Читать книгу Die uurglas wentel - Louisa du Toit - Страница 4

2

Оглавление

“Wil jy ’n koppie tee hê?” vra Beth toe sy alleen met Frank is. Flip Rabie het gegroet en vertrek, maar ’n swaar herinnering aan sy teenwoordigheid lê nog in die atmosfeer.

“Nee, dankie, ta’ Beth.”

“Sjokolademelk? Ek dink daar is nog in die blik.”

Frank Moorrees verduur die vertroeteling met dieselfde gelatenheid waarmee hy dit die afgelope jare reeds verduur. Hy toon nietemin geen wrewel nie. Dis eerder ’n soort volwasse geduld teenoor sy mooi, besorgde tante wat soveel waarde aan sy welsyn en versorging heg. “Nee wat, nie nou nie.”

“Waarom het jy opgehou met speel? Dit was so mooi. Wat was dit?”

En hiermee probeer sy die groot, onuitgesproke vraag uit hulle midde wegwerk: hoeveel het Frank gehoor van die gesprek in die kombuis? Hoeveel het dit aan hom blootgelê, en hoeveel meer vermoed hy?

“Ek het klaar gespeel. Dit was Chopin se ‘Reëndruppel-voorspel’. Gepas, nè? Daarna het ek sommer geïmproviseer.”

“Dit het hartseer geklink.”

“Omdat dit in mineurtoon was. Dalk word ek ’n tweede Mozart,” besluit hy met sigbare selfspot. “Ek gaan maar kamer toe, ek het nog skoolwerk. Kan ek die gaslamp in die sitkamer vat?”

“Ja, gerus.” Dis een van die knellende probleme wat sy met Hannes moet bespreek: dat Victorina herbedraad moet word. In die badkamer en kombuis het hulle gas, maar die ligte is ’n gesukkel. Die brandgevaar was so groot dat hulle die munisipaliteit versoek het om die toevoer af te sny. Die kragopwekker staan ongebruik. Met ’n bietjie aandag sal dit wel aan die gang kan kom. Tog, ten spyte van die ekstra sleur van gas en paraffien, verwelkom sy die kerse en gaslampe wat genadiger met harde werklikhede omgaan. Op die oomblik brand daar ’n kers op die kombuistafel, en dit snoer haar en haar broerskind saam. Of so hoop sy.

Haar broeiende blik volg vir Frankie toe hy die kombuis verlaat om die gaslamp te gaan haal. In die gang dein skaduwees soos wassende en krimpende swamme. Hy gee ook nie vir elektriese lig om nie, het hy al vir Beth verseker. Wil hy haar net beter laat voel? Hy wil tog seker ook graag televisie kyk, elektroniese apparate gebruik. Maar hy is anders as sy tydgenote. Hy is gewild, maar nie omdat hy deel van die kudde vorm nie. Hy het sy eie kwaliteite wat hom onderskei. Ten spyte van die breuk tussen sy ouers en ’n meestal afwesige vader, vaar Frank goed. Dalk maak dit alles hom juis meer selfstandig en volwasse.

Hannes voer feitlik die lewe van ’n nomaad. Sy was so dankbaar toe hy ’n slag hier in Lieberville self ’n kontrak losslaan, as konsultant vir die stadsingenieur. Die een of ander uitleg, van ’n nuwe rioolstelsel of wat ook al. Sy weet nie presies nie. Met Hannes weet sy deesdae nooit presies nie. Tye lank bly hy hier in die huis, tye lank in sy verbleikte klein woonwa op die rand van die dorp, onder een van die reusebloekoms.

Sy kan nie glo dis dieselfde voortreflike broer van vroeër nie. Na die breuk met Agnes is dit byna asof hy doelbewus die stutte rondom hom begin afbreek het. In ’n stadium het alles in sy lewe begin sneeubal, afdraand. Sy is geneig om aan daardie keerpunt te dink as ’n soort skeidsmuur, tussen toe en nou. Tussen voor en na. Ook vir haar, ’n beëindiging van die tyd wat sy in die skoolkantoor gewerk en op daaglikse basis vir Flip gesien het, tot waar sy nou allerhande werk vanuit haar studeerkamer doen en vir Frankie ’n vaste tuiste skep.

Sy voel hoe sy nog liggies van ontsteltenis bewe. Want Flip Rabie was hier, minute gelede nog, tussen dieselfde mure as sy. Daar, net daar, het hy gestaan, met sy hare klam teen die sterk kop. Asof sy die beeld finaal wil uitwis, gryp sy die kers en loop na Hannes se kamer toe. Hy lê met klere en al op die bed, reeds vas aan die slaap. Met teensinnige sorg gooi sy ’n kombers oor hom nadat sy sy skoene afgestroop het. Sy troudatum. Flip dink dat sy vergeet het. Sy het nie, want sy was ’n laerskooldogter toe Hannes trou, sy en die kleine Camelia was blommemeisies. Op Agnes se tuisdorp, dit was ’n hele uittog soontoe saam met hulle ouers. Die hele proses het ’n groot en baie romantiese indruk op haar gemaak. Toe Frankie gebore word, het sy en Camelia hom geniet asof hy ’n opwenspeelding is.

Wat ouderdom betref, is daar nogal groot gapings tussen die drie Moorrees-kinders. Vir die susters was Hannes die aloue, alwyse “Ouboet”. En hulle was vir hom “Betjie” en “Kameeltjie”. Maar soos sy ouer geword het, is Beth stap vir stap in Agnes ontnugter, en ook in Hannes se onvermoë om sy huwelik en gesin te bestuur.

Daarom het sy vandag bly hoop dat Hannes die herdenking liewer nie sal onthou nie. Maar hy het, en gaan dronk word, wat meegebring dat Flip Rabie, van alle mense, hom huis toe moes bring. Wat ’n vernedering. Hulle naam is tog bekend in die dorp, hulle is deel van ’n dinastie. Sal Hannes vanaand se dinge onthou, môre, as hy nugter is? En verlekker Flip hom dalk? Nee, nee, hy is nie so ’n soort mens nie. Wat daardie keer tussen hom en Agnes gebeur het (al beweer hy daar het niks gebeur nie), moet eerder voor Agnes se deur gelê word. Maar kon hy nie sterker gestaan het, haar van sy voordeur af weggestuur het nie? Hoe vergewe sy hom ooit, óóit?

Met die flikkerende kers in die blaker, loop Beth deur die huis en vergewis haar dat die buitedeure gesluit is. Ook die vensters moet op knip wees. Dis die kruis van ’n huis sonder diefwering. En sy is die een wat elke aand daarna moet omsien. Daarom het sy vir haar ’n slaapkamer op die grondvloer ingerig. Hannes het ook ’n klein slaapplek onder, die vorige spens. Camelia en Frank verkies om bo te slaap.

Die huis is totaal te groot vir hulle behoeftes, besluit Beth vir die hoeveelste keer moedeloos. Die helfte daarvan kan maklik verhuur word, was dit nie dat mens huiwer om te dink aan vreemde mense met vreemde gewoontes heeldag in jou onmiddellike nabyheid nie. Sy deins terug vir die implikasies. Hulle kan jou vaskeer met geselsies, of nalaat om stiptelik die huur te betaal. En sentraal is die huis ook nie geleë nie. Die uitbreidende Lieberville het wel sy nuutste woonbuurte uitgestoot tot naby, maar die huis met sy loodkleur dak sit nog op die ver westepunt van die dorp, ’n soort landmerk.

Die goeie meubels, sommiges nog vanuit oupa Moorrees se eerste huwelik, staan geduldig op wag. Die eertydse dorpsleier met sy digte grys krulhare kyk vanuit ’n geraamde vergroting op sy kleindogter neer. Dis agtervolgende oë, dié van oupa Moorrees. Na die dood van sy eerste vrou, moeder van sy seun Charl, is hy getroud met die veel jonger Victoria, vir wie hy die huis in ’n dubbelverdieping verander het; die fondamente was hiervoor goed genoeg gelê. Lieberville het effens spottend na haar verwys as Die Jonkvrou. Dalk om almal te oortuig van die waarde van Die Jonkvrou, is daar op groot skaal onthaal in die tuin van Victorina, die naam van die pragtig herboude woning.

Toe, ironies, sterf oupa Moorrees se jong Victoria voor hom. Hy treur en boer agteruit. Voor sy dood nog kom Charl oorneem, en die reeds wankele boerdery krepeer verder. Stuk-stuk is die grond afgesny en verkoop, vir Lieberville om uit te brei. Geld wat weggevloei het. Vandat Beth kan onthou, het haar ouers gespook om kop bo water te hou, terwyl haar pa boonop die onthaal-mite wou voortsit. Beth onthou vanuit haar kinderjare en vroeë jeug die gesellige verkeer, laggende stemme op die stoep en grasperk met die stoepligte wat alles deurstraal en die tuin in ’n towerland omskep. Maar sy onthou ook hoe haar ma daglank met pen en papier kon sit en begroot, planmaak met kos en klere.

Toe kom die motorongeluk waarin haar pa, Charl Moorrees, dood en haar ma maande lank in die hospitaal gelaat is. Hannes was reeds getroud en ’n pa, hy kon nie veel geld afknyp nie. Beth het haar studie gestaak en huis toe gekom, begin werk om haar ma se hospitaalverblyf tot haar dood te help betaal. En om om te sien na Camelia, duskant matriek. Grappenderwys is sy en Camelia toe “die twee jonkvroue” genoem.

Die sterfte van Pa Charl was erg, maar Ma Marta s’n was opperste verdriet. Sy was die sterk een wat haar hand op alles gehad het. Nie baie prakties nie, maar gekultiveerd, ’n voormalige onderwyseres en aflos-orrelis in die kerk. Sy het die liefde vir goeie boeke en musiek op hulle oorgedra. Sy het dit altyd betreur dat sy nie “groen vingers” het nie, maar Camelia se naam het sy gekies omdat haar enigste kamelia (sedertdien tot niet) glo oortrek van blomknoppe was toe haar jongste gebore is. Sy was ’n aanwins vir Victorina en vir die naam Moorrees, al was sy aangetroud. Marta Moorrees was, hoewel ’n privaat mens, veel gewilder as haar stiefskoonma Victoria, wat in haar leeftyd nie veel dorpstatus kon opbou nie. Dat Marta en die jonger Zonia Rabie binne agtien maande uit mekaar begrawe is, was ’n gevoelige slag vir Lieberville.

Maar nou was Marta Moorrees heen, soos haar man enkele maande voor haar, en dit was of ’n ster geval het. Meteens was Victorina dood en stil, met net hulle twee meisies hier. Snags het die groot huis en werf onmeetlik wyd om hulle gestrek. Hulle kon nie alleen bly woon nie. Maar asof dit so bestem was, kom daar juis toe ’n roering in Hannes se persoonlike sake. Hy word opgeneem in die span wat na Antarktika toe sou gaan. Agnes sou met die twaalfjarige Frankie vir die jaar van sy afwesigheid by hulle kom inwoon. Hy sou hier skoolgaan; dis dieselfde provinsie, dit sou gereël kon word. Dis wat Hannes wou hê, dalk veral sodat sy mooie Agnes onder toesig kan wees.

Ter voorbereiding van hulle koms, het Beth die poorte van Victorina weer begin oopgooi. Sy het onthaal, sonder groot uitgawes, dikwels ’n bring-en-eet, maar nietemin gesellig. Die skoolpersoneel het graag hier kom braai en dans. Want Beth, wat by die skool as hulpsekretaresse begin het, het gou die volle pos gekry en deel van die skoolkorps geword. Dikwels toesig in klasse en oor eksamens gehou, saam in die personeelkamer tee gedrink, onmisbaar geraak. Sy het gevoel dat sy, die eerste keer ná haar ouers se dood, weer lewe.

Maar nou nie meer nie.

Die vrolike voete kom nie meer nie, die dansmusiek het stil geraak, die geurige braairook het weggedrywe. Soms dink sy, in die woorde van die ou oorlogsliedjie: Where have all the flowers gone? Die huis en terrein het ook onnet geraak. Oupa Moorrees se instandhouding het lankal gewyk voor seun Charl en, na hom, kleinseun Hannes se onwil om verantwoordelikheid te vat.

Victorina kort derhalwe deeglike opknapping. Behalwe herbedrading en geute, moet die verouderde en onbekombare dakteëls met ’n nuwer soort vervang word, buite hulle finansiële bereik; maar dit moet ten minste behandel word om lekke te herstel. Die huis is soos ’n verouderende vrou wat met die grimering van ’n lagie verf af en toe die plooie probeer verberg. Op ’n afstand lyk alles nog indrukwekkend, maar van naby val die degenerasie op. Die denneboom is uniek, maar mors gruwelooslik. Dis ook ’n Europese boom, nie sterk in die harde klimaat van Afrika nie, en ’n risiko so naby die huis.

Dit sal ’n fortuin kos om alles te doen wat gedoen moet word. En waarvandaan moet dit kom? Na matriek moet Frankie gaan studeer. Sal Hannes vir hom kan betaal? Beth hoop dat hy eers universiteit toe sal gaan, want sy vermoed dat diensplig kan verval voor hy aan die beurt kom. Sy bly op hoogte van politieke sake, en weet dat dinge op die noordergrens vinnig verander. Word Frank wel opgeroep, sal hy waarskynlik in die musiekeenheid beland. So troos sy haarself, hoewel sy die gedagtes nie lug nie. Enige suggestie van pligontduiking sal vir Hannes dadelik laat lostrek en van sy eie opofferinge op die grens laat vertel, en hy sal ook sommer weer sy ekspedisie na Antarktika bysleep en die foto’s en kleurskyfies opdiep.

As ons vir Victorina maar goed verkoop kan kry, dink Beth en loop sku terug kombuis toe, amper koestend onder die portret van oupa Moorrees verby. Die gedagte grens aan hoogverraad. En tog, en tog … sy hunker na ’n gerieflike, knus huis in die dorp vir haar en Camelia. Met of sonder Hannes en Frank, want haar broer se planne is onvoorspelbaar. Dalk verkoop hulle so voordelig dat hulle iets vir Frank se studie oorhou.

Sy self kan weer voltyds werk, nie so afgesonderd ’n geldjie verdien tussen ’n spul verfhonger mure en lekkende dak nie. Natuurlik nie weer by die skool nie, dit spreek vanself. Die opknapping van Victorina lê soos ’n berg voor haar. Dit voel asof die muwwerigheid van die dak en mure begin deurslaan in die persoonlikhede van die huismense. Hoe anders was hulle lewe tog, voordat dit uiteengeval het.

Beth dwing haar gedagtes weg van die verlede. Saans wanneer sy toesluit, is die tyd van sluipende gedagtes wat haar vanuit elke skemerdonker hoek begluur. Soos elke aand, gaan sy heel laaste boontoe om nag te sê. Die houttrappe protesteer krakend onder haar tred. Die vloerbedekking moet ook vervang word. Waarmee, wáármee? Sy krap elke maand kop wanneer die rekeninge betaal moet word.

“Het jy alles?” vra sy vir Frank. Sy deur is oop, want hy weet sy kom nog nagsê. Hy sit by sy lessenaar in die gloed van die gaslamp. ’n Warm gevoel van liefde kom in haar op. Onlangs nog het sy en Camelia hom gegryp en gedruk wanneer hulle daarna voel, maar hulle het dit afgeleer namate hulle ’n skugterheid by hom begin gewaar het.

“Ja, dankie, ta’ Beth.” As ’n mens na haar luister, dink hy geamuseerd, sal jy sê hy is ’n seniele ou man wat elke nag ’n slaappilletjie, ’n beker water, ’n kamerpot en slaapmus nodig het. Tog voel hy deernis vir haar. Hy weet die geykte vraag is ’n poging om ’n geselsie met hom aan die gang te kry. Vanaand is hy egter nie van plan om dit aan te moedig nie. Hy is brandend haastig dat haar roetinebesoekie agter die rug moet kom. Ofskoon sy gesig niks daarvan verraai nie, voel hy die spanning soos ’n staalkabel deur sy spiere loop. Sy rug is ’n boog van afwagting.

“Dan sê ek geruste nag, Frankie.”

Sy wag dralend vir hom om die klein, niksseggende opmerking op te volg. Soms nooi hy haar om te sit, dan gesels hulle land en sand. Tog, selfs in hulle geselligste oomblikke, kry sy altyd die indruk dat hy dit uit beleefdheid doen. Tevergeefs probeer sy werklik tot hom deurdring, sy diepste gedagtes en behoeftes ken.

Hoe groot en mooi het hy geword, dink Beth nou met vogtige oë. Nie meer ’n seun nie, maar ’n man om bemin te word. Sy wonder of daar iemand is … Die een of ander mooi jong meisie sal sy hart steel, hom wegvat. Maar weggaan sal hy tog, hy behoort nie aan hulle nie. Hy smag na sy ma, kan nie wag vir sy vakansies by haar nie, hulle weet dit.

“Nag, ta’ Beth. Ek werk dalk laat, moenie bekommerd wees as jy lig sien brand nie.”

“Solank daar genoeg paraffien in die lamp se tenkie is?”

“Ek het gekyk.”

“Nou ja, toe dan. Moet jou net nie ooreis nie, Frankie. Kry genoeg slaap.”

Hy lag goedig, soos met een van die juniors oor wie hy prefek is. “Sal probeer.” Hy wag tot sy vir Camelia ook nag gesê en die kamerdeur toegetrek het. Die gekraak van haar voetstappe verdwyn by die trap af. Dan spring hy op, halsoorkop, sodat die ligte stinkhoutstoel, ’n nalatenskap van sy grootoupa, amper omval. Liggies tik hy aan die kamerdeur van Camelia, skuins oorkant sy eie.

“Binne, Frankie.”

So goed ken elkeen ook die bewegings van elke ander inwoner in hierdie huis, dat sy jong tante dadelik sy klop herken het.

Camelia lê op haar maag skuins oor die bed, besig om haar naels te poleer. Sy het ook ’n gaslamp tot haar beskikking. Hulle werk almal saam wat die kragkrisis betref. Sy het haar gryspienk, syerige kamerjas aan. Die geur van ’n goedversorgde jongmeisie vul die kamer, subtiel en geheimnisvol. Hy staan nog, voel opeens groter as voorheen, manlik uitgedy in die deuropening. Sy maak gevoelens in hom wakker, maar hy weet terselfdertyd dat sy nie die persoon is wat hierdie gevoelens sal vervul nie. Dit gee hom hoogstens ’n vooruitsig op goeie dinge wat vorentoe op sy pad lê.

“Ek wil met jou praat, Camelia.”

Iets in sy stembuiging laat haar opkyk. Sy sien die donker, flikkerende blik, die gespanne houding van die nek en kop.

“Oukéi,” sê sy, die laaste lettergreep uitgerek om afwagting te kenne te gee. Sy gaan regop sit. Dit voel meteens net nie vir haar reg om so te bly lê terwyl hy daar staan nie. In jare verskil hulle nie so baie nie; sy is twee en twintig, hy pas agtien. Tog was hy vir haar eers die dierbare poppebaba, later die vermaaklike kleuter en deesdae die tiener in die huis. Iets moet in sy lewe gebeur het, want sy teenwoordigheid is anders as gewoonlik. Daar is ’n soort dringende aanspraak op haar mening, of raad, of kennis. Asof sy iets weet! Sy het met haar eie lewe nie eens raad nie.

“Kan ek maar reguit praat?” vra hy. In die sagte, ferm manier waarop hy die deur agter hom laat toe klik, vind sy ’n woordelose waarskuwing dat iets inderdaad onherroeplik verander het.

Wat kan dit wees? wonder sy verward en ’n bietjie benoud. Sy hoop nie dit is iets wat bo haar vuurmaakplek is nie. “Natuurlik,” antwoord sy, maar vermy dit om reguit in daardie brandende blik te kyk. Sy hou haar naels teen die lig en gee voor dat dit nodig is om die lak van die regterhandse duimnael weer te verwyder.

Frank kyk na haar gewoonte-gebaartjies, na die manier waarop sy haar hare teruggooi wanneer dit op haar wenkbroue kom lê. En tog kom dit hom alles vanaand nuut voor. Die woorde wat hy gehoor het voordat hy vroeër die kombuis binnegestap het, het iets vreemds aan hom gedoen. Dit het as ’t ware ’n gat geslaan in enige kinderlikheid wat nog in hom kon oorgebly het. Hy het plotseling man gevoel, ten volle bekwaam en bereid om enige ander man in die oë te kyk, al is dit ’n ouer man en gesagsfiguur, en al is dit ’n blik van konfrontasie.

En nou is hy soos ’n dier in die nag, sluipvoet agter ’n prooi aan. “Wat weet jy van my ma en meneer Rabie, Camelia?” vra hy pront. Hy dring nog nader aan haar, sodat hy half gebuig oor haar staan, hande op sy knieë.

“Jou ma en meneer Rabie?” eggo sy om tyd te wen. Normaalweg is daar ’n half skertsende toon tussen hulle, sodat die skielike ongewone erns vir haar moeilik is om te verwerk. En tog het sy lankal nie meer ’n beskermende manier van optree teenoor hom nie. Sy voel dat hy eerlikheid verdien. Hoe anders moet kinders volwasse word? Die lewe openbaar hom nie kleiner of meer verpiep aan kinders as aan volwassenes nie.

Miskien is sy te realisties. Sy het nooit feëverhale gelees, nie waarvan sy kan onthou nie. Sy was twaalf toe haar pa dood is, en kort daarna haar ma. Haar kinderjare was kort en lê ver terug. “Sover ek weet, het hulle ’n paar dae saam deurgebring. Of so iets,” sê Camelia en hou die duimnael opnuut teen die lig. In die stilte wat op haar woorde volg, ruis die lamp sag. Die reën het afgeneem, en dit voel of die hemele nou deur die geute aan ’t leegdruppel is. Asof hulle vir die verposing gewag het, het paddas en krieke in die waterryke plekke op die werf begin kwaak en snerp.

Frank lewer geen kommentaar nie. Steeds kyk Camelia hom nie aan nie, maar sy vermoed dat sy gesig ’n studie moet wees. Sy begeer om dit waar te neem maar, omdat hy so anders optree, weerhou haar daarvan om voluit na hom te kyk. Dis half uit konsiderasie vir hom, half uit innerlike pyn oor die herinneringe wat so sterk teruggolf.

“Daarna het hy haar na Victorina toe teruggebring,” sê sy.

Weer val die stilte. Die eerste beweging wat kom, is van Frank wat oor die krakende vloer loop en skuins op die kleedtafelstoeltjie plaasneem. Hy het nou gewoond geraak aan die geur van Camelia en kan met groter objektiwiteit die besonderhede inneem: klere oor die stoel, pantoffels uiteengeslinger, aantreklike flessies en buisies met toiletmiddels. ’n Verborge wêreld vir hom en een waardeur hy hom nie vroeër aangespreek gevoel het nie.

“Is dit al?” vra hy.

“Dis al wat ek weet.”

“Maar ek bedoel, waarom het daar geen haan na gekraai nie? Waarom is hy nie geskors nie, of so iets?”

“Ek reken dis net ons wat weet. En ons het ook nie die ‘inside information’ nie.”

“En my pa, weet hy?”

“Hoekom vra jy hom nie self nie?”

“Hy’s te dronk vanaand,” sê Frank Moorrees bitter.

“Môre is hy dalk nugter,” troos sy met ’n argelose lag wat in haar eie ore gemaak voel. Sy woorde was tog ’n skok. Hannes het glad te lief vir die bottel geword, maar stormdronk het sy hom nog nie gesien nie.

“Maar dan nog steeds buite bereik vir my.”

“Hm. Soos die dronkie wat vir die ou tannie gesê het: Môre is ek nugter, dan’s jy nog lelik.” Sy probeer hiermee terugval op hulle gewone ligte toon.

“Ek’s nie lus vir grappies nie, Camelia.”

“O. Askies. Hoop nie ek het jou ontstel nie. En soos ek sê, dis net bolangse feite.”

“Sou dit die rede wees waarom my pa en ma uitmekaar is?”

“Dalk het dit bygedra, ek weet nie. ’n Huwelik is meer gekompliseerd as dit.”

“Dis nie ’n antwoord nie.”

“Ek weet te min van die saak om my uit te spreek, Frank. Onthou, ek was maar net sestien, sewentien. Van die atmosfeer het ek heelwat aangevoel. Vir die res moes ek staatmaak op atmosfeer en stukkies gesprek en skimpe.”

Frank voel nie tevrede gestel nie. “Vertel my alles wat jy weet, Camelia?” versoek hy. Hy leun met sy elmboog op die blad van die spieëltafel sodat sy nie net vir hom sien nie, maar ook die weerkaatsing van sy agterkop en skouers.

“Luister, jong, wat probeer jy doen?” spreek sy hom fronsend aan. “Ou koeie uit die sloot grawe? Mens bly uit ’n ander ou se huwelik uit, of dit nou jou broer of pa is.”

“As dit waar is, kan grootmeneer Rabie nie net loskom nie,” mor Frank.

“Ek verstaan dat jy ’n soort verering vir jou ma koester … aanhou koester.” Camelia staan op en kom tot by hom, kyk af op sy kroon van donker, krullerige hare. “Vergun my om uit haar en jou pa se sake te bly.”

“Dis nie ’n kwessie van verering nie,” weerlê hy bot. “Dis …” Hoe moet hy dit aan enigeen verduidelik? Haar skoonheid was vir hom ’n streling, ’n salwing. Van kleins af kon hy hom verlustig in dit wat ’n plesier vir die oog is. ’n Mooi, afgeronde vrou wek in hom dieselfde gevoel as ’n goeie klavier, ’n produk van vakmanskap. Om dit met streling aan te raak, die regte tone daaruit voort te tower.

In dieselfde sin is hy hom ook van Camelia bewus. Hy kan hom verloor in haar skoonheid, in die volmaakte lyne van wenkbrou en ooghoek, van bors en heup. Hy is woedend as hy dink aan die praatjies aangaande haar en Dorfling, die fotograaf. Hy maak hom wys dat dit waar is, en ly pyn daardeur. Nie dat hy op haar verlief is nie, o nee. Sy maak hom net bewus van die misterie van die vrou, dit wat hom tot dusver nie juis beroer het nie.

Hy dink aan die lompheid van onafgeronde skooldogters. Daar is min van hulle wat vroeg reeds die gladde streling van blik en beweging besit, sonder dat ’n periode van swak koördinasie hulle spiere ontwrig, sonder dat pynlike selfbewustheid of misplaaste selfvertroue ’n wanklank bring.

Is dit waar van jou en Dorfling? sou hy in hierdie ongekende oomblik van openlikheid wou vra. Maar dalk vernietig hy te veel daardeur. Dalk is dit wyser dat hy die vraag inhou en na sy kamer toe teruggaan.

Onwillig wens hy haar ’n goeie nagrus toe. Sy is steeds genaakbaar, maar ferm genoeg om niks verder aan hom te verklap van wat sy weet aangaande sy ma en Flip Rabie nie. Hy ken haar goed genoeg om te weet dat sy onopsigtelik maar volkome kan toeklap. Beth is meer gemoedelik en gelykmatig. Hy moet dan seker dankbaar wees oor wat Camelia wel laat blyk het. ’n Paar dae saam. Sy ma en Rabie. In sy gedagtes is Rabie meteens nie meer vir hom “meneer” nie.

Ontevrede staan hy voor sy venster. Hy het die troosvol ruisende gaslamp doodgemaak en staar nou die donker nag in. Hoe kan ’n mens jou nie misgis nie. Hy was tot dusver versot op Rabie. As prefek het hy alles in sy vermoë gedoen om die man te help toe die hoof tot onlangs oorsee was en Rabie in sy plek moes waarneem. Hy het gedink die toegeneentheid is wederkerig. Nou weet hy van beter. Rabie het maar net baie gehad om te verberg en te vergoed, dis al. Het Rabie skuldig gevoel? Hoe anders?

’n Traanlose hartseer vul sy gemoed. Agnes, die pragtige moedertjie van hom. Die meeste vakansies besoek hy haar, maar dit voel vir hom of hy nooit ’n onverdeelde mens sal wees nie. Hy weet nooit presies by wie hy hoort nie. As hy na Agnes hunker, voel hy skuldig, asof hy sy pa verraai. En terwyl hy by Agnes kuier, voel hy dat hy vir altyd by haar hoort, om haar op te pas en te beskerm, teen andere en teen haarself.

Maar Rabie, die onnie vir wie hy die grootste verering gehad het. Sal hy ooit weer iemand kan vertrou? Wrok het in hierdie vreemde reënnag in hom kom nestel. Hy sou die man wou kwes waar dit hom die seerste maak. Hoe onaantasbaar het Rabie nog altyd voorgekom, ongeraak deur spot of byname, sodat dit vir geen skoolkind ook lank smaak gehad het nie. Hy was net te gewild om in onguns te verval.

Nou is alles openbaar: hy is ook maar net ’n swakkeling, ’n dief van geluk. Iewers moet ek hom kan aanraak waar dit hom sal kwes en pynig, dink Frank Moorrees weer. Wat is daar waaraan hy besondere waarde sal heg? Sy gedagtes dryf los, slierterig. Hy sien in sy gemoed vir Rabie, die manlike voorkoms, die sobere selfvertroue. Vergenoeg in sy onafhanklike persoonlikheid wat dit kan bekostig om na ander mense uit te reik.

Maar die beeld is nie voltooi nie. Ongevraag verskyn daar nog ’n gestalte langs die gedagtebeeld. Dis ’n skadubeeldjie, kleiner, broser: Winky. Die dogter van Flip Rabie. Verbaas dat die antwoord hom so maklik kom opdring, glimlag Frank die donkerte in. Sy is jonger as hy, maar saam in die klas, hy is ietwat laat in die skool gesit en sy ietwat vroeg. Slimkop, haar pa se kind. Hoofrol vertolk in die operette, met haar suiwer jong sopraan, haar sprekende oë wat hom as die begeleier by die klavier ongemerk stip dophou vir die noot waarop sy moet inval. Hy het toe reeds agtergekom dat sy nie onbewus van hom is nie. Hy het hom tot dusver onkundig gehou daaroor, omdat hy totaal ongeraak was daardeur.

Maar in hierdie nag het hy tot ontwaking gekom.

Die uurglas wentel

Подняться наверх