meer as waarop sy durf hoop. Dis ’n gedagte wat skielik by haar opkom. Miskien kan sy die saak ’n verdere stootjie gee. Jack is glad nie te oud vir hierdie enetjie nie.
“Ek moet gaan,” sê sy en staan op. “Ek is bly ons het ontmoet, al was die pen ’n fout. Ek het die ander persoon darem tuis gevind, Jack Husselman in kamer 10.”
“Die witkop? Ek het hom al gesien.”
“Ja. Hy maak ’n moeilike tydjie deur. Groet hom gerus maar vriendelik as jy hom sien. Soos ek hom ken, sal so iets al klaar baie vir hom beteken.” Sy stel dit so terloops en ongeërg dat Annette dit heel duidelik nie snaaks vind nie.
“Tot siens, Annette. Kom drink gerus ’n koppie tee as jy behoefte voel aan huislikheid.”
“Ek weet nie eers waar jy woon nie.”
“Ag, natuurlik. Die rondawelhuis net hier buite die dorp.”
“By die stalletjie? Dan weet ek nou presies. Ek het een aand saam met mevrou Nel gegaan om groente te koop.”
“Nou ja, baie welkom daar, hoor.”
Diep in haar hart weet Liefie dat die uitnodiging nie aangeneem sal word nie. Die meisie het te ’n groot gek gevoel na haar haastige gevolgtrekking oor die “boetie” se motiewe. En as Laurie wel hierna toenadering soek, sal sy saak uit die staanspoor sleg staan. Broers wat agter susters skuil, is nie gewild nie.
Liefie voel tevrede toe sy ’n afskeid knik. Sy het haar kaarte goed gespeel. Sy dink aan Lettie. Lettie is kwesbaar. Sy was ’n sieklike kind en het baie getreur oor haar ouers. Moeisaam het sy vir Lettie opgebou tot ’n fyn, opgeruimde mensie. Toe kom Jack, en die onrus. Jack is nie sterk genoeg nie. Lettie het ’n sterk skouer nodig, al is dit dan ’n susterlike een. Lettie wou nie kopgee nie. Sy is getroud, en dit was ’n flater. Liefie het dit van ver af sien aankom. Sy moes vaster gestaan het, het sy haar verwyt. Sy moes Lettie desnoods met dwang weggehou het uit hierdie huwelik. Maar dit was nog nie te laat nie. Sy het nie gerus voordat sy Lettie veilig terug onder haar vlerk gehad het nie.
En Sjimmie? Sy het onmiddellik die implikasie van sy verhouding met Nela Bresler begryp. Nela was baie rojaal met haar gunsies teenoor mans. Sy was hopeloos te los vir Sjimmie, wat so goedertrou is. Met fyn oorleg het Liefie te werk gegaan, vir Sjimmie weggestuur vir sy vakopleiding. En toe, direk na sy terugkeer, net toe Liefie haar behoedsaamheid begin verslap, beland hy in die groot gemors. Nou nog ly hy daaronder.
Weer het Liefie haar verwyt. Sy moes dit kon verhoed het. Sy moes nog beter en nog fyner beplan het.
En nou Laurie en hierdie meisie …
Sy byt op haar onderlip. Die meisie is ongelukkig. Sy voel dit aan. Laurie moenie aan ’n boel komplekse verslaaf raak nie. Hy het stabiliteit nodig, diep, innerlike standvastigheid. Haar waarneming is skerp genoeg om te besef dat die oënskynlike kalmte van die meisie, wat haar in die begin getref het, blote skyn is. Sy wil nie vir Laurie ook sien ly nie. Hy het ’n veilige, seker bestaan. Waarom dit wegsmyt? Soos Sjimmie en Lettie, sal hy terug moet vlug.
Na haar toe.
Sy weier om terug te kyk toe sy van die Nellita af wegry. Dis gedaan, verby, probeer sy haar oortuig. Sy het weer eens in die beste belang van haar geliefdes opgetree.
Twee persone kyk haar deur hulle oop vensters agterna.
Hierdie keer gaan hy hom nie deur haar laat hiet en gebied nie, besluit Jack Husselman. Wie is sy om hom van nog ’n kans te berowe? Hy moet sy baas laat weet dat hy nog langer bly. Sy simpatieke baas weet alles. Hy’t hom in sy vertroue geneem; deur al die jare heen kon hy op hierdie man vertrou. Hy’t hom nooit uitgeskop nie.
Annette Durandt se gedagtes is minder heftig. Sy wonder eintlik heel terloops net hoe Hugo geweet het waar sy tuisgaan. Sonder dat sy juis daarvan bewus is, rol sy die vreemde pen om en om tussen haar duim en wysvinger.