Читать книгу Ontmoet my in Patong - Madeleine Malherbe - Страница 4
~ 2 ~
ОглавлениеHaar laataandjie sonder Dries lei tot die eerste regtige groot argument tussen hulle.
“Hoekom is jy so laat en waar was jy?”
“Ek het jou mos ge-sms en gesê wat my planne was, onthou jy nie: ’n vergadering na werk. En ons het sommer geëet agterna.”
Sy gaan nie verder verduidelik nie. Sy gaan ook nie uit en uit begin jok nie.
“Kan ek inkom vir koffie dat ons hieroor praat?”
“Niks om oor te praat nie. Jammer as jy vergeet het ek het iets aan. Ek is regtig flou en wil gaan slaap.”
Hy ruk hom op en staan haar beskuldigend en aankyk.
“Nag, lekker slaap.” Sy gee hom ’n piksoentjie, wat hy nie beantwoord nie.
Uiteindelik ry hy met skreeuende bande weg en sy draai met bewende hande haar voordeur oop. Dit was tog onaangenaam. Sy hou haar nie gewoonlik so sterk en selfgeldend teenoor Dries nie. Sy sou ’n week gelede verduidelik en gepleit het en gesorg het dat hulle nie kwaad uitmekaar gaan nie.
In die sitkamer kyk Zelda van haar boek af op. “Waar bly jy?”
“Nie jy ook nog nie,” sug Laura en skop haar skoene uit.
“Wat bedoel jy tog?”
“Nee, Dries het my nou net hier buite daaroor aangevat dat ek so laat uit was. En hy wou weet waar ek so laat bly.”
“O ja, hy was twintig minute gelede hier om na jou te verneem. Ek het gesê jy is seker maar saam met die vriendinne uit, dis mos sy skaakaand. Toe brom hy iets van jou vergadering na werk en loop weer. Hy het nou seker twintig minute in sy motor gesit en stoom en dit het natuurlik vir hom baie lank gevoel, daarom dat hy dit op jou uithaal.”
“Jong, ek wou dit nou nie vir hom vertel nie, maar Wynand Loubser, een van die sjirurge, het my vir ete genooi. Hy wou uitvind wat daar op ons vloer aan die gang is. En toe eet ons ’n stukkie so tussen die ‘vergadering’ deur.” Laura glimlag skalks.
“O-o-o,” sê Zelda veelseggend. “ ’n Nuwe bewonderaar, en jy wou dit nie vir Dries sê nie.”
“Nee, dis nie ’n bewonderaar nie. Hy bekommer hom blykbaar oor die slegte atmosfeer op ons vloer en wou regtig weet wat daar aangaan.”
“Om wat mee te maak? Hierdie dokters voel vere vir die atmosfeer in ’n saal. Hulle doen net hulle werk, plaas hulle bestellings en order almal rond. En almal spring vir hulle hoog en laag. Wat is daar vir hom daarin om hom aan verpleegdinge te steur?”
“Nee, ek weet ook nie juis nie. Maar hy is nietemin heel aangenaam en ons het toe sommer lekker daaroor en oor ander dinge ook gesels.”
“Dit klink so! Vertel hoe lyk hy. Wat praat julle toe alles vir ure en ure?”
“Wel, ek het hom vertel van my vakansieplanne, en hy reken die tsoenami het so ’n geweldige wêreldwye impak gehad dat dit baie besonders is dat ek dit meegemaak en oorleef het. Hy meen ek moet beslis hierdie jaar-later-ding gaan doen. In Thailand gaan kyk na wat ek nog nie gesien het nie, lekker vakansie hou. Die hele ondervinding finaal verwerk.”
“Wat ’n wyse man,” stem Zelda saam. “Hoe lyk die ou? Dit klink vir my hy is net die man vir jou. Steek vir ou Dries in die pad.”
Sy bly ’n lang oomblik stil en kyk Laura stip aan. “Noudat ek dit so sê, weet ek wat my heeltyd van Dries pla: hy is oud voor sy tyd. Glad te styf. Glad te presies. Glad te klinies. Glad te oud vir jou. Jy is jonk en vrolik en trippel ligweg deur die lewe.”
“Haai, Zelda, ek het nie geweet jy hou nie van hom nie! Almal moedig my heeltyd aan om met die man te trou. En só oud is hy darem nie. Net oor die dertig, en ek is twee en twintig. Dis nie genoeg rede vir jou om iets teen hom te hê nie. Jy het my dan nog heeltyd aangemoedig met hom.”
“Ja, maar dis omdat hy ná daardie lae luis van ’n Braam nogal ’n vangs is. Jy en Braam was fantasties saam, maar hy het nie mooi met jou gemaak nie. Hy kon jou gerus saamgevra het Engeland toe sodat jy ook jou vlerke kon sprei. Hy moes jou nie net hier laat agterbly het nie, met of sonder beloftes oor later. Saam daar anderkant kon julle verhouding op eie stoom aangegaan of doodgeloop het. En jy kon saam met hom daar aangebly het, of mettertyd met sakke vol Engelse geld en baie ondervinding teruggekom het.”
“Miskien wou hy juis hê dat ek self besluit. Hy wou nie vir my keuses verantwoordelik wees nie. Hy het dit in amper soveel woorde gesê.”
“Ja, maar eers agterna, toe hy lankal opgepak en weg was. Dis ook nie regverdig nie.”
“Net nog ’n voorbeeld van swak kommunikasie wat dinge kan maak of breek,” sug Laura. “Ek gaan nou lekker bad.”
Sy tap vir haar ’n bad vol skuimwater. Sy was regtig baie mal oor Braam. Sy het, as sy nou regtig eerlik wil wees, nie ewe veel erg aan Dries nie.
Sy lees ’n tydskrif in die bad, tap later nog water by en klim eers baie later uit, heeltemal loom van die warm water en die glas wyn vroeër by die ete.
Sy slaap vir die eerste keer in weke soos ’n klip, totdat haar wekker vroegoggend lui. Sy het selfs moed vir die nuwe dag, en om vandag te gaan verlof vra vir die vakansie op Phuket.
Suster Dunster is egter nie geneë dat sy oor Kersfees verlof neem nie.
“Wat makeer jou om sommer te gaan plek bespreek? Is dit af Kaap toe? Jy moes eers gevra het,” tier sy, vas onder die indruk dat dit sommer ’n plaaslike trippie is wat sy maar in die wiele kan ry.
“Ek het hierdie jaar nog nie twee dae verlof geneem nie,” verweer Laura. “Jy het elke keer gesê ons is te besig. En party van die kere wat ek dan kom werk het, soos oor die Paasnaweek, was dit stil soos die graf in die saal. Almal is ontslaan so gou as wat ons hulle enigsins by die deur kon uitkry. Dis mos maar dieselfde oor Kersfees. Min operasies, net noodgevalle. Dit sal wel stil genoeg wees.”
“Ek sal sien. Ek dink daar is ander wat voor jou ’n beurt moet kry,” brom die ouer vrou onsimpatiek.
“Ek sal bly wees as ek hierdie beurt kan kry,” dring Laura aan. “Al die ander het al heelwat langnaweke gekry. Ek het hierdie veertien dae dringend nodig.”
Dunster maak asof sy nie gehoor het nie en draai om, sodat Laura daar staan, onvergenoeg, onseker, kwaad.
As sy my nie laat gaan nie, bedank ek vir middel-Desember, dink sy vasberade. Verpleegsters kry altyd weer werk.
En wat die koste betref: Francis het al die onkoste op hom geneem. Dis wat “ek nooi jou” tog impliseer. Al weer die Engelse pond wat so ver kom in die wêreld. In randwaarde sou die bedrag seker aansienlik wees, veral hierdie tyd van die jaar. Maar vir die Britte en die Europeërs met hulle ponde en euro’s is vakansies oorsee sommer niks.
Laas jaar se lekker koel vakansieklere sal reg wees vir hierdie jaar ook, besluit sy. Sy sal net ’n bietjie sakgeld nodig hê. En ietsie waarmee sy vir die familie aandenkings kan koop. Laas jaar het sy ook kleinighede saamgebring. Maar haar grootste geskenk aan haar familie was dat sy hulle daardie swart Sondagoggend op ’n geleende selfoon kon bel en sê: “Ek was in die tsoenami maar ek leef, God sy gedank.”
Laura verpleeg outomaties soos die dag vorder. Haar kop is ver weg. Eers in Thailand met sy wonderlike vreemde Oosterse mense, kos en lewenswyse, en dan op die eiland Phuket, waarvan haar eerste indrukke pragtige strande, wuiwende palmbome en lowerryke plantegroei was. Daardie prentjiemooi beeld wat skielik uitgevee is en voor haar oë verander het in ’n verwoeste landskap van opdrifsels, wrakke en bouvalle, histeriese mense en chaos.
Sy gril weer by die gedagte hoe amper sy daardie dag verdrink het. Hoe dit net ’n enkele oomblik was tussen dood en lewe.
Maar sy ban hierdie gedagte uit haar kop. Dis die hier en nou wat werklik saak maak. Sy moet leef om ’n verskil te maak in die lewens van mense wat haar pad kruis. Sy is ’n tweede kans gegun en moet die heel beste daarvan maak.
Dié wete hou haar dan ook ekstra geduldig met die moeilike Dunster. Sy laat die beheersuster in en uit haar gesigsveld skuif sonder om te veel notisie te neem van haar buie en uitbarstings. Iets is met die arme vrou verkeerd, dink sy, omstandighede of fisieke probleme, voete wat pyn of ’n hart wat seer is. Anders sou sy dit nie so op die wêreld en sy maat uitgehaal het nie.
Wynand Loubser kom op sy rondtes na al sy pasiënte, die ewig teenwoordige Dunster aan sy sy. Laura maak haar uit die voete en gaan drink gou ’n koppie tee.
Tot haar verbasing kom soek Wynand haar in die teekamer. “Kan ek ook ’n koppie kry?” pleit hy.
Sy skink vir hom ’n koppie en kyk hom rustig aan terwyl hy melk ingooi. “Die tee is al ’n bietjie afgekoel. Ek kan ’n nuwe pot maak,” bied sy aan.
“Dis maar hoe ek dit die meeste van die tyd drink,” wys hy haar aanbod van die hand. “Lekker warm koppies tee is my nie beskore binne hierdie hospitaal se mure nie. Daar is altyd ’n pasiënt of ’n operasie of ’n krisis wat mens wegroep.”
Sy glimlag instemmend en teug aan die sterk tee. “Wat van kookwater?” bied hy op sy beurt aan. “Joune lyk ook maar na gif.”
“Nee wat, dankie, ek hou daarvan sterk en bitter, met net die kleinste bietjie melk.”
Die gedeelde oomblikke in die teekamer duur nie lank nie. Suster Dunster kom hom soek.
“O, hier is jy, dokter Loubser,” beskuldig sy. “Daar is nog ’n pasiënt in kamer 20 wat jy moet sien.”
“Ek weet, suster,” sê hy kalm. “Kom drink saam ’n koppie tee.”
Maar Dunster wip haar gemaak besig en verdwyn gangaf.
“Het jy toe lekker geslaap gisteraand?” verander hy die onderwerp.
“Soos ’n klip, dankie. Vir ’n verandering.”
“Wat ’n glasie wyn op sy tyd tog nie kan doen nie,” terg hy.
“Dit was ’n lekker ete, baie dankie.”
“En baie lekker geselskap,” flikflooi hy.
“Baie lekker vir my ook,” stem sy saam. “Maar jy weet ek het eintlik ’n spesiale vriend?”
Toe sy dit gesê het, is sy meteens spyt dat sy die niksvermoedende Wynand na dese nooit weer sal kan ontmoet nie.
“Waar was hy dan gisteraand?” vra hy ’n bietjie aanvallend.
“Ek het vir hom gesê ek het ’n vergadering terwyl hy skaak speel,” erken sy skaam. “Dit was seker nie heeltemal eerlik nie. Die vergaderinggedeelte van die aand was amper niks.”
“En nou voel jy skuldig? Sê my, sal jy van nou af vir altyd net sy geselskap wil hê?” verneem hy en kyk haar deurdringend aan. “Sal jy van nou af nooit weer met my wil vergadering hou nie – of uit en uit saam met my wil kuier nie?”
“Hy dink ek en hy is in ’n eksklusiewe verhouding.”
“Maar jy voel vasgevang?”
Sy bly hom ’n antwoord skuldig. “Ek moet nou gaan.”
“Sien jou volgende week, dieselfde tyd, selfde plek?”
“Ons sal sien,” ontwyk sy hom.
Hy het dadelik gesnap dat die skaakspelery gereeld plaasvind, lei sy af. Maar sy is tog onrustig. ’n Man wat bereid is om agteraf uitnodigings te maak – nadat sy gesê het sy het ’n kêrel – is óf uiters onsensitief en arrogant, óf ’n vegter wat nie nee vir ’n antwoord sal neem nie. En as sy ja sê vir nog ’n aand, is sy blatant besig om Dries te verkul.
Die aand gaan sy saam met Dries na ’n musiekkonsert, maar sit lang gape agter haar hand en gaap. Die sopraan sing onbekende, baie ingewikkelde kunsliedere met ’n stem wat vir Laura te skerp klink op die hoë note. Sy weet nie genoeg van musiek af om te weet of dit goed of swak is nie, maar dit val nie lekker op haar ore nie.
Terug by die woonstel maak sy vir haar en Dries koffie en hulle gaan sit in die sitkamer. Zelda het in haar kamer in verdwyn om te studeer en sal nie weer verskyn nie.
Dries trek Laura nader en begin haar hartstogtelik soen. As daar een ding is wat hy kán doen, is dit soen. Gewoonlik smelt sy in sy arms en voel skoon weggevoer, maar vanaand voel sy ongemaklik. Sy het intussen al weer begin wonder of sy tog met die man wil trou, of sy regtig vir hom lief is, en of sy hom net as ’n goeie vriend wil hê.
“Mans wil nie net goeie vriende wees nie, en hulle wil nie net ’n klein bietjie vry nie,” het Anneleen haar nog vanoggend by die werk vermaan. “Hulle wil alles of niks hê. Jy sal moet kies en hom moet afsê as jy nie wil verloof raak en trou nie. Of jy sal vir hom ’n datum moet gee wanneer jy verloof sal raak.”
“Dit lyk my so,” het Laura erken, ongemaklik met die feit dat Dries dalk heeltemal uit haar lewe sal verdwyn. Eers Braam, nou Dries, ek gaan deur die manne, dink sy moeg.
Maar alleen wil sy ook nie wees nie. ’n Mens het ’n man aan jou sy nodig vir uitgaan. Dis nie altyd lekker tussen ’n klomp vroue nie.
“Ek is flou,” sê sy dus ná ’n rukkie vir Dries. “Ek het ’n verskriklike woeste dag gehad. Miskien moet ek maar gaan inkruip.”
“Kan ek by jou kom inkruip?” flikflooi hy.
“Nie vanaand nie,” keer sy.
Sy sou graag in sy arms wou lê en sy nabyheid wou voel. Maar sy durf hom nie meer aanleiding gee noudat hy van trou gepraat het en sy weet dat sy nie so ernstig oor hom voel nie. Sy het dit geniet om hom bloot as vriend te hê, maar het nie die hart om ’n slag die waarheid te praat noudat hy meer as vriendskap eis nie. Nie vanaand nie, nooit nie. Sy moet maar hoop dat sy binnekort die moed sal kry om vir hom te sê dat hulle nie méér as goeie vriende kan wees nie.
Hy gaan teësinnig huis toe. Sy weet sommer dat hy haar weer binne die volgende dae gaan vertel hoe lief hy haar het en dat hy sal aandring sy moet besluit. Noudat hy dit eenmaal gedoen het, sal dit weer gebeur. En weer en weer, totdat sy ja sê.
Sy wens sy kon finaal van Braam afskeid geneem het, dan was dit dalk makliker om nou haar hart aan Dries te gee. Maar Braam het nooit afskeid geneem nie, hy het net geleidelik uit haar lewe verdof.
Dit laat haar tot vandag toe nog met ’n vae onrustigheid. Sê nou maar ons was wel vir mekaar bestem? Sê nou maar hy kom op ’n dag terug en sy het nie vir hom gewag nie? Maar eintlik weet sy dat so ’n lang tyd waarin daar geen vordering in hulle verhouding was nie net een ding beteken: dit sal nooit weer wees nie.
Weer eens maal die gedagtes deur haar kop, sodat sy moet opstaan en gaan warm melk drink en ’n vervelige boek begin lees om uiteindelik aan die slaap te raak.
Laura gaan vir die naweek na haar ouers in Vanderbijlpark. Hulle gaan teen laatmiddag op die rivieroewer tussen die reuse wilgerbome stap.
“En hoe gaan dit met Dries?” verneem haar ma gesellig. “Ek het gewonder of jy hom nie sou saambring nie. Of sit hy en werk aan sy boek?”
“Ek wil net ’n bietjie alleen by julle kuier, Ma,” kla sy. “Dis nie vir my lekker om julle met hom te deel nie. Hy gesels wel lekker met Pa, maar ek en Ma kry dan nie so lekker gekuier nie.”
“Ja, dis waar. Maar as hy jou man gaan word, moet jy tog ’n naweek tussen ander vriende of familie saam met hom kan hanteer. Hy moet gemaklik wees as ek en jy verdwyn om ’n bietjie te kuier, en sommer ’n boek vat en lees as Pa nie hier is nie. Of hy kan die grassnyer vat en help sny,” lag haar ma.
“Dis nie eintlik die ding nie, Ma … Ek is nie meer seker ek wil met hom trou nie. En ek wil hom nie langer aan ’n lyntjie hou nie. Hy dink ek is lief vir hom en wil dit net nie erken nie. Maar intussen voel ek steeds net vriendskap vir hom. Dis lekker om met hom uit te gaan. Dis gewoonlik iets nuuts en anders wat ons doen, want hy is beslis nie in ’n groef nie. Nie soos Zelda en Mike wat elke Vrydag klokslag gaan fliek en gaan vis en skyfies eet nie. Hy’s interessant en opwindend en hy soen verskriklik lekker.”
Haar ma lag net. “Maar op die ou end moet jy lief wees vir die man voor jy met hom kan trou.”
“Hoe weet ek tog wat liefde is, Ma? Toe ek gedink het ek en Braam is lief vir mekaar en sal eendag trou, toe verdwyn hy oorsee en moet ek agterkom hy mis my nie. Ek kan nie my eie oordeel vertrou nie. Hoe weet ek hierdie gevoel van vriendskap vir Dries is nie genoeg nie? Ek sal hom baie mis as hy nie meer in my lewe is nie. Ek geniet regtig sy vriendskap.”
“Wel, uitstekende sterk huwelike is al op vriendskap gebou, waaruit mettertyd deernis en empatie en later liefde gekom het. Soos wanneer mense eers saamwerk aan iets en dan later uitvind hulle kan nie meer sonder mekaar nie. Gee dit nog kans, my kind. Hy is so ’n knap, veelsydige man.”
“Ek weet nie hoe lank hy my nog gaan kans gee nie. Vir hom tiktok die biologiese klok.”
“Anders moet jy uitmaak, eers nog weer ander mense ook sien. En as julle vir mekaar bestem is, sal dinge reg uitwerk.”
“Maar dis hoe ek oor Braam gevoel het: dat dinge nog sal uitwerk. Nou is hy uit my lewe. Pleks dat ek agter hom aan Engeland toe gegaan het.”
“Ja, jy was destyds baie verlief. Miskien het dit alles te vinnig en te gou gebeur. Ek het aan die begin gedink jy het te gou rasend verlief geraak, en dat daar behalwe vir die mediese belangstelling nie soveel raakpunte tussen jou en hom was nie. En hy is natuurlik ’n beeld van ’n man – dis dalk sy mooi liggaam en gesig wat jou die meeste getrek het. Iets wat my bietjie afgesit het, was sy lewensuitkyk.”
“Hoe bedoel Ma dan nou?”
“Jy weet hy het kliphard aangekondig hy wil nie in hierdie postmoderne wêreld kinders hê nie. Dit laat my wonder of hy nie baie selfsugtig is nie. Sien nie kans vir doeke ruil, opstaan in die nag, geduldig wees met ’n vrou wat kinders versorg en nie soveel tyd vir hom het nie. Jy weet hoe gesteld hy op voorkoms en netheid is – ontwerpersklere, daardie soort ding. ’n Moeilike ding vir die pa van klein woelwaters.”
“Ag, ek het gedink dis maar praat, dat hy sal verander as ons eers met ’n gesin begin. Lief raak vir die kindertjies en aanpas. Ek sien dit dikwels gebeur onder die geharde wil-nie-trou-en-kinders-hê-nie-tipes. Nou die dag weer gesien by Sandi wat saam met ons geswot het en nou ’n baba het. Toe dit vir Arnold tref – die vaderskap – toe vat hy dit soos ’n man. Hy ruil doeke en vryf winde uit en is vir daardie dogtertjie só lief.”
“Dit kan wel gebeur, maar sulke dinge moet mens maar betyds uitpraat. Dis waar verwydering begin: as albei nie eenders oor sulke belangrike dinge voel nie en mekaar wil verander. Dit kan later erg lol as kinders, kerk, geldsake, al die belangrike sake, nie vooraf uitgepraat is nie.”
“Ag, nou ja, dis in elk geval te laat. Hy is weg en dis neusie verby. Intussen geniet ek alles wat ek en Dries doen. Weet Ma, ons was verlede week by die universiteit se sportgebou vir ’n uitvoering van gimnastiek? Die vloeroefeninge, met die hoepels en linte wat hulle so gooi. Dit was ongelooflik. En daardie opera in die Staatsteater waarvan ek Ma vertel het. Hierdie man het net elke dag iets nuuts en interessants wat ons saam kan doen.”
“Nou sien, daar het jy dit: elke mens het sy eie belangstellings en talente. By Braam was dit leefstyl en voorkoms en sy werk as dokter. By Dries is dit vele belangstellings en talente en ’n uitstaande kop vir sake. Albei het soveel pluspunte.”
“Ja, maar daardie vonk, Ma … Die vonk móét daar wees.”
“Die sekerheid sal kom, my liewe kind. En as jy regtig nie weet nie, is tyd al wat sal help.”
Haar pa en broer Anton kom al geselsend nader.
“Die vuur is amper reg. Kan ek begin braai?” vra haar pa en kom vat haar en haar ma om die skouers. “My twee pragtige vroue,” lag hy en stoot hulle in die rigting van die braaiplek. “Laura, het jy gesien die lekker groot tjops wat jou ma raakgeloop het? Nie hierdie ou lamsboudjies met hulle vleisie so groot soos ’n vuurhoutjieboksie nie.”
Toe hulle later by die piekniektafel gaan sit met hulle vleis en slaai, besluit Laura om hulle te vertel wat intussen gebeur het.
“Onthou julle vir Francis, die Engelsman wat so verskriklik beseer was in die tsoenami? Hy het my in die week genooi om terug te gaan – om ’n jaar later te gaan kyk na die ramptoneel, van die verrigtinge daar by te woon en sommer na die plekke te gaan waarby ons nie laas jaar uitgekom het nie.”
“Dit klink wonderlik! Het hy darem volkome herstel?” vra haar ma. Sy skep vir almal aartappelslaai in en gee die mengelslaai aan.
“Hy sê hy was lank nog besig met fisioterapie, maar hy is nou beter. Ek het ’n foto van hom met ’n kierie of ’n kruk of iets.”
“Het jy ooit geld vir nog so ’n vakansie?” bekommer haar pa hom oudergewoonte. “En het die man nie bybedoelings nie?”
“Francis het aangebied om vir my vliegkaartjie en hotel te betaal. Dit klink my hulle is ’n hele paar wat kom, want hy praat van ‘ons’ en ‘kamers’ in die hotel. Ek neem aan dit kos hom nie te veel nie. Hy betaal mos met Britse ponde.”
“En het jy toe ja gesê? Sjoe, dit klink lekker!” juig Anton. “Ek wou nog alles hoor van die snorkelplekke, en toe het jy laas jaar nooit daarby uitgekom nie. Jy mag maar weer my snorkel en paddavoete leen.”
Laura knik. “Dankie, ek sal. Ek het Francis laat weet ek kom, maar julle besef dis oor Kersfees? Die gedagte is dat ons presies ’n jaar na die tsoenami daar sal wees. Dit sal seker maar ’n hartseer spulletjie wees met al die verwoesting en verdrinkings wat gedenk word, en vir my ook wat na julle sal verlang.”
“Weet jy, ons praat daarvan om maar weer na Ouma in Louis Trichardt te gaan vir Kersfees,” sê haar pa. “En sy is so deurmekaar, sy sal julle kinders seker nie eens mis as julle nie saamkom nie. Dis eintlik dus ’n goeie tyd om weer Thailand toe te gaan, Laura, as jy graag wil gaan. Anton kan met ons saamry Limpopo toe en weer lekker gaan perdry in die Soutpansberg. Dis nou ongelukkig nie ’n lekker Kersfees hier by ons by die huis vanjaar nie.”
“Ons sal jou mis, my kind, maar dis so ’n gulde geleentheid om op te maak vir die ontberings in Phuket laas jaar,” beaam haar ma. “ ’n Mens is natuurlik jammer oor al die verliese wat die plaaslike mense gely het, maar ek was net so spyt vir julle vakansiegangers dat julle toe nie ’n heerlike eilandvakansie gehad het nie. Sommerso teruggekom en hier net weer by ’n hospitaal kom inval. En gewerk en gewerk sedertdien.” Sy sug simpatiek.
“En wie sê daar is nie weer ’n tsoenami nie?” Anton teken ’n hoë brander met sy vurk in die lug.
“Nee wat, daardie was die soort gebeurtenis wat net een maal in ’n mens se geskiedenis voorkom,” verklaar haar pa kort en kragtig. “Dis waarom dit so besonders was dat Sussie daar was. En natuurlik wonderlik, ’n bestiering, dat sy dit oorleef het.”
“Ek sal nooit vergeet toe ek die oggend wakker word en hulle op die nuus berig oor die tsoenami nie,” sê haar ma. “Eers het ons nie ’n idee gehad van presies hoe erg dit was en waar in die wêreld dit orals getref het nie. Ek kon nie eintlik dink dis daar waar jy so lekker gaan vakansie hou het nie. Maar toe kom jou oproep wat vertel jy was in die middel daarvan. Toe skrik ek vir die eerste keer so groot dat ek aan die bewe gaan. Om te dink jy was amper in daardie magtige waters.”
Haar ma pink sowaar weer ’n traan weg en klad dit sommer met haar papierservet droog. Om tot verhaal te kom, begin krap sy die borde skoon en pak hulle in die mandjie.
Ek kan my voorstel dat dit vir ’n ma verskriklike nuus was, dink Laura terwyl sy afgetrokke help opruim. Haar pa begin die rooster skoonmaak en Anton kom nader om die mandjie by haar ma te neem.
Met haar ouers se goedkeuring dat sy weer eens vir Kersfees weg sal wees, voel Laura sommer baie meer positief oor die voorgenome vakansie. Sy ontspan oor haar besluit en begin die vooruitsig geniet.
“Ek vertrek op 24 Desember na Phuket en sal op Kersdag daar aankom, betyds vir die herdenkings wat op 26 Desember plaasvind,” vertel sy een aand kort daarna vir Dries. “Ek wil baie graag sien hoe die wêreld nou daar lyk. As ek aan die plek dink, sien ek net opdrifsels en verwoesting in my kop.”
Sy sien die verbasing op sy gesig. Hy het dus haar woorde van nou die dag nie vir ’n oomblik ernstig opgeneem nie, besef sy. Maar sy druk deur, verbete om haar nie nou meer te laat ompraat om te bly nie.
“Die vliegkaartjie is bespreek en betaal,” gaan sy voort. “Ek kom op Kersdag net voor middagete in Patong aan, en die hotel het glo daardie aand ’n wonderlike Kersete vir hulle gaste.”
Sy sien ’n dun trek van ontevredenheid om sy mond. “My ma sal baie ontevrede wees. Sy het gedink ons kom óf vir Oukersaand óf vir Kersdag na haar toe. Selfs vir albei as jy sou kon bly.”
“Sy sal dan in elk geval baie bly wees as jy kom, want met my uit die land is jy sommer daar vir al twee dae,” troos Laura. “My ouers gaan na Louis Trichardt na my ouma toe. Sy ly mos aan Alzheimers, maar hulle sê haar fisieke toestand het ook nou nogal versleg. Dis dalk haar laaste Kersfees. Hulle sal op die familieplaas gaan oorbly en my broer sal lekker kan perdry. My ouers sal met Ouma besig wees en Ouma sal nie eens weet ek is nie daar nie. Ek is natuurlik spyt om weer weg te wees oor Kersfees, maar ek kan hierdie geleentheid om te sien hoe dinge in Thailand vorder ná die ramp nie laat verbygaan nie.”
“Dat jy nou Patong toe wil teruggaan, gaan my verstand te bowe. Hoekom dan nie maar na Phi Phi of een van die ander pragtige kleiner eilande nie? Patong is ’n lawaaierige moffieplek. Maar maak nes jy wil.”
Die eeue oue laaste woord van verwyt en veroordeling, dink Laura, maar sy sê niks.
Hy storm uit, duidelik ontsteld dat sy met haar planne wil voortgaan. Sy voel terneergedruk oor sy duidelike afkeer. Hy verstaan nie waarom dit vir haar gaan nie. Hy probeer haar ook nie verstaan nie.
Maar dit maak haar terselfdertyd net meer vasbeslote om haar planne deur te voer. En dit moet juis na Patong op Phuket wees wat sy gaan en nie na een van die ander eilande nie. Dit moet wees na waar die hele ding met haar gebeur het. Presies daar waar sy gestaan het: voor en na die tsoenami.
Geen ander plek dra daardie selfde betekenis en atmosfeer nie. Geen ander plek kan ’n jaar na die tyd soveel angs en soveel verligting weerspieël nie. Dis van die grootste belang om op presies dieselfde plek die gebeure te gedenk; Dries se ander eilande kan later bekyk word. Maar sy moet op 26 Desember in Patong wees. Dis die een ding waaroor daar by haar geen twyfel bestaan nie.
Sy wens die kwessie van haar verlof kan ook nou uitgesorteer word. Sy wil graag sekerheid hê noudat die vlugte bespreek is.
Sy handig die volgende dag ’n verlofvorm by suster Dunster in waarop sy die datums neergepen het: 23 Desember tot 10 Januarie. Dit kom haar toe, dink sy vasberade. Sy sal met niks minder tevrede wees nie. Sy gaan nie weer mondelings vra en wag vir ’n antwoord nie. Sy verwag ’n geskrewe antwoord, swart op wit: verlof toegestaan of verlof geweier.
Alles is nou weer meer gekompliseer as voorheen. Haar verhouding met Dries het dramaties verswak; sy wag om van haar verlof te hoor; sy moet ’n besluit neem oor verdere ontmoetings met Wynand; sy moet miskien harder probeer om suster Dunster aan haar kant te kry ter wille van vrede by die werk.
Al waarvan sy nou seker is, is dat sy reikhalsend uitsien na die lang vlug na Phuket, die alleenwees met haar eie gedagtes op die vliegtuig en die weersiens van die enigmatiese Francis, die man met die eens gebroke liggaam wat glo intussen darem herstel het van sy veelvuldige beserings.
Daar was een keer ’n foto van hom aangeheg aan ’n e-pos aan haar. Met sy pet diep oor sy oë kon sy nie juis sy gesig sien en of hy littekens oorgehou het nie. Maar hy het tussen ander mense gestaan en al was daar ’n kruk in elke hand, was hy darem op die been.
Sy wil saam met hom gaan staan op ’n plek waar ’n sekonde die verskil gemaak het tussen lewe en dood – nie net vir haar nie, maar ook vir hom. Sy wil gaan dankie sê vir gespaarde lewens, sy wil gaan besin oor ’n meer sinvolle toekoms.
Sy het gedink ’n vaste besluit sal haar rustiger maak, en dit ís in ’n mate die geval. Maar sy bly wonder of haar verlof toegestaan sal word, en of Dries haar darem sal vergewe vir haar besluit om oor Kersfees so ver weg te gaan. Sal hy geduldig vir haar wag? Of sal hy voor die tyd ’n ultimatum aan haar stel in verband met hulle verhouding? ’n Alles-of-niks-eis?
Asof sy heeltemal aspris vir Dries wil tart, gaan eet sy die volgende Woensdag weer saam met Wynand. Hulle gesels gemaklik, meestal oor die hospitaal en wat elke dag daar gebeur.
Sy gaan ’n raps vroeër huis toe en is tuis net voordat Dries ná sy skaakwedstryde gou kom koffie drink. Sy vertel hom nie dat sy uit was nie. Sy bly net koel en ingedagte, sodat hy in elk geval nie lank bly nie.
Sy kan sien hy is steeds vir haar kwaad, want hy verwys glad nie na die vakansie of hulle verhouding nie. Hy vertel net van die navorsing wat hy intussen gedoen het en dat hy besonder goed vorder met die volgende hoofstuk van sy boek, wat handel oor die arbeidsituasie in Suid-Afrika.
Sy hou haar geïnteresseerd, maar vind dat haar gedagtes heeltyd dwaal. Sy probeer hom nie keer toe hy wil vertrek nie. Sy staan ongevoelig in sy arms toe hy haar nag soen. En sy voel heeltyd soos ’n groot, vet, oneerlike, agterbakse luis.
Daar is die volgende dag ’n koevert met ’n kort briefie op haar lessenaar. Sien jy kans, vra Wynand in die briefie, om voor ’n paneel te verskyn en julle vloer se klagtes oor suster Dunster aan die raad van die hospitaal voor te lê? Op hierdie stadium sal suster Dunster self nie teenwoordig wees nie, maar ons wil net ’n paar getuies hê wat van haar afbrekende gedrag kan kom getuig.
Die briefie is op die hospitaal se briefhoof, en toe eers sal sy onderaan in die direksielys sien dat Wynand een van die direkteure van die hospitaal is. Hy het dus al die tyd bybedoelings gehad toe hy haar vir ete genooi het. En nou moet sy die onaangename taak verrig om as klikbek voor die raad te gaan optree.
“Dit sal die dag wees,” tier sy toe sy hom weer in die hospitaalgang sien. “Netnou moet ek nog in haar teenwoordigheid ook verskyn! En boonop het ek geen aantoonbare klagte nie. Iemand se onaangename, suur karakter is nie in woorde te beskryf nie. En kleinlike klagtes oor haar gedrag kan ek tog nie aanhaal nie.”
“Ons wil net dinge beter maak,” pleit Wynand. “Ons wil haar skuif na ’n matronepos, maar ons het addisionele motivering nodig. Sy sal nie eens noodwendig weet hoekom ons haar skuif of dat jy betrokke was nie. Die saak sal nie op jou boemerang nie.”
“Makliker gesê as gedaan,” kap sy terug. “Ek dink nie ek is bereid om dit te doen nie. Maar moet in hemelsnaam nie dat dit my in jou slegte boekies ook laat kom nie. Dis erg genoeg as een baas ’n mes vir my inhet.”
Sy is die res van die dag in ’n donker bui. Die lewe het te veel kronkels waarvan sy nie geweet het en waarvoor sy nie kans sien nie. Sy vermoed dat dit haar verslegtende verhouding met Dries is wat haar so depressief maak.
Om dinge verder om te krap, maak sy die volgende dag haar e-pos oop, net om ’n onverwagte brief te kry wat haar totaal en al in die vertwyfeling dompel.
My liewe Laura, skryf Braam uit Londen, ek moes nooit sonder jou Engeland toe gekom het nie. Ek wil hê jy moet kom kuier. Dan haal ons sommer al die nuus van die afgelope jaar in. Ek kontak jou weer. Abraham.
Die skok trek deur haar hart, haar arms, haar bene; haar hele lyf begin bewe.
Ag, Braam, huil haar hele wese. Jy moes lankal gepraat het! En nou is jy Abraham, jou Engelse naam, dink sy vlugtig.
Sy stap vroeg die volgende oggend na suster Dunster se kantoor.
“Ek bedank,” kondig sy aan.
“Hier is jou goedgekeurde verlof,” sê die ongenaakbare suster suur en stoot die vorm oor haar lessenaar na Laura toe.