Читать книгу Skerwe van geluk - Louisa du Toit - Страница 3
1
ОглавлениеDe Wet verbeel hom, en heeltemal tereg ook, dat hy Madie se woonstel gouer sal bereik as hy die trappe twee-twee opdraf. Daarom is hy uitasem toe hy voor die geslote deur op die balkonstoep tot stilstand kom.
Hy draai die knop. Soos hy verwag het, is dit nie gesluit nie. Hy skud sy kop vermanend asof sy hom kan sien. Hy sal weer ’n keer met haar moet praat. Hoekom moet sy haar tog so koppig hou? Die opdrag van sy ouers lui dat hy na haar moet omsien. Maar hoekom moet hy? Sy is nie ’n eie suster nie. Daarby hou sy haar koppig. As hy nie so haastig was om sy afspraak met Emaline na te kom nie, het hy die hele aand vorentoe gebruik om Madie se aandag opnuut te vestig op die kwessie van veiligheid in die stad.
In die paar maande wat sy hier is, moes hy heelwat petrol uitry om te kom kyk of sy tuis en gemaklik is. Hy het ’n idee dat sy ouers ook oor hóm geruster voel, asof Madie se teenwoordigheid hom van allerlei onheil kan vrywaar.
Hy besluit om haar die skrik op die lyf te jaag op die half grappige, half meewarige toon wat hy altyd teenoor haar gebruik en wat die beste werk. Hy maak die deur saggies oop, stap binne, maak sy stem dik en roep: “Enigiemand tuis? Jou lewe of jou geld!”
Die kamerdeur gaan na ’n rukkie op ’n skreef oop. ’n Vrouehand kom te voorskyn en ’n paar muntstukke klingel oor die woonkamervloer. Die hand verdwyn weer, die deur gaan toe. Op ’n manier voel dit soos ’n valhek wat sy in sy gesig toeklap. Sy het die geld nie saggies neergegooi nie, maar gesmyt. Half minagtend.
As ’n ligte toon nie meer met haar werk nie, wat dan? Hy weet nie hoe om op ernstige vlak met haar te kommunikeer nie. Gestel sy ontgroei hierdie soort geselskap? Dalk het sy reeds, en verkies sy nou groter volwassenheid. Met ’n vreemde vermoede dat hierdie gemaklike faset van sy lewe dalk onherroeplik kan verander, gaan De Wet sit op die rusbank wat uit sy ma-hulle se huis kom. Hy begin aan die gesoute grondbone in die bakkie op die koffietafeltjie peusel. Te laat dink hy daaraan dat dit dalk vir iemand anders bedoel is. Hoekom bad sy so vroeg? Seker te veel gehoop dat dit vir ’n aandjie saam met vriendinne is.
Dit sal meebring dat hy haar ook teen stedelike mans moet waarsku. Nie heeltemal korrek nie, natuurlik. Hier is soos elders goeie en slegte mense. Maar hy kan dit waag om haar ’n bietjie te boelie. Hy is reeds twee jaar hier, sy is ’n nuweling. Dit kan hom help om terug te glip in die gemaklike styl waaraan hy gewoond was: hy die “ouboet”, sy die aangenome sussie.
Sy het dit ook altyd nog gerieflik gevind. Hy was die een wat moes help as haar fiets stukkend of haar boektas te swaar is. Dis waar, sy het hom bederf met koeldrank aandra en vuil glase wegvat, maar so werk dit in ’n gesin. En sy vorm tog werklik deel van hulle gesin. Eintlik is hy en Madeleine de Koker niks van mekaar, sover dit familiebande betref nie. Dis ’n geval dat haar ouers in ’n motorongeluk dood is toe sy in graad nege was. Die De Kokers se huis was onmiddellik langs die dorpshuis van sy ouers waar sy ma in weekstyd gebly het om hulle skoolkinders te versorg.
Dit was net logies dat hulle hierdie weesdogter onder die vlerk sou neem. Vakansies en sommige langnaweke is sy dus na haar ouers se familie toe, maar volgens haar eie keuse het sy deur die kwartaal by die Vermeulens gebly en saam met hom skoolgegaan. Hy is ’n laatlam en sy twee ouer broers is voor hom uit die huis, nou reeds getroud. Naweke is sy dan saam met hulle plaas toe. Die afgelope jare is die plaas verhuur, ploeggrond en weiveld, maar die opstal is nog tot hulle beskikking, asook ’n klompie slagvee. Op die dorp hou sy pa hom met sweiswerk besig en solvent.
En dis die hele storie. De Wet gooi nog ’n handvol grondbone in sy mond en roep: “Is jy amper klaar? Ek het nie tyd nie. Emaline wag. En jy weet sy is nie die soort wat lank hoef te wag voor iemand anders haar gryp nie.” Hy weet Madie luister wel.
Die kamerdeur gaan weer op ’n skreef oop en hierdie keer steek sy haar kop uit. Sy moet inderdaad pas uit die bad kom, want haar blonderige hare krul klam in haar nek. “En ek,” sê sy, “het ook nie vanaand tyd om te sit en kuier nie. As jy koffie wil hê, maak self, alles is by die ketel. Ek gaan uit, ingeval dit jou interesseer. En ’n man soos hy sal ook nie lank hoef te wag voordat … jy weet mos.”
Haar houding sê: Smeer dit op jou brood en sluk dit. Sy wil die deur weer toetrek.
“Hokaai,” keer hy. “Watter man? Van wanneer af? Waar het jy hom opgetel?”
“Nie heeltemal op straat soos jy vir Emaline nie.”
“Ek eis ten minste dat jy iemand aan my voorstel voor jy begin afsprake maak.”
“Askies vir die wals, De Wet Vermeulen. Wie is jy om my afsprake te keur?”
“Wel, ek sien om na jou.”
“Dat jy in die verlede na my fiets omgesien het, ook maar net, en uit eie keuse, beteken nie jy het iets oor my te sê nie.” Sy is werklik ernstig, en vererg ook.
“Ma en Pa het gesê ek moet na jou kyk,” opper hy lammerig.
“Dis ’n gawe grap.” Daar verskyn meer van haar, sodat hy die bekende kamerjas sien, en die kaal voete. “Wil jy die waarheid weet? Jou pa en ma het gevra ek moet ’n ogie oor jóú hou, omdat hulle nie vir Emalientjie vertrou nie. Dis die hele storie en skoert nou.”
Dikmond en ontevrede bly hy sit. Laat Emaline dan vanaand maar op hom wag. Hy durf nie hier weggaan voor hy gesien het met watter soort vent Madie haar ophou nie.
Toe sy uit die kamer kom, ten volle geklee, sit hy nog daar.
Hy kyk verbaas. Madie lyk vyf jaar ouer en heeltemal vreemd. Die krulle is styf teruggekam en maak ’n bol teen haar agterkop. Sy dra ’n eenvoudige maar treffende swart rok, styf genoeg om te wys sy is vrou.
“O my liewe, jy het ’n little black dress aangeskaf,” wanhoop hy.
“Het jy ’n probleem daarmee?”
“Jy wys elke kontoer, soos ’n atlas. Jou ouers sal in hulle graf omdraai,” speel hy die ou troefkaart.
“Jy vang my nie meer met daardie een nie. My ouers sou die rok vir my help uitsoek en betaal het.”
“Gaan trek liewer ’n denim en top aan,” raai hy aan. Hy voel werklik ontstig.
“Raak geraai oor die top. Ek gaan my moulose jean jacket hierby aantrek, dan lyk dit meer informeel.”
Hy vermoed dat sy hom tart om hom oor sy baasspelery terug te kry. En hy voel tog verlig om van die baadjie te hoor. Sy het dit jare al, sodat dit skoon saf gedra is.
“Dankie tog, dit sal jou minder soos ’n prikkelpop laat lyk. Jy wil nie op ’n straathoek opgepik word nie, of hoe?”
Eintlik lyk sy allermins goedkoop, eerder eksklusief, met slegs ooggrimering en ligte lipstif. Die groen skerwe van haar oë is verrassend skielik in die bleek gesig. Sy brand nooit regtig bruin nie.
Voordat hy weet waar hy is, gryp sy die bakkie met orige grondbone en smyt dit in sy rigting. “As jy vuil gedagtes het, moet dit nie op my projekteer nie.”
Hy koes en keer. “Toe maar, ek trek terug. Het dit nie bedoel nie, sussa.”
“Sussa jouself, jy is niks van my nie.”
“Maar dis nie rede om alles te smýt nie. Eers die geld, en nou …” Gegrief begin hy grondboontjies optel en wil dit eers in sy mond stop, besluit dan dat dit ’n wonderlike idee is om dit vir haar watwonderse kêrel te los. Dis ’n genoeglike gedagte dat die vent De Wet Vermeulen se oorskiet sal eet, en dit van die vloer af.
“As jy dogtertjie wil hê, sal jy dogtertjie kry.”
“Dit alles nou net oor ek iets van jou rok gesê het.”
“En wat sal ons van jou Emaline se klere sê? Sy laat werklik nie veel aan die verbeelding oor nie. Flentertjies lap wat sy om haar lyf drapeer …”
“Jy het haar nogal goed bestudeer. Is jy dalk jaloers?” wil hy nydig weet.
“Op so ’n tert? Hoor hier, De Wet, ek verkies dat jy padgee. Bel in die toekoms en maak ’n afspraak as jy hier wil aankom.”
“Jou beroemde humeurtjie.”
Dit moes hy nie gesê het nie. “My humeurtjie? Is dit wat dit genoem word? Het enige van julle Vermeulens ooit probeer uitvind wat daaragter skuil? Hoeveel ek verloor het? Hoe ek my verdriet probeer wegsteek het?”
“Ons het ons bes vir jou gedoen,” opper hy gepynig.
“Dan sê ek nou vir jou, julle kon beter. Jou ouers is dierbare mense, maar hulle weet net van seuns en varkies grootmaak.”
“Madeleine de Koker!” Hy is eindelik ook kwaad, gegrief. Die hoenders in, wat ook al. “Jy byt die hand wat jou gevoed het …”
Hy het met ’n ligte hart hierheen gekom, onvoorbereid op die furie wat hy gaan ontketen. En dit lyk of hy met elke opmerking dieper in die gemors beland.
“Loop net,” kners sy dit uit. “Jy haal vanaand die lelikste uit my.”
“En dan verwag my pa en ma ek moet ’n ogie oor jou hou. Dit spyt my, maar dis onmoontlik, sal ek vir hulle sê.”
“Sê wat jy wil. Tot siens.” Sy druk hom fisiek deur toe. Hoekom laat hy dit toe? Hy is langer en sterker as sy, hy kan sy staan behou. Maar hy is bang vir haar soos sy nou is. Tog staak sy vanself die poging, asof sy besef hoe belaglik dit is.
’n Ysige voorgevoel laat sy voorarms kriewel. Wat gaan met haar aan? Waarop stuur sy af? ’n Totale breuk met die enigste gesin wat sy werklik oorhet? Op watter vreemde en dalk krom paaie wil sy haar begewe? En hoeveel het haar “afspraak” daarmee te doen? Is dit iemand wat haar gemoed vergiftig?
“Wie is die man … in jou lewe, of hoe sal ek sê?” Hy wou fors klink, maar sy stem kom bra flou deur.
“Hy het ’n naam. Theo. En hy is ’n buitengewone dosent in argeologie. Goed genoeg?”
“Seker, ja,” antwoord hy oorbluf. Hy self het vurig begin studeer, maar gou opgeskop en liewer met ’n paar buitemuurse kursusse sy vaardighede in rekeningkunde geslyp. Hy het sy ouers tevrede gestel met allerhande vaaghede oor bevooroordeelde proffies en vakke wat bots. “Is hy professor, of doktor?”
“Hy is nog meneer. Hy werk aan sy proefskrif. Baie hard ook.”
“Alle geleerdes moet seker iewers begin. Watter universiteit?”
“’n Kollege. Moes ek uitvra om beter aan jou verslag te doen?”
“Hoe lank sien julle mekaar al?”
“’n Maand, maar nie gereeld nie. Sy program is baie vol.”
“Waar presies het jy hom ontmoet?” Sy stemtoon spel twyfel.
“Hy het my in die reën opgelaai.”
“Jy het jou deur ’n vreemde man laat oplaai?” Hy is wys genoeg om nie weer die woord “oppik” te gebruik nie.
“Ja, en hy het my nie vermoor en in ’n ou gruisgroef gegooi nie. Daar was ’n parkeerplakker van die kollege op sy kar se ruit, en hy was ordentlik, en ek was papnat gereën. Hy het my woonstel toe gebring en koffie gedrink. Ons was twee keer daarna uit, en ek voel veilig by hom.” Sy is nou ernstig, ietwat uitgewoed. “En ek sal regtig diep dankbaar wees as jy betyds gaan, De Wet. Ek wil nie hê hy moet dink …”
“… dat ek jou hartlam is nie?” snap hy gegrief.
“Dis nie juis dit nie. Dis eerder dat jy van lawwe … ek bedoel lughartige geselskap hou. En hy …”
“Hy praat geleerd? Red my siel.” Hy rol sy oë plafonwaarts.
“Nie geleerd nie, maar ernstig. Hy is die eerste mens wat my nie soos ’n opgetelde lappop behandel nie.”
Hy wonder skielik hoe sy, verblind van reën, die plakker op die voorruit so maklik sou kon eien. Sy sou dit mos eers kon sien as sy binne sit. Hy wonder ook of sy die hele storie van die manier van ontmoeting versin het. Maar sy het nogal eerlik geklink.
Oplaas begin dit tot hom deurdring dat sy vanaand werklik snaaks en anders is. Die afgelope tyd het dit nie so duidelik geblyk nie omdat sy nog pal besig was om woonstel in te rig en in haar werksomgewing bekend te raak. Hy, De Wet, met wie sy nou so snaaks is, het met sy pa se bakkie die meubelstukke aangery en die bakkie weer teruggevat. En werklik, hy kan nie onthou of sy dankie gesê het nie. Dalk was die meubels ook nie goed genoeg nie? Dalk voel sy dis aan haar afgesmeer, en dat sy moderner winkelgoed wou hê?
En voor sy stad toe gekom het, het hy haar ’n lang tyd glad nie gesien nie. Laas toe hy vir ’n langnaweek huis toe was, was sy na haar ver familie toe. Emaline Kemper was saam met hom en hy was eintlik bang dat Madie se pad hare moet kruis. Uiteindelik het Madie wel betyds genoeg tuisgekom om vir Emaline te ontmoet, maar sy het ’n gepynigde gesiggie opgesit en skaars self ’n woord gesê, net na Emaline geluister. Ander kere het sy vir Emaline net skrams gesien. Nou het sy haar mond danig vol oor Emaline se kleredrag.
Sy gedagtes steek vas by die besef dat hy vir Madie eintlik ’n bietjie afgesterf het. En dis waarlik jammer, want sy is vir hom ’n groot aanspraak met dié dat hy nie susters het nie.
Dit was veral gaaf om die afgelope tyd sommer net hier in te val op pad na Emaline toe of terug, en nou word dit hom ontsê. “Aag, nou ja, dis maar die vreugde van broer wees: As jy nodig is, is jy daar. As jy nie nodig is nie, moet jy skoert. As dit dan jou wens is, sal ek padgee. Maar hoekom kan ek nie bly en hom ontmoet nie?”
“Luister, De Wet,” praat sy nou mooi terwyl sy naby hom staan. Hy kry die subtiele geur van ’n nuwe, duur parfuum en dit laat die vervreemding dwarsdeur slaan.Voorheen was die billiker parfuum van afdelingswinkels vir haar goed genoeg, en dit was ongekompliseerd om dit of badskuim op haar verjaardag en met Kersfees te gee.
“Luister,” herhaal sy, “waarom sal jy nou probeer om my in verleentheid te plaas? Dis die eerste keer dat Theo by my woonstel kom. Stel jou voor, as jy in sy skoene was: Jy kom ingeloop nadat die meisie vir jou die deur oopgemaak het. Jy laat jou oë deur die vertrek dwaal. Daar op die bank sit ’n gomtor in ’n denimbroek en bont hemp en hy lyk ewe tuis, eet grondbone soos ’n dieretuinaap. Hy bekyk jou van kop tot tone. Terloops, jy self is netjies aangetrek, pak en das kompleet. Wat sou jy doen?”
Hy weet dat sy hom met die oordrywing probeer afskrik. Hy kyk haar aan en weet nie of hy kwaad of geamuseerd moet wees nie. Hy dink kastig diep. “Ek weet,” erken hy eindelik, “ek sal sê: Boggom, los vir my ook iets, ek behoort aan dieselfde spesie.”
Madie lyk moedeloos. “Ek vra weer, bel my voordat jy kom. Dit sal net soveel geriefliker wees. En dink jy nie dalk Emaline wag vir jou nie? Jy is mos bang ’n ander ou krap in jou slaai as jy ’n halfuur laat is.”
Sou sy waaragtig ernstig wees? Dat hy moet bel voor hy kom? In sy diepste gemoed voel hy seergemaak, maar besluit koppig om dit nie te toon nie. “En dink jy nie dalk,” kap hy terug, “dat jy my afsprake met Emaline kan verongeluk nie? Wat moes sy nog altyd dink van my mense wat so naïef is? Vandat jy hier is, veral. Sy spot my reeds omdat ek jou moet oppas. Sy’s ’n gebore stadsmens, sy’s hier so tuis soos ’n vis in die water. Wat moet sy dink van ’n man wat ’n sussie het wat nie weet wat garnale, ’n saunabad en unisex klere is nie?”
Toe hy hom kom kry, het Madie se oë vol trane geskiet. Dis asof daar wolke voor die son ingeskuif het. Sou dit trane van woede wees, wonder hy, en word dit van hom verwag om haar te troos? Sy het nog nooit gehuil as hy haar terg nie. “Aag, jong, wat’s dit nou met jou?” probeer hy paai. Hy klop haar saggies teen die slouer soos ’n mens met ’n skreeuende kleintjie sal doen.
“Hou jou hande van my af,” roep sy boos en met die trane op die punt om vryelik te vloei. Hy put genoeë daaruit: Haar gesig sal rooi gehuil en haar grimering bederf wees as die vent kom.
“Maar, Madie …” Hy gryp rond na die ou vertroulikheid, die onskadelike pret, die vryelike omgang van vroeër, maar alles voel meteens anders. Hy haal sy skouers op. Hy het vanaand oorgekom om vinnig ’n bietjie lekker te ontspan, koffie te drink, te terg en te klets en dan weer ongehinderd sy gang te gaan en sy afspraak met Emaline na te kom. Hy pluk die deur oop.
“De Wet, ek … ek is jammer, ek wou jou nie wegjaag nie.”
“Toemaar, ek verstaan,” sê hy koud. “Jy voel jy behoort nou buig of bars al jou bande te verbreek. ’n Nuwe lewe, ’n nuwe toekoms, ’n kwasi-geleerde ou.”
Toe hy sy voet by die deur uit sit, deins hy byna agteruit. Die man op die kaal balkonstoep staan so roerloos en sy oë staar so stip deur die ondeurdringbare lense van die swartraambril dat hy soos ’n standbeeld lyk. Of ’n winkelpop, dink De Wet smalend.
Hy snap ineens die hele situasie. Wat Madie gevrees het, is besig om te gebeur. Deur sy teenwoordigheid, en meer nog deur sy laaste woorde, kan nie net hierdie afspraak nie, maar haar hele vriendskap met die vreemdeling skipbreuk ly. Hy kan nie anders as om ’n bietjie skadevreugde te ondervind nie.
Tog voel hy ook ’n prik van gewete en wonder wat hy kan doen om die saak te beredder. Hy wil nie werklik vir Madie ongelukkig maak nie, al besluit hy sommer met die eerste oogopslag dat hierdie vreemd formele vent nie by haar pas nie.
“Toemaar,” sê hy ongeërg vir die man wat steeds botstil staan asof hy voor ’n opstandige klas verkeer, “ek is net haar broer, meneer.” Hy skuur verby, skielik oorbewus van sy slenterdrag.
Toe hy weg is, stap Theo Lendorf nader aan Madie. Sy het haar vinnig onder beheer probeer kry, maar die spore van hartseer is nog onmiskenbaar daar.
“En dit?” eis hy. “Jou broer?” Hy kyk skerp na haar. “Meisies huil nie oor broers nie. Dis jou kastig aangenome broer, nè?”
Sy het hom wel in breë trekke oor haar verlede ingelig. “Ons is soos eie,” prewel sy. “En hy maak my so kwáád.”
“Wat is sy naam nou weer?” vra Theo.
“De Wet.”
“De Wet? Is dit sy van?” vra hy fronsend. “Jy het laas ’n ander van gesê.”
“Vermeulen. Sy van is Vermeulen. Sy ma was ’n nooi De Wet,” brei sy uit.
“En jy is De Koker. Help my reg as ek verkeerd is, maar hy is niks van jou nie.”
“Jy verstaan nie. Ek het wel verlangse familie, maar die Vermeulens is my gesin.” Hy laat haar voel soos ’n student wat verbrou het.
“Jy bedoel eintlik hulle het barmhartigheid aan jou betoon.”
Dat hy haar gevoelens van die afgelope tyd so goed opsom, verbaas haar. Theo is ’n besondere man, fyn van aanvoeling. Sy het toenemend besef dat die Vermeulens haar nooit self uitgenooi het om deel van hulle gesin te word nie. Sy het voor die begrafnis van haar ouers ontredderd aan tannie Mart gesê: “Ek wens ek kon liewers by julle bly.” Want haar ouers se familie het opgedaag en was besig om oor haar toekoms te kibbel. Sy het ook gewroeg omdat sy so ’n moeilike vroegtiener was. Haar ouers was nie van die geduldigste nie, het as twee ongelyke nature self heelwat struweling gehad, aangewakker deur ’n verwyterige tiener. Dis juis Mart wat, toe Madie dit huilend lug, getroos het: “Jy mag so voel. Dis oukei om nie oukei te voel nie.”
“Nou as jy by ons wil bly, kom dan,” het Mart Vermeulen bloot gesê, op haar effens afgetrokke manier. Sy is ’n deugsame vrou, maar nie vrygewig met emosies nie. Oom Lood is die uitgaande een, die geselser. Daar is mense wat dink Mart is onvriendelik. Madie het toe reeds die vorige nagte by hulle geslaap, in die dorpshuis waar Mart en die seuns weekstye vir skool gewoon het, en die kamertjie daar was lekker bekend, ’n skans teen die groot skok en verwarring en leed.
Mart en Lood het van aanneming gepraat en as alternatief pleegsorg, maar het ruiterlik verklaar dat hulle nie in die toelaag belangstel nie. Madie wou ook nie op die rand van hulle bestaan lewe as wetlike toevoegsel nie. Liewer net sorgsame vriendskap, het sy met vroeg gerypte insig gevoel. Daar is ooreengekom op volwasse toesig. Goedgekeurde voogskap, as ’t ware. Haar bloedfamilie is haar toegeneë, maar almal het kinders en was lugtig vir die verantwoordelikheid. Genadiglik was nie een van hulle oor geld begaan nie, of hulle het dit nie gewys nie. Lood het dus haar pa se polis en ander opbrengs uit die boedel vir haar belê, en daar moet reeds ’n aardige bedrag rente wees. Hulle wou nooit hê dat sy vir gewone behoeftes daarvan trek nie. Dalk koop sy vir haar ’n motor, een of ander tyd eiendom. Maar die tyd is nie vir enigiets ryp nie, dus wag sy nog.
“Goed,” gee Theo verstandig in, “dit klink aanvaarbaar. Maar moenie te gerus voel nie. Vir my lyk hy soos ’n regte wolf.”
Nou lag sy deur haar verwesenheid. “En hy,” verklaar sy, “het my op sy beurt kom waarsku teen die wolwe van die stad en afsprake met mans wat ek skaars ken.”
Hy glimlag toegeeflik saam. “Jy lyk mooi,” sê hy dan opreg. Met duidelike waardering bekyk hy haar, terwyl hy haar aan die boarms vashou. “Maar het jy iets vir jou kaal arms, as dit koel word?”
“Ek het,” bevestig sy dankbaar, skielik oorval deur dankbaarheid omdat ’n man soos hy hom aan ’n onervare meisie van onbepaalde herkoms steur. Hoe netjies en afgerond lyk hy in sy wit hemp en maroen das, die pak klere. En hoe geleerd, met die bril. Sy hare is netjies kort gesny met ’n wipperige kuif, anders as De Wet s’n wat ongetem in sy nek krul. Hy is van medium lengte, korter as De Wet, maar stewiger, met donkerder hare. Bruin oë.
“Ek het vir jou grondboontjies reggesit, ’n aptytwekkertjie voor ons vir ete vertrek. Maar De Wet het …” Sy wil grappig herhaal van die dieretuinaap, maar voel dislojaal en swyg liewer.
“… het hom nie aan eiendomsreg gesteur nie,” voltooi Theo. “Want hulle glo mos hulle besit jou. Is my afleiding korrek?” Dis duidelik dat hy ’n meningsvormer is, en gewoond om te ontleed.
“Die oom en tannie is gaaf,” kry sy uit. “Sit, Theo.” Sy beduie hom bank toe en neem self op ’n stoel plaas, versigtig om nie haar bene suggestief te kruis nie. Liewer nie langs hom sit … nie te veel te vinnig nie, maan sy haarself. Wat dit betref, is De Wet reg. Sy het nie baie lewensondervinding nie. Haar lewe by die Vermeulens was beskut, ook die twee jaar wat sy na skool op die dorp gewerk het. “Wat sal jy drink?”
Sy is benoud dat hy whisky of iets kan kies, maar hy glimlag ontwapenend: “Het jy boeretroos?” Hy klink nou soos ’n seuntjie, en ’n warm gloed vul haar binneste. Hierdie man moet ek beter leer ken, dink sy vir die soveelste keer.
“Is kitskoffie reg? Maar suiwer, sonder sigorei?”
“Perfek.”
Sy weet dat hy haar dophou waar sy in die kombuishoekie vroetel. Hoekom bewe haar hande? En hoekom voel sy lus om te huil, werklik te huil, nie krokodiltrane soos netnou toe De Wet haar verpes het nie? Sy hunker na die Vermeulens se veilige bekendheid, die gestamp van die pieringrand waarmee Mart die mootjies kalfsvleis kap om dit sagter te kry voor sy schnitzel maak. Lood se besondere manier van voete skoonskraap as hy van die tuin af inkom.
Maar sy onthou ook waarom sy liewer stad toe verkas het: om ’n eie lewe na te jaag. Sy kon die goeie kantoorwerk kry deur die konneksie van die plaaslike prokureur.
Dat De Wet reeds hier gevestig was, was nie ’n oorheersende faktor nie. Tog het dit sy ouers gerus gestel, en sy kon die skuif makliker uitvoer. Nou moet sy hoor dat hy haar kastig moet oppas. Wie sal hóm oppas, met daardie flerrie in die omgewing?
Wat De Wet gevrees het, dat Theo haar in haar eie woonstel sal vaskeer en aanrand of vermoor, gebeur nie. Theo prys die koffie, drink rustig, vra dan of hulle kan gaan. “Ek het nie ’n tafel bespreek nie, maar in die vroeë gleuf behoort daar nie probleme te wees nie.”
Hy vat die sleutel by haar en sluit toe, sit sy hand liggies onder haar elmboog toe hulle die kaal sementtrappe af gaan. Sy voel altyd blootgestel wanneer sy in die aand alleen hier buite beweeg. Dis nie juis ’n eksklusiewe woonstelblok met sekuriteit nie. Sy het reeds met die oog iets beters gemerk, maar verdien nog te min. Van die Vermeulens wou sy nie meer geld vat nie, hulle het al genoeg op haar uitgegee. En hare gaan sy nie sommer trek met ’n toekoms wat nog voorlê nie. Sy kan eendag haar kinders daarmee help studeer.
Maar nou, met Theo by haar, ’n goedgemanierde gentleman, beskermend en bedagsaam, voel sy volkome veilig. Wil hy ernstig met haar raak? Wanneer sal sy uitvind waar hy woon? Moet sy vra, of sal hy haar self vertel?
Dan word haar vraag beantwoord toe hy verby die woonstelblok ry waar sy juis graag self sou wou woon. “Hier het ek op ’n tyd gewoon,” sê hy ewe beskeie en beduie met die kop na die luukse gebou waar ligte sag deur blindings en gordyne skyn. “Maar ek het nader aan die kampus getrek.” Hy is vir seker nie ’n spogter nie. Sy kar is nuwerig en kleinerig, maar netjies skoon en versorg.
Sy sou dit alles graag onder De Wet se neus wou vryf, maar hy is teen hierdie tyd knus in die arms van Emaline Kemper, die los, gemaklike een wat haar aan g’n konvensies steur nie en wat inderdaad seker die Vermeulens, en vir Madie daarby, baie naïef vind.
Emaline laat geen geleentheid verbygaan, so het Madie tydens hulle kort kennismaking vasgestel, om almal daaraan te herinner dat sy ’n fotografiese model is nie. Aan tant Mart het sy die rede vir haar sukses uitgestippel, duidelik ook vir Madie se ore bedoel.
“Hulle kyk eerstens na beenstruktuur,” het sy verklaar en met haar vingerpunte oor haar wangbene gevee. “Dan kyk hulle na goeie vel en tande. Dan soek hulle iemand wat ’n bewussyn van haar werk in haar omdra. Jy moet nooit vergeet wat jy is nie. Dan soek hulle ook lengte. Hulle soek ook niemand wat na aan ’n kindermodel kom, dit wil sê sonder selfbewustheid.”
“Is hulle regte mense, met ’n adres?” het Madie gevra toe sy dit nie meer kan hou nie.
Sy is aangekyk asof die kat haar ingedra het, en sy moet erken dat sy nogal ’n bietjie klein en vaal teen hierdie vroulike verskynsel gevoel het. ’n Mossie teen ’n glansvlerkspreeu. Teen sin en wil het Madie die ander meisie se byna wilde kleure treffend gevind. Raafswart hare, potblou oë, felrooi lippe, spierwit tande, maskara-omlynde oë, rouge-wange, turkoois laehalsbloes. Bene wat nie ophou nie, sonbruin vel, nie sommer enige meisie nie. Niemand kan De Wet verkwalik dat hy swymel nie.
De Wet het met trots vertel hoe sy in die wagtende tou by ’n poskantoor deur ’n agent ontdek is. “Lewe sy nie te ongeorganiseerd nie?” wou Madie snipperig ná daardie ontmoet-episode weet. Want hy het vertel hoe Emaline nie vir laatnagpartytjies skrik nie. “Sy moet tog te alle tye uitgerus en afgerond wees. En stiptelik.”
“Sy lyk altyd op haar beste,” het hy teruggekap.
“Seker met genoeg grimering, ja.”
“Nou is jy katterig.”
“En sy is nie, of hoe? Tipiese kattegedrag: As iets hol, is dit ’n speletjie. So, jy het gehol, en sy het jou aangekeer en sy speel nou met jou.”
“Madie, daar is ’n misverstand: Ek vra nie jou goedkeuring vir my meisie nie, ek vertel jou maar net van haar.”
“Wel, ek is nie geïnteresseerd nie, kies vir jou ’n ander gehoor.”
Van toe af het hy nogal minder oor Emaline probeer praat, hoewel hy maar graag die naam op sy lippe troetel. Soos vanaand weer. Eintlik is Madie hartlik siek daarvoor.
“’n Rand vir jou gedagtes,” sê Theo langs haar.
So deeglik, dink Madie. Hy onthou selfs om weens inflasie ’n sent na ’n rand te verhoog. “Dis te veel,”sê sy glimlaggend. “My gedagtes is op die oomblik niks werd nie.”
“Dis te hope.” ’n Skewe glimlag raak sy mondhoeke. Het hy gereken dat sy aan De Wet sit en dink? Wel, sy het, maar vlugtig, en dit net om haar oor Emaline te vererg, en oor sy eiegeregtigheid vanaand, asof hy volle seggenskap oor haar en haar woonstel het. Eintlik is haar volle gedagtes by Theo.
Hy kyk vlugtig na haar voordat hy weer sy aandag op die besige straat vestig. Die opwinding laat haar maag ’n draai gee. Iets in daardie blik het haar bo alle twyfel laat besef dat hy wel deeglik in haar belangstel, en dat hy nie van plan is om gras onder sy voete te laat groei nie.
“Soek jy gewillige arms om jou te omhels?” Hy het gesien dat sy haar hande om haar boarms vou. Inderdaad ontsnap niks aan sy aandag nie.
“Nie nou nie,” antwoord sy met ’n ademlose laggie. “Daarvoor sal jy die stuurwiel moet los, en ek wil darem nog lewe.”
“Vir my?” vra hy reguit.
Sy, wat in die Vermeulens se huis haar woord leer doen het, glimlag net effens en byt haar onderlip vas.