Читать книгу Ontmoet my in Patong - Madeleine Malherbe - Страница 3

~ 1 ~

Оглавление

Laura wag twee volle lang dae voor sy Dries van die e-posuitnodiging vertel.

“Ek dag jy het die tsoenami-spulletjie verwerk en aangegaan met jou lewe,” brom hy. “En wat van Kersfees? My ma staan reg met groot gedoentes. Ek sal nie in Desember kan wegkom om vakansie te gaan hou nie. Jy weet ek skryf deesdae kliphard aan daardie boek wat einde Januarie moet klaar wees. Maar ek belowe, ons kan daarna bietjie wegbreek. Miskien Kaap toe.”

“Ek onthou van die boek, ja. Die hoofstuk oor binnelandse handel,” sê sy.

Hy moet darem kan sien sy stel belang. Sy sê nie dat sy hom in elk geval nie saamgenooi het nie. Sy vertel hom nie dat dit ’n pelgrimstog gaan wees nie. Sy alleen met haar gedagtes en haar gevoelens. Sy en die een ander mens wat dit saam met haar beleef het.

“Sal ons vanaand die opening van Sybil se uitstalling by die galery gaan bywoon? Ek hou nogal van haar goed,” verander Dries die onderwerp en wys haar die advertensie in die koerant.

Gelukkig vra hy nie verder uit oor haar reisplanne nie. Hy neem seker aan, mymer sy, dat sy aan hom en sy ma sal dink en ’n Kersvakansie weg van hom af glad nie eens sal oorweeg nie.

Laura is nie lus om aan Dries se ma te dink en hoe teleurgesteld sy sal wees nie. Sy neem gewoonlik ander mense in ag: dis hoog tyd dat sy ’n slag net aan haarself dink, praat sy haarself moed in. Sy het bekommernisse oor haar werk en haar loopbaan, dinge wat vir ander mense minder belangrik lyk, maar wat haar hinder.

“Ek weet nie wat my so bang gemaak het om vir Dries te sê van die uitnodiging nie,” erken sy die volgende dag in die woonstel teenoor Zelda. “Hy het hom toe nie veel daaraan gesteur dat ek Phuket toe wil gaan nie. Dis nie asof hy ’n bohaai opgeskop het nie. Miskien het hy sommer aangeneem dis net ’n gier en dat ek nie sal gaan nie.”

“Ag, ek beny jou so,” sug Zelda opnuut. “Ek sou só graag weer wou gaan. Maar ek weet waarom jy hom nie wou vertel nie: jy is natuurlik bang hy maak die wêreld vir jou moeilik as jy alleen oppak en die pad vat. Jy het deesdae so baie dinge om uit te sorteer; miskien help die wegbreek jou. Jy sê jy wil nie nou nóg moeilike besluite neem nie. Jy raak saans gedaan aan die slaap en skrik drie-uur in die oggend wakker en begin tob oor al die dinge wat jou pla.”

Zelda stryk al pratende gou haar nuwe blou rok. “Wil jy ook stryk?”

Toe Laura net haar kop skud, skakel sy die yster af en kom teenoor haar woonstelmaat sit.

“Dit kan ook wees dat jy so sleg voel omdat jy onttrekkingsimptome het. Jy het maar pas, ’n skrale twee weke gelede, jou laaste sigaret gerook en die halfvol pakkie in die vullisblik gesmyt. Dís wat jou pla,” sê sy beslis. “Jy soek na iets in die plek van die sigarette. Daar ontbreek iets, en dis daardie gifpyltjies. Maar jy sal hierdeur kom, ek belowe jou. Jy gaan nie weer begin rook nie. Kom, ek maak vir ons tee.”

Hoewel Laura ewe gedweë saamstem, weet sy dat die nare onttrekkingsimptome nie ál oorsaak vir haar onrus is nie.

En dié bekommernisse beïnvloed tog haar verhouding met Dries, weet sy. Dis of sy op die oomblik nie meer lekker met hom uitgaan nie. Sy is heeltyd haastig, en al die afsprake met hom voel vir haar te lank. Sy wil heeltyd teruggaan huis toe en haar eie ding gaan doen, haar eie gedagtes gaan dink, haar kaste gaan regpak, haar ma gaan bel.

Dis of sy heeltyd lysies maak in haar kop van dinge waaraan sy moet aandag gee. Tussendeur steek sy kort-kort haar hand uit na ’n sigaret – om net te besef sy is klaar met die rookgewoonte. En dit is op sigself ’n oorlog, dertig maal per dag.

Op die oomblik is haar grootste bekommernis egter of sy Thailand toe moet gaan of nie. Dis wat haar gedagtes oorheers.

Sy gaan sit voor haar rekenaar en maak weer die e-pos oop.

Liewe Laura

Ek hoop dit gaan met jou goed daar in die verre land in die suide, die wonderlike sonnige Suid-Afrika. Hier by ons is die lekker herfsweer verby en is daar nie ’n dag dat dit nie reën nie. Nie die vinnige buitjies wat ons op Phuket gehad het nie, sommer aanhoudende gereën die hele dag, en bitter koud daarby.

Ek dink so baie aan jou en daardie traumatiese dag toe jy my lewe gered het. Nie elkeen sou so kop gehou het soos jy en ’n plan met my gemaak het nie. Nie elkeen sou agterna keer op keer teruggekom het na my in my hospitaalbed en my so daadwerklik ondersteun het nie. Nie almal sou in daardie land agtergebly en siek mense verpleeg het soos jy nie. Die meeste mense het hulle bene afgehardloop, weg van die gevaar af, die eerste vlug uit daardie arme geteisterde landstreek gehaal en nooit verder betrokke geraak nie. Jy was ’n ligstraal in ’n baie donker wêreld.

Nou het ek vir jou ’n voorstel: ontmoet my in Patong ’n jaar ná daardie dag. Dan gaan ons terug na daardie straatjie, na daardie hoekie. Dan kyk ons hoe lyk dit nou daar. Dan dink ons na oor die wonder van gespaarde lewens en ons steek ’n kers aan vir die toekoms.

Ek weet dis kort kennisgewing om verlof te reël en so aan, en dis dalk moeilik om vir ’n tweede Kersfees na mekaar weg te wees van jou ouers. Of is daar dalk deesdae ’n ander spesiale dierbare wat laas jaar nog nie in die prentjie was nie? Ek weet jy was laas jaar saam met vriendinne op reis. Maar wat ook al jou omstandighede, ek dring aan dat jy moet kom, met of sonder ’n metgesel. Ek het gekyk na vlugte en dit lyk asof jy van Johannesburg af tot in Singapoer kan vlieg en van daar af met Silk Air na Phuket. Ek ontmoet jou dan in Patong vir ons “pelgrimstog”. Jy moet asseblief kom, en jy moenie lank wag om te laat weet nie. Ek is bang die vlugte raak heeltemal vol en ek wil sommer binne ’n dag of wat die kaartjies koop, vir ons hier van Engeland af en vir jou van Johannesburg af. En kamers bespreek in ’n lekker hotel. Miskien die Seaview waar ons groepie laas gebly het, ek sien hulle het intussen heropen.

Asseblief, Laura! Ek nooi jou en jy móét net ja sê.

Francis Dobson

Asof sy nie genoeg het om aan te dink nie! Dis maar ’n skamele twee maande voor die tyd. As sy sou gaan, moet die plekke sommer nóú bespreek word. Sy wens dit was ’n jaar vroeër, toe sy sommer impulsief ná die eindeksamen kon planne maak en saam met Zelda en die ander twee gaan vakansie hou het. Toe was daar nie ’n spesiale vriend en omstandighede om in ag te neem nie. Toe was Braam pas weg Engeland toe en het sy nog gedink hy kom oor ’n jaar terug na haar toe.

Hoe verder die week aanstap, hoe meer dink sy dat dit tog die regte ding sal wees om te doen. Gaan Phuket toe, gaan rus vir ’n week of tien dae, kom weg van die hospitaal, die bitterbek-saalsuster, die gevare hier in Pretoria, die onrustigheid oor Dries wat soveel van haar eis.

Gaan maak kop skoon in ’n idilliese eilandparadys, moedig sy haarself aan. Wanneer sy dan terugkom, sal sy aan Dries verloof raak en desnoods van werk verander, al die ingrypende dinge doen waarvoor sy nie nou kans sien nie. Sy is nou net moeg, moeg, moeg, en dis wat haar so besluiteloos maak. ’n Heerlike vakansie sal haar nuwe perspektief gee.

Ek sal kom, laat weet sy later die aand, en jou in Patong ontmoet. Op die 26e Desember so om en by elfuur die oggend, voor die Kodak-winkeltjie.

Saam met die ritmiese klikketie-kliek van haar naels op die rekenaar se toetsbord kom daar ’n opgewondenheid in haar op. Sy weet skielik dat dit die regte ding sal wees om te doen. Sy sal verlof vra en gaan, en as hulle haar verlof weier, sal sy summier bedank. Dan is die besluit oor haar werk ook sommer vir haar geneem.

Sy ry die volgende oggend vroeg werk toe. Daar is die gewone geskarrel van nagpersoneel wat haastig is om by die huis te kom, en dagpersoneel wat op die laaste nippertjie uit die reën ingehardloop kom om oor te neem.

“Mevrou Mabola is weer sieker,” sê suster Sonnekus met haar blik op die pasiënt se kaart. “Hou tog in hemelsnaam haar bloeddruk goed dop. En sorg dat dokter Beneke haar sien die oomblik as hy sy oë hier wys. Hy is glo op pad.”

“Kom, verpleegster Els!” hoor Laura die dagskofsuster in die gang roep. “Verbeel ek my of is jy laat?”

Laura is nie laat nie. Sy is ’n goeie tien minute vroeg, maar enigeen wat ná suster Dunster inkom, is outomaties laat. Sy voel die knop op haar maag saamtrek. Sy wou so graag in hierdie pragtige hospitaal werk, sy wou so graag gelukkig wees hier. Vandag wou sy so graag ’n lekker dag hê met die wonderlike reën wat buite val en die dorre aarde voed, maar suster Dunster is so onredelik, dit maak haar skoon senuagtig.

“Ou Dunnetjie se man het haar gelos, dis dié dat sy so goor is,” het iemand eendag vertel.

“Maar dis al maande gelede en die vrou bly ’n control freak. So ’n ewige foutsoekery! Geen mens kan dit hou nie,” het ’n ander laat hoor.

“Miskien is dit hoekom hy haar gelos het,” het die eerste een gesnip.

Laura bly maar stil en gaan vinnig aan met die werk. Sy doen regtig niks verkeerd nie: sy is pligsgetrou en vriendelik met haar pasiënte en loop vir hulle die ekstra myl. Sy is uiters versigtig met die toedien van medikasie en die invul van die verslagkaarte, sy is oplettend en hoflik. Niemand anders wys ooit ’n vinger na haar voorkoms of optrede nie. Maar ou Dunnetjie vind met net mooi alles fout. Vir elke keer wat sy met die ander verpleegsters raas, pik sy twee maal op Laura.

“Dis hoekom ek dit sterk oorweeg om te bedank,” bieg sy later by Anneleen. “Dis nie asof daar by hierdie hospitaal soveel geld is vir ons salarisse nie. As ’n mens geld wil maak, moet jy in Engeland gaan werk. Daar betaal hulle jou in ponde, wat gou genoeg ophoop, so hoor ek. En met Braam nou permanent daar moet ek miskien soontoe verskuif.”

“Miskien pik sy op jou omdat jy so ’n goeie verpleegster is – die heel beste! Sy is bang vir jou.”

“Dit maak nie sin nie,” stry Laura. “Die ander ding wat my die pad sal laat vat, is hoe sy die ander verpleegsters maar laat begaan. Sy sien byvoorbeeld glad nie raak dat hulle nie hou by die prosedures vir die weggooi van afvalmateriaal soos spuitnaalde nie.”

“Jy’s reg. Een van die dae doen ons nog hepatitis of vigs op as dit so aanhou,” kla Anneleen. “En snaaks genoeg, soos jy sê, as ou Dunnetjie dit enigsins raaksien, stuur sy jóú om dit op te ruim. Jy moet haar aanvat daaroor en weier om ander se kastaiings uit die vuur te krap. Netnou is sy vir jou ook bang, soos vir die verpleegsters met wie sy nooit raas nie.”

“Bang? Suster Dunster is vir niks op aarde bang nie.”

Maar heimlik wonder Laura tog of suster Dunster nie bang is vir klagtes van rassisme en daarom nie optree wanneer sy moet optree nie. Soos ’n regte skoolboelie pik sy op die jongstes en die stilles, terwyl die astrantes met moord wegkom.

Die atmosfeer op die vloer is versigtig, om dit nou maar sagkens te stel. Hier is niks van die vrolike kameraderie van die harthospitaal waar sy haar prakties gedoen het nie. Of die lekker teedrinksessies by die kraamsaal waar sy al gewerk het nie. Daar het sy heerlik met die piepklein babatjies gespeel en die nuwe mammas bederf.

Maar hier is dit aaklig: almal is op hulle tone en brom heeltyd agteraf.

Terwyl Laura ’n pasiënt gereed maak vir haar operasie, kom dokter Loubser in.

“Dagsê, dagsê,” groet hy in die bondel en neem die pasiënt langsaan se kaart. “Hoe gaan dit hier?” Hy knik in Laura se rigting. “Ek is bly hulle kyk so mooi na jou,” sê hy vir die pasiënt. “Ons is trots op hierdie saal se mense.” Hy beduie na Laura.

“Lekker naweekplanne?” verneem hy gesellig in haar rigting.

Laura kan nie glo dat hy met haar ginnegaap nie. Sy dink nog wat om te antwoord toe suster Dunster stroperig naderkom.

“Môre, dokter Loubser,” groet sy die jong dokter katvriendelik. “Ja, ons het hierdie pasiënt nou mooi reg om ontslaan te word.”

Laura draai vererg om. Dunster was nie náby die pasiënt nie. Sy wat Laura is, het elke dag gesorg dat die vrou al die versorging en aanmoediging kry wat nodig was, wat haar wond versorg het en betyds gepraat het toe daar komplikasies was.

Sy draai weg en sien uit die hoek van haar oog hoe dokter Loubser nog iets vir haar wil sê. Die meeste dokters kyk jou middeldeur of praat net medisyne en behandeling, want hulle is altyd haastig, dink sy vlugtig. Maar ek gaan nie daar staan dat Dunster my voor hom verneder nie.

Sy kies die hasepad en gaan bel vir ’n portier om haar pasiënt se bed operasiesaal toe te stoot. Sy stap saam tot by die dwarsgang.

“As jy netnou uit die operasiesaal kom, kyk hulle eers daar dat jy bykom en dan kom jy terug saal toe,” sê sy vir die vrou. “Hier sal ons jou heeltyd iets gee vir die pyn. Dis nie nodig dat jy lê en pyn het nie.” Sy gee haar hand ’n bemoedigende drukkie en kry ’n dapper glimlag terug.

“Dankie, nurse Els. Ek sal okay wees as jy agter my kyk,” sê die vrou dankbaar.

Teen teetyd is Laura moeg. Dit kom nou van die verskriklike vroeg wakker word en nie weer kan slaap nie, dink sy gedaan en eet ’n toebroodjie.

“Ek sweer ek het lae bloedsuikervlakke,” kla sy teenoor Anneleen. “Ek het skoon die bewerasie.”

“Dan is ’n bruinbroodjie met kaas soos wat jy daar saamgebring het net die regte ding,” sê Anneleen en draf weer haastig in die gang af na waar ’n klokkie aanhoudend by ’n bed gelui word.

Laura loop later in die gang weer vir dokter Loubser raak. “Hoe gaan dit met jou?” vra hy en kyk oordrewe rond of suster Dunster nie iewers naby is nie.

“O, goed dankie, dokter.” Sy wil nie begin kla nie. Sy ken die man nie goed genoeg om dinge te noem wat eintlik binne die saal se mure moet bly nie.

“Noem my Wynand,” sê hy en laat sy stem sak: “Hoe hou jy dit met suster Dunster se tirades?”

Hy staan met sy stetoskoop om die nek, groot en stewig in ’n oopnekhemp en netjiese langbroek. Deesdae dra die dokters in die privaat hospitale nie meer wit jasse op hulle saalrondtes nie.

“Wat weet jy van tirades, Wynand?” glimlag sy strammerig. Die man weet wat hier aangaan, kom dit voor.

“Haar self al gehoor en self onder haar tong deurgeloop,” erken hy gemaklik. “Sy is nie ’n maklike mens nie.”

Laura sê liewers niks. Sy wil tog nie skinderpraatjies maak nie. Netnou klink sy na ’n moeilikheidmaker.

“Is jy vanaand of môreaand net na werk besig?” vra hy onverwags. “Kan ek jou dalk ontmoet as jy klaar is? Ek wil jou mening vra oor ’n paar dinge hier in die saal. Dan gaan eet ons sommer hier langsaan by die Dros. Ek wil baie graag hoor wat hier aan die gang is. Want almal het klagtes, en selfs jou stilswye vertel my ook iets. Beskou dit as ’n vergaderinkie.”

Laura dink in hoogste rat. Vanaand is Dries se skaakaand by die klubsaal. Sy sou in elk geval net voor die TV gaan sit het ná ete. Of miskien daarmee saam haar strykwerk gedoen het. ’n Lekker ete klink vir haar baie aanloklik, al is dit nou eintlik om by die dokter oor haar saal te gaan skinder.

“Ons kan mekaar vanaand daar ontmoet, so net na sewe,” stem sy in. Sy weet nie veel van die man af nie en moet miskien liewers eers bietjie uitvra by die ander.

Maar eintlik is dit mos sy wat in ’n verhouding betrokke is. Sy gaan vas uit met Dries, so dis sý wat versigtig moet wees watter afsprake sy aanvaar. Miskien sal dit beter wees om Dries oor haar afspraak met die dokter in te lig. Dan kan daar nie stories by hom uitkom nie.

Sy stuur gou vir hom ’n sms: Ek het na werk ’n verg oor hosp sake. Lekker skaak speel.

Nou kan hy nie kla sy doen dinge agteraf nie. Hy is hoeka nogal die jaloerse tipe, dink sy, effens skuldig oor hoeveel feite sy in die afgelope paar dae nié bekend gemaak het nie. Feite soos dat die vergadering oor ’n ete gaan geskied en dat daar slegs een ander persoon teenwoordig sal wees. Watse vergadering is dit? Dis eintlik ’n afspraak onder die dekmantel van ’n vergadering. Nie juis eerlik nie.

Ook het sy in haar aankondiging dat sy oor Kersfees Phuket toe wil gaan nie uitgespel dat dit saam met ’n man sal wees nie. Sy het net gesê Francis. En Frances, só gespel, kan ’n vrou ook wees. Met ’n jaloerse man moet jy versigtig trap en nie spoke opjaag nie. Snaaks hoe jaloesie in ’n verhouding jou dryf tot halwe waarhede en onderduimsheid waaraan jy andersins nooit sou gedink het nie.

Skielik is sy skaam vir haarself. Ná vanaand moet dit end kry, besluit sy. Sy mag Dries nie bedrieg nie. Hy is opreg lief vir haar en dis verstaanbaar dat hy jaloers voel.

Dis omdat hy haar so liefhet, weet sy, dat hy jaloers is op haar tyd en saam met watter mense sy kuier. Sy weet hy hou ook nie baie daarvan dat sy en haar vriendinne party aande gaan uiteet of saam ’n tranetrekkerfliek gaan kyk nie. As hy aan sy boek sit en skryf, vereis hy eintlik dat sy daar naby hom moet wees en vir hom tee aandra. As sy saam met haar vriendinne wil kuier, kies sy dus maar sy skaakaande, of aande wanneer hy moet klas gee vir nagraadse studente.

Hy is deesdae baie ernstig oor haar. Wil net aldag van trou praat. Maar dis sy wat nie kans sien om ernstig te raak met die man nie. Sy het miskien nog nooit regtig oor Braam gekom nie, dink sy eerlik, en dis waarom sy nie met Dries tot trou kan kom nie.

Sy kry weer die ou gevoel van verlies as sy dink aan Braam in Engeland by die beroemde St. Benedict-hospitaal. Sy sou so graag saam met hom wou gaan toe hy ’n bietjie meer as ’n jaar gelede oorsee is, maar hy het haar heeltyd verseker sy moet rustig hier bly, hy sal terugkom. Hy het haar eers elke week gebel en vertel wat in sy lewe aangaan. Watter nuwe mediese tegnieke hy geleer het, watter huis hy na gekyk het, watter geskiedkundige plekke hy oor die naweek besoek het. Daarna het hy meer e-posse geskryf en minder gebel. Hy het gou ’n uitstekende permanente pos losgeslaan en gee nou selfs klas. Sy weet hy sal nie nou meer maklik terugkom nie; dit lyk nie of dit gou sal gebeur nie. Van ’n verdere verhouding met hom is daar seker nie meer sprake nie.

Pleks dat sy daardie tyd ook ’n pos in Engeland gesoek het! Dit was in daardie dae nog maklik om werk in Engeland te kry. Deesdae is dit al vir verpleegsters ’n bietjie moeiliker, en die Suid-Afrikaanse regering is baie daarteen gekant dat verpleegsters landuit gaan.

Nie dat die regering salarisse in staatshospitale opstoot om hulle goeie personeel te behou nie. Inteendeel. In privaat hospitale soos hierdie van haar gaan dit beter, maar oor die algemeen verdien verpleegsters glad te min geld vir die lang ure wat hulle werk en vir die onontbeerlike diens wat hulle lewer. Om nie te praat van al die verantwoordelikheid wat hulle dra nie.

Intussen het Dries ná Braam se vertrek die gaping raakgesien wat sy goeie vriend in Laura se lewe gelaat het, en hom al dieper in haar lewe ingevroetel. Omdat sy so ongeërg oor hom was, en hy haar aanhoudend verseker het dat hy haar heel, allerheelbeste vriend is, was sy stom verslae toe hy ’n maand of wat gelede verklaar het dat hy mal is oor haar en met haar wil trou.

“Ek dag ons is net baie goeie vriende,” het sy hulpeloos gesê.

“Lankal nie meer nie, erken dit maar self,” het hy aangehou. “Jy sal dit een van die dae sommer op ’n dag net weet dat jy lankal vir my lief geword het. Ons gaan al ses maande lank uit. Dis liefde, niks anders nie.”

“Ek dink nie so nie,” het sy gekeer.

“Gee kans,” was sy enigste antwoord.

Van toe af het sy hierdie onrus in haar oor hulle twee. Sy weet sy moenie so onseker wees nie. Hy is dan die wonderlikste man op aarde. So begaaf – alles wat hy aanpak, doen hy goed. Speel hy sport, kom hy sommer vanself reg. Lees hy iets, ontdek hy die kern van die saak en onthou die belangrikste. Gaan hulle fliek, weet hy wie speel die hoofrolle en waaroor die tema handel. Kom politiek ter sprake, weet hy wie is in die nuus en het hy ’n sterk eie mening daaroor.

Boonop het die man status. Mense sien op na ’n senior lektor wat ’n vak soos ekonomie op universiteit doseer. Daar is gerugte dat hy binnekort, voor hy veel oor die dertig is, ’n professor sal wees. Mense keer hom gedurig voor en praat met hom oor die baie reisartikels wat hy vir koerantbylaes en tydskrifte skryf. En ook oor die verslag wat hy vir die regering oor werkloosheid nagevors het. En so aan, en so aan. ’n Veelsydige, intelligente en produktiewe man. Sy kan haar ou skoene agterna gooi vir ’n man soos Andries Moolman de Villiers.

Hy het ook, les bes, haar met sy skimpe en klagtes sover gekry om op te hou rook. Darem een baie goeie gevolg wat uit hulle verhouding voortgekom het. Daarvoor moet sy hom seker bedank: dis baie sleg as ’n verpleegster rook. Daardie rookasem so naby haar pasiënte! En die beslommernis om altyd iewers buite te moet gaan rook. Op ’n dag soos vandag sou sy byvoorbeeld moes koes vir die reën daar in die rokers se binnehof. ’n Mens noem nie eens hoe sleg dit op die lang duur vir jou gesondheid is nie.

Dis beslis nog ’n pluimpie vir Dries: dat hy haar oorreed het om die liederlike rookgewoonte te laat vaar. Dit was uiters dom van haar om destyds as jong verplegingstudent sigarette van haar medestudente te aanvaar. Pleks dat sy toe nee gesê het, dan het sy nie nou so swaargekry nie, dit erken sy.

Sy kan maar net daarvoor baie dankbaar wees teenoor Dries. Hy was streng met haar en sy het haar deur sy aanmoediging laat inspireer.

En asof daar nie genoeg pluspunte omtrent Dries is nie: iewers in sy familie is daar geld ook. Hy ry met ’n wonderlike motor en hou vakansie op eksotiese plekke. Hy was self al twee keer in Thailand en sal dus nie aandring om oor Kersfees saam met haar te gaan nie, daarvan is sy oortuig. Hy het dit alles al gesien en gedoen.

Sy weet sy sal moeilik weer so ’n fantastiese man kry. Hy is wel bietjie kort en sy hare raak bietjie min, maar hy is ’n gesagsfiguur, iemand wat respek en aandag afdwing deur sy sterk persoonlikheid. Sy behoort nou vinnig aan hom verloof te raak om te keer dat hy ’n ander vrou kies. Maar sy voel nie aldag so seker van haar hart en haar gevoelens vir hom nie. Miskien moet sy haar nou doelgerig op die verhouding toespits. Sy moet miskien van haar kant af haar flikkers gooi, seker maak dat sy hom behou. As sy net sekerheid oor haar gevoelens kan kry!

En daarom móét sy na Phuket gaan, verseker sy haarself weer. Sy moet ’n slag behoorlik na Dries verlang, terugkom na hom toe, in sy arms kom val en verloof raak. Teen volgende jaar hierdie tyd moet hulle trou en al die onsekerheid agter die rug hê.

“Ek kom, suster,” sug sy toe Dunster vir die hoeveelste keer vandag na haar roep, hierdie keer om vir ’n pasiënt vars water te neem.

“Ek het ná middagete al die waterkraffies vol gemaak, die water is vars,” brom sy teenoor Anneleen. Maar sy gaan doen tog vredesonthalwe wat die suster haar beveel.

Teen die einde van die dag is sy so moeg dat sy kan omval. Sy is nie regtig lus om in haar uniform te gaan uiteet nie. Boonop moet sy nou nog met die wildvreemde man ’n kastige vergadering hou. Daar is geen manier dat dit aangenaam kan wees nie: ’n vergadering is ’n vergadering. En as hy haar ’n paar drankies kan injaag, sal hy dit sekerlik doen in die hoop dat sy dan uit die huis sal praat, dink sy sinies.

Of selfs by hom in die bed sal val, gaan haar gedagtes op loop. Sy het al van gevalle gehoor waar dokters die verpleegsters intimideer vir seksuele gunsies. Nou sal sy droëbek sonder ’n glasie wyn moet sit sodat hy nie van haar misbruik kan maak nie, haar nie kan uitlok tot ’n los-en-vas-pratery nie. En as sy hom van al die gevoelens teenoor die beheersuster sal vertel, sal hy sweerlik dink sy dik aan.

Sy wens sy kan haar uit die afspraak wikkel, maar sy het nou ten ene male belowe dat sy sal gaan. Dis nou te laat om ander planne te maak. Sy is op slot van sake ’n betroubare mens.

Toe sy tien minute laat by die Dros instap, sien sy Wynand nêrens nie. Miskien moet sy maar vinnig omdraai en spore maak, dink sy verlig. Hy het seker geloop omdat sy laat was. Hy was dus nie regtig ernstig oor die uitnodiging nie, besluit sy en kies die hasepad. Maar sy is pas by die laaste trappie af, toe hy met ’n geskarrel daar aankom.

“Ek is jammer ek is laat. Die laaste operasie van die dag het onverwags ’n komplikasie opgelewer. Bly asseblief en eet saam met my. Asseblief. Ek sien al die hele dag uit hierna.”

Hy raak ligweg aan haar elmboog. Sy huiwer ’n lang oomblik, maar laat haar dan na ’n tafeltjie in die hoek op die stoep stuur. Hy is selfversekerd, en dit laat haar goed voel om saam met so ’n aantreklike man gesien te word. In haar agterkop pla die feit tog maar dat Dries eintlik ’n bietjie te kort vir haar is.

“Dis so lekker warm en stomend na die reën, dis heerlik om buite te sit, maar ek hoop nie die rokers pla jou nie.” Hy trek galant ’n stoel vir haar uit.

Sy moet lag. “Tot twee weke gelede sou ek hier buite móés sit,” vertel sy. “Ek het soos ’n skoorsteen gerook.”

“Dis nie waar nie!” roep hy duidelik geskok uit. “Waarvoor sal ’n verpleegster van alle mense haar gesondheid so in gevaar stel?”

“Jy mag wel vra. Ek was jonk en wou cool wees. Toe begin ek met ’n sigaret na etes, en toe ook na teetyd, en later vóór etes en vóór teetyd en as ek gestres voel, en as ek vrolik voel en as ek sleg voel. Toe word dit ’n kettingrokery.”

“Sjoe! Dis verskriklik. Gewoonlik is kettingrokers ou omies met geel hande wie se asem en klere stink. Of ou tannies met rasperstemme en rou hoesies. En hulle ruik na pepermente soos hulle die reuk probeer wegsteek. Hoe gaan dit met die onttrekkingsimptome?” vra hy simpatiek.

“Ag, aaklig! Ek voel duisend keer op ’n dag in my sakke vir die pakkie sigarette. En ek voel by tye nogal naarderig.”

“Baie lemoensap drink, onthou dit,” beveel hy. “En vasbyt. Dit sal nou net beter gaan! Twee weke se uithou: jy’s lankal oor die hond se stert.”

“Ek hoop so. Ek het vas besluit om nie weer te begin nie.”

“Mooi so! Dis die belangrikste. Van lemoensap gepraat: wat drink jy vanaand? Ek sal moet hou by alkoholvry, ek het nog ’n rondte om te doen later vanaand, maar ek kry vir jou ’n glas wyn, of ’n skemerdrankie. Wat sal dit wees?”

Dus is hy gelukkig nie van plan om ’n bottel te bestel en haar te veel te laat drink om haar onverantwoordelik te laat praat nie, besef sy.

“Ek sal ’n glasie droë witwyn drink,” vra sy. “En ’n glas water, asseblief. Ek hou nie van lemoensap saam met kos nie, anders het ek nou dadelik jou raad begin volg.”

Sy glimlag vertroulik vir hom. Sy kry ’n groot, warm glimlag terug. Hy hou ’n oomblik haar blik gevange, totdat sy wegkyk en haar servet oopvou.

“Ek bewonder jou dat jy opgehou rook het,” prys hy haar. “Wat het jou gemaak ophou?”

“Stink asem, ’n kêrel wat dit verpes het, my longe – alles was net gereed vir ophou. En toe ek die besluit geneem het, was ek oortuig daarvan dat ek dit moes doen. Wilskrag is blykbaar die enigste manier.”

“Dis waar! Kry eers jou kop reg en die res kom vanself. Dis dieselfde met oorgewig en ander slegte gewoontes.”

“Wel, só maklik was dit nou nie, maar ek het nog nie een maal toegegee nie.”

“O, maar dan is jou kop deur. En so van koppe gepraat: ek haal my hoed vir jou af.”

Hy haal kamtig ’n hoed af en swaai sy arm galant, sodat sy moet lag. Sy voel hoe sy ontspan en hoe die ergernisse van die dag uit haar vloei. Dié man het ’n lekker loslitaanslag wat haar laat vergeet van die dinge wat haar pla.

“Heerlik,” teug sy aan haar koue wyn. “Gelukkig is die wyn én die glas yskoud.”

“Ek wens ek kon saam met jou wyn drink,” erken hy. “Maar selfs een glasie is taboe, want by my gaan dit baie gou kop toe, al is ek so groot. Veral op ’n nugter maag. Ek weet nie wanneer ek laas geëet het nie.”

“Nou sal ek weer vir jóú moet preek: ’n mens moet gereeld eet,” sê sy en wys vermanend met haar voorvinger. “Kleiner maaltye, en meer gereeld, eerder as een groot ooreet nadat jy verskriklik honger geword het.”

“Ja, suster Els! Jy is natuurlik honderd persent reg. Maar ek was heelmiddag in die teater, en as ’n mens eers geskrop het, is daar nie eintlik tyd vir eet nie.”

Hy leun moeg terug en laat sy blik oor haar gaan, sodat sy effens selfbewus voel. Sy het net vinnig ’n kam deur haar kort swart hare getrek en haar lipstif opgeknap. Sy weet sy lyk gewoonlik goed al het sy so min moeite gedoen. Trudi, haar haarkapper, kán sny: haar hare val mooi in lae en het bitter min ekstra versorging nodig. Dis maklik, so kort. “Pikant,” het Trudi dit genoem. “Franse chic.”

“Jy lyk mooi maar moeg,” is dit asof Wynand haar gedagtes lees. “Wat gebeur in jou lewe? Het jy naweekplanne, vakansieplanne, langtermynplanne, korttermynplanne?”

“Wag, hokaai,” lag sy. “ ’n Ietsie van alles: hierdie naweek na my ma-hulle in Vanderbijlpark. Desembervakansie op Phuket, dalk ’n werkverandering.”

“Dis ’n geweldige spul planne. Jy’s ’n besige vrou. Vertel nog.” Hy leun vorentoe en kyk haar in die oë. “Dit lyk my jy weet wat jy in die lewe wil hê.”

“Nee, dis juis oor ek nié weet wat ek wil hê nie dat ek so baie planne het.”

Voor sy haar kom kry, vertel sy vir hom die agtergrond van die skielike vakansie op Phuket. “Ek was daar. Ek het die verwoesting gesien. Ek móét gaan kyk of die plek en die mense reggekom het.”

“Wat ’n storie!” roep hy verbaas uit. “Om te dink jy was daar met die tsoenami. Dit was een van die grootste natuurrampe in die geskiedenis van die mensdom en as jy dit meegemaak het, moet jy dit sekerlik dikwels herleef. Daar is min Suid-Afrikaners wat eendag vir hulle kinders sal kan vertel dat hulle daardie gebeure beleef het. Maar ek dink dis so reg dat jy weer gaan; om nou weer die gebied te besoek, is belangrik. Dis seker eintlik nódig om daardie hoofstuk af te sluit, sou ek dink.”

“Dis hoe ek ook voel,” erken sy, dankbaar dat hy verstaan. “Ek was laas jaar voor die tsoenami in Bangkok. Ons het die stad bekyk en mooi klere gekoop, maar ons het toe nog nie die eilandvakansie, die tweede deel van ons vakansie soos ons dit beplan het, beleef nie: die eilande, die strande, die palmbome. Net toe ons by daardie deel van die vakansie gekom het, is alles vernietig.”

“Soveel meer rede om terug te gaan.”

“Ja, dis waar, nè? Was jy al daar, iewers in Thailand?” vra sy uit.

“Nee, nog nie. Daar is soveel plekke op aarde wat ek nog graag wil sien. Ek het nog net in Europa gereis.”

“Dis waar almal mos maar begin,” knik sy en bekyk hom ongemerk goed. Hy is nie juis ’n besondere mooi ou nie: bietjie groot en grof, maar ’n toonbeeld van blakende gesondheid. Hy kyk haar met forsende donker oë aan, sodat sy amper verleë voel oor al die aandag. Verder is hy mooi bruin gebrand, gespierd en selfs fiks, lyk dit vir haar.

“Wat doen jy wat jou so mooi bruin en fiks maak?” verneem sy. “Dis nou jou beurt om my van al jou planne te vertel – wat was dit nou weer? Korttermyn en langtermyn,” terg sy.

“Korttermyn: ’n potjie gholf eenmaal ’n week op ’n Saterdag,” begin hy. “En langtermyn: eendag die beste sjirurg in Pretoria.”

“O, ek dink dis wonderlik,” knik sy. “ ’n Mens moet gróót dink. En jy sal definitief daardie toppunt bereik.” Sy hoor mos die mediese mense praat met lof oor hom in die hospitaal, en die pasiënte swymel oor hom. “Party van daardie tannies in my saal sal weer en weer wil laat opereer net om jou dienste te kry.”

Hy gooi sy kop agteroor en lag vir haar.

“En dis hoe almal in die saal weer oor jou as verpleegster voel,” vlei hy haar.

“Ek kan dit nie glo nie.” Sy skud haar kop. “Dis nie wat óns hoor nie.”

Die biefstuk wat sy bestel het en Wynand se vis word voor hulle neergesit.

“Gewoonlik eet ek ook steak,” sê hy en kyk verlangend na haar bord.

“Hierdie plek maak die lekkerste kos in Pretoria. Smaaklike ete,” lig sy haar glas in sy rigting en begin haar slaai eet.

Wynand verorber letterlik sy bord kos. Hy het mos gesê dat hy besonder honger is.

“Hoe gaan dit by julle in die sjirurgiese saal?” kom hy later by die rede vir sy uitnodiging. “Is julle nie verskriklik moeg vir Dunster se gedoentes nie?”

“Wat kan ons doen?” sug Laura. “Dis nie asof ons ’n geldige klagte teen haar het nie. Sy is net nie konsekwent met haar kritiek nie, en sy is onaangenaam. Niks wat mens kan aanmeld nie. ’n Onaangename, kritiese geaardheid is iets wat die res van die saal maar moet aanvaar. As dit geregverdig was, sou dit goed wees; ’n mens moet ’n skoon saal en kiemvrye werkmetodes hê. Maar sy is darem te erg. Dit krap die atmosfeer om, dit maak dat mense agteraf brom. Maar sy tree nie oneties op nie. Almal trap in hulle spoor. Dis basies onskadelik.”

“Nee, ek dink nie so nie. Sy dryf ons beste verpleegsters weg. Want hulle vra nie binne die hospitaal verplasings nie, hulle loop heeltemal weg uit ons hospitaal uit. Nou die dag is iemand selfs na ’n staatshospitaal van alle plekke – hier van ons pragtige privaat hospitaal af soontoe. Heeltemal ongehoord. En dit net omdat suster Dunster hulle so desperaat kwaad maak.”

“Ek wens die owerhede wil haar bevorder na die een of ander administratiewe kantoor waar sy niemand hoef op te pas nie,” glip dit uit. Sy hou haar hand voor haar mond. “Ek moes dit nie gesê het nie.”

“Wat ’n goeie plan!” roep Wynand uit.

“Net onuitvoerbaar,” glimlag sy wrang.

“Miskien nie.”

Hy verander skielik die onderwerp en begin gesels oor ditjies en datjies. Laura voel skaam oor haar uitbarsting. Sy sal dit nog berou dat sy so tekere gegaan het.

Toe sy haar kom kry, is dit al halftien.

Sy stap na haar motor, met Wynand wat vir ’n kort oomblik sy arm om haar skouers vou. Toe sy oopsluit en weer na hom draai om dankie te sê, skrik sy effens. Hy staan baie naby aan haar, sodat sy selfs die geur van sy naskeermiddel kan ruik.

“Ek sal jou graag weer wil sien,” sê hy en leun oor om haar te soen. Sy kan hom nie keer nie en voel ’n ligte soen op haar wang. “Veilig ry en lekker slaap.”

’n Elektriese skok gaan deur haar. Sy voel die intensiteit van sy nabyheid.

“Jy ook,” sê sy outomaties en klim in, haar gedagtes skielik in ’n warboel. “Nogmaals baie dankie.”

Sy het nooit daarby uitgekom om hom van Dries te vertel nie, behalwe die vlugtige verwysing na ’n kêrel wat oor haar rokery gekla het! Sou hy dit raakgehoor het? Of is dit vir hom onbelangrike inligting?

Eers toe sy by haar motorhuis stilhou, sien sy Dries se motor.

“Waar was jy?” verwyt hy dadelik toe sy uitklim.

Ontmoet my in Patong

Подняться наверх