Читать книгу Liefde onbeperk - Luné Olivier - Страница 5

2

Оглавление

Lelanie teug aan haar glasie sap terwyl sy aan die dag se gebeure dink. Dit is rustig hier in die Kaap, so anders as haar gejaagde lewe tussen die stowwerige Parys en besige Johannesburg. Son, see, uiteet en wyn is dáár nie vir haar beskore nie. Mans ook nie.

Geoffrey se kleinding is seker al ’n jaar oud. Sy weet nou dat die verhouding tussen hulle nooit sou uitgewerk het nie. Vir hom het alles altyd om ’n gejaag na roem en geld gegaan. Sy weet nie hoe hy dit sou oorleef het om op ’n klein dorpie soos Parys te woon nie. Soos sy verstaan, bly hy nou in Sandton in ’n groot dubbelverdieping-glaspaleis.

Sy sug hardop.

“En waaroor lyk ’n mooi meisie so bedruk?”

Sy het Dian nie eens sien naderkom nie. Hy lyk verskriklik aantreklik in sy roomkleurige driekwartbroek, gholfhemp en strandplakkies.

“Niks wat jy beter kan soen nie,” antwoord sy ingedagte, “… e … iets aan kan doen nie, bedoel ek.” Sy draai haar gesig met die blosende wange van hom af weg. Wat besiel haar? Kan sy nie dink voor sy praat nie?

“Ek kan altyd probeer.” Hy glimlag stout. “Dan gee jy seker ook nie om as ek saam met jou aan tafel sit nie? Dit is nou net ingeval ek dalk ’n soen kan aanbied.”

“Moenie vir jou laf hou nie. Ek het dit nie so bedoel nie.” Sy kyk om haar rond. Die restaurant is vanaand redelik vol. Waarom het sy tog by ’n viersitplektafel kom sit? Sy kan die spasie seker nie net vir haarself hou nie.

Sy beduie dat hy welkom is om te sit.

Hy gaan sit egter nie oorkant haar soos sy verwag het nie, maar langs haar aan die tafel wat vir vier gedek is. Sy been raak aan hare toe hy sy stoel intrek.

Dit laat haar vel tintel.

Sjoe, maar hy ruik lekker. ’n Manlike geur wat aan houtsaagsels en speserye herinner, het haar bereik.

Die kelnerin kom dadelik nader om Dian se bestelling te neem. “’n Bottel Durbanville Hills Rosé, asseblief, Angelique.” Hy draai na Lelanie. “Ek hoop nie jy gee om dat ek sommer namens jou ook bestel het nie, maar ek sal daardie bottel wyn nooit alleen kan opdrink nie.”

“Ek is nie so ’n groot drinker soos wat jy blykbaar dink nie, hoor. Ek sal by my sap hou.” Sy wys na die glas sap wat sy reeds vashou.

Hy begin hardop lag. “Ek het jou vanoggend net geterg. Tannie Rosa het aan my verduidelik van die kamernommer wat los was en dat jy nie die lig aangeskakel het toe jy laat ingekom het nie. Dít is waarom jy nie jou fout agtergekom het nie.”

Lelanie merk sy mooi gevormde tande op toe hy vir haar glimlag, en sy ontspan effens. “Oukei, solank jy my net nie probeer dronk maak nie, meneer!” Sy flits ’n glimlag in sy rigting.

“Nooit gesien nie!” verdedig hy. “Dronk meisies is mos nie goeie geselskap nie.” Hy leun nader aan haar en praat saggies by haar oor: “Vertel vir my wat jy in die Kaap doen, Lelanie Ferris.”

Sy moet haar woorde mooi agtermekaar kry voordat sy verder kan praat. “Ek is hier om uit te rus.”

“En wat is dit in die alledaagse lewe wat jou moeg maak?” vra hy belangstellend.

“Ek is ’n forensiese ouditeur, maar my spesialiteit is in die belastingveld. Ek is ook besig om in belastingoudit te spesialiseer.”

“Ek het gedink syfer-fundi’s is verstrooid en bebrild,” lag hy saggies. “Jy lyk eerder soos iemand wat in die kunste sou belangstel.”

“Nee wat. Al waar ek kreatief raak, is in die kombuis, maar verder is my kop met syfers oorlaai.”

Voordat hy daaroor kommentaar kan lewer, staan die kelnerin langs hulle met die wyn. Sy skink vir hulle in. Met ’n “Wat kan ek vir u kry?” haal sy ’n pen en notaboekie uit.

Lelanie bestel die snoek met patat en potbrood en Dian “die gewone, asseblief, Angelique”.

Die kelnerin skryf die bestellings op en neem al die oortollige breekware weg.

“Dit klink asof jy baie hierheen kom?” sê-vra Lelanie nuuskierig.

“Ja, nogal, ek het spesiale bande met dié plekkie,” gee hy toe. “Was jy al voorheen in die Kaap?”

“Nee, dit is my eerste keer. Omdat ons redelik naby die see in Pietermaritzburg grootgeword het, was my ouers se idee van ’n gesinsvakansie altyd by een of ander binnelandse karavaanoord. Ek ken net een universiteitsvriendin, Rozanne, wat hier bly, maar ons is nie baie close nie. As dit nie was dat ek haar toevallig by die lughawe raakgeloop het toe sy haar kêrel kom haal het nie, sou ons seker nie eers gisteraand saam uitgegaan het nie. Ek geniet die Kaap regtig baie; hier is so baie om te doen.”

“So, jy het in Pietermaritzburg grootgeword,” nooi die warm stem.

“Ja, maar ek het op Potch gestudeer en het saam met ’n vriend daar in ’n kleinerige woonstel gebly. Ek dink hy bly nog steeds op Potch.”

“En jy en die vriend het net vriende gebly?” Sy een wenkbrou skiet skepties die hoogte in.

Baie min mense glo haar wanneer sy sê dat daar nooit iets meer as platoniese vriendskap tussen haar en Alwyn ontwikkel het nie.

“Ja, ons is al jare lank vriende, en my kêrels was nog altyd jaloers op Alwyn. Ons het amper alles saam gedoen, maar ons het die laaste paar jaar kontak verloor. Sy verloofde kon ook nie vrede met ons verhouding maak nie.”

Lelanie wonder gereeld hoe dit met Alwyn gaan. Om die waarheid te sê, mis sy sy broederlike vriendskap verskriklik baie.

“Dis nogal moeilik om te glo,” gesels hy saam. “Geen man, insluitend ek, sal ooit net vriende met jou kan wees nie.”

Lelanie maak haar mond oop en weer toe, want wat antwoord ’n mens nou op sulke kommentaar van ’n vreemdeling?

“Deesdae bly ek op Parys,” ignoreer sy die opmerking.

“Nou toe nou! Ek bly naby Vanderbijlpark. Ek kan mos lekker by jou kom kuier.”

Lelanie lag maar, hoewel sy nie seker is of hy ’n grap maak nie. “En wat kan jy my van jouself vertel?” verander sy gou die onderwerp.

“Ek het op Stellenbosch geleer om met syfers te werk. My pa was ’n rekeningkundige en ek het sy liefde vir syfers geërf. Ek het besluit om ingenieurswese te swot, maar het tog later deur Unisa verskeie kursusse in rekeningkunde gedoen nadat ek my eie besigheid begin het.”

“Hy is seker trots op jou?”

Dian draai sy wynglas ’n paar keer aan die steel in die rondte. “Albei my ouers is oorlede. Ek het ook nie broers of susters nie.”

“O, ek is jammer, Dian.” Lelanie wil verder uitvra, maar die veraf kyk in sy oë maak dit duidelik dat hy nie gereed is om verder oor die onderwerp uit te brei nie.

“Nou watse besigheid het jy?” probeer Lelanie die ligte atmosfeer herroep.

“Ek het ’n paar jaar gelede my eie onderneming begin, Vaal Ingenieurshuis BK. Ek vind oplossings vir groot maatskappye in die ingenieurswêreld. Dit behels ’n omvattende ontleding van projekte en die koste, asook die produkte en kontrakteurs verbonde daaraan. Ek wou nog altyd my eie ding doen, want ek hou van onafhanklikheid en vryheid. Verlede jaar het ek saam met ’n universiteitskennis in nog ’n besigheid belê. Dit is maar harde werk om so ’n onderneming op die been te bring, maar sake lyk baie belowend. Ek en Ross verkry skaars produkte oral in die wêreld en bemark hulle in Suid Afrika – ons spesialiseer in in- en uitvoere. En waar werk jy?”

“Belark Belastingdienste Beperk.”

“Sjoe, jy moet briljant wees as jy dit reggekry het om ’n aanstelling by BBB te kry!”

Dian se kompliment laat Lelanie hoendervleis oor haar hele liggaam uitslaan.

“Ek geniet wat ek doen, maar ek sal nou nie sê dat dit altyd maklik is nie. Tydens ons laaste ondersoek is ons deur ’n prokureursfirma aangestel om ’n non-profit organisasie se finansies te ontleed. Die eienaars het groot skenkings vir hulself toegeëien in plaas daarvan om in die samelewing te belê. Ek en my span het die belastingontduiking van die organisasie ontrafel en uiteindelik moes die eienaars byna ’n miljoen rand in boete aan die Ontvanger oorbetaal. As daar een ding is wat ek nie kan verdra nie, is dit sulke skurke wat miljoene maak deur ander te kul. Natuurlik hou ek nie van die konflik wat daarmee gepaard gaan nie. Dit is nooit lekker om vir iemand te sê hulle is skuldig nie, maar ten minste laat ons geregtigheid geskied.”

Die manier waarop Dian na haar kyk, ontsenu Lelanie. Toe haar glas leeg is, steek sy haar hand na die bottel toe uit.

“Wag, laat ek.” Hy probeer haar voorspring en hul vingers raak per ongeluk aan mekaar. Lelanie vries. Sy kan eenvoudig nie haar hand uit van sy warm aanraking trek nie.

Hy neem haar hand in syne en streel oor haar ringvinger toe hy heserig vra: “Ek krap nie dalk in iemand anders se slaai nie? So ’n unieke vrou soos jy is seker lankal deur ’n man opgeëis?”

Lelanie kan nie ’n enkele woord uitkry nie en skud net haar kop as antwoord. Voor enigeen van hulle nog iets kan sê, staan Angelique reg om hulle kos te bedien.

Ná ete stap Dian saam met haar op die stoep langs na hul kamers toe. “Ek weet nie hoe ek gaan slaap met al hierdie kafeïen in my sisteem nie,” kla sy. “Maar daardie heerlike cappuccino was die moeite werd.”

“Ek kan aan baie dinge dink om jou besig te hou totdat die vaak oorneem …,” waag Dian ’n kans met sy stout glimlaggie.

Lelanie skrik so effens. Hy verwag tog seker nie dat sy hom by haar kamer gaan innooi nie? As hy sy sakereise werklik as verskoning gebruik om aan te lê by al wat ’n vrou is, is dit nooit anders nie. ’n Oomblik lank wonder sy wél hoe dit sou voel om deur hom verlei en verower te word, en haar wange begin onmiddellik gloei.

Nee, sy sal moet ligloop. Maak nie saak hóé aantreklik hy is nie, sy wil nie weer seerkry nie.

“In jou wildste drome, Dian,” lag sy die opmerking kamma ontspanne weg. “Ek gaan beslis nie weer by jou inkruip nie!”

Sy word beloon met ’n vreemde, warm glimlag, maar hy sê niks. Voor sy kamerdeur kom hy tot stilstand. Hy sluit die kamer oop en gaan in.

Lelanie weet nie of sy hom moet volg nie. Nee, laat sy eerder buite op die stoep wag.

Dian kom terug met ’n sakkie. “Jy het dié vanoggend hier vergeet …”

Sy kyk in die sak waarin haar wit kantbra is. Haar hele lyf word warm van die verleentheid. Haar mond is te droog om enige woord uit te kry.

Die erns in sy oë maak haar paniekerig, maar tog ook vreemd opgewonde. Sy lek oor haar lippe en tree agteruit, net om met haar rug teen die stoepreling te lande te kom.

Hy leun vorentoe en hou haar oë gevange. Sy hand skuif oor haar pols toe hy nader aan haar kom, sy oë smaraggroen en honger, sonder die tergliggies. “Jy smokkel met my kop, Lelanie. Vandat ek jou vanoggend vasgehou het, het ek nie meer beheer oor my eie gedagtes nie.”

“Ek … jy, uhm, nag …” Verward en gefrustreerd pluk sy haar arm los en vlug na haar kamerdeur. Sy sukkel om dit oop te sluit en laat die sleutel val.

Tssk. Sy tel dit op, probeer weer. Genadiglik gaan die deur oop.

Sy storm in en sluit dit beslis agter haar toe, maar leun met haar hele gewig teen die deur terwyl sy wag dat haar gejaagde asemhaling bedaar.

Lelanie word wakker toe die son reeds hoog sit. Sy staan nie dadelik op nie. Haar kop is seer. Sy weet nie waaraan dit te wyte is nie. Al die wyn? Die koffie? Of die rondrollery voordat sy uiteindelik aan die slaap geraak het, met Dian se glimlag die laaste beeld voor haar geestesoog?

’n Blos slaan warm vanaf haar nek op. Dat Dian darem só ’n uitwerking op haar het! Sy hand om hare terwyl sy nog wyn wou kry … Die sagte aanraking aan haar arm voor haar kamerdeur.

Met Geoffrey het sy nooit só kop verloor nie. Sy was altyd in beheer, maar hierdie man laat haar van alles vergeet wat haar sý maak. Dit lyk immers asof hy ’n rokjagter is, en sy het dit sowaar vir ’n oomblik oorweeg om hom by haar kamer in te nooi. Is sy heeltemal van haar trollie af? Het sy nie haar les geleer nie?

Ja, daar was kere wat sy met Geoffrey halt geroep het, en dankie tog dat sy dit gedoen het, anders sou sy nog ellendiger gevoel het toe hy haar verlaat het. Sy het hom nooit werklik álles gegee nie.

Maar met Dian … Sy weet nie watter houvas die man op haar het nie, want sy wil nie keer wanneer Dian haar in sy arms wil neem nie; hy trek haar aan soos ’n magneet, laat haar van haar eie waardes vergeet en ontketen ’n vreemde warmte wat stadig deur haar liggaam opstoot.

Dit is nou genoeg, Lelanie, raas sy met haarself. Ruk jou reg!

Haar plan was aanvanklik om vanoggend vroeg op te staan, ’n entjie langs die strand te gaan stap en dan die winkels in te vaar. Sy staan egter traag op om reg te maak. Dit is seker te laat vir die buffet wat die restaurant elke oggend vir ontbyt berei, maar sy bestel tog ’n cappuccino, wat ’n kelnerin minute later by haar kamer aflewer.

Sy laat haar hare los hang, grimeer haar gesig en trek ’n gemaklike driekwartbroek, ’n kortmouhempie en sandale aan. Sy loer versigtig by haar kamerdeur uit om seker te maak sy loop nie in Dian vas nie. Dit sal beter wees as sy van hom af wegbly.

Toe sy ’n halfuur later by die Waterfront parkeer, is daar oorgenoeg om haar gedagtes besig te hou. Oral sien ’n mens net die rooi versierings wat Valentynsdag bemark. Sy glo nie regtig aan die dag van liefde nie, maar kan ook nie wegkyk van al die hartjies wat oral van die dak af hang nie. Sy drink ’n dubbele espresso en eet ’n Engelse ontbyt. Die vakansiegier vat egter gou pos en sy spandeer meer geld as wat sy in normale omstandighede sou gedoen het.

Ag wat, sy sal haar persoonlike begroting volgende maand weer laat klop.

Daarna gaan kyk sy na ’n romantiese film met ’n ekstra groot pak springmielies en ’n slush puppy in die hand.

Glimlaggend stap sy drie ure later deur die winkels na die gehuurde motor. Net voordat sy die deur oopsluit, kyk sy oor die parkeerarea uit.

Maar is dit dan nie …?

’n Ent van haar af loop ’n man saam met ’n blonde vrou. Maar dit is mos Dian daardie! En die vrou is die een saam met wie hy gister ontbyt geëet het en wat nou liefdevol aan sy arm vat en onophoudelik gesels. Die vrou druk die afstandbeheerder van ’n luukse swart motor, en Dian maak die deur galant vir haar oop, maar hulle staan nog eers en gesels. Dit lyk mos asof hulle nie genoeg van mekaar kan kry nie.

Gmf! Dian is so besorg dat hy in iemand se slaai krap, maar intussen kan sy wat Lelanie is dalk ’n verhouding verongeluk.

Sy voel van voor af omgekrap. Sy kan nie glo sy laat die man toe om so met haar gevoelens te mors nie. Hy speel duidelik net met haar – afleiding tydens ’n vervelige sakebesoek. Iets waarmee hy homself by die gastehuis kan besig hou terwyl hy boonop nóg ’n skelmpie in die Kaap het.

En hoeveel by die huis?

Hoekom gee sy in elk geval om? Sy gaan nie toelaat dat Dian so aanspraak op haar gevoelens maak nie. Sonder om weer in die rigting van Dian en die blondine te kyk, klim Lelanie in die motor en ry terug gastehuis toe.

Die sonsondergang is vanaand vermors, wat haar betref. Sy gaan lê op die bed, al haar pakkies net so oor die vloer gestrooi. Te bang dat Dian hom weer aan haar etenstafel gaan tuismaak, laat sy later ’n Hawaiiese pizza aflewer terwyl sy na ’n rillerfliek op die televisie in haar kamer kyk.

Oormoeg raak sy met klere en al aan die slaap. Een keer verbeel sy haar sy hoor ’n klop aan die deur, maar sy draai net op haar ander sy om verder te slaap.

Die son is reeds op toe Lelanie by die gastehuis se restaurant instap. Sy sien dadelik vir Dian raak toe hy vir haar waai. Kan sy dan in hierdie plek nie roer sonder sy loom oë op haar nie? Sy glimlag stram terug en gaan sit aan ’n tafel aan die oorkant van die vertrek.

Pas het sy ontbyt bestel of sy sien hoe Dian sy koppie neersit, opstaan en na haar tafel toe stap.

“Het jy al jou oggendkoffie in, laatslaper?”

“Nee, hier bring die kelnerin dit nou.” Sy probeer afsydig en onbelangstellend lyk.

“Ek kry jou netnou by jou kamer, dan kan ons ’n entjie op die strand gaan stap.”

Voordat sy kan antwoord, loop hy weg.

Haar simpel hart klop opgewonde oor die vooruitsig van ’n dag saam met hom; die ding wil maar net nie na haar verstand luister nie.

Sy krap die kos in haar bord rond. Wat tot sover nog net die lekkerste ontbyt in die Kaap was, proe vanoggend vir Lelanie na niks, maar sy sal beslis nie vir die sjef moeilikheid maak omdat Dian haar aptyt demp nie.

Sy stap na haar kamer in die hoop dat Dian dalk nié daar sal wag nie, maar verniet.

Hy neem haar hand, en oombliklik slaan haar vel aan die brand. “Kom, dis ’n pragtige dag.”

Hulle gaan verby sy kamer en by die trappe af. Dit is laagwater, en hulle klouter gemaklik oor die rotse.

Lelanie trek haar skoene uit toe hulle die sand uiteindelik bereik, en hy volg haar voorbeeld. Nie een sê iets nie sodat hulle in stilte ’n ent ver stap. Uiteindelik trek sy haar hand uit sy greep. Sy soek versigtig na woorde voordat sy uiteindelik praat: “Ek het nie Kaap toe gekom vir ’n vakansieromanse nie. Ek wil hê jy moet my asseblief uitlos sodat ek my eie ding kan doen.”

Hy frons. “Ek het gedink ons geniet mekaar se geselskap. Ek het jou gister kom soek om die Kaap saam met my te gaan verken, want ek wil graag tyd saam met jou deurbring.” Sy oë vertroetel haar gesig.

“Oor ’n paar dae gaan ek terug huis toe, en ek wil my lewe nie meer kompliseer as wat dit reeds is nie,” antwoord sy koppig. Sy probeer hard om nie toe te gee aan die groeiende begeerte om tot in sy arms te stap nie.

Hulle albei word teruggeruk na hul omstandighede toe die koue seewater om hulle enkels vou.

Hy lag en tree effens weg van die water.

Sy glimlag stroef en stap nog ’n tree of twee die ysige oseaan in, aangesien sy tog klaar nat is; sy kan netsowel tyd wen om haar gedagtes agtermekaar te kry.

Die water trek om haar enkels terug, dieper die see in.

Skielik is Dian by haar. Hy vat haar hande langs haar lyf en vryf oor haar arms tot by haar skouers, sy oë onleesbaar. Hy loop agteruit met haar uit die koue water tot op die nat sand.

Toe vou hy haar gesig in sy hande toe en soen haar intens en innig.

Lelanie se lippe gaan bewend onder syne oop terwyl hy elke millimeter van haar mond verken.

Hy laat sak sy hande weer terug op haar skouers, streel oor haar rug en bring hulle op haar heupe tot stilstand. Toe trek hy haar onderlyf nader aan syne. Die tweede soen is selfs vuriger as die eerste een.

Vir slegs ’n paar minute gee sy haar oor aan sy hartstogtelike omhelsing. Lelanie weet hierdie man wil haar hê, maar wat haar bang maak, is die feit dat sy ook na hom smag. Sy vou haar arms om sy nek toe Dian se hartstog toeneem.

Dit voel soos ’n leeftyd voordat hy haar stadig los en sy hande om haar gesig kelk. “Wil jy nog steeds hê ek moet jou uitlos?”

Sy wend haar oë, wat op sy warm, nat lippe was, verleë af. Met daardie soen het sy haar gevoelens te duidelik gemaak.

“Hoekom hét jy alleen Kaap toe gekom?”

Sy skud haar kop net.

Maar die oomblik is so intiem dat sy haar diepste gevoelens skielik met hom wil deel. Daar is tog iets bevrydends daaraan om ’n vreemdeling als te vertel. “Ek werk net baie hard en was regtig moeg … en … jy gaan dink dis simpel, maar my schnauzer is onlangs dood.”

Sy kyk na hom en sien dat hy ernstig en simpatiek luister.

“Raffie se maag was net die eendag geswel en hy het die onaardigste geluide gemaak. Die arme dier wou ook nie eet nie. My ouer suster, Landie, is ’n veearts. Ek het haar gebel en sy het gesê dit kan ’n spinnekopbyt wees. Toe Raffie aan die bewe gaan, het ek na my suster op Potch gejaag sodat sy seker kon maak wat aangaan.”

“En toe?” por Dian. Dit lyk asof hy regtig omgee.

Lelanie herleef daardie aaklige dag. “Die gif het reeds te ver versprei. Ons moes hom genadedood gee om te verhoed dat hy verder ly.”

Dian vou haar in sy arms toe.

Sy lê met haar kop teen sy bors en sluk aan die knop in haar keel.

Hy vryf oor haar rug. “Ek is so jammer, meisiekind. ’n Mens raak so geheg aan ’n troeteldier.”

Sy knik. “Hy was amper soos ’n kind vir my en my voormalige verloofde.”

Dian se hande raak stil. “Jou verloofde?”

“Eksverloofde. Ons is nie meer saam nie.”

“En nou is jou laaste konneksie met hom ook weg?” sê-vra hy skor hier bo haar kop.

Dit het ou wonde oopgekrap en haar daaraan herinner dat Geoffrey groener weivelde gaan soek het. Dat sy nie goed genoeg was nie. Sy kry dit nie reg om dié deel vir Dian te vertel nie, want dit is te vernederend, maar knik net.

“Ek sien,” sug hy.

Hy laat haar stadig gaan, maar hou haar hand nog vas. “Kom ons gaan eers terug.”

Hulle stap saam in die rigting van Charla’s, hand aan hand. Nou is albei van hulle stil.

“Ek sal jou besluit oor ’n vakansieromanse respekteer,” sê Dian eindelik. “Maar ek geniet jou geselskap en sal net graag nog tyd saam met jou wil deurbring.”

Na die passievolle soen van vroeër voel Lelanie vreemd afgehaal deur sy woorde. Wat het hom skielik van plan laat verander? Dalk was die soen nie vir hom so asemrowend en intens soos vir haar nie.

Sy knik. “Nou goed dan. Ons kan as vriende saam iets doen.” Haar verstand sê steeds vir haar sy moet haar afstand van Dian hou. Maar is ’n vakansieromanse nie dalk juis wat sy nodig het om vir almal, insluitend haarself, te bewys dat sy lankal oor Geoffrey is nie? Dat sy haar lewe sonder hom kan geniet?

Wel, dit is nou te laat.

“Vriende,” sê Dian asof hy aan die woord herkou. “Ja, beslis. Kom ek vat jou op die lekkerste wyn-en-kaas-uitstappie in die Wes-Kaap.”

In die motor op pad na die wynlandgoed dink Lelanie na oor die besonderhede van haar en Geoffrey se mislukte verlowing wat sy nié met Dian gedeel het nie. Gedurende haar derde jaar op universiteit het sy hom ontmoet. Die toekoms het rooskleurig voor hulle uitgestrek gelê, want hulle sou eendag saam ’n rekeningkundige praktyk geopen het. Sy was verlief en hy het haar gevra om te trou.

Maar net ’n paar maande na hul verlowing is sy wreed van haar wolkie afgegooi. Geoffrey het erken dat hy in die geheim ’n verhouding met iemand anders aangeknoop het. “Ek het dit nie bedoel nie, dit het net gebeur,” was sy enigste verweer.

Hy het haar vir ’n mooi blonde model gelos.

Voordat sy haar oë kon uitvee, het sy advertensies in die plaaslike koerant gesien van ’n dinamiese nuwe maatskappy wat geopen het – die onderneming wat haar en Geoffrey s’n sou gewees het. Toe sy weer sien, was daar voor die tweetjies se voorgenome huwelik reeds ’n baba op pad. Sy het so vernederd gevoel, want sy het geweet seks is een ding wat Geoffrey nie by haar reggekry het nie.

Maar elke donker wolkie het ’n silwer randjie. Sy kon later nie glo sy wou die posisie, wat sy by ’n welbekende ouditeursfirma in Johannesburg het, vir Geoffrey prysgegee het nie. Hulle sou saam ’n praktyk op Parys begin het omdat sy marknavorsing getoon het dat daar ’n tekort en ’n behoefte aan rekeningkundiges op die dorp is.

Uiteindelik het sy alleen op Parys agtergebly en tog maar die ruim meenthuis gekoop waarna hulle gekyk het.

Elke dag ry sy nou deur werk toe. Sy en Raffie: alleen op die Vrystaatse dorpie. En nou is Raffie ook nie meer met haar nie. Natuurlik mis sy Geoffrey lankal nie meer nie. Maar sy voel gekul, nie net omdat hy ’n affair gehad het nie, maar ook omdat dit lyk asof hy alles gekry het wat hy wou hê, terwyl sy steeds op soek na ware liefde is.

Lelanie neem ’n slukkie van die semisoet wyn terwyl sy haar met haar een hand op die piekniekkombers stut. Dié wynlandgoed het voorwaar van die lekkerste wyn wat sy nog geproe het, om nie eens te praat van die versnaperinge in die piekniekmandjie wat Dian gekoop het nie.

Sy kyk afwagtend na hom: “So wat doen jy vir ontspanning?”

“Ek geniet watersport. Toe ek jonger was, het ek en my vriende altyd met my pa se boot uitgegaan en gaan ski of wakeboarding gedoen,” antwoord hy sonder huiwering, maar voeg dan ietwat verleë by: “Moenie nou vir my lag nie. Ek hou ook van kok speel.”

“Oe, dan moet ons twee eendag ons vernuf in die kombuis saamspan,” sê sy outomaties. Ag nee, nou klink dit soos ’n uitnodiging. “Ek bedoel … as ons dalk saam in ’n kombuis beland. Ek bedoel …” O, aarde, gaan gesprekke tussen hulle twee nooit normaal klink nie, sonder enige bybedoelinge? Die aantrekkingskrag tussen hulle is sterk; dalk sal dit nie vir hulle moontlik wees om bloot vriende te wees nie.

“Ek is bly om te hoor daar is nog vroue wat van kook en kosmaak hou,” praat hy haar verleentheid weg. “Afgesien van bak en brou, is daar nog iets wat jy graag doen?”

“Fotografie,” antwoord sy, dankbaar dat hy haar verleentheid nie verder uitbuit nie, en wys na haar kamera. “Ek het ’n kursus daarin gevolg. Ek neem gereeld foto’s by my vriendinne se partytjies en goed. En ek swem graag.”

Hy sit terug en maak haar kamerasak oop. “Kan ek maar ’n foto van jou neem sodat jy altyd kan onthou presies hoe jy op hierdie oomblik gevoel het? Jy moet die glinstering in jou oë sien.”

Sy glimlag vir die geklik, maar wonder heimlik hoe sy nou eintlik voel. Daar is ’n vreemde, broeiende energie tussen hulle twee. Sy betrap Dian se oë kort-kort op haar, en sy kan self skaars ophou om na sy breë borskas en sterk arms te staar. Hy is goeie geselskap. Hy is intelligent en kan oor allerlei onderwerpe gesels. En hy is so bedagsaam. Sy kan eintlik nie meer glo dat hy ’n beginsellose rokjagter is nie.

Dalk het sy ’n fout gemaak …

Net toe sy genoeg moed bymekaarskraap om hom oor die blondine te vra, laat sak hy die kamera. “Draai jou kop net so ’n bietjie. Die boom gooi skaduwees oor jou gesig.”

Sy kantel haar kop. “So?”

“Wag, laat ek.” Hy leun vorentoe en vat haar gesig liggies met sy een hand vas. “So …”

Sy gesig is baie naby hare. Sy kan sien dat dit baie konsentrasie van hom verg om haar kop effens te draai. Sy kyk hom met groot oë aan, en onwillekeurig gaan haar lippe oop.

Toe kyk hy haar in die oë.

Blosend raai sy wat hy raaksien. Sy begeer hom. Dit is ook wat sy in sý oë lees. Sy blik val op haar mond, en sy lek senuweeagtig oor haar lippe.

Maar toe leun hy terug, verdwyn agter die kamera in en neem nog ’n foto. “Pragtig.” Hy kom orent. “Laat ons maar huiswaarts keer. Die swembad by die gastehuis klink nou nie na ’n slegte idee nie.”

Lelanie sug. Hoe op dees aarde gaan sy net vriende met Dian Bergh wees?

“Lelanie, word wakker, jong.”

Sy lyk vir Dian beeldskoon waar sy teen die sitplek van sy gehuurde motor aan die slaap geraak het. Dit is lekker dat sy so gemaklik by hom voel dat sy net kan wegraak. Haar oë gaan oop en vir ’n oomblik kan hy sien dat sy nie weet waar sy haar bevind nie.

“Ons is terug by die gastehuis,” verduidelik hy met ’n glimlag. Die skrille gelui van sy selfoon verbrokkel die oomblik.

Lelanie spring uit die motor en verduidelik met die swaai van ’n hand dat sy hom later by die swembad sal sien.

“Dian, waar is jy? Ons het mos ’n afspraak gehad, of het jy vergeet?” Dit is tannie Rosa.

O, hel, hy het skoon vergeet dat sy oor die gastehuis se boeke wou praat. Lelanie smokkel sowaar met sy kop.

“Ek is nou daar, tannie.” Hy gaan sit die wyn wat hy op die plaas gekoop het gou in sy kamer voordat hy hom na die ontvangstoonbank haas.

Magtig, maar hy moes homself inhou om Lelanie nie vroeër op die wynlandgoed te soen nie. Die manier waarop sy oor haar lippe gelek het, was so aanloklik. Die aantrekkingskrag tussen hulle is sterk, maar hy lei af dat sy haar eksverloofde nog nie vergeet het nie. Sy is hartseer oor haar hond se dood, maar juis omdat die dier ’n laaste band met haar eks was. Dit sê vir hom sy voel nog iets vir die vent. Lelanie is nie reg vir ’n verhouding met hom nie. Sy moet haar liefdesteleurstelling eers verwerk.

Al wat hy kan doen, is om tyd saam met haar deur te bring, met haar kontak te hou. Hopelik beweeg sy aan. Hy wil daar wees wanneer sy gereed is.

“Toe, toe, toe, mannetjie,” roep tannie Rosa toe sy hom sien aankom. “Roer jou litte.”

Nadat Lelanie gou in haar swembroek verklee het, stap sy deur die voorportaal na die swembad toe. Met dié hoor sy Dian en tannie Rosa gesels. Sy wonder wat die verhouding tussen dié twee is; dit lyk tog na meer as net ’n gastehuiseienaar en haar gas.

“Dian, waar kuier jy en die meisie so rond? Ek soek jou al die heeldag.” Tannie Rosa kom omgekrap voor.

“Jammer. My aandag was op ander plekke,” hoor sy Dian antwoord.

“Duidelik! Gaan jy my nou vertel van Lelanie?” pomp sy hom nuuskierig vir inligting, haar luim gemoedeliker.

Hy glimlag geheimsinnig. “Kom ons kyk gou na die boeke, tannie.”

Lelanie maak haar vinnig uit die voete van waar sy uit die portaal in die kantoor kon inkyk sodat sy in die swembad kan gaan afkoel. Sy bestel vir haar ’n koeldrank.

Uitgestrek op haar rug, kruip sy agter haar sonbril weg. Sy sien Dian oor die terras aangestap kom. Sy spiere bult met elke tree. Hy is ongetwyfeld die aantreklikste man wat sy nog ontmoet het. Boonop trek sy warm persoonlikheid haar aan.

“Jammer, dit het so lank gevat, ons het so ’n heerlike oggend gehad dat ek van tannie Rosa vergeet het. Ek moes haar met die boeke help,” verduidelik Dian verskonend.

“Dit maak glad nie saak nie, ek moes ’n bietjie son op hierdie lyf kry.” Lelanie sien sy oë dwaal na waar die sweetdruppels tussen haar borste pêrel.

“Uhm, maar sê my, doen jy dan die gastehuis se boeke?” vra sy om sy aandag af te trek.

“Ja.” Hy skeur sy oë weg. “Tannie Rosa is familie van my. Ek doen die boeke en sy laat my gratis hier bly wanneer ek Kaap toe kom vir werk.”

“O!” sê sy verbaas. Maar voordat sy verder kan uitvra, lui haar selfoon. Sy strek haar arm uit en bring die lastige foon na haar oor voordat sy glimlaggend antwoord toe sy sien wie dit is: “Hallo, Landie! Dit is lekker om van jou te hoor.”

“Hi, Sus. Geniet jy jou vakansie?”

Lelanie kyk na Dian en voel hoe haar gesig al weer warm word. “Ja, dit is baie lekker.”

“Ek’s bly. Luister, ek het fantastiese nuus.”

“Wat?” Lelanie hou haar asem op. Kan dit wees …?

“Ek’s swanger!”

Lelanie gee ’n gilletjie en sien hoe Dian haar vraend aankyk. “Dit is wonderlik! Ek is oorstelp van blydskap. Wanneer het jy uitgevind? Hoe het jy uitgevind? Wat is jou datum?”

Landie lag. “Ek het ’n rukkie gelede al vasgestel, maar ons wou eers seker wees alles verloop goed voordat ons vir almal sê. Die dokter is tevrede, en die baba kom in Augustus.”

“Sjoe, geluk! Ek kom kuier by jou sodra ek ’n naweek vry het.”

“Als reg, geniet eers jou vakansie. En tel tog asseblief vir jou ’n hunk daar op die Kaapse strande op, Sus,” terg Landie.

Lelanie laat haar oë oor Dian gly. Hy is ’n hunk en ’n half. “Ag nee wat,” lag sy, maar dit klink in haar eie ore geforseerd. “Lief jou, Sus. Tata.”

Sy beëindig die oproep nadat Landie gegroet het.

“Goeie nuus?” vra Dian.

“My ouer suster is uiteindelik swanger; sy en haar man sukkel al jare lank.” Net toe lui haar foon weer. “’Skuus, dis die werk. Verstaan mos nie dat vakansie beteken ek wil nie gesteur word nie.”

Sy antwoord huiwerend. “Lelanie Ferris.”

“Hallo, Lelanie. Jammer om te pla.” Dit is Jason, haar assistent wat sy klerkskap doen.

“Als reg. Waarom bel jy, Jason?”

“Dit gaan oor ons nuwe saak vir Fredricks en Seun Prokureurs. Hulle is nogal gretig om daarmee te begin. Dié Rossouw-kêrel het blykbaar ’n geskiedenis van belastingontduiking. Hy roep elke ander jaar ’n nuwe besigheid in die lewe net om dit te laat likwideer voordat hy te diep in die skuld is.”

“Die skelm! Dit is onwettig.” Sy staan op om buite hoorafstand te kom, glimlag verskonend na Dian toe. “Dit sal my hoofprioriteit wees wanneer ek terug is op kantoor. Vra asseblief solank die aanvangsdokumente aan by Fredricks en Seun Prokureurs sodat ons volgende week dadelik daaraan kan begin werk. Dis nie die eerste keer dat daardie individu se naam opduik nie. Ons sal op die saak moet ingaan. Ek is volgende week weer terug, dan begin ons.” Sy gee nog ’n paar instruksies voordat sy aflui.

Terug by die lêstoel langs die swembad hoor sy hoe Dian vir hulle elkeen iets koels bestel. Fronsend gooi sy die foon terug in haar strandsak.

“Kom ons gaan swem; ek dooi al van die hitte.” En met een sprong is sy binne-in die swembad.

Hy volg haar voorbeeld en spat die wêreld nat. “Dit het gewigtig geklink,” verwys Dian na die werkoproep.

“Ja, daar is ’n nuwe saak waaraan ek moet begin werk sodra ek terug is, maar ek kan nou al voorspel dat dit ’n uiters rowwe oudit gaan wees,” antwoord sy ingedagte. “Maar kom ons vergeet van werk, ek is hier om uit te rus.”

“Het jy net die een suster?” vra Dian belangstellend.

“Landie is die oudste van ons drie sussies. Haar man, Stephan, is ’n argitek en reis baie rond. Ons jonger sussie, Leonie, bly in Gauteng. Sy is ’n binnehuisversierder en single. Ons bly almal darem naby genoeg aan mekaar om gereeld te kan kuier.”

“Klink lekker. Dalk ontmoet ek hulle nog eendag.”

Sy kan nie agterkom of hy ernstig is nie en steek haar hande in die koel water sodat sy ’n boog na sy kant toe kan skiet. “Genoeg geklets. Kom ons geniet die water.”

Die skoot water spat teen sy bors en in sy gesig.

“Ek gaan jou terugkry vir daardie ene,” lag hy.

Toe sy sien hoe hy sy hande in die water druk, draai sy weg. Sy skaterlag toe die water haar teen die rug tref.

Dian is nie tevrede nie, en sy hoor hom agter haar aankom. Sy gil weer toe hy haar om die middel beetkry. Hy duik haar in die water plat voor hulle weer vir lug opkom. Sy lag en hyg beurtelings, maar haar lag droog op toe sy arms stywer om haar gaan.

Toe sy omdraai, is sy mond millimeters van hare. Onder die water raak hul bene verstrengel. Sy is oorbewus van sy lyf teen hare. Stadig kom sy gesig nog nader.

Sy maak haar oë toe.

Sag druk sy lippe teen haar voorkop. Selfs dié soentjie laat haar hart onbedaarlik klop.

Hy laat haar los en hulle klim druipnat uit voordat hulle op hul handdoeke neerval.

“Wil jy weer vanaand saam met my in die restaurant eet?” waag Lelanie na ’n rukkie. Sy onthou hoe Dian se been teen hare gevoel het, toe hy langs haar aan die tafel gesit het.

“Ek moet vanaand uitgaan om iemand oor werk te ontmoet,” laat bars Dian haar geluksborrel. “Ek is baie jammer, maar ek moet eenvoudig hierdie kontrak onderteken voor ek teruggaan huis toe.”

“Dit is glad nie nodig om te verduidelik nie, Dian. Ek is so gedaan, ek wou in elk geval eintlik graag vroeg inkruip.” Sy is vies omdat haar teleurstelling in haar stem deurslaan.

Later val Lelanie op haar bed neer. Nou weet sy nie wat om met haarself aan te vang nie. En sy kan nie van die gevoel ontslae raak dat Dian se sogenaamde sake-ete dalk eintlik ’n front vir ’n kuiertjie by ’n gewillige meisie is nie.

Hy kon niks met haar regkry nie en nou kuier hy elders. Nes Geoffrey.

Maar Dian is glad nie soos Geoffrey nie. Dit besef sy al hoe meer namate sy hom leer ken. En tog … Sedert sy vir hom gesê het dat sy nie ’n vakansieromanse wil hê nie, het hy haar net een keer gesoen en daarna bloot tou opgegooi. Daar was al kere dat hy haar weer kon gesoen het, sy het hom dalk selfs aanleiding gegee, maar hy doen dit nie. Sy moet bly wees dat hy hom soos ’n gentleman gedra en haar ruimte gee, maar hoekom is sy dan nou so ontevrede?

Dit was ’n wonderlike dag en sy het so rustig saam met Dian gekuier, net om hoog en droog deur hom agtergelaat te word.

Op die ou einde gaan sy maar alleen restaurant toe. Toe sy die kos in haar bord sit en rondkrap, hoor sy tannie Rosa meteens hier langs haar.

“Wat makeer, hartjie?” Haar gasvrou lyk regtig besorg oor haar. Sy herinner Lelanie aan haar eie ma. Op hierdie oomblik mis sy haar ouers meer as gewoonlik. Sy moet maar plan maak om so gou moontlik by hulle te gaan kuier.

“Ag, tannie, ek weet nie eintlik wat met my aangaan nie. Ek het Kaap toe gekom om alleen te wees, maar nou is ek omgekrap wanneer ek nie geselskap het nie.”

Tannie Rosa gaan sit oorkant haar. “En dit is baie spesifieke geselskap waarna jy verlang, is ek reg? Ek het gesien jy en Dian swem vanmiddag so prettig. Ek neem aan dit is na hom wat jy verlang?”

Sy gaap tannie Rosa oopmond aan. “Is dit regtig só opvallend?” Sy is sommer vies vir haarself omdat sy afhanklik van Dian geword het. Voordat sy hom ontmoet het, het sy gereeld alleen vakansie gaan hou, nou wil sy alles saam met hom doen. Nie saam met sommer enigiemand nie.

Saam met Dian.

Alleen is nie meer ’n opsie nie; sy wil hom by haar hê.

“Ek is al lank genoeg in die wêreld om te weet wanneer twee mense die taal van liefde praat.”

Lelanie kyk haar onthuts aan en lag senuweeagtig. “Nee, tannie, dis nie liefde nie. Ek ken hom skaars.”

“Liefde het nie ’n horlosie nie, hartjie. Ek het my Janneman ses maande geken toe ons getroud is. Ons was diep verlief en verlore. Ek het sommer dadelik geweet die man het my hart gesteel. Daar was komplikasies, ja, maar as ek nie ’n kans gewaag het nie, het ek hom dalk vir ewig verloor.”

Die hartseer bekruip tannie Rosa. “My ou Janneman is meer as ’n dekade gelede dood, maar ek berou ons huwelik nie een enkele oomblik nie.” Sy snuif onvroulik en haal haar sakdoek onder haar horlosiebandjie uit. “Jy gaan nooit weet as jy die kans nie gaan vat nie. Buitendien kan enigiemand sien Dian het die skoot net so hoog deur.”

“Hoe weet tannie dit?” Lelanie is nie oortuig nie.

“Jong, ek ken hom mos van kindsbeen af.”

“Neem hy gereeld vroue uit?” waag sy dit om te vra.

“Die vrouens hou van hom,” glimlag sy. “Jy sien mos self hy is ’n mooi man. Maar daar is nie op die oomblik iemand in sy lewe nie, as dit is wat jy éintlik wil vra.”

Die tannie knipoog, en Lelanie hap na woorde.

“Tot siens en sterkte hoor!” groet tannie Rosa terwyl sy opstaan en in die kombuis se rigting stap.

Sy het gehoop die tannie sou ’n bietjie meer inligting uitlap, maar verniet. So daar is niemand spesiaal in sy lewe nie, maar Dian lap seker ook nie alles uit nie.

Hoe sal tannie Rosa nou weet?

Lelanie weet steeds nie of sy in geloof ’n stap moet neem en net ’n vakansieromanse moet aanknoop nie. Dian boei en betower haar, maar sy wil nie weer seerkry nie; hierdie keer sal dit baie seerder maak as met Geoffrey.

Buitendien loop haar tyd in die Kaap vinnig uit …

In haar kamer gekom, lui die foon en tel sy dit gretig op. “Hallo?”

“Hi, dis Rozanne. Hoe gaan dit daar?”

“Nee, goed, dankie.” Sy het nog nie weer met Rozanne gepraat sedert die jazz-aand en die deurmekaarspul met kamers 106 en 109 nie. Sy gaan haar nie daarvan vertel nie.

“Kan ek en Kevin jou nie dalk môre op een van hierdie rooi sight-seeing busse vat nie? Die toeriste is glo mal daaroor. En ons bly al hoe lank in Kaapstad, maar het dit nog nooit op een gewaag nie.”

“Ja, dit klink lekker.” Dit sal haar dalk goed doen om ’n bietjie van Dian af weg te kom.

Hulle tref reëlings en Lelanie voel effens beter toe Rozanne aflui. Nou het sy weer iets om na uit te sien.

Liefde onbeperk

Подняться наверх