Читать книгу Die uurglas wentel - Louisa du Toit - Страница 3
1
ОглавлениеDie rit eindig in gietende reën.
Flip Rabie voel ietwat in die noute. Beth sal hom sekerlik nie omhels omdat hy haar papdronk broer by die huis aanbring nie. Sedert Daardie Keer (in sy gedagtes gee hy dit hoofletters) wil Beth niks van hom weet nie. Maar hoe kon hy vir Hannes toelaat om terug te probeer bestuur? Die man sou homself verongeluk het.
Ten spyte van die reën wat in flitsende slierte verby die motorligte grond toe skeer, is dit bedompig binne die voertuig. Die reuk van drank en menseliggaam het nog nooit goed gekombineer nie, dink Flip met verborge walging. Een keer in die keelgat af, word die veel besonge aroma maklik ’n goorheid.
“Hoor hier,” sê Hannes terwyl hy hom na die bestuurder toe draai, “ek wil net sê, ek issie dronk ’ie, hoor.” Sy tong sleep by die s’e. “Ek het net ’n paar biere gehad.”
“Ja-nee, ek verstaan, ou Hannes. Maar dit moet jy self vir jou twee susters vertel.” Hy weet nie bra hoe om in hierdie situasie op te tree nie; daarom klink sy stem in sy eie ore na ’n mengsel van beskerming en neerbuigendheid.
Die ringmuur wat dringend afgewit moet word, doem op. Daaragter lê die dubbelverdieping met sy verouderde leiklip-dakteëls. In die dag lyk dit op ’n afstand soos ’n loodkleur plaasdam, maar nou is dit net ’n skemerige vlak. “Maar ons is dan nou by my huis,” merk Hannes verwonderd op en leun vooroor asof hy só beter sal kan sien. Sy blik probeer priem deur die beneweling wat van binne en buite kom.
“Ja. Ek het jou huis toe gebring, ou maat. Jou susters en jou seun het jou nodig.”
Dis duidelik dat Hannes sy gedagtes inspan om iets belangriks te probeer onthou. Sy goeie brein, gewoond aan konsentrasie, beur moeisaam teen die belemmering. Dan vloek hy onderdruk. “Flip, jong, my kar, my kar.”
“Dit staan veilig by my huis. Jy kan dit later kry, ou Hannes. Jy kan môre maar saam met Camelia dorp toe ry.”
Fronsend probeer Hannes hierdie inligting verwerk en in sy brein liasseer. Intussen hou Flip stil op die ryvlak, teenaan een van die toe garagedeure. Hy sal self moet natreën om vir Hannes in die huis te kry. En daarby sal hy heel moontlik ’n afjak van Beth moet sluk. Sy opwinding is egter sterker as sy teensin. Die vorige keer wat hy haar gesien het, was by die kerkbasaar, waar sy tussen ’n ry ander vroue by die pannekoektafel gehelp het. Sy was gehul in ’n geur van gasstofie, kaneel en warm olie, en haar wange was gloeiend. Toe hy by haar kom staan, eintlik om te groet, het sy hom met die kop eenkant toe beduie. “Bestellings daar anderkant, meneer Rabie.” Hy moes onthou dat hulle lank reeds “Flip” en “Beth” vir mekaar was. Almal weet ook dat hulle so te sê ’n paartjie was. Hulle sou opnuut wonder wat hy presies gesondig het om so uit haar lewe en selfs haar teenwoordigheid verban te word.
Hy moes op sy tande byt om nie iets terug te sê nie. Hy het hom maar ongeërg probeer voordoen en haar aanwysings gevolg. Maar genaakbaarheid sal hy nie maklik weer van haar verwag nie. Die grief wat sy teenoor hom koester, kan hy nie met sy kaal hande wegvee, of met enige oorreding tot sy beskikking nie. Besef sy hoe erg dit hom raak? En ook haar geliefdes? Want so ’n grief is oordraagbaar. Vat nou vir Frankie Moorrees, Hannes se seun; ’n pragtige seun, maar uiters gevoelig, vatbaar vir atmosfeer en verhoudinge. Het Beth iets laat glip oor hom, Flip Rabie? Oor Daardie Keer?
Wat Camelia betref, vir haar kon Flip nog nooit peil nie. Selfs toe sy nog op hoërskool was, was dit asof sy hom vermy. Sy het na skool op Lieberville gebly, in die groot huis saam met Beth. Twee mooi susters, met Hannes getroud en elders. Almal weet dat Camelia die regterhand is van Dorfling, die fotograaf by wie sy werk. Sommiges, veral dié met kinders, beweer dat sy al beter is as Dorfling self, want sy hou in die linkerhand ’n handpop om die kinders te vermaak, en die regterhand het sy dan vry vir die kamera op die driepoot.
Hoekom het Camelia nie na skool gaan studeer nie? Sy is begaafd genoeg. Is dit weens ’n gebrek aan fondse? Hy weet dat Beth haar sou aanmoedig en ondersteun, veral waar Beth self haar studie moes onderbreek en uiteindelik opskop ná die ongeluk van hulle ouers. Is Dorfling die trekpleister wat vir Camelia hier hou? Mense fluister oor hoe intiem naby aan mekaar die twee soms staan, besig om foto’s te bekyk … of sommer net. Hou Hannes en Beth hulle doelbewus blind vir die situasie, trek hulle laer om haar?
Noudat die twee mans stil in die afgeskakelde motor sit en Flip onlogies hoop dat die reënsluier ’n rukkie lank sal oopskuif om ’n droë uittog te verseker, kry Hannes Moorrees lus om te filosofeer. Die dreunruising van die nagtelike reën op die motordak, saam met die skynbare geslotenheid van die swak verligte dubbelverdiepinghuis, prikkel hom tot ’n verdrietige verklaring van die hoe en waarom van sy lewe.
“Jy weet, ou Flip,” begin hy seur en lê ’n warm, swetende hand op die knie van sy metgesel, “niemand verstaan my nie. Of my werk nie. Wat dink die leek? Dat ’n geoloog ’n ou is wat soos ’n troebadoer ronddwaal en goud soek. Ek bedoel nie dat ’n troebadoer goud soek nie …” Sy gedagtes raak verstrik, gryp rond. Hy kyk Flip stip aan, probeer die ontwykende beeld fikseer. “Weet jy wat ’n troebadoer is? Aag, ek bedoel, ’n geoloog?”
“Ja, ek weet,” sê Flip en blik vlugtig huis se kant toe. Onmiddellik links van die motorhuise lê die massiewe huis in die verlatenheid en nagdonker. Net hier en daar brand flou lig. Die weerloosheid van die gebou onder die aanslag van die reën, bemoedig die onderwyser met die sterk kop wat hom onder die skoolkinders die bynaam Kragkop laat verwerf het. Maar dit word selde gebruik, want byname klou nie goed aan hom nie. Wat kan Beth eintlik te sê hê? Kan sy hom verkwalik omdat hy haar broer van ’n gewisse motorongeluk gered het? Veral waar hulle hulle ouers deur ’n ongeluk afgegee het, en tog maar bewus of onbewus hulle pa daarvoor verkwalik omdat hy glo onder die invloed was.
Tog vreemd, dat hy so seker is dat dit Beth sal wees vir Hannes sal ontvang. Waarom nie Camelia of die jong Frank nie? Verlang hy dit so, ten spyte van die bitterheid tussen hom en Beth, dat juis sy moet oopsluit, hom aankyk, begryp, en dalk innig bedank? Wil hy ten spyte van alles die man in haar lewe wees? Bly hy tog verwag dat sy haar hart vir hom sal oopmaak, teen alle getuienis in? Hoe kon sy alles oor hom en Agnes Moorrees glo, botweg weier om na sy kant te luister?
Hy voel hoe sy nek en gesig warm word. Om hom hierteen te beskerm, probeer hy dit ontleed. In sy asketiese bestaan as wewenaar het hy hierdie kuns uitstekend aangeleer. Om dinge te ontleed. Dus sien hy ook nou die feite onder die oë: die nek, agterkop, gesig en slape word bedien deur slagare wat rooi bloed vanaf die hart vervoer en … aag, twak. Waarom sal hy hom deur sy gevoel vir Beth Moorrees laat ontstig? Dis nie dat hulle vurige minnaars was nie. So ver het dit nog nie tussen hulle gevorder voordat die breuk gekom het nie. Maar hy verlang na haar warmte, na die liefdespassie wat sy diep in haar moet verberg, want sy is beslis geen koue vis nie. Om hom wys te maak dat sy ook na hom hunker, is pure balsem vir sy gemoed. Soete vergelding omdat sy hom so laat ly.
Flip word uit sy vlietende, onrustige gedagtes teruggebring deur die klam greep van Hannes se hand op sy knie. Sy spraak en denke begin opklaar. “Ek wil my maar weer aanbied vir Antarktika,” kondig hy aan en wag onbewus op die protes. Iemand moet tog kan omgee as hy dit doen, iemand moet hom tog kan keer. “Hulle beplan ’n nuwe basis, maar dit sal nooit dieselfde as die ou SANAE kan wees nie.”
Jy’s nie meer knap genoeg daarvoor nie, dink Flip en wens hy het die durf gehad om dit hardop te kan sê.
“Het ek jou al my foto’s gewys? Camelia sê dit het atmosfeer. Ek het ’n hele paar van my met my lang hare en baard. Wee’ jy, ek het later ’n band gedra om die hare uit my oë te hou. En van die natuur … foto’s, bedoel ek. In die somer, die middernagson. In die winter twee maande g’n son nie, net ’n kort rukkie elke dag so ’n flou skynsel na die Republiek se kant toe … dan verlang ’n ou darem, jou hart se sous loop uit.”
“Ja,” sê Flip en blik weer huis se kant toe. Hy voel bevange, asof hy die warnet van Hannes Moorrees se gedagtes om sy eie brein voel slinger. Die hele Lieberville is bekend met elke faset van Hannes se Antarktika-ervaring. Aan die begin was dit nuut en prikkelend, maar later het almal dit kundig begin ontwyk. Hannes het sy herinneringe net te desperaat begin aankleef. Mense wil getrakteer word, hulle wil nie onbetaalde ontlaaisones wees nie.
“Die dag toe ons terugkom …” tjommel Hannes voort. “Eers, die mishoring. Toe trek die mis oop en ons sien die kabelhuisie op Tafelberg. Beth was daar, en Camelia en Frank.”
“Niemand anders nie?” vra Flip, ’n bietjie wreed.
Hannes dink na, besluit dan dat die vraag in lyn is met sy diepste verdriet; dat die persoon wat hy die heel graagste wou sien nie daar was nie. Dan onthou hy die rede vir sy uitbreek vanaand: “Wee’ jy watse dag is dit vandag, ou Flip? My troudag. My bleddie troudag, hoor.” Die warm hand wikkel Flip se knie heen en weer by wyse van nadruk.
Dit bring Flip in ’n bui van begrip. Arme Hannes.
“Tiende September, dit was net bloeisels, bloeisels.” Hannes Moorrees stoot sy steil, ligte kuif uit sy oë. Hy het normaalweg sprekende oë, maar nou is hulle vertroebel en vraend soos hy oor sy eie woorde nadink. Sy wimpers, deur die jong Frank geërf, is donker en amper vroulik dig. “En die volgende jaar was die kleintjie daar, toe’s dit net doeke, doeke. Agnes het my altyd met die vuil doeke laat werk. Knyp ek my neus met ’n wasgoedpennetjie toe as ek die doek omruil, so waar as vet, ou Flip, ek lieg nie.”
Flip Rabie verstom hom dat ’n andersins redelike mens so baie nonsens kan praat. Dit klink byna asof die druising op die motordak bietjie bedaar. Of raak hy net meer gewoond daaraan? Dit kan ook wees dat die druising in sy kop, soos van ’n verre see, ’n teenwig bied. Want binne enkele minute sal hy voor Beth Moorrees moet staan met haar broer. Dis waar, hy kan vir Hannes alleen binnetoe stuur, hom net tot by die deur help en so vir Beth vermy, maar hy oorweeg dit nie regtig nie. Daarvoor is die geleentheid te seldsaam en te kosbaar.
“Kom maar, ou Hannes, laat ons spring. Sit jy, ek kom jou help uitklim.”
Dit gaan maar moeilik. Hannes het nie volle beheer oor sy ledemate nie. Arms en bene steek alkante toe uit. Hy lyk soos ’n bondel slordige vuurmaakhout terwyl hy hom uit die motor laat help. Flip het sy reënjas uitgetrek en hang dit nou oor hulle albei se koppe. Die nabye kontak met die besope Hannes wek ’n vreemde gevoel van afkeer, gemeng met simpatie. Warm is die ander man se middellyf as hy sy arm daaromheen slaan. Wanneer laas het hy sy arm so om ou Hannes se middellyf gehad? Toe hulle eerstejaarstudente was en op die pawiljoen of in die strate gewiegsing het. Vanaand voel dit egter heeltemal anders. Dis een ding om ’n sorgvrye studentemaat te omarm, ’n ander om ’n ontnugterde, gedrinkte man huis toe te bring. Na regte kon hy vir Hannes na sy klein woonwa in die bloekombos teenaan die dorp gevat het, want hy bring die meeste van sy tyd daar deur. Maar tog is Victorina sy eintlike tuiste sedert hy terug Lieberville toe gekom het, minus sy vrou.
Hulle bereik die beskutting van die klein agterstoep. Die dak vorm ’n oorhang wat hulle van bo redelik beskerm. Van die kant af swiep die reën egter teen hulle vas. Nadat Flip ’n tweede maal geklop het, is daar nog geen reaksie nie. Die deur is gesluit. Die huismense moet iewers ver van die deur af wees, reeds in hulle eie kamers. Of wag, hy hoor tog veraf klavierklanke. Frank wat speel … op die klavier van sy oorlede ouma Marta.
“Ek sal omstap voorkant toe, wag jy hier,” beveel hy vir Hannes.
“Jy sal nou onthou, ou Flip, ek’s nie dronk nie. Ek het net ’n paar biere gevat,” herinner Hannes hom noudat hy hom op die randjie van ontmaskering bevind.
“Dit moet jy maar vir jou huismense vertel,” troef Flip hom met ’n herhaling van die tikkie wreedheid wat hy netnou ook in hom voel opkom het. “Bly jy eers hier staan.” Koesend om die voorkant van die huis te bereik, glip hy om die hoek, reënjas oor die kop. Soos silwer wier streep die reën voor die dowwe lig van ’n badkamervenster verby. Krane spoel. Dalk is dit Beth wat in die bad is. Dis ’n opwindende gedagte: Beth in die bad in kerslig, ’n glimmende marmerbeeld. Dit beteken ook dat hy haar nie vanaand sal sien nie. Maar miskien is dit Camelia. Frank is by die klavier.
Dit word bevestig toe hy die voordeur bereik. Hier, onder die ruimer oorhang, mis hy die volle geweld van die reën. Deur die groot noordevenster, waarvan die gordyne ten volle oopgetrek is, sien hy vir Frankie Moorrees in die lig van ’n gaslamp voor die regop klavier sit. Charl Moorrees wou glo altyd vir sy Marta ’n vleuelklavier koop, maar die geld het weggevloei in sy sosiale bedrywigheid. Frank is die belowendste musiekleerling in Lieberville se hoërskool. Gevoelig, pligsgetrou. Die seun is donkerder as sy pa, ook frisser as Hannes gebou. Aard, wat sy bou betref, seker meer na die oupa aan vaderskant. Die gelaatstrekke is Hannes s’n.
Dis so ’n aangrypende prentjie dat die onderwyser bly staan om nog ’n rukkie te kyk en te luister. Ek kan hom nie roep, hierdie fyn oomblik wreed versteur om sy beskonke pa by die agterdeur te ontvang nie, besluit Flip. Die musiek wat tot hom kom, is roerend. Hy is nie ’n musiekkenner nie, maar ken wel vir Frank ’n bietjie, weet dat hy soos ’n gevoelige seismograaf is wat die krag en rigting van ’n trilling bepaal. Die musiek wat gespeel word, sal dus wel die musiek van die nag en van reën wees.
Die gedagte aan Hannes wat by die agterdeur wag, hulpeloos en ontoerekenbaar, spoor Flip aan om die dwang van die klaviermusiek te verbreek en verder om die huis te speur. Hy ken die plek redelik goed. Dit was ’n gewilde oord van samekoms vir die skoolpersoneel in die jare wat Beth sekretaresse was, voordat sy die werk oornag laat vaar het. Lieberville het gedink dit is om moeder te speel vir Frankie, in die afwesigheid van sy eie ma. Maar Flip weet die waarheid: sy wou hóm vergeld. Haar skokbedanking was ook vir die skool ’n verlies. Sy is ’n stil, doeltreffende werker, toeganklik vir oud en jonk. Want selfs die skoolkinders, ja, het hulle dikwels in probleme tot haar gewend: “Sy is dierbaar,” was die algemene uitspraak.
Ook onder die personeel was die algemene motto: “Vra vir Beth.” Sy was nooit lief om die leiding te neem, groot besluite te finaliseer nie. Maar sy was almal tot steun. Sy verdien nou glo vanuit haar huis, tikwerk, finansies, hy weet nie wat alles nie, sy is veelsydig. Doen dinge vir die ouetehuis, die rolbalklub, biblioteek. Net van die skool af bly sy ver weg.
Dis onder die denneboom met ruisende naalde, skuins duskant die voordeur, dat hy, Flip, vir Beth Moorrees die eerste (en enigste) keer in sy arms gehou het. Dis ’n versteende herinnering, maar alles behalwe uitgewis. Op hierdie oomblik staan die reuseboom kildonker en druipnat. Teen die stam, grondlangs, woeker die varings ruig.
By ’n volgende venster, dié van die studeerkamer, as hy reg onthou, vind hy ook lig. Alle vensters is al op knip vir die nag. Hy wil eers aan die ruit klop, dink dan aan die skrik wat daarop kan volg. “Beth!” roep hy in ’n harde fluistering, bo die suising van die reën.
Oomblikke later word die gordyn weggetrek. In die rukkie voordat sy haar hand uitsteek om die knip oop te maak, het Flip geleentheid om haar ten volle te aanskou. Sy lyk onseker, weerloos. Maar nie bang nie. Sy is ’n beheerste mens. Sy is geklee in ’n ligte rok wat sag om haar lyf plooi. Sy dra haar bruinblonde hare nie meer kort nie, en die langer styl laat die krulle om haar kop staan; met die lig van agter is daar byna ’n ligrandjie om. ’n Halo, verbeel jou. Op ’n tyd sou hy dit vir haar kon sê, en sy sou lag. Hoe lank nog, voordat die eerste grys haartjies verskyn? Vyf jaar? Tien? Sy is op pad dertig toe. Is sy maar bereid dat haar beste jare so oor haar kop heen gly?
Sy aanbid vir Frankie, seun van haar ouer broer Hannes. Maar dis vir haar geen belegging vir die toekoms nie, reken Flip. Binnekort is die seun uit die huis en uit haar lewe. Sal sy dan die eerste knaging van ware eensaamheid voel? Sielseensaamheid soos hy dit ook ken? Toe hy hom kom kry, het hy ’n struik se lentegroeisels flenters getrap in sy poging om nader aan die venster en aan Beth Moorrees te dring.
“O, dis jy,” sê Beth nadat sy oomblikke lank die omgewing buite die venster bespied het. Want sy eien vir Flip Rabie in die lamplig wat verby haar op hom skyn. Die grys reënjas hang oor sy skouers en sy hare kleef nat om sy kop. ’n Welgevormde kop, dit onthou sy noudat die digte hare plat lê. Die enkele woorde wat sy uitgekry het, was meer as ’n klank van herkenning. Dit was ook afkeer, ’n besliste wegwysing. En wat nog? Sy weet self nie. Ekstase? Sy weet nie watter gevoelens dit is wat in haar stry om bo te kom nie. Sy weet net dat dit haar lamslaan dat Flip Rabie, nadat hulle mekaar lank laas van aangesig tot aangesig gesien het, hier buite in die reënnag verskyn.
Dan kom die tweede gedagte: Hannes! Hannes moes iets oorgekom het, daarom is hy nog nie tuis nie. Die twee is ou studentevriende, daarom sal dit Flip wees wat die tyding bring. Sy wag reeds die hele aand op Hannes. Daar is drukkende probleme om te bespreek, probleme wat nie langer ontwyk kan word nie. Iemand moet dit ’n slag in die oë kyk. Hy is die oudste en ’n sterk, gesonde man, verdomp … al is hy dan selde tuis, meestal by sy woonwa, of weg op die een of ander kontrak.
“Dis Hannes?” sê-vra Beth en in haar ontsteltenis het sy haar hand na haar keel gebring. Die vete met Flip Rabie, wat haar in die bitterheid daarvan soms wou onderkry, skuif vir eers op die agtergrond.
“Ja,” sê Flip, “ek het hom gebring.” Hy talm ’n rukkie, bewus van die dubbele betekenis wat sy woorde kan hê. Dis reg, laat haar skrik. Sy dink mos sy kan hom mateloos straf, laat hy haar ’n slag terugkry.
“’n Ongeluk? Is hy beseer?”
“Nee,” sê Flip, met ’n siniese klank in sy stem. “Dis glo sy troudagherdenking. Hy het dit ’n bietjie gevier. Op sy eie.”
“Hy het sy troudag gevier,” eggo Beth onbegrypend. Dan breek begrip deur. “Ek verstaan.” Haar volgende woorde is swaar met sarkasme gelaai: “En jy het gevoel dis tyd dat jy weer ’n slag iemand na Victorina toe moet terugbring?”
Hy kyk na haar, gekwets. “Beth, Beth,” sê hy kopskuddend, “dis waters wat verby is. Jy wou nie my kant van die storie hoor of glo nie. Waarom kan jy nie vergeet en vergewe nie? Die dag daar by die kerkbasaar …” Hy wil begin verwyt, besef dan hoe absurd die situasie is: geskei deur ’n muur, gesels hulle deur die skamele poort van ’n venster. Hy in die reën, sy met haar gesig weg van die lig. En Hannes by die agterdeur.
“Ek soek iemand om die agterdeur oop te sluit,” sê hy omgekrap.
“Het Victorina nie ’n voordeur nie?” wil sy bytend weet.
“Goed. Dan sal ek Frank se dronk pa verby hom lei,” besluit hy driftig en mik om om te draai.
“Wag,” roep sy dadelik. Sy los die gordynrand en verlaat die vertrek. ’n Halfminuut later word die agterdeur oopgesluit. Flip het hom reeds weer aangesluit by Hannes wat teen die buitemuur leun, nat en miserabel.
“Hoor hier,” sê Hannes toe hy sy suster in die gesig kyk, “ek’s ’ie dronk nie, hoor.”
“Ek weet. Jy het net ’n paar biere gehad.” Sy kyk na Flip Rabie asof dit sy skuld is. Sy dink tog nie hy het vir Flip vasgedruk en ’n vaatjie vol drank in sy keel afgegooi, soos op ’n ramparty nie?
In elk geval het die reën darem ’n versoberende uitwerking. Dit lyk of Hannes al hoe meer tot homself begin kom. “Waar’s Frankie?” wil hy besorg weet.
“Los jy nou maar eers vir Frankie uit,” sê Beth.
“Maar ek wil hom net groet. Kan ’n ou nie eens sy kind groet nie? Ek het hom nog nooit vandag gesien nie.”
“Wie se skuld is dit?” begin Beth. Dan besef sy dat sy met logika nie ver sal vorder nie. “Ek sal maar môre met hom praat,” sê sy dan in Flip se rigting.
Hy staan in die netjiese kombuis, bereid om te wag. Hy staar na die ou vuurherd vol geelkoperware. Sekerlik sal Beth hom tog nooi om te sit, om ’n koppie koffie te drink. Maar die blik wat sy eindelik op hom rig, is niksseggend. “Verskoon my, meneer Rabie. My broer het my aandag nodig.”
Toe word Flip kwaad. Afgesien daarvan dat hy en hierdie meisie vir hoe lank op voornaamterme verkeer het, en afgesien daarvan dat hy haar selfs in sy arms gehou het, kon sy ten minste onthou het dat die broer wat sy nou as ’n rookskerm gebruik, vandag sy troudag herdenk. “Onthou net, júffrou Moorrees, om hom geluk te wens met die herdenking van sy huweliksdag,” herinner hy haar snydend.
Beth Moorrees kyk hom aan. Haar blik brand in syne. “Gelukwens?” vra sy skamper. Hannes het deurgestommel gang toe, sodat hulle twee alleen is. “Jy het dit mis, meneer Rabie. Jy is die een wat gelukgewens moet word.”
“Beth, tot dusver het ek jou gesmeek, maar nou begin ek jou waarsku: laat staan daardie dinge. Dis verby. Afgehandel. En dit was uit verband geruk.” Sy blik flikker gevaarlik in hare. Hy is ’n man met eindelose geduld, maar die skoolkinders weet dat hulle siele bewaar moet word as hy die dag sy humeur verloor. Op die oomblik voel hy die toorn in hom oplaai. Sonder dat hy weet wat hy doen, gryp hy haar aan die skouers . “Gaan jy nou ophou daarmee?” wil hy weet met strak, gespanne lippe. Dit voel vir hom asof sy kop so warm word dat daar stoom uit sy klam hare moet trek.
“Nee,” sê Beth en sy wyk geen aks terug nie. Ook wikkel sy nie haar skouers uit sy greep los nie. “Hoe kan ek ophou, terwyl ’n seun nog daaronder ly? Weet jy dat hy sy moeder aanbid het? Nie dat Agnes dit ooit werd was of nog is nie. Maar ek ken hom. En ek sien sy lyding vir soveel jare al. En dis jý wat …”
“Dink wat jy sê!” roep Flip uit. Hy voel hoe sy vingers ongenadiglik in die sagte vlees van haar skouers keep. ’n Drang vervul hom om haar op oerwyse aan sy wil te onderwerp. “Eendag, een goeie dag, sal ek besluit dat jy te ver gegaan het, Beth Moorrees.”
“En wat sal jy dan doen?” vra sy tartend.
“Dan sal ek … dan sal ek met jou klaar wees,” sê hy minagtend en los haar vinnig, smyt haar as ’t ware terug sodat sy haar balans nouliks behou.
“Voel jy nou beter?” vra Beth. Haar lippe, nog sag en ten volle mooi, plooi smadelik. “Noudat jy jou krag aan ’n vrou getoon het? Die skoolmeester, gewoond om hom te laat geld teenoor sy minderes.”
Elke woord sny deur hom. Want dis Beth Moorrees wat praat, dierbare Beth wat teen hom alleen so hard geword het, en hy is op sy kwesbaarste juis wanneer hy teenoor haar staan. Sy moet dit weet, daarom buit sy dit uit. “Jy weet dis nie waar nie, ek lig nooit my hand vir hulle nie.” Sy drif vloei weg, laat hom week en sat agter. “Luister, Beth,” sê hy met moeite. “Hannes was bereid om na my te luister in hierdie saak van Agnes.”
“O, Hannes was bereid. Dink jy regtig so? In die uur van sy dronkenskap slinger hy na jou toe. Asof jy ons nie genoeg verneder het nie, jy en Agnes. Wat dink jy het hom vanaand na jou toe gedryf? Omdat jy vir hom nog altyd ’n bybetekenis het: hy kan nie aan sy huwelik en aan Agnes dink sonder om by jou uit te kom nie.”
Sonder woorde staar hy haar aan. Hoe breed is die kloof tussen hulle, hoe onoorbrugbaar. Dan, in die gelade stilte, kom hulle agter dat hulle nie meer alleen is nie. In dieselfde oomblik wat Flip Rabie besef dat die klavierklanke in die agtergrond stil geword het, gewaar hy ook die teenwoordigheid van die jong Frank Moorrees.
Doodstil in die middeldeur staan die pragtige, rysige seun wat eintlik reeds man is. Ja, in hierdie oomblik dring dit tot hom deur dat hy as man teenoor man staan met die jonger een. En dat ’n donker vermoede in laasgenoemde se oë aan ’t groei is.
Flip weet dat ’n man ’n rypheid vir liefde bereik, sowel as vir haat. Ook weet hy op hierdie oomblik dat die jong Frank, sy geheime afgodjie by die skool, ’n teiken vir sy haat gekies het. Omdat hy genoeg gehoor het vir donker vermoedens om in hom te groei.
Die twee monster mekaar. Flip sien vuur skiet van onder die digte, donker wimpers. Kalm en beheers is die stem egter as die jonger man praat: “Naand, meneer.”
Sag ruis die reën op die verweerde dak.
Maar in die gemoedere van die drie mense wat mekaar ongenaakbaar aanstaar, bring dit geen sussing teweeg nie.