Читать книгу Skerwe van geluk - Louisa du Toit - Страница 4

2

Оглавление

“Nou kyk,” sê Emaline Kemper en plant haar hande op haar heupe, “vir een met ’n vol program is ’n halfuur lank om te wag.”

Om so suikerpot te staan, dink De Wet, is nie juis vleiend vir ’n hoog aangeskrewe model nie, maar hy moet erken dit verleen iets verleideliks. Sy dra ’n kort kortboekie en skraps bloesie.

“Ek het dit een keer aanvaar toe jy laat gekom het omdat jy jou fopsussie help trek het,” borduur sy voort. “Ek het dit ’n tweede keer aanvaar toe jy haar help inskud het. Verwag jy werklik ek moet dit ’n derde en honderdste keer aanvaar? Sedert sy gekom het, het jy nog niks anders gedoen as om soos ’n skoothondjie rondom haar te draai nie.”

“Ek weet jy’t nog nooit daarvan gehou dat ek aan my familie geheg is nie.”

“Familie nog miskien, ou dier. Maar daardie fopsussie van jou …”

“Ek word die duiwel in as jy haar so noem, want ek weet nie waar jy aan die woord kom nie. Ek glo dit staan in g’n woordeboek nie.”

“En natuurlik is jy onnatuurlik in jou vreeslike familieliefde. Vat nou ons gesin, byvoorbeeld …” Sy beduie met die kop rondom haar.

“Ek sien nooit veel van hulle nie, maar toe maar.”

“Dan hoop ek jy sien hulle nog genoeg om te besef dat jy en jou familie uit die ark kom met julle danige lojaliteit. My pa en ma het mekaar nog nooit aan bande gelê nie, ook nie hulle kinders nie. Ons is vry mense en daarom bly ons nog bymekaar. As ons alleen wil vakansie hou, is dit daarnatoe. As my ma lus kry om deur Europa te gaan ryloop, dan doen sy dit. Geld en besittings het vir ons geen waarde nie, ons geniet liewer die lewe daarmee as om hier ’n ou ornamentjie en daar ’n ou meubelstukkie te staanmaak, wat ewe ordentlik by mekaar pas.”

De Wet dink aan sy ma se keurig versorgde huis met die talle ornamentjies waaraan sy sentimentele waarde heg. Van die meubels is antiek. Is dit nou skielik ’n sonde?

Onderwyl sy praat, kyk hy in die Kempers se oopplanwoondeel rond. Soos Emaline sê: Dit lyk maar byeengeskraap. Daar is geen samehang tussen die verskillende meubelstukke nie. Rafels steek uit langs die mat se uitgetrapte kante en daar lê krummels op die kaal eetkamertafel. ’n Yslike lampskerm van gekleurde sakgoed, een van Margie Kemper se kunsterige maaksels, staan soos ’n mislukte vuurpyl in die hoek.

Weelde ken hy self nie, maar hierdie onkonvensionele manier van lewe en doen ewe min. Een ding is seker, dit verg nie veel moeite vir ’n ekstra persoon om by die huishouding in te skakel nie. Talle vriende, oud en jonk, wandel heeldag eenkant in en anderkant uit en die Kemper-ouerpaar beroem hulle daarop dat almal tuis voel.

De Wet luister hoe Emaline die algemene maniere, voorkoms en gang van hulle soort lewe goedpraat en hy dink: Eintlik moet ek Madie saamnooi hierheen, want sy sal behoefte aan huislikheid hê. Maar of sy hier tuis sal voel, is ’n ander saak. Dis eintlik baie lekkerder daar by haar in die klein woonstel, veral waar hy net ’n buitekamer huur. Maar nou lyk dit of hy by Madie nie meer welkom is nie. So ’n vervlakste kamma-prof met sy bril en stywe houding. Dink natuurlik Madie se fopboetie, om Emaline se terminologie te gebruik, is ’n ongeletterde Jan Rap. Hmf.

“Vir wat hmf jy?” wil Emaline geraak weet.

“Ekskuus, ek het dit net gedink. Ek bedoel, ek wou dit net dink.”

“Is dit omdat ek gesê het julle kom uit die ark? Dan wil ek dit net bevestig, hoor. Stel jou voor: Daardie fopsussie van jou moet opgepas word. Oppas. Belaglik. ’n Mens moet vry wees om self te besluit hoe jy wil lewe. Dis my ouers se standpunt en dit het nog altyd goed genoeg vir ons gewerk.”

“In vergelyking met wat?”

“Kyk na my, of hoe? Dis omdat ek vry voel en selfversekerd is dat ek so ’n goeie model is.”

“’n Model staan nie wydsbeen en hande in die sye nie.”

“Ek is nie nou voor die kameras nie.”

“Ek dog jy sê jy is altyd bewus daarvan dat jy ’n model is.”

“Aag, bla-bla-bla.”

“En jou sitvlak is ook te groot,” sê hy en raps haar daar. Maar sy stemtoon stel dit duidelik dat dit eintlik ’n pluimpie is en dat hy nie wil baklei nie.

“Watter man hou nie daarvan nie?” vra sy uitdagend en neem voor hom plaas in ’n tipiese houding van uitlokking.

“Skei uit, Delila, los dit vir die ateljee.”

“Wat doen ons vanaand?” vra sy en laat vaar die geposeerde houding om op die rusbank neer te plof. Daar rys sekerlik ’n onsigbare stofwolk uit, dink hy geamuseerd. “Almal is weg, jy weet. Die huis behoort aan ons.”

“Wat kan jy my aanbied?” vra hy met, in die eerste plek, ’n gedagte aan die yskas. Hy’t nog nie geëet nie en het gehoop dat hy by Madie geholpe sal raak. Sy het schnitzel by sy ma geleer maak. Sy het net ’n regte vleishamertjie in plaas van sy ma se ou piering.

“Sê wat jy wil hê,” bied sy aan.

“Roosterbrood met gebraaide eier, tamatie en spek.”

Sy kyk na hom asof hy ’n maanklip gevra het. “Jy weet,” sê sy, “jy’s die grootste tweebenige esel op aarde. Ek wonder waarom ek ooit nog na jou kyk, of in die eerste plek na jou gekyk het.”

“Omdat ek so aantreklik is,” verseker hy haar.

“Ja, helaas. Toe hulle daardie dag met jou by die foto-ateljee aankom …”

“Stil, mens.” Hy skaam hom dood as iemand van daardie dag hoor. Hulle was op die uitkyk vir ’n bruingebrande man wat in ’n tydskrifadvertensie as avonturier sou deug, en loop hom toe op die sypaadjie raak. Hy was pas terug van ’n tuisvakansie en inderdaad bruingebrand. Dis toe net daar wat hulle hom ateljee toe skraap en aankeer om vir ’n reeks vinnige foto’s te poseer. Nou ja, ’n ekstra geldjie was nie te versmaaie nie en om alles te kroon, het hy daardie selfde oggend by die ateljee met Emaline kennis gemaak. Hy’t hom so aan haar verkyk dat hy bo-oor ’n klomp toerusting geval het.

“Nie van die ratsste nie,” het die fotograaf opgemerk. “Solank jy dan maar net stilstaan vir die foto’s, meneer Vermeulen. Nou ja, ek gaan een spoel van ses en dertig foto’s doen. Wees net natuurlik.”

Toe het die gekliek begin soos masjiengeweervuur. “Daar’s hy. Ontspan. Gebruik die oë. Ontspan …”

Ontspan? Op die ou end was hy ’n waardelose model, want hoe kan ’n man ontspan as ’n meisie soos Emaline Kemper jou moedswillig met ’n glimlaggie om die lippe staan en betrag? Die foto’s is skynbaar uitgegooi, tot sy verligting. Jammer oor die fooi.

Toe hy daar uitkom, het hy haar terstond genooi vir ’n koppie tee om die eerste hoek.

“Dis presies wat ek wou hê,” het sy hom heel gemaklik verseker. “Heng, jy’s mooi bruin. Waarvandaan kom jy?”

“Af die plaas af,” het hy Madie se sêding gebruik.

“Toe maar wat, daar kan erger dinge gebeur. Jy kon byvoorbeeld uit die Sahara gekom het en dan sou jy so droog gewees het dat jy my hooikoors gee.”

“Wat’s verkeerd met my agtergrond?” wou hy verdedigend weet.

Dis waar, as hy terugdink, moet hy erken dat hulle uit die staanspoor oor die meeste dinge nie saamgestem het nie. Maar dis nogal opwindend. Jy weet nooit wat om te verwag nie.

“Nee wat, g’n fout nie. Nie wat saak maak nie. Jy’s mos nou nie meer daar nie. Jy’s mos nou hier. Gee my jou hand, ek wil jou goed bekyk.” Sommer daar by die kafeetafeltjie vat sy ewe vrypostig sy hand en bekyk dit van binne en buite, inspekteer sy naels.

“Hande vertel baie, weet jy?” het sy hom meegedeel. “Hande kan praat. Ek het modelhande, het jy al opgemerk? Hulle kan my hande alleen ook in advertensies gebruik. Jou hande is ongelukkig te breed.”

“Te breed vir wat?” wou hy gekrenk weet en terstond het hy sy hande onder die tafelblad ingetrek.

“Vir modelwerk, natuurlik.” Haar gesig was lewend van belangstelling. Beeldskoon, kleurvol en uitdrukkingsvol.

“My liewe juffrou …”

“Ekskuus, ek hoor nie mooi nie. Ek is Emaline, met een em en een el. In die modelwêreld is daar nie formaliteit nie.”

Hy was verskriklik bly om op voornaamterme te kom, maar ook verleë oor sy mislukking in die ateljee. “Nou ja, Emaline, laat ons net duidelikheid kry: Ek is g’n model nie en ek skaam my dood as iemand so moet dink. Hulle het my met ’n slap riem gevang, dis al. Ek het maar altyd geld nodig, dus …”

“Maar jy’t niks teen modelwerk as sodanig nie? Vrouemodelle?”

“Nie solank hulle saam met my koffie drink nie.” Hy was dadelik verlief en verlore.

“Jy staan nie te sterk op beginsels nie?” het sy gepols. “Of soek jy jou meisies nog rein soos lenteblomme? Mens kry hulle nie juis meer nie. En onthou net dat selfs lelies in ’n modderige vlei groei.”

Sy het hom raak opgesom. Hy is ’n normale man met normale behoeftes, maar uiteindelik sou hy graag ’n vrou wou hê wat net aan hom behoort. “Jy praat asof ek dosyne meisies het,” het hy ontwyk.

Hy kon nie ontken dat die woordespel opwindend is nie. En tot hede vanaand is Emaline vir hom die opwindendste skepsel op twee bene.

“Is ek dalk besig om in iemand se slaai te krap?” het sy uitgevis en met ’n laggie bygevoeg: “Lenteblomslaai?”

“Nee, jy krap in niemand se slaai nie.”

Dit, dan, is hoe hulle vriendskap sowat tien maande gelede begin het. ’n Vriendskap wat rondgolf soos die branders van ’n onstuimige oseaan: die een oomblik heftige meningsverskil, die volgende oomblik heftige vergifnis. Sy is uiters temperamenteel. Hy besef dat hulle altyd saam ’n onrustige lewe sal hê, veral omdat sy nooit as kind geleer het om haar emosies te beteuel nie. Sy ouers, aan die ander kant, was redelik streng maar gelykmatig.

De Wet weet dat hy ’n teenwig nodig het en wonder dikwels of hy dalk daarin sal kan slaag om Emaline te verander na ’n meer flegmatiese mens. Nee, seker nie. Sy sal bly wat sy is. Daarom was hy so bly toe Madie stad toe kom. Hy het gereken dat hy lekker by haar sal kan uitpraat, raad vra, soms net daar gaan sit en ontspan as dinge saam met Emaline te woelig en ontstemmend raak. Maar nou het Madeleine de Koker mos nuwer, geleerder vriende. Tja.

“Ekskuus?” vra Emaline.

“Nee, ek praat nie.”

“Weer ’n keer hardop gedink? Sê jy tja omdat ek nie vir jou roosterbrood met spek en eiers het nie? My liewe De Wet, ek is nie onwillig nie. Maar geen huishouding het vandag meer reserwevoorraad nie. In die eerste plek is hier nie vars brood in die huis nie, en in die tweede en derde plek is hier nie spek en eiers in die huis nie.”

“Wat is hier?”

“Ek.” Sy gly op sy skoot neer, en sy arms vou om haar en trek haar styf teen hom aan.

Hy vergeet voorlopig van die hongerpyne. As ’n man sy eie kos moet maak en nie geld vir uiteet het nie, skeep jy jouself af en oorleef op ongesonde lekkernye. Juis daarom het hy gedink, en sy ma het ook so gedink, dat hy pal by Madie sal eet en maandeliks ’n bydrae tot die koskas maak.

Verbrande laaistokvent wat sy pad daar aan ’t afsny is. Met sy bril soos Oupa Uil en sy kastig deftige kleertjies. Nog vyf jaar, en hy begin bles word, dit wys reeds. Dit kon De Wet met ’n enkele lang blik vasstel.

“Nou ja dan,” sug Emaline toe dit blyk dat sy aandag effens wegdwaal, “as jy nog nie lus genoeg vir my is nie, moet ek seker toegewings maak. Hier is nog van vanmiddag se oorskietkos in die louoond.”

“Gee maar,” stem hy dankbaar in terwyl hy dink aan sy ma se opgewarmde oorskietkos, die korrelrige rys, jong aartappeltjies, lamstjops, groenbone met botter en witpeper.

“Kom,” sê sy, duidelik trots op haar ingewing. “As die pad na jou hart dan deur jou maag moet loop …”

In die wanordelike kombuis lei sy hom stoof toe. Sy oorhandig ’n mes en vurk en trek die louoond oop. Hy kyk verwagtend: Daar staan ’n onbedekte bak met ’n stukkie verdroogde tjou-tjou wat vroeër in die dag dalk macaroni-kaas was.

“Aan die ander kant,” besluit hy en lê die mes en vurk verskonend op die tafel neer, “dalk liewer soen en druk. Ek is tog nie ’n klip nie.”

“Maak op jou mind of ek doen dit vir jou,” vererg sy haar. “Vat my dan uit vir ete,” bits sy verder. “Jy’s gedurig honger, en te suinig om iets te spandeer.”

“Maar ek kan nie elke aand … ek bedoel, ek verlang ook soms na huislikheid.”

Dit moes hy nie gesê het nie. Sy lag honend, veral omdat hy so ietwat bedremmeld daar uitsien. “Ag shame, baby. Ons het ongelukkig ook nie babakos in die huis nie, anders het ek dit vir jou gevoer.”

“Ag, loop,” vat hy self ook vlam. “Wat is so danig verkeerd daaraan as ’n man in die kombuis snuffel?”

“Vir jou inligting, ek is óók honger. Ek is ’n werkende girl. Maar nee, niemand dink ooit daaraan nie.”

Dis op die punt om te vra of haar vrye ma dan nie kos maak nie, maar hy weerhou hom.

Boos los sy hom alleen en hy hoor ’n deur iewers in die huis dawerend klap. Weer dieselfde ou patroon: Sy word kwaad, hy gaan vrede maak. Sy probeer hom sagmaak, hy bied weerstand. Sy jaag hom weg … hy kom weer, na ’n dag of twee of vyf.

Dat Emaline Kemper sy behae sowel as sy kruis is, kan hy nie ontken nie. Alleen sit hy in die Kempers se oopplankombuis en nadink. Onvermydelik sirkel sy gedagtes maar weer na Madie: Hy het gereken noudat sy hier is, sal die rusies met Emaline hom nie meer so ontstel nie. Hy sal van ’n woedende Emaline af altyd na Madie toe gaan, alles by haar bieg, en sy sou hom troos en onthaal totdat hy die rusie vergeet.

En nou?

Na alles wat hulle Vermeulens vir haar gedoen het … Maar nee, hy durf nie so dink nie. Wat het Madie nie alles vir hulle beteken nie? Altyd gereed om iets vir iemand te doen, nooit ’n klag oor haar lot as weeskind nie. As almal te traag is om van die televisie weg te breek, is dit Madie wat sê: “Sit maar, ek sal tee maak.” As almal naweke nog lê, selfs sy ma, hoor ’n mens vir Madie neurie waar sy haar week se persoonlike wasgoedjies aan ’t uitspoel is.

Snaaks genoeg, hy kan vanaand ook nie eintlik aan haar as Madie dink nie. Sy het so volwasse gelyk, so vreemd gehandel. Vanaand is sy Madeleine, soos die onderwysers en haar familie haar noem. Vir hulle almal, vir sy ouers veral. Hoe kan sy ooit dink dat hulle haar nie regtig wou gehad het nie?

Oplaas besluit hy: Vanaand gaan hy nie eerste vrede maak nie. Hy is moeg daarvan om Emaline te pamperlang en op te hemel. Hy is ook moeg om teen haar driftige natuur te veg. Sy probeer al hierdie maande nog om hom in die bed te kry, en dit druis teen sy manlike natuur in om haar te weerstaan. Is dit waarom hy uitweë soos kos en eetgoed soek om die intense spanning te verbreek, die helse stryd? En waarom konformeer hy nie maar net, soos geliefdes oor die hele wêreld heen nie?

Is dit ’n geval dat hy sy opvoeding gestand wil doen? Maar sy ouers is verstandige mense, en hulle weet van die lewe. Hulle sal hom nie veroordeel as hy planne maak om saam met Emaline in te trek nie. Saam sal hulle twee net-net ’n woonstel kan bekostig.

Moeg vir die vrae in sy eie gemoed, vir die ewigdurende worsteling, staan hy sonder onnodige bohaai op en verlaat die huis. Vir seker loer Emaline hom deur die venster agterna. Of het sy genoeg ander ouens wat sal kom as sy haar vingers klap, as sy die foon optel en bel?

Hy loop na sy motor, klim in en skakel aan. Net voordat hy ry, gebeur die onverwagte: Die voordeur vlieg oop en Emaline kom die paadjie afgesnel. Sy ruk die passasiersdeur oop en voordat hy hom kom kry, is sy langs hom op die kussing, teen hom, en sy pluk sy kop nader en soen hom oor sy hele gesig.

Sy huil, kom hy agter, en dit laat hom verteder; hy skakel die motor af en hou haar vas.

“Kom,” snik sy. “Kom saam met my. As jy my liefhet, sal jy kom.Waarom handel jy teen die natuur? Druk jy ons liefde in so ’n stywe vormpie in? Kom …”

“Emaline, asseblief, help my. Moet dit nie vir my moeiliker maak nie. Ek is nie daarvoor gereed nie. Fisiek, ja, jy weet hoe ek jou begeer. Maar emosioneel nie.”

“Hoekom nie?” Sy skuif so na as moontlik en druk haar styf teen hom vas. “Jy is nou op óns terrein. Kemper-grond. Hier is ons motto: Alles mag, niks moet. Vergeet van jou dorpse tradisies. Jy verstaan tog ek wil jou nie verkul nie, maar jy dwing my daartoe.”

“Verkul? Asof ons verloof of getroud is? My liefste Ems, dis juis die probleem. Ek wil ten minste graag ’n ring aan jou vinger sit, maar jy beskou dit as boeie.”

“O ja? Jy wil eers ten minste seker wees dat ons sal trou?”

“Om eerlik te wees, ja,” erken hy. Wat sal dit help om wegkruiper te speel? “Dis waar, ons is jonk, maar ek sien kans om saam met jou oud te word. Ek wil weet jy voel ook so.”

Sy skuif van hom af weg, en hy voel haar warmte wyk. Die ou storie, dink hy moedeloos: nadertrek, wegstoot. “Oud word,” gru sy. “Jy sien nie eers kans om saam met my jonk te wees nie.”

“Saam slaap, bedoel jy. Dis nie al wat daaraan is nie.” Hy dink aan sy ouers, hoe hulle ook maar kan verskil en struwel, hoewel nooit lelik nie. Hulle toon dat daar ’n dieper kompromittering nodig is om die storms van die huwelik te deurstaan.

“Ag, ek is sat vir jou slimpraatjies.” Haar hand huiwer op die deurknip om weer uit te klim. Van die trane is daar geen spoor meer nie. “Ek wonder of jy werklik mans genoeg vir my is. Of man genoeg, enkelvoud. Dat jy baie raar reageer, is gewis. Begeer jy my nooit?”

“Natuurlik, verskriklik, jy weet dit. En jy buit dit uit. Jy geniet my ellende.”

“Jou ellende is jou eie keuse. Waarom tog, De Wet? Jy’s immers ’n verligte mens en …”

“Gestel ons trou nie? Of met ander maats, wat nie met ons verlede kan vrede maak nie?”

“Ga! Weer lenteblombredie. De Wet, seblief, spaar my dit tog.”

“Lenteblomsláái,” korrigeer hy grimmig. “Luister, Emaline: Ek het ’n goeie vriend wat nie aan ringe glo nie. Die probleem is, sy meisie ook nie. Toe het dit nou die aand op ’n skietery uitgeloop toe hy by hulle plek kom en ’n ander man by haar betrap. Die ander man lê in Intensief. En my vriend het min verweer. Hy kan nie eers sê sy vróú was ontrou nie. Hy gaan tronksit.”

Emaline lag. “So? Sorg net dat jy nie met ’n rewolwer hier aankom as een van my boyfriends kuier nie.” Sy sit nou baie ver in die hoekie van die motor.

Hy word so moeg van die herhaalde bitterheid dat hy wens sy wil liewer weer die huis binnegaan sodat hy kan ry. Dan kan sy warm lyf en verwarde kop tot bedaring kom. Hy moes netnou vinniger weggetrek het om te ontsnap voor sy hom kon keer. Hy kon, maar hy het nie. Eintlik wens hy natuurlik dat sy hom moet ompraat. Oorrompel. Hy is immers net ’n mens, ’n man daarby en soek ten spyte van sy voorbehoud die uitlokking op.

“Die probleem, De Wet,” sê Emaline, nie sonder drama nie, “is dat my vriende my nie wil glo nie. Hulle dryf die spot met my situasie.”

“Wil jy my sê,” val hy haar ysig in die rede, “dat jy ons private sake uitlap?”

“Ag, herder, De Wet, ruk jou reg. Daar bestaan nie so iets soos private sake nie. Sodra iets nodig het om weggesteek en doodgepraat te word, moet jy weet daar’s fout. Om oor sekere dinge nie te praat nie, is middeleeus.”

Hy vorm ’n denkbeeld van hoe sy tussen kameramanne en agente haar sake uitblaker, oor die gevrekte kêrel wat sy het, en dit grief hom. Hy sit oorbluf langs haar. “Ja,” sê hy, “volgens my word daar oor sekere dinge nie gepraat nie. Soos die heel persoonlike sake van ’n man en meisie. Wat my betref, staan dit vas. En as jy bereid is om dit op straat te verkondig, verstaan ons mekaar swakker as wat ek ooit kon dink.”

“Natuurlik verstaan ons mekaar ellendig swak. Maar desondanks wil ek jou hê. Goed, ek sal dan jou soort speletjie speel. Ons kan trou. Op een voorwaarde: Dis ’n ateljeetroue.”

“’n Watseding?”

“Ons trou in die fotoateljee. Jy weet mos, man, een van daardie soort troues. ’n Hell’s Angel wat op ’n motorfiets trou, of sweefstokartieste wat in die lug trou.”

“Nou hoekom nie sommer op die sypaadjie voor die ateljee nie?”

“Snaaks. Baie snaaks. Ek sê jou ons sal in die ateljee trou en in plaas van konfetti, gebruik ons miniatuurfoto’tjies van myself.”

Hy weet nie of sy ernstig is nie. “Aag, Emaline, klim uit my kar en gaan slaap. Jy’t ’n emmer koue water nodig. Ek gaan nou kos soek en dan gaan ek slaap.”

Sy gehoorsaam, maar nie alte sagsinnig nie. Die wyse waarop sy die motordeur oopruk en weer agter haar toeklap, oortuig hom dat die weer dik is.

Ag, nou ja, sy vind hom seker ’n hopelose kêrel om te hê. Dis net dat hy baie versigtig is vir Emaline. Hy vertrou haar nie. Nare ding om te sê van ’n ou se meisie, maar so is dit. Hy is seker dat sy elke woord en beweging van hom agterna met kleur en geur aan haar vriende en vriendinne oordra. Sy het dan nou net self so gesê. Dan was hy tot dusver nie verniet op sy hoede vir haar nie. Sy sal dalk nog sy prestasie in die bed met grafiese besonderhede ontleed, met plus- en minusmerkies in rooipotlood.

Tog wil hy haar graag ook hê, vir altyd hê, nie net vir die oomblik nie. Hierdie tweestryd duur nou al die volle tien maande van hulle vriendskap. Nooit was hy nog ontspanne in haar teenwoordigheid nie. Altyd die storm en drang, rusie en versoening.

As Emaline maar net meer soos hy gedink het. Anders grootgemaak was, dink hy terwyl hy terneergedruk die motor aanskakel en wegry na slegs ’n uur in haar geselskap. As sy meer rustigheid gehad het, meer stabiliteit, meer om op terug te val. Sy beroem haar op die vryheid waarmee sy grootgeword het, maar eintlik is sy deur die jare emosioneel blootgestel, oorgelaat aan haarself om dinge te verwerk en op haar eie manier aan te pak.

Of rasionaliseer hy net? Maar tog kry hy haar half jammer, asof hy haar teen haarself moet beskerm. Sy is met haar skoonheid en flair ’n soort ongeleide projektiel.

Hy het al agtergekom dat sy by haar werk teenspoed optel omdat sy dikwels laat is en die skedule omkrap. Of dat sy koppe met iemand gestamp het, selfs met die agent wat eintlik haar belange op die hart dra. Ja, sy is ’n moeilike entjie mens, maar fassinerend.

Peinsend ry hy deur die strate. Dis slegs halftien. Madie is natuurlik nog nie terug van haar opvoedkundige uitstappie nie, besluit hy vies. Wat help dit alles nou? Sy ma was verniet so in haar skik. “Nie dat ons haar nie sal mis nie, maar op ’n sekere ouderdom moet ’n kind uit die huis gaan, en jy is darem daar, Wetjie.”

En nou? Wat het van daardie vooruitsig geword? Madie flenter rond met ’n man wat duidelik geen geesgenoot is nie. Hy, De Wet, was goed genoeg om haar meubels te help regskuif, wasmasjien te konnekteer, haar rond te ry, die naaste inkoopsentrum te wys, die busroete na haar kantoor te verken.

Hy sal haar wys. Hy het mos ’n sleutel van haar woonstel; sommer vas aan sy motorsleutel, sodat dit altyd byderhand kan wees. Hy sal teruggaan en vir hom kos in haar kombuis maak. Die vleis wat nog, netjies in pakkies, van sy ma af kom en haar vrieshokkie vul, behoort aan hulle albei.

Hy voeg die daad by die gedagte en dis sommer of hy moed skep vir hierdie deurmekaar, teleurstellende aand. Hy sisfluit ’n opgewekte deuntjie tussen sy tande toe hy die sleutel in die slot van die donker woonstel se voordeur druk.

Skerwe van geluk

Подняться наверх